praag.co.za

Category: Elma Potgieter

  • Elma Potgieter: Ope brief aan Stellenbosse taalmoordenaars

    Elma Potgieter: Ope brief aan Stellenbosse taalmoordenaars

    Nog ‘n ope brief aan die taalmoordenaars op Stellenbosch (en elders)!
    Komende van ‘n nasaat van ‘n volk wat goddelike vryheid bo alles gestel het.

    Twee vryheidsoorloë is geveg nie vir geld en goud nie – vir vryheid en vir reg.  My twee oupas, Potgieter en Goosen, het as jongelinge van 16 en 17 geveg vir vryheid – ook vir die vryheid om hulle nuwe taal te praat.

    Ek gaan nie langer swyg nie – want nie net koester ek ‘n onbetwiste liefde en lojaliteit teenoor my voorgeslagte nie.

    Ek verdien my brood en botter uit my taal – my taal wat hier aan die Suidpunt van Afrika, op Afrikabodem, as ‘n nuwe taal tot stand gekom het, gegroei, geblom het…

    Die taal van die argitek, die boer, die bouer, die digter, die elektrisiën, die lektor, die loodgieter, die waterwyser, die rioolsuiweraar, die huisvrou, die onderwyseres, die tikster, die uitvoerende beampte en die, ja, die toneelspeler…!

    Ek wil my God in my taal dien – “hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë…”

    Ek glo dat die gelowige mens se geloof in God, die Skepper van hemel en aarde, getoets word deur telkens “kleiner” lojaliteite in gevaar te stel.

    Gaan ons aanhou swyg en maak of dit nie besig is om te gebeur nie?

    Lieg en sê: Jammer, ek het te veel gesuip – waar is die slaggate wat ek probeer misry?

    Oupas, pa, oumas, ma, ousus Diana, julle het my nie so grootgemaak nie.

    Die oupas het geveg vir vryheid. Die oumas het ‘n reguit pad geloop.

    Julle het in Mafeking-konsentrasiekamp, op St Helena in ballingskap uit die Bybel geleer om Afrikaans te bid te dink, te praat, te droom…

    Ma, Pa, ousus Diana julle het nooit kragwoorde gebruik nie…

    Maar julle jongste spruit, ja, ousus Diana, jou kleinsus, swets soos ‘n voorslag in Afrikaans!

    Luister goed, Wim de Villiers, luister goed.

    Taalmoord is volksmoord.

    Watter gevaarlike woorde het professor Pieter Duvenage vandag oor die radio geuiter?

    “Etniese suiwering” Wim, “etniese suiwering…”

    Ns. Gaan kyk gerus na Elma se jongste toneelstuk!

  • Elma Potgieter: Ekskuus, vryheid van spraak?

    Elma Potgieter: Ekskuus, vryheid van spraak?

    Vryheid van spraak is `n mite.

    Waarom? Ek weet nie.

    Wat ek wel weet. Daar bestaan `n stille verstandhouding1 onder “ingeligtes” dat alle uitsprake sal voldoen aan die ongeskrewe reëls van die aanvaarde algemene politiek-sosiale tendens van die tyd.

    At any given moment, there is a sort of all pervading orthodoxy, a general tacit agreement not to discuss large and uncomfortable facts.” – George Orwell.

    En die “aanvaarde algemene politiek-sosiale tendens van die tyd” is:

    “die hoofstroommedia en sy goedgekeurde spreekbuise is altyd reg.”

    En ek, Kiepie, wat die sosiale media baie weinig gebruik, het tot eergister nog gedag dis die Twitters en die FB’s wat aan individue ‘n mate van vryheid van spraak verskaf het.

    Waarom het ek nog nie ‘n piep van protes êrens gehoor oor die feit dat Trump se “sosiale” stem stilgemaak is nie.?!

    Wie moet beskerm word teen hom? Koop mense werklik die rede wat Zuckerberg verskaf – bang vir nog geweld? Rêrig, Blommie?

    Wees bang ja, baie bang – vir (permanente) inperking van vryheid van spraak, vryheid van denke.

    Hier ter plaatse.

    Eintlik het ek vrede met wat die Amerikaners aanvang, maar my nekhare begin rys oor die inperking wat al hoe blatanter hier kop uitsteek – voorskriftelikheid ten opsigte van vele dissiplines ook wat betref fiksionele inhoud vir TV-netwerke.

