praag.co.za

Category: Sport

  • Kan die Springbokke die wêreldbeker wen?

    Kan die Springbokke die wêreldbeker wen?

    Met Engeland wat die All Blacks oortuigend met 19-7 in Jokohama verslaan het, is alle oë nou gerig op môre se wedstryd tussen Wallis en die Springbokke. Wallis was eintlik gelukkig om teen die Franse te wen en hoewel die Britse sportskrywers so te sê klaar Suid-Afrika afgeskryf het, is die kanse goed dat hulle wel môre kan wen en kan deurdring na die eindwedstryd wat in dieselfde Internasionale Stadion op 2 November te Jokohama gehou gaan word.

    ‘n Element wat egter vrese in Suid-Afrika wakker maak, is nie soseer Wallis nie, maar die Franse skeidsregter, Jérôme Garcès, wat in die verlede al bevooroordeeld teenoor die Springbokke opgetree het. In vorige wedstryde tussen die Springbokke en die All Blacks het hy openlik vir die Nieu-Seelanders kant gekies. Uit 14 toetse waarin Garcès geblaas het, het die Springbokke net vier gewen, ‘n suksessyfer van 29% terwyl hul algehele wensyfer in toetsrugby  62% is.

    Garcès het ook ‘n rooikaart aan Damian de Allende toegeken in ‘n wedstryd teen die All Blacks in 2017 vir ‘n laatvat op Lima Sopoago. Tydens ‘n appèlbeslissing ná die wedstryd is bevind dat die oortreding nie ‘n rooikaart geregverdig het nie.

    Die veteraan-Springbok en rugbykommentator, Kobus Wiese, het aan ‘n tydskrif gesê:

    “Jérôme is ‘n aangename mens, maar kyk jy na sy rekord, dink ek nie hy is ‘n baie goeie skeidsregter nie. Hy maak baie vreemde beslissings en hy’t sover ook nie ‘n goeie Wêreldbeker gehad nie. Ek wonder dus op grond waarvan kwalifiseer hy om nou een van die twee skeidsregters in die semi-finale te wees.”

    Wiese het Jérôme Garcès as “verskriklik wisselvallig” beskryf, waaronder “sy beslissings by die skrums – wanneer hy strafskoppe daar toeken. Dit lyk half asof hy duim suig… een vir jou, een vir my. Dit maak net nie sin nie. En hy’s nie al een wat daaraan skuldig is nie.”

    Nieteenstaande die Franse skeidsregter wat sake vir die Springbokke teen Wallis mag bemoeilik, dui die sportweddenskapsblad Betway Suid-Afrika tans as gunsteling aan. Die koers waarteen ‘n weddenskap op die Springbokke uitbetaal, is slegs 1,30 terwyl ‘n wen vir Wallis 3,85 as opbrengs bied. Dit beteken dat met R10 se wedgeld, kan mens slegs R13 terug ontvang vir die Springbokke, maar R38,50 indien Wallis die knoop sou deurhaak.

    Die meeste Suid-Afrikaners sien uit na môre se wedstryd teen Wallis, asook om die Springbokke in die eindstryd in Jokohama te sien speel. “Met die All Blacks uit die pad, behoort dit eintlik makliker te wees om Engeland te klop,” het een geesdriftige wat nie haar naam genoem wou hê nie, by ‘n Johannesburgse winkelsentrum gesê.

    Kenners is dit eens dat Wallis oor ‘n span gedugte voorspelers beskik. Die Suid-Afrikaanse stut, Brok Harris, 34, wat reeds ses jaar lank vir die Dragons van Newport in Wallis rugby speel, sê: “Albei spanne se verdediging is rotsvas. Die span se agttal wat vir die agterspelers die beste platform gaan skep om vanaf te speel, sal die wedstryd wen.”

  • Betway nou in Suid-Afrika beskikbaar

    Betway nou in Suid-Afrika beskikbaar

    Die bekende aanlynsportweddenskapsblad Betway is nou in Suid-Afrika beskikbaar. Dit bied die heel beste wat aanlynsportweddenskappe betref. Daar is min dinge wat so opwindend is soos om jou gunstelingsokker- of rugbyspan te sien wat hul grootste teenstanders op die sportveld konfronteer. Dit geld natuurlik veral sokker, die gewildste globale sport van almal. Die enigste ding wat die ervaring nog verder kan verhoog sou wees om dít wat op die spel is nog verder te verhoog deur op jou spanne te wed met die doel om die intensiteit verder op te jaag. Plaas ‘n weddenskap en begin jou span ondersteun!

    Van sokker tot tennis, rugby tot krieket, is daar niks wat die intensiteit en opwinding kan troef van jou gunstelingspan of -speler te sien speel teen hul aartsvyande in ‘n stryd waaroor mens agterna weke lank gaan spog nie. Die enigste ding wat dit nog beter kan maak, sou wees deur die spel te verhoog deur die span of speler met ‘n goed geplaaste weddenskap te ondersteun en sodoende die spanning van die wedstryd verder op te jaag. Wel nou is dit jou beurt. Plaas ‘n weddenskap met Betway en voel die energie wat net deur die wêreld van sportweddenskappe ervaar kan word.

