Leon Lemmer: Die blankes se omsingelde laer

Jean Raspail, skrywer van 'Omsingel die laer van die heiliges'
Deel op

By ‘n vorige geleentheid het ek genoem dat ek ‘n leemte in my opvoeding reggestel het toe ek verlede jaar uiteindelik Hettie Smit se biegroman, Sy kom met die sekelmaan (1937), gelees het (Praag 14.09.2019). Ek het pas ‘n ander leemte gevul. Ek het die Franse skrywer, Jean Raspail (1925-2020), se klassieke roman, Omsingel die laer van die heiliges (Morgenzon: Oranjewerkers Promosies, 1990, 366p, R200), gelees. Die oorspronklike titel is Le camp des saints (1973). Die Kindle-weergawe van die Engelse vertaling, The camp of the saints (1975), is reeds jare lank nie beskikbaar nie. Die Afrikaanse vertaling deur Naomi Morgan is in Praag se winkel beskikbaar. Om ‘n teks soos hierdie een te vertaal, kon geen maklike taak gewees het nie. Ek het jare lank tevergeefs na Raspail se boek in die boekwinkels gesoek.

Koop die boek hier onder deur op die voorblad te klik.

Omsingel die laer (voorblad)Die Vereniging van Oranjewerkers is in 1980 gestig en word gekarakteriseer as ‘n verregse instansie wat ‘n Afrikaner-volkstaat begeer. In 1982 het hulle Morgenzon aan die Osspruitrivier, by Ermelo en Bethal in Mpumalanga, gekoop. In Larry Bond (gebore in 1952), ‘n Amerikaanse skrywer, se blitsverkoperroman, Vortex (1991, 752p, Kindle $3,44), slaag hierdie “Fascistiese” Afrikaners vóór 1994 daarin om die regering in Pretoria in ‘n staatsgreep oor te neem en Namibië binne te val. Hulle word deur Kubane geopponeer en maak van atoombomme gebruik. Die Amerikaners vernietig die Afrikanermagte. Hierin word hulle deur die Britte gesteun. In sekere opsigte herinner Vortex aan William Luther Pierce (1933-2002) se Turner diaries (1978), wat onder die skuilnaam Andrew MacDonald gepubliseer is.

Raspail was ‘n konserwatiewe Rooms-Katoliek wat teen kommunisme en liberalisme gekant was en eintlik ‘n terugkeer na die monargie in Frankryk begeer het. Hy het baie gereis en verskillende wêrelddele verken. Hy was goed met toestande in Suid-Afrika bekend. Die onderwerp van sy boek is hordes Derde Wêreld-immigrante wat die Westerse beskawing vernietig – nie net in Frankryk nie, maar ook elders, insluitende Suid-Afrika. In 2011 het Raspail se boek opnuut ‘n blitsverkoper geword vanweë die aktualiteit van die onderwerp. Ek het reeds by meer as een geleentheid oor die huidige intog van immigrante in Europa geskryf (bv Praag 3.02.2018 en 9.11.2019). Dit is nie ‘n gewilde onderwerp in die openbare domein nie, gevolglik is daar nie rolprente, verhoogstukke en liedjies oor Raspail se boek gemaak soos dikwels met linkse romans gedoen word nie. Maar hierdie distopie is in ‘n tiental tale vertaal.

Die boektitel verwys na die volgende Bybelverse: “En wanneer die duisend jaar [vrederyk] voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word; en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog. Om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see. En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel” (Openbaring 20:7-9) (p 289; ook 2 en 46). Hier verwys die Gog en die Magog na groepe mense of stamme. In Esegiël 38 en 39 is die Gog ‘n individu en die Magog sy land. Alexander die Grote het in Alexandrië in Egipte ‘n muur en hekke gebruik om die Gog en Magog buite te hou. Vir die doeleindes van Rapail se boek is die Gog en Magog Derde Wêreldse mense wat as inkommers Westerse lande, dus “die laer … en die geliefde stad,” inneem en die wêreldmening mislei. Die ontwikkelde of beskaafde inwoners in Westerse lande is “die heiliges,” wat deesdae in polities byderwetse geledere onheilig verklaar word.

Verhaal

Kortliks verloop die verhaal soos volg. In Kalkutta (Kolkata), in die Ganges-delta in Bengale in Noordoos-Indië, naby Bangladesj, is daar ‘n stormloop na die Belgiese konsulaat. Verarmde Indiërs wil hê dat hulle kinders vir pleegsorg na België gestuur word. Die skema word deur die Rooms-Katolieke Kerk aangemoedig. Die Belgiese amptenare kan en wil nie aan die versoeke voldoen nie. Aktiviste reël toe ‘n eksodus van Indiërs – mans, vroue en kinders – met ‘n vloot skepe na Europa. Namate berigte hieroor Frankryk bereik, beweer linkse elemente dat die immigrante die Franse kultuur sal verryk; dat hulle eerder verwelkom as teengestaan moet word. Inwoners in die suide van Frankryk vlug in groot getalle noordwaarts. Daar word op groot skaal uit die Franse leër gedros terwyl dit suidwaarts beweeg om die inkommers te stuit.

Die immigrante-vloot word nie toegelaat om deur die Suez-kanaal te gaan nie, gevolglik moet hulle om Kaappunt na Europa vaar. In die verbyvaart het hulle die blanke Suid-Afrikaanse regering afgejak – besonderhede hier onder. Westerse lande wat hulleself meer moreel as Suid-Afrika beskou het, het gereël vir die oorhandiging van noodvoorrade aan die vlugtelinge by São Tomé, ‘n eiland teenoor die weskus van Gaboen in Sentraal-Afrika. Die aalmoese is deur regerings, welsyns- en kerklike instansies geskenk. Die vloot het egter nie anker gegooi nie en verby gehou. Die vlugtelinge wou nie die geskenke hê nie. ‘n Verteenwoordiger van die pous het aan boord van een van die skepe gegaan maar is verwurg en in die see gegooi. Anders as wat by Suid-Afrika gebeur het, het die joernaliste gepoog om die swye oor die gebeure by São Tomé te bewaar.

