Kort nadat Martin Luther in 1517 sy 95 stellings aan die deur van die Wittembergkerk vasgenael het, het die vervolging van protestante in Frankryk begin. Die 95 stellings het dit hoofsaaklik gehad teen die gebruik van die sg. afkoopbriewe ingevolge waarvan die kerk en die adel (in daardie tyd en lank daarna dieselfde ding) teen betaling van ‘n som geld aan “sondaars” briewe uitgereik het om te sê hulle sondes is vergewe.
Die Gutenbergse drukproses wat teen daardie tyd in algemene gebruik was, het dit moontlik gemaak dat Luther se leerstellings soos ‘n veldbrand deur Europa verprei het. Die kerk en die adel sou nie met gevoude arms toekyk hoe hulle van hulle goudmyn berowe word nie.
Die Franse adel was in die nag van 23/24 Augustus 1572 (die Bartholomeüsnag) in die Louvre-paleis en ander paleise in die omgewing byeen ter viering van die huwelik tussen Hendrik die vierde (Henri IV) en Marguerite de Valois. Die huwelik is gereël oënskynlik om die bloedvergieting tussen katolieke en protestante te besweer, maar in daardie afgryslike nag is derduisende mense, die room van die protestantse adel, waaronder die beroemde admiraal Gaspard de Coligny, Dingaanstyl deur die katolieke vermoor. St Batolomeus is terloops die Franse beskermheilige van slagters!
Die teken dat die slagting moes begin, is gegee deur die afgemete gelui van die klok in die toring van die kerk St Germain l’Auxerrois net langsaan die Louvre-paleis. Die klok se naam, is … Maria.
Ave Maria, grazia plena, gegroet Maria, vervul met genade. Genade vir almal behalwe vir ons.
Kort nadat hy koning geword het, het Hendrik IV, wie se moeder protestant was, in 1598 die bekende Edik van Nantes uitgevaardig wat aansienlike verligting vir protestante gebring het. Nadat hy in 1610 deur ‘n katolieke fanatikus vermoor is, is die regte en vryhede van protestante geleidelik uitgekalwe totdat die protestantisme in 1685 met die herroeping van die Edik deur die koning van die duisternis, Lodewyk XIV (Louis quatorze) heeltemal verbied is.
Voortaan was dit gewoon onwettig om die protestantse geloof te beoefen en kinders as protestante te doop en groot te maak. Alles wat moontlik daaraan kon herinner dat daar ooit iets soos ‘n protestant op die aardbol was, is vernietig: geboortesertifikate, doopseëls, huweliksertifikate, doodsertifikate, grafte, transportaktes, alles. Alle protestantse kerke en ander plekke van aanbidding moes vernietig word. Die galg en die brandstapel was die daaglikse vermaak van die katolieke gepeupel en om slagoffers te vind was geen probleem nie want enigeen wat protestante verkla of uitgelewer het, kon aanspraak maak op die helfte van hulle boedel.
Protestante is verbied om Frankryk te verlaat en dié wat dit wel gedoen het, het dit in lewensgevaar gedoen. Dit was dan ook die geval met ons Hugenotevoorouers. Watter groot oomblik was dit nie vir hulle nie toe hulle uiteindelik in die Kaap aan wal stap nie! Vryheid, veiligheid, vrede.
Op Maroela Media van 31 Mei lewer dr Leon Schreiber ‘n sterk betoog teen die besluit van die Universiteit van Stellenbosch en die Departement van Hoër Onderwys om Afrikaans amptelik tot “uitheemse” taal te verklaar wat geen regte aan universiteite en in Suid-Afrika as geheel verdien nie. (Hierdie besluit hou terloops ook verband met die grondwetlike verbod om teen gemeenskappe en indiwidue te diskrimineer, wat ek elders op Praag bespreek.)
Dr Schreiber betoog dat Afrikaans wel ‘n inheemse taal is en daarom erkenning waardig is en dis ‘n betoog wat ons uiteraard graag wil onderskryf. Dis egter net vreemd dat dr. Schreiber die kardinale punt nalaat, naamlik dat Engels, wat wel deur die Departement en die Universiteit van Stellenbosch erken en bevorder word, by uitstek ‘n uitheemse taal is, trouens die enigste werklik uitheemse taal wat in Suid-Afrika gepraat word.
Dit is duidelik dat Afrikaans ‘n taal van Nederlandse oorsprong is, maar dat dit tot sy huidige vorm hier plaaslik, d.w.s. inheems ontwikkel het. Daarbenewens word dit deur ‘n groot gedeelte van die Suid-Afrikaanse bevolking gebruik en voorts was dit ook vir baie jare een van die land se amptelike tale. Daar bestaan dus omvangryke bronne van amptelike dokumente in Afrikaans asook ‘n menigte waardevolle werke van akademiese en literêre aard. Dis ook so dat die die Suid-Afrikaanse regspraak (bevindings van die howe) oor ‘n tydperk van letterlik eeue hoofsaaklik in Afrikaans was. Sonder verwysing na hierdie regterlike beslissings is die regspleging in Suid-Afrika net nie moontlik nie. Die ANC-regering gaan nou seker al hierdie regbeslissings in Engels laat vertaal wat gewoon gek sou wees.
Dis net instansies soos die Departement van Hoër Onderwys en sy karperdjie, die Universiteit van Stellenbosch, wat in hulle politieke en ideologiese fanatisme erkenning sou wou ontneem van ‘n taal en sy mense wat ‘n betekenisvolle en selfs deurslaggewende rol gespeel het in die ontwikkeling van die land en sy instellings en inderdaad in die stigting van die Universiteit van Stellenbosch self.
Ons Westerse beskawing is oor die eeue aan talle bedreigings blootgestel. Bedreigings van buite, maar dan veral, die ergste van almal: die bedreigings van binne. En as ons sê bedreigings van binne, dan bedoel ons daarmee die verskynsel dat mense hulle wil tot voortbestaan, verloor. Die beste voorbeeld hiervan uit die geskiedenis was die verval en ondergang van die Romeinse ryk. Maar daar is steeds nog die bedreigings van buite ook en die grootste hiervan is die knaende uitbreidingsdrang van die Moslemwêreld .
Die stryd tussen die Christen- en die Moslemwêreld strek oor eeue tot sover terug as die geboorte van die profeet Mohammed in 571. Kort na sy dood het die Moslemverowerings van reusagtige gebiede in Noord-Afrika, die Midde-Ooste, en die Verre-Ooste ‘n aanvang geneem. Binne die bestek van twee eeue het die Moslems vanuit hulle tuisvesting op die Arabiese skiereiland hulle heerskapy uitgebrei na (huidige benamings): Egipte, Libië, Algerië, Tunisië, Morokko, Spanje Israel , Irak, Iran, Sirië, Turkye, Oos-Europa en groot gebiede in die Verre-Ooste tot aan die grens van Indië. Vandag het bv. Indonesië die grootste Moslembevolking op aarde.
Vir ons van belang is dat tot en met die Moslemverowerings, die oorgrote meerderheid van die wêreld se Christenbevolking in Noord-Afrika gewoon het. Die Moslems het hieraan ‘n einde gemaak en sedertdien het die Christenteenwoordigheid in hierdie lande tot onbeduidende minderhede gekwyn. Deur die geskiedenis het die Westelike Christenbevolkings van tyd tot tyd daadwerklike pogings aangewend om die Moslemuitbreiding hok te slaan, maar dikwels, het hulle net kop gegee.
Na hulle verowerings van die sesde en sewende eeu het Moslems (Arabiere en Turke) talle skuiwe gemaak in die rigting van Sentraal- en Wes-Europa. Soms het hulle hulle teen sterk weerstand vasgeloop. By ander geleenthede , soos byvoorbeeld nou, sonder enige weerstand hoegenaamd.
Van 711 tot 1492 was Spanje in die hande van die Arabiere. Kort nadat hulle Spanje oorrompel het, het die Arabiese (Moslem-) veroweraars verdere invalle in Frankryk onderneem, maar daar, nadat hulle 500 km ver gevorder het, is hulle in 732 by die stad Poitiers voorgekeer deur Karel Martel en na Spanje teruggedryf. In 1492 het die Christelike Spanjaarde na agt eeue se stryd teen Moslemoorheersing die besetters finaal uit hulle land verjaag.
In 1463 het die Turke Konstantinopel, die hoofstad van die Oos-Romeinse ryk en ook van die Christelike wêreld van daardie tyd oorrompel. Konstantinopel is vernoem na die eerste Romeinse keiser wat die Christelike geloof aangeneem het. Bitter ironies was dat die Turkse inname van Konstantinopel, (voortaan bekend as Instanboel), moontlik gemaak is deur die plundering van die stad enkele jare tevore deur die Kruisvaarders wat die stad se vermoëns om homself te verdedig onherroeplik verwoes het. Die val van Konstantinopel het die deure wyd oopgegooi vir Turkse verowering van die hele Oos-Mediterreense en Oos-Europese gebied.
In 1529 vertrek ‘n reuse- Turkse vloot in die rigting van die Wes-Middellandse See. Hulle word by die slag van Lepanto in die Golf van Korinte (nie ver van Athene nie) deur ‘n koalisievloot van Christelike lande oortuigend verslaan.
Die slag van Lepanto in 1571, voorstelling deur ‘n onbekende Engelse skilder
Dwarsdeur die 17de en 18de eeue het die Turke volhardend probeer om Wene in te neem en sodoende hulle pad oorland na Wes-Europa oop te maak. In 1716 is hulle pogings finaal die nek ingeslaan deur die Oostenrykse veldheer, Prins Eugen.
Vir eeue na die val van Konstantinopel was die Turke in beheer van Griekeland en die Balkanstate totdat hulle tydens die Griekse vryheidsoorlog van die vroeë negentiende eeu verdryf is, met die uitsondering van die grondgebied aan die Westelike oewer van die Bosforus waar onder meer Konstantinopel (die huidige Istanboel) en die oudste belangrike gebou in die Christelike beskawing, nl. die Katedraal Aya Sophia, geleë is. Die Aya Sophia is terloops pas deur pres. Erdogan van Turkye tot moskee verklaar.
In ‘n onlangse artikel het Leon Lemmer die profetiese boek , Omsingel die laer van die heiliges deur Jean Raspail bespreek wat handel oor die omsingeling van die Europese beskawing deur hordes uit die derde wêreld. Profeties is dit nie heeltemal nie, want dit is gegrond op sy waarnemings van verwikkelings voor — en tydens — die skrywe van die boek. Tog is dit merkwaardig hoe dinge gebeur presies soos hy dit in 1973 voorsien het. As beskrywing van wat nou besig is om te gebeur, is “oorstroming” moontlik ‘n meer akkurate beskrywing as “omsingeling”. ‘n Vyand wat jou omsingel kan jy nog beveg, maar teen dié wat jou binnegesypel het, is jy magteloos.
