Dan Roodt: Nuwe Kommando’s is al antwoord op Brendin Horner-tipe moorde

Soos duisende ander mense, is ek geskok en woedend oor die jongste plaasmoord, dié op Brendin Horner. Hy was maar een-en-twintig jaar oud, met sy hele voor lewe hom. Hy is op wreedaardige wyse vermoor. Sy lyk is teen ‘n paal vasgemaak waar sy pa Robby, tesame met sy vriendin, Lenize Taljaard, hom Vrydagoggend vroeg aangetref het. Hier bo is ‘n Facebook-foto van Brendin en Lenize waarop hulle dolgelukkig lyk, alvorens hy soos soveel ander deur volksmoordenaars neergevel is.

Mense sal my seker kwalik neem dat ek die term “volksmoord” gebruik, maar wat anders kan ‘n mens hierdie aanhoudende stroom grudade noem wat teen boere en landelike Afrikaners gepleeg word? Op sy minste is dit georganiseerde terrorisme.

Soos meeste mense weet, was die afskaffing van die Kommando’s in die vroeë 2000’s ‘n absolute ramp vir landelike veiligheid in Suid-Afrika. Op daardie stadium het ek kontak met heelwat kommandolede gehad, sowel in die Vrystaat as in die Noord-Transvaal en ek was beïndruk met hul erns, georganiseerdheid en gemeenskapsbetrokkenheid. Mosiuoa “Terror” Lekota, wat tussen 1999 en 2008 minister van verdediging was, het in sy wysheid besluit om die Kommando’s af te skaf.

Kort ná hierdie besluit het plaasmoorde die hoogte ingeskiet. Van die mense wat by die Kommando’s betrokke was, het hul eie plaaswagte begin, maar vanweë die gebrek aan openbare befondsing kon hulle nooit dieselfde vlak van paraatheid en organisasie as die ou Kommando’s bereik nie. Immers het die Kommando’s ‘n lang geskiedenis gehad wat terug te voer was na die ou Boererepublieke toe, as ‘n soort landelike gendarmerie.

Volgens die Afrikaanse Wikipedia is ‘n “gendarmerie (verbastering van die Franse gens d’ armes, krygsvolk, letterlik mense met wapens)… ‘n gewapende diens wat algemene polisietake uitvoer en (van oorsprong) ‘n onderdeel van die weermag is”. Hulle word ook “polisiesoldate” genoem. ‘n Aantal lande in Europa beskik oor sulke gendarmes of kommando’s onder verskillende name:

  • België: Rijkswacht/Gendarmerie (opgehef na eenwording van die polisiedienste in 2001)
  • Frankryk: Gendarmerie Nationale
  • Italië: Carabinieri
  • Spanje: Guardia Civil
  • Portugal: Guarda Nacional Republicana
  • Nederland: Koninklijke Marechaussee
  • Roemenië: Gendarmerie Romania
  • Oostenryk: Bundesgendarmerie (opgehef in 2005)
  • San Marino: Gendarmeria
  • Turkye: Jandarma

Die Kommando’s móét terugkom. ‘n Afvaardiging van boereverenigings, asook Afrikaners — want meesal is dit ons familie en vriende wat die slagoffers van hierdie moorde is — moet onmiddellik eis dat die Kommando’s herstel word, tesame met ‘n begroting wat deel kan uitmaak van die Weermagbegroting soos dit was.

Slegs tien persent van die ou Kommandolede is deur die staat besoldig. Die res was almal vrywilligers wat gemeenskapsdiens gedoen het. Dis ‘n goeie model, juis omdat dit gemeenskapsbetrokkenheid aanmoedig. Daarbenewens is dit baie kostedoeltreffend.

Destyds het die Kommando’s ‘n skamele begroting van R25 miljoen gehad. Dis minder as wat een kader in ‘n enkele korrupte tender opslurp. Duisende lewens, asook ons landbou, kan deur ‘n geringe bedrag geld gered word.

Indien die ANC-bewind soos gewoonlik alles teëgaan wat ons voorstel, moet ‘n ander plan gemaak word. Die Europese Unie of die Verenigde State moet dan instaan. As USAID ‘n paar honderd miljoen dollar per jaar kan skenk om gratis vigsmedisyne in ons land te verskaf, kan dié land sekerlik vyf of tien miljoen dollar verskaf om ons boerebevolking van uitdelging te red?

Afgetrede weermagoffisiere en -lede behoort die voortou te neem om mense met organisasie en opleiding te help.

Om in die Kommando’s te dien, behoort vir elkeen ‘n saak van trots te wees. Stedelike jongmense kan vir drie of ses maande diens in die Kommando’s doen om ons mense op die platteland te gaan beveilig en sodoende gemeenskaps- en kultuurbande versterk.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het al oor en oor bewys dat hy nie in staat is om landelike veiligheid te verseker nie. Daarom moet die Kommando’s in ‘n gemoderniseerde gedaante met voertuie, digitale kommunikasiemiddele, hommeltuie en alle tegnologie wat nodig is, herrys.