Die Ganges-immigrante het in die Franse Riviera aan die Middellandse See aan land gegaan en weinig teenstand ervaar. Hulle het na die noorde opgeruk en die Franse regering in Parys oorgeneem. Hulle was nie bereid om met die Franse te assimileer nie, maar nogtans daarop aangedring dat hulle die voordele van Westerse beskawing geniet. Dit is nie net Frankryk wat deur immigrante uit die Derde Wêreld oorspoel is nie, maar ook ander Westerse lande soos Amerika en Brittanje. Rusland is in Oos-Siberië deur Chinese binnegeval. Suid-Afrika was in 1973 nog ‘n Westerse land. Hordes swart Afrikane het oor die Limpopo-rivier die land binnegestroom. Die hele Westerse of Eerste Wêreld is deur elemente uit die Derde Wêreld oorgeneem. Westerse beskawing en kultuur is wêreldwyd vernietig.

Suid-Afrika

Hoofstuk 23 handel oor die Ganges-vloot se omseiling van Suid-Afrika. Dit gee ‘n goeie aanduiding van Raspail se gesindheid jeens Suid-Afrika, asook van sy skryfstyl. “Die vloot het die Steenbokskeerkring oorgesteek en Suid-Afrikaanse waters binnegevaar … Waarom verder ly as die kaart getoon het dat die paradys net ‘n hanetreetjie weg was: Suid-Afrika natuurlik! ‘n Rondte soetsappige vleitaal het oor Suid-Afrika se voordele gevolg: die oppervlakte van die land, byna driemaal dié van Frankryk; die klein bevolking, ‘n derde van Frankryk s’n; ‘n nommerpas klimaat; ‘n hoë tegniese en ekonomiese standaard; die fantastiese, onontginde rykdomme. As dit die geval was, waarom moes die verre, ou Europa gevra word om die armada te hulp te snel? … Europa sou die rekening betaal … Vra net wat julle wil hê, hou hulle net weg! Weg van ons af” (148-149).

“Die dienaars van die monster het in woede uitgebars. Apartheid! Rassistiese diktatuur! Die skande van die menslike ras! Die hele verbale spervuur. Die wêreld het Suid-Afrika, daardie sondebok met onbeperkte moontlikhede, daardie gerieflike teiken vir die selfbehaaglike gewete, lankal nie meer met handskoene aangepak nie. Om ‘n miljoen arme mense met ‘n donkervel aan sulke beskermers toe te vertrou, was om hulle tot slawerny te verdoem! Staan terug, julle gematigdes, julle kompromistreffers! Die Ganges-burgers het uit vrye wil vertrek, en hulle sou uit vrye wil hul bestemming kies!” (149).

“Die Afrikaners, beleër in hul regmatige vaderland, het hul rug op die Commonwealth en op Brittanje gekeer en al hul brûe agter hulle verbrand. Siende dat die bufferstaat, Rhodesië, onder ‘n swart regering verdwyn het [deur Raspail in 1973 voorsien al het dit eers in 1980 gebeur], het die gewig van Afrika teen hul hekke gedruk en die gewig van wêreldminagting op hul gewete. Van binne af ondermyn deur leërs predikante, pastore, priesters, sangers en skrywers, het die Afrikaners ook nie meer sagkens gewerk nie. Soos die twintigste eeu in ‘n onophoudelike haat van wit heerskappy ten einde geloop het, het hulle hardkoppig voortgegaan om die een afskuwelikheid na die ander te uiter. En hulle het dit met opset gedoen. Hulle het dit blykbaar geniet. Siende dat almal hulle met beledigings oorlaai het, kon hulle dit net sowel verdien! Dit was ongetwyfeld ‘n ander planeet!” (150).

“Daar was geen amptelike vrystelling nie, maar die president van Suid-Afrika het persoonlik ‘n kort perskonferensie gehou … Die president was uit die staanspoor aanvallend toe hy hom tot die digte groep buitelandse korrespondente van die Westerse pers gerig het. ‘Ek weet dat julle, soos gewoonlik, as vyande hier is. Ons faksmasjiene en telefone sal netnou tot jul beskikking wees om jul gewone weersin oor die hele wêreld in te stuur. Die Republiek van Suid-Afrika is ‘n wit nasie met 80% swartes en nie – soos wat die wêreld graag wil hê, in die naam van ‘n mitiese gelykheid – ‘n swart nasie met 20% blankes nie. Dit is die subtiele verskil. Ons dring daarop aan. Dis ‘n kwessie van agtergrond, van uitkyk, wat julle nooit sal verstaan nie. Laat ons by die punt uitkom. Op hierdie oomblik is daar ‘n vloot van Derdewêreldse invallers op pad Kaap toe, honderd myl van ons kus af. Net buite Durban, om presies te wees. Hul enigste wapens is swakheid, ellende, die vermoë om medelye te inspireer en hul krag as ‘n simbool in die oë van die res van die wêreld – ‘n simbool van wraak. Wat ons Afrikaners dronkslaan, is die masochistiese wyse waarop die blanke wêreld blykbaar daarop uit is om wraak op hulself te neem. Of liewer, dit slaan ons glad nie dronk nie. Dit is baie duidelik. Dit is waarom ons hierdie simbool verwerp, omdat dit niks meer as ‘n simbool is nie. Nie een Ganges-vlugteling sal onder watter voorwendsel ook al lewend sy voete op Suid-Afrikaanse grond sit nie. Stel maar u vrae'” (150-151).

“‘President, moet ‘n mens daaruit aflei dat u nie sal huiwer om op weerlose vrouens en kinders te vuur nie?’ ‘Ek het daardie vraag verwag. Natuurlik sal ons nie huiwer nie. In hierdie idealistiese rasse-oorlog wat deesdae so mode is, is vreedsaamheid die wapen van die massas. Geweld is al wat die bedreigde minderheid het om mee terug te veg. Ons sal onsself verdedig. Ons sal geweld gebruik.’ ‘Kom ons veronderstel dat die Ganges-vloot besluit om in hul massas op die Suid-Afrikaanse strande te land. Sal u bevel gee dat dit geheel en al vernietig moet word?’ ‘Ek dink die dreigement sal genoeg wees om ‘n inval te ontmoedig. Dit is my eerlike mening dat hierdie vloot op pad na Europa is en dat julle julself oor ‘n paar weke daardie vraag gaan afvra. Maar ek is bereid om in beginsel te antwoord, want dit is wat jul wil hê. Ja, indien nodig sou ons die vloot bombardeer … Al wat ek tog kan byvoeg is dat as dit gedoen moet word, dit nie vir ons lekker sal wees nie’… Hy het dit opreg bedoel, byna soos ‘n gevoelige man wat kla dat hy sy dol hond sal moet skiet” (151-152).

