praag.co.za

Category: Tegnologie

  • Wonderkuur vir koronavirus van Gilead Sciences?

    Wonderkuur vir koronavirus van Gilead Sciences?

    ‘n Aankondiging gisteraand deur die Amerikaanse farmaseutiese maatskappy wat in virusnavorsing en -medisyne spesialiseer, Gilead Sciences, het ná marksluiting ‘n sprong van drie persent in die S&P 500-indeks veroorsaak, terwyl die maatskappy se eie aandele met 15% boontoe beweeg het. Die maatskappy se middel, remdesivir, wat oorspronklik vir Ebola ontwikkel is, het in ‘n kliniese proefneming in Chicago op 113 ernstige Covid-19-gevalle ‘n wonderbaarlike genesing bewerkstellig sodat slegs 2 uit die 113 oorlede is.

    “Die beste nuus is dat die meeste van ons pasiënte reeds ontslaan is, wat uitstekend is. Ons het net twee pasiënte gehad wat oorlede is,” sê Kathleen Mullane, ‘n spesialis in aansteeklike siekties van die Universiteit van Chicago wat toesig hou oor die remdesivir-toetse by die hospitaal.

    Die aankondiging wat deur ‘n mediese webblad, STAT, in die VSA gepubliseer is, het onmiddellik soos ‘n veldbrand versprei en het oor die afgelope 18 jaar wêreldwye stygings op aandelebeurse veroorsaak. Die meeste Europese beurse het meer as drie persent hoër geopen, met die Londense Footsie 2,33% beter as gister.

    Gilead is ‘n reuse-onderneming wat deel is van die S&P 500-indeks van die 500 grootste Amerikaanse ondernemings. Hoewel dit voorheen kankermedisyne ontwikkel het, spesialiseer dit reeds die afgelope jare slegs in virusnavorsing en antivirale middels, wat onder andere teen MIV en Ebola gemik is. Die maatskappy het reeds ‘n Vigsvoorkomingsmiddel op die mark wat bedoel is vir mense wat “hoë seksuele risiko’s” loop, soos prostitute en homoseksuele. Een van die maatskappy se middels teen die hepatitis-C-virus is vir to $1000 (byna R19000) per pil verkoop. ‘n Kursus van dié medisyne sou die gebruiker $84 000 (byna R1,6 miljoen) uit die sak jaag. In 2018 het Gilead $5,5 miljard netto wins getoon.

    Blykbaar is Gilead met verskeie gelyklopende kliniese proefnemings met remdesivir besig, sowel in Noord-Amerika as in Europa. Totdat dié proefnemings voltooi is, sal daar geen sekerheid oor die middel se doeltreffendheid met betrekking tot Covid-19 wees nie. Verlede maand het president Donald Trump remdesivir voorgehou as een van die middels waarmee Amerika die pandemie sou hokslaan. Toe het die hoofstroommedia dit egter as “praatjies” afgelag.

    Gilead self het egter versigtig op die nuus vanuit Chicago gereageer. “Wat ons op dié stadium kan sê, is dat ons daarna uitsien om die data vanaf huidige studies onder oë te kry sodra dit beskikbaar raak,” het die maatskappy in ‘n verklaring gemeen.

    Die data vanaf die Chicago-proefneming het betrekking op ‘n totaal van 400 ernstige pasiënte en sal binnekort vrygestel word.

    Mullane wou self nie te veel afleidings uit die eerste reeks behandelings maak nie. “Dis altyd moeilik,” sê sy. “Want die ernstige proefneming sluit nie ‘n plasebogroep in om mee te vergelyk nie. Maar dis seker dat toe ons die middel begin gebruik, het die koorskurwes na benede gesak. Koors is nie tans ‘n vereiste vir mense om aan die proefneming deel te neem nie,[maar] as pasiënte wel met hoë koors inkom, sien ons wel dat dit vinnig met die behandeling afneem. Ons het gesien hoe mense binne ‘n dag nadat hulle met die behandeling begin, van die respirators afkom. Dus in daardie opsig, het ons pasiënte alles in ag genome baie goed gedoen.”

    Sy het voortgegaan deur te sê: “Die meeste van ons pasiënte is baie ernstige gevalle en die meeste kon ná ses dae huis toe gaan, dus sê dit vir ons dat die behandeling nie tien dae hoef te duur nie. Ons het baie min wat tot tien dae nodig gehad het, miskien so drie.”

    Indien remdesivir die toets deurstaan en as algemene behandeling vir Covid-19 aanvaar word, behoort Gilead reusewinste te maak. Die Chinese Instituut vir Virologie in Wuhan, die stad waar die virus eerste uitgebreek het, het reeds op 21 Januarie 2020 vir ‘n Chinese “gebruikspatent” aansoek gedoen om die middel in China op Covid-19-pasiënte te mag gebruik.

    Finansiering vir die ontwikkeling van remdesivir is deur die Amerikaanse belastingbetaler voorgeskiet, ten bedrae van $79 miljoen. Gilead het ook ‘n sogenaamde “weeskindmiddel”-status daarvoor op 23 Maart vanjaar verkry. Dié klassifikasie deur die Amerikaanse FDA (Food and Drug Administration) is bedoel vir middels wat deur minder as 200 000 Amerikaners gebruik word en verseker verdere finansiële en wetlike monopoliestatus vir mediese maatskappye, tesame met kwytskelding van belastings en regeringsfooie. Nie net het die Amerikaanse regering dus vir Gilead se middel betaal nie, maar die belastingbetaler loop die risiko om niks van die maatskappy by wyse van belasting terug te ontvang nie.