Dis ‘n saak van nasionale en internasionale belang. Daarsonder gaan Suid-Afrika net nog ‘n mislukte staat van die Afrika-tipe word, soos wat in Stephen Smith se boek Negrologie beskryf word. Watter verskil is daar tussen plaasmoordenaars en rebellegroepe wat ander Afrikabevolkings teister?

Alle Afrikaners moet nou hande vat en voorbrand maak vir die idee. Die ANC en die wêreld sal nie kan nee sê vir ‘n goeie plan om plaasmoorde vir eens en vir altyd te stuit nie.

Ons skuld dit aan almal wat reeds aangeval of vermoor is, asook hul geliefdes en gesinne. Soos aan my vriendin Annette Kennealy wat verlede jaar naby Louis Trichardt vermoor is.

Asook aan ‘n jongman soos Brendin, sy gesin en sy vriendin Lenize Taljaard wat vandag verpletter moet wees.

My innige meegevoel aan hulle. Maar dié afskuwelike moorde moet nou end kry.

Kyk ook Dan Roodt en Gustav Venter se YouTube-onderhoud oor die voorval.

Man dood, vrou ernstig na gewapende aanvalle te Muldersdrift

Gewapende aanvalle op blanke kleinhoewebewoners in Muldersdrift duur voort. Oor die afgelope naweek is ‘n blanke man doodgeskiet en ‘n blanke vrou swaar gewond in twee afsonderlike voorvalle.

Volgens konstabel Lucky Matome van die Suid-Afrikaanse Polisiediens is ‘n eenheid omstreeks 20:30 Saterdagaand na ‘n kleinhoewe in Muldersdrift se Rietfonteingebied ontbied. Daar aangekom, het hulle die vrou in ‘n plas bloed aangetref.

“Die voorlopige ondersoek dui daarop dat die vrou tydens ‘n huisroof in die rug geskiet is,”  het konstabel Matome gesê. “Dit is nie duidelik hoeveel verdagtes by die hartelose misdaad betrokke was nie.” Enkele waardevolle items is as vermis aangemeld, waaronder selfone, ‘n tuisteaterstel en ‘n onbekende bedrag kontant.

Matome het voorts gesê: “Daar kon nie veel inligting by die slagoffer verkry word nie, aangesien sy in ‘n ernstige toestand was. Sy is vir dringende mediese behandeling na ‘n hospitaal gehaas.

‘n Saak van poging tot moorde en huisroof word tans ondersoek.

Die vorige oggend, Vrydag, het ‘n blanke man in dieselfde omgewing gesterf terwyl hy hom teen ‘n gewapende aanval probeer verdedig het. Die man het skuins voor ses in die oggend onraad bemerk en sy huis verlaat om ondersoek in te stel. Hierna het die aanvallers op hom losgebrand en het hy teruggeskiet, maar is noodlottig in sy bolyf gewond.

Volgens Matome is die polisie “bekommerd” oor die toename in aanvalle op kleinhoewebewoners in Muldersdrift.

Lede van die publiek met inligting kan die Muldersdrift-polisie skakel by 011 952 4600 of die Wesrand-trio-taakspan by 079 496 6288.

Polisie se vuurwapenregister in chaotiese toestand

Terwyl die jongste misdaadstatistieke toon dat veral geweldmisdade “onaanvaarbaar” hoog is, veroorsaak algehele chaos by die sentrale vuurwapenregister (SVR) dat die polisie bykans geen beheer oor vuurwapens het nie.

Die parlementêre portefeuljekomitee oor polisiesake was gister geskok toe hul besoek aan die sentrale vuurwapenregister (SVR) in Pretoria aflê. Stapels onverwerkte lêers in die gange, op tafels en kantoorvloere het hulle begroet, ‘n toneel wat deur sommige LP’s as ‘n “brandgevaar” beskryf is.

Dít terwyl lede van die publiek desperaat is om vuurwapenlisensies te bekom en die polisie se eie onlangse misdaadstatistieke ‘n onrusbarende styging in moord, gewapende roof en motorkapings toon. Oor die afgelope jaar is daar 17 068 mense in die land vermoor, een van die hoogste syfers ter wêreld en selfs hoër as ander lande met veel groter bevolkings as Suid-Afrika.

‘Geen rekord van 100 000’e wapens uit tuislande’

‘n Verdere onthulling is deur generaalmajoor Bransby Luke, die waarnemende bevelvoerder van die sentrale vuurwapenregister (SVR), gemaak toe hy bevestig het dat honderdduisende wapens wat in die voormalige tuislande gelisensieer is, nooit na die sentrale register oorgedra is nie. Luke het gesê: “Ons weet nie wat van daardie wapens geword het nie.”

Die rede waarom die SVR tans oor ‘n “waarnemende hoof” beskik, is omdat die vorige hoof van dié eenheid “weens korrupsie in die pad gesteek is”.

