Op Maroela Media van 31 Mei lewer dr Leon Schreiber ‘n sterk betoog teen die besluit van die Universiteit van Stellenbosch en die Departement van Hoër Onderwys om Afrikaans amptelik tot “uitheemse” taal te verklaar wat geen regte aan universiteite en in Suid-Afrika as geheel verdien nie. (Hierdie besluit hou terloops ook verband met die grondwetlike verbod om teen gemeenskappe en indiwidue te diskrimineer, wat ek elders op Praag bespreek.)
Dr Schreiber betoog dat Afrikaans wel ‘n inheemse taal is en daarom erkenning waardig is en dis ‘n betoog wat ons uiteraard graag wil onderskryf. Dis egter net vreemd dat dr. Schreiber die kardinale punt nalaat, naamlik dat Engels, wat wel deur die Departement en die Universiteit van Stellenbosch erken en bevorder word, by uitstek ‘n uitheemse taal is, trouens die enigste werklik uitheemse taal wat in Suid-Afrika gepraat word.
Dit is duidelik dat Afrikaans ‘n taal van Nederlandse oorsprong is, maar dat dit tot sy huidige vorm hier plaaslik, d.w.s. inheems ontwikkel het. Daarbenewens word dit deur ‘n groot gedeelte van die Suid-Afrikaanse bevolking gebruik en voorts was dit ook vir baie jare een van die land se amptelike tale. Daar bestaan dus omvangryke bronne van amptelike dokumente in Afrikaans asook ‘n menigte waardevolle werke van akademiese en literêre aard. Dis ook so dat die die Suid-Afrikaanse regspraak (bevindings van die howe) oor ‘n tydperk van letterlik eeue hoofsaaklik in Afrikaans was. Sonder verwysing na hierdie regterlike beslissings is die regspleging in Suid-Afrika net nie moontlik nie. Die ANC-regering gaan nou seker al hierdie regbeslissings in Engels laat vertaal wat gewoon gek sou wees.
Dis net instansies soos die Departement van Hoër Onderwys en sy karperdjie, die Universiteit van Stellenbosch, wat in hulle politieke en ideologiese fanatisme erkenning sou wou ontneem van ‘n taal en sy mense wat ‘n betekenisvolle en selfs deurslaggewende rol gespeel het in die ontwikkeling van die land en sy instellings en inderdaad in die stigting van die Universiteit van Stellenbosch self.

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.