praag.co.za

Elma Potgieter: Ope brief aan Stellenbosse taalmoordenaars

Nog ‘n ope brief aan die taalmoordenaars op Stellenbosch (en elders)!
Komende van ‘n nasaat van ‘n volk wat goddelike vryheid bo alles gestel het.

Twee vryheidsoorloë is geveg nie vir geld en goud nie – vir vryheid en vir reg.  My twee oupas, Potgieter en Goosen, het as jongelinge van 16 en 17 geveg vir vryheid – ook vir die vryheid om hulle nuwe taal te praat.

Ek gaan nie langer swyg nie – want nie net koester ek ‘n onbetwiste liefde en lojaliteit teenoor my voorgeslagte nie.

Ek verdien my brood en botter uit my taal – my taal wat hier aan die Suidpunt van Afrika, op Afrikabodem, as ‘n nuwe taal tot stand gekom het, gegroei, geblom het…

Die taal van die argitek, die boer, die bouer, die digter, die elektrisiën, die lektor, die loodgieter, die waterwyser, die rioolsuiweraar, die huisvrou, die onderwyseres, die tikster, die uitvoerende beampte en die, ja, die toneelspeler…!

Ek wil my God in my taal dien – “hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë…”

Ek glo dat die gelowige mens se geloof in God, die Skepper van hemel en aarde, getoets word deur telkens “kleiner” lojaliteite in gevaar te stel.

Gaan ons aanhou swyg en maak of dit nie besig is om te gebeur nie?

Lieg en sê: Jammer, ek het te veel gesuip – waar is die slaggate wat ek probeer misry?

Oupas, pa, oumas, ma, ousus Diana, julle het my nie so grootgemaak nie.

Die oupas het geveg vir vryheid. Die oumas het ‘n reguit pad geloop.

Julle het in Mafeking-konsentrasiekamp, op St Helena in ballingskap uit die Bybel geleer om Afrikaans te bid te dink, te praat, te droom…

Ma, Pa, ousus Diana julle het nooit kragwoorde gebruik nie…

Maar julle jongste spruit, ja, ousus Diana, jou kleinsus, swets soos ‘n voorslag in Afrikaans!

Luister goed, Wim de Villiers, luister goed.

Taalmoord is volksmoord.

Watter gevaarlike woorde het professor Pieter Duvenage vandag oor die radio geuiter?

“Etniese suiwering” Wim, “etniese suiwering…”

Ns. Gaan kyk gerus na Elma se jongste toneelstuk!

Comments

Leave a Reply