    Betway se enigste oogmerk is om die opwinding wat vanuit sportweddenskappe spruit so eenvoudig en toeganklik as moontlik vir al sy kliënte te maak. Deur ‘n reeks sporte aan bied, waaronder elke hoofliga en -toernooi ter wêreld, is Betway daartoe verbind om duisende verskillende keuses vir die sportgeesdrigtige te bied om sy hartstog uit te leef.

    Om op jou gunstelingsport te wed, is maklik

    Met Betway beskik klante oor die vryheid om vinnig en maklik te wed met watter metode ook al vir hulle die gemaklikste is. Of dit nou deur die maklik navigeerbare webblad of deur hul fone is, is Betway se aanlyn- en mobiele platform ontwerp om sportweddenskappe so eenvoudig as moontlik te maak. Gretige sportgeesdriftiges kan ‘n deposito maak en sodoende hul weddenskappe oral inkry, te eniger tyd, sodat hulle voortdurend nader aan die aksie as ooit tevore is.

    Dit maak nie saak of Betway se klante nou versot is op die tradisionale manier van enkel- of veelvoudige weddenskappe, of belangstel om bietjie verskeidenheid by hul weddenskappe te voeg deur die Korrekte Telling, Dubbelkans of Eerste-span-punte-aan-te-teken nie, Betway bied alle markte aan, met die beste wedverhouding waarvan enige sportgeesdriftige kan droom.

    Vir diegene wat op soek is na iets wat selfs meer opwindend is, bied Betway intydse weddenskappe deur Live-in-Play aan, wat jou toelaat om te verwed soos wat die spel intyds ontvou.

    Raak deel van die pret met sokkerweddenskappe, rugbyweddenskappe of enige van die ander opsies wat beskikbaar is.

    Standaarde en veiligheid

    Betway is gelisensieer en word deur die Wes-Kaapse Dobbelraad gereguleer (Beroepswedderslisensienormmer: 10181496-003), en ondersteun redelike dobbelary. Alle aanlyntransaksies met Betway word deur ondringdeurbare digitale enkripsietegnologie beveilig, wat ‘n veilige en gereguleerde arena skep waarin ‘n mens gemaklik kan verwed.

    Ondersteuning

    Betway bied in-diepte-kliëntediens vir ons klante 24/7 en 365 dae per jaar, en verwelkom enige vrae van belangstellendes.

  • Bruce Fordyce aangeval terwyl hy op straat draf

    Bruce Fordyce aangeval terwyl hy op straat draf

    Die Suid-Afrikaanse langafstandatleet en herhaalde Comrades-wenner, Brucy Fordyce, is op straat in Johanensburg aangeval en beroof terwyl hy vanoggend besig was om te oefen.

    Volgens ‘n vriend, mnr. Ray de Vries, is Fordyce, aangeval en van sy hardloopskoene en horlosie deur gewapende rowers beroof.

    Die rowers het in ‘n motor langs Fordyce stilgehou en hy het aanvanklik gedink dat hulle padaanwysings wil vra, toe hulle ‘n vuurwapen te voorskyn haal en hom beveel om sy horlosie en skoene te oorhandig.

    Maar blykbaar het Fordyce hom nie van stryk laat bring nie en het, nadat hy tuis ‘n ander paar skoene gaan aantrek het, sy oggenddraffie voortgesit.

    Op die hoogtepunt van sy loopbaan as marathonatleet het Fordyce nege keer die moordende Comrades-wedren gewen.

  • Rugby: Die god van ‘transformasie’ sneuwel in Argentinië

    Rugby: Die god van ‘transformasie’ sneuwel in Argentinië

    Vir slegs die tweede keer in die geskiedenis het die eens trotse Springbokrugbyspan oor die naweek teen die Argentynse Poemas in die stad Salta verloor met 24-26 verloor. Die plaasvervangerlosskakel Santiago González Iglesias het in die 78ste minuut van die wedstryd die laaste spyker in die Springbokdoodskis geslaan toe hy met ‘n strafskop geslaag het.

    Dit was die eerste oorsese toetswedstryd onder die afrigting van Allister Coetzee wat begin het om die skroewe van rassetransformasie aan te draai, soos wat die ANC en die hoofstroommedia van hom vereis, met die resultaat dat Suid-Afrika nie eens teen die swakste span in die suidelike halfrond kan wen nie. Teen Nieu-Seeland sou Suid-Afrika baie ver verloor het.

    Nicolás Sanchez het twee strafdoele behaal, nadat Elton Jantjies die Springbokke aanvanklik laat voorloop het, en het ook ‘n uitstekende drie deur Joaquin Tuculet verdoel sodat Argentinië teen rustyd met 13-3 voorgeloop het.

    Kenners is dit eens dat sowel Jantjies as Morné Steyn swak geskop het. Nietemin het Jantjies na rustyd met ‘n strafskop geslaag en het Bryan Habana ‘n drie gedruk, om die telling gelyk te maak. Kort hierna het Argentinië egter weereens met tien punte voorgeloop toe Juan Martin Hernández ‘n voortreflike kruisskop in die rigting van Juan Manuel Leguizamon geloos het, wat oorgeduik het. Hernández het die drie verdoel en agterna nog ‘n strafskop oorgeskop.

