praag.co.za

Category: Götterdämmerung

  • Wat is die ‘AltRight’?

    Wat is die ‘AltRight’?

    Donderdag die 25ste Augustus 2016 kan volgens alle aanduidings as ‘n waterskeidingsoomblik in ons politieke, filosofiese en ideologiese diskoers wêreldwyd gesien word, want Donderdag het Hillary Rodham Clinton legitimiteit aan ‘n voorheen taamlik onbekende ideologiese groepering gegee deur hulle op die naam te noem en daarna te kere te gaan soos ‘n hondsdol straatbrak.

    Dat sy tydens haar toespraak haar telkemale moes beroep op die ad hominem van “rassis” en “rassisme” – woorde wat sy herhaaldelik ingespan het – dui eenvoudig daarop dat sy a) nie die groepering verstaan nie en b) dat sy intellektueel nie opgewasse is vir die oorlog wat hierdie groep teenoor haar en enige linkse groepe voer nie. En maak geen fout nie dit is ‘n oorlog… ‘n kultuuroorlog.

    Ek verwys natuurlik na die AltRight – ‘n organisasie wat die kuberruim hulle eie gemaak het en beide linkse ideoloë en establishmentpolitici verwar om elke hoek en draai. Die AltRight vind dit prettig om hierdie ideoloë en politici te koggel, om hulle dubbele standaarde uit te wys, om ongemaklike vrae te vra en om die belaglikheid van hulle kernwaardes onder die vergrootglas te sit.

    Daarvoor gebruik hulle die linkses se eie taktiek teen hulle – net baie meer suksesvol. Die vaandeldraer is die meem [‘meme’ in Engels] van Pepe die Padda – ‘n figuur wat menige slinkse linkse al aan sy ontbytgraan laat stik het by aanskoue van sy politiek inkorrekte gelaat.

    Wat is die AltRight? Dis ‘n moeilike vraag juis omdat die AltRight geen kerngroep verteenwoordig nie. Hulle bestaan uit ‘n losse konstellasie liberaliste (nie liberale nie), paleo-konserwatiewe, traditionaliste, voorstanders van die monargie, nasionaliste ens.

    Die AltRight is wat genoem kan word ‘n “groot tent” filosofiese organisasie. Eenvoudig is dit ‘n samevoeging van verskillende ideologiese groeperings met die mantra “geen vyand aan die (my) regterkant nie”. Dit beteken dat solank as wat daar ‘n oorvleueling is van een of ander sleutelgedagte, sal daar saamgewerk word.

    Maar, soos in die geval van hoofstroomkonserwatiewe en RINO (Republican In Name Only) binne die GOP, sal die AltRight nie huiwer om hierdie groepe aan dieselfde blootse taktiek bloot te stel wat gewoonlik vir Liberale gereserveer word nie.

    ‘n Groot beweegrede vir die totstandkoming van die AltRight is dat die hoofstroom konserwatiewe beweging, gegrond in William Buckley se konserwatiewe skrywes en filosofie, vergeet het dat die politiese waardes wat hulle uitdra gesetel is in ‘n kultuur wat hulle in gebreke gebly het om te verdedig.

    Om konserwatief te wees is om die goeie te beskerm en te koester en hulle het nie een van die twee gedoen nie. Wat hulle wel gedoen het is om stuk-stuk toegewings te maak aan Sosialiste en Marxiste en het daardeur die Overton-venster te ver links te laat verskuif wat gelei het daartoe dat die Westerse beskawing siek en sterwend is.

    Die fout wat linkses, establishmentpolitici en die werfbobbejane van die hoofstroommedia maak is om aan te neem dat die AltRight ‘n Amerikaanse verskynsel is en dat hulle of werklose of lae inkomste blanke “millenial” mans is wat nog steeds by ma aan huis woon en verslaaf is aan Anime-pornografie terwyl hulle Ramennoedels opslurp.

    Sommige pratende koppe het die AltRight summier afgemaak as lae-IK wit gemors. Die grootste wanpersepsie is dat die AltRight ‘n eenmalige verskynsel is wat die verkiesing van Donald Trump as President van die VSA as oogmerk het.

    Maar die AltRight is ‘n wêreldwye beweging – selfs in Suid Afrika – wat bestaan uit opgevoede, maar nie noodwendig gegradueerde nie, middelklas wit mans en vrouens wat met afgryse toekyk hoe hulle ras, kultuur en lewenswyse afgebreek word, hoe hulle skielik as die grootste euwel in die geskiedenis van die mensdom afgemaak word en pa moet staan vir elke wandaad van ander etniese groepe en rasse terwyl hulle stil moet bly oor duidelike probleme met die huidige Zeitgeist.

    Binne die range van die groepe is daar intellektuele denkers, mediapersoonlikhede, vermaaklikheidspersoonlikhede, skrywers, sakelui, akademici, wetenskaplikes en ongelukkig ‘n paar verdwaalde “Stormfags”. Elkeen het ‘n gesamentlike doelstelling waarna toe beweeg word sonder sentrale beheer.

    Dit is uniek in die geskiedenis van enige filosofiese/ideologiese/politieke beweging – daar is geen leiers nie, of almal kan leiers wees.

    Soos ek hierbo vermeld het bestaan die AltRight uit ‘n groot groep verskillende filosofiese skole maar daar is oorvleuelende idees wat die verskillende groepe in staat stel om saam te werk. Wat is hierdie idees, waaraan onderwerp die AltRight homself as daar geen sentrale tema is om leiding te gee nie?

    Eenvoudig: Gelykheid is ‘n hersenskim wat slegs kan oorleef in die delusie wat deur Sosialisme/Marxisme geskep word. Mense verskil vanaf geboorte in intelligensie, vermoë, karakter, durf en dit lei uiteindelik tot die mate van sukses wat ‘n mens beleef. Indien jy meer suksesvol wil wees as wat bg jou toelaat sal jy soveel harder daarvoor moet werk.

    Hiërargie is noodsaaklik – daarsonder kan meriete nie as maatstaf gebruik word nie en sal die samelewing uiteindelik ontaard in die orgie van nihilisme wat ons nou aanskou waar ‘n Kakistokrasie – en uiteindelike verval van ons samelewing – die enigste logiese uiteinde kan wees.

    Die geslagte verskil – mans en vrouens verskil natuurlik. Hierdie verskille is deur duisende jare van ontwikkeling verfyn. Hierdeur het mans en vroue verskillende kenmerke en vermoë wat gemik is op ‘n veilige en gesonde samelewing waar elkeen sy unieke rol vertolk en waardeur die spesie kan oorleef. Feminisme en die seksuele rewolusie, deur die afbreek van heteroseksuele monogamie, het rampspoedige gevolge ingehou vir die geslagte en die verhoudings tussen die twee.

    Daar is slegs twee geslagte en een seksuele oriëntering – die res is nonsens wat die delusies van ‘n geestesieke en losbandige minderheid voed.

    Moraliteit is belangrik en afwykende ontaarding bestaan – maak nie saak hoe daar gepoog word om die abnormale as normaal te laat herklassifiseer nie, dit maak geen verskil dat dit verkeerd en onnatuurlik is nie. Die rand van die afgrond is bereik met homoseksualiteit wat deur die hoofstroom as normaal en natuurlik aanvaar is. Hierna was geen taboe meer onbereikbaar nie en ons sien dat daar tans gepoog word om pedofilie as normaal, natuurlik en aanvaarbaar te maak. Wat is volgende? Bestialiteit? Nekrofilie?