Die president se opmerkings het onder meer spotprente in buitelandse publikasies ontlok, bv in Frankryk met as onderskrif; “So spyt dat ons julle nie hier kan toelaat nie. Maar ons het reeds ons eie gelukkige swartes” (152). “In Parys, tydens ‘n amptelike onthaal, het [‘n] minister … geweier om die Suid-Afrikaanse ambassadeur se hand te skud en daarvan werk gemaak om sy rug op hom te draai” (152-153). “Die Suid-Afrikaanse kwessie het sy doel gedien, gedokter en misvorm soos die voriges, uit sy konteks geruk” (155).

“Na hul president se gewelddadige verklarings, wonder ‘n mens waarom die Afrikaners ‘n paar dae later onverwags probeer het om as liefdesusters deur te gaan. Die vloot was besig om om die Kaap van Goeie Hoop in ‘n noord-westelike rigting op met die Atlantiese oseaan te vaar en het reeds die kus agtergelaat toe dit vreedsaam deur ‘n flottielje vragskuite van die Suid-Afrikaanse vloot onderskep is. Op die regering se uitnodiging het verslaggewers en fotograwe die maneuver dopgehou … Suid-Afrika was doodeenvoudig besig om die Ganges-vloot van voorrade te voorsien! Die operasie was tot in die fynste besonderhede uitgewerk: sakke rys is in groot vragte opgehys, reuse houers vol vars water en kaste mediese voorrade is in rekordtyd aan boord gelaai. Daarna het elkeen sy eie koers ingeslaan; die armada na die oop see, in die rigting van Senegal, en die Suid-Afrikaanse vaartuie terug na die Kaapstadse hawe. En toe gebeur die ongelooflike. Dit het al die offisiere en verslaggewers wie se verkykers op die Ganges-vloot gerig was, gekos om die onmoontlike te besef: die armada was besig om alles in die water te gooi!” (155-156).

Wat die Suid-Afrikaanse regering gedoen het, was “iets wat maar net ‘n liefdadigheidsgebaar was. Gewetensgeld? … Bybedoelings? Hoe dit ook al sy, dit was nog steeds ‘n menslike gebaar … Daar is ‘n behulpsame hand gebied, in lewende lywe. Dit was genoeg om daardie klomp Afrikaners gevaarlik baie na gawe mense in die oë van die wêreld te laat lyk! Gawe mense, daardie rassiste? … Na vyftig jaar se boere-bedrog kon die Weste teruggly na sy rassistiese verlede en verdedigingswerke teen die huidige gevaar oprig … Die blankes kan wakker word, verras en verlig om te vind dat hulle aangetrokke voel tot die eens gehate rassiste. Nog nooit nie! … Maar die Weste is nie ‘n feniks wat uit sy Westerse as opstyg nie” (156). In die Westerse pers was daar opskrifte soos die volgende oor die gebeure: “Was vergifting hul motief?” “Smeer jul goed aan iemand anders af!” “Armada: gifkomplot misluk” en “Suid-Afrikaanse rys op seebodem: armada behou waardigheid” (157).

Aanhalings

Die gevierde Amerikaanse filosoof en pragmatis, Sidney Hook (1902-1989), het in 1975 geskryf die boek “[would] succeed in shocking and challenging the complacent contemporary mind” (Wikipedia). Ronald Reagan was baie beïndruk met die boek. Die Southern Poverty Law Center (Praag 19.09.2020), daarenteen, het die boek verdoem. In Submission (2015) het Michel Houellebecq voortgebou op Raspail se tema deur ‘n Islamitiese staatkundige – en dus ook sodanige religieuse – bewind in 2022 in Frankryk in die vooruitsig te stel (Praag 20.10.2019). Wat Raspail se boek merkwaardig maak, is dat die outeur vroeg in die jare sewentig in baie opsigte voorsien het wat in die volgende eeu in veral Wes-Europa, Brittanje en Amerika sou gebeur. Weens mandaatlose magsoorgawe en dus verraad is swart heerssugtigheid reeds sedert 1994 die tragiese werklikheid in Suid-Afrika.

Hoe profeties die boek was en moontlik is, blyk nie soseer uit die verhaal as sodanig nie as uit die opmerkings wat dwarsdeur die teks voorkom. Dit is waarby ek my voorts bepaal. Die aanhalings moet liefs nie oorgeslaan word nie. Daar is heelwat pitkos. Pitkos: “kragtige voedsel vir die gees” (HAT) – iets wat Madeleine van Biljon (1928-2010) destyds kwistig by vroue-byeenkomste uitgedeel het.

Ek lys die aanhalings meesal in die volgorde waarin hulle in die boek voorkom. Ek wend feitlik geen poging aan om hulle te sistematiseer of vertolk nie. Dit gaan grootliks om “ons” teenoor “hulle” – ‘n onderskeid wat deesdae al hoe meer taboe is. Albei kante van die saak word deur Raspail gestel. Maar Raspail neig om dinge soms op ‘n indirekte manier te stel. Goeie, begrypende lesers is nodig. Die gesigspunt is meesal Frankryk.

Raspail skryf “van ‘n anti-wêreld wat uiteindelik besluit het om persoonlik aan die deure van oorvloed te kom klop” (9).

Oor die intog van hierdie vreemdeling in Frankryk en die Weste word daar verwys na “die mure van Jerigo [wat] sonder stryd geval” het (11). Geen wonder dat Mozart se “Eine kleine Nachtmusik” oor die radiosenders gehoor word nie (11).