    Met die styging in koronavirusgevalle in die VSA, lyk dit egter asof meer as 200 000 mense behandeling nodig sal hê. Daarom het die maatskappy teen 25 Maart van die “weeskindmiddel”-status afstand gedoen. Gilead Sciences behou egter patentregte op remdesivir in meer as 70 lande wat sy winste sal verseker.

  • Nobelpryse beklemtoon manlike wetenskaplike prestasies

    Nobelpryse beklemtoon manlike wetenskaplike prestasies

    Oor die afgelope week, soos elke jaar, is die Nobelpryswenners aangekondig. Die wenners in die kategorieë fisika, chemie en medisyne is, soos in baie jare tevore, uitsluitlik manlik.

    In die algemeen was die pryswenners in die natuurwetenskappe sedert 1901 meer as 95 persent manlik.

    Verlede jaar het Donna Strickland die Nobelprys vir fisika in 2018 ontvang, slegs die derde vroulike fisikus wat ‘n Nobel gekry het, in die voetspore van Marie Curie in 1903 en Maria Goeppert-Mayer 60 jaar later.

    Foto hier bo: Vanjaar se Nobelpryswenners in fisika: James Peebles, Michel Mayor en Didier Queloz.

    Vir die twee wetenskaplike historici Nils Hansson en Thorsten Halling is dit ‘n groot skandaal. Hulle sien in die ongelyke verdeling van geslag ‘n teken van maatskaplike seksisme.

    Hulle merk ook op dat Alfred Nobel gevra is om die prys aan die beste in hul vakgebied toe te ken, ongeag sy of haar nasionaliteit. Hoe kan dit wees dat die meeste wenners uit die VSA kom, gevolg deur Europa en Asië? Waarskynlik sal slegs ‘n kwotamodel help om dit te verander. Nie een van die twee skrywers het noemenswaardige prestasies deur Afrika-wetenskaplikes aangehaal nie.

    Maar is die Nobel-jurie regtig seksisties? Dit is onwaarskynlik omdat daar vroulike navorsers is wat die Nobelprys ongetwyfeld verdien het. Voorbeelde hiervan is Lise Meitner vir die eerste kernfusie, Rosalind Franklin vir haar werk aan die DNS se dubbele heliksstruktuur, en Jocelyn Bell Burnell vir die ontdekking van pulsars.

    Maar is seksisme die enigste moontlike verklaring? Franklin is in 1958 oorlede en kon die toekenning nie postuum ontvang nie.

    In 2017 noem Hansson self talle fisici wat die hoogste onderskeiding ontken is – maar ironies genoeg bestaan ​​sy eie lys slegs uit mans, aangesien die nuutste navorsing oorwegend manlik is. ‘n Jurie kan niemand benoem wat nie die akademiese werk gedoen het nie.

    Daarbenewens word vroue in die ander kategorieë literatuur en vrede verteenwoordig. Watter maatstawwe kan ook gebruik word om te besluit watter van die twee literêre Nobelpryswenners Olga Tokarczuk en Peter Handke groter literêre talent het?

    Natuurlik is talent in fisika baie belangrik, maar nie net dít nie. As ‘n briljante fisikus die geleentheid ontsê word om aan duur eksperimente te werk, sal die gebrek aan ooreenstemmende meetdata geen sukses oplewer nie.

    Maar in wiskunde maak sulke oorwegings nie saak nie. Selfs sonder miljoene aan befondsing, kan baanbrekerontdekkings slegs met geestelike krag bereik word. En geslagsverhoudinge in beide dissiplines verskil in wese nie.

    Wetenskaplike talent word beslis nie eweredig versprei nie. In 1900 formuleer die beroemde Duitse wiskundige David Hilbert die 24 grootste probleme in die wiskunde. Ter ere van hom, in 2000, is nog ‘n paar onopgeloste legkaarte bekendgestel, die sogenaamde “Milleniumprobleme”.

    In albei gevalle was dit nie moontlik om vooraf te sê of die beslissende bewys deur ‘n man of ‘n vrou gelewer sou word nie, behalwe vir die feit dat verskeie van hierdie oplossings nog hangende is. Tot dusver is byna alle probleme deur een man opgelos. Daar is dus rede om te glo dat wetenskaplike talent nie eweredig onder die geslagte versprei is nie.

    In werklikheid blyk dit dat mans in die hoë IK-reeks baie meer verteenwoordig is as vroue. Vanaf ‘n waarde van 130 (die drempel vir begaafdheid) is die verhouding 2: 1 – en dit neem toe met hoër intelligensie.

    Natuurlik kan aanvaar word dat die IK-toets oor die algemeen teen vroue diskrimineer, maar dit bevestig nie dat mans oor hoër intelligensie beskik nie. Gemiddeld is die geslagte nie verskillend nie, maar mans is meer gereeld in die uiterstes verteenwoordig. Daar is meer genieë … en idiote onder mans as vroue.

    Dit is omdat ‘n geslagschromosomies gebonde oorerwing van intelligensie moontlik is, wat sterker is by mans as by vroue – in positiewe sowel as negatiewe sin.

    Verskeie ander kenmerke wys ook dat mans meer veranderlik is as vroue, dws meer geneig om onder die wenners en verloorders te wees, terwyl vroue relatief stabiel in die middelveld is.

    Die natuur heg ‘n hoër seleksiedruk aan die manlike geslag, omdat mans “bestee” kan word. As 50 persent van alle wyfies sterf, sal die aantal nakomelinge ook met 50 persent daal. As die aantal mans egter met 50 persent daal, het elke enkele man wat oorbly, twee keer die voortplantingsukses en bly die bevolking stabiel.