    Alle kulture is nie gelyk nie en ons is onder geen verpligting om ander se kulture as gelyk aan ons eie te aanvaar nie. Verskillende etniese groepe het vinniger ontwikkel as ander en daar is geen rede om ‘n kultuur wat nooit verby die steentydperk ontwikkel het nie, gelyk te stel aan die Europese of Oosterse kulture nie. Ons erken dat Oosterse kulture duisende jare voor ons eie ontwikkel het en dat die gelykstelling van ons Europese kultuur aan Oosterse kultuur ‘n klap in die gesig is van die Oosterlinge wat hulle kultuur help ontwikkel het.

    Die mens is nie inherent goed nie maar inherent sleg. Dit is deur persoonlike ontwikkeling, moeite en harde werk dat die mens homself verbeter.

    Daar is meer om voor te lewe as leë materialisme.

    Vryheid is ‘n verantwoordelikheid en nie ‘n reg nie. Die vryheid van te veel onbevoegde mense om verkeerde besluite te neem is rampspoedig vir die vryheid van deugsame en verantwoordelike lede van die samelewing.

    As ons ‘n demokratiese samelewing moet wees moet die vryheid om daaraan deel te neem ingeperk word. Universele demokrasie is ‘n ramp waar die onbevoegde lui massas die produktiewe minderheid onderwerp aan hulle wil.

    Die wit ras is belangrik en is onder beleg. Die linkse leer van rasbeheptheid ten gunste van nie-blankes alleenlik, die produk van dekolonisasie en die oorwinning van die egalitariese oor nasionalisme na die Tweede Wêreldoorlog, moet verwerp word en wittes moet beheer terugneem om hulle eie sake te bestuur.

    ‘n Bestel waar wittes nie toegelaat word om kollektiewe belange te hê nie, maar elke ander etniese en rasse groep word wel toegelaat, is eenvoudig nie aanvaarbaar nie.

    Beskawing is kosbaar. Dit het duisende jare se ontwikkeling geneem om ons beskawing te kry waar hy is, die verwerping daarvan ten gunste van ‘n beskawing, of die gelykstelling daaraan, wat nooit die wiel kon ontwikkel nie is verfoeilik.

    Ras en etnisiteit is ‘n realiteit. Dit is gegrond in wetenskap en empiriese waarneming. Dit is nie ‘n sosiale konstruk nie. Vlakke van beskawing, kultuur en morele waardes bepaal sukses.

    Die AltRight sal saam met ander rasse en/of etniese groepe werk indien ‘n gemeenskaplike doelwit nagestreef word, maar sal nooit ander groepe insluit binne die beweging self nie.

    Die onderdrukking van een groep deur ‘n ander is iets waaraan alle ras en etniese groepe in die geskiedenis op een of ander stadium deelgeneem het. Om wittes alleen verantwoordelik te maak is ‘n bedrogspul. “Wit skuld” en “wit bevoorregting” is intellektueel, moreel en eties oneerlik en moet verwerp word met die nodige minagting wat dit verdien.

    In ‘n Suid-Afrikaanse konteks beteken dit dat “Apartheidskuld” verwerp moet word want niemand hou die Zoeloe verantwoordelik vir die Mfecane nie, niemand hou die ANC/SAKP verantwoordelik vir die “People’s War” nie en daar is definitief niemand wat die Britse Koninkryk verantwoordelik hou vir die Tweede Vryheidsoorlog en die konsentrasiekampe nie.

    Die Joodse geskiedenis van 3000 jaar se oorlewing moet vir alle praktiese doeleindes oop wees vir bespreking aangesien hulle dit doen vir die oorlewing van hulle stam. Dit sluit vanselfsprekend die invloed wat Jode op die Westerse beskawing uitoefen in.

    Die AltRight verwerp alle non audi alteram partum argumente en ad hominem uitdrukkings wat ten doel het om wittes verdag te maak, om patologiese altruïsme onder wittes te laat floreer of om debat te smoor. Die mees betekenislose skelwoorde soos “rassis”, “seksis”, “homofobie”, “islamofobie” en “anti-semiet” maar ook hope ander “kwetsende” woorde word hierby ingesluit.

    Die AltRight verwerp politieke korrektheid in sy totaliteit. Politieke korrektheid (PK) is ontwerp om gesonde debat te smoor en die bestaande narratief te beskerm. Dit is outoritêr en verskil geensins van die taal wat voorheen deur Marxisme, Leninisme, Trotskyisme, Fanonisme en Maoïsme afgedwing is nie.

    Omdat die AltRight werksaam is in die kuberruim beteken dit dat die leksikon ook vreemd voorkom. Hierdie woordeskat dui op baie spesifieke konsepte binne die AltRight-beweging. Ek sluit ‘n kort lys van die mees algemene terme in, in die hoop dat van die lesers wat wil aansluit by die beweging, nie te vreemd voel nie of dat ‘n ondernemende siel vir ons Afrikaanse neologismes van hierdie woorde kan uitdink.

    Cuck
    In terme van die woordeboek definisie sou hierdie beteken ‘n wit man wat toekyk terwyl sy vrou gemeenskap het met ‘n nie-blanke sonder om beswaar aan te teken of op te tree om sy waardigheid te beskerm. Vir die AltRight beteken dit enige wit persoon wat nie-blankes bevoordeel ten koste van sy eie ras, etnisiteit, kultuur en beskawing.

    Kennelik ly hierdie persone aan patologiese altruïsme en/of ethnomasochisme en het ‘n obsessie met die eie ek (die EGO) en gee nie ‘n duit om oor die toekoms van hulle nasate nie.

    Cuckservative
    Soos bogenoemde maar doen homself/haarself voor as konserwatief, want ware hoofstroomkonserwatiewes sal hul verantwoordelikhede teenoor hulle kultuur, taal, ras en etnisiteit nie versaak nie. Dink aan FW de Klerk, Roelf Meyer, die VF+ of die oorblywende Broeders by Afriforum en Solidariteit. Die woord is ontwerp om skok en skaamte te veroorsaak.

    Normie
    ‘n Normale persoon wat salig onbewus is van die kultuuroorlog wat rondom hom/haar woed. Só ‘n persoon is verslaaf aan (sekere) beroepspolitici of politieke partye, die heersende Zeitgeist, en elke woord glo wat die hoofstroommedia aan hom opdis om maklik aan indoktrinasie en propaganda blootgestel te word. Hulle is oningelig en wíl nie ingelig word nie. Normies raak kwaad en gooi groente na die TV toe wanneer die jongste en vogue morele uitbarsting sy draai op die skerm maak maar los dit daar sodat dit nie sy huidige bestaan omkrap nie.

    Red Pill
    Wanneer ‘n Normie blootgestel word aan die realiteit van die onsmaaklike wêreld rondom hom en hy/sy self begin vrae vra oor die status quo en wanneer die narratief bevraagteken word. Meeste Normies sal liewers dood neerslaan as om die Rooi Pil te neem. Dink aan Neo in The Matrix – Red Pill is waarheid, Blue Pill is om voort te gaan asof niks aan die gebeur is nie.

    Black Pill
    Kom gewoonlik na die Red Pill. Dit gebeur wanneer die persoon vrae begin vra en agterkom dat die narratief een kolossale leuen is, dat alles wat hy dink hy weet, vals is. Dit is op hierdie punt dat die persoon waarlik deel van die AltRight word. Hy/sy doen hulle eie navorsing, lees baie meer en gebruik sy eie intelligensie om sy besluite te maak en sy lewensuitkyk daarvolgens aan te pas. Neem ook aktief deel aan AltRight aktiwiteite.