Vandag beleef ons die klakkelose aanvaarding van miljoene Moslems uit Turkye en Noord-Afrika in bv Frankryk; dié land sit tans met ‘n bevolking van meer ses miljoen Moslems. En in Engeland, Nederland en Duitsland is die situasie nie veel beter nie. Hierdie instroming sou vanselfsprekend nie moontlik gewees het sonder die goedkeuring, en selfs aanmoediging van opeenvolgende Europese regerings nie. Dink vir ‘n oomblik maar aan mev Merkel wat ‘n jaar of wat gelede die instroming van miljoene “asielsoekers” uit die derde wêreld as ‘n “geleentheid vir Duitsland” beskryf het. (Eine Chance fur Deutschland).
Daar is boeke te skryf oor die maniere waarop die Westerse beskawings besig is om hulleself af te takel. Die groot vraag is natuurlik waarom hulle dit wil doen. Daar is meer as een moontlike verklaring. Een is dat ‘n beskawing wie se einde begin nader kom, die neiging het om met die naderende katastrofe te flankeer. Nog ‘n moontlikheid kan wees dat ‘n beskawing wat so’n laagtepunt bereik het soos die huidige Weste, verkies om ‘n vinnige einde daaraan te maak ten einde weer van voor af te begin of om selfs heeltemal te verdwyn. En dan is daar natuurlik die sterk moontlikheid dat iemand besig is om die situasie te manipuleer ten einde voordeel daaruit te kan trek en te kan oorheers.
Maar as daar dan nou wel ‘n ontwaking in Europese lande sou kom oor die snelle oorname van hulle lande deur Moslem indringers, dan gebeur dit, ironies genoeg, danksy die optredes van die Moslemekstremiste self. Ten einde die artikel nie te lank te maak nie, noem ons net kortliks enkele onlangse gevalle :
2015: Aanslag teen die Paryse hekelpublikasie Charlie Hebdo. 12 mense gedood en 11 verwond.
2015: Aanval op die Paryse nagklub Bataclan. 130 mense dood en 413 beseer.
2016: ‘n Moslembesetene jaag met ‘n vragmotor in ‘n skare feesvierendes in die stad Nice in. 86 mense dood en talle beseer.
‘n Week of wat gelede word ‘n Franse onderwyser in Parys voor sy skool, ten aansien van talle skoolkinders deur ‘n Moslem maniak onthoof.
En pas weer word drie vrouens in ‘n kerk in Nice keelaf gesny.
In die afwesigheid van enige wil om die invloei van inkommers aan bande te lê, probeer die Europese regerings die probleem besweer met spoeg-en-plakmaatreëls wat maar net die uiteindelike ramp uitstel. Al die beklekkery en stertswaaiery van Westerse regerings stel die Moslems allermins tevrede. Inteendeel is daar miljoene Moslems wêreldwyd aan die betoog teen Frankryk en dit is wensdenkery dat hierdie oorverhitte atmosfeer nie na Europa gaan oorwaai nie. Vir hierdie situasie het die huidige en ‘n reeks vorige regerings net hulself te blameer. Daar is politieke partye, publikasies en indiwidue wat dekades lank reeds teen hierdie dreigende katastrofe probeer waarsku, maar hulle word deurgaans afgemaak as “ekstreemregs” en dus ignoreerbaar. Daar is niemand so doof as hy wat nie wil hoor nie. Klink bekend nè?
Veral ontstellend is dat die Moslems, benewens die besetting van gedeeltes van Europese stede, ook voorskriftelik wil wees oor beleid buite die gebiede wat hulle vir alle praktiese doeleindes volledig beheer: Halaalkos in skoolkafeterias, selfs in openbare staatskole, Moslemskole waar kinders teen die Weste geïndoktrineer word, die toepassing van Moslemwette deur Moslemhowe, moskees om elke draai ten spyte daarvan dat Christene wêreldwyd uit Moslemlande verdryf word en geen Christelike kerke aldaar toegelaaat word nie.
Te midde van dít alles maak die Europese Unie en EU-lidlande net nog meer en meer regulasies en voorskrifte wat ” diskriminasie” teen die Moslem- en ander inkommers verbied. Dis asof hulle hul eie graf nie vinnig genoeg kan grawe nie. Die geykte argument is altyd “Ja, maar Moslems is nie almal radikaal nie.” Dit is so, maar hoe weet die Franse en ander Europese lande se polisie watter Moslems is radikaal, of potensieel radikaal en watter nie en as hulle weet, waarom vind die aanvalle dan plaas? Daar is natuurlik gevalle waar hulle wel duidelik geweet het dat ‘n bepaalde persoon ‘n radikaal is en hom nogtans vryelik laat rondloop het soos in die geval van die maniak wat die onderwyser onthoof het. En in elk geval, Moslems radikaliseer oornag.
Een van die redes waarom die Moslems so suksesvol is in hulle pogings om die Westerse wêreld te oorspoel, is dat hulle in sekere opsigte die waardes respekteer wat die Westerse samelewings lank reeds verwerp het: Hulle is konserwatief, hulle het die wil om te wen, hulle is familievas, geheg aan hulle geloof, hulle duld nie homoseksuele huwelike nie, hulle het hoër morele standaarde, hulle vrouens loop nie half kaalbas in die straat en selfs in kerke rond nie. In ‘n neutedop, in Europa is die moskees vol en die kerke leeg.
Natuurlik is daar dié in hulle geledere wat onskuldige mense vermoor en vermink en dis ‘n probleem — ‘n probleem vir ons, maar ook ‘n probleem vir hulle want die oorgrote meerderheid slagoffers van Moslemterreur is ander Moslems. Lankal reeds het die Moslemwêreld tot die besef gekom dat hulle met ‘n frontale gewelddadige aanslag teen die Weste nie veel verder sal kom nie. Daarom het hulle eerder die strategie begin volg van geleidelike insypeling, want hulle het maar te goed verstaan dat die Westerse humanistiese samelewings teen die instroming van “arme drommels ” uit die derde wêreld nie bestand is nie. Enkele jare gelede het die Turkse president, Erdogan, tydens ‘n toespraak voor ‘n Turkse gehoor in Duitsland uitgeroep: “Dis nie nodig om Turkye as lid van die Europese Unie toe te laat nie. Turkye is reeds in Europa!”
Het die Europese beskawings ‘n kans om hulle teen hierdie dreigende oorstroming te verweer? Die kanse lyk uiters skraal, maar as daar dan tog ‘n kans is, sal dit in die eerste plek afhang daarvan of die Europese beskawings daarin kan slaag om eers die stryd teen hulleself te wen.
Êrens op die internet sien ek in ‘n koerantberig ‘n foto van FW de Klerk met die opskrif: “Ek sal dit weer doen .” Ek het nie die berig gelees nie, want ek was bang vir naar word. Om te weet wat De Klerk sou doen as hy weer die kans kry, het ‘n mens nie ‘n koerantberig nodig nie en behoef ‘n mens ook nie te veel verbeeldingskrag nie. Jy hoef net maar rondom jou heen te kyk en te wonder, is die man dan totaal gek?
Die lys dinge wat mnr De Klerk sou herhaal as hy weer die kans kry, is oneindig : Geleidelike uitmoor van ons mense, uitrangering van witmense, veral wit mans uit die werkplek, aftakeling van ons ekonomie (pas weer ‘n afgradering van die RSA se kredietwaardigheid na benede rommelvlak, ‘n erestatus wat die land maande lank reeds beklee), ineenstorting van plaaslike regering, verval van groot staatskorporasies soos die SABC, die SAL en Eskom, vernietiging van ons taal en kultuur, diefstal van ons grond, korrupsie op feitlik elke vlak, jammerlike agteruitgang van infrastruktuur, paaie en brûe, kortom, rampspoedige wanbestuur van ons land op bykans elke gebied.
“Bravo,” sê mnr De Klerk, “ek doen dit weer.”
Maar nou, net ‘n paar woorde oor die ergste verraad van mnr De Klerk., naamlik die oorhandiging van ons weermag aan ons vyand, die ANC, wat ons vir jare geteister het met terrroriste-aanvalle in onder meer restourante en kerke. Dit is byna ondenkbaar. Mnr De Klerk het ons verdedigings- en polisiemag aan die ANC geskenk met alles wat dit behels : wapentuig, vegvliegtuie, pantservoertuie, wapenstelsels met al die tegnologie wat daarmee saamgaan en wat ons oor jare opgebou het, insluitende ‘n kernpotensiaal. En dít alles gedoen met ons belastinggeld.
En, kom ons vergeet veral nie die jongmense, dienspligtiges en staandemaglede, wat hulle lewens nou tevergeef geoffer het in die stryd teen die ANC en hulle buitelandse bondgenote.
Mnr De Klerk sê: “Ek voel vere. Ek doen dit dit weer.”
Deur ons Weermag en Polisiemag aan die ANC te oorhandig, het mnr De Klerk ons die vermoë ontneem om ons te verdedig en ons uitgelewer aan geweldenaars wat ons mense byna na hartelus uitmoor en verkrag — veel meer as voor mnr De Klerk se oehoeroe. Terselfdertyd het hy die ANC se vermoëns om ons te oorheers eindeloos versterk. Vir die persoon wat by uitstek verantwoordelik was vir ons veiligheid, naamlik die Staatspresident, is dit ‘n onvergelyklik laakbare daad. Trouens dit is sekerlik die mees uiterste geval van verraad in die geskiedenis van die mensdom. Sonder om melodramaties te probeer wees: hy het die swaard van die volk gelê in die skoot van ‘n kommunistiese terroris.
Om te dink ons het eens leiers gehad soos Genl Hertzog, dr Malan, adv Hans Strydom en dr Verwoerd. En voor hulle was daar ook nog Genl De la Rey en Gen Christiaan de Wet. In hulle tyd was daar ook verraaiers, maar wie onthou hulle nog? Genl Smuts was ook ‘n verraaier, nie so erg soos De Klerk nie en kyk wat het van hom geword.
Waaraan ‘n mens jou met sekerheid kan troos, is dat die tyd mnr De Klerk sal inhaal en beoordeel volgens sy verdienste en hom sal verdoem tot die verfoeilike verraaier wat hy is. Want niemand, nie eers jou vyand nie, het enige respek vir ‘n verraaier nie. Miskien sal van ons daardie heuglike dag nie belewe nie, want mense neem tyd om te verstaan, maar verstaan sal hulle uiteindelik en so seker soos daglig sal mnr De Klerk en sy rommeldemokrasie op die vullishoop van die geskiedenis eindig.
Uiteraard sluit hierdie in ‘n mate aan by Dr Roodt se video oor die walglike skepsel Joe Biden. Ek wil darem net sê dat ek dié stukkie geskryf het voordat ek na dr Roodt se video gekyk het. Miskien kan ‘n bietjie vertroosting gevind word in die feit dat baie miloene Amerikaners vir Joe Biden net so walglik vind soos ons.