    En net hier, presies op hierdie punt moet Kiepie haarself in die bek ruk, want Kiepie wil graag bly werk. Daarom kan ek nie netwerke by die naam noem nie – ek kan, maar ek gaan nie.

    Wat ek wel gedoen het: Ek het die foltertoneel uit George Orwell se Nineteen Eighty-Four (p.198) vertaal. Die toneel spreek vanself.

    Die hoofkarakter in Orwell se roman, Winston Smith, word gefolter deur die Partyverteenwoordiger, O’Brien. Die arme naïewe Winston kan dit nie regkry om sy gedagtes, sy geheue, aan te pas of uit te wis nie. Weet hy dan nie hy moet homself herprogrammeer nie?! Dit maak O’Brien radeloos.

    “Onthou jy,” gaan hy aan, “jy’t in jou dagboek geskryf, ‘Vryheid is die vryheid om te sê twee plus twee is gelyk aan vier’?”

    “Ja,” sê Winston.

    O’Brien hou sy linkerhand op, die rugkant na Winston, met die duim na binne en die vier vingers uitgestrek.

    “Hoeveel vingers hou ek op, Winston?”

    “Vier.”

    “En as die Party sê dis nie vier nie maar vyf – hoeveel dan?”

    “Vier.”

    Die woord eindig in ‘n pynkreet…

    “Hoeveel vingers, Winston?”

    “Vier.”

    “Hoeveel vingers, Winston?”

    “Vier.”

    “Hoeveel vingers, Winston?”

    “Vier! Vier! Wat kan ek anders sê? Vier!”

    “Hoeveel vingers, Winston?”

    “Vier! Hou op, hou op! Hoe kan jy aangaan? Vier! Vier!”

    “Hoeveel vingers, Winston?”

    “Vyf! Vyf! Vyf!”

    “Nee, Winston, dis hopeloos. Jy lieg. Jy dink nog steeds daar is vier. Hoeveel vingers, asseblief?”

    “Vier! Vyf! Vier! Net wat jy wil. Hou net op, hou net op met die pyn!”

    Dit klink absurd. Dis soos Eric Blair alias George Orwell dit bedoel het. Absurd. Ons leef in `n soortgelyke absurde kultuur. Absurd en treurig. So treurig dat my keel daarvan toetrek. Voor 1949 het 1984 ver geklink, wat nog te sê 1994 of 2014 …

    Of wat dit betref 2021…

    © Elma Potgieter (9 Januarie 2021)

     

     

     

     

     

  • Elma Potgieter: Ek kom van ver af

    Elma Potgieter: Ek kom van ver af

    My naam is … Afrikaans.

    Ek moet erken … ek is nie absoluut seker wanneer ek gebore is nie.

    My wortels lê verspreid van die land van die middernagson tot hier aan die suidpunt van die donker kontinent.

    Maar ek het my naam gekry op 8 Mei 1925.

    Dit beteken ek is vanjaar 95 jaar oud.

    Gelukkig word ek beskou as nog jonk – blykbaar die derde jongste Germaanse taal wat amptelike status het.

    En dis hier waar die knoop lê.

    Op hierdie oomblik in tyd geniet ek amptelike status, maar vir hoe lank nog?

    Want net ‘n naïewe of onverskillige mens sal dink dat ek vrolik, vry en onbekommerd voortleef.

    Voëlvry is nader aan die waarheid. Dit weet ek in die diepte van my siel.

    Daar is ‘n prys op my kop wat my hart soms benoud laat klop en my keel van hartseer laat pyn.

    Die prys is onberekenbaar en die gevoel op ‘n manier kruipend, ontasbaar – ‘n gevoel wat opstand in my laat opstu.

    Want dis ‘n godetaal en ‘n Godstaal wat hier tot stand gekom het – familie van die “woeste Wikings” wat gode aanbid het en Wes-Europa en Engeland geterroriseer en verower het.

    Waarom sê ek dit: Kyk na my woord: dogter. In Ysland praat my halfsuster van dottir. In Sweeds sê nog ‘n halfsuster datter. In Duitsland sê ‘n ander suster Tochter; Engels noem haar dogter daughter.

    Maar die “woeste Wikings” beïndruk ook met hulle deursettingsvermoë en gevoel vir die estetika.