    Shitlording
    ‘n AltRight-aktiwiteit op sosiale media en op hoofstroommedia se kommentaarafdelings waarin skok-en-bewonderingstaktiek gebruik word om mense hardhandig tot ander insigte te bring, om liberale dwepers te koggel of om die absurditeit en huigelary van liberale/hoofstroom “konserwatiewe” aan die groot klok te hang. Dit is baie effektief en het daartoe aanleiding gegee dat die AltRight ‘n beweging geword het waarmee rekening gehou moet word.

    Hierdie aksies het direk daartoe gelei dat Hillary Clinton van die AltRight notisie moes neem en daardeur ons by name te noem.

    Baie AltRight-lede het ‘n talent hiervoor en dit is al wat hulle doen wat op sy beurt weer aanleiding gee dat die AltRight die reputasie “verdien” het van internettrolle en die mite geskep het van onvolwasse dom kinders wat in hulle ma se kelder woon. Ons lag hierdie af as banaal en sê dis vir die “lulz” (pret).

    The Cathedral
    Die bestaande establishment. In Amerika is daar geen werklike verskil tussen Demokrate en Republikeine nie. Hulle albei dien dieselfde meester en is maar eenvoudig net twee kante van dieselfde munt. So ook in Suid Afrika waar daar geen regte verskil tussen die DA en ANC is nie. Die beleidsrigtings van alle politieke partye is inklusief (gelykstelling van alle rasse en etnisiteit) en Polities Korrek.

    Narratief
    Die “aanvaarbare” manier van die wêreld sien en daaroor praat hetsy dit te doen het met rasseverhoudinge, seksuele oriëntasie, die gelykstelling van kulture, morele relatiwiteit of geskiedkundige revisionisme om die huidige Zeitgeist te pas. Baie nou verwant aan PK en word deur Sosialiste en Marxiste voorgeskryf.

    Chan Island

    Verwys na die 8chan /pol/ (politieke) internetbesprekingsbord. Dit is hier waar die AltRight hulle aksie beplan en uitvoering daaraan gee. Dit is heeltemal anoniem.

    Liberale het die wêreld so verfonkfaai dat die AltRight hier is om te bly. Trump se verkiesing sal slegs die eerste veldslag wees in ‘n lang en uitgebreide kultuuroorlog. Om te glo die AltRight sal sommer net verdwyn na 8 November, is iets waarop linkses hoop maar wat nie gaan gebeur nie.

    Ons kan nie. Vir 70 jaar het Sosialisme/Marxisme vrye teuels gehad om die wêreld te verander in ‘n vreemde en sieldodende plek wat op die randjie van ‘n afgrond staan. Die AltRight sal alles in hulle vermoë doen om beskawing in ‘n nuwe rigting te lei. Daar gaan baie ongevalle wees, baie politici gaan nog toesprake lewer wat presies soos die van Hillary Clinton klink, baie “burgerregte-organisasies” gaan aanvoer ons is “randeierfigure”. Feit van die saak is, hulle is verantwoordelik vir ons skepping en noudat ons hier is gaan die poppe dans en ons gaan pret hê terwyl ons dit doen.

    Om self ondersoek in te stel na die AltRight-verskynsel volg gerus vir Dan Roodt op American Rennaisance (Amren), The Right Stuff, Breitbart, Vox Popoli, Vox Day, Amerika Blog, Danger and Play, Alternative Right Blog, Virginia Dare, Red Ice Radio, American Thinker, Radix Journal, National Policy Institute en nog baie meer.

  • Götterdämmerung: ‘Black Lives Matter’ in Suid-Afrika?

    Götterdämmerung: ‘Black Lives Matter’ in Suid-Afrika?

    Baie is al gesê en geskryf oor die voortslepende gewelddadige optrede van verskeie studente- en werknemerorganisasies op die kampusse van tersiêre inrigtings in Suid Afrika. Daadwerklik is daar weinig van hierdie instansies wat dit kon vryspring en word onderrig en aktiwiteite lamgelê deur ontwrigtende en gewelddadige optrede. Dit blyk ook hoofsaaklik voorheen “wit” inrigtings te wees wat geteiken word, hoewel die Mafikengkampus van die Noordwes-universiteit gisteraand afgebrand is. Dat liberale inrigtings wat voorheen die blanke ondergrawe het dieselfde mate van ontwrigting ervaar, kan dalk leedvermaak tot gevolg hê.

    #RhodesMustFall, #FeesMustFall, #AfrikaansMustFall, #OpenStellenbosch, #ReformPUK – daar blyk ‘n nuwe slagspreuk te wees elke liewe dag wat een of ander grief van die studente en werkers uitdruk. Daar is blykbaar net twee konstante aan die hele sage – die EFF se betrokkenheid (en bereidwilligheid om militante, radikale en gewelddadige taktiek te gebruik om hulle sin te kry) en dat die lys van griewe heel moontlik oneindig is. Daar is ‘n totale afwesigheid van leierskap – bestuurslui in die akademie blyk ruggraatloos en ontman te wees. Dit is wat gebeur wanneer mense ‘n afgesonderde en bysiende lewe handhaaf terwyl hulle agter die mure van akademiese instellings verskans is. Die Minister van Hoër Onderwys is blykbaar AWOL en daar blyk ‘n goeie rede te wees daarvoor – maar nie die rede wat ‘n redelike mens sou verwag nie.

    Dít waaroor geween word, blyk op die oog af die kruks uit te maak van die betrokkenes se griewe. Wat mense, met die uitsondering van ‘n klein groepie, nie kan (of wil) waarneem nie is dat die griewe maar net ‘n piepklein gedeelte van die totale strategie uitmaak en dat die mikpunt iets heel anders is. Die Amerikaners het ‘n goeie beskrywing hiervoor: “end game”.

    Om ‘n aanduiding te kry van wat hierdie spesifieke mikpunt is, verwys ek na Praag se berig aangaande Reform Puk se brief aan rugbyafrigters verbonde aan die Noordwes-universiteit. Die volgende woorde is prominent op die briefhoof “Black Lives Matter: No Varsity Cup Rugby on Monday”. Hierin lê die sleutel. Hoe afgesonder ons ons ook al ag hier aan die suidpunt van Afrika, gebeur dinge nie in ‘n lugleegte nie. Daar is ‘n duidelike verbintenis tussen wat aan die gebeur is in Suid-Afrika en gebeure in die VSA met die Black Lives Matter-beweging.

    Om die verbintenis te verstaan, moet ons begin by die Black Lives Matter (BLM)-beweging in die VSA. Soos ek reeds hier aangedui het, is alles nie pluis met hierdie beweging nie en word baie verskans agter verskeie skynorganisasies. Die volle ontleding en blootstelling van BLM kan hier gelees word. Kortom, het James Simpson, Trevor Loudon en Matthew Vadum die netwerk agter Black Lives Matter oopgekrap en ‘n addernes van kommuniste, linkse radikale en “queer” aktiviste ontbloot. Deur eenvoudig die geld te volg, is die skakels tussen verskeie organisasies vasgestel.

    Kenmerkend speel geld en mag ‘n prominente rol in alles wat gedoen en gesê word – veral waar kommuniste betrokke is.