    Morné Steyn het met twee strafskoppe geslaag, terwyl Pieter-Steph du Toit in die 68ste minuut ‘n drie gedruk het om Suid-Afrika met 24-23 te laat voorloop, alvorens Iglesias die laaste woord met sy strafskop ingekry het.

    Argentinië: Drieë Tuculet, Leguizamon. Cons Sánchez, Hernández. Strafskoppe Sánchez 2, Hernández, González Iglesias.

    Suid-Afrika: Drieë Habana, Du Toit. Doelskop Jantjies. Strafskoppe Jantjies 2, Steyn 2.

  • Engeland in sak en as oor sokkerneerlaag teen kleine Ysland

    Engeland in sak en as oor sokkerneerlaag teen kleine Ysland

    Die Engelse sokkerspan het gisteraand met 2-1 teen Ysland, een van die kleinste volkere ter wêreld, in ‘n uitspeelwedstryd vir die Europese sokkerbeker verloor. Ysland beskik oor net meer as 300 000 burgers teenoor Engeland se 55 miljoen mense wat in die suide van Groot Brittanje woon.

    Op die vooraand van die wedstryd het die Sun-koerant geskryf: “Vir Engeland om teen Ysland te verloor, sou die grootste verleentheid OOIT wees.”

    Na afloop van die wedstryd het Engelse ondersteuners gesing: “Julle is dit nie werd om die trui te dra nie.” Die Engelse afrigter, Roy Hodgson, het direk na die wedstryd op sy swaard geval deur sy bedanking in te dien. Ysland sal Sondag in die laaste-agt teen Frankryk, die gasheerland, te staan kom.

    Ysland is 34ste op die wêreldsokkerranglys. Wat dit nog erger maak, is dat hulle oor geen professionele sokkerliga beskik nie. Trouens, die Yslanders kan net vir ‘n paar maande per jaar sokker speel as hul sokkervelde nie toegesneeu is nie. Dis ook nie eens hul nasionale sport nie. Hulle verkies handbal en visvang bo sokker.

    Nadat Wayne Rooney vir Engeland ‘n strafdoel in die eerste paar minute aangeteken het, kon Engeland vir presies 34 sekondes feesvier totdat die Yslandse voorspeler Ragnar Sigurdsson dit gelykop 1-1 gemaak het, vanaf ‘n lang ingooi deur Gunnarsson.

    In die agtiende minuut het Kolbeinn Sigthorsson die Engelse doelwagter Joe Hart gepypkan en die tweede doel in die hoekie van die net ingerol.

    Na afloop van die wedstryd was die Engelse span so verslae dat hulle net op die veld bly lê het, terwyl die hele Ysland met reguit arms in die lug hande geklap het in wat die “Yslandse haka” genoem word. Dit was dié klein Skandinawiese landjie se beste vertoning nog in internasionale sokker deur “elf Engelse miljoenêrs in kortbroeke” te wys waar Dawid die wortels gegrawe het.

    Op Twitter en ander sosiale media het Engelse sokkerondersteuners hul misnoeë betoon. Baie het getwiet dat hulle nou “Wallis toe wil emigreer”. Wallis is na dese die laaste span uit die Britse koninkryk wat nog nie uitgeskakel is nie.

  • Rugby: Twee Springbokke versterk die Sewes-groep!

    Rugby: Twee Springbokke versterk die Sewes-groep!

    Francois Hougaard en Juan de Jongh is Woensdag ingesluit in ‘n sterk Springboksewes-12-tal wat vir die eerste twee HSBC Wêreldsewesreekstoernooie van die nuwe seisoen in Doebai en Kaapstad gekies is.

    Die seisoen skop af op 4 en 5 Desember met die Emirates Airline Dubai-Sewes, wat ‘n week later opgevolg word deur die eerste HSBC Kaapstadsewes, wat op 12 en 13 Desember, by die Kaapstad-stadion plaasvind.

    Hougaard het 35 toetse vir die Springbokke gespeel en het onlangs by die Blitsbokke aangesluit met ‘n eenjaarkontrak in sy sak. Hy is ingestel om sy World Series-debuut in Doebai te maak, terwyl DHL Westelike Provinsie-senter en -kaptein, De Jongh (14 toetse), terug keer na die Springboksewesspan nadat hy sy eerste en enigste verskyning vir die span in Wellington in 2008 by die 15-mankode gemaak het.

    Werner Kok, die nuut gekroonde Wêreldrugbysewesspeler van die Jaar, Cheslin Kolbe (DHL Westelike Provinsie) en verlede seisoen se top-driedrukker op die World Series, Seabelo Senatla, sal kombineer met gereelde staatmakers Cecil Afrika, Justin Geduld en Ryno Benjamin (Toyota Vrystaat-Cheetahs) om ‘n kragtige Blitsbok-agterlyn te vorm.

    Die taai Benjamin is ingestel om sy 30ste World Series-verskyning te maak terwyl kaptein Kyle Brown op koers is om in sy 50ste toernooi in sy tuisdorp, Kaapstad, te speel.