In sy video lê dr Roodt sterk klem op die houdings en handelswyses van die media en baie van ons het seker al gewonder waarom die wêreld se kommunikasiemedia, die gedrukte pers, televisie, radio, die filmbedryf en uitgewerye so te sê voor die voet links is. Die universiteite is wel nie deel van die media nie, maar dieselfde geld ook maar daar: Hulle is veronderstel om objektiewe waarnemers en mededelers van kennis en die waarheid te wees, met onbevange ontledings en kommentaar, maar hulle is so te sê almal onverbloem links en bevooroordeeld.
Eers moet ons vra of daar met reg gepraat kan word van wêreldmedia. Dit is merkwaardig dat daar tussen koerante en ander media-instellings die wêreld oor, ‘n groot ooreenkoms is wat betref die keuse van onderwerpe, die inhoud en veral redaksionele menings, vertolkings en kommentare. Dr Roodt het in sy video ook hierdie verskynsel uitgelig. Wat betref die universiteite: is daar enige betekenisvolle verskil tussen die Universiteit van Stellenbosch en die Universiteit van bv New York of Washington? Deels danksy die leierskap van professor Wurm De Villiers, geen.
Baie van die materiaal wat koerante in Amerika, Australië of Suid-Afrika gebruik, kom van groot internasionale persagentskappe wat deur ‘n handjie vol geldmagnate beheer word. Talle berigte en kommentare word ook oor en weer bykans woordeliks, uit ander publikasie binne en buitelands «gelig».
En daarmee is die towerwoord dan ook uit : Geldmagte. Die media word besit en beheer deur ‘n handjie vol rykes. ‘n Onlangse studie het getoon dat 90% van alle media in die VSA deur net ses groot finansiële instellings besit word wat op hul beurt ‘n menigte ander media-instellings besit en beheer, m.a.w. ‘n soort oligargiese klub. So is dit ook in die res van die wêreld, waaronder Suid-Afrika. Die Naspers is byvoorbeeld uit en uit ‘n geldmaakorganisasie wat behoudende waardes tot ‘n spotterny maak. En natuurlik links. Vir watter rede op aarde kry Naspers dit reg om Joseph Biden te ondersteun behalwe dat hy Afrikaners haat, links is en walglik.
Dit is ook so dat die media handlangers is van regerings. Regerings word, net soos die media, ook deur die finansiële oligargie beheer. Baie lede van Westerse regerings, selfs eerste ministers en presidente is werktuie van die internasionale geldmag, insbesonder die groot banke soos Rothschild en Goldman Sachs en daar is van hierdie regeringslede wat selfs deur die geldmag «geplant» word. ‘n Voorbeeld: In 1969 het mnr Georges Pompidou direk oorgestap van die Rothschildbank waarvan hy direkteur was, na die Franse presidentskap. In 1973 het hy wetgewing laat aanneem waarvolgens die vermoë van die staat ontneem is om renteloos geld van die Franse sentrale bank te leen. Voortaan was die Franse regering verplig om geld teen betaling van rente aan die private banke (insluitend natuurlik Rothschild) te leen waardeur die banke eindeloos verryk is en die staat in skuld gedompel is waarvan die land sedertdien nooit weer herstel het nie. (Baie Franse het dit genoem die «Rothschildwet».
Die vraag bly egter nog steeds : waarom links? As die wêreldmedia deur grootgeld beheer word hoe kan dit dan links wees? Die geldmagte is tog nie links nie. Wel, die antwoord hierop is dat die geldmagte nog links nog regs is . Hulle is geldmagte, einde van storie. Die groot geldmagte is op wêreldbeheer ingestel. Beheer oor staatsfinansies, beheer oor wat ons sê en skryf en oor wat ons mag publiseer en inderdaad ook beheer oor wat ons dink. Hulle strewe is na selfs meer fabelagtige rykdomme as wat hulle reeds het. En fabelgtige rykdomme beteken haas onbeperkte mag.
En hiervoor benodig hulle propagandamiddele en die propagandamiddele is die media.
Vir die internasionale kartel van geldparasiete maak dit nie saak of ons ontwikkel in ‘n wêreld sonder rasverskille, sonder grense en sonder kulturele skeidslyne nie. Trouens dit is juis wat hulle in staat stel om groter beheer oor die mensdom te kan uitoefen en meer geld te kan maak: ‘n amorfe massa gekondisioneerde verbuikers en nuttige idiote wat hulle vermoë om vir hulleself te dink aan “meningsvormers” in die media en by implikasie aan die kartel oorhandig het.
Die oligargie bevorder linksheid omdat regse regerings in hulle pad staan. Regse regerings het ‘n sterker sin vir nasionalisme, volksidentiteit, nasionale soewereiniteit, ras- en kulturele verskille en nasionale grense, alles dinge wat die internasionale geldmag vrees en verafsku. En om die wêreldmening te kondisioneer om die geldmagte se doel te dien, gebruik hulle die media en daarom sorg hulle dat die media links is.
Regse regerings, soos in die vorige paragraaf gedefinieer, bestaan daar haas nie meer nie behalwe miskien in kommunistiese lande soos Rooi Sjina en Noord-Korea. Almal is bewus van die felle aanslag waaronder ‘n relatief regse President Trump gebuk moes gaan of die Hongaar Victor Orban en beide hoofsaaklik weens dieselfde rede: hulle teenkanting teen instroming uit die derde wêreld.
Dis nie mnr Trump of Joseph Biden wat Amerika en die wêreld regeer nie. Dis die internasionale geldkartel, aangevoer deur ‘n dosyn parasitiese banke. Mnr Trump en Joseph Biden is daar grootliks om die Amerikaanse bevolking te sus met die illusie dat hulle in ‘n demokrasie leef. En in Europa nie veel anders nie. Die Europese Unie is in die lewe geroep hoofsaaklik om die rykes verder te verryk: ‘n Groter bevolking om uit te buit, groter beheer oor die regerings van lidlande, doelbewuste aanmoediging van immigrasie uit die derde wêreld (goedkoper arbeid, meer verbruikers, meer nuttige idiote wat gemanipuleer kan word , aftakeling van volksidentiteit) en ondergrawing van nasionale soewereiniteit, alles dinge waartoe die media ywerig meewerk.
Die enigste manier waarop hierdie sataniese alliansie van bank, media en regering gestuit kan word, is deur bewuswording van die publiek. Dis duidelik dat in die aangesig van die (linkse) media alternatiewe middele, die sosiale media soos dit ook genoem word, ‘n sleutelrol speel. Daarom moet ons ook bedag wees daarop dat die magte van Molog ‘n einde sal wil maak aan die bedrywighede van die sosiale media.
(Die Oxford Dictionary beskryf Moloch as “a power or influence to which everything is sacrificed”.
Maar vir menings uit die perd se bek kom ons kyk na enkele aanhalings van mense wat weet :
Eerstens, John Swinton, op sy dag Redakteur van die New York Times. In sy aftreerede as redakteur sê hy :
There is no such thing in America as an independent press. You are all slaves. You know it, and I know it. There is not one of you who dares to express an honest opinion. If you expressed it, you would know beforehand that it would never appear in print. I am paid for keeping honest opinions out of the paper. You are paid similar salaries for doing similar things. If I should allow honest opinions to be printed in one issue of my paper, before twenty-four hours my occupation would be gone. The man who would be so foolish as to write honest opinions would be out on the street hunting for another job. The business of a New York journalist is to distort the truth, to lie outright, to pervert, to villify, to fawn at the feet of Mammon, and to sell his country and his race for his daily bread, or for what is about the same — his salary. You know this, and I know it; and what foolery to be toasting an “Independent Press”! We are the tools and vassals of rich men behind the scenes. We are jumping-jacks. They pull the strings and we dance. Our time, our talents, our lives, our possibilities, are all the property of other men. We are intellectual prostitutes.
In ‘n toespraak in 1991 voor die Trilaterale Kommissie deur bankier David Rockefeller sê hy :
We are grateful to the Washington Post, The New York Times, Time Magazine and other great publications whose directors have attended our meetings and respected their promises of discretion for almost forty years.
It would have been impossible for us to develop our plan for the world if we had been subjected to the light of publicity during those years.
But, the world is now more sophisticated and prepared to march towards a world government.
The supranational sovereignty of an intellectual elite and world bankers is surely preferable to the national auto-determination practiced in past centuries.
En derdens Henry Ford :
It is well enough that people of the nation do not understand our banking and monetary system for, if they did, I believe there will be a revolution before tomorrow morning.
Wat kan duideliker wees: Die geldmagte, regerings en die media voer mekaar direk en indirek en die media is hiervan bewus en bevorder dit doelbewus. Die groot vraag is hoe lank gaan die Westerse openbare mening hulle nog aan die neus laat lei voordat hulle rebelleer. Dit sal miskien nooit gebeur nie, maar wie weet, dalk gebeur dit sommer oornag. Die kruitvat loop oor en wat nog skort, is net ‘n vuurhoutjie — koronavirus?
Ons hoor van die môre tot die aand van ” haatspraak “, ‘n foefie wat uit linksliberale Amerika hierheen oorgewaai het. ‘n Mens kan haas nie jou mond meer oopmaak nie sonder dat jy op die een of ander manier aan haatspraak skuldig is. Haatspraak teenoor swartes natuurlik. Teen wittes kan ‘n mens maar sê wat jy wil. Wie op aarde het al soveel haatspraak ervaar as die Afrikaner? Tog is dit nie haatspraak wat in hoofsaak verantwoordelik is vir die haglike betrekkinge tussen wit en swart Suid-Afrikaners nie.
Die meeste van ons het die een of ander tyd in ons lewe swartes geken wat ‘ n mens kon respekteer — goeie ordentlike mense op wie jy kon staatmaak en vertrou. Uit die tyd van die bosoorlog weet ons dat hulle moedige en lojale vegters en gewaardeerde kamerade aan ons kant was. ‘n Mens plaas nie sommerso jou lewe op die spel nie. Ek kan nog goed onthou die dag toe ons as jong amptenare die staatsbegrafnis vir oudpresident Jim Fouché moes reël en toe, op die laaste oomblik, dosyne tuislandleiers en hulle senior ampsdraers vir die begrafnis opgedaag het. Dít het vir ons as organiseerders hoofbrekens besorg, maar aan die ander kant was dit aanduidend van ‘n gevoel van warmte jeens die Suid-Afrikaanse regering en witmense in die algemeen..
Hoe het dit dan gekom dat wit en swart Suid-Afrikaners mekaar vandag so te sê voor die voet wantrou en verag? Die antwoord lê natuurlik by die ANC-regime en die wittes wat hulle aan die bewind gestel het. Hulle is dié wat ons kan beskryf as die haatmakers.