Uit die oogpunt van ras is daar “die wete dat jou eie die beste is, die triofantelike vreugde om te voel dat ‘n mens deel is van die beste wat die mensdom ooit voortgebring het … Net die manne wie se harte op die regte plek sit sal vannag die stryd stry … Hy met sekerheid weet dat die mensdom ten einde laaste nie meer ‘n broederlike geheel vorm nie … Die mens het nog nooit die mensdom as geheel … liefgehad nie, maar net diegene wat hy as sy mense, as deel van sy stamgroep, hoe groot dit ook al mag wees, erken” (14).

“Môre sal ‘n mens hierdie land nie meer ken nie. Hy gaan weergebore word … Jou vel is wit … Jy praat ons taal” (16).

“Jou huis … [dateer uit] 1673 … Drie eeue se sekerheid wat van geslag tot geslag oorgedra is … Jy’s so opgetrek met jouself en met waar jy hoort” (18).

“Hulle sal met jou mooi voordeur vuurmaak … Mooi sal nie meer mooi wees nie … Niks sal meer iets werd wees nie … Wanneer hulle met hul vernietigingswerk begin, sal dit wees sonder om te weet of te verstaan hoekom” (19).

“Jy is nie my soort mens nie. Ons twee is onversoenbaar” (20).

“Daar is geen vaandels en geen trompetgeskal nie. Dit is ‘n Westerse oorwinning, net so volkome as wat dit nutteloos en belaglik is” (21).

“As dit by liefde kom, word daar nie gedeel nie, en het ‘n mens vrede met die wêreld … Wat daarvan as dié miljoene op pad is? … Is onbeteuelde liefdadigheid nie in die eerste plek ‘n sonde teen jouself nie? … Toe het die armes te veel geword. ‘n Mens het hulle nie meer geken nie. Dit was nie mense van die kontrei nie. Hulle was nou naamloos. Hulle het oral gewemel. En so slim! Hulle het families, huise en stede binnegedring. In hul duisende het hulle op ‘n duisend onfeilbare maniere vir hulle ‘n weg gebaan. Deur die gleuwe in die posbusse het hulle om hulp gesmeek, elke oggend het hul skrikwekkende foto’s uit koeverte gespring en in die naam van die een of ander organisasie ge-eis wat aan hulle verskuldig is. Hulle het oral ingeglip … Hulle was oral om ‘n mens … Maar die ergste moes nog kom. Hulle het op televisie begin roer … Die armes het die aarde oorgeneem … Die Pous het alles in ‘n bodemlose put afgegooi – dit het nie eens die plattelandse begroting van Pakistan vir een jaar gedek nie! Moreelgewys het hy maar net bewys van sy rykdom gelewer … Die Derde Wêreld het hom gou daaroor verwyt en hy het alle geloofwaardigheid onder hulle verloor” (23-24).

“Hy sal drink op die gesondheid van die ou wêreld en op dié wat nog daarin tuis voel … Elke voorwerp in hierdie huis dra die stempel van die waardigheid van die mense wat dit bewoon het – hulle gematigheid, hul diskresie, hul beskeidenheid, hul voorliefde vir die vaste tradisies wat een geslag aan ‘n ander kan oordra as hulle nie hul trots verloor nie … Die mens word deur sy besittings gevorm, baie meer as deur die spel van idees; dit is waarom die Weste sy selfrespek verloor het en die paaie oorstroom is van die hordes wat noordwaarts vlug” (25).

Volgens ‘n sosioloog: “Daar is geen oplossing nie. Blankes sal maar blankes bly – en swartes sal maar swartes bly. Hulle kan nie verander word solank die een wit en die ander een swart is en daar nie ‘n totale vermenging na ‘n taankleur is nie. Hulle haat mekaar op sig, en namate hulle mekaar leer ken, word hulle wedersydse minagting en haat net meer” (27-28).

“Om nie eens van die res van die Europese lande te praat, wat verstandiger as ons [België] was en hul grense vroeër gesluit het nie [40 000 (fiktiewe) Indiese kinders is binne vyf jaar in pleegsorg in België geplaas] … Julle het uit niks uit ‘n rasse-probleem … reg in die hart van ons blanke wêreld geskep. Dit is julle doel, want nie een van julle is trots op sy wit vel en op dit wat dit beteken nie … Dit is die prys van gelykheid tussen mense” (36).

“Al wat hulle van julle bekeerdery oorgehou het, is die wete dat die Weste, waarvan julle die simbole is, ryk is. Vir hulle verteenwoordig julle oorvloed. Jul blote teenwoordigheid is vir hulle ‘n teken dat dit iewers op aarde bestaan en hulle sien dat julle gewetenswroeging het omdat julle dit vir julself hou … ‘Neem ons almal saam soontoe, na jou land toe!’ Die idee het byval gevind. Julle het dit verwelkom, aangemoedig, georganiseer en nou is dit buite ons beheer. Nou is dit ‘n vloed, ‘n sondvloed. Goddank die see is nog tussen hierdie land en ons s’n” (37-38).

“‘Verraaiers’ … ‘n spesie wat al hoe meer volop word namate die Weste krimp. ‘n Mens sou gedink het dit moes andersom gewees het, maar die gees verrot en die hart word boos” (38).

“Daar is nie meer ‘n Derde Wêreld nie. Dis net ‘n woord wat julle gemaak het om ons op ons plek te hou. Daar is net een wêreld, en daardie wêreld gaan deur lewe oorstroom word” (55). Op ‘n soortgelyke manier word geredeneer: Daar is nie rasse nie. Daar is net een ras: die menseras; of, ná vermenging, “die toekomstige enkele ras” (66). Kyk ook bladsy 166, 167, 222, 224, 313 en 349.

“Die gewete van die ryk lande is blykbaar ongeroer deur die lyding wat deur soveel derdewêreldse volke verduur word … ‘n ramp … wat besig is om te broei en julle kan daar niks aan doen nie … Dit wys net hoe dekadent julle regtig is” (57).

“In die ou dae is biskoppe gebore en nie gemaak nie en het priesters net priesters gebly. Deesdae weet niemand waar om die steep te trek nie en alles is deurmekaar” (61). Dit gaan vir baie kerklikes om “geregtigheids-” oftewel linkse politieke aktivisme. Kyk bladsy 72, 163, 196, 215, 220-221, 239 en 328.