‘Stank van urine en ontlasting’

Van die werknemers by die eenheid het by lede van die portefeuljekomitee gekla oor die stank van urine en ontlasting as gevolg van plakkers buite die gebou. Hulle word insgelyks deur rotte en voëlluise lastig geval.

Nog ‘n feit wat onder die portefeuljekomitee se aandag gekom het, is die 39 000 polisiemanne wat self oor geen bevoegdheidsertifikate beskik om ‘n vuurwapen te hanteer nie, maar tog met vuurwapens uitgereik word.

Die voorsitter van die portefeuljekomitee vir polisie, Francois Beukman van die ANC, meen daar bestaan ‘n sterk verband tussen geweldsmisdade en vuurwapens, daarom moet die toestand reggeruk word.

“Ons kan nie ’n situasie toelaat waar misdaad met wettige en onwettige vuurwapens buite beheer raak nie,” het Beukman aan die media gesê. “Daar moet ná 20 jaar van demokrasie van vuurwapens uit die voormalige tuislande verantwoording gedoen kan word. Ons moet weet wie almal vuurwapens in die land besit.”

Terwyl die polisie steeds oor ‘n rekordaantal personneellede beskik, is daar glo ‘n “personeeltekort” wat die verwerking van vuurwapenaansoeke betref. Blykbaar is polisiebeamptes by polisiekantore wat die aansoeke moet bestuur ook nie “behoorlik opgelei” nie.

Baie duisende lisensie-aansoeke raak sommer net verlore omdat daar nie behoorlike rekord gehou word nie. Met die huidige stelsel kan dieselfde vuurwapen ook in in al nege provinsies gelisensieer word en een persoon kan tot 120 vuurwapens besit.

Die portefeuljekomitee het van die polisiekommissaris, genl. Riah Phiyega, vereis dat daar teen 7 Oktober ‘n herstelplan aan die parlement voorgelê word. So ‘n herstelplan kan egter nog jare duur aangesien korrupsie en ‘n gebrek aan rekenaarvaardighede die polisie kortwiek.

Die DA-lid van die komitee, Dianne Kohler Barnard, het die gebou wat die eenheid huisves, as “absoluut walglik” getipeer.

Seun in die kop geskiet in oproer

stones’n 12-jarige seun is gewond tydens ’n betoging in Jabulani, Soweto, het die polisie in Gauteng Dinsdag gesê.

Ao. Kay Makhubela, polisiewoordvoerder, het gesê die kind is Vrydag geskiet.

“Die seun is na bewering in die kop geskiet en was teen gister [Maandag] steeds in die hospitaal.

“Ons weet nie wie hom geskiet het nie. Dit is tussen die Johannesburgse metropolisie en die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Ons ondersoek die saak.”

’n Saak van poging tot moord is Maandag geopen nadat die polisie die seun se familie opgespoor het.

Makhubela  het gesê inwoners het Vrydag betoog en geëis dat spoedhobbels in die paaie aangebring word omdat motors te vinnig ry in die gebied.

Drie mense is tydens die betoging in hegtenis geneem vir openbare geweld en kwaadwillige saakbeskadiging en het Maandag in die Protea-landdroshof verskyn.

Die saak is uitgestel tot volgende Maandag, wanneer hulle ’n formele borgtogaansoek sal bring. – Sapa

Siek polisiemag kos begroting R1 miljard

sapd3Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het nagenoeg R1 miljard van sy jaarlikse begroting op siekverlof en ongeskiktheidstoelae bestee.

Senior polisiebeamptes, insluitend genl. Riah Phiyega, het Woensdag dié onthullings voor die parlementêre portefeuljekomitee oor die polisie gemaak, het Eyewitness News berig.

Parlementslede is bekommerd oor die toename in gevalle van siekteverlof in die kommissie.

Sowat 140 000 uit die 200 000 polisielede het in 2012 gemiddeld tussen sewe en nege dae siekteverlof geneem.

Tesame met die koste van ongeskiktheidsverlof deur diegene wat hul siekte- en jaarlikse verlof opgebruik het, het die polisiediens meer as R800 miljoen bestee.

Polisielede verklaar nie privaatondernemings nie

sapd3Sewe-en-twintig-duisend lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens is aktiewe direkteure in privaatmaatskappye wat moontlik nie hulle belange verklaar het nie.

Dit het aan die lig gekom in die Spesiale Ondersoekeenheid se tussentydse verslag vir April tot September verlede jaar. Die verslag is deur die Komitee oor Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling in die parlement ter tafel gelê.

In die verslag word beweer dat 99 maatskappye verbind word met werknemers in die polisie en dat sake met die polisiediens ten bedrae van R21 miljoen gedoen is.

Drie-en-sewentig werknemers van die polisie, wat geregistreer is as verskaffers op die polisie se databasis, het na bewering nie hulle belange verklaar nie.

Die Ondersoekeenheid se verslag oor die polisie volg op talle ondersoeke wat gedoen is ná bewerings van ongerymdhede in die polisiediens tussen 2009 en 2011. – RSG