praag.co.za

Category: Maretha Davel Joubert

Maretha Davel Joubert is ‘n musiekonderwyseres in Skotland.

  • ‘n Afrikaner in Skotland – die goeie deel

    ‘It’s in the southern hemisphere,’ gee ek hulle nog ‘n leidraad.

    ‘Mexico! Amaêrica! Austraêlia!…’

    Tot iemand uiteindelik reg raai. ‘Africa!’

    ‘Well done! I’m from South Africa.’

    ‘n Silte daal oor die klas neer en ‘n outjie steek sy hand op.

    ‘Hoe come yoo’re white if yoo’re from Africa?’

    Op daardie oomblik het ek geweet: Skotland gaan ‘n tuiste word.

    Ons het aanvanklik besluit om noord te trek as gevolg van die oorbevolking in Engeland. Dít, eerder as die hoë lewenskoste en besoedeling naby Londen, het ons gemotiveer om onsself weer eens te ontwortel. My man begeer al jare lank om in Skotland te woon, waarskynlik as gevolg van fantasieë oor die wilde Wikinge en die oorvloed enkelmoutwhiskey. Na ‘n kort vakansie in Edinburgh en Fife, het die skoonheid en andersheid van die omgewing my ook oorweldig en was dit nie moeilik om die finale besluit te neem nie. En hier is ons nou!

    Ek het begin werk soek en moes weer van voor af goedkeuring kry om onderwys te gee. Mens sou dink my kwalifikasies en blink-nuwe Engelse onderwysregistrasie sou genoeg wees, maar nee. Die Skotte vertrou hulle bure omtrent net soveel soos ‘n skaap ‘n honger wolf en dus moes ek opnuut aansoek doen vir onderwysregistrasie. Enige voornemende onderwyser wat belangstel om hier te kom werk, kan gerus kennis neem van die feit dat die  Skotse registrasieproses soveel meer gebruikersvriendelik as díé van Engeland is, veral vir Suid-Afrikaners.

    Die komplekse verhouding tussen die Engelse en Skotte is vir my as buitestaander ‘n bron van vermaak – seker vergelykbaar met die gekibbel tussen die Transvalers en Kapenaars. Vandat ons ons planne om na Skotland te verhuis bekend gemaak het, het ons Engelse vriende luidkeels hulle misnoeë te kenne gegee. Dit sou meer aanvaarbaar wees om na Suid-Afrika terug te keer, maar Skotland toe?!

    ‘It’s too cold there, you’re crazy!’

    ‘Uh, you know, we are from South Africa, the weather is kind of relative,’ het ek probeer verduidelik.

    Maar hulle het gedink ons is van lotjie getik, behalwe die enkelinge wat hou van golf en rugby. Vir hulle het die skuif min of meer sin gemaak. Een van my kollegas het my in haar deftige aksent meegedeel dat die Skotte agterlik is, maar aangesien ons van Afrika kom sou ons miskien tuis voel … A-hemmm!!! Dat ‘n opgevoede persoon so stompsinnig kan wees gaan my verstand te bowe, maar soms kan die Engelse te veel van hulself dink. (Nes die Kapenaars.)

    Die meeste Engelse dink nie veel van hulle Skotse bure nie, en dit wil voorkom of die gevoel wederkerig is. Die antagonisme is geskiedkundig van aard: ‘n eeu-oue stryd om grond, godsdiens en rykdom, en dit ten spyte van ‘n bykans identiese genetiese oorsprong.  Klink dit bekend? Om Steven Spielberg losweg aan te haal: ‘Same shit, different country.’