“Omdat hulle niks gehad het om te eet nie, het hulle die Weste met woorde uitmekaar geskeur. Hongerte was besig om hulle venynig te maak … Verrotte wêreld, maak jou gereed om jou skat te deel” (66-67).

In Rusland: “Dit het tyd geword om in ‘n gees van broederlike liefde hierdie Siberiese grond, wat deel van die heilige erfenis van die Sjinese volk is, aan hulle terug te besorg” (69). “‘n Mens moet oppas as jy oor arme, nederige mense praat met ander arme, nederige mense met wie daar vir die afgelope sestig jaar net oor arme, nederige mense gepraat is” (70).

“Vandat die wêreld se priesters hulself met penne of mikrofone bewapen het, kan ‘n mens jouself nie eens meer hoor dink nie. Ons leef in ‘n priester-era … Elke land skei duisende vrywillige lekepriesters af wat die verstand van miljoene idiote vergiftig” (72).

“Dit sou eenvoudig onwaar wees om te sê dat die nuus van die vloot se vertrek enige opskudding in die Westerse wêreld veroorsaak het … Dit is seker waarom daar soveel slim mense was wat van die begin af gewillig was om eindelose lae verbale room wat dik uit hul brein gespuit het, oor die onderwerp te smeer. Die melkkoeie van die kontemporêre Westerse denke het stertswaaiend tot die daaglikse melkery toegestem … As ‘n mens iets van die Westerse mening oor die vlugtelingevloot … wil verstaan, moet ‘n mens een ding in gedagte hou, naamlik dat hulle nie ‘n bloue duit omgee nie. Dit is ongelooflik, maar waar. Hoe meer hulle omtrent sulke dinge uitvind, hoe ondeurgrondeliker is hul onkunde … En hoe swakker in smaak is hulle sporadiese uitbarstings wat al hoe seldsamer word … Altyd sulke ingewing-van-die-oomblik emosies of tweedehandse gevoelens wat deur middelmannetjies bevorder word. ‘n Drama uit die werklike lewe, wat tuis bedien word deur die los vrou genaamd massamedia, wat net die leegte kom verlewendig waardeur die Westerse mening lank reeds verswelg is” (73).

“Dankie tog vir die Israeli’s, daardie groot vermakers van die Westerse wêreld. Wanneer hulle op die verhoog is, is ‘n mens nie meer verveeld nie. Met opstaantyd die volgende dag sal ons grapmakers hul oggendkoffie geurig stoom op die gebulder van die Israeliese kanonne. Maar betrokke voel? Nooit! Waarom?” (74). Kyk ook bladsy 349.

“”n Miljoen vlugtelinge uit die Ganges gereed om Frankryk môre-oggend binne te val. Vyf ander vlote is van Afrika, Indië en Asië af op pad’. Dan sal die klein Westerling hardloop om suiker, olie, noedels en droë wors te gaan koop. Hy sal ‘n kous vol goue muntstukke onder een van die vloerplanke bêre. Hy sal by die motorhawe die olierige stewels van die baas lek in ruil vir twee vol jerrykanne wat vir periodieke ontruimings opsy gesit word. Dan sal hy met oë wat vogtig van manlike teerheid is na sy vrou, sy dogter en sy bejaarde moeder kyk wat reeds die stralekrans van selfopoffering dra” (75).

“Dan was daar ‘n goeie dosis morele bedenkinge – of lafhartigheid … – in die aansteeklikheid van hul ruggraatlose uitsprake. Soos die vrees om nie nootvas saam met die hiënas te grinnik nie, nie ritmies in die koor van die Fariseërs te huil nie, nie saam met die idiote te blêr nie, en om onwetend te wys dat ‘n mens vir jouself kan dink. Veral die vrees dat die wêreldgewete sy vinger na ‘n mens sou kon wys en jou as die pretbederwer op hul verraderlike fees uitsonder. O! Watter puik krabbelaars en deklameerders het ons nie in daardie dae van stilte voor die storm gehad nie!” (76).

“Kan ‘n mens nie die regerings van die Indiese subkontinent vra om hulle te onderskep terwyl daar nog tyd is nie?” (77) – soos die Europese Unie wat enkele jare gelede ‘n ooreenkoms met Turkye aangegaan het om nie deurgang aan vlugtelinge toe te laat nie.

“Dit spreek vanself dat die bevolking aan boord oor twintig jaar seker al sal verdubbel het … Hulle sal aandring op onafhanklikheid. En waarom nie? Die VN het afgevaardigdes uit ‘n honderd lande wat geen bestaansreg het nie” (78).

“Hoe ryker ons is, hoe jaloerser sal hulle wees, en hoe meer sal ons moet betaal. Ons is gewoond daaraan. Wat doen ons wanneer daar ‘n probleem is in die Derde Wêreld en ons in vrede gelaat wil word? Ons betaal” (79).

“Hierdie vloot [is besig om] ‘n weg deur ons gewetes [te] baan … dink u nie dat Frankryk ‘n plig het om in ‘n helder stem vol medelye daarop te antwoord en nou reeds ‘n verwelkoming te reël wat ooreenstem met ons materiële en morele middele nie? Wanneer die oomblik van waarheid kom, moet ons die tekens kan lees en ons selfsugtige belange tweede stel!” (81).

“Binne die raamwerk van internasionale samewerking wat ons hopelik in staat sal stel om die las van vrygewigheid te deel, ‘n vrygewigheid wat ek bevrees is ons nog sal berou” (82-83).

“‘n Opregte, brandende passie vir die wêreldburger! En watter droewige, afstootlike skepsel was … [‘n/die] wêreldburger nie! Die joernalis se pen het hom alle moontlike vorms laat aanneem, met as konstante, sy minagting vir tradisie, die Westerse mens en die patriotiese Fransman” (85).

“Wanneer vryheid uitbrei tot ‘n vryheid van instinkte en antisosiale bandeloosheid, is vryheid dood” (86).