    Die oorsprong van Black Lives Matter (BLM) kan so ver as die hippie-tydvak en radikale aktiviste – onder andere die Weather Underground en die Black Panthers – van die 1960’s teruggespoor word. Noel Ignatiev (‘n lid van die radikale Provisional Organizing Committee to Reconstitute the Marxist-Leninist Communist Party (POC) binne die Amerikaanse Kommunisteparty (CPUSA)) is die argitek van verskeie van die slagspreuke en ideologiese tameletjies wat vandag gebruik word deur BLM. “Wit bevoorregting” (White Privilege) en die standpunt dat swartes nie rassisties kan wees nie is sekerlik van die mees wyd verspreide en irriterendste van almal. (Hierin het Ignatiev en Franz Fanon ‘n gelyke sienswyse gehad). Hierdie stellings het geen grondigheid nie maar word vir soetkoek opgevreet deur die lumpenproletariaat.

    Figure agter BLM (sien skakel bo) verteenwoordig verskeie organisasies wat sosialisme en/of kommunisme bevorder. Die Freedom Road Socialist Organisation (FRSO), Democratic Socialist America (DSA), Committees of Correspondence for Democracy and Socialism (CCDS), ACORN (wat na verkiesingsbedrog vir Obama in 2008 en 2012 herdoop is onder verskeie name), ACLU en Southern Poverty Law Centre (SPLC) en andere is almal organisasies wat deel vorm van ‘n netwerk wat ten doel het om die Amerikaanse stelsel omver te werp en te vervang met ‘n marxisties-leninistiese tipe kommunisme. Hierdie organisasies speel beide organiseerder en fasiliteerder vir BLM wat die vloei van geld vanaf donateurs beheer. Hierdie donateurs is ‘n diverse klomp – vanaf George Soros tot en met Ford en Kellogs. Soos my goeie vriend ToxiNews al verskeie keer uitgewys het, is daar weinig verskil in die doelstellinge van kommuniste en superkapitaliste (crony capitalists) . Die sienswyse van BLM is om soveel chaos en anargie te bewerkstellig dat ‘n uiteindelike burgeroorlog onafwendbaar is. Om hierdie doel te bereik, word verskeie gewelddadige organisasies o.a. The New Black Panthers en Nation of Islam ingespan.

    Die hele BLM is ‘n netwerk van frontorganisasies wat direk teruglei na die POC binne die CPUSA.

    Die taktiek wat gebruik word deur BLM, veral by Amerikaanse tersiêre inrigtings, is in pas met dít wat hier by ons aan’t gebeur is. Dis pynlik om te erken, maar slegs Leopold Scholtz het hierdie ooreenkoms waargeneem terwyl die bestuur van universiteite, joernaliste en die algemene publiek blind is daarvoor. Scholtz het selfs melding gemaak van die belaglike eise wat aan Amerikaanse universiteite gestel word. Hierdie eise het ‘n vreemde ooreenkoms met die eise wat die verskeie protesgroepe tans in Suid-Afrika aan ons universiteite rig.

    Hoe is die twee dan verbind siende dat dit op verskillende kontinente plaasvind? Eenvoudig – volg die geld en vloei van idees rondom eise, griewe en taktiek.

    Dit is ‘n bewese feit dat die leier van The New Black Panthers nie te lank gelede ‘n draai in Suid-Afrika gemaak het om met die EFF te “vergader”. Geen wonder dat die EFF hulle strukture op militaristiese titels grond nie – net soos die Black Panthers. ‘n Bietjie krapwerk op die internet het ook verskeie skakels tussen “Swartmag”-webwerwe en die EFF ontbloot. Die EFF se “Student Command” maak pertinent melding van Assata Shakur (regte naam JoAnna Deborah Byron en voortvlugtige terroris wat ‘n heenkome in Suid Afrika gevind het – nogal in Johannesburg se noordelike voorstede) op hulle Bakkiesblad. Dit is nie verregaande om aan te neem dat daar konstante kommunikasie is tussen Byron, die EFF en BLM in Amerika nie. Voeg by sulke karakters soos Kylie Thomas, Dan Corder, Marcus Hegewisch en Liev Schreiber (en andere) en jy het die breintrust agter ons eie weergawe van BLM – met presies dieselfde oogmerke. Daar is selfs ‘n baie dun verhouding, maar ‘n verhouding al dan nie, tussen al hierdie “Must Fall”-optredes en ‘n Johannesburgse rolprentvervaardiger en sy “lewensmaat”. Op hierdie huidige stadium verswyg ek die name totdat daar meer klinkklare bewyse is. Ek sal onteenseglik graag wil weet hoeveel inset het hierdie persoon in die Luister-“dokumentêr” gehad wat Open Stellenbosch onder die publiek se aandag gebring het.

    Julius Malema se onlangse besoek aan die Kwien se Eiland waar hy vergader het met superkapitaliste het befondsing gewaarborg. Moet ook nie vergeet van George Soros se Open Society Foundation nie. Hier het ons met dieselfde tipe donateur te make as waaroor die BLM-organisasie beskiks en dit is weereens nie vergesog om ʼn aanname te maak dat presies dieselfde sakeondernemings daarby betrokke is om geld te voorsien vir ons komende rewolusie nie.

    Die ooreenkoms met die status quo in Suid Afrika is egter nie beperk tot universiteite nie, hoewel dit die ooglopendste is. Betogings en optogte – met die gepaardgaande geweld en verwoesting – toon ‘n aansienlike ooreenkoms met BLM-protes in Amerika met dieselfde minagting van wet en orde.

    Gaan die huidige vlaag van protes rêrig oor Afrikaans, inklusiwiteit, “wit bevoorregting” en antikolonialisme? Is dit rêrig oor dienslewering? Miskien vir die stommerik wat opgesweep word in die harwar en opwinding van die “nuwe struggle”. Bruikbare idiote is volop.

    Lenin self self gesê:

    “We must be ready to employ trickery, deceit, law-breaking, withholding and concealing truth… We can and must write in a language which sows among the masses hate, revulsion, and scorn toward those who disagree with us.”

    Maar die groter prentjie dui op iets baie gevaarliker. Net soos met BLM, is die oogmerk ‘n bloedige burgeroorlog wat dan sal lei tot die instelling van ‘n utopiese kommunistiese staat.

    Kort gestel, beteken dit eenvoudig dat die dae van vrede bewaar, agteroor buig en die olyftak uithou verby is. Dit is ‘n luukse wat hierdie land nie kan bekostig nie. Kommuniste sien dit as ‘n swakheid wat tot hulle voordeel uitgebuit moet word. Die resultaat daarvan om kommuniste te paai, is eenvoudig – die onafwendbare word net uitgestel terwyl hulle agitators sterker word. Indien daar gekrap word – en daar word gekrap – sal dieselfde netwerk van frontorganisasies na vore kom wat sal teruglei na die SAKP. Geen wonder dan dat Blade Nzimande skitter in sy afwesigheid nie.

    Ons moet nie net veg, hand en tand, vir die behoud van Afrikaans en ons kultuur nie, maar ook vir die behoud van ons land. Wanneer kommuniste Lenin se ideologie in die praktyk toepas, beteken dit net ellende vir almal. Selfs diegene wat te dom is om dit te besef.

  • Malleus maleficarum herskryf: van heksery tot rassisme

    Deur die eeue heen het die mensdom ʼn geneigdheid getoon om onderworpe te wees aan massahisterie. Graag onderskei ons ons van die diereryk deur ons vermoë om logies te redeneer en dit onafhanklik van ander te kan doen. Eufemisties en arrogant eien ons ons die alleenreg op die vermoë om individueel te kan dink op. Individualisme is ons definiërende kenmerk. Tog is die tropmentaliteit nooit ver van ons gemeenskaplike denkwyse nie en word ons maklik daardeur meegesleur.