Veel skadeliker as haatspraak is die begrip haatmaak. Wat ‘n mens sê, is belangrik en het gevolge, maar meer nog as die dinge wat jy sê, is dit die dinge wat jy doen wat mense mekaar laat haat. Hoe lui die Engelse spreekwoord: Sticks and stones may break my bones but names can never hurt me. Dade weeg swaarder as woorde soos almal weet, behalwe vir die haatdraende en wraaksugtige regime.
Wat het meer antagonisme tussen die rasse veroorsaak as die verderflike beleid van SEB oftewel Swart Ekonomiese Bemagtiging, (Black Economic Empowerment), nog ‘n Amerikaanse konkoksie? SEB beteken dat kundige en ervare witmense by die duisende uit die werkplek gerangeer is, met die gevolglike ineenstorting van noodsaaklike openbare dienste, onder meer kragvoorsiening, wat die land tot op die afgrond gevoer het met rampspoedige gevolge vir die ekonomie en daarmee saam kwynende werksgeleenthede waaronder almal ly, wit en swart . Dit gebeur natuurlik in ‘n “nuwe” nie-rassige Suid-Afrika en ten spyte van ‘n grondwet wat rassediskriminasie verbied.
Dan kom nog daarby die misdaadontploffing waarvan, nie uitsluitlik nie, maar meesal blankes die slagoffers is. Ook hier is die oorsaak terug te voer na SEB, d.w.s. die wittes wat uitgeskakel is uit die polisiediens ten gunste van die korrupte en onbevoegde polisiediens wat ons ken. Daarby kom nog die doelbewuste en volgehoue propaganda van die regime oor baie jare wat swartes laat glo dat wittes hulle iets skuld. Wittes is naamlik verantwoordelik vir die gemors wat die ANC-regime van die land gemaak het.
En die ergste natuurlik, is die stelselmatige uitroei van ons mense op plase, maar ook in die stede. Geen dag gaan verby nie sonder dat daar berigte is van moorde, verkragtings en aanrandings van witmense. Of die regime hieraan aandadig is, kan ons nie met sekerheid beweer nie, maar daar is wel aanduidings dat hulle voete sleep met arrestasies en vervolgings. Vir seker is die ANC-regime aanspreeklik vir die afskaffing van die kommandostelsel wat elders op Praag en YouTube bespreek word en wat vir baie jare die veiligheid van ons mense op die platteland verseker het.
Kom ons noem nog enkele voorbeelde van haatmaak : die ANC-bemoeienis met die aard van ons skole en universiteite en dus met die opvoeding van ons jongmense en kinders, die doelbewuste pogings tot uitwissing van ons taal, die aftakeling van ons kulturele erfenisse, die beskadiging en verwydering van standbeelde van figure wat ‘n vooraanstaande rol in ons geskiedenis gespeel het, die verdraaiing en vervalsing van die geskiedenis self (waaraan sommige blankes lustig meedoen), die feit dat ‘n boer wat ‘n bietjie te energiek betoog het na aanleiding van die moord op ‘n jong plaasvoorman, vervolg word terwyl honderde swart betogers wat links en regs moor en roof en brand skotvry uitgaan, die feit dat ‘n standbeeld in ‘n tradisioneel Afrikanerdorp beplan word vir die rampokkervrou Winnie Mandela, die feit dat ‘n weersinwekkende skepsel soos Robert McBride senior poste in die staatsdiens, waaronder die polisiediens kan beklee ten spyte van sy rekord van moord en misdaad, die naamsveranderings van ons dorpe en stede, die diefstalle van miljarde rande deur ANC-bewindhebbers uit die staatskas m.a.w. ons belastings, noodlenigingshulp aan mense wat skade gely het weens Covid-19 wat net aan swartes gegaan het, (d.w.s. die gedeelte daarvan wat nie gesteel is nie), die onteiening van grond sonder vergoeding, die beplande berowing van ons pensioenfondse om finansiële tekorte van ‘n bankrot gesteelde en wanregeerde staat te vergoed.
Iewers moet ons die lys staak, maar daar is nog veel meer. Al hierdie aksies is op die een of ander manier bestem om witmense uit die samelewing te elimineer , dus uitdelgingshandelings. Haatspraak, al is dit so erg soos “kill the boer kill the farmer”, kan ons nog op ‘n manier verwerk, maar die daadwerklike uitmoor van ons mense gaan die pot laat oorkook, soos so pas in Senekal gebeur het. Die las word by die dag ondraagliker en daarmee saam groei die haat.
Enigeen met ‘n bietjie verstand en oë in sy kop behoort te kan sien Suid-Afrika is op die rand van ‘n tragedie. As daar ooit versoening tussen wit en swart Suid-Afrikaners sou kom, en ons weet, die kanse daarvoor is skraal, dan moet die inisiatief uitgaan van die ANC. Hulle regeer die land, hulle besit die mag en hulle moet die moed aan die dag lê om toenadering tot wit Suid-Afrikaners te soek. Dit kan met ‘n gesanik oor die verlede nie geskied nie. Wat vereis word, is dade wat die sake hierbo genoem, daadwerklik hanteer: Indiensneming op grond van kwalifikasies en bekwaamheid, nie op grond van ras nie, ‘n regmatige lewensruim vir ons taal, beter beskerming van ons mense veral op plase en geen onteiening van grond sonder vergoeding nie. Wat kan hulle verloor deur dit te doen, terwyl ons almal daardeur net kan wen?
‘n Boek het verlede jaar verskyn oor die lewe van die politieke sluipmoordenaar Dimitri Tsafendas. Die boek is getiteld The man who killed Apartheid. The life of Dimitri Tsafendas, deur ene Harris Dousemetzis. (Uitgewer Jacana Media). Ek het die boek so pas ontdek en was nie eers bewus daarvan dat dit bestaan nie.
Soos almal weet, was Dimitri Tsafendas verantwoordelik vir die moord op Dr Verwoerd op 6 September 1966. Wie nog, behalwe Tsafendas by die moord aandadig was, sal ons hopelik eendag weet.
Gegewe die titel, die aard van die uitgewer en die tydsgewrig waarin die boek geskryf is, verwag ons hier geen ware objektiwteit nie. Tog skyn die boek te bevestig wat baie van ons sedert die moord op dr Verwoerd reeds vermoed het: Tsafensdas was wel polities sterk gemotiveer en dit inderdaad ten gunste van die internasionale kommunisme. Die weergawe wat ons oor die jare deur Nasionale Party politici opgedis is nl., dat Tsafendas ‘n geestelik versteurde was wat sy opdragte van ‘n soort lintwurm ontvang het, is en was nog altyd ‘n wolhaarstorie. Die rede waarom die NP-regering Tsafendas se ware motivering verswyg het, was duidelik dat as hulle moes erken Tsafendas was ‘n kommunis en geswore vyand van Suid-Afrika, waarom was hy dan in die parlement ?
Inderdaad is alles omtrent hierdie gebeurtenis vreemd, om die minste te sê, en selfs grotesk. Tsafendas het ‘n rekord gehad van pro-kommunistiese radikalisme wat oor dekades gestrek het, sedert sy verblyf in Portugees beheerde Mosambiek toe hy nog maar twintig jaar oud was. Dat ‘n persoon soos hierdie ‘n bode kon word waar hy vryelik op die vloer van die Suid-Afrikaanse parlement kon rondbeweeg, is gewoon verbysterend.
Tsafendas se gevaarlike politieke verbintenisse was dus vir lange jare voor die moord op dr Verwoerd reeds bekend aan almal behalwe die Suid-Afrikaanse regering met sy batterye veiligheidsdienste. In ‘n onderhoud oor sy boek som die outeur sy boek so op :
This book now reveals the truth about tsafendas ; that he was deeply political from an ealy age. He was arrested numerous times in Mozambique, the country of his birth. In Portugal, the security police opened a file on him in 1938, when he was aged only twenty. After the assassination, Tsafendas volunteered a series of incontestable political reasons for killing Verwoerd, but these, along with details of his political past, were never allowed to see the light of day.
(Verdere navorsing kan bevestig of hierdie gegewens juis is of nie, maar op die oog af lyk dit geloofwaardig.)
Tsafendas also related to his interrogators his long history of political activism, from his membership of the South African Communist Party (SACP) between 1936 to 1942 to his time in London in the ealy 1960s, when he had attended meetings of the Comittee of African Organzations and had held ‘the posters up’ at ‘anti-colonial’, ‘anti-apartheid’ and ‘anti-racial meetings’.
Hierdie enkele opmerkings is ter herdenking aan die sterfte van dr Verwoerd op 6 September 1966 eerder as wat dit ‘n volledige boekbespreking is. Mnr Lemmer mag moontlik ‘n volledige bespreking op sy skouers wil neem.
Die ou aardbol van ons word by die dag ‘n gevaarliker plekkie om op te leef. Pas het pres. Trump die geleentheid van ‘n staatsbesoek aan die VSA deur die Poolse president, Andrzej Duda, gebruik om aan te kondig dat hy die Amerikaanse troepemag in Duitsland gaan verminder en ‘n sekere persentasie daarvan na Pole gaan verskuif. Hierdie verskuiwing sal, luidens die gesamentlike verklaring van mnre Trump en Duda, gepaard gaan met die oorplasing van wapentuig waaronder hommeltuie (drones). Lesers mag weet dat hommeltuie in staat is om kernwapens te dra.
As rede vir die troepeverskuiwing voer mnr Trump aan dat dit sal geskied omdat Duitsland, na sy mening, nie sy verantwoordelikhede teenoor die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO) nakom nie. Volgens hom is Duitsland se finansiële bydrae tot die onderhoudskoste van NAVO te gering, wat ‘n groter las op die skouers van Amerika plaas om die veiligheid van Duitsland teenoor Rusland te verseker. Terselfdertyd koop Duitsland aardgas ter waarde van miljarde euro van Rusland aan. Aldus die argument van mnr Trump.
Feit is egter dat Duitsland geensins in ‘n konflik met Rusland betrokke is nie en sy veiligheid ook nie op enige wyse deur Rusland bedreig word nie. Die Duitsers sal tog seker beter weet as die Amerikaners of hulle veiligheid in gedrang is of nie. Hierdie eienaardige sienswyses van mnr Trump is natuurlik ‘n rookskerm vir die werklike rede, naamlik dat die Amerikaners Duitsland wil dwing om Amerikaanse skalie-gebaseerde gas te koop wat hulle teen astronomiese koste produseer en teen ‘n verlies verkoop. Om hierdie rede het die VSA dan ook onlangs sanksies gehef teen maatskappye wat betrokke is by die bou van die gaspypleiding (Nord Stream) tussen Rusland en Duitsland.
Vir enige objektiewe waarnemer spreek dit vanself dat Duitsland nie die gas by Rusland koop ten einde Rusland ter wille te wees of om Amerikaanse belange te benadeel nie, maar bloot omdat hulle die gas nodig het en dat dit in hulle belang is om dit te te koop waar dit vir hulle ekonomies die voordeligste is. Dit is natuurlik ook waarskynlik dat die Amerikaners probeer verhoed dat die gasvoorsiening interafhanklike bande tussen Duitsland en Rusland mag versterk.