“Laat een van die biljoene, ‘n Andes-Indiaan, ‘n neger uit Tsaad of een Pakistani – almal burgers van onafhanklike nasies en trots op hul selfbeskikking – van ellende omkom, en die Weste voel skielik verplig om in ‘n beswyming van berou te gaan. Diegene wat die Weste oprui, weet dit goed. Hulle vra nie eens vir geld nie. Daar is geen pleidooi dat die Weste op hul beursies moet slaan en die vier vyfdes van die aardbol wat min of meer op die hakke van die Weste aansleep, moet aanneem nie. Hulle mik na die kop, dis al, na daardie afgeleë lobbe waar die berou, selfverwyt en selfwalging, wat deur ‘n duisend punte geprik word, uiteindelik uitbars en hul leukemie-selle deur ‘n eens gesonde liggaam versprei” (89).

“Siende dat niks ons die reg gee om in hul pad te staan nie, het die Franse regering besluit … om saam met sy Westerse bondgenote ‘n soort algemene verwelkoming te bestudeer binne die raamwerk van internasionale samewerking wat ons hopelik in staat sal stel om nie alleen die las van vrygewigheid te dra nie” (93-94).

“Hy sou verbaas gewees het as hy moes ontdek dat hy inderwaarheid ‘n gevangene van die mode was, gebind deur al die nuwe taboes, gekondisioneer deur dertig jaar van intellektuele terrorisme” (97).

“Hou tred met jou tyd, koop ‘n skuldige gewete!” (98).

“Twee en dertig duisend sewehonderd twee en veertig skoolleerkragte het terselfdertyd die volgende dag se opstelonderwerp gevind. ‘Beskryf die lewe van die arme passasiers aan boord van die skepe en brei uit oor hoe jy oor hulle voel deur jou byvoorbeeld in te dink dat een van hierdie wanhopige gesinne jou gasvryheid kom vra’. Onweerstaanbaar! Die liewe klein engeltjie met die naïewe siel en die gevoelige hart van ‘n kind, sal vier blaaie vol kinderlike patos skryf wat ‘n opsigter tot trane sal roer en sy opstel sal die hoogste punte kry. Dit sal in die klas voorgelees word en al sy maats sal hul hare uit hul kop trek omdat hulle te suinig met hul trane was. Dis hoe ons kinders deesdae gevorm word” (100). Soos: Skryf ‘n opstel oor waarom Nelson Mandela ons almal se held is.

“Ons ryk nasies het die Derde Wêreld verdoem. Ons het hoë mure van alle soorte opgerig … en driekwart van die bevolking van die aardbol nie lewenslank nie, maar generasies lank, daar gevange gehou. Maar nou het hierdie reuse gevangenis vreedsaam in opstand gekom. Die gevangenes het begin ontsnap; ‘n miljoen van hulle, sonder wapens en sonder kwaadwilligheid, is op pad om net geregtigheid te vra. Solank daar op hierdie aarde, wat van honderd jaar se ongelooflike vooruitgang oneindig gekrimp het, nog twee tipes mense is, wat ‘n skrale vyf uur per vliegtuig uitmekaar is, een wie se jaarlikse inkomste nie meer as vyftig dollar is nie, en een wie se inkomste by die twintigduisend dollar is, sal niks my (met alle eerbied en respek) kan wysmaak dat die een nie ‘n uitbuiter en die ander een sy slagoffer is nie” (102).

“As ‘n mens hom ‘n bietjie druk, sal hy selfs erken dat hy deel van ‘n beskaafde land is en dat hy trots is daarop, en waarom nie?” (102).

“Dit is die universele geregtigheid waarna daar so gesmag is! Die onteiendes van die aarde moes begin roer voordat die magtige Weste gewilliglik ellende vierkantig in die oë gekyk het … Die bande tussen mense sal opnuut bestudeer moet word, die winste sal verdeel en belê moet word. Ons ekonomie sal bedink moet word in terme van liefde en nie eiegewin nie, sodat elkeen van ons, en veral die Ganges-vlugtelinge, eindelik kan aandring op ‘n ryk, vol lewe” (103-104).

“As u ‘n miljoen Indiërs by ons wil laat intrek … sal hierdie land nooit weer dieselfde wees nie … Die vermenging van rasse, kulture, en lewenstyle. Die verskillende vlakke van bevoegdheid. Die einde van Frankryk soos ons dit ken, of die einde van die Franse volk” (106).

“Hulle is te jonk om te onthou, maar daar was ‘n tyd toe ‘n mens daardie soort mense se sake vir hulle gewerk het” (109).

“Die spul verraaiers het in elk geval onaantasbaar geword. Die linkse partye is nou so vol van hulle dat hulle mekaar verdrink, sodat niemand meer agterkom dat hierdie mense besig is om ons romp en stomp uit te verkoop nie. Ek is seker dat alles verlore is” (111). Die teenargument is: “Ons het geen keuse nie. ‘n Mens moet lewe saam met jou tyd, selfs al berou jy dit. ‘n Mens moet nuwe denkwyses soek wat meer in pas is met jou tyd” (111). Kortom, ons moet oopkop wees, dus bykom.

“[Ek stel voor] dat ons in hierdie tyd van gissings ons bes moet probeer om gewoond te raak aan die gedagte, om ons te vereenselwig met die idee om saam te leef met menslike wesens wat oënskynlik so anders is as ons” (114).

“Te oordeel aan die goeie Franse … was velkleur net ‘n illusie en was almal se siel daaronder dieselfde” (120). Teenargument: “U ken nie my volk nie … U weet nie wat vir u voorlê as hierdie vloot barbare ooit op julle nek kom lê nie. Alles sal in julle land verander … Hulle sal julle verswelg” (120).

“As ‘n mens in aanmerking geneem het wat die Ganges alles aan ons geskenk het – gewyde musiek, teater, dans, joga, mistisisme, ‘n nuwe styl in kleredrag, juwele, kunsvlyt – moes ‘n mens jouself afvra hoe ons so lank sonder hulle klaargekom het!” (121). Dus, die Indiese kultuur verryk die Franse kultuur.

“‘n Mens publiseer nie die reine waarheid nie, maar net genoeg om jou gewete as ‘n verslaggewer volgens jou eie standaarde skoon te hou … Die Laaste-Kans-armada op pad na die Weste toe het op haat geteer … In hierdie geval was die voorwerpe die blankes” (157).

