’n 12-jarige seun is gewond tydens ’n betoging in Jabulani, Soweto, het die polisie in Gauteng Dinsdag gesê.
Ao. Kay Makhubela, polisiewoordvoerder, het gesê die kind is Vrydag geskiet.
“Die seun is na bewering in die kop geskiet en was teen gister [Maandag] steeds in die hospitaal.
“Ons weet nie wie hom geskiet het nie. Dit is tussen die Johannesburgse metropolisie en die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Ons ondersoek die saak.”
’n Saak van poging tot moord is Maandag geopen nadat die polisie die seun se familie opgespoor het.
Makhubela het gesê inwoners het Vrydag betoog en geëis dat spoedhobbels in die paaie aangebring word omdat motors te vinnig ry in die gebied.
Drie mense is tydens die betoging in hegtenis geneem vir openbare geweld en kwaadwillige saakbeskadiging en het Maandag in die Protea-landdroshof verskyn.
Die saak is uitgestel tot volgende Maandag, wanneer hulle ’n formele borgtogaansoek sal bring. – Sapa
