Steve Hofmeyr-webblad glo deur kuberkrakers aangeval

Volgens berigte is Steve Hofmeyr se webblad deur ‘n kuberkrakergroep wat hulself “Anonymous Africa” noem, aangeval. Hulle beweer dat hulle ‘n DDOS- (Distributed Denial of Service) aanval op die sanger se webblad uitgevoer het. Tans is die webblad egter steeds aanlyn.

Anonymous Africa het Sondagoggend getwiet: “You will be happy to know we are currently running miniop [mini operation] against the racist @steve_hofmeyer.”

‘n DDOS-aanval behels die rig van ‘n oormaat verkaar aan ‘n webblad totdat die netwerk wat dit huisves oorweldig raak. Dit kan egter nie onbepaald volgehou word nie en gewoonlik hou dit ná enkele ure of dae weer op.

praag.co.za is effens meer as ‘n jaar gelede insgelyks deur kuberkrakers of selfs regeringsinstansies met ‘n DDOS-aanval geteiken.

Steve Hofmeyr is tans met vakansie en nie vir kommentaar beskikbaar nie.

Kuberaanvalle in Suid-Afrika is onwettig aangesien dit ‘n ootreding van die Wet op elektroniese kommunikasie en transaksies verteenwoordig.

Anonymous Africa het voorheen al soortgelyke aanvalle op die ANC se webblad, asook dié van die Zimbabwiese staatskoerant, The Herald, geloods.

Massiewe kuberaanval op PRAAG-webblaaie

praagcoza_logoOor die afgelope paar dae vanaf Dinsdagoggend is ‘n massiewe kuberaanval teen die webwerwe en bedieners van PRAAG geloods. Die sogenaamde verspreide-diensweerhoudingsaanval (Engels DDOS) waarby potensieel tienduisende rekenaars betrokke was, het as oogmerk gehad om PRAAG en sy diensverskaffer bankrot te maak deur die verbruik van bandwydte en skade aan netwerkinfrastruktuur.

By tye het die verspreide-diensweerhoudingsaanval die PRAAG-bedieners buite werking gestel maar tans is beide die Afrikaans webwerf by praag.co.za en die Engelse blad by praag.org aanlyn.

Dr. Dan Roodt, direkteur van die Pro-Afrikaanse Aksiegroep (PRAAG) ‘n gemeenskapsnuusdiens en kultuurorganisasie, het in ‘n verklaring gesê: “Ons is heeltemal verbyster deur die vlak van kuberaktiwiteit wat daar tans deur ekstremistiese anti-Afrikaanse groepe in die land teen ons gemonster word. Daar bestaan ook verskeie Facebook-blaaie wat deur mense onder vals identiteite bedryf word wat ons wil vernietig, oënskynlik omdat ons betogings teen misdaad ondersteun, asook veeltaligheid in Suid-Afrika goedgesind is.”

Die kuberaanval het aansienlike skade aangerig, nie net aan PRAAG nie, maar ook aan sy diensverskaffers en hul netwerke, iets wat kragtens Suid-Afrikaanse wetgewing strafregtelike aanspreeklikheid skep. Hierby kan ook gronde vir ‘n siviele eis gevoeg word, indien die oortreders opgespoor word.

“Ons gaan klagtes by die SA Polisiediens indien kragtens die Wet op elektroniese kommunikasie en transaksies nr. 25 van 2002 rakende die verspreide-diensweerhoudingsaanval teen ons, asook daardie naamlose individue wat aanhou om ons op Facebook, sosiale media en teenoor potensiële adverteerders op ons blad belaster,” meen Roodt.

“Ons gaan beslis nie hierdie soort aanvalle met gelatenheid verduur nie,” sê Roodt. “Ons lesers en ondersteuners staan by ons en honderde het reeds as vrywilligers aangemeld om dié pogings om ons monddood te maak, te beveg. Ons sal egter nie van die onsmaaklike en onderduimse metodes van ons teenstanders gebruik maak nie, maar ons op ‘n oop, deursigtige en wettige manier verdedig.”