    Die mees opvallende kenmerk van die Skotte is hulle gemoedelikheid en sin vir humor. Nie die geforseerde jovialiteit van die Amerikaners, wat jou omhels en onmiddellik jou naam vergeet nie, maar ‘n opregte belangstelling in mens as individu. Die Skotse boorlinge is van nature gasvry en hulpvaardig. Nuuskierig ook; as buitestaander is dit lekker as iemand in jou belangstel. In die klaskamer, in die winkels en by die veearts word ek steeds uitgevra waar ek vandaan kom, van presies watter deel in Suid-Afrika, waarom ons in Skotland woon en die vraagsteller het gewoonlik ‘n eie brokkie nuus oor of perspektief op Suid-Afrika. In gesprekke van geskiedkundige en politieke aard is dit duidelik dat die Skotte en die Afrikaners baie in gemeen het: hulle het tydens die ‘Highland Clearances’ in die laat 18de eeu hulle eie apartheid beleef, hulle ervaring van die inmengery en geboelie deur die Engelse, asook die interne debatte en konflikte rondom godsdiens en nasionale identiteit wat vandag steeds voortduur. Raakpunte soos hierdie lei daartoe dat ons empatie met mekaar het.

    Ons woon al amper vier maande hier. My Skotse aksent verbeter daagliks – volgens my kollegas – want elke dan en wan glip vreemde woorde soos ‘wee’ en ‘aie’ uit. Ons is gelukkig hier, beplan nie om na ons Moederland terug te keer nie. Hierdie unieke volk, met hulle geheimsinnige voorvaders en kleurvolle geskiedenis, begin wortel skiet in ons harte.

    ‘For that is the mark of the Scots of all classes:

    that he stands in an attitude towards the past

    unthinkable to Englishmen, and remembers and

    cherishes the memory of his forebears, good or

    bad; and there burns alive in him a sense of identity

    with the dead even to the twentieth generation.’

     

    Robert Louis Stevenson

    Voordat Skotland egter soos ‘n nuwe Utopie klink, sal ek in my volgende bydrae ook minder aangename ervaringe deel – van spelfoute in koerante tot ongepoetste skoolseuns.

    мультики про монстров хайФильчаков прокуратура харьков

  • ‘n Afrikaner in Engeland

    Ek is ‘n musiekjuffrou en gee reeds drie jaar lank in die suide van Engeland onderwys.  As buitelander word mens vinnig gedwing om jouself volgens jou land van herkoms en velkleur te klassifiseer of tipeer.  Op al die duisende aansoekvorms vir werk, council tax, en by die Suid-Afrikaanse tandarts moet ek spesifieke inligting aangaande my herkoms verskaf, byvoorbeeld:  Is ek

    A.  Blank             – Engels

                            – Skots

                            – Wallies

                            – Iers

                            – Enige ander blanke agtergrond, of

    B.  Swart (nie "nie-blank" of "coloured" nie, swart!), of

    C.  Asies, of

    D. Sjinees, of

    E. Gemengde ras of, helaas, 

    F.  Gypsy. 

    Ek maak ‘n netjiese merkie by "enige ander blanke agtergrond" en vul "South African" by die oop blokkie in – met gemenge gevoelens, want ek is ‘n Afrikaner, maar meeste Engelse sal dit nie verstaan nie, veral nie die burokrate wat my vorms moet verwerk nie.  Ek het in meeste van die klasse die vraag in my studente se oë gesien, maar hulle is reeds so polities korrek dat niemand durf vra "How come you’re white if you’re from Africa?" nie.

    Die inwoners in suid- en suid-westelike Engeland is oor die algemeen beter ingelig en begryp dat Suid-Afrika ‘n ander geskiedenis as meeste ander Afrikastate het.  Mense wat al voorheen met Suid-Afrikaners in kontak was, vra my dikwels uit oor my Engelse aksent wat, volgens hulle, nie soos die Engels uit dié geweste klink nie.  Dan verduidelik ek geduldig dat ek ‘n Afrikaner is, of ‘n boer (uitgespreek "boor" – pun intended!) en dat Afrikaans my moedertaal is.  Soms speel ek duiwels-advokaat en verduidelik verder dat Apartheid deur my mense georkestreer is. Die arme, verbouereerde, Engelsman/vrou se reaksie wissel gewoonlik van ongeloof tot ‘n verleë laggie, en hulle is teen daardie tyd jammer dat hulle gevra het! 