    Deur mans kwesbaarder te maak, maar hulle groter reproduktiewe sukses toe te laat, vind die natuur die balans tussen gehalte en hoeveelheid om evolusie te versnel. Maar biologiese feite en ideologiese denke is selde versoenbaar.

  • Wêreldwye kuberaanval

    Wêreldwye kuberaanval

    Naastenby 100 lande is geraak deur ‘n massiewe kuberaanval
    (heel moontlik die grootste nóg). Dit is gedoen met behulp van
    programmatuur genaamd “Eternal Blue” wat deur die Amerikaanse Nasionale Sekuriteitsagentskap (NSA) ontwikkel is, maar laas maand uitgelek is deur ‘n groep met die naam “Shadow Brokers”.

    Die kuberkrakers het ‘n lospryswurm (ransomware worm) wat self
    versprei op die internet losgelaat. Dit veroorsaak enkripsie van
    slagoffers se data, en hulle moet dan ‘n losprys van soveel as R8000
    betaal om weer toegang daartoe te verkry.

    Vrydag is die internasionale verskepingsmaatskappy FedEx en die
    Britse gesondheidsstelsel hierdeur ontwrig, in so ‘n mate dat Britse
    hospitale en klinieke pasiënte moes wegwys. Antivirusprogrammatuurontwikkelaars het Vrydag berig oor tot 57 000 infeksies in 99 lande. Rusland, die Oekraïne en Taiwan was die topteikens.

  • Nuwe WordPress-weergawe 4.7 nou volledig Afrikaans

    Nuwe WordPress-weergawe 4.7 nou volledig Afrikaans

    PRAAG het so pas opgegradeer na die nuwe weergawe van die WordPress-stelsel, nommer 4.7, wat gister vrygestel is. Benewens enkele tegniese verbeteringe, word WordPress nou ook volledig in Afrikaans aangebied. Die beheerpaneel aan die agterkant van die webblad wat deur redaksielede en medewerkers gebruik word, is nou vir die eerste keer in Afrikaans beskikbaar (foto hier bo).

    “Dis vir ons ‘n riem onder die hart dat WordPress nou volledig Afrikaans praat,” sê dr. Dan Roodt van PRAAG. “Ons het reeds lankal die Afrikaanse taallêer gelaai, maar om tegniese redes wou dit werk nie en was die administrasiepaneel tot dusver oorwegend in Engels. Daar is byvoorbeeld van “posts” in plaas van “artikels” gepraat. Nou is nie net die inhoud van PRAAG Afrikaans nie, maar ook bedryfstelsel sodat ‘n mens veel meer die indruk het dat jy in ‘n Afrikaanse taalwêreld verkeer.”

    WordPress is ‘n oopbronprogram vir internetpublikasie wat in 2003 deur Matt Mullenweg en Mike Little vrygestel is. Teen Januarie 2015, het meer as 23,3% van die toptienmiljoen webblaaie ter wêreld dit as inhoudbestuurstelsel gebruik.

    Ander groot internasionale webblaaie en stelsels wat volledig in Afrikaans beskikbaar is, is Google en Gmail, asook Facebook en Disqus. PRAAG het enkele jare gelede die voortou geneem om Disqus in Afrikaans te vertaal en vandag word dit deur ‘n hele aantal Afrikaanse webblaaie as kommentaarstelsel gebruik.

    “Dit is ironies dat Afrikaans internasionaal as een van die belangrike internettale erken word, maar in ons eie land as akademiese en kultuurtaal deur die owerheid misken word,” sê Roodt. “Solank as wat Afrikaans egter op die internet en as tegnologietaal oorleef, kan ons seker wees dat die taalstryd ook in Suid-Afrika gewen sal word.”

  • ‘Agterdeur’-virus op Praag: opgelos?

    ‘Agterdeur’-virus op Praag: opgelos?

    Nuwe boodskap: Ons het nou die tema van die blad geherinstalleer, wat lyk asof dit van die “agterdeur” ontslae geraak het. Indien u nog probleme ervaar om ‘n bladsy op ‘n mobiele toestel te open of na ‘n gemorsadvertensie herlei word, laat ons asseblief dadelik weet op Twitter of Facebook of deur ‘n e-pos aan inlig[by]praag.org.

    As ‘n voorsorgmaatreël, het ons ook die voorkoms van die blad verander deur ‘n ander, veiliger tema te gebruik.

    Aanvanklike boodskap:

    Die afgelope paar dae ondervind veral mobiele gebruikers van hierdie webblad, asook praag.org, probleme as gevolg van ‘n “agterdeur”-virus wat deur krakers op ons bediener geïnstalleer is. Gewoonlik word die PRAAG-bladsy herlei na ‘n gemorsadvertensie elders. Ons werk tans daaraan, maar om die kode vir so ‘n “agterdeur” tussen die tienduisende lêers op ons webblad te vind, is nie maklik nie, daarom vra ons u geduld totdat die probleem opgelos is.

    Gebruikers vanaf rekenaars, dus nie fone of tablette nie, word blykbaar nie hierdeur geraak nie.

    Terwyl ons sekere programme vervang en hernuwe, mag die webblad by tye van voorkoms verander of mag die Disqus-kommentaarstelsel tydelik nie beskikbaar wees nie.

    – Die redaksie

  • Nuwe Suid-Afrikaanse tegnologie in 2016

    Nuwe Suid-Afrikaanse tegnologie in 2016

    Die wêreld van tegnologie bied elke jaar meer innoverende maniere om ons te vermaak as die vorige jaar. Van revolusionêre aanlynspeletjies programme tot fassinerende geleenthede vir Televisie stroming, is die digitale revolusie verseker geseën met die vermoëe wat nodig is vir die ewig-vermeerdering van vermaak geleenthede.