    Hierdie tropmentaliteit kan nie beter verwoord word as die Spaanse Inkwisisie en die Malleus Maleficarum van die Middeleeue nie. Hekse, ketters en ongelowiges (nie-Christene) is meedoënloos gejag, gemartel, verhoor en op brandstapels verbrand. Europese volksoorleweringe is gevul met staaltjies van hekse wat allerlei soorte bose dade pleeg. Selfs die aantyging dat ʼn persoon hom of haar skuldig maak aan heksery was om – op sy minste – ʼn sosiale uitgeworpene te word wat verneder word op elke moontlike wyse by elke moontlike geleentheid. Dít is as die arme drommel gelukkig was. Indien nie, was sy of haar voorland martelmasjinerie en die brandstapel. Die histerie rondom heksery het sover gegaan dat groepe mense vanaf die staanspoor sommer erken het dat hulle hul aan hierdie misdaad skuldig gemaak het in die hoop om vergifnis en die pyniging wat met ondervraging gepaard gegaan het, vry te spring.

    Gegewe dat hierdie heksejagte vir drie volle eeue geduur het vanaf die 1400’s tot 1700’s, is daar sekerlik min beter voorbeelde van die histeriese tropmentaliteit in die menslike geskiedenis. Die bekendste van sulke hoogs emosionele heksejagte is sekerlik die Salem-hekseverhore (Massachusetts Februarie 1692 – Mei 1693) waarby ten minste 28 mense tot die dood gevonnis is. Histories kan hierdie verhore teruggevoer word na onopgeloste konflik binne die gemeenskap, swak leierskap en individue wat politieke gewin en materiële munt daaruit geslaan het.

    Vandag is ons ingelig en nugter genoeg om te weet dat heksery ʼn bogstorie is. Towerkuns is iets wat verhoogkunstenaars doen om die skare mee te amuseer. Die belaglikheid van die heksejagte kan, vir my, nie beter uitgebeeld word as in die film “Monty Python and the Holy Grail” nie. Hier kan die leser ʼn gepaste gedeelte daarvan sien.

    Die Malleus Maleficarum is in 1487 neergepen deur Heinrich Kramer, ʼn Katolieke priester. Dit is vir alle praktiese doeleindes ʼn handleiding oor hoe om op hekse jag te maak, hoe om hekse te identifiseer, hoe om hulle te ondervra, hoe om hulle te martel om bekentenisse te verkry en hoe om hulle uiteindelik die ewigheid in te stuur. Gesante van die Kerk (die Rooms Katolieke Kerk, die Protestante se hervorming het eers vanaf 1517 begin plaasvind ) was ook van die hoogs geleerde individue van hulle tyd. Die vermoë om te lees en te skryf was grootliks beperk tot hierdie gesante – dit sluit die adelstand uit – en weinig van die lyfeienes kon lees en skryf.

    Die mensdom verheerlik nog altyd diegene wat oor kennis beskik en ons sien hierdie individue as “verlig” en “progressief” juis omdat hulle die wêreld sien vanuit ʼn oogpunt wat nie aan die lyfeiene beskikbaar is nie, juis omdat hulle oor kennis beskik waaroor die gewone man nie beskik nie. Ons ken aan geleerdes magte toe om te lei en te besluit wat goed en reg vir ons as gemeenskap is. Die strewe na geleerdheid en kennis is een van die mensdom se suiwerste motiewe.

    Die heksejagte, die Spaanse, Portugese en Roomse Inkwisisies en die Salem-hekseverhore is almal ontketen deur hierdie “progressiewe en verligte” intellektuele en geleerdes. Deur die gewone man, die lyfeiene, die boer, die bakker, die slagter op te sweep in ʼn massahisterie van waansin om hekse te jag is een van die grootste voorbeelde van die mens se voorliefde vir die tropmentaliteit en ʼn klad op die terme “geleerd” en “intellektueel”. Dit is natuurlik beduidend dat die Rooms Katolieke Kerk se eie verbintenis en gebruike wat spruit uit heidense heksery en afgodaanbidding heeltemal geïgnoreer is en dit het die Protestante se hervorming geneem om dié feit aan die groot klok te hang.

    Gelukkig het rede en goeie verstand – asook die Protestante se hervorming en gevolglike evolusie van die Christene se geloof – ʼn einde gebring aan hierdie drakoniese klugspul (en een van die donkerste periodes in die Christendom se geskiedenis) en het die mensdom voortbeweeg na ʼn meer humanitêre samelewing waar logika en rede die kensketsende eienskappe is.

    Of het ons? Het ons uit die geskiedenisboeke geleer of is ons nog onderworpe aan dieselfde tropmentaliteit en massahisterie wat tot die Inkwisisies en heksejagte gelei het?

    Iemand vertel aan my dat moderne intellektuele se grootste karakterkenmerk is dat hulle vir ure kan sit en filosofeer en debatteer oor die sosiale impak van ʼn hondedrol in die sand. Daar is niks intellektueels of geleerds aan hulle nie; hulle is slegs naïef in hulle nihilisme en verwaandheid. Hubris is die enigste woord wat hulle kan beskryf.

    In ons postmodernistiese samelewing het die geleerdes en intellektuele die Malleus Maleficarum slegs herskryf – terwyl groot dele van die Westerse samelewing in ʼn toestand van morele verontwaardiging en massahisterie agterna hardloop. Dieselfde “verligte en progressiewe” mentaliteit is die dryfveer agter hierdie herskrywing.

    Vervang die Kerk se dogma met multikulturele dogma. Vervang die aanklag van heksery met die aanklag van “rassisme”. Vervang hekse, ketters en nie-gelowiges met “rassiste”, nie-konformiste en diegene wat tot volkseie ontwikkeling verbind is. Vervang die gesante van die Kerk met ekstreemlinkse akademici, “meningsvormers”, demagoë en joernaliste. Vervang dié wat mense beskuldig het van heksery met geïndoktrineerde skape wat voortdurend aanstoot neem om ander se onthalwe. Vervang die ontkenning van die Kerk se eie heidense wortels met die ontkenning van rasgebaseerde ideologie in RA en SEB wat eie aan hierdie nuwe multikulturele dogma is. Vervang die brandstapel met die konstante aanvalle op die persoon, die ontneming van sy inkomste, waar sy persoonlike lewe geruïneer word, waar hy “verban” word en ʼn etiket van “randeier” moet dra… en binnekort, indien die “progressiewe en verligte” arbiters van reg en verkeerd hulle sin kry, tronkstraf vir die oortreder. Laastens, vervang die bekentenisse van heksery met bekentenisse van rassisme in die vorm van witskuld en patologiese altruïsme.

    Nie veel het dan verander nie – ons bevind ons slegs in ʼn meer moderne weergawe van die Middeleeue waar almal kan lees en skryf maar nog steeds so onnosel is soos ons voorsate van die 14e eeu. Vir al die geleerdheid wat ons versamel het, kon ons netsowel vir dae aaneen staar na die wollerige gemors wat in ons naeltjies versamel.

    Die verskil is egter dat die Malleus Maleficarum konkrete riglyne gegee het van wat heksery behels en hoe om ʼn heks te identifiseer. Dieselfde kan egter nie van die aanklag van “rassisme” gesê word nie. Dit is ʼn amorfisme, ʼn begrip met geen definisie of kenmerke nie, ʼn “iets” wat op ʼn daaglikse basis verander soos die aanklaers goeddink om hulle skewe wêreldbeeld en narratiewe te pas. Dit is ʼn kruk vir sekeres om te gebruik om hulle konstante mislukkings weg te verduidelik, om onopgeloste geskille en konflik in hulle guns te besleg, om aan te dring op iets wat hulle nie verdien het nie en om politieke munt te slaan – nes met die Salem-hekseverhore 300 jaar gelede.