    My jong studente is meer spontaan – waarskynlik omdat hulle nie weet of omgee wat Apartheid is nie – en vra gewoonlik dat ek iets, verkieslik ‘n vloekwoord, in Afrikaans moet sê.  ‘n Beleefde "Goeiedag, hoe gaan dit?" word met groot entoesiasme nageboots en ek maak dan asof “dankie” ‘n vloekwoord is.  ‘n Paar kwajongens het summier die ander Suid-Afrikaanse onderwyser in die skool bestorm met verskeie “dankies”, tot sy verbasing.  My hoof was veral trots om my aan vreemdelinge voor te stel met "Our music teacher is from South Africa, she speaks Afrikaan."  Ek het nooit die moed gehad om hom te korrigeer nie, want hy het ten minste probeer!

    Afrikaners in Engeland bevind hulle in die tipiese situasie van vreemdelinge.  Soos meeste buitelanders vergader hulle in groepe en woonbuurtes, en Saterdagaande word daar soveel Afrikaans op straat gepraat in Canada Water, Londen, dat jy jou verbeel jy is terug op Tukkies se kampus.  ‘n Opgewonde nuwe aankomeling in Londen het my onlangs, baie in sy noppies, vertel van die plek waar mens – in die einste Canada Water – kan gaan (alkoholvry) sokkie.  Wow!  Hy doen al die moeite om na Engeland te kom, waar hy nuwe dinge kan ervaar, maar verkies om moeiteloos terug in sy gemaklike kulturele dop te kruip.  In Putney is die Zoeloe Bar waar Afrikaanse vermaaklikheidsterre met groot sukses kom optree, en waar die dak gelig word tydens die rugby of krieket se eb en vloed.  Die Chakalaka-restourant word deur ‘n Afrikaanssprekende besit en beheer, en die berugte Springbok bar, in Covent Garden, is onlangs na The Bok Bar herdoop.  Die feit dat hierdie plekke hoofsaaklik deur Afrikaanssprekendes ondersteun word, maak die keuse van name en dekor (etniese motiewe) moeilik om te verstaan.  Is die Zoeloe-kroeg en Xhosa-dekor hier in Engeland ‘n aanduiding van ons Afrikanerherkoms?  Of is almal in Afrika dalk tóg van dieselfde plek, soos my studente duidelik dink? 

    ‘n Ander groep buitelanders, Somalies-Nederlandse vlugtelinge wat in Engeland woon, het by die skool onder my aandag gekom.  Die wedersydse kommunikasie in Afrikaans en Nederlands het ‘n eiesoortige band en begrip tussen ons geskep.  Op ‘n stadium het die einste “band en begrip” my amper in die moeilikheid laat beland toe ek ‘n vloekende meisie, in ‘n oomblik van ergernis, uitskel:  "Jou klein k*k!".  Haar oë het gerek.  "She called me a little sh*t!  Ik verstaat jouw, ik kom van Nederland!"  Ander kere het ons in die klas groot pret gehad deur in Afrikaans en Nederlands te praat, tot frustrasie van die ander kinders.  Tydens ‘n oueraand kon ek ‘n Somaliese ma in Afrikaans vertel hoe stout haar kinders is, en sy kon op haar beurt in Nederlands vir my vertel van hul moeilike omstandighede. 

    Soms wonder ek oor die Engelssprekende Suid-Afrikaners se identiteit – waar hulle nou eintlik regtig tuis voel: as Suid-Afrikaners of as Engelse?  Ek het ten minste ‘n unieke taal om mee te identifiseer – met ‘n eiesoortige kultuur en geskiedenis as basis om die vreemde mee in te vaar.  Ons kom almal goed hier oor die weg, maar ek wonder of hulle nie soms besonder verlore voel nie.  Hoewel ek nou nie eintlik belangstel om op ‘n Saterdagaand te gaan sokkie nie, of op eerstenaamterme met die kroegknapie agter die Zoeloe Bar te wees nie nie, weet ek, ek is ‘n Afrikaner.  ‘n Aanpassing van Sting se liedjie:

    "Oh-ho, ek’s ‘n vreemdeling, ‘n totale vreemdeling,

    Ek’s ‘n Afrikaner in Lon-den!"

    люстрыФильчаков прокурор харьков