    Brown, Philip Snyman, Kwagga Smith en Chris Dry sal die nodige staal voorlangs verskaf en voltooi ‘n sterk spankeuse wat hul kroon in Doebai sal verdedig. Die Springboksewesspan is ook die huidige toernooikampioene in Suid-Afrika.

    Spelers wat nie oorweeg is as gevolg van ‘n besering nie, is Branco du Preez (skouer), Warren Whiteley (kuit) en Oupa Mohoje (knie, uit vir agt weke).

    Die Springboksewes-afrigter, Neil Powell, het gesê dit was ‘n uiters moeilike taak om die groot oefengroep te verminder tot net 12 spelers vir die eerste twee toernooie van die seisoen.

    “Die hele oefengroep het baie hard gewerk en die mededinging tussen die groep spelers het hierdie my moeilikste keuse ooit gemaak,” erken Powell.

    Ek dink spanne is besig om hulself te posisioneer vir die 2016-Olimpiesespele, wat beteken daar sal min ruimte vir foute wees.

    Suid-Afrika is gegroepeer in Groep B saam Skotland, Samoa en die nuut bevorderde kernspan Rusland. Die groep reis na Doebai op Sondag 29 November en vertrektyd van die Kaapstadse Internasionale Lughawe is 13:30.

    Die Springboksewesgroep vir die opening van die World Series-toernooie in Doebai en Kaapstad (SARU gekontrakteer tensy anders gespesifiseer, aantal World Series-toernooie in hakies):
    1. Chris Dry (44)
    2. Philip Snyman (30)
    3. Francois Hougaard (0)
    4. Kwagga Smith (15)
    5. Werner Kok (18)
    6. Kyle Brown (48 – kaptein)
    7. Cheslin Kolbe (DHL Westelike Provinsie, 8)
    8. Ryno Benjamin (Toyota Vrystaat Cheetahs, 29)
    9. Justin Geduld (18)
    10. Cecil Afrika (38)
    11. Seabelo Senatla (19)
    12. Juan de Jongh (DHL Westelike Provinsie, 1)

  • Eddie Jones verlaat die Kaap

    Eddie Jones verlaat die Kaap

    Die Austalies gebore Eddie Jones wat die Stormers in 2016 sou afrig, is vrygestel van die pos om vir Stuart Lancaster as die Engelse nasionale rugby afrigter ta vervang. Die Engelse rugbyunie het die Stormers sowat R2,1 miljoen betaal vir Jones se dienste.

    Jones wat wêreldwyd beskou word as een van die mees ontortodokse afrigters, het met die pas afgelope rugbywêreldbeker weer sy staal gewys toe sy span, Japan, die magtige Springbokke in een van die rondtewedstryde ten aanskoue van die wêreld effens afgestof het. Dit was seker een van die grootste rugbyverrasings van alle tye en dan een wat ons en alle Springbokondersteuners baie gou sal wil vergeet. Jones was ook Jake White se regterhand tydens die Springbokke se tweede wêreldbekeroorwinning in 2007.

    Alle rugbyoë sal vandag op Engeland gerig wees waar na verwagting die aankondiging dat Eddie Jones die nuwe Engelse afrigter is waarskynlik binne enkele ure gemaak gaan word. Dit sal die eerste keer in die geskiedenis wees dat Engeland ‘n oorsese afrigter aanstel.

    Wie sal nou nee sê vir die klomp ponde wat na jou kant toe gaan kom as jy so ‘n aanbod van die wêreld se rykste rugbyunie ontvang?

  • Ritchie McCaw hang stewels op

    Ritchie McCaw hang stewels op

    Die befaamde All Black rugbykaptein Ritchie McCaw het aangekondig dat hy na 14 jaar sy rugbysteuwels ophang. Daar was baie spekulasie oor die dubbele wêreldbekerwennerkaptein se toekoms na die 2015-wêreldbeker.

    Ritchie het ‘n ongelooflike loopbaan met net so ‘n ongelooflike klomp statistieke in sy tyd in die swart trui bymekaargemaak. Van die 413 oorwinnings wat die All Blacks sedert 1903 oor almal in die wêreld behaal het het McCaw 131 oorwinnings gesmaak oftewel 32% van alle All Black-wenne. McCaw het 148 toetse vir sy land gespeel waarvan hy in 110 toetse die kaptein was. McCaw het 27 drieë gedruk wat hom algeheel in plek nommer 13 plaas: een drie meer as sy spanmaat Conrad Smith.

    Ritchie McCaw1McCaw het in 2001 vir die eerste keer vir die All Blacks gespeel en sedert sy debuut in die swart trui het hy slegs 37 toetse misgeloop as gevolg van beserings van een of ander aard. Ritchie het 37 toetse teen die Wallabies gespeel, die meeste ooit deur enige land se speler teen die Aussies, waarvan hy slegs 6 toetse verloor het. Daar het 132 nuwe All Blacks hul debuut vir die swart truie gemaak sedert McCaw in 2001 die swart trui oor sy kop getrek het. McCaw het die Bledisloe-beker nie minder nie as 10 keer bo sy kop gelig en in die Drienasieskampioenskap was hy vier keer die seëvierende kaptein. Voeg daarby dat hy twee keer die wêreldbeker kon lig. In 61 toetse in Nieu-Seeland het McCaw slegs twee keer verloor. McCaw was ook al drie keer die wêreldrugbyspeler van die jaar. McCaw het insgelyks al teen 18 van die top-20-rugbynasies toetse gespeel; die enigste twee lande waarteen hy nog nooit gespeel het nie is Uruguay en die VSA. Ritchie MCaw het ook al op 39 verskillende stadions toetse gespeel. Hy was 12 keer vir toetse in Suid-Afrika en het al 12 keer op jaareindtoere na Europa getoer.