Daarby moet gevoeg word dat daar ná die ineenstorting van die kommunistiese blok in Oos- Europa en dus ook ná die beëindiging van die koue oorlog, weinig bestaansreg meer vir NAVO is. Om dié rede het Rusland dan ook die kommunistiese teenvoeter vir Navo, nl. die Warskouverdragsorganisasie ontbind. Amerika het egter verkies om NAVO te laat voortleef wat uiteraard vir hulle ontstsaglike koste op die hals haal, koste wat hulle nou van ander NAVO-lidlande probeer verhaal onder die voorwendsel dat NAVO hierdie ander lande se veiligheid waarborg.
Die Russiese ministerie van buitelandse sake het die beplande verskuiwing van Amerikaanse soldate na Pole vergelyk met die missielkrisis van 1962 toe die Sowjetunie probeer het om missiele in Kuba te vestig, wat op ‘n nippertjie na tot ‘n wêreldoorlog gelei het. Heel onlangs is ‘n reuse- NAVO- militêre oefening in Pole, Georgië en die Baltiese state waaraan 37 000 soldate sou deelneem, deur die koronakrisis in die wiele gery. Die VSA werk ook jare lank reeds aan ‘n missielstel in Oos-Europa om die sogenaamde Iranese bedreiging die hoof te bied. Soos enigeen op ‘n landkaart kan sien, is Pole byvoorbeeld duisende kilometer van Iran verwyder.
Dit is dus duidelik dat ‘n plofbare situasie in sentraal- en Oos-Europa aan die ontwikkel is. Dit is ook duidelik dat die situasie die gevolg is van direkte Amerikaanse bedreiging van Russiese veiligheidsbelange.
Ons betreur op ‘n daaglikse basis die groot verraad van 1990. Of liewer, dié van ons wat nog kan treur, betreur dit . “Ag, hoe verlate sit die stad wat vol mense was! Sy het soos ‘n weduwee geword, sy wat magtig was onder die nasies; die vorstin onder die provinsies wat onderdanig geword het.”
Maar wat ons miskien mag vergeet, is dat die Westerse beskawing as geheel hom in dié betreurenswaardige posisie bevind. Wat kan dit beter illustreer as die onlangse wêreldwye spektakel rondom die “rassemoord” op die swart Amerikaner George Floyd.
‘n Dag na die dood van George Floyd, aan die hand van ‘n Amerikaanse polisieman, is die hele Westerse wêreld in rou gedompel, kompleet met massabetogings, mediahisterie en opruiende politieke opportunisme.
Die dood van George Floyd was dus nou ‘n “rassemoord “. Al wat van die voorval ‘n rassevoorval gemaak het, is die feit dat die polisieman wit was en die slagoffer swart. Daar was na ons wete geen ander aanduidings as dít van ‘n rassemotivering nie. Die regsondersoek mag miskien anders bevind, maar die regsondersoek het nog nie plaasgevind nie en die wêreld se media en politieke elite kon nie wag vir ‘n regsondersoek nie om te besluit dat dit wel ‘n “rassevoorval” was.
Wat beteken dít alles? Waarom gryp die wêreld se media- en politieke elite so ‘n voorval aan om te bewys hoe brutaal die witmens is en hoe onskuldig die swarte? Waarom moet hulle van ‘n voorval soos hierdie nou juis ‘n voorbeeld van anti-swart rassistiese geweldpleging maak ?
In ‘n onderhoud met die Franse dagblad Le Figaro sien die filosoof, Alain Finkelkraut, die gebeure wat op die dood van George Floyd gevolg het, as die ontplooiing van ‘n nuwe vorm van anti-rassisme wat minder gemoeid is met die waardigheid van alle mense as om die aard van die Westerse bestel soos ons dit geken het, te “dekonstrueer”, d.w.s. te ondermyn. Hy gaan voort om te sê dat die skande van blank te wees die skuldgevoel van die Westerse elite vervang het. M.a.w. vanaf die stadium waarop die witman skuldig gevoel het oor al die onregte wat hy die swartman aangedoen het, het ons nou beland in die situasie waar die witman skaam is omdat hy wit is. Hoe lank nog voor hy gaan skaam voel omdat hy lewe?
Die skande van witwees, ‘n illustrasie wat in die New York Times verskyn het
“Die skande van wit te wees.” Sê dit nie alles nie? Vat dit nie in ‘n neutedop saam die houding van die hordes anti-Afrikaanse Afrikanerintellektuele wat daagliks die ruimte van die linkse media gebruik om Afrikaners en die witman af te takel nie? Hulle het skaam geword om te lewe en kan nie verdra dat ander mense nog wil lewe nie!
‘n Geringe minderheid Westerse intellektuele begin daarop wys dat anti-rassisme vandag inderdaad ‘n vorm van rassisme geword het. Leef ons in Suid-Afrika nie daagliks saam met hierdie verskynsel nie? Word “regstelling” op grond van ras nie daagliks aangewend om swartes bo wittes te bevoordeel nie? Die Grondwet belet diskriminasie op grond van ras behalwe waar die regime vir politieke gewin dit as regmatig en regverdig beskou.
Kom ons dink maar ‘n oomblik na oor die slagspreuke rondom “diskriminasie”. Die woord diskriminasie word in aanhalingstekens geplaas omdat dit vandag ‘n spesiale betekenis verkry het wat met die oorspronklike betekenis min te make het, trouens ‘n teenoorgestelde betekenis het. In die meeste Westerse lande is dit verbode om diskriminasie op grond van ras te beoefen in die werkplek, sport, vermaaklikheid, ens. Dit beteken elke werkgewer moet byvoorbeeld bewys lewer dat hy nie wittes bevoordeel teenoor swartes nie en daar is inspekteurs wat op sakeondernemings spioeneer ten einde te verseker dat swartes wel aangestel word. Dit beteken dus dat ‘n werkgewer, om die beskuldiging van “diskriminasie” vry te spring, noodgedwonge swartes in diens moet neem, al is hulle nie vir ‘n bepaalde posisie gekwalifiseer nie en ‘n wit aansoeker wat wel gekwalifiseer is, moet weier. Dit wys duidelik hoe sg. “anti-rassisme” inderdaad rassisme word. Anders gestel, jy mag nie diskrimineer nie, behalwe waar dit tot voordeel van swartes is. Onnodig om te sê, sal geen inspekteur ooit spioeneer op ‘n onderneming wat wittes wegwys ten gunste van swartes nie.
Hieruit is dit duidelik dat die situasie onhoudbaar geword het. Die een of ander mag sal moet opstaan wat gaan halt roep, of die Westerse beskawing is tot ondergang gedoem. En dit lyk asof die Westerse beskawing in elk geval daarmee genoeë neem.
Daar is dikwels bespiegeling oor die vraag of die internasionale reg of, soos dit in Afrikaans heet, die volkereg, ‘n toevlug kan bied vir ons as Afrikaners. Moontlik mag dit dus van nut wees om vlugtig ‘n paar gedagtes oor hierdie onderwerp te wissel.
Ons as Afrikaners het nie ‘n alte gelukkige ervaring van die volkereg nie. Eintlik gaan dit nie om die volkereg as sodanig nie, maar om die haatdraende houding jeens Suid-Afrika voor 1994 van die hooforgane van die moderne volkereg, naamlik die Veiligheidsraad en veral die Algemene Vergadering van die VVO, deesdae meer as die “VN” bekend. Oor die jare was die hantering van Suid-Afrikaanse aangeleenthede ‘n politieke gekonkel van die VN eerder as toepassing van die volkereg en daarmee het die organisasie ‘n betreurenswaardige bydrae gelewer, nie net ten opsigte van Suid-Afrika nie, maar ook wat betref die volkereg self. Enige regstelsel kan net gesond funksioneer as dit nougeset volgens regsbeginsels geskied. Sodra daar vir politieke oorwegings en eie belang met die beginsels gepeuter word, is die stelsel ook daarmee heen. Tog bestaan daar ‘n algemene behoefte onder volke en lande aan iets soos ‘n internasionale regsorde en die beginsels waarvolgens die Volkereg fungeer, wanneer dit korrek toegepas word, is wel regsbeginsels.
Die grondslae van die volkereg is gelê deur die groot Nederlandse juris van die sewentiende eeu, Hugo de Groot, soos uiteengesit in sy twee monumentale werke, De Jure Belli ac Pacis (Aangaande die reg van oorlog en vrede) en Mare Liberum (Die reg van die seevaart).
Die hoofdoel van die volkereg, (in teorie in elk geval), is om wêreldvrede te bevorder, geskille tussen lande te besleg, die swakkeres teen die magtiges te beskerm, asook die internasionale handelsverkeer te vergemaklik. Soos met alle menslike ondernemings is die volkereg ook onvolmaak en die toepassing daarvan, veral deur die VN, soms heeltemal verwronge. Daarby is die volkereg sg. “swak reg” in die sin dat daar nie ‘n opperste gesag is wat dit kan afdwing nie. Dikwels is dit die magtige state wat hulle wil deurvoer, of ‘n gesamentlike poging van ‘n groep lande met ‘n gemeenskaplike ideologiese oogmerk.
Die volkereg behels dus betrekkinge tussen soewereine state en die hoofbron daarvan is internasionale verdrae. Die VVO is trouens self deur ‘n verdrag in die lewe geroep, nl. die “United Nations Charter”, oftewel VN-handves. Verdrae speel in die volkereg die rol van kontrakte in die privaatreg en beide berus op konsensus. Net soos met kontrakte het die partye tot verdrae meesal die bedoeling om deur hulle ooreenkoms gebonde te wees en so verloop verdrae dan ook meesal redelik ongestoord. Verdragspartye, soos ook kontraktuele partye, kom ooreen op ‘n bepaalde gedragspatroon en hou daarby. Dis slegs wanneer sake skeefloop dat hofgedinge ter sprake kom. Die verskil is weer dat kontrakte in die nasionale reg afdwingbaar is, terwyl verdrae moeilik afgedwing kan word. Verdragspartye kan ooreenkom om hulle in probleemsituasies te wend tot bv. onafhanklike arbitrasie of strafmaatreëls, boetes ens., soos in die verdrag bepaal, maar in die finale instansie kan ‘n staat in beginsel nie gedwing word om sy verdragsverpligtinge na te kom nie.
Hoewel verdrae nie afgedwing kan word nie, is die wêreldmening gekant teen die verbreking van verdrae. ‘n Eensydige verbreking van ‘n verdrag kan ook ‘n land se internasionale aansien en geloofwaardigheid ernstig skaad. ‘n Beroemde geval van verdragbreuk was toe Hitler in 1942 Rusland binnegeval het ten spyte van ‘n nie-aanvalsverdrag wat op 23 Augustus 1939 in die Kremlin deur verteenwoordigers van die twee lande onderteken is. Hiervoor het Duitsland ‘n verskrikike prys betaal naamlik dat hy die oorlog verloor het.
Nog ‘n bron van die volkereg is die opinies en beslissings van die hoofregsorgaan van die VVO nl. die Wêreldhof, met setel in Den Haag. Die primêre funksie van die Wêreldhof is om internasionale dispute tussen soeweine state te skik en om adviserende menings te verskaf oor regsvrae wat deur die VN aan hom voorgelê word. Sommige lesers onthou miskien nog die groot gedinge van die vyftiger- en sestigerjare waarin die Wêreldhof versoek is om ‘n opinie rakende Suid-Afrika se administrasie van Suidwes-Afrka te verstrek. ‘n Sleutelelement, ooreenkomstig die beginsels van die volkereg, in die Suidwesgeskil was dat dit van ‘n internasionale aard moes wees, d.w.s. dat minstens twee soewereine state in die geding betrokke moes wees, in hierdie geval dus Suid-Afrika en Suidwes-Afrika. Suidwes-Afrika was egter geen soewereine staat nie, maar was volkeregtelik ingevolge ‘n mandaat van die Volkerebond onder Suid-Afrikaanse beheer. Oor hierdie punt is eindeloos geredekawel. Daarbenewens is die geding nie deur enigeen van die hoofpartye aanhangig gemaak nie, maar deur Ethiopië en Liberië.
Die beslissing van die hof was tereg dat die partye wat die geding aanhangig gemaak het, nie ‘n direkte belang by die aangeleentheid gehad het nie en het hulle aansoek verwerp. Die Hof het dus die vraag of Suid-Afrika se administrasie van Suidwes regmatig was, gesystap en so die deur oopgelaat vir die VN om voort te gaan met sy program van strafmaatreëls en sanksies teen Suid-Afrika. Hier was dus ‘n duidelike geval van gebrekkige regstoepassng en die reg moes uiteindelik swig voor politiekery, die Achilleshiel van die internasionale reg.
Die inmenging van die VVO in die huishoudelike sake van ‘n soewereine staat, Suid-Afrika, was sekerlik anti-volkeregtelik. Maar daar is ander voorbeelde : Die inval in Irak deur die VSA was een van die blatantste gevalle en insgelyks die moord op Moeammar Ghaddafi. Ook die verklaring deur Amerika van Israeliese “soewereiniteit” oor die Golanhoogland, wat deel is van die soewereine staat, Sirië en die eensydige uittrede van die VSA uit die multilaterale internasionale kernsperverdrag met Iran. Die VSA se onttrekking aan die internasionale verdrag oor klimaatsverandering wat in 2016 in Parys onderteken is deur so te sê alle lande van die wêreld onde rmeer die VSA, was tegnies wel regmatig (‘n klousule in die verdrag het hiervoor voorsiening gemaak), maar die onttrekking word wêreldwyd as strydig met die gees van die verdrag ervaar.
Om verskeie redes is dit hoogs te betwyfel of die jongste aanval deur die VSA teen Iranese militêre teikens in Irak ooreenkomstig die volkereg geskied het. In reaksie daarop het Iran onmiddellik aangekondig dat hy sy kernwapenprogram in hoogste rat hervat en het die Irakese regering Amerika versoek om sy militêre personeel uit Irak te onttrek, iets wat die VSA weier om te doen. Enkele dae ná die aanval op hulle generaal skiet die Iranese weermag ‘n burgerlike vliegtuig neer met 176 passasiers aan boord. Dis hoe dit gaan wanneer die reg van die oerwoud in internasionale betrekkinge oorneem.
‘n Betreklik onlangse verwikkeling in die Volkereg is die erkenning deur die VN van volksmoord (genocide) as ‘n misdaad . Hierdie vertakking het sy oorsprong in die vervolging van Jode gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Volksmoord is streng gesproke nie ‘n volkeregtelike aangeleentheid nie, want konflik tussen soewereine state is selde ter sprake. Nietemin, word volksmoord soos bv die uitroeiïng van Armeniërs deur die Turke, of die massamoord teen die Kambodjaanse bevolking deur die monsteragtige Pol Pot of die volksmoord teen die Toetsi’s deur die Hoetoes in Rwanda of die massamoorde deur die Sowjetunie en Mao Tsetoeng se Rooi Sjina algemeen deur die beskaafde wêreld veroordeel. Of die VN wel bereid of in staat is om iets omtrent sulke gevalle te doen, is ‘n ander vraag, maar ervaring tot dusver dui eerder op die teendeel.
In die jongste tyd was daar ook vervolgings deur die Wêreldhof teen bewindhebbers, staatshoofde ens. op aanklagte van “misdade teen die mensdom” en “oorlogsmisdade” in hul eie lande. Die geval van die voormalige Serwiese president, Slobodan Milosevic in 2006 is ‘n voorbeeld hiervan.
Is dergelike vervolgings egter van volkeregtelike aard ? Waarskynlik nie.
Van watter betekenis is dit alles vir ons as Afrikaners? Soos beklemtoon, is die volkereg in beginsel gemoeid met betrekkinge, vriendelik of vyandig, tussen soewereine state. Die volkereg bemoei hom in beginsel nie met die lotgevalle van indiwidue nie, behalwe waar dit gaan om politiekery en die enkele situasies wat hier bo geskets is. Weliswaar is daar in die jongste tye tekens van volkeregtelike erkenning van indiwidue, “vryheidsbewegings” ens., maar of die VN enige beskerming van hierdie aard aan blanke Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners sal verleen, kan elkeen maar vir homself uitmaak. Dr Roodt maak in sy artikel oor die Finne melding van talle klein volke wat oor eeue vir hulle vryheid en onafhanklikheid moes veg. Die sleutelwoord is veg, m.a.w. stry. En verder hulle hoop vestig op die gelukskoot. ‘n Interessante geval van ‘n gelukskoot is dié van Skotland wat die Brexit-verwikkeling gaan aangryp om onafhanklik van die “Verenigde” Koninkryk te raak.
Onder dié wat moes stry vir hulle vryheid was ons miskien die uitsondering wat sy vryheid sonder stamp of stoot prysgegee het. Die groot Franse dramaturg van die sewentiende eeu, Corneille, praat van die skande van te sterwe sonder om te veg. Maar hierdie is ‘n onaangename waarheid waarvan ons seker maar moet probeer vergeet.
Ten spyte van alles kry ‘n mens steeds die gevoel dat dit in die internasionale verkeer ten slotte tog maar die magtiges is wie se wil deurslaggewend is. Gedurende al die jare waarin die Sowjetunie tientalle kleiner volke oorheers, onderdruk en uitgemergel het, het die Verenigde Nasies weinig of niks uitgevoer om hulle lot te verlig nie. Ook in hierdie geval was dit maar net weer ‘n gelukskoot wat hierdie volke van die kommunistiese juk bevry het in die vorm van die byna onverwagse ineenstorting van die Sowjetgedrog.
Ten einde ‘n subjek van die volkereg te kan wees, m.a.w die houer van volkeregtelike regte en verpligtinge, sal ons op die een of ander manier aanspraak moet kan maak op ‘n vorm van soewereiniteit, dit wil sê ‘n gemeenskap van mense met ‘n eie identiteit wat homself regeer of minstens die potensiaal moet hê om dit te kan doen, op ‘n bepaalde grondgebied en met die vermoë om internasionale betrekkinge te kan aanknoop en onderhou. Is dit op die oomblik die geval? Dit sal ons volgehoue strewe moet wees en ook sal ons hierdie oogmerk daadwerklik moet bereik voordat daar enigsins ‘n kans sal wees op volkeregtelike erkenning. Vir ons voortbestaan as ‘n volk is hierdie die hoogste prioriteit.
In een van haar eerste amptelike optredes het die nuut aangewese president van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, onlangs ‘n portefeulje (agentskap of ministerie) geskep “om die Europese lewenswyse te beskerm”, ‘n maatreël wat plaasvind binne die raamwerk van immigrasiebestuur. In die eerste plek is dit duidelik dat as sy haar hiervoor beywer, dit noodsaaklik geword het, maar verder is dit insiggewend dat haar inisiatief ‘n storm van verontwaardiging in die Europese media en politieke kringe ontketen het wat haar genoop het om die naam van die portefeulje te verander na “Portefeulje om die Europese lewenswyse te bevorder”(!).
Meer en meer koerante en skrywers begin wys op die geleidelike verswelging van Wes-Europa deur immigrante uit Afrika en die Moslemlande. Dapper enkelinge wat probeer wal gooi, doen dit in die aangesig van ‘n arsenaal van links geïnspireerde staatswette : wette teen diskriminasie, teen haatspraak, teen rassisme, teen islamofobie, teen verwysings na instroming, besetting, omgekeerde kolonisering en wat ook al nog deur die verwronge verbeeldingskrag van linkses en politiek korrektes (dieselfde ding) voortgebring kan word. Praatjies en lesings by universiteite wat op die ontstellende ontwikkelings wys, word verbied deur aanwending van die goedkoop foefie dat die spreker nie die “openbare veiligheid” kan waarborg nie. Elemente wat inderdaad die openbare vrede versteur, word egter wel toegelaat.
‘n Goeie voorbeeld is Thilo Sarrazin. Sarazin is ‘n Duitse ekonoom met ‘n indrukwekkende loopbaan in die akademie, die politiek, verskeie Duitse ministeries, waaronder die Ministerie van Finansies en verskillende groot sake-ondernemings, banke en nog meer. Ten tye van sy gedwonge aftrede in 2010 was hy op die direksie van die Deutsche Bundesbank, oftewel die Duitse Reserwebank. Waarom dan was sy aftrede gedwonge ? Wel, die rede was dat hy in 2010 ‘n boek gepubliseer het getiteld, Deutschland schafft sich ab (Duitsland skaf homself af) wat handel oor ? … die verswelging van die Duitse samelewing deur ? … Moslem immigrante. Sarrazin is terstond uit sy pos by die Reserwebank ontslaan en het nooit weer enige ander noemenswaardige posisie beklee nie. Enkele dapperes is daar dus wel, maar hulle eindig op die ashoop van die Europese samelewing.
Groot dele van talle Europese stede is vandag niks anders nie as lokasies, kompleet met dwelms, geweld, diefstal, beskadinging en roof van openbare eiendom, besetting van geboue, misdadigheid van allerlei aard, maer honde, smerige strate, haarkappery op die sypaadjies, kortom al die handelsmerke van die Afrika-kultuur waarmee ons in Suid-Afrika daagliks saamleef. Die Europeërs vind dit kleurvol. Honderdduisende van hulle onderneem nogtans jaarliks die lang reis na Suid-Afrika om ‘n pelgrimsbesoek te bring aan Kaylelitsha en Soweto. ‘n Mens wil naar word.
