‘Apartheid-twiet’: Wat wou Steve Hofmeyr eintlik sê?

Deel op

Die stryd wat tans rondom die sanger Steve Hofmeyr woed, het breë gevolge vir die voortbestaan van Afrikaners en die Suid-Afrikaanse politiek in die algemeen. By tye in die verlede het Afrikaanse sangers en kunstenaars ‘n veel belangriker rol as politici gespeel om die geskiedenis ‘n nuwe rigting te laat inslaan en vandag is dit ook nie anders nie.

roodt_fbfotoDink maar aan Afrikaans self, wat deur C. E. Boniface, Jan Lion Cachet, S.J. du Toit en die Genootskap van Regte Afrikaners vanuit die niet met hekelskrifte en gedigte geloods is en in die twintigste eeu tot Suid-Afrika se belangrikste kultuurtaal sou ontwikkel. Die digter Eitemal het met sy verbranding van ‘n Britse vlag op die Tukkiekampus in die dertigerjare ‘n finale breuk tussen Boer en Brit veroorsaak en sodoende die destydse Afrikanernasionalisme ‘n hupstoot gegee.

Hofmeyr het met sy Engelse twiet oor swartmense wat die ware argitekte van apartheid sou wees („Sorry to offend but in my books Blacks were the architects of Apartheid. Go figure“) byna onmiddellik histerie in die geledere van linkse Engelse meningsvormers veroorsaak. Dit is as heiligskennis beskou. Maar sulke uitsprake wat téén die konsensusmening indruis, skep dikwels vernuwing in ons denke. Toe George Orwell en Arthur Koestler vir die eerste keer kritiek op die kommunisme in die veertigerjare gelewer het, het ‘n groot deel van die Europese intelligentsia dit as heiligskennis beskou en is hulle daarvoor verwerp. Ook Albert Camus se spottende verwysing na die Kommunistiese Party as ‘n „Rooi Kerk“ het ‘n breuk tussen hom en Jean-Paul Sartre veroorsaak en het tot hewige rusies gelei.

Dat ‘n kritiese uitspraak oor ons verlede op sigself as „rassisme“ uitgekryt word, toon in watter mate Suid-Afrika in die greep van ‘n ongesonde fanatisme en gebrek aan demokratiese verdraagsaamheid verkeer. Aangesien die huidige stelsel op soveel gebiede reeds krake vertoon, bestaan daar sekerlik die vrees dat dit sal moet verander, waardeur vele mense – nie net ANC-kaders nie – hul huidige magsposisies sou moes prysgee. Vandaar dus die heftigheid en buitenissige woede waarmee meer indringende kritiek op ons heersende ideologie begroet word.

Die buikspreker Conrad Koch verteenwoordig ‘n lid van die Engelse akademiese en media-elite wat sedert 1994 ons sienings van die geskiedenis en onsself bepaal. Koch self spog voortdurend met sy Meestersgraad in die antropologie wat van hom ‘n verhewe maatskaplike kommentator sou maak. Agter Koch staan ‘n hele falanks Engelse joernaliste en akademici wat deur hul afkeer van Steve Hofmeyr en Afrikaners in die algemeen verenig word.

Steve Hofmeyr is ‘n sanger en kunstenaar wat voortdurend met gewone mense in aanraking is. Op ‘n intuïtiewe manier sien hy die oplossing vir ons dilemma raak en hoe om die politieke skaakmat wat ons bereik het, te omseil. Wat as nie net Afrikaners en blankes nie, maar ook swartmense, aan apartheid aandadig was? „Gedeelde aandadigheid“, noem Hofmeyr met sy gebruiklike opgewektheid dit op Twitter.

Dis ‘n radikale idee, maar nie so vergesog nie.

Dat die vorige politieke stelsel oor baie dekades en selfs eeue heen in ons land óók deur swartmense ondersteun en onderhou is, kan sekerlik nie in twyfel getrek word nie. Vandag sit Buthelezi en Holomisa, wat voorheen tuislandleiers was, saam met die ANC in die parlement. Almal vind dit normaal. Anders as na Hofmeyr, slinger niemand doodsdreigemente na hulle toe nie. Frederik van Zyl Slabbert het iewers gesê dat tot sestig persent van die Suid-Afrikaanse bevolking op ‘n stadium by die apartheidstelsel betrokke was, dus is ons almal ewe „skuldig“.

Die casinomagnaat, Sol Kerzner, het danksy apartheid skatryk geword. Dalk moet ons hom „die apartheidsmiljardêr“ noem. Vandag behoort een van die mees luukse hotelle in Kaapstad steeds aan hom. