PRAAG wil vanjaar 17 boeke uitgee

Goeie nuus vir Afrikaans en lesers in die algemeen, is dat PRAAG vanjaar gaan probeer om nie minder nie as sewentien boeke uit te gee. Sommige titels is nog nie heeltemal gefinaliseer nie, maar hier onder volg ons publikasieprogram met voorlopige publikasiedatums. Sommige titels mag dalk vroeër verskyn en ander weer later, want veral die vertalings is ‘n ingewikkelde proses wat soms langer neem as wat ‘n mens dink, sowel om die kontrakte met oorsese uitgewers te sluit as om die teks self te vertaal en te versorg.

  1. Raiders of the lost Empire – papieruitgawe van Dan Roodt se Engelse eboek-essay van verlede jaar. Publikasiedatum: einde Maart 2015.
  2. Duiwelsasem – papieruitgawe van Karin Roodt se eboek-riller van 2012. Publikasiedatum: 15 April 2015.
  3. Trou tot die dood toe, herdruk van Johan van der Merwe se outobiografie van 2010. Publikasiedatum: 15 April 2015.
  4. Bodem – nuwe papieruitgawe van Gustav Venter se eboek van 2014. Publikasiedatum: 30 April 2015.
  5. Rooi seine op Stellenbosch: verengelsing, transformasie en verraad aan ‘n eens trotse universiteit, deur Leon Lemmer. Publikasiedatum: 15 Mei 2015.
  6. Beste van PRAAG 2014. ‘n Keur uit ons rubriekskrywers se bydraes verlede jaar. Publikasiedatum: 31 Mei 2015.
  7. Voorblad van Gustav Venter se e-boek, 'Die amigdala van Alrina Smal'Die amigdala van Alrina Smal, papieruitgawe van Gustav Venter se eboek-roman van 2012. Publikasiedatum: 15 Junie 2015.
  8. Donker, versamelbundel van Afrikaanse kortverhale oor die nuwe Suid-Afrika, deur verskeie skrywers. Publikasiedatum: 30 Junie 2015.
  9. Van Marx tot Mandela: die linkse pelgrimstog van die moderne tot die primitiewe, essay, deur Dan Roodt. Publikasiedatum: 15 Julie 2015.
  10. Tatiana de Rosnay, een van Frankryk se bekendste skryfsters
    Tatiana de Rosnay, een van Frankryk se bekendste skryfsters

    Die mure onthou, roman, deur Tatiana de Rosnay. Uit die Frans vertaal deur Ronel Esterhuizen-Belin. Eerste Afrikaanse uitgawe. Publikasiedatum: 31 Julie 2015.

  11. Verwoerd en Strawinski, roman, deur Dan Roodt. Publikasiedatum: 6 September 2015.
  12. Die badkamer, roman, deur Jean-Philippe Toussaint. Eerste Afrikaanse uitgawe. Uit die Frans vertaal deur Dan Roodt. Publikasiedatum: 30 September 2015.
  13. Nog ‘n Franse roman in Afrikaanse vertaling. (Meer besonderhede later.) Publikasiedatum: 31 Oktober 2015.
  14. Onderwerping, roman, deur Michel Houellebecq. Uit die Frans vertaal. Publikasiedatum: 15 November 2015.
  15. Sweedse roman in Afrikaanse vertaling. (Meer besonderhede later.) Publikasiedatum: 15 November 2015.
  16. Deense roman in Afrikaanse vertaling. (Meer besonderhede later.) Publikasiedatum: 15 November 2015.
  17. Amerikaanse riller in Afrikaanse vertaling. (Meer besonderhede later.) Publikasiedatum: 15 November 2015.

 

PRAAG pos klant se boek binne 96 minute!

By PRAAG probeer ons om vir al ons aanlynkopers flink en voortreflike diens te lewer. Vanoggend weer het ons ‘n goeie voorbeeld van ‘n tipiese aanlyntransaksie waar Klant X naby die Hartebeespoortdam ‘n eksemplaar van AWEREGS deur Dan Roodt bestel het. Aangesien hy met PayPal/kredietkaart betaal het, was die betaling onmiddellik en kon ons dadelik die boek gaan pos. Trouens, tussen die kennisgewing vanaf ons aanlynwinkel tot die registrasie van die item by die poskantoor het slegs 96 minute verloop!

Die boek is presies om 7:42 vanoggend gekoop:

praagboektransaksie

Slegs 96 minute later is die boek gepos, om 9:18:

praagboektransaksie2

Gewoonlik word die pos teen 14:00 elke middag afgehaal, dus sal die pakkie vanaand reeds by die Johannesburgse sorteersentrum genaamd “Witspos” wees en teen môre onderweg na sy bestemming. Sodoende slaag ons daarin om binne twee tot drie werksdae vir u ‘n boek te lewer; binne 24 uur indien u van die koerieropsie teen ‘n ekstra koste van R70 wil gebruik maak.

Met ‘n bietjie geluk, behoort hierdie boek oormôre in die kliënt se posbus naby die Hartebeespoortdam te wees.

Vertel gerus u vriende en familie van ons vaartbelynde boekdiens! Ons het ‘n gholfkarretjie wat heel dag heen en weer poskantoor toe ry om boeke te gaan pos om te sorg dat elke bestelling stiptelik uitgevoer word.

Besoek ons aanlynwinkel hier.

15 jaar van PRAAG: was dit die moeite werd?

Vandag is PRAAG presies 15 jaar oud. Vroeg in die nuwe millennium op 22 Februarie 2000 (22.02.2000!) het ek en ander besef dat daar iets oor die gestadigde ondergang van Afrikaans en die Afrikaner gedoen moet word en daarom hierdie organisasie gestig. Die internet het al bestaan, maar was nog in sy kinderskoene.

roodt_fbfoto‘n Maand na ons stigtingsvergadering, het ons op 22 Maart 2000 ‘n eerste betoging in Braamfontein, Johannesburg, gehou teen die verbod op mnr. Lukas Rautenbach om Afrikaans met sy Afrikaanse kliënte by Transnet te praat. Die koerant Beeld het die volgende dag daaroor berig onder die opskrif:

Klein groepie betoog oor taal voor Transnet-kantoor

Feit is dat daar in 2000 so ‘n atmosfeer van verdwaasde aanvaarding onder Afrikaners geheers het dat niemand eens daaraan gedink het dat dit verkeerd was om mense by die werk te verbied om Afrikaans te praat nie! Daar was ook reeds fanatiese ondersteuners van anti-Afrikaanse en ANC-beleid in die geledere van Naspers en veral Beeld. Die joernaliste Hannelie Booyens, wat verlede jaar daarvoor gesorg het dat die Potchefstroom-kampus se “Nazi-rituele” aan die groot klok gehang word, het in daardie dae reeds ‘n epos waarin sy my in gekruide taal uitvloek vanaf haar Beeld-adres aan my gestuur. Ons het dit op ons webblad gepubliseer, waarna Beeld ons met regstappe vir “skending van kopiereg” gedreig het. Met ander woorde: Beeld en Hannelie Booyens het kopiereg op anti-Afrikaanse gevoelens, asook die f-woord, onder andere.

Van die begin af was dit ‘n opdraande stryd om Afrikaans en die Afrikanerkultuur te behou. Suid-Afrika is immers deur die ANC en SAKP verower vanweë een van die grootste propagandaveldtogte wat die wêreld ooit gesien het. Suid-Afrika is met ‘n klaargemaakte polities korrekte, kultuurmarxistiese ideologie – Made in USA – oorspoel en voortaan sou die boodskap wees: Praat en skryf Engels, maar ook: die dae van die blanke ras en “witheid” is getel, daarom moet julle en julle kinders liefs uit die “reënboognasie” uitgeteel word.

Gaandeweg is nuwe lyne in Suid-Afrika getrek: tussen dié wat alle wetgewing en diskriminasie teen blankes maar gelate aanvaar, en dié wat hul daarteen verset. Ook tussen diegene wat graag Die Stem wil sing en diegene wat dit as outyds of polities inkorrek beskou. Op 31 Mei 2003 het ons ‘n byeenkoms in die Ou Raadzaal in Pretoria georganiseer waartydens die sangeres en dosent Linette van der Merwe Die Stem sou sing. Dit het die meeste Afrikaanse organisasies, waaronder die FAK en Solidariteit, so afgeskrik dat daar weereens net “‘n klein groepie” opgedaag het.

Weliswaar het ons in die vroeë dae van PRAAG die mag van die media en van politieke korrektheid onderskat. Ek het gedink dat dit net ‘n kwessie van tyd sou wees voor daar – soos in Frankryk, Tsjeggië of ander Europese lande – ‘n spontane opstand of rebellie teen die onreg sou plaasvind. Dit was bloot nodig om die ooglopende onreg en ongelykheid aan Afrikaners te kommunikeer, waarna hulle spontaan by PRAAG sou aansluit en hulle soos tydens die “Praagse Lente” van 1968 hulle in massas teen die kommunistiese verdrukker sou verset. Dis ook waarom ons die akroniem PRAAG (Pro-Afrikaanse Aksiegroep) gekies het, ter herinnering aan daardie grootse opstand teen kommunisme in Tsjeggië, waarvan die ANC en die SAKP destyds die onderdrukking deur die Sowjetunie uitdruklik gesteun het.

Is ons daarvan bewus dat daar ná die mislukte Praagse Lente-opstand ongeveer 7 000 Tsjegge na Suid-Afrika gevlug het, wat deur die destydse Nasionale Party-regering met ope arms ontvang is? Juis het hulle hierheen gekom omdat hulle gedink dat Afrikaners oortuigde antikommuniste was… Adriaan Basson en Max du Preez het nog nie bestaan nie. Maar dan wil ek ook vra: Waar is die Afrikaanse romans of geskiedenisboeke wat die verhale van daardie Tsjegge opgeteken en vergestalt het, soos wat Milan Kundera en ander skrywers hul vlug na Frankryk opgeteken het? Daar is nog soveel boeke om in Afrikaans te skryf, waaroor hier onder meer.

Tot dusver was daar egter van ‘n Praagse Lente min sprake onder Afrikaners wat, soos in die gedig van Jan F. E. Celliers, die juk “geduldig, gedienstig, gedwee” aanvaar het:

Die osse stap aan deur die stowwe,
geduldig, gedienstig, gedwee;
die jukke, al drukkend hun skowwe –
hul dra dit getroos en tevree.

Ten minste het ons mense in die onlangse verlede, veral by Steve Hofmeyr se konserte, openlik begin om Die Stem te sing. Dit het lank geneem, van 2003 af, maar ten minste doen ons dit al!

Die kwelvraag bly: Het PRAAG daarin misluk om ‘n gees van kritiek, verset en rebellie teen die ooglopende onreg wat daar teen ons gepleeg word, te kweek? Moes daar nie teen dié tyd, ná 15 jaar, al ‘n groter opstand, feller kritiek en minder aanvaarding gewees het nie? Vir my is dit ‘n moeilike vraag om te beantwoord. Die Afrikaner-establishment van oud-Broederbonders en ANC-gedienstige akademici het nog nooit enige erkenning aan PRAAG verleen nie. (Met die gelukkige uitsondering van daardie groot gees en skriba van die Afrikaanse taalgeskiedenis, prof. Jaap Steyn!) Wel het Max du Preez onlangs iewers gesê: “Dan Roodt rig groot skade aan”, bedoelende dat sy kultuurmarxisme (in sy mees onlangse rubriek haal hy die Italiaanse marxis, Antonio Gramsci, klakkeloos aan!) nie sonder kritiek in die gemiddelde Afrikaner se brein geplant word nie. In dié sin, wens ek ons kon méér skade aanrig.

As ek terugkyk oor vyftien jaar van betogings, petisies, vergaderings en buite-parlementêre politiek, dan moet ek erken dat ons slegs gemengde welslae daarmee gehad het. Onmiddellik moet ‘n mens egter die teendeel ook opper: Gestel ons het dit nié gedoen nie, wat sou die gevolg dán gewees het? Ek meen die enigste rede waarom die ANC en SAKP nie met selfs groter aggressie teen Afrikaans en Afrikaners opgetree het nie, is omdat hulle wel die oorblyfsels van taallojaliteit en patriotisme onder Afrikaners vrees. Die geluide wat ons gereeld gemaak het, het dus nie ongesiens verby gegaan nie, selfs al is dit by tye hoofsaaklik deur Naspers en die ander hoofstroommedia geïgnoreer.

Ná PRAAG het ander organisasies en groeperinge gekom wat ons model van intellektuele en openbare protes nagevolg het. Sommige het die oplaaiende gevoel van ontevredenheid onder Afrikaners in groot sake-ondernemings omskep, dog sonder om op ons grondbeginsels te kon verbeter.

As iemand my moes vra wat PRAAG se belangrikste bydrae oor die afgelope vyftien jaar was, sou ek sê dit was die nuwe Afrikaneridentiteit wat ons geskep het. In hierdie oorlog wat Groot Brittanje, die Johannesburgse uitlanders, terroriste soos Joe Slovo, Ronnie Kasrils en Aboobaker Ismail al jare lank teen ons voer, gaan dit in die eerste plek om ‘n aanval op ons identiteit. “Die Afrikaner moet verdwyn, hy moet oplos in die groter geheel, hy moet verengels en uitgeteel word tot ‘n vergete mulatbevolking,” is al jare lank hul konsekwente strategie.

Daarteen het ons nie net ewe konsekwent “nee” gesê nie, maar ook gaandeweg ‘n nuwe twintigste-eeuse identiteit vir die Afrikaner geskep. Ek sou dit só kon opsom:

  1. Die nuwe Afrikaner is meer as ooit lojaal teenoor sy taal en tradisies.
  2. Ons ly nie meer aan enige romantiese illusies oor Afrika soos die geslag van NP van Wyk Louw wat Afrikaans as “brug tussen die groot helder Weste en die magiese Afrika” gesien het nie. Veel eerder maak die internet en die verval van grense ons daarvan bewus hoeveel ons met ons Europese stamlande in gemeen het. Ook is ons probleme besig om hulle probleme te raak en heers daar vir die eerste keer in jare wedersydse begrip tussen ons.
  3. Die revolusie van 1994 het ook ‘n Afrikanerdiaspora veroorsaak, vandaar die soeke na ‘n globale Afrikaneridentiteit wat op ons gemeenskaplike taal en afkoms berus. Verkeer die Afrikaner vandag in Suid-Afrika nie ook maar in diaspora teenoor die ander, demografies en polities dominante volkere rondom hom nie?
  4. Terwyl Afrikaanse instellings een na die ander voor die politieke aanslag en staatsdruk geswig het, leef Afrikanerskap virtueel voort, op webblaaie en sosiale media. Sodoende ondergaan ons tradisie tegelyk ‘n herbevestiging en ‘n vernuwing.
  5. Hiermee saam en teenoor ‘n vyandiggesinde staat, ondergaan Afrikanerskap ook ‘n privatisering en Afrikaans verteenwoordig vandag ‘n opkomende mark vir musiek, letterkunde, films en ander kultuurprodukte wat sover moontlik ontwikkel moet word en wat Suid-Afrika se grense oorskry.
  6. Ons ekonomiese oorlewing, soortgelyk aan dié van Jode, Grieke of Portugese in Suid-Afrika, hang saam met die vestiging van etniese handelsnetwerke en onderlinge ondersteuning. ‘n Nuwe soort Reddingsdaadbond is nodig, wat egter aangepas is vir die een-en-twintigste eeu.

Watter rol kan PRAAG nog vorentoe speel? Ek dink kultuur en ekonomie onder Afrikaners is besig om op ‘n natuurlike manier saam te vloei. Soos wat diskriminasie in die werkplek of in die handel toeneem, word Afrikaners na die kleinsakesektor verdryf waar hulle noodwendig met mekaar moet handel dryf. Daarmee saam assosieer hulle deur Afrikaanse musiek, letterkunde, kunstefeeste en media met mekaar. Tans vind daar ‘n aanslag op die kunstefeeste plaas met Steve Hofmeyr wat gesensureer word en verbied word om op Oudtshoorn by die KKNK en Nelspruit se Innibos op te tree.

Die rol wat PRAAG kan speel, is om hierdie natuurlike samevloeiing van kultuur en ekonomie onder Afrikaners te stimuleer en uit te bou. Terwyl ons as ‘n versetsbeweging en taalaksiegroep begin het, bou ons tans aan ‘n sterker Afrikaanse kultuur en etniese ekonomie.

Meer konkreet, beteken dit die volgende:

Oor die volgende paar jaar, gaan ons die mark vir vertaalde Afrikaanse boeke waarmee ons reeds in 2003 begin het, geweldig uitbrei deur ten miste tien nuwe vertalings per jaar uit Frans, Duits, Nederlands, Russies, Tsjeggies en die Skandinawiese tale te publiseer. Nie net verbreed ons die aanbod van boeke in Afrikaans nie, maar neem sodoende ook weer bande op met Europese lande, ambassades, skrywers, uitgewers en alles wat daarmee saamhang.

Daarmee saam gaan ons voort om oorspronklike Afrikaanse boeke uit te gee, soos romans, digbundels, jeugliteratuur, geskiedenis, politiek, noem maar op. Kyk maar uit vir die wit PRAAG-boeke met hul blou titels, want oral in die boekwinkels sal hulle meer en meer rakruimte in beslag neem, asook op die winkel hier op ons webblad! Nuwe titels sal ook voor hul verskyningsdatum op Praag Uitgewery se amptelike webblad aangekondig word. Teenoor die armoedige, polities korrekte “Suid-Afrikaanse letterkunde” wat Naspers tans aan ons afsmeer, gaan PRAAG ‘n nuwe Afrikaanse letterkunde laat verrys wat volledig by die “Europese literêre metasisteem” ingelyf is. In sommige opsigte sal Afrikaans weer ‘n Noord-Europese taal raak en sal ons mense vir die eerste keer ‘n uitsig verkry op die taalgebied en stamlande waar ons vandaan kom. Meeste mense verkeer onder die illusie dat Engels ‘n mens toegang tot Europese letterkunde bied, maar hulle is verkeerd aangesien baie min Europese boeke ooit in Engels vertaal word. Veel eerder is die tale waar vertalings aktief heen en weer gedoen word: Frans, Duits, Nederlands, Sweeds, Noors en Deens. Afrikaans moet deel van dié groepering word.

Ons het daaraan gedink om Afrikaanse films ook te begin maak, maar omdat die behoefte aan goeie Afrikaanse boeke groter is en ons reeds in dié bedryf gevestig is, wil ons eers ‘n groot sukses daarvan maak alvorens ons ander media aandurf. Die kombinasie van kort artikels op ons webblaaie en boeklengte-publikasies in die vorm van romans of essays, sal hopelik ‘n groot bydrae tot die Afrikaanse kultuur lewer en vir daardie broodnodige herlewing sorg.

Vyf miljoen Dene koop jaarliks ‘n verstommende 30 miljoen boeke aan. Dit verteenwoordig ‘n uitgewersbedryf van seker om en by tien miljard rand. Enkele jare gelede is die totale uitgewersbedryf in Suid-Afrika, wat veral Engelse skoolboeke in die swart skole insluit, op slegs R1,6 miljard beraam. Indien Afrikaners, wat reeds geesdriftig Afrikaanse musiek ondersteun, Afrikaanse boeke teen dieselfde tempo as Dene begin aankoop, is dit dus teoreties moontlik dat ons boekbedryf dié van die res van Suid-Afrika kan oortref. Duisende werkgeleenthede kan sodoende geskep word, om nie te praat van die algemene kulturele en politieke uitwerking van so iets nie. Pleks van die stereotipe propaganda oor Suid-Afrika wat tans die wêreld ingestuur word, sal die komplekse, genuanseerde prentjie wat Afrikaners raaksien, in duisende romans en politieke boeke verwoord word.

Terloops, sal van ons boeke wat onlangs slegs as e-boeke verskyn het, binnekort ook op papier beskikbaar wees. Veral Gustav Venter se twee romans, Die amigdale van Alrina Smal en Bodem, verteenwoordig onverskrokke werke wat in enige normale land sonder sensuur reeds almal aan die praat sou gehad het.

Die ironie is dat die brandewyn-en-Coke-kultuur wat ons vyande ons so graag voor die kop gooi, vandag juis die linkse kultuur in Suid-Afrika benoem. Of miskien moet ‘n mens dit die dagga-en-domkop-kultuur noem. Onlangs lees ek ‘n onderhoud met die Franse skrywer en denker, Régis Debray, wat op ‘n stadium ‘n ondersteuner van Ché Guevara in Suid-Amerika was. Hy sê: “My menings is links, my smaak is regs, veral wat letterkunde of kuns betref.”* In dié opsig het die daggakoppe en marxiste in Afrikaans nog geen kultuur geskep nie; hulle het bloot dít wat bestaan en deur regses en konserwatiewes geskep is, probeer afbreek.

Die politieke en veral demografiese revolusie wat Suid-Afrika getref het, staan nog in sy kinderskoene. Na alle verwagting, gaan dit radikaliseer en sal ons uiteindelik soos in Zimbabwe die toenemende onteiening van blanke grond en ander bates soos aandele en pensioengelde beleef. Dit is dus van die uiterste belang dat Afrikaners, tesame met ons oor en weer vertaling van Europese skrywers, ook maatskappye buite Suid-Afrika in ander jurisdiksies moet vestig van waar ons ‘n gedeelte van ons ekonomiese aktiwiteit, soos invoer-uitvoer, aanlyndienste, ens., kan bedryf. Liefs moet ons ons eie bank in Europa vestig waar die ANC nie ons kontant, aandele en ander bates kan nasionaliseer nie.

By gebrek aan enige onmiddellike politieke oplossing, is dit ons doel om Afrikaners as ‘n hegte kulturele en ekonomiese eenheid saam te snoer, met die Afrikaanse kultuur wat bloei, asook klein en groter sake wat hier en globaal met mekaar handel dryf en sodoende die Afrikanerekonomie laat groei.

Dit was ‘n klein begin op 22 Februarie 2000, maar so tussen twintig en dertig mense in ‘n lesingsaal van UNISA. Vandag strek PRAAG se invloed – danksy ons webblaaie en ander inisiatiewe – regoor die wêreld. Maar dit is nog nie genoeg nie.

Persoonlik voel ek geweldig trots daarop om ‘n Afrikaner te wees. Ons beskik oor ‘n unieke taal en kultuur waarvan die hele wêreld behoort kennis te neem. Op gelyke voet met die lande van Noord-Europa waar ons vandaan kom, behoort ons ons as die mees suidelike punt van die Westerse kultuur te herbevestig, met dieselfde regte as elke ander volk op aarde.

Slegs wanneer ons in die naam van ‘n intelligente en gesofistikeerde tradisie praat wat ook vir ander verstaanbaar en toeganklik gemaak is, sal ons daarin slaag om ons só te laat geld.

Indien PRAAG hierin ‘n rol kan speel, was en is hierdie hele avontuur beslis die moeite werd.

* “Régis Debray: un candide à sa fenêtre” in Le Bulletin Gallimard nr. 506, janvier-février 2015, bl. 7.


Ná 15 jaar is PRAAG meer as ooit nodig!

Ná 15 jaar is PRAAG meer as ooit nodig! Toe ons PRAAG in Februarie 2000 begin het, was die plaaslike tak van ABSA nog Afrikaans met Afrikaners agter die toonbank. Vandag is dit Engels en swart. PRAAG veg steeds kliphard vir Afrikaans en die Afrikaanse kultuur, maar ons help mense ook om hul eie ondernemings te begin, om op die internet handel te dryf en om vir Afrikaners wêreldwyd sake-, diplomatieke en kulturele kontakte te maak.

SLUIT AAN BY PRAAG!

Vandag is die hoofstroommedia in ons land linkser, asook meer anti-Afrikaans en antiblank as ooit. Die voormalige Britse ambassadeur in Suid-Afrika, Robin Renwick, het onlangs gesê:

“Oral ter wêreld is Karl Marx dood, behalwe in Suid-Afrika.”

Daarom is ons daaglikse nuus en menings op die Praagwebblaaie van lewensbelang om dié ongelyke stryd teen die ekstreemlinkse oormag in ons land lewend te hou.

SLUIT AAN BY PRAAG!

Ons kan en wil veel meer doen om die saak van Afrikaners en die blanke minderheid in ons land te bevorder. Byvoorbeeld wil ons veel meer internasionale nuus vertaal en in Afrikaans op praag.co.za beskikbaar stel. Maar daarvoor het ons u hulp en ondersteuning dringend nodig.

SLUIT AAN BY PRAAG en raak deel van die beweging!

2014 se 25 gewildste bladsye op praag.co.za

Hier is hulle, ons vyf-en-twintig gewildste blaaie vir 2014! Hulle word in volgorde van gewildheid geplaas, gegrond op die werklike aantal kere wat lesers hulle van ons bediener afgelaai het.

  1. Nuus (kategorie)
  2. ANC sê nee vir R1000 miljard rand uit vrees vir ‘te veel witmense’
  3. Afrikaanse nuus (kategorie)
  4. PRAAG staan Steve Hofmeyr by om hofbevel teen linkse teisteraar te verkry
  5. Rubrieke (kategorie)
  6. Sunette Bridges noem Roodt-uitspraak oor selfbeskikking ‘n ‘infame leuen’
  7. Steve sing ‘Die Stem’ en sensors slyp hul messe
  8. Storm om vloekende Jonathan Jansen en sy handlanger Rudi Buys
  9. Piet Croucamp vloek sy weg deur ‘n debat oor die bestaan van God
  10. Suider-Afrikaanse nuus (kategorie)
  11. Afrikaner-aktivis lê beslag op 80 rekenaars by SA Polisiehoofkantoor
  12. Menings (kategorie)
  13. Brittanje se koverte plan om SA van blankes te suiwer
  14. Verkiesing: Het Afrikaners Afrikanerskap verwerp?
  15. Dan Roodt se rubrieke (kategorie)
  16. Menings: Briewe (kategorie)
  17. Honderde mense sluit binne ure by Front Nasionaal aan
  18. Die lot van blankes in Afrika
  19. Wreedheid van jongste plaasmoord skok
  20. Ope brief aan Steve Hofmeyr
  21. Joodse advokaat argumenteer swartes ‘mag maar doodmaak weens apartheid’
  22. ‘Apartheid-twiet’: Wat wou Steve Hofmeyr eintlik sê?
  23. Die akademiese skollie Pierre de Vos
  24. Naspersprokureur pleit dat Dan Roodt tronkstraf kry
  25. Uit die Donker Verligting: ‘n rooi pil vir Afrikaners

Help ons om PRAAG drasties te verbeter!

Geagte leser,

Geruime tyd reeds kom ons klaar met ‘n bediener wat al bietjie lank in die tand is. Ons het nou ‘n aanbod om ‘n baie sterker stelsel op te stel, maar ongelukkig gaan dit heelwat tyd en werk verg om dit reg te kry, want ons sal ‘n enorme hoeveelheid data heen en weer moet verskuif, toetse moet doen, en dergelike meer. Daarvoor het ons ook geld nodig.

Ons is baie opgewonde oor die nuwe, groter bediener, want dan sal potensieel miljoene mense ons kan lees sonder dat die stelsel oorlaai word. Daar sal ook veel meer bergingsruimte wees om gratis inhoud vir ons lesers aan te hou.

Teen dié tyd is dit duidelik dat hierdie webblad een van die twee of drie in Afrikaans is wat die nuus en menings aanbied sonder om doekies om te draai. Ook lig ons mense in aangaande die internasionale situasie sover dit vir ons ter sake is. Tot 50% van ons Engelse webblad praag.org se lesers kom deesdae van oorsee, wat ‘n aanduiding is van hoe ons die boodskap ook in daardie taal vir ‘n internasionale gehoor uitdra. Danksy PRAAG, is Afrikaners vandag deel van ‘n internasionale beweging wat daarop gemik is om die Europese beskawing van ondergang en verswelging te red. Ons maak elke dag nuwe vriende vir Afrikaners.

Webblaaie in die Naspersstal vra R99 per maand om hulle te mag lees. Dink net: vir die voorreg om Piet Croucamp of Jonathan Jansen te mag lees, moet u amper R100 per maand opdok! Hierteenoor bly PRAAG gratis en oop vir almal, maar ons het daardie 5% van mense nodig wat vrywillig bydra om ons op die lug te hou, asook die vele ander take aan te pak om Afrikaans en Afrikaners te red terwyl ons op soveel gebiede vertrap word.

Ek het ook vanoggend vasgestel dat PRAAG se voorblad 30 keer vinniger as ons mededinger s’n aflaai, en omtrent 30 keer ligter (kleiner in kilo- of megagrepe) ook is. Nie net is ons vinniger nie, maar omdat ons ons blaaie doelbewus ligter maak, is dit ook soveel goedkoper om ons te lees omdat u sodoende minder data gebruik. Vele lesers beskik nie oor onbeperkte maandelikse data nie en daarom kan oorgewig webblaaie maklik daardie kosbare hoeveelheid data, veral op mobiele toestelle, opvreet.

praagadv5Van nou af tot die einde van die maand sal ons baie hard moet werk om die tegniese verhuising af te handel. Sodra ons daarmee klaar is, gaan ons allerlei voordele aan ons betalende lede en intekenare beskikbaar stel. Ons gaan ‘n hele stelsel bou waarmee u eksklusiewe toegang tot ‘n hele digitale biblioteek sal geniet. Daarom, ondersteun ons asseblief met ‘n maandelikse debietorder, dis in u en ons almal se belang.

Hou hierdie digitale avontuur aan die gang.

Klik hier en vul die vormpie in!

By voorbaat baie dankie.

Dr. Dan Roodt
Eindredakteur

Help ons om praag op te gradeer!

Beste praag-leser,

Vanoggend het die webblad nie minder as drie keer nie onbeskikbaar geraak. Die eerste twee kere rondom vyfuur vanoggend was daar geheueprobleme en die derde keer het ‘n lêer in die databasis korrup geraak, moontlik weens oorverhitting.

Gelukkig kon ons dit telkens gou genoeg herstel. Die derde keer was ‘n groter tegniese uitdaging wat ons darem binne ‘n halfuur of so te bowe kon kom. Maar dit vermors kosbare tyd en energie.

Daarom het ons nou tot die stap oorgegaan om binne die volgende paar dae na ‘n nuwe, groter en sterker bediener te verskuif. Met splinternuwe programmatuur sal alles vinniger én veiliger werk. Om alles op te stel, asook al die data vir ongeveer 20 000 artikels in ‘n oorsese land van een rekenaar na ‘n ander oor te kopieer, is egter ‘n delikate oefening wat ons tot laatnag gaan besig hou. Ons begin van nuuts af aan met ‘n leë hardeskyf!

Die nuwe bediener sal ons in staat om soveel meer vir al ons lesers en ondersteuners te kan doen, met allerlei nuwe voordele en toegang tot inligting en vermaak.

Met die hoofstroommedia wat toenemend polities korrek en onder invloed van die ANC en die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty staan, is praag vir ons almal ‘n onontbeerlike bron van inligting, menings en debat. Ons vermoed dat ‘n groot deel van die Suid-Afrikaanse media sedert 1994 deur binne- en buitelandse inligtingsdienste geïnfiltreer is; oor die afgelope paar dae was dit byna komies om te sien hoe hulle die amptelike Britse en Amerikaanse regeringsinligting en teeninligting oor Israel en die Oekraïne-tragedie klakkeloos weergee! Drie senior intelligensie-amptenare van die VSA-regering het vandeesweek presies dieselfde terme gebruik as wat in Beeld en Die Burger staan. Dis sekerlik nie toevallig nie.

Die hoofstroommedia in ons land het openlike propagandaspuite vir die ANC en die oorlugsugtige Anglo-Amerikaanse wêreldryk geword. Dit word nie eens meer weggesteek nie. Paul Craig Roberts verwys na die BBC as die British Brainwashing Corporation, maar hy het nog nie die media in óns land gesien nie!

Daarenteen, vergelyk die twee praag-blaaie met die beste van die internetmedia in oorsese lande wat die waarheid uitsnuffel en boekstaaf. Ons Engelse blad word ook wyd in Europa en in die VSA gelees. Ons stelsel is so aanpasbaar dat ons enigiets kan aanbied, van teks en foto’s tot klank/potgooie en video. Dit laai besonder maklik en vinnig op selfone en tablette ook af, selfs op verafgeleë dele van die platteland. Spoed is vir ons belangrik, vandaar die eenvoud en minder foto’s wat ons deesdae plaas.

Disqus stel lesers in staat om self deel te neem en inligting, asook skakels, foto’s en video’s te plaas. Geen van die hoofstroomblaaie se kommentaarafdelings laat soveel vryheid met skakels, beelde en video op Disqus toe nie.

Dus, as u nie reeds ‘n maandelikse debietorder uitgeneem het om ons te ondersteun nie, maak gerus nou so. Help ons om in dié see van vyandelike propaganda ‘n vlammetjie van hoop brandend te hou. Dit mag selfs lewens red, want as daar volle beheer oor inligting in ons land heers, sal ons eenvoudig een vir een uitgewis kan word sonder dat ‘n haan ooit daaroor sal kraai. Almal weet dat die SA revolusie nou eers ná 20 jaar op dreef begin kom, net soos in Zimbabwe vanaf 2000 gebeur het.

Neem ‘n oomblik en vul die vormpie hier in. As u enige vrae of voorstelle het, kontak ons by inlig[by]praag.org. As u nie tyd het nie, stuur in elk geval vir ons ‘n e-pos en ons sal ‘n plan maak om die inligting per e-pos of selfs telefonies by u te bekom.

Dr. Dan Roodt
Eindredakteur

Waarom u tot praag moet bydra

Geagte leser,

Die afgelope paar dae se aanvalle op Steve Hofmeyr vanuit veral Beeld het my weer onder die indruk gebring van hoe min eg-Afrikaanse media daar oorbly.

Nie net het Beeld begin vanjaar die PUK verguis nie, maar nou vaar die koerant ook uit teen “Die Stem” van CJ Langenhoven. Dis glo “apartheid se amptelike lied” soos redakteur Adriaan Basson dit stel. In weerwil van Basson se Afrikaanse naam, huldig hy Engelse sienings oor Afrikaners en het hy die vertekende, chauvinistiese beeld van Afrikaners wat jare lank in Engelse koerante en op Engelse kampusse van ons gekonstrueer is, sy eie gemaak.

praag-embleemnuutNet vandag gesels my dogter met my oor die verskille tussen Afrikaanse en Engelse tieners. “Ons is heeltemal anders,” sê sy. “Afrikaanse tieners sal nog met dagga eksperimenteer, maar die Engelse tieners gebruik sommer enigiets: pille, sampioene, harde goed, heroïen. Hulle laat hulself tatoeëer en hul lywe vol gate maak. Ons het skoon gesigte, sonder gate of tatoeëermerke. Jy kan die verskil op ‘n myl raaksien.”

Nou wonder ek: Gaan ‘n toekomstige geslag Afrikaners net soos Engelse lyk en optree, dieselfde dinge sê en glo, van kindsbeen af?

Die greep van die ANC en Engelse liberale op Beeld en sy susterkoerante is so sterk dat Engelse rubrieke en kommentaar deesdae in vertaling in dié publikasies geplaas word. Op ‘n manier mag Afrikaners nie meer in Afrikaanse koerante skryf nie!

Gaan daar nog eg-Afrikaanse media oorbly? Of gaan dit maar net vertaalde Engelse of Britse menings en sienings wees wat aan ons opgedis gaan word, tesame met sensasie oor Oscar Pistorius?

‘n Week of wat gelede moes ons praag se stelsel bywerk en tydens ‘n paar nagmerrie-oomblikke wou dit nie werk nie. Ons het die angs beleef dat al 15 000 van ons artikels dalk korrup kon geraak het. Hoewel ons oor rugsteune beskik, is geen rugsteun ooit volmaak nie en daarom bestaan die moontlikheid van totale dataverlies altyd.

Totale dataverlies. Soms voel dit vir my asof dit is waarop ons almal afstuur, die dag as Afrikaans, Afrikaanse liedere, geskiedenis en plekname nie meer gaan bestaan nie.

Feit is dat omtrent 90% van Afrikaanse lesers vandag nie oor ‘n medium beskik waarmee hulle gemaklik voel en waar ‘n pro-Afrikaanse standpunt intelligent en konsekwent gestel word nie. En waar hulle oor die jongste wêreldgebeure en politieke strominge in Europa, die VSA en elders ingelig word.

As Afrikaans en Afrikaanse joernalistiek sou verdwyn, sou dit regtig totale dataverlies vir ons almal wees. Met slegs ‘n paar rand per maand kan u egter verseker dat dit nie gebeur nie en dat nuus en menings in Afrikaans – deur Afrikaners – altyd beskikbaar sal bly.

‘n Student uit die VSA wat dit self nie breed het nie, hou vol om vir ons $30 per maand by te dra. Hy lees nie eens Afrikaans nie, maar wíl ons eenvoudig ondersteun.

Wat van u, ons eie lesers en ondersteuners?

Help ons om praag tot ‘n magtige nuus- en kultuurmedium uit te bou.

Vul ‘n debietordervormpie in. As u nie daarvoor kans sien nie of ons op ‘n ander manier wil steun, laat gerus van u hoor met ‘n e-pos aan inlig[by]praag.org. Of kontak my op Facebook of Twitter.

Dan Roodt

Uitgewer en eindredakteur

Krejcir wil weer vir borg probeer

villaradovanDie Tjeggiese voortvlugtige en mafiabaas Radovan Krejcir gaan opnuut probeer om borgtog te bekom.

Hy is voorheen borgtog geweier deur die landdroshof sowel as die Suid-Gautengse hooggeregshof weens die feit dat hy ‘n vlugrisiko inhou.

Hy sal in die Palm Court landdroshof redes aanvoer waarom hy op borgtog vrygelaat moet word.

Sy regsverteenwoordiger sê Krejcir sal bewyse voorlê wat aantoon dat hy ‘n geskikte kandidaat vir borgtog is.

Die onderwêreldbaas is verlede jaar in hegtenis geneem op aanklagte van ontvoering en poging tot moord.

Hy het meer as agt jaar gelede uit die Tjeggiese republiek gevlug nadat hy skuldig bevind is aan bedrog en korrupsie.

Hy het Suid-Afrika met ‘n vervalste paspoort vanuit die Seychelles binnegekom.

Die miljardêr Krejcir besit ‘n paleis in Cernosice naby Praag in Tsjeggië met goud krane, geheime gange en ‘n haai in ‘n vistenk.

Die paleis sou verlede jaar op ‘n veiling verkoop word.

praag verskuif aanstons na ‘n nuwe en kragtiger bediener

praagcoza_logoOns werk tans aan die trek na ‘n nuwe, kragtiger bediener wat die gebruikerservaring op ons webwerwe nog beter behoort te maak. Ons sal ook bykomende dienste aan ons praag-vriende kan bied, waaroor ons baie opgewonde is.

Verder in die verskiet lê ‘n virtuele betaaldiens of gemeenskapspaarkas waaroor ons reeds geruime tyd praat en waarvoor ons reeds die nodige programmatuur bekom het.

Dit mag wees dat ons webwerwe enkele ure van lyn af mag wees soos wat ons die oorskakeling doen, maar ons sal probeer om dit laat in die aand of vroegoggend te doen sodat dit so min moontlik ongerief veroorsaak.

Die internet en sosiale media is besig om alles te verander, ook die politiek, sake en die ekonomie. Sodat Afrikaners daarby kan baat, belê ons die heel tyd in nuwe kennis en tegnologie. Die uiteindelike waarde wat ons gaan ontsluit, gaan nie net vir die Afrikaanse taal en kultuur van onskatbare waarde wees nie, maar sal boonop ‘n ekonomiese omwenteling veroorsaak waardeur werksgeleenthede geskep sal word.

Dink daaraan dat die grootste uitgawes waaronder Afrikaners tans gebuk gaan, hul belasting aan die ANC-regering, bankkoste, TV-lisensies en DSTV-fooie, asook ander vermaak is. Mettertyd kan ons genoeg nuus, inligting en vermaak hier op die internet verskaf, tesame met kultuurgoedere, handel en virtuele werkskepping, dat ons nie meer die parasiete uit die ou ekonomie sal hoef te voed nie. – Die redaksie

Word deel van die avontuur, word ‘n vriend van praag!

Stalinistiese afgodbeelde

delport_manfred_600

deur Manfred Delport

[followbutton username=’ManfredDelport’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Volg Manfred op Facebook.

Die mensdom is nou maar eenmaal lief vir sy standbeelde. Die volk Israel het vir Moses ernstig beswaard gehad toe hulle ‘n standbeeld van ‘n goue kalf gemaak het, toe Moses vir veertig dae op die berg Sinaï verdwyn het. Die volk en die Israeliet Aäron se standbeeld van die goue kalf het vir Moses só onstig dat hy die twee tablette waarop die Tien Gebooie geskryf was, stukkend gegooi het. Wonder terloops wat ‘n Afrikaner-Moses in die jaar 2013 sou gesê het, as hy die klakkelose afgodediens aan Sint Mandela sou gadeslaan.

Lank vóór Moses, het jou en my voorouers in Europa standbeelde gemaak van moederlike figure. Daar is byvoorbeeld ‘n sogenaamde Venus in Willendorf, Oostenryk, gevind, wat na bewering terugdateer na 26 000 jaar vC. Dié se liggaamsbou herinner aan ’n wafferse Angie Motshekga, met formidabele dye, boude en borste.

Die Grieke en Romeine het die kuns van standbeelde na ‘n hoogtepunt gevoer. As ek Azaniese taxibestuurders sien, wat so met die een arm by hul voertuie se vensters uithang, herinner hulle my aan die armlose Griekse standbeeld van die godin van liefde, Venus, wat in sowat 100vC geskep is, ter ere van die godin van liefde, wat in die Louvre staan.

Tydens die Renaissance het Michelangelo sy Dawid-meesterstuk geskep. Later het die Franse vir die Amerikaners die Statue of Liberty geskenk, en in 1903 is die meerminstandbeeld in Kopenhagen opgerig.

Politieke standbeelde is eweneens nie ‘n nuwe verskynsel nie. Die Romeine en Egiptenare was bekend vir hul standbeelde van hul adel en keisers. Gaius Julius Caesar se gevreet is aan ons almal bekend, as gevolg van verskeie borsbeelde en standbeelde tot sy eer, wat deur die Romeine aan ons nagelaat is. Ná Abraham Lincoln se dood is ‘n standbeeld van ‘n sittende Lincoln in Washington opgerig, wat strak oor die Washingtonse National Mall uitstaar. Ook in Suid-Afrika het ons ons politieke standbeelde gehad. Van Riebeeck en sy vrou pryk in Kaapstad. JG Strijdom se standbeeld het oor Strijdomplein in Pretoria gekyk. Verwoerd se standbeeld moes na Orania verskuif word.

Die meesters van groteske, politieke standbeelde was egter die kommuniste. Veral standbeelde van Stalin was berug vir hulle obsene verering van die anti-held, Stalin. ‘n Kenmerk van Stalin se standbeelde was hul enorme grootte. Hoe groter, hoe beter, was die riglyn vir kommunistiese beeldhouers; ‘n tipe hiperrealisme. Jan van Riebeeck se amper-lewensgrootte standbeeld en JG Strijdom se standbeeld is beskeie, gemeet aan die oordadige afmetings van tipiese kommunistiese standbeelde.

stalin_statue
Die eertydse standbeeld van Stalin in Praag, tans Tsjeggië

Die mees berugte voorbeeld hiervan was ‘n massiewe granietstandbeeld van Stalin in Praag, wat tussen 1955 en 1962 in Tsjeggo-Slowakye gestaan het. Díé groteske beeld was 15m hoog (sowat 5 verdiepings) en was sowat 22m lank. Op sy dag was dit die grootste standbeeld in Europa. Dit het die beeldhouer, ene Otokar Svec, sowat 5 jaar geneem om te voltooi. Dit het Stalin uitgebeeld, vooraan ‘n ry van figure, wat op spottende wyse die “tou vir vleis” deur die inwoners van Praag genoem is, in ‘n siniese verwysing na die kenmerkende toue vir kos in kommunistiese regimes. Mettertyd het Stalin egter selfs vir kommunistiese bewinde ‘n verleentheid geword, en díé standbeeld is in 1962 dmv 800kg springstof vernietig. Otokar Svec het die dag voor die onthulling van die standbeeld, selfmoord gepleeg. Kennelik het sy gewete hom gepla.

Suid-Afrika, synde een van die laaste vestings van die kommunisme, naas Kuba en Noord-Korea, het egter nog nie die lesse van die geskiedenis ter harte geneem nie. ‘n Enorme, 6m hoë, stalinistiese standbeeld van Mandela is in 2004 in Sandton Square opgerig. Tot vandag toe neem toeriste foto’s voor dié stalinistiese standbeeld in Sandton Square, salig onbewus van die feit dat die ikoon Mandela ook ‘n toegewyde kommunis was – hy het byvoorbeeld ‘n traktaatjie, How to be a Good Communist, geskryf, en die SAKP het onlangs op aanspraak daarop gemaak dat Mandela vanaf 1962 ‘n lid van die SAKP was. Ek het geen rede om van die SAKP te verskil nie – die KGB-kolonel en SAKP-lid, Joe Slovo, het sekerlik geweet waarvan hy praat. Daarom hoef ons nie verbaas te wees dat daar ook in Suid-Afrika ‘n stalinistiese verering van Mandela sou plaasvind nie.