    Hier is ‘n voorsmaak van nuwe tegnologiese uitvindings wat Suid-Afrikaners besig gaan hou in 2016.

    Nuwe televisiegeleenthede

    Een van die interessantste digitale ontwikkelings, is die manier waarop televisie in die 21ste eeu floreer. Terwyl hulle voorheen slegs in staat was om ‘n hand vol kanale te fasiliteer, stroom kanale soos Showmax nou ‘n groot verskeidenheid televisiereekse en plaaslik vervaardigde flieks soos Ballade vir ‘n enkeling.

    Met die nuus dat GOtv by die groeiende rooster Suid-Afrikaanse digitale televisie stasies aansluit, lyk dit asof ons ‘n groter verskeidenheid televisievertonings en flieks in 2016 gaan geniet.

    Speletjie-ontploffing

    Nie alleen het Suid Afrika onverwagte sukses geniet met onlangse videospeletjies soos Broforce nie, maar Johannesburg het onlangs aangesluit by die gewilde wêreld van mededingende speletjies met ‘n massiewe toernooi waarin die klem op spelers wat meeding vir die miljoenrandprys val.

    Dit behels dat die speletjiemileu weg beweeg van tradisionele Suid-Afrikaanse videospeletjies wat voorheen suksesvol was, soos Dungeons. Daar is eerder ‘n groeiende neiging vir maatskappye soos Springbok Casino om ‘n omvattende speletjie-ondervinding in Afrikaans aan te bied, sodat hierdie deelnemers slotmasjiene, roulette en poker kan geniet vanaf die gemak van hulle slimfone.

    Sosialemedia-ontwikkeling

    Sedert die onverwagte afsterwe van Mxit-klets en die opkoms van oorsese mededinging soos “Whatsapp”, het meer Suid-Afrikaners begin om ander sosiale media  vir hul kommunikasiebehoeftes te gebruik.

    Ten spyte van plaaslik vervaardigde mediaprogramme soos 2Go wat belofte toon, is dit ooglopend dat mense hulle wend tot platvorms soos Facebook en Twitter vir hulle sosialemediabehoeftes. Daar is wel hoop vir Afrikaans, aangesien Toeter die eerste sosiale program sal wees wat spesifiek vir Afrikaanssprekendes ontwerp is.

    Die Toeterprogram werk baie soos Twitter en Facebook met ‘n landingsblad wat die jongste inligting gee, met die vermoë om gewilde hutsspreuke te skep. Met die verfrissende afwesigheid van advertensies beteken dit dat Afrikaners ‘n momentele voorsprong op hul Engelssprekende vriende het.

    So, van aanlyncasinospeletjies tot innoverende digitale televisiekanale, lyk dit asof 2016 vir Suid-Afrikaners ‘n interessante jaar gaan wees, tegnologies gesproke.

  • Terroriste gebruik moontlik Sony Playstation 4 om te kommunikeer

    Terroriste gebruik moontlik Sony Playstation 4 om te kommunikeer

    Die terroriste van Islamitiese Staat en ander terreurgroepe gebruik moontlik Sony Playstation 4 en ander speletjiekonsoles om te kommunikeer. Dit het aan die lig gekom uit ‘n stelling van Jan Jambon, die Belgiese minister van binnelandse sake, tydens ‘n video-onderhoud met Politico. Daarin verklaar hy: “Die moeilikste kommunikasie tussen dié terroriste is die Playstation 4. Dis baie, baie moeilik vir ons (veiligheids-)dienste – nie net ons regeringsdienste nie maar internasionale dienste – om kommunikasie via Playstation 4 te ontsyfer.”

    \

    Volgens Jambon is “Playstation 4 “selfs moeiliker om te volg as Whatsapp”.

    Toe Sony Playstation 4 geloods is, was vele mense bekommerd oor gebruikersprivaatheid. Sommige het gevrees dat regeringsdienste die kamerafasiliteit kon gebruik om op mense in hul wonings te spioeneer. Nou blyk dit egter dat die kommunikasie tussen spelers op die konsole egter “‘n veiliger kommunikasiemiddel as selfs versleutelde foonoproepe, teksboodskappe of e-pos” kan wees.

    Die wetenskapfiksiewêreld van rekenaarspeletejies waarin werklikheid en fantasie dikwels vermeng word, is reeds met ons want dit blyk verder dat van die grootste spioenasie-agentskappe ter wêreld hulself as aanlynspelers vermom om dop te hou wat tydens speletjies gebeur en wat spelers vir mekaar via aanlynkommunikasiekanale soos “Team Speak” en ander sê. Rekenaarspelers praat of tik teksboodskappe vir mekaar as hulle in spanne teen mekaar meeding, dikwels in oorlogspeletjies waarin fiksionele “terreurgroepe” onder hul opponente mag wees.

    Uit dokumente wat in 2013 deur Edward Snowden vrygestel is, het geblyk dat agente van die Amerikaanse NSA en CIA hulle in speletjies soos World of Warcraft “ingegrawe” het om aanlynvergaderings deur terroriste te probeer monitor.

    Die probleem van veelvuldige internetkommunikasie is egter oneindig aangesien terroriste wat onder skuilname met mekaar tydens ‘n spelsessie kommunikeer, selfs simbolies met mekaar kan kommunikeer deur bepaalde virtuele teikens aan te val of om vlietend ‘n boodskap op ‘n muur te skryf wat agterna vernietig word. Sulke “nie-verbale kommunikasie” sou feitlik onmoontlik wees om te monitor aangesien veiligheidsdienste beswaarlik die miljoene mense wat daagliks speletjies speel permanent kan dophou.