    McCaw het in sy loopbaan slegs teen 4 nasies ooit verloor: Suid-Afrika (6 keer), Australië (6 keer), Engeland (2 keer) en Frankryk (1 keer).

    Hierdie nommer-7-flank is werklik een van die heel grootste nommer sewes ooit! Die rugbywêreld groet Ritchie McCaw met ‘n glimlag!

  • Euforie in Duitsland ná sokkeroorwinning

    Miljoene mense dwarsdeur Duitsland het gisteraand tot in die vroeë oggendure feesgevier ná hul span dié van Argentinië met 1-0 geklop het om die voetbalwêreldbeker in te palm.

    Die jong speler Mario Götze, wat gisteraand vir die eerste keer sy buiging in die nasionale span gemaak het, het in die tweede helfte van ekstratyd met ‘n manjifieke doel die Argentynse ondersteuners letterlik in trane gehad. Hoewel Duitsland voortdurende meer balbesit gehad het, kon hulle tot op daardie stadium nie daarin slaag om punte aan te teken nie. Ook Argentinië het ‘n paar gulde geleenthede verbrou en hul voetbalster, Lionel Messi, die hoogs besoldigde speler ter wêreld, kon nie aan die hoë verwagtinge wat van hom gekoester is, voldoen nie.

    Mario Götze teken die wendoel vir Duitsland aan
    Mario Götze teken die wendoel vir Duitsland aan

    ‘n Kwartmiljoen mense het in die hoofstad, Berlyn, die wedstryd op ‘n groot skerm gevolg. Presies om 23:36 werp wildvreemde mense hul jubelend in mekaar in se arms op straat, in kroeë, stadions en biertuine.

    Die kleure van die Duitse vlag, swart, geel en rooi is oral te siene. In die groot stede soos Berlyn, Hamburg, München en Frankfurt is klappers en vuurwerke afgevuur. Juigliedere soos “Oh, wie ist das schön”, “So ein Tag, so wunderschön wie heute” of die klassieke “Deutschlaaaand, Deutschlaaaand” het die nag oorheers.

    Voor die Brandenburgpoort vier die ondersteuners fees
    Voor die Brandenburgpoort vier die ondersteuners fees

    In weerwil van die groot vreugde het ‘n woordvoerder van die polisie egter bevestig dat daar geen probleme was nie en dat, vanuit ‘n wetsoortredingsoogpunt, alles “rustig gebly” het.

    Reeds voor die aanvang van die wedstryd is die Berlynse toeskouersplek voor die Brandenburgpoort heeltemal beset en moes tienduisende aankomelinge teleurgesteld omdraai om die wedstryd elders te gaan kyk.

    Ook in Hamburg het 50 000 op die Heiligegeesplein saamgedrom om die wedstryd te volg. Sekere hoofstrate is vir verkeer gesluit om die skares te kan hanteer.In Keulen, Stuttgart, Nürnberg en Freiburg vier duisende geesdriftiges fees. In Darmstadt word die verkeerstonnel gesluit weens juigende voetbalondersteuners wat dele van die stad vir motorverkeer ongegaanbaar maak.

    Plekke by die Frankfurtse Commerzbank-Arena en die Olympiastadion in München was dae voor die tyd reeds uitverkoop: 50 000 aan die Mainrivier aanskou die triomf van hul span en 33 000 in München.

     

  • Brasilië ontvang sokkerles auf Deutsch

    Die Duitse sokkerspan het gisteraand vir Brasilië, die gunstelinge, met 7-1 doele in die halfeindstryd van die wêreldsokkerbeker geklop. Dit is die grootste neerlaag wat Brasilië in 100 jaar in ‘n internasionale wedstryd gely het.

    Omdat sokker, soos rugby, ook die afgelope aantal jare deur FIFA verpolitiseer is, het die Duitse vertoning insgelyks skokgolwe deur die wêreld gestuur, met vele liberale kommentators op Twitter en elders wat verslae is dat ‘n hoofsaaklik blanke Europese span die multikulturele span van Brasilië so ver kon wen.

    Die gewilde Duitse koerant, Bild, het ‘n foto van twee triomfantelike Duitse spelers, Miroslav Klose en Toni Kroos, op sy voorblad geplaas met die eenvoudige opskrif: “Danke! Wir lieben euch!” (Dankie! Ons is lief vir julle!)

    Opvallend is egter dat die Duitse span sy triomf amper probeer wegsteek het en agterna die Brasiliese spelers omhels en vertroos het, asof daar vooraf opdragte was dat hulle nie die gasheerland – waar daar reeds onluste rondom sokkerkwessies plaasgevind het – moes aanstoot gee nie.