    Soos die aanklag van heksery kan enigiemand aangekla word vir die misdaad van rassisme selfs as jy jou altyd aan die kant van die beskuldigers bevind het. Vra maar vir Zelda la Grange, Max du Preez en Gareth Cliff om ʼn paar voorbeelde te noem waar die krokodil diegene wat hom gepaai deur hom te voer, verslind het.

    Sal geskiedenis ons ten goede wees ʼn verdere 300 jaar in die toekoms in of sal hierdie nuwe heksejag, soos dié van die Middeleeue, ʼn klad op die mensdom se naam wees? Gaan toekomstige historici in ʼn terugblik op vandag na ons kyk en dink: “Wat was fout met hulle, het hulle niks geleer nie?”

  • Watter Afrikanerbeeld?

    Die afgelope week was gevul met die absurde holdersteboldergebeure wat ‘n kenmerk geword het van die land wat eens bekend gestaan het as die “Republiek van Suid-Afrika”. ‘n Land wat gesien is as ‘n stabiele en wetsgehoorsame staat gemeet aan die hand van wat die res van Afrika kon vermag. ’n Land waar etiket, die navolg van reëls en beleefde debat die botoon gevier het, nieteenstaande die gehate apartheidsbeleid. Selfs mev. Helen Suzman het erken dat sy altyd goed in die “apartheidsparlement” behandel is. Die affêre wat hom tans in die land afspeel, vergelyk goed met ‘n stuk absurde teater uit die pen Ionesco of veral Alfred Jarry, skrywer van Koning Ubu.

    Metropolitan Opera New Production Premiere of Richard Wagner's "Voorbeelde hiervan is: Die chaos in die Parlement en die Gautengse Wetgewer, die EFF se kongresse in die Noord-Kaap en Gauteng wat ontaard het in straatgevegte, Tshwane wat R15 miljoen se belastinggeld aan kitskos bestee, die ANC Yoof Leek wat relevant probeer voorkom deur Steve Hofmyer aan te val met populistiese kwaksalwery dmv ‘n verwarde witvelletjie lank nadat die stof gaan lê het, Naspers en ander media se gekwetter oor “wit rassisme” terwyl hulle sirkulasiesyfers in vryval verkeer en dan natuurlik Afriforum wat ‘n salvo gevuur het in die rigting van Dan Roodt en “randeier”-Afrikaners wat onder andere “die beeld van Afrikaners in die buiteland skade aanrig”.

    Dit is hierdie laaste gebeurtenis wat my aan die dink gesit het oor die Afrikaner se beeld in die buiteland. Blykbaar het ons “leiers” (al is hulle werknemers en aangesteldes van ‘n organisasie) niks geleer uit die geskiedenis nie – of hulle is heeletmal werklikheidsvreemd.

    As hulle iets geweet het, sou hulle benadering en gedagtegang rondom hierdie buitelandse beeldgedoente heel anders daar uitgesien het. Ná jare van negatiewe persepsies wat deur elke Jan Rap en sy maat oor Afrikaners geskep is – of hulle nou joernaliste, Progge, anti-apartheidsaktiviste of wat ook al was – is die beeld van Afrikaners in die buiteland maar redelik kisboude.

    Die publiek in die buiteland is nie ‘n opgevoede massa mense wat alles bevraagteken nie. Hulle sal eerder glo wat aan hulle voorgehou word as waarheid, as om self ‘n vinger te verroer om uit te vind wat werklik aan die gebeur is.

    Politici, daarenteen, is soos ‘n weerhaan: draai in die rigting waarin die wind waai. En die wind het jare laas in die rigting van die Afrikaner gewaai! Die media was baie suksesvol met hul gefabriseerde konsensus en dit is in die buiteland se houding jeens Afrikaners te bespeur. Nodeloos om te sê, staan die status quo hulle aan want dit is tot voordeel van die multinasionale maatskappye wat Suid-Afrika sien as ‘n vetgemaakte skaap reg om geslag te word; hou net die onbeholpe kleptokrasie van ‘n Afrika-regering in stand en moet niks daaroor sê nie.

    In my ervarings met buitelanders is dit vir my opvallend dat alle blankes in Suid-Afrika as Afrikaners gesien word – diegene wat nie as Afrikaners gesien word nie, maak deel uit van die Kwien se “expat”-klub wat net tydelik hier vertoef. Om aan hulle te verduidelik – soos ek menigmaal gepoog het – dat die blankes in Suid-Afrika uit verskillende etniese groepe bestaan, is sinneloos.

    Dit is veral waar van die Asiate wat alle blankes sien as “gweilo” en minder as niks kan omgee oor wat die “gweilo” gister of eergister gedoen het of aan watter stam hy behoort nie. ‘n Ruk gelede was ek saam met ‘n groep Suid-Afrikaners in Seoel vir ‘n konferensie. Daar vertel een Koreaan vir my in gebroke Engels dat ons almal dieselfde lyk. Hoe gee die persoon om wat ‘n Afrikaner se beeld is – hulle lyk dan almal dieselfde?

    Hier moet ek nou eers stilstaan by die “beeldskendingtameletjie” soos dit deur Afriforum verwoord is. Hoe is dit moontlik om die beeld te skaad van ‘n etniese groep wat nie in die buiteland geken word nie? Hoe skaad jy ‘n beeld waar die definisie en karaktereienskappe van die etniese groep Afrikaner konstant van beide binne en buite die groep ondergrawe word? Wanneer die Afrikaanse media die begrip “Afrikaanses” in die buiteland bevorder – daardie neologisme van oorlede Jakes Gerwel wat soveel inslag gevind het by Naspers, Russel Botman, Jonathan Jansen, hulle dwepers en by die liberale kliek wat saamkoek in Mellville en Kaapstad se modieuse koffiekroeë?

    Wanneer die media intern die beeld bevorder van Afrikaners wat almal rassistiese, vrouehatende, patriargale, klippies-en-coke-suipende boeppense is wat hulle vrouens en kinders vir die pret slaan terwyl elkeen ‘n 3-liter-Ford Cortina ry en die enjin in die sitkamer opknap op ‘n Saterdagmiddag wanneer hulle vir die Blou Bulle skree?

    Ek meen Brakpan en Danville is dan sinoniem met “Afrikaners”. Dit dien as ‘n gemaklike spotnaam, maak nie saak waar die persoon regtig vandaan is, wat sy taal is en wat sy herkoms is nie. Hoe skaad jy ‘n beeld wanneer ‘n “Afrikaner”-burgerregteorganisasie multi-etnisiteit voorstaan en die etniese groep Afrikaner misken? Dit is mos dan Jakes Gerwel se “Afrikaanses” is dit nie? Hoe skaad jy ‘n beeld wanneer iemand wat juis die definisie en aard van die etniese groep Afrikaner wil beskerm in self-geregverdigde polities korrekte morele uitbarstings tot ketter verklaar word?