    ‘n Kruisbestuiwing vind plaas met gelowiges in een lewende God en uiteindelik vestig Protestantse plaasboere, hoofsaaklik van Duitse afkoms, hulle op uitnodiging van die Nederlandse-Oos-Indiese kompanjie hulle aan die Kaap. Hulle vlug weens godsdiensvervolging in Europa eers na die Lae Lande en werk daar op plase wat nie aan hulle behoort nie – ellende vir ‘n murg-en-been-boer wat baas op sy eie plaas moet en wil wees.

    Toe aanvaar die boerevlugtelinge die uitnodiging van die Kompanjie om hul eie plase te kry en in Suid-Afrika te kom boer – maar as Vryburgers.

    Vryburgers?

    Waarom dié voorwaarde?

    Want vreemde regerings en gepaardgaande onvoorspelbare politiek het die godsdiensvlugtelinge vir goed afgeskrik van regering en regeerders.

    Hulle voorwaarde dus vir vestiging aan die Kaap van 1657 af – Vryburgers – of ons bly waar ons is.

    Hulle praat ‘n vereenvoudigde volksduitse of – dietsetaal en in Suid-Afrika vereenvoudig dit nog meer. Dit word ‘n taal wat soet klink en reguit kommunikeer.

    Dit is my ontstaansgeskiedenis in ‘n neutedop.

    Ek het gefloreer in die eenvoud van uitdrukking, gepraat deur vry mense met vryheid van beweging en van denke.

    My sprekers was vryheidsliewend en onderwerp hul doen en late vrywillig aan God en sy gebod.

    Om dit te doen waarvoor jy lief is – diere en plante te teel en te kweek onder vrye omstandighede waar jou doen en late alleenlik deur die Tien Gebooie van die Bybel voorgeskryf word, was onweerstaanbaar.

    Maar in die “Nuwe Suid-Afrika” waar Engelstaligheid afgedwing word deur alle staatsinstansies en groot korporasies met Engelse benamings “geseën” word … word almal gedwing om my óf geradbraak te praat óf my (stief)sustertaal Engels te pleeg.

    Daar is twee reaksies wat na vore kom: ‘n Voormalige joernalis Chris Louw het in 2009 na bewering sy eie lewe geneem ná uitsprake soos:

    “Ons mense is gatvol daarvoor om vermoor te word! En dan verwys ek nie net na haataanvalle in ons huise en op ons plase nie. Dit ook, ja. Maar ek praat van die listige moord op taal, kultuur, geskiedenis, waardes, selfs menswees. In die 15 jaar van demokrasie het Afrikaners bykans uit die openbare oog verdwyn. Ons deelname aan die openbare lewe word stelselmatig afgetakel om ons aandeel in die bevolkingsamestelling te reflekteer: 6%. Dit is wat ons standpunt vandag werd is.

    “`n Druippunt.”

    “Hy het Maandag om 14:07 in `n e-pos aan Tim du Plessis, redak­teur van Beeld, geskryf: ‘Ek is net gatvol. Daar’s nie sin in om voort te ploeter nie; eerder vroeër dood as later.’ Du Plessis het hom vergeefs gebel en ge-SMS.”

    Maar ek, Afrikaans, wil nie doodgaan nie – veral nie vermoor word nie.

    Die stryd om hier te kom was hewig – selfs bloedig…

    Wat word van my as niemand my meer praat nie?

    Die tweede opsie is dus: Werk en woeker.

    Werk voortdurend daaraan om ons kinders bewus te maak van my oorsprong en die wonder van die woord.

    My bestaan behels nie net kommunikasie nie. My woorde raak nie net die bewuste aan nie.

    Dit raak die kollektiewe geheue aan.

    Luister na dié gekose groep woorde:

    Dis die blond, dis die blou:
    dis die veld, dis die lug;
    en ‘n voël draai bowe in eensame vlug – dis al.
    Dis ‘n balling gekom oor die oseaan, dis ‘n graf in die gras, dis ‘n vallende traan –
    dis al.

    Ek glo nie ek hoef vir enigiemand te verduidelik waarop dié gestroopte gedig deur Jan F E Celliers sinspeel nie.

    Wat is die woord wonderlik. Wat is taal wonderlik.

    Ek, Afrikaans, is die wonderskoonste, mees vaartbelynde taal in die ganse wêreld wat teen wil en dank hier aan die suidpunt van Afrika as ‘n selfstandige taal ontwikkel het uit vele Germaanse tale.