    Ook in Brittanje en die VSA, waar anti-Duitse gevoelens en afguns oor Duitse ekonomiese prestasie gewoonlik net onder die oppervlak is, was daar groot teleurstelling dat Brasilië dermate verloor het. Sokker word in die VSA gesien as ‘n sport wat meer deur liberale, immigrante en ondersteuners van die Demokratiese Party gevolg word, dus was die Duitse oorwinning ‘n bitter pil om te sluk.

    Swart Suid-Afrikaanse vroue op Twitter het grappe begin maak onder die hutsetiket #goodbyebrazilianhair en dat hulle op soek is na pruike met “Duitse hare”. Die Suid-Afrikaanse minister van sport, Fikile Mbalula, wat blykbaar met ‘n groot gevolg na Brasilië afgereis het, het op #goodbyebrazilianhair met die woord “Shame” geantwoord.

    Die swart sokkerkommentators van die SAUK het hul egter verlekker in die Brasiliaanse vernedering, aangesien Brasilië voorheen die Bafana met 5-0 verpletter het. “Nou weet hulle hoe dit voel,” het een van hulle gesê.

    Die linkse Londense koerant, The Guardian, beskryf die wedstryd só:

    “Tot op dié stadium was Brasilië se wedstryde ‘n viering van kleur en geraas. Maar (gisteraand) was daar die onheilspellende geluid van stilte, asook ander geluide. By tye was dit iets naby aan vrees, ‘n vreemde gorrelgeluid wat telkens gehoor kon word as Duitsland elegant vorentoe gebreek het, met meer vernedering wat dreig. Die gesig van Brasilië, met hul ryk voetbalgeskiedenis, wat op dié wyse vermorsel word, was werklik skokkend.”

    SAPA-AP het die wedstryd só beskryf:

    “Brasilië het in sy 100 jaar van sokkergeskiedenis nog nooit so ’n groot nederlaag gely in enige internasionale toernooi nie en het nog nie so chaoties verdedig soos in die eerste 18 minute van die eerste helfte nie toe Duitsland vier doele aangeteken het, drie van hulle in net 179 sekondes.”

    En verder:

    “Stilte het oor die skare in die Mineirao-stadion neergedaal en party mense wat nie kon glo wat hulle sien nie, het in trane uitgebars.

    Honderde mense het hul duur sitplekke al voor die rustyd, toe die telling 5-0 was, verlaat.

    ’n Deel van die skare het onwelvoeglikhede teen die span en pres. Dilma Rousseff gedreunsing.”

    Vele Brasiliese vroue het geween oor hul span se ineenstorting voor die Duitse aanslag. Selfs die troosdoel wat byna per ongeluk in die doodsnikke van die wedstryd deur Brasilië se Oscar aangeteken is, het min reaksie ontlok.

    Miroslav Klose, links, en Toni Kroos ná die wedstryd
    Miroslav Klose, links, en Toni Kroos ná die wedstryd

    Miroslav Klose het met sy doel in die eerste helfte die rekordhouer vir die meeste doele in wêreldbekersokker geword. Maar wat aangaande die Duitse span beïndruk het, is nie soseer die briljansie van die individuele spelers nie, hoe professioneel en goed hulle hul ook al van hul taak gekwyt het, maar die dissipline en goeie spanwerk. Die moeitelose en akkurate aangeë waaruit soveel doele binne slegs enkele minute opgetower is, laat enige ander span na amateurs lyk.

    Sowel Nederland as Argentinië, wat vanaand om 22:00 SA tyd in die ander halfeindronde uitspeel, sal hul sokkies moet optrek as hulle nie Sondag ‘n ewe vernietigende voetballes van Die Mannschaft wil ontvang nie.

    Doele het gisteraand só verloop:

    Vir Brasilië:

    Oscar (#11) 90′

    Vir Duitsland:
    Thomas Müller (#13) 11′
    Miroslav Klose (#11) 23′
    Toni Kroos (#18) 24′, 26′
    Sami Khedira (#6) 29′
    André Schürrle (#9) 69′, 79’

  • Sokkersterre se inkomste laat rugbyspelers na armblankes lyk!

    Die ontsteltenis in Brasilië oor die onlangse besering van die jong Brasiliaanse speler Neymar maak ook sin as die finansiële implikasies in ag geneem word. Die oordragfooi wat die Spaanse klub Barcelona betaal het om hom van die Brasiliaanse klub Santos te bekom, was nie minder nie as  €57,1 miljoen (ongeveer R855 miljoen) nie.

    Lionel Messi in 2009
    Lionel Messi in 2009

    Dié bedrag is deur die visevoorsitter van Barcelona, Josep Maria Bartomeu onthul. Die bedrag om Neymar van sy verpligting teenoor Barcelona vir die volgende vyf jaar vry te stel, is €190 miljoen (ongeveer R2,9 miljard). Neymar se oordragfooi is egter maar tiende op die lys van oordragfooie wat al in sokker betaal is.

    Die hoogste oordragfooi wat tot dusver betaal is, was vir Gareth Bale. Real Madrid het in 2013 tussen €90 en €100 miljoen (ongeveer R1,5 miljard) betaal om hom van die Britse klub Tottenham Hotspur te bekom. Real Madrid hou ook die rekord vir die naasduurste speler van alle tye, die Portugees Cristiano Ronaldo wat hulle vir €94 miljoen van Manchester United bekom het.