    Gesien aan die hand daarvan dat buitelanders nie die verskil tussen ‘n Engelse Suid-Afrikaner, ‘n Italiaanse Suid-Afrikaner, ‘n Portuguese Suid-Afrikaner en ‘n Afrikaner verstaan nie, is dit dan nie logies dat die gedrag van alle blanke Suid-Afrikaners die beeld van die Afrikaner in die buiteland óf poets óf skaad nie? Sekerlik moet Conrad Koch se kru en gekruide taal op ‘n openbare forum soos Twitter – wat regdeur die wereld gesien kan word – ook kwalifiseer daarvoor dat dit die Afrikaner se beeld skaad? Of miskien John Vlismas en Casper de Vries met hulle onverkwiklike gespot met Afrikaners en hulle geloof op sosiale media? Wat van blanke polisiemanne wat saam met ander SAPD-lede die parlement gestorm het ten aanskoue van miljoene TV-kykers? Wat sonder Dan Roodt uit dat hy die Afrikaner se beeld skaad maar geen van hierdie ander nie?

    Dink Afriforum regtig dat Dan Roodt die Afrikanerbeeld skade aangerig het deur ‘n piepklein gerdigeerde TV-segment wat aangebied is deur ‘n persoon met die reputasie van ‘n amusante baksteen maar die knaende gekerm van ‘n Conrad Koch teenoor ‘n baie groter gehoor het niks gedoen nie? Of dat die chaos in die parlement waarby blankes betrokke was en oral in nuusmedia verskyn het – om nie eens te praat van YouTube-kykersgetalle – nie skade berokken het aan die “Afrikaner”-beeld nie?

    Wanneer ons buitelandse beeld, wat nie eens deur die oorgawe en verraad van ‘n hele regering gepoets kon word nie, ‘n kwessie word, dan herinner die hele gedoente my sterk aan die psigotiese gebrabbel van ‘n Weskoppies-inwoner wat aan vervolgingswaan ly.

  • Saul Alinsky, Godwin se wet en Afriforum

    Baie is al geskryf oor die taktiek wat liberale en sosialistiese organisasies gebruik om hulle agendas te bevorder maar geen een enkele geskrif verskaf meer gestalte aan hierdie taktieke as Saul Alinsky se 1971-boek Rules for Radicals: A Pragmatic Primer for Realistic Radicals nie. Dit is 10 hoofstukke van advies oor hoe om ‘n agenda te bevorder ten enige koste en kan maklik verkort word tot 13 eenvoudige reëls wat gevolg kan word deur selfs die naïefste en onkundige van radikale wat ‘n seepkissie iewers uitgesleep het.

    Metropolitan Opera New Production Premiere of Richard Wagner's "Die term radikaal se betekenis is deurspek met woorde soos “fundamenteel, ekstreem en drasties” en is nou verwant aan militansie van enige aard. In 1971 was hierdie twee woorde – radikaal en militansie – verbind aan byvoorbeeld die Weather Underground, Black September, PLO, Symbionese Liberation Army en ‘n horde ander organisasies wat sosialisme en “anti-kultuur” voorgestaan het. In 2014 beteken dit egter dat enige funksionerende moroon met ‘n opinie wat toegang tot die internet het ‘n radikale aktivis kan wees. En dit is waar Alinsky se reëls tot hul reg kom – juis omdat dit so maklik is om te gebruik maar terselfdertyd so moeilik is om die hoof te bied. Slegs indien ‘n deelnemer aan die gesprek vertroud is met Alinsky se reëls kan dit terselfdertyd teen die teenparty aangewend word en sodoende verslaan word. Alinsky se reëls maak ‘n bespotting van wat intelligente en opgevoede mense  as noodsaaklik vir enige debat of ingeligte gesprek ag deur bloot net die noodsaaklike te ignoreer. Rede, logika, feite, geskiedenis, begronding vir ‘n uitgangspunt – alles raak van nul en gener waarde as Alinsky se reëls toegepas word terwyl ad hominems en betekenislose neologismes die botoon voer.

    Enige persoon wat al ooit met ‘n liberaal in gesprek – of debat – getree het, sal weet dat hierdie ‘n definiërende kenmerk van so ‘n gesprek is. Daar is selfs ‘n begrip om die verloop van so ‘n gesprek mee te beskryf – Godwin se wet. Godwin se wet het as kernbegrip dat in enige gesprek met iemand wat Alinsky se reëls toepas dit net ‘n kwessie van tyd is voor woorde soos “rassis, homofoob, islamofoob, seksis, Nazi, ad infinitum” geslinger word as aanklag teen die opponent se veronderstelde skynheiligheid. (Ander terme wat parallel met Godwin se wet beweeg is reductio ad Hitlerum, reductio ad absurdum en non audi alteram partem). Of daardie veronderstellings enige rugbare steun geniet is nie ter sprake nie – die beskuldiging is gemaak en die teenparty in die gesprek moet liefs maar die aftog blaas aangesien die party wat die veronderstelling maak die morele hoëgrond beset.

    Godwin se wet hou nou verband met die voorkoms van politieke korrektheid en in die hedendaagse samelewing is daar geen gesprek waar politieke korrektheid nie die gesonde verwisseling van idees en standpunte versmoor nie. Dit is tirannie wat in goeie maniere geklee word.

    Gegewe dat Alinsky ‘n sosialistiese gemeenskapsorganiseerder was (en volgens oorvertelling ‘n groot gees in die lewens van beide Barack Obama en Hillary Clinton was, asook ‘n tydgenoot van Bill Ayers) is dit dan geen verrassing dat sy taktiek deur soortgelykes aangegryp is en in die praktyk toegepas word nie. Maar deesdae is die gebruik van Alinsky se reëls nie meer beperk tot ver-linkse organisasies nie – selfs organisasies wat voorheen as behoudend of konserwatief beskou is, het Alinsky se reëls aangegryp deurdat hulle geswig het voor politieke korrektheid.

    En so was dit ook die geval die afgelope week waartydens Afriforum vir Dan Roodt – en “randeier”-Afrikaners – voor die bus ingegooi het na aanleiding van ‘n vier jaar oue TV-insetsel op die ver-linkse Daily Show met die beskuldiging van “rassisme”. Liefs sal ek nie raak aan die meriete van hierdie insetsel of sy waarde nie – daar is meer as genoeg hieroor geskryf en gepraat die afgelope paar dae.

    Wat wel interessant is, is dat Afriforum gebruik gemaak het van Alinsky se reëls in hul poging om polities korrek en toeganklik vir alle rasse te wees terwyl hulle poog om nie hulle kernbasis van Afrikaners te vervreem nie. Was hulle bewus daarvan dat hulle ‘n sosialistiese begrip gebruik om ‘n mede-Afrikaner en -aktivis te marginaliseer? Sonder twyfel. Niks gebeur by Afriforum voordat daar nie ‘n rits vergaderings was om op benaderings te besluit nie. Hierdie hele fiasko is duidelik nie die resultaat van ‘n besluit wat op die ingewing van die oomblik geneem is nie.

    Reël 13: “Pick the target, freeze it, personalize it, and polarize it”

    En dit is presies wat Afriforum met Dan Roodt gedoen het. Hulle het selektief juis hom geteiken om hom uit te sonder en as sondebok te dien. Ek verstout my dat die Daily Show se insetsel slegs die perfekte verskoning gebied het vir die aksie en dat hy al ‘n wyle in hulle visier is om te verloën. Hulle het hierby “randeier”-Afrikaners ingesleep wat volgens Kallie Kriel ‘n minderheid ekstremiste is – weereens is hierdie Afrikaners al ‘n wyle ‘n teiken. Hulle eie Facebookblad en sosiale media het egter van hulle verskil en navrae deur verskeie Facebook- en Twittergebruikers oor wat ekstremisme in Afriforum se boeke beteken, is deur ontwykende halwe antwoorde begroet. Die beste wat Ernst Roets mee vorendag kon kom, was ‘n teksboekdefinisie wat meer as die helfte van Suid-Afrika se bevolking as “ekstremiste” uitsonder. Dit is dan ‘n begrip wat soos rassisme oop is vir vertolking deur wie ook al die kat binne die badkamer aan sy stert rondswaai.