    Die aantal mense wat vir Sony Playstation geregistreer is, is 110 miljoen, waarvan 65 miljoen “aktief” is. Die aanlynspeletjie League of Legends wat algemeen deur Suid-Afrikaanse skoolseuns en studente vanaf gewone rekenaars gespeel word, het aan die begin van verlede jaar reeds oor 67 miljoen spelers beskik, met 27 miljoen deelnemers per dag en ongeveer 7,5 miljoen wat tydens spitstye aanlyn verkeer. Kampioenskappe van dié speletjie word soos rugby- of sokkerwedstryde in stadions gehou met die verloop wat op reuseskerms deur toeskouers gevolg word, asook aanlyntoeskouers wat by die vorige “wêreldkampioenskap” tot 32 miljoen bereik het.

    Aangesien die tienmiljoene aanlynspelers self in hul virtuele ruimte “oorlog maak”, sou dit baie moeilik vir enige inligtingsdiens wees om profiele van spelers te versamel wat agterdogtige aanlynstellings maak. Dit maak dit soveel makliker vir lede van terreurgroepe om hul in die virtuele menigte te versteek.

  • Koop ‘n Android-selfoon by PRAAG vir slegs R999!

    Benewens ons boeke, verkoop PRAAG ook persoonlike tegnologie soos selfone en tabletrekenaars. Met ons selfone en tabletrekenaars kan u nie net ons webblaaie aanlyn lees nie, maar ook eboeke. Vandeesweek stel ons ons intreevlakselfoon, die Prestigio Multiphone PAP3350DUO, vry teen slegs R999. U kan hierdie pragtige foon, wat tot twee sim-kaarte gelyk kan hanteer, binne 48 uur op enige plek in Suid-Afrika ontvang.

    Vir die spesifikasies van die foon en meer besonderhede, gaan na die produkbladsy. Vir enige navrae, kontak ons per epos by inlig[by]praag.org.

  • Tegnologievooruitsigte vir 2015

    Die internet-rewolusie gaan die manier waarop ondernemings­ sake doen, binne enkele jare ingrypend­ verander, meen kenners.

    Baie daarvanis kwessies wat sagteware-­ontwikkelaars­ en stelselingenieur­s sal fassineer­, maar daar is ook aspekte wat gewone mense raak. Die top-tien-neigings­­ vir 2015 is:

    1. Jy gaan oral aanlyn wees

    Kenners reken dit gaan al hoe belangriker word om in die behoeftes van mobiele gebruikers te voorsien – nie nét deur op toestelle te fokus nie, maar ook op diverse omgewings­.

    “Fone en draagbare­ toestelle is nou deel van ’n uitgebreide rekenaaromgewing­ wat insluit dinge soos verbruikerselektronika­ en skerms wat verbind is in die werk- en openbare­ ruimte,” sê mnr. David Cearly, visepresident van Gartner.

    “Toenemend sal die hele omgewing by die vereistes van die mobiele gebruiker­ moet aanpas. Dit sal groot bestuursuitdagings vir IT-ondernemings skep soos wat hulle beheer verloor oor die eindpunt-toestelle­­.”

    2. Die internet van dinge sal uitbrei

    Die feit dat alle data digitaal­ geskep word, beteken daar is nuwe maniere om dienste aan te bied. Ondernemings moet die “internet­ van dinge” (bates en masjinerie)­ dink na hoe hulle digitale­ data kan inspan. Voorbeelde­ sluit in: betaal-per-gebruik­­­ van bates (soos nywerheidstoerusting­), dienste (soos betaal-soos-­jy-ry-versekering), mense (soos vir verhuising­), plekke (parkeerplek) en stelsels (wolkdienste). Ondernemings in enige sektor kan dié modelle inspan.

    3. 3D-drukwerk sal algemeen­ word

    Die wêreldwye verkope van driedimensionele­ (3D) drukkers gaan na verwagting­ in 2015 met 98% groei, gevolg deur 50% in 2016. 3D drukwerk­ sal oor die volgende drie jaar vlam vat soos wat goedkoper drukkers op die mark kom en die gebruike­ daarvan uitbrei. Nuwe nywerheids­-, biomediese­ en verbruikerstoepassings­ sal dit duidelik maak dat 3D nie net ’n gier is nie, maar iets wat ontwerp, die vervaardiging­ van prototipe­s en die vervaardigingsproses­ self kan verbeter.

    4. Alles sal ontleed word

    Soos wat die volume data toeneem, sal die belangrikheid­ van ontledin­g daarvan toeneem. Apps sal die interne vermoë moet hê om data te ontleed. Organisasies­ sal moet leer hoe om dié data ten beste te bestuur en die regte inligting­ aan die regte mense op die regte tydstip te lewer. “Ontleding­ sal diep, maar onsigbaar, oral ingebed word,” sê Cearly.
    Die waarde gaan al hoe meer in die antwoorde lê, nie in die data self nie – en daarvoor sal die regte vrae gevra moet word.

    5. Konteksryke stelsels sal ontwikkel

    Danksy data-ontleding sal stelsels ontwikkel word wat reageer op hul omgewing­. Dit sal onder meer veiligheidstelsels­ raak – as die konteks van ’n gebruiker se versoek verstaan word, kan toepassings­ hul veiligheidsreaksie­ aanpas.