    Die jaarlikse salarisse van die spelers is feitlik ewe astronomies. ‘n Speler by een van die top- Europese klubs kan tot €20 miljoen (R300 miljoen) per jaar aan salaris en borgskappe verdien. Op die jeugdige ouderdom van 22 bevind Neymar hom reeds in dié kategorie, maar hy word slegs as die 13de rykste voetbalspeler ter wêreld gereken.

    In Maart 2010 het die tydskrif France Football die Argentyn Lionel Messi, wat ook in die huidige wêreldbeker te siene is, bo-aan die lys van die rykste voetbalspelers geplaas, voor David Beckham en Cristiano Ronaldo. Op die daardie stadium het Messi €33 miljoen (ongeveer R500 miljoen) per jaar aan salaris, bonusse en borgskappe verdien. In Mei vanjaar het Forbes egter vir Messi tweede ná Cristiano Ronaldo geplaas. Oor die afgelope jaar het Messi blykbaar $65 miljoen verdien.

    Messi se “uitkoopklousule” soos dit genoem word, is €250 miljoen. Hy speel insgelyks vir Barcelona en vir ‘n ander klub om hom uit te koop, sou dus €250 miljoen, oftewel ‘n verbysterende R3,75 miljard kos. Dit is meer as wat sommige genoteerde Suid-Afrikaanse maatskappy op die aandelebeurs werd is.

    Hierteenoor kan ‘n toprugbyspeler en Springbok soos Victor Matfield tot R6 miljoen per jaar op die kruin van sy loopbaan verdien, minder as ‘n honderdste van wat Lionel Messi of Ronaldo jaarliks inoes…

  • ‘Uitbarsting van rassisme’ tydens wêreldbekersokker ná Neymar-besering

    Nadat ‘n swart speler van Colombië die jong Brasiliese sokkerster, Neymar (volle name Neymar da Silva Santos Júnior) beseer het, het ‘n “uitbarsting van rassisme” gevolg en het die Colombiaan etlike doodsdreigemente ontvang.

    Brasiliërs op Twitter vaar uit teen die swart Colombiër, Juan Camilo Zuniga, wat Neymar se rugwerwel gekraak het en huiwer nie om na sy ras te verwys nie. In die sokkerwêreld – ook in Europa – bestaan daar ‘n algemene opvatting by ondersteuners dat swart spelers makliker as blankes die reëls oortree en daarmee die spel bederf, asook beserings veroorsaak.

    Daarom is die wêreldbekertoernooi in Brasilië tot “die toernooi teen rassisme” verklaar en word daar by elke wedstryd ‘n eed deur die spelers teen rassisme afgelê en word baniere teen rassisme op die veld vertoon.

    Zuniga se vuilspel teen Neymar, wat nou in 'n rassevoorval ontwikkel het
    Zuniga se vuilspel teen Neymar, wat nou in ‘n rassevoorval ontwikkel het

    Dit lyk egter asof dit geen uitwerking gehad het nie, want die Brasiliërs is woedend vir Zuniga, dermate dat ‘n Franciskaanse monnik van Sao Paulo, David Santos, dit nodig geag het om sy landgenote te betig. “Dit mag verrassend wees vir buitestaanders, maar die wyse waarop ons Colombiese broer behandel word, toon weereens dat Brasilië een van die mees rassistiese lande ter wêreld is.” Santos is hoof van ‘n liggaam genaamd Educafro, wat swart en voorheen benadeeldes vir universiteitstoelatingseksamens voorberei.

    Die swart Colombiër is deur FIFA kwytgeskeld, wat aangekondig het dat daar geen tugstappe teen hom gedoen sal word nie.

    Die New York Times, die wêreld se mees invloedryke liberale koerant, het insgelyks die voorval aangegryp om Brasilië daarvan te beskuldig dat hy nog nie die “erfenis van slawerny verwerk het nie”. Die koerant kritiseer ook die feit dat blankes steeds die topvlakke van die regering en die privaatsektor “oorheers”.

    Brasilië het in 1888 slawerny afgeskaf en daarmee gelykheid aan sy swart inwoners verskaf. Meer as die helfte van die land se inwoners is egter swart of van gemengde ras, wat die land die grootste swart bevolking van enige land buite Afrika gee.

    In navolging van die VSA, Brittanje, Suid-Afrika en ander Engelse lande, het Brasilië onlangs ook regstellende aksie ingestel om die aantal swart studente aan openbare universiteite te verhoog en kwotas vir swartes in die staatsdiens in te stel. Die land beskik ook oor wetgewing wat rasse- en etniese diskriminasie verbied.

    Vroeër vanjaar was daar egter ‘n rassevoorval in die land wat volgens linkses tot slegs ‘n “ligte straf” gelei het. Tydens die voorval het ondersteuners van die suidelike klub Esportivo op ‘n swart skeidsregter, Marcio Chagas da Silva, geskree dat hy moet “teruggaan oerwoud toe” en het piesangs op sy motor gesmeer. ‘n Sokkerhof het die klub beveel om ‘n kleinerige boete te betaal en om vyf wedstryde weg van hul tuisveld te speel. In Sao Paulo het ondersteuners vroeër vanjaar blykbaar “rassistiese beledigings” aan die middelveldspeler Marcos Arouca da Silva geskree.

