Dan Roodt: Nuwe Kommando’s is al antwoord op Brendin Horner-tipe moorde

Brendin Horner en Lenize Taljaard. Foto: Facebook
Deel op

Soos duisende ander mense, is ek geskok en woedend oor die jongste plaasmoord, dié op Brendin Horner. Hy was maar een-en-twintig jaar oud, met sy hele voor lewe hom. Hy is op wreedaardige wyse vermoor. Sy lyk is teen ‘n paal vasgemaak waar sy pa Robby, tesame met sy vriendin, Lenize Taljaard, hom Vrydagoggend vroeg aangetref het. Hier bo is ‘n Facebook-foto van Brendin en Lenize waarop hulle dolgelukkig lyk, alvorens hy soos soveel ander deur volksmoordenaars neergevel is.

Mense sal my seker kwalik neem dat ek die term “volksmoord” gebruik, maar wat anders kan ‘n mens hierdie aanhoudende stroom grudade noem wat teen boere en landelike Afrikaners gepleeg word? Op sy minste is dit georganiseerde terrorisme.

Soos meeste mense weet, was die afskaffing van die Kommando’s in die vroeë 2000’s ‘n absolute ramp vir landelike veiligheid in Suid-Afrika. Op daardie stadium het ek kontak met heelwat kommandolede gehad, sowel in die Vrystaat as in die Noord-Transvaal en ek was beïndruk met hul erns, georganiseerdheid en gemeenskapsbetrokkenheid. Mosiuoa “Terror” Lekota, wat tussen 1999 en 2008 minister van verdediging was, het in sy wysheid besluit om die Kommando’s af te skaf.

Kort ná hierdie besluit het plaasmoorde die hoogte ingeskiet. Van die mense wat by die Kommando’s betrokke was, het hul eie plaaswagte begin, maar vanweë die gebrek aan openbare befondsing kon hulle nooit dieselfde vlak van paraatheid en organisasie as die ou Kommando’s bereik nie. Immers het die Kommando’s ‘n lang geskiedenis gehad wat terug te voer was na die ou Boererepublieke toe, as ‘n soort landelike gendarmerie.

Volgens die Afrikaanse Wikipedia is ‘n “gendarmerie (verbastering van die Franse gens d’ armes, krygsvolk, letterlik mense met wapens)… ‘n gewapende diens wat algemene polisietake uitvoer en (van oorsprong) ‘n onderdeel van die weermag is”. Hulle word ook “polisiesoldate” genoem. ‘n Aantal lande in Europa beskik oor sulke gendarmes of kommando’s onder verskillende name:

  • België: Rijkswacht/Gendarmerie (opgehef na eenwording van die polisiedienste in 2001)
  • Frankryk: Gendarmerie Nationale
  • Italië: Carabinieri
  • Spanje: Guardia Civil
  • Portugal: Guarda Nacional Republicana
  • Nederland: Koninklijke Marechaussee
  • Roemenië: Gendarmerie Romania
  • Oostenryk: Bundesgendarmerie (opgehef in 2005)
  • San Marino: Gendarmeria
  • Turkye: Jandarma

Die Kommando’s móét terugkom. ‘n Afvaardiging van boereverenigings, asook Afrikaners — want meesal is dit ons familie en vriende wat die slagoffers van hierdie moorde is — moet onmiddellik eis dat die Kommando’s herstel word, tesame met ‘n begroting wat deel kan uitmaak van die Weermagbegroting soos dit was.

Slegs tien persent van die ou Kommandolede is deur die staat besoldig. Die res was almal vrywilligers wat gemeenskapsdiens gedoen het. Dis ‘n goeie model, juis omdat dit gemeenskapsbetrokkenheid aanmoedig. Daarbenewens is dit baie kostedoeltreffend.

Destyds het die Kommando’s ‘n skamele begroting van R25 miljoen gehad. Dis minder as wat een kader in ‘n enkele korrupte tender opslurp. Duisende lewens, asook ons landbou, kan deur ‘n geringe bedrag geld gered word.

Indien die ANC-bewind soos gewoonlik alles teëgaan wat ons voorstel, moet ‘n ander plan gemaak word. Die Europese Unie of die Verenigde State moet dan instaan. As USAID ‘n paar honderd miljoen dollar per jaar kan skenk om gratis vigsmedisyne in ons land te verskaf, kan dié land sekerlik vyf of tien miljoen dollar verskaf om ons boerebevolking van uitdelging te red?

Afgetrede weermagoffisiere en -lede behoort die voortou te neem om mense met organisasie en opleiding te help.

Om in die Kommando’s te dien, behoort vir elkeen ‘n saak van trots te wees. Stedelike jongmense kan vir drie of ses maande diens in die Kommando’s doen om ons mense op die platteland te gaan beveilig en sodoende gemeenskaps- en kultuurbande versterk.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het al oor en oor bewys dat hy nie in staat is om landelike veiligheid te verseker nie. Daarom moet die Kommando’s in ‘n gemoderniseerde gedaante met voertuie, digitale kommunikasiemiddele, hommeltuie en alle tegnologie wat nodig is, herrys.

Dis ‘n saak van nasionale en internasionale belang. Daarsonder gaan Suid-Afrika net nog ‘n mislukte staat van die Afrika-tipe word, soos wat in Stephen Smith se boek Negrologie beskryf word. Watter verskil is daar tussen plaasmoordenaars en rebellegroepe wat ander Afrikabevolkings teister?

Alle Afrikaners moet nou hande vat en voorbrand maak vir die idee. Die ANC en die wêreld sal nie kan nee sê vir ‘n goeie plan om plaasmoorde vir eens en vir altyd te stuit nie.

Ons skuld dit aan almal wat reeds aangeval of vermoor is, asook hul geliefdes en gesinne. Soos aan my vriendin Annette Kennealy wat verlede jaar naby Louis Trichardt vermoor is.

Asook aan ‘n jongman soos Brendin, sy gesin en sy vriendin Lenize Taljaard wat vandag verpletter moet wees.

My innige meegevoel aan hulle. Maar dié afskuwelike moorde moet nou end kry.

Kyk ook Dan Roodt en Gustav Venter se YouTube-onderhoud oor die voorval.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.