“Die wêreldmening vaar op koers, bedrieg deur die mite van universele broederskap” (159). ‘n Tekenwedstryd vir kinders word in Frankryk aangekondig. “Die tema van die wedstryd: ‘Ons gaste uit die Ganges'” (159).

Die Wêreldraad van Kerke het “uitdrukking gegee aan sy oortuiging dat die hedendaagse Westerse gemeenskap nie gered kan word nie en vernietig moes word sodat ons ‘n nuwe regverdige wêreld op die ruïnes kan oprig … [Hulle het] nie nagelaat om die Palestynse vlugtelingkampe, die Angolese vryheidsvegters, en die swart bevrydingsleërs van voorrade te voorsien nie; om die waarheid te sê, oral waar die stem van haat so luid soos dié van nood was” (163).

Raspail skryf van “‘n volbloed prinses” wie se eerste onselfsugtige, ongeduldige woorde – “toe sy haar delikate voetjie op die Afrika-bodem [São Tomé] neergesit het” – was: “Neem my na die arme goedjies toe dat ek hulle elkeen ‘n drukkie kan gee!” (164).

“Daar is nie meer Hindoes nie, nie meer Franse nie, net die Mens en dit is al wat tel! Hoera” (166 en 167).

“Die hemel behoed die wit ras die dag wat hulle weier om uiting aan basiese waarhede te gee” (178).

“Ons bevind ons voor ‘n situasie wat ook uniek in ons geskiedenis is. Ek praat van hierdie vloot Ganges-vlugtelinge op pad na Europa toe; ewe vreedsaam, maar nogtans sonder enigiemand se toestemming en sonder uitnodiging” (187-188).

“Oral is daar dieselfde pleidooi om u deure oop te gooi en hulle te verwelkom. Selfs van die Pous af, daardie flou stem van ‘n siek Christendom … As ons nie ons deur kan toehou nie, sal ons nooit weer alleen wees nie” (196).

Weens “humanitêre waansin … die lewe nooit weer soos vroeër sal wees nie” (201).

“Ek hoop daar is baie Zoeloes in Londen. Ek sou dit graag wou sien – ‘n Zoeloe as burger van Groot-Brittanje!” (202). Sedert 2016 is Sadiq Khan, ‘n Moslem, die burgemeester van Londen.

“Die [Franse] regering beloof dat alles gedoen sal word om mensliewende oplossings vir hierdie probleem sonder weerga te vind en sal nie huiwer om dit af te dwing nie. Die President het weer eens sy respek bevestig vir diegene, en daar is baie van hulle, wat hul ondersteuning van die vlugtelinge uitgespreek het, maar hy waarsku teen oordaad wat die behoud van wet en orde, wat nou so noodsaaklik is, kan teëwerk” (204).

“Die Weste se gewete pla hom. Hulle kan ellende nie in die oë kyk nie” (205).

“Niemand is vandag meer ‘n rassis nie” (208).

“Wanneer hulle [immigrante] by ‘n winkel ingaan, word hulle [in Frankryk] erger behandel as ‘n swarte in Suid-Afrika” (211).

Die Ganges-vlugtelinge “was oortuig daarvan dat hy [die Pous] Kersfees persoonlik sou kom om die tronkdeure oop te maak. En waarom nie, soos wat dit deesdae gaan? Enigiets is moontlik. Die wêreld is onderstebo” (215).

Die pers is “dit eens dat daar na ‘n menslike oplossing vir hierdie probleem sonder weerga gesoek moet word … Aanvaarde idees is maar hardnekkig … Dis soos dwangbuise wat ons verstand versmoor” (219).

Die Pous het ‘n verklaring uitgereik: “Op hierdie Goeie Vrydag, ‘n dag van hoop vir Christene oor die hele wêreld, pleit ons by ons broers in Jesus Christus om hul harte, hul siele en hul aardse rykdom vir die arme mense wat God gestuur het om aan ons deure te kom klop, oop te maak. Vir ‘n Christen is daar geen ander weg as dié van liefdadigheid nie … Dit is alles of niks nie.” “Daar is ook bekend gemaak dat Sy Heiligheid bevel gegee het dat alle waardevolle voorwerpe wat nog in die paleise en museums van die Vatikaan is, verkoop moet word. Die opbrengs sal geheel en al vir die verwelkoming en vestiging van die Ganges-vlugtelinge aangewend word” (220-221).

“Die VN het so pas eenparig ‘n voorstel aanvaar om die begrip van ras af te skaf, wat natuurlik ons s’n beteken” (222).

“Hul enigste misdaad is dat hulle tot ‘n ander ras behoort. Dit is dus nie net ‘n kwessie van basiese mensliewendheid om hulle te respekteer nie, maar ‘n kwessie van geregtigheid. Enige geweld wat ons hulle sou aandoen, hoe groot of hoe klein ook al, enige gebrek waaraan ons ons sou skuldig maak, sou des te meer ontsettend wees in die lig van die pynlike en moeilike posisie waarin die verskillende ontberings van hul vlugteling-status hulle geplaas het” (223).

“‘n Plegtige erkenning dat rasse ongelyk is … Hy moes gedink het hulle is ongelyk, maar dat verskillende rasse op verskillende tye bo is” (224).

“Dit beteken net ‘n ander soort volksmoord – ons s’n. Dit sal die einde beteken … Ons gaan stadig doodgaan, van binne af deur miljoene kieme wat in ons liggame ingespuit is, doodgaan. Dit sal lank duur. Geen pyn of bloed nie. Dáár lê die verskil tussen ons dood en hulle s’n. Maar blykbaar sien ons Westerse manipuleerders van die denke dit alles in terme van menseregte” (226).

“Op die lang duur is dit vir my onmoontlik om daardie uitgehonderde klomp toe te laat om op ons strand te land. Ons kan hulle in kampe sit, of probeer om hulle in die gemeenskap op te neem. Maar die resultaat sal dieselfde wees – hulle sal hier bly. En as ons eers die deur oopgemaak het en gewys het hoe swak ons is, sal daar ander kom. En dan nog meer en meer. Dit het reeds begin” (227).

“Wat maak dit saak watter soort bewind dit is, solank julle net regeer … Ek weet dat almal se oë op Frankryk gevestig is, in die hoop dat ‘n massamoord deur die land wat menseregte aan die wêreld gegee het, enige gruweldade wat hulle dalk self sal moet pleeg, sal verskoon … Die enigste werklike vraag in vandag se wêreld [om] te beantwoord [is] of die menseregte wat vir ons so kosbaar is, beskerm kan word ten koste van die regte van ander mense” (230-231).

Die VN se nuwe hoofkwartier is in Hanoi (233).

“Intussen het Afrika die bospaaie en woudroetes gevat in antwoord op ‘n enkele bevelswoord: ‘Sien julle by die Limpopo’. Suid van die Limpoporivier het die gehate Suid-Afrikaanse Republiek gelê, die dolk in Afrika se rug, die gapende wond in haar trotse hart” (235).

“Daar is geskat dat daar meer as vier miljoen in stamme en nasies op die noordelike oewer van die Limpopo saamgetrek was” (236). Kyk ook bladsy 339.

“Hulle sê vir ons die tronke is oorbevolk. Maar is die ergste tronk nie ons lewe daarbuite nie?” (238).

“Die kapelaan [het] self die tronkhekke oopgegooi met die opmerking dat Christus vir almal gesterf het, maar in die eerste plek vir die diewe” (239). Soos die Belydenis van Belhar (1986) dit stel: God is “op ‘n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die veronregte.” Daar is klaarblyklik nie gelykheid nie.

“Ander Westerse nasies staar dieselfde bedreiging in die gesig. En net soos ons, is hulle onwillig om dit te konfronteer. Oor vyf ure sal ‘n miljoen vlugtelinge vreedsaam in ons land voet aan wal sit. Vlugtelinge wie se ras, godsdiens, taal en kultuur verskil van ons s’n … wat van hongersnood, ellende en wanhoop af gevlug het. Dramatiese voorbeelde van daardie steeds-groeiende voorraad van surplusmensdom, slagoffers van die vinnig stygende geboortesyfer wat die vloek van die laaste jare van hierdie eeu is” (250).

“Lafhartigheid in die aangesig van swakheid [is] die subtielste en ook dodelikste vorm van lafhartigheid” (250-251).

“Die linkses is ‘n verwoestende brand wat verorber en langsaam verteer … Die regses is ‘n onstabiele vlam wat vrolik flikker” (256).

“Dit is bekend dat daar twee vorms van rassisme is: dit wat deur blankes beoefen word – afskuwelik en onvergeeflik wat ook al die motiewe is; en dit wat deur die swartes beoefen word wat heeltemal verdedigbaar is, wat ook al die oordaad daarvan, siende dat dit bloot die uitdrukking van ‘n regverdige wraak is en dat dit by die blankes berus om geduldig en begrypend te wees” (270).

“Ek wil sien hoe die verlede sy doodsnik gee” (297).

“Die Derde Wêreld het begin om sy walle te oorstroom en die Weste was hul straatriool” (308).

“Hulle [die Derde Wêreld] was die enigste ras. Al die ander het eenvoudig nie langer bestaan nie … Die [wit] ras sou op ‘n wonderbaarlike wyse moes opstaan uit sy as voordat hulle weer ag daarop sou slaan” (313).

“Die lewe is goed. Die lewe is liefde en alle mense is broers” (315-316).

“Noudat die rewolusie hier is, gaan ons dit mos eers geniet, of hoe?” (317).

“Die Derde Wêreld se weiering om te erken dat hulle enigiemand iets geskuld het” (321).

In São Tomé kon die kerklikes (die Vatikaan en die Wéreldraad van Kerke) nie “die skynheilige roepstem van geregtigheid weerstaan nie … Wat werklik saak gemaak het, was om eerste daar te wees om met hul simboliese teenwoordigheid die sleutels van die Weste af te gee – met blydskap daarvan afstand te doen en uiteindelik die nuwe wêreld gestalte te laat kry” (328).

Raspail se voorspelling in 1973: “Niemand het natuurlik eens meer oor Suid-Afrika gedink nie. Selfs die walging wat die land by almal wakker gemaak het, het geen doel meer gedien nie. Soos ‘n strand wat oorstroom is deur die aankomende gety wat van die Limpopo se kant af ingekom het, het dit van die kaart af verdwyn as ‘n soewereine wit staat. Daar was net een troos – dat al Suid-Afrika se [wit] kollegas wat die land so lank verstoot het, terselfdertyd ondergegaan het” (339).

“Talle beskawings wat slagoffers van ‘n soortgelyke lot was, is weggebêre in ons museums” (340) – soos wat tans met bv ons standbeelde plaaslik gedoen word.

“Die koerante [het] doodgebloei … aan ‘n stroom van volslae onsin” (340).

“Wanneer die regime en die ideologie oornag verander, kan ‘n mens nie aanhou gekskeer, spot en veroordeel as jy nie ‘n oorloper word nie” (347).

“Israel gedoem was om dit nie te oorleef nie” (349).

“Elke tong het van dieselfde broederlike kwyl gedrup … Die aard van ‘n nuwe rewolusie wat hierdie keer nie klasse nie, maar wel rasse uitgewis het … Die baanbrekers van ‘n verligte eeu sonder vooroordele, waar rasse plek sal maak vir die mensdom” (349).

“Net ‘n wit vrou kan die lewe aan ‘n wit baba skenk” (349). Dit herinner aan Hongarye waar dit onlangs in wetgewing vasgelê is dat ‘n huwelik tussen ‘n man en ‘n vrou is.

“Wat is kultuur … as dit nie ‘n eerbiedige inventaris van die verlede is nie?” (352).

“Die belangrikste ding het ons nie. Die volk! … Ons moet weet. Is ons die volk of nie?” (355).

“Alles sal verander in hierdie land van julle … Hulle sal julle verswelg” (361).

“Om blank te wees na my mening niks met velkleur te doen het nie. Dis ‘n geesteshouding” (361).

“The author dedicates the book to his grandchildren, in the hopes they will grow up in a world where they will not be ashamed of him for writing such a book” (Wikipedia). Dit kan ‘n tevergeefse hoop wees.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.