  • Frankryk, Duitsland deur na kwarteindronde van wêreldbekersokker

    Sowel Frankryk as Duitsland het gisteraand geseëvier in hul uitspeelwedstryde, onderskeidelik oor Nigerië en Algerië, en sal mekaar in die kwarteindronde van die wêreldsokkerbeker in Brasilië ontmoet.

    Beide Europese spanne het egter gesukkel om die mas teen hul swakker opponente op te kom. Nigerië se reusesokkerspelers het die baan op en af gehardloop en het by tye die Franse span, wat insgelyks uit ‘n meerderheid swart spelers bestaan, oorheers. Eers toe Frankryk ná rustyd met ‘n behoorlike wedstrydplan vorendag kom, het hulle begin om die doelhok van die Nigeriërs te bedreig. Ná verskeie mislukte pogings het Paul Pogba ‘n kopskoot met slegs 11 minute speeltyd oor, ingekry.

    Joseph Yobo van Nigerië het sy span se lot verseël toe hy ‘n eie doel aangeteken het, om Frankryk met 2-0 te laat wen.

    Franse sokkerspan vier fees ná die wedstryd teen Nigerië
    Franse sokkerspan vier fees ná die wedstryd teen Nigerië

    Die wedstryd tussen Duitsland en Algerië was volgens kenners een van die opwindendstes tot dusver en is eers gedurende ekstratyd beslis. Beide spanne het nie minder nie as 38 keer probeer punte aanteken – 28 keer deur Duitsland. Dit verteenwoordig ‘n rekord vir ‘n wedstryd tydens die huidige wêreldbeker.

    Andre Schürrle het kort ná die aanvang van ekstratyd in die 92ste minuut ‘n doel vir Duitsland aangeteken en só verligting gebring. Hy het die bal van Thomas Müller vanaf ‘n kruisskop ontvang en dit toe met sy hak verby die Algerynse doelwagter Rais M’Bholhi in die net ingeskop.

    In die 119de minuut slaag Mesut Ozil vir Duitsland met ‘n hoë skop na die dak van die doelhok en laat sy span sodoende met 2-0 voorloop.

    ‘n Minuut of twee later teken Abdelmoume Djabou ‘n doel vir Algerië aan sodat die Algeryne met eer uit die stryd tree, nadat hulle Duitsland vir twee ure goed besig gehou het.

    Vanmiddag om 18:00 speel Switserland teen Argentinië om te bepaal wie na die kwarteind deurdring. Die wedstryd word regstreeks op SABC2 uitgesaai. Switserland, wat vanjaar ‘n baie goeie span het, het nog nooit vantevore teen Argentinië kon wen nie. Beroepswedders stel die kanse vir vanmiddag se wedstryd só:

    Argentinië wen: 1/2

    Switzerland wen: 13/2

    Gelykop: 17/5

    Lionel Messi in 2009
    Lionel Messi in 2009

    Die Argentynse span word aangevoer deur Lionel Messi, wat gewoonlik vir die Barcelona-klub speel en naas Cristiano Ronaldo van Portugal tans as die beste speler ter wêreld beskou word.

    In vanaand se tweede wedstryd speel België uit teen die VSA, om 22:00 Suid-Afrikaanse tyd. ‘n Kykertal van tussen 13 en 16 miljoen word op die sportkanaal ESPN verwag en blykbaar raak die Amerikaners ook toenemend sokkermal, veral as hul span op die veld is.

  • Ernie sal twee Europese toernooie misloop

    Ernie sal twee Europese toernooie misloop

    Ernie, sy outistiese seun Ben en vrou Liezl
    Ernie, sy outistiese seun Ben en vrou Liezl

    Die wêreld se voormalige nommer een gholfspeler verkies om tyd te spandeer saam met sy gesin as deel van ‘n plan om sy toerskedule vanjaar te verkort.

    Die wêreldkampioen het reeds 25 toerseisoene agter die blad.

    Ernie Els sal die Volvo Golf Champions-toernooi in Durban misloop in Suid-Afrika sowel as die Abu Dhabi HSBC-kampioenskap in die Verenigde Arabiese Emirate.

    Die Durban-toernooi begin volgende week, terwyl die Abu Dhabi -toernooi vanaf 16-19 Januarie duur.

    Hy het om verskoning vir die ongerief en laat kennisgewing van die besluit gevra en sien uit daarna om gou weer in Suid-Afrika te speel het hy gesê.

    Verlede maand het Els, wat in Florida woon in die VSA, gesê hy wil sy 2014-skedule afskaal, want hy vind dit moeilik om sonder sy gesin te reis.

    Hy het gesê dit was nog altyd moeilik om die huis te verlaat, maar hy wil nou sy kinders sien grootword en dit raak moeilik met die reis wat sy beroep verg.

    Hy heg groot waarde aan sy gesinslewe en “wil nie uitmis op sy tienerkinders se beste jare voordat hulle die huis verlaat nie”.

    Els is tans nommer 27 in die wêreld en hy sê die reisopofferinge raak “taaier en taaier”.