Elders op Praag is die onbeteuelde instroming van immigrante uit die Derdewêreld na Wes-Europa breedvoerig bespreek. Hierdie verskynsel is ‘n simptoom van die siektetoestand wat in Wes-Europese lande vaardig is en waaraan die regerende elite ‘n groot aandeel het. Sommige van hulle is bloot onwillig of onmagtig om die instroming — wat inderdaad ‘n oorstroming geword het — hok te slaan, maar ander moedig die instroming van swartes en Moslems selfs aktief aan omdat hulle dit sien as ‘n bron van goedkoop arbeid om die rykes nog ryker te maak. Die prominente Britse skrywer en joernalis, Douglas Murray wys in sy boek, The Strange Death of Europe daarop dat die dood van Europa ‘n bewuste keuse van Europeërs is. Miskien is dit meer korrek om te sê dat dit die keuse van die Europese heersersklas is. Maar hulle begin stadigaan die prys vir hulle onbesonnenheid betaal.
As die Europese regerende elite dan willoos, hulpeloos en gelate toekyk hoe hulle beskawing letterlik besig is om te verdwyn, is dit egter nie so gesteld met die algemene bevolking nie. In talle Europese lande is daar ‘n onmiskenbare reaksie onderweg van bevolkings wat behoudend en nasionalisties is, asook keelvol vir wat besig is om met hulle te gebeur. In Frankryk, byvoorbeeld is die Rassemblement National van Marine Le Pen reeds die grootste enkele party. In die pas afgelope verkiesings in Spanje het die regsgesinde VOX-party se steun vermeerder van 24 setels in die parlement tot 52 setels. Daar is ook sterk en groeiende nasionalistiese partye in Skotland, Oostenryk, Italië, Pole,en Hongarye en hulle steun neem by die dag toe. Die Brexitbeweging kan op sy afkophoendermanier ook beskou word as ‘n nasionalisiese reaksie. Die regerende elite lê natuurlik allerlei struikelblokke op die weg van behoudendes om op demokratiese wyse vordering te maak. In die jongste algemene verkiesing in Frankryk het die party van Marine Le Pen 23% van die totale stemme gekry, maar slegs 8 van die 577 lede van Nasionale Vergadering is afkomstig uit haar party, oftewel ietsie meer as 1%. Demokraties!
Die sogenaamde ” mandaat ” wat die verkose leiers van die bevolking ontvang, is bloot ‘n mandaat in naam. In werklikheid regeer die Europese politici met ‘n mandaat van die groot finansiële instellings, onder meer die banke. Die wette waarvolgens Europeërs leef, word deur die Europese parlement gemaak of goedgekeur en die Europese Parlement en Kommissie word totaal deur die geldmagte voorgeskryf. (Sien in hierdie verband ook my rubriek oor die seekatvampier van 27 Julie 2016). Hierdie werklikhede is stadigaan besig om deur te dring tot die bewussyn van die algemene Europese bevolkings.
Dit skyn dus asof Europa begin ontwikkel in die rigting van ‘n gesplete samelewing met aan die een kant mense wat nog waarde heg aan die nasiestaat, Europese tradisies en kultuur en aan die ander kant die globaliste wat aan Europese tradisies geen erg het nie, met hulle gevolg van bruikbare idiote in die media en elders agterna.
Daar is Europese denkers en skrywers wat selfs begin dink in die rigting van “paralelle instellings” en ” paralelle geografiese gebiede “, ‘n aanduiding van hoe ver die verrotting reeds gevorder het. Lappies aarde op ‘n vasteland met ‘n beskawingsgeskiedenis van duisende jare ? Lyk alteveel na apartheid in die hart van Europa. Net in hierdie geval sou dit eerder blankestans wees as bantoestans. Die enigste aanduiding van paralellisme vir die oomblik is egter nie dié van beleërde Europeërs nie, maar van juis van die nuwe derdewêreldse intrekkers. Groot gedeeltes van veral stadsgebiede in Engeland en Frankryk en ander Europese lande is reeds vir die polisie, ambulansdienste, posdienste en ander staatsinstansies onbegaanbaar en word letterlik deur vreemdelinge, insluitend dwelmhandelaars en soortgelyke kriminele elemente, regeer.
Die oomblik waarop ‘n vloed gekeer moet word, is wanneer die eerste krakie in die damwal verskyn. As die wal eers gebreek het, is dit te laat. Ons Nederlandse vriende sal begrip hê vir hierdie analogie “Parallelle oplossings” kan miskien in Suid-Afrika ‘n goeie idee wees, maar in Europa? Is die “parallelle oplossings” nie maar net ‘n poging om nuwe dammetjies te bou nie wat op hulle beurt ook gaan breek, soos ons in die Wes-Kaap reeds ondervind het: eers kom die goedkoop arbeid, dan die vrouens en ooms en tantes en nefies en niggies en die swerms kleintjies en siedaar! ons is kop onder water. Ons het dit alles reeds beleef : oorwig van getalle, stemreg, mag, oorheersing en verval. Suid-Afrika bly maar eenmaal ‘n patroon van wat wêreldwyd gebeur.
Nuwe dammetjies is net nie die antwoord nie. Die enigste antwoord is ‘n reusagtige poging om die damwal te herstel en die vloed om te keer. Maar eers moet die Europeërs die skade van die dekade lange breinspoeling herstel voordat hulle hierdie stroom gaan keer. So’n proses neem egter tyd en tyd is juis dít wat kortkom.
Binne enkele weke breek die oomblik uiteindelik aan vir Brittanje om die Europese Unie te verlaat. Of liewer, so lyk dit, want op daardie eilandjie is niks meer seker nie. Selfs in hierdie laat stadium is finaliteit oor die vorm wat hierdie uittrede moet aanneem, nog steeds nie in sig nie. Die huwelik tussen Brittanje en die Europese Unie was nooit ‘n gelukkige een nie. Gedurende die verlowingstadium al is die verhouding herhaaldelik verbreek en die egskeiding gaan skynbaar nog pynliker wees as wat die huwelik was.
Hierdie wankelmoedige verhoudiing lê aan die wortel van die Engelse se besluit om formele bande met die Europese Unie te verbreek. As rede waarom hulle dit juis nou wil doen, word aangevoer die invloei van werkers uit Oos-Europa, Pole, Tsjeggië, Roemenië ens. wat bereid is om vir laer salarisse te werk en dus die Engelse werkers se arbeidsekerheid in gevaar stel.
Eienaardig genoeg het die Engelse minder beswaar teen die instroming oor baie jare reeds, van Indiërs, Pakistani’s en Nigeriërs.
Maar nou het dit tyd geword om die tasse te pak. En nog steeds word geredekawel oor of daar ‘n ooreenkoms moet wees of nie, of daar vir verdere uitstel onderhandel moet word of nie , of gelde wat deur Engeland aan die EU verskuldig is, betaal moet word of nie en selfs of daar weer ‘n referendum oor uittrede gehou moet word, ensomeer.
Maar die mees tergende probleem is die posisie van Ierland. Die situasie is naamlik, soos ons weet, dat Noord-Ierland (of Ulster) ‘n Engelse provinsie is terwyl Ierland (Eire) ‘n onafhanklike republiek is. Wanneer Engeland dan finaal uittree uit die Europse Unie beteken dit dat Ulster outomaties ook uittree terwyl die Ierse Republiek lidland van die Europese Unie bly. En dit beteken op sy beurt natuurlik ‘n grens tussen Ulster en die Ierse Republiek met grenspolisie, doeaneposte, grensbelastings en wat ook al met grense tussen lande gepaard gaan.
Ná jare van vrede en vrye beweging tussen Ulster en Ierland is ‘n harde grens ‘n nare vooruitsig wat deur alle partye vermy wil word. Om hierdie situasie te beredder, het die Europese onderhandelaars ‘n oplossing aan die hand gedoen wat gerieflikheidshalwe die ” Backstop position” genoem word. Die Backstop position kom daarop neer dat wanneer Engeland uit die EU tree, dan is die EU bereid om vir ‘n onbepaalde oorgangstydperk toe te laat dat daar geen harde grens tussen Ulster en Ierland sal wees nie. Dit beteken dus voortdurende vrye beweging van mense en goedere heen en weer. Die Engelse sien in hierdie oplossing die spook van vereniging van die twee ” Ierlande”, ‘n spook wat hulle hare laat regop staan. ‘n Aspek wat hiermee saamgaan, is dat die Britse Konserwatiewe Party deurgaans die wense in ag moet neem van die Ulster-parlementslede sonder wie se steun die party nie aan die lewe kan bly nie.
Die Engelse het dus ‘n stokkie gesteek voor die Backstop-oplossing wat die hele onderhandelingsituasie steeds totaal oop laat. In hierdie (laat) stadium is daar na jare van onderhandelings dus nog geen uittree-ooreenkoms nie en ook nog geen verstandhouding oor wat in Ierland gaan gebeur nie. Het iemand gepraat van afkophoenders of verkeerdeveerhoenders? ‘n Ooreenkoms wat mev Theresa May met die EU beding het, is deur die Britse parlement verwerp. Mnr Johnson, knaend oorhoops met sy eie parlement oor hierdie of daardie aspek van Brexit, het onlangs selfs sover gegaan as om die Britse parlement te ontbind, iets wat die Britse Hoërhof terstond weer ongeldig verklaar het.
Hierdie tameletjie skep natuurlik ondraaglike probleme vir die duisende Europeërs wat in Engeland woon en werk en dieselfde vir Engelse wat in Europa woonagtig is.
‘n Ontwikkeling wat ook nog onder die oë gesien moet word, is dat die Skotte, wat nie ten gunste van Brexit was nie, na die Britse uittrede uit die EU van die Verenigde Koninkryk mag afskei. Daarna sal daar nog ‘n koninkryk wees, maar weinig meer om te verenig.
Mnr Johnson het pas teruggekeer van Brussel waar ‘n nuwe ooreenkoms bereik is oor Britse uittrede uit die EU. Die ooreenkoms verskil in geringe mate van dié wat bereik is met mev Theresa May ‘n jaar gelede, wat deur die britse parlement verwerp is en tot mev May se bedanking gelei het. Die Britse parlement het die naweek (19 Oktober) oor mnr Johnson se ” nuwe ” ooreenkoms gestem en dit ook verwerp. Hierdie week word weer oor die ooreenkoms gestem en skynbaar ook oor ‘n voorstel om die datum van uitttrede uit te stel.
Dit is wat ‘n mens ‘n fiasko noem en die vraag is wie nou eintlik vir die fiasko verantwoordelik is.
Minstens hierop is die antwoord redelik duidelik. Engeland het ‘n probleem geskep toe hulle ná jare se wik en weeg uiteindelik toegetree het tot ‘n gemeenskap waarvoor hulle in die eerste plek nie eintlik tande gehad het nie en waaruit hulle nou na vyftig jaar van lidmaatskap wil padgee. En as ‘n mens mooi nadink, het hulle die probleem in Ierland ook geskep deur in die eerste plek ‘n Britse kolonie daar te vestig. Dit is m.a.w. die soort gemors wat hulle wêreldwyd nagelaat het waar hulle kolonies gehad het, insluitende in ons eie land.
Dit voel soos gister dat Colin Powell die buisie met ‘n monster van Irak se “wapen van massavernietiging ” aan die wêreld vertoon het. Hierdie foefie was ‘n genoegsame voorwendsel vir ‘n Amerikaanse militêre inval in Irak. Soos ons almal nou weet, was daar toe nooit enige wapens van massavernietiging in Irak nie.
En hier kom mnr Trump jou gedoriewaar weer met ‘n slenter van dieselfde aard: Iran is verantwoordelik vir die hommeltuigaanslag teen die olievelde van Saoedi-Arabië. Amerikaanse troepe en militêre toerusting is reeds onderweg na Saoedi-Arabië om te gaan help. In ‘n gesamentlike verklaring ondersteun mnr Johnson, mnr Macron en mev Merkel die Amerikaanse standpunt weer klakkeloos, soos gewoonlik. As rede vir hulle bevinding voer hulle aan dat Iran skuldig moet wees, aangesien daar geen ander bevredigende verduideliking is nie. Dis die presidente van die Weste se voorste moondhede wat só redeneer! Die Midde-Ooste wemel tog van terroriste van alle kleure en geure wat so’n aanval sou kon uitvoer. Die enigste belang wa Engeland, Frankryk en Duitsland in die geskil het, is om die Amerikaners na die mond te praat.
Maar laat ons mekaar mooi verstaan. Dit gaan hier nie om ‘n pleidooi ten gunste van Iran in die algemeen nie. Die Iranese regime is sekerlik nie iets moois nie, om by vroueregte maar te begin. Dit gaan om beskuldigings van bombardemente van die Saoedi-Arabiese olievelde. Vir vroueregte in Iran voel die Amerikaners in elk geval vere, net soos hulle vere voel vir vroueregte in Saoedi-Arabië of vir die verpletterde bevolking van Jemen.
Iran is dus “skuldig” aan die aanval in Saoedi-Arabië. Die vraag wat ontstaan is waarom die Saoedi’s dan nie self hulle verdediging kan waarneem nie. Amerika, Engeland en Frankryk lewer jare lank reeds die modernste wapentuig ten bedrae van miljarde dollars aan Saoedi-Arabië. Die Saoedis gebruik hierdie wapentuig wel om ‘n vernietigende oorlog te voer teen die bykans hulpelose staatjie van Jemen, sonder dat dit skynbaar die Amerikaners, Franse of Engelse enige slapelose nagte besorg. Maar om hulleself teen ‘n hommeltuigaanval te verdedig, moet die Amerikaners kom help.
Dis duidelik dat Amerika oorlog soek in die Midde-Ooste. Hulle het nog steeds nie die situasie in Irak bevredigend bygelê nie en het nog altyd troepe daar. So ook in Sirië, Libië en Afghanistan waar hulle die afgelope 20 jaar reeds vasgeval sit en waar dit al hoe duideliker begin word dat hulle die stryd aan die verloor is. En dan praat ons nie eers van hulle jammerlike mislukkings in Viëtnam, Somalië en elders nie, maar dit is vir die Amerikaners natuurlik antieke geskiedenis.
Vraag is ook waarom Saoedi-Arabië ‘n bondgenoot van Amerika is en Iran ‘n vyand. Hulle is mos maar soos vinkel en koljander. In Saoedi-Arabië, Amerika se groot bondgenoot, is dit moontlik dat selfs minderjariges tot die dood deur kruisiging veroordeel kan word vir ‘n oortreding so gering as om aan ‘n betoging deel te neem.
Wat kan die beweegrede dan wees vir die Amerikaanse bemoeienis met die Midde-Ooste? ‘n Vanselfsprekende rede is natuurlik olie. Die Midde-Ooste beskik oor die wêreld se grootste oliebronne. Maar daar is ook die belange van Amerika se ” bondgenote” in die Midde-Ooste wat gedien moet word. Die Amerikaners probeer voorts om deur militêre optredes hulle ekonomie te stimuleer en terselfdertyd die aandag af te lei van die dreigende ekonomiese ramp wat hulle in die gesig staar. Maar die belangrikste rede is waarskynlik is dat die Amerikaners probeer om ‘n kordon te span rondom Rusland, wat in die pad staan van hulle strewe na wêreldoorheersing.
Al waarop die res van die mensdom kan hoop, is dat die Amerikaners ons nie almal saam met hulle oor die afgrond sleep nie.
As dít alles ‘n bietjie deumekaar en teenstrydig voorkom, is dit geen wonder nie. Die dae van pres De Gaulle, mnr Adenauer, mev Thatcher en dr Verwoerd is verby. Die Weste is in die hande van afkophoenders.
Daar kry die dol hond in die Withuis toe sy dag van glorie om drie vermeende installasies vir “chemiese oorlogvoering” in Sirië aan te val, met Frankryk en Engeland njaf-njaf agterna.
‘n Mens sou kon vra wat is nou eintlik bereik en wat was die doel met die drieledige aanval (VSA 90% , Eng 5%, FR 5%). Die ander twee ook daar net om bek te lek. Was dit om Rusland tot een of ander aksie te provokeer en hulle dan te beskuldig van die aggressor te wees ? Was dit dalk om mede-dolhonde in die tuisgalery in die VSA gelukkig te hou of verlore openbare steun te herwin? Of was dit bloot ‘n poging van die groot hond om te wys hoe macho hy kan wees?
Interessant is dat die aanval plaasgevind het op dieselfde dag dat die inspeksie van die Agentskap vir die Verbod op Chemiese Wapens sou begin. Herinner sterk aan die situasie in 2003 toe George Bush Irak aangeval het nog voordat mnr Hans Blix se ondersoek voltooi was, maar wat reeds voorlopig bevind het dat daar geen wapens van massavernietging in Irak was nie, soos mettertyd geblyk het ‘n feit te wees: Geen wapens van massavernietiging in Irak.
Ook interessant is dat Amerika telkens hulle propaganda en militêre aanslae teen regerings wat hulle in eie belang wil verwyder (“regime change”), grond op gefabriseerde aanklagte van die vervaardiging, besit en gebruik van chemiese wapens, so asof hierdie towerwoord aan hulle die reg verleen om links en regs missiele af te vuur en bomme te gooi. Natuurlik is die Amerikaanse geheue te kort om te onthou dat hulle die enigste land ter wêreld is wat wapens van massavernietiging op groot skaal gebruik het, tydens die atoombombardement van Hirosjima en Nagasaki, asook die massiewe aanwending van chemiese wapens in Viëtnam.
Ook verskaf die Amerikaners, soos die Engelse en Franse, die afgelope vier jaar reeds massas wapens aan Saoedi-Arabië vir gebruik in ‘n letterlike volksmoord op die mense van die Jemen waarin derduisende volwassenes, vrouens en kinders reeds gedood en vermink is, skole en hospitale en ander infrastruktuur vernietig is, ens. Vreemd genoeg praat die media nie hiervan nie. Dit kan net wees omdat die mense wat die media besit dieselfde is as dié wat geld uit die wapenverkope maak.
Tot dusver was daar nog geen duidelike bewys daarvoor dat Sirië of Rusland in die onlangse verlede chemiese wapens gebruik het nie. Die Amerikaners, tesame met hulle skoothonde het nou die sg. chemiese aanlegte in Sirië vernietig sodat dit vir die inspeksiespan onmoontlik sal wees om te sertifiseer of dit wel chemiese aanlegte was of nie. Die Amerikaners het bloot die bewys dat hulle lieg, weggeblaas.
Die blote feit dat chemiese wapens iewers gebruik is, is vir die Amerikaners, en hulle Engelse en Franse brakhonde genoeg om die skuld daarvoor op Rusland te pak. Die regering van mev May werk die afgelope weke daaraan om die skuld vir die aanslag teen Sergei Skripal en sy dogter Joelia, op die Russe se rekening te plaas, natuurlik om sodoende die Amerikaners ter wille te wees.
Enkele aspekte stem egter tot nadenke:
Eerstens is die aanval op Skripal en sy dogter gedoen agt jaar nadat hy as spioen in Rusland werksaam was. Voorts is volgens mev May ‘n uiters giftige gas in die aanslag gebruik wat nie alleen die lewens van Skripal en sy dogter bedreig het nie, maar ook ander mense in die omgewing. Tog, as ‘n mens kyk na foto’s wat na die tyd geneem is van die toneel van die sg. moordaanslag, dan sien ‘n mens personeel van die polisie, ens. met swaar maskers en oorpakke terwyl dosyne ander mense onbeskerm in die nabye omgewing rondloop. Die maskers en oorpakke is duidelik ‘n maskerade van mev May se regering. En as die Russe dan agt jaar na die tyd van ‘n spioen ontslae wil raak, sal hulle dit doen deur middel van ‘n gasaanval in die openbaar en as’t ware hulle handtekening daarop laat soos mev May dit tot vervelens toe beskryf? Is daar dan nie veel meer diskrete maniere om dit te doen nie? Is dit tipies van die Russe om so pateties onbeholpe en amateuragtig te wees ?
Skripal is ‘n Rus wat, voordat hy hom permanent in Engeland gevestig het, ‘n spioen in diens van Engeland in Rusland. Die Russe het hom ontdek, gearresteer en verhoor en tot gevangenisstraf gevonnis. Uit Russiese oogpunt was hy dus skuldig aan hoogverraad waarvoor hulle hom kon hang. Hy is egter kort daarna in ‘n uitruilooreenkoms van spioene toegelaat om na Engeland te verhuis. Sou die Russe dan nou nie gedurende sy aanhouding en gevangenskap ‘n geleentheid kon bedink om hom weg te maak nie? Waarom agt jaar wag om dit in ‘n ander land te gaan doen?
Deskundiges oor chemiese oorlogvoering het ná die voorval beklemtoon dat indien die stof wat in die aanval op Sergei en Joelia Skripal gebruik is, wel Nowitsjok was, soos mev May telkens beweer, die Skripals en ander mense wat na die aanval daarmee in aanraking was, binne enkele ure dood sou wees. Tot dusver was daar nog geen bewyse, ontledings ens., deur mev May aangevoer dat die stof wat gebruik is, wel Nowitsjok was nie.
Veel waarskynliker is dat die Engelse geheimedienste self die aanslag op Skripal en sy dogter beplan en uitgevoer het en na ‘n aanval deur Rusland laat lyk het. Daarom dan ook dat mev May weier om bevindings van ‘n “ondersoek” na die insident bekend te maak, of aan die Russe te verskaf.
Wat die Russe nou gaan doen en of hulle iets gaan doen, sal ons maar moet wag om te sien. Russiese belange is natuurlik nie in die aanval regstreeks getref nie. Dis dus onwaarskynlik dat hulle iets sal doen, maar as hulle wel wraak neem vir die aanval, dan het ons oorlog.