Die jongste voorbeeld van die heersende neo-stalinisme in Suid-Afrika, is die onlangse onthulling van ‘n selfs groter stalinistiese standbeeld van Mandela as die obsene gedrog in Sandon Square – dié een is 9m hoog – by die Uniegebou. President Zuma het die opgrigting hiervan afgekondig nadat Mandela oorlede is. Met geweldige ironie is hierdie standbeeld, nes dié van Stalin in Praag, ook nie deur Mandela se volksgenote geskep nie. Otova Svec was nie ‘n Georgiër soos Stalin nie, en die skeppers van die stalinistiese beeld van Mandela was ook nie Xhosas soos Mandela nie. Nee; hulle was Afrikaners: André Prinsloo en Ruhan Janse van Rensburg.

G’n mens weet wat dié twee besiel het om aan ‘n stalinistiese standbeeld aan ‘n dooie kommunis te werk nie, buiten miskien geld. Ek hoop maar vir hul eie onthalwe dat hulle tot besinning kom, voordat hulle gewetens hulle ook, nes Otoka Svec, opkeil, en hulle miskien insgelyks selfmoord pleeg wanneer hulle besef wat hulle gedoen het. Stalin was ook ‘n held in 1955, maar skaars sewe jaar later is sy standbeeld met trinitrotolueen opgeblaas, toe hy ‘n verleentheid geword het. Sewe jaar is ‘n lang tyd in die politiek; ek droom van die blye dag wanneer die afstootlike standbeelde van Mandela, nes Stalin en Saddam s’n, vernietig word.

[followbutton username=’ManfredDelport’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Volg Manfred op Facebook.

Nuwe kommentaarbeleid op praag in werking

praagcoza_advSoos ons reeds voorheen berig het, het ons besluit om toegang tot die Disqus-kommentaarstelsel op praag strenger te maak, nadat vele mense oor ‘n lang tyd daarvan misbruik gemaak het.

Sedert gister word alle kommentaar dus gekeur alvorens dit geplaas word, behalwe dié van betalende praag-lede en -intekenare wat op ‘n “witlys” geplaas word en onmiddellik verskyn.

Indien u enige vrae het, is u welkom om aan ons te skryf by inlig[by]praag.org.

Ons vertrou dat die nuwe reëling tot die gehalte van die blad en sy kommentaarafdeling sal bydra. Let ook daarop dat ons steeds ‘n hoë premie op spraakvryheid plaas, anders as by vele ander SA blaaie waar politieke korrektheid die botoon voer.

Die Disqus-stelsel wat wêreldwyd deur miljoene mense gebruik word, is nou volledig in Afrikaans beskikbaar, danksy die inisiatief van praag en ander organisasies en individue wat saamgewerk het om dit in ons taal te vertaal en die vertaling goedgekeur te kry. Nog ‘n rede om praag te ondersteun vir ons werk om Afrikaans op die internet en sy stelsels lewendig te hou!

– Die redaksie

Kommentaar voortaan net vir betalende lede

disqusTot dusver het praag deur middel van die Disqus-kommentaarafdeling by artikels ‘n ruimte probeer bied vir lesers om op intelligente en beredeneerde wyse kommentaar te lewer en kwessies te debatteer. Ongelukkig is ons kommentaarafdeling toenemend misbruik deur buitestaanders wat daarop uit is om onmin te saai, lasterlike bewerings te maak, te vloek en te skel, en dies meer.

Tans lui ons kommentaarbeleid só:

U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en praag, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene “trol”-gedrag. Enigeen wat só ‘n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.

Kennelik het vele gebruikers nie hierop ag geslaan nie, want ons ontvang steeds klagtes van lesers en ons modereerders dat dié beleid daagliks geskend word.

Daarom word ons verplig om deelname aan die kommentaafafdeling voortaan slegs vir betalende praag-lede of intekenare beskikbaar te stel. Die stelsel sal oor die volgende paar dae in werking gestel word.

Die minimumbydrae per maand wat nodig is om aan Disqus deel te neem, is R30 per maand per debietorder of PayPal-subskripsie. Mense sonder PayPal kan steeds via hul kredietkaart ‘n PayPal-subskripsie betaal, aangesien PayPal daarvoor voorsiening maak.

Sluit hier aan.

Nie-intekenare sal steeds briewe aan PRAAG kan rig om hul menings te lug.

– Die redaksie

Massiewe kuberaanval op PRAAG-webblaaie

praagcoza_logoOor die afgelope paar dae vanaf Dinsdagoggend is ‘n massiewe kuberaanval teen die webwerwe en bedieners van PRAAG geloods. Die sogenaamde verspreide-diensweerhoudingsaanval (Engels DDOS) waarby potensieel tienduisende rekenaars betrokke was, het as oogmerk gehad om PRAAG en sy diensverskaffer bankrot te maak deur die verbruik van bandwydte en skade aan netwerkinfrastruktuur.

By tye het die verspreide-diensweerhoudingsaanval die PRAAG-bedieners buite werking gestel maar tans is beide die Afrikaans webwerf by praag.co.za en die Engelse blad by praag.org aanlyn.

Dr. Dan Roodt, direkteur van die Pro-Afrikaanse Aksiegroep (PRAAG) ‘n gemeenskapsnuusdiens en kultuurorganisasie, het in ‘n verklaring gesê: “Ons is heeltemal verbyster deur die vlak van kuberaktiwiteit wat daar tans deur ekstremistiese anti-Afrikaanse groepe in die land teen ons gemonster word. Daar bestaan ook verskeie Facebook-blaaie wat deur mense onder vals identiteite bedryf word wat ons wil vernietig, oënskynlik omdat ons betogings teen misdaad ondersteun, asook veeltaligheid in Suid-Afrika goedgesind is.”

Die kuberaanval het aansienlike skade aangerig, nie net aan PRAAG nie, maar ook aan sy diensverskaffers en hul netwerke, iets wat kragtens Suid-Afrikaanse wetgewing strafregtelike aanspreeklikheid skep. Hierby kan ook gronde vir ‘n siviele eis gevoeg word, indien die oortreders opgespoor word.

“Ons gaan klagtes by die SA Polisiediens indien kragtens die Wet op elektroniese kommunikasie en transaksies nr. 25 van 2002 rakende die verspreide-diensweerhoudingsaanval teen ons, asook daardie naamlose individue wat aanhou om ons op Facebook, sosiale media en teenoor potensiële adverteerders op ons blad belaster,” meen Roodt.

“Ons gaan beslis nie hierdie soort aanvalle met gelatenheid verduur nie,” sê Roodt. “Ons lesers en ondersteuners staan by ons en honderde het reeds as vrywilligers aangemeld om dié pogings om ons monddood te maak, te beveg. Ons sal egter nie van die onsmaaklike en onderduimse metodes van ons teenstanders gebruik maak nie, maar ons op ‘n oop, deursigtige en wettige manier verdedig.”