Honderde mense sluit binne ure by Front Nasionaal aan

Deel op
Embleem van die nuwe politieke party
Embleem van die nuwe politieke party

Honderde mense het by die nuwe politieke party, Front Nasionaal, aangesluit nadat die party se webwerf gistermiddag laat aanlyn verskyn het. Dít binne slegs enkele ure en sonder dat dit amptelik aangekondig is. Mnr. Hannes Engelbrecht, ‘n joernalis van Potchefstroom en aktivis van Boere-Krisis-Aksie, is onlangs op Dunottar tot leier van die party verkies.

Meeste mense het van die nuwe webblad via Twitter en Facebook verneem, met die nuus wat soos ‘n veldbrand versprei het. Vele mense op Facebook het gesê: “Daar is niemand anders om voor te stem nie. Julle het my stem!”

Een aktiewe PRAAG-lid het laat weet: “Ek is nou ‘n trotse lid van Front Nasionaal!” Dog een van ons lesers, ‘n Afrikaner uit Hamburg, Duitsland het op Facebook sy bedenkinge uitgespreek:

“Dit is myns insiens nie Praag se plek om enige politieke party te promoveer nie. Indien Praag die Afrikaner se Russia Today of Al Jazeera gaan word, kan hy nie bekostig om eensydigheid ten opsigte van steun aan ‘n spesifieke politieke entiteit te toon nie.”

Iemand anders uit Pretoria het weer gesê:

Front Nasionaal moet nie net nog ‘n politieke party wees nie dit moet ‘n lewenswyse word. Politieke partye veral in blanke geledere geniet nie meer die aansien wat hulle vroeër jare gehad het nie. Front Nasionaal moet buiten partypolitiek ook direk betrokke raak by die Afrikanergemeenskap self want ek dink dis waar die probleem vandaan kom dat mense sê: ‘Maar politici soek net ons stem en na die verkiesing sien jy hulle nie meer nie.’ Die VF het die Afrikaner vergeet; dit gaan nou om ander politieke doelwitte as om Afrikanerselfbeskikking of -opheffing. Front Nasionaal moet uit die gemeenskap vir die gemeenskap wees.”

In sy algemene repliek op Facebook op hierdie en ander kommentare het dr. Dan Roodt, die onderleier van Front Nasionaal, soos volg gereageer:

“Front Nasionaal moet die parlementêre speerpunt van ‘n breë Afrikanerbeweging wees wat vir ons mense werk skep, ‘n plek in die ekonomie oopstoei, na hul veiligheid begin omsien, maar hulle ook van nuuts af aan weer opvoed en kultiveer. Ons is ook moeg vir Hollywood-losbandigheid, dekadensie, dwelms vir ons kinders waarmee ons bietjie-vir-bietjie finaal tot niks afgebreek word. Slawe, met ons jong dogters wat prostitute en dwelmslawe van Nigeriërs word. Hoe laag het ons nie geval onder die ‘leiding’ van FW en Naarpers nie!”

Anell Fourie
Anell Fourie, tesouriere van Front Nasionaal

Terselfdertyd sal sowel PRAAG as Front Nasionaal hul onderlinge identiteite behou, met PRAAG wat as gemeenskapsmedia-orgaan Afrikaanse nuus en menings publiseer, en Front Nasionaal wat die parlementêre geveg vir die Afrikaner en goedgesinde blankes aanpak.

Soortgelyk aan die nuwe Europese politieke partye wat opgang maak, bestaan Front Nasionaal ook nie uit beroepspolitici nie, maar uit ‘n verskeidenheid aktiviste en gewone mense. Die jongste FN-bestuurslid is die tesouriere, me. Anell Fourie van Pretoria, wat berading aan verkragtingslagoffers verskaf. Haar blootstelling aan die skadukant van die “reënboognasie” het haar oortuig om polities betrokke te raak. Sy het ook verlede jaar aktief aan die Rooi Oktober-betoging teen geweldsmisdaad deelgeneem.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.