    Vrae oor wat presies as “rassisties” beskou kon word wat Dan Roodt in die insetsel gesê het (gegewe dat dit geredigeer is om iets uit te beeld wat nie so is nie), is met ysige stilte begroet. Die blote feit dat wat hy gesê het aan die hand was van kommentaar deur swart joernaliste en die resultate van akademiese bevindings is vir Afriforum van geen waarde nie. In polities korrekte terme is hy ‘n ketter en basta met die res.

    Reel 8: “Keep the pressure on with different tactics, and actions, and utilize all events of the period for your purpose”

    Daar was dan dus geen groot verbasing dat Afriforum probeer het om van taktiek te verander deur na ‘n vergete en totaal en al onverwante gebeurtenis in Mei 2000 te verwys waarby verskeie persone en organisasies hulle onttrek het van ‘n beoogde organisasie wie se oogmerk die behoud van Afrikaans en minderheidsregte was nie. Wat hulle gerieflik nalaat, is dat die organisasie gekaap is deur politieke demagoë; selfs Chris Louw het dit beskryf as “Broederbondisme”. Die afleiding wat Afriforum hieruit probeer maak is dat Dan Roodt eers van Links en dan van Regs die Afrikanersaak skade doen. Lanklaas moes enigiemand so ver agteroorbuig om die wiskunde agter die gevolgtrekking te verstaan. Die hele eierdans is dan in konflik met Afriforum se oorspronklike sienswyse dat Dan Roodt ‘n onrehabiliteerbare “rassis” is. Dit laat mens onwillekeurig wonder wat is volgende? Dan Roodt se graad-een-Afrikaansetoetsuitslae om aan te voer hy is nie rêrig Afrikaans magtig nie? Die absurditeit skreeu ten hemele.

    Reel 5: “Ridicule is man’s most potent weapon”

    Te midde van hierdie hele orgie van self-geregverdigde moralisering deur Afriforum daag Dan Roodt hulle uit om hom dan aan te kla by die Gelykheidshof. Miskien moes ‘n uitdaging om Dan Roodt by die SAMRK aan te kla ook gemaak gewees het – sekerlik met die selfminagtende resultaat vanaf Afriforum. Die antwoord vanaf Ernst Roets is teksboek-Alinsky. Een: Dan Roodt is nie belangrik genoeg dat Afriforum hulle ledegeld moet mors op litigasie teen hom nie. Twee: Julias Mallema is ‘n persoon met invloed en is dus werd om Afriforum se aandag te geniet, maar Dan Roodt is onbenullig. Vreemd dan dat Afriforum ‘n snars van hulle belangrike tyd aangewend het juis om Dan Roodt te marginaliseer as hy so onbeduidend en onbelangrik was. Sou stilte vanuit Afriforumgeledere dan nie meer gepas gewees het nie?

    Reel 1: “Power is not only what you have but what the enemy thinks you have”

    Afriforum beroep hulle daarop dat hulle ‘n magtige organisasie is wat ledegeld ter waarde van nagenoeg R10 miljoen per maand vorder. Hulle is ‘n kollosus wat namens alle Afrikaners praat gesien aan hulle “enorme” ledetal. Indien Dan Roodt en “randeier” ekstremistiese Afrikaners nie na hulle deuntjie wals nie sal hulle op die brandstapel geplaas word in die moderne weergawe van die Spaanse Inkwissisie. Suiwer hubris tekenend aan soveel organisasies wat in hul kern die dogma van die Broederbond en Nasionale Party volg.

    Reel 9: “The threat is usually more terrifying than the thing itself”

    Deur aan te voer dat Afriforum hulself distansieer van Dan Roodt en “ekstremistiese” Afrikaners, kom neer op die dreigement dat so ‘n groep nie meer deel gaan wees van die hoofstroom-Afrikaner- sosiale groep nie en verstote gaan wees aangesien Afriforum die maatstaf is van wat hierdie hoofstroomgroep aanvaarbaar vind en wat nie. Soos melaatses sou die groep in die woestyn moes wandel sonder die hoop om ooit weer aanvaarding in die samelewing te vind. Juistement het ‘n Facebookgebruiker – en klaarblyklike Afriforumsikofant – kwetsend opgemerk dat Dan Roodt “uit die samelewing verban moet word”.

    Reel 12: “The price of a successful attack is a constructive alternative”

    Deur Dan Roodt en “randeier”-Afrikaners te verloën, poog Afriforum om hulself meer toeganklik te maak vir minderheidsgroepe in ander bevolkingsgroepe (spesifiek kleurling- en Indiërgroepe). Hiermee, nes die VF+ vroëer vanjaar gepoog het, probeer hulle ‘n groter ledetal te ontsluit. Meer lede, meer maandelikse inkomste en meer aansien onder ander bevolkingsgroepe. Miskien, net miskien, sal die regerende elite meer ag op hulle slaan en hulle ernstiger opneem. Die teenkant hiervan is dat Afrikaners wat aan die organisasie behoort hulle al te vinnig aan die verkeerde kant gaan bevind waar daar van hulle verwag word om net te befonds en verder stil te bly alvorens hulle ook tot ketter en “rassis” verklaar word. Dit is slegs die logiese uiteinde van gebeure wat deur Afriforum ontketen is.

    Of hierdie taktiek vir Afriforum enige nut en waarde gaan inhou, is bedenklik. Reaksie op sosiale media dui daarop dat Afriforum die kuns om jouself in die voet te skiet, vervolmaak het. Daar sal wel langdurige nagevolge vir al die betrokke partye wees – een daarvan dat daar weereens tweespalt in Afrikanergeledere gesaai is. Alreeds word daar kante gekies – ander “onbenullige” persone met “geen invloed” soos Sunette Bridges het klaar skerp teenoor Afriforum uitgevaar.

    Die korttermynuitslag is egter dat Afriforum hulle masker laat val het, dat die skyn dat hulle ‘n Afrikanerorganisasie juis net dít is. Daar word gegrawe in hulle verbintenisse met ander organisasies waarvan verbintenisse met die FW de Klerk-stigting en NUMSA d.m.v Solidariteit maar net twee is. Laastens dat hulle – en nie Roodt en “randeier”-Afrikaners – die ekstremiste is juis deur hulle gebruik van ‘n taktiek wat deur ekstremiste dwarsdeur die wêreld aangewend word. Hulle ekstremisme is gegrond op hulle absolute geloof dat die “reënboognasie” wel bestaan, dat dit geregverdig is om ander op die altaar van politieke korrektheid te offer, dat multikulturele samelewings hierdie keer sal slaag en dat hulle suksesvol sal wees om die regerende elite tot ander insigte te dwing deur nodelose hofsake en die gebruik van die Grondwet.

    Gebeure die afgelope week in die parlement moes juis vir hulle ‘n wakkermaakklap gewees het om die mite te ontbloot vir wat dit is. Sou hulle minder ideologies (en ekstremisties) gewees het, sou hulle besef dat Suid-Afrika lank nie meer net op die rand van ‘n Absurdistan staan nie maar pens en pootjies binne-in lê. Daarvolgens geld Westerse reëls van reg en geregtigheid nie. Maar dis seker “rassisties” om dít te sê.