    6. Masjiene sal slimmer word

    Gevorderde algoritmes­ sal stelsels in staat stel om self te leer en outonoom op te tree. Selfaangedrewe­ voertuie­, virtuele persoonlike­ assistente­ en gevorderde­ robotte bestaan reeds en ontwikkel vinnig, wat lei tot ’n nuwe era van “masjienhelpers­”. Die slim-masjienera kan dalk die mees ontwrigtende­ in die geskiedenis van IT wees.

    7. Die wolk word mobiel

    Die samesmelting­ van wolk- en mobiele rekenaar­dienst­e sal voortduur. Al hoe meer toepassings­ word ontwikkel­ sodat dit op enige toestel kan werk, hoewel dié neiging ingeperk word deur bandwydte­- en netwerkkoste­. Nietemin­ sal selfs apps wat pasgemaak­ word vir verskillende­ toestelle­ sentraal in die wolk gekoördineer­ ­word.
    Die fenomeen van twee skerms – wat op die oomblik beteken dat mense TV kyk terwyl hulle ook op ’n mobiele toestel bedrywig­ is – gaan uitgebrei­ word sodat speletjies en sake-apps­ meer skerms gebruik, ook draagbare toestelle, om gebruikers se ervaring te verbeter.

    8. Apps en infrastruktuur­ sal deur sagteware gedefinieer­ word

    Programmering van alles – apps tot basiese infrastruktuur­ – sal al hoe ratser moet word sodat organisasies­ kan aanpas by die digitale werkmodel. Dit beteken hardeware sal nie meer die kern van alles kan wees nie. Modelle en kodering wat maklik saamgestel kan word, sal al hoe meer gebruik word.

    9. IT op webskaal

    Al hoe meer onder­ne­mings­ sal begin dink en optree soos web-reuse­ soos Amazon, Google en Facebook. Die eerste stap sal sogenaamde DevOps wees – wanneer sagteware­-ontwikkeling en die bedryfsafdeling op ’n gekoördineerd­e wyse saamwerk om apps en dienste vinnig en deurentyd­ te ontwikke­l.

    10. Risiko-gegronde sekuriteit­

    Sekuriteit moenie ’n hindernis­ tot vordering wees nie. Ondernemings sal al hoe meer besef dat dit onmoontlik is om ’n 100% veilige omgewing te skep. Hulle sal dus al hoe meer gesofistikeerd­e risiko-­ontledingsmodelle skep en veiligheid sal in apps self ingebou word, pleks van deur byvoorbeeld­ brandmure.

  • Tablet teen R500 vir nuwe praag-lede?

    Tablet teen R500 vir nuwe praag-lede?

    Die Prestigio 3670B, in wit of swart beskikbaar
    Die Prestigio 3670B, in wit of swart beskikbaar

    Ons wil graag die volgende idee op lesers toets. Ons oorweeg dit tans om ‘n seweduim-tablet met koordlose toegang (maar sonder ‘n simkaart en 3G) aan nuwe praag-lede beskikbaar te maak teen ‘n eenmalige bedrag van R500. Dit sal enigeen in staat stel om eboeke na hartelus te lees, maar ook om met ‘n koordlose verbinding tuis of in ‘n kafee of elders op die internet te seil, epos te lees, Facebook en Twitter te volg, ens.

    Die tablet is ‘n Prestigio met Android 4.2 (Jellybean).

    Hoe klink dit? Ons meen dat die digitale revolusie in Afrikaans net hierby kan baat, met Gustav Venter se boeke wat daarop gelees kan word, asook van ons ander eboeke, tesame met ‘n magdom ander eboeke in ander tale.

    Leserskommentaar sal verwelkom word.

  • ‘7 minute van angs’ vir Mars-verkenningstuig

    ‘7 minute van angs’ vir Mars-verkenningstuig

    Curiosity-verkenningstuigDie Mars-verkenningstuig met die meeste hoë tegnologie aan boord het so pas op die rooi planeet geland.

    NASA sê dit het Sondagaand ‘n sein van die Curiosity-verkenningstuig ontvang ná ‘n hellevaart deur die Mars-atmosfee wat as “sewe minute van angs” beskryf is.

    Die verkenningstuig is die grootte van ‘n kleinerige motor, dus moes ingenieurs ‘n nuwe manier bedink om dit te laat neerdaal. Vir die eerste keer is kabels gebruik om die tuig binne ‘n reusekrate te laat afsak.

    Teen $2,5 miljard, is dit die mees ambisieuse en duurste Mars-sending ooit. Vir die volgende twee jaar sal die verkenningstuig in rotse inboor en grond opskep. DIt sal die ‘n ondersoek doen om vas te stel of die planeet se omgewing lewe in die vorm van mikroskopiese organismes kon ondersteun.

    Die Curiosity-verkenningstuig het vroeg Maandag ‘n vreesaanjaende landing oorleef met ‘n tegniek wat nog nooit tevore probeer is nie toe dit na die oppervlak van die Rooi Planeet soos ‘n spinnekop aan ‘n draad laat sak is, het die Amerikaanse ruimte-agentskap gesê.

    Данильченко

  • Google stoot tariewe sesvoudig op

    Google, wie se gewilde gmail-diens allerweë deur individue gebruik word, het so pas met ‘n slenterslag hul aanlynbergingsdiens se prys sesvoudig verhoog.

    Voorheen kon persoonlike gebruikers wie se gmail vol geraak het, vir slegs $5 per jaar ‘n ekstra 20 Gigagrepe se bergingskapasiteit per jaar bygekoop het.

    Nou vra Google skielik $30 vir dieselfde diens. Weliswaar het die hoeveelheid gratis bergingsruimte van Gmail insgelyks gestyg vanaf omtrent 7 Gig na 10 Gig, wat vir die meeste mense seker genoeg is. Maar vir aktiewe gebruikers van e-pos wat graag hul ou e-pos bewaar sonder die moeite om rugsteune te maak, kan selfs 10 Gig ná ‘n paar jaar onvoldoende raak.

    In April het Google ook sy bergingsdiens wat “Dokumente” heet, na Google “Drive” herdoop. Hiermee wil die maatskappy mededingers soos Dropbox en Apple die stryd aansê wat reeds suksesvolle aanlynberging aan gebruikers verskaf. Omdat mense deesdae inligting op soveel toestelle, vanaf persoonlike rekenaars tot selfone en tablette, beskikbaar wil hê, maar dit sin om alle belangrike lêers aanlyn te berg. Aanlynberging kan ook as rusteun vir plaaslike lêers gebruik word.

    Volgense Google kan huidige gebruikers van die aanlynbergingsdiens wat op die ou, goedkoper skaal verkeer, steeds daarmee aanhou, solank hulle geensins daaraan verander deur byvoorbeeld die kapasiteit te verhoog nie.

    Persoonlik maak ek reeds ‘n jaar lank van die $5-per-jaar-diens gebruik, nadat my gewone e-pos vol geraak het, maar om $30 per jaar betaal, lyk vir my ‘n bietjie dik vir ‘n daalder as ‘n mens in ag neem dat Yahoo se e-posdiens gratis is met onbeperkte ruimte. Dit sal my seker nog ‘n paar jaar neem om 30 Gig met e-pos vol te maak. Intussen maak ek egter ook gebruik van die aanlynberging en om dokumente aanlyn met kollegas of vriende te deel, sodat my bergingsruimte vinniger as net deur e-pos opgeneem word.

    Dat Google egter hier ‘n manier raakgesien het, om ‘n slag te slaan, is gewis. As ‘n mens eers aan hierdie tipe diens verslaaf is, is dit moeilik om te verander, sonder dat jy jou aanlynlewe verder kompliseer. Daarom sal vele mense seker verplig wees om die sesvoudige prysverhoging te absorbeer.

    Skielik is die internet nie meer gratis nie!

    Google voer reeds ‘n verbete stryd om gebruikers van Google Apps te dwing om ten duurste vir e-pos te betaal, tot $50 per jaar. Google Apps is ‘n weergawe van Gmail waardeur ‘n mens jou eie domeinnaam vir e-pos kan gebruik. Aanvanklik toe die diens enkele jare gelede bekendgestel is, kon ‘n mens tot 100 of selfs meer gratis “posbusse” vir jou maatskappy of organisasie verkry. Nie-winsgewende organisasies en skole het selfs 500 of meer sulke posbusse gratis ontvang, teenoor die korporatiewe “Google Apps Premium” waarvoor ‘n mens $50 per jaar moet betaal.

    Meer onlangs het Google egter die aantal gratis Google Apps-posbusse tot tien per domein beperk. Iemand wat elf posbusse wil hê, sou dus onmiddellik $550 per jaar moet betaal.

    Dit laat ‘n mens weer met ander oë na Yahoo se e-posdiens kyk. Yahoo beskik nie oor al die funksionaliteit van Gmail nie, maar vir swaar gebruikers van e-pos kan dit ‘n opsie raak. Diegene wat bereid is om insgelyks $20 per jaar vir Yahoo se betalende diens te betaal, ontvang ‘n onbeperkte e-posdiens met min of meer die funksionaliteit van Gmail, behalwe vir die aanlynberging.

    Terloops, PRAAG is ‘n gelisensieerde verskaffer van Google Apps, asook ‘n verskaffer van ADSL-verbindings teen baie billike tariewe. Ons basiese ADSL-diens beloop slegs R200 per maand (Telkom-verbinding ingesluit). Ons verkoop ook rekenaars, rekenaarkomponente, skootrekenaars, tablette en e-lesers teen uiters mededingende pryse. Kontak ons by inlig[by]praag.org vir meer inligting.

    Фильчаков Александр Васильевич

  • Prestigio-e-leser is teen sy prys ‘n wenner

    Prestigio-e-leser is teen sy prys ‘n wenner

    Prestigio PER3172BDie afgelope paar dae het ek Prestigio se basiese e-leser, die PER3172B, onder oë gehad en so twee, drie e-boeke daarop gelees. Omdat ek reeds baie met die Amazon Kindle vertroud is, kon ek die twee goed met mekaar vergelyk.

    Die Prestigio PER3172B is ‘n veeldoelige leser wat eintlik teen die prys van R1199 (Praag-lede ontvang dit teen ‘n reuse-afslag en kan so min as R599 daarvoor betaal) meer vermaak as ‘n tradisionele TV en videokassetspeler insluit. Die Prestigio-e-leser kan die volgende dinge doen:

    • E-boeke in ‘n verskeidenheid formate vertoon
    • Musiek speel
    • Video’s speel
    • Foto’s vertoon

    Hoewel ek ook hier en daar musiek daarop geluister en ‘n advertensievideo of twee op die volkleurskermpie van 17,8 cm (7 duim) gekyk het, het ek dit hoofsaaklik as e-leser gebruik. Ná alles is dit die belangrikste beweegrede om ‘n e-leser aan te skaf, maar die feit dat dit ook musiek, video en foto’s kan hanteer, is ‘n bonus. Veral ook in die lig van die poort vir ‘n mikro-SD-skyfie waarmee ‘n mens die aanboordgeheue van 2 Gigagrepe na 34 Gigagrepe (genoeg vir 70 000 boeke of 10 000 musieksnitte) kan opstoot!

    Trouens, as ‘n mens dink wat een van Apple se basiese Ipods met slegs 2 of 4 Gig geheue kos, is die veeldoelige Prestigio amper verniet. ‘n Mens sou rustig daarmee op vakansie kon gaan, gewapen met ‘n paar honderd boeke en ‘n duisend CD’s of wat en jouself gate uit kon geniet.

    Boonop kom die Prestigio, anders as ‘n Kindle byvoorbeeld, saam met ‘n leerhouertjie wat dit baie gemaklik maak om rond te dra. ‘n Leerhouer vir die Kindle kan maklik soveel kos soos die Prestigio mét sy gratis houer! Dan praat ‘n mens nie eens van ‘n laaier vir die Kindle wat jou sommer R200 kan terugsit nie. Hoewel ‘n mens die Kindle, soos ook die Prestigio, via jou rekenaar se USB-poort kan laai, is dit geriefliker om ‘n aparte laaier te hê, iets wat insgelyks gratis saam met die Prestigio versprei word.

    Trouens, die hele Prestigio-pakket is uiters aantreklik, van die swart kartondoos waarin die instrument saam met leerhouer, laaier, handleiding en die nodige kabels verpak word tot die matswart plastiek van die leser self. Dit pas gerieflik in ‘n mens se hand as jy lees en die bladsye word aan die regterkant met ‘n stafie vorentoe of agtertoe geblaai, baie soortgelyk aan die Kindle en ander lesers.

    Die Kindle is natuurlik ‘n sogenaamde e-ink-leser sonder enige agterlig wat die skerm laat gloei. Dis baie gemaklik op die oë, selfs in helder sonlig en ek sou sê ek verkies dit as e-leser. Prestigio maak selfs ‘n e-ink-leser of wat oor ‘n sogenaamde “Pearl”-skerm beskik, maar dis heelwat duurder as die basiese Prestigio – omtrent dubbel die prys om die waarheid te sê. Vir e-ink-lesers het ‘n mens saans ook kunsmatige lig – soos vir ‘n tradisionele boek – nodig en daarom is dit vir my minder nuttig. As ek saans vir my dogter by haar hoërskoolkooroefening moet wag, kan ek dus nie vinnige in die donker my e-leser aanskakel en lees nie. Die PER3172B is besonder nuttig as laat saans wil lees en nie jou vrou met ‘n bedlampie wil wakker hou nie, want hy beskik soos ‘n gewone rekenaarskerm wel oor ‘n agterlig wat die boek in die donker leesbaar maak. Wat dit verder gerieflik maak, is dat die helderheid van die skerm verstelbaar is. Ek het gevind dat ‘n mens bedags gerieflik op 50 tot 60 persent helderheid kan lees, terwyl so 30 persent in die donker gerieflik is, want dan is die letters net mooi sigbaar sonder dat die skerm te veel by jou oë inskyn.

    Veral vir ouer persone wat groter letters verkies, is die Prestigio ‘n seën, want ‘n mens kan die tipografie van enige boek van baie klein tot regtig baie groot verstel, afhangend wat vir jou die gemaklikste is. Omdat uitgewers van sogenaamde “massamarkslapbande” gewoonlik soveel inhoud op die minste aantal bladsye en papier wil inpas, is hulle gewoonlik heeltemal te klein gedruk en sonder ‘n bril haas onleesbaar. Die e-leser het ons daarvan bevry.

    Die skerm van die Prestigio is “antiweerkaatsing”, dus kan mens dit ook in baie helder lig in die buitelug gebruik. Oor die algemeen het die aanpasbaarheid van die skerm my nogal verbaas en is dit ‘n vernuftige stukkie tegnologie wat oral – in die vliegtuig, in die bed, buite – gebruik kan word, solank mens net die skerm se helderheid by die hoeveelheid lig rondom jou aanpas.

    Persoonlik dink ek die swart-en-wit e-ink-lesers is nog ‘n tikkie gemakliker om te lees: iets soos ‘n Kindle of Prestigio se PER5162. Maar dan boet ‘n mens effens aan veeldoeligheid in, want die veelsydige PER3172B kan nog vir jou volkleurvideo’s of foto’s ook vertoon. Boonop kan dit in enige lig gelees word. Dis net die ding om, gelaai met ‘n paar honderd of duisend boeke, oral byderhand te hê waar ‘n mens dalk moet wag, toustaan, reis of ‘n ledige uurtjie wil verwyl. Of sommer net vir ontspanning wil lees. Teen die prys is dit eenvoudig onverbeterlik!

    Koop dit aanlyn by die Praagwinkel.

    Фильчаков

  • China se internetgebruikers styg tot 513 miljoen

    ‘n Bedryfsgroep sê China se aantal internetgebruikers het die afgelope tyd bokant 500 miljoen gestyg en groei steeds sterk.

    Die China Internet Network Information Center het Maandag gesê die vasteland se getal internetgebruikers staan ​​op 513 miljoen in Desember, 12 persent hoër as ‘n ​​jaar tevore.

    China se kommunistiese regering bevorder internetgebruik vir sake en opvoeding, maar probeer om toegang tot materiaal te sluit as dit van mening is dat dit ondermynend of pornografies van aard is.

    Die jongste syfers het ook getoon die aantal Chinese wat die web met behulp van selfone navigeer het met 17,5 persent tot 356 miljoen toegeneem.

    лобановский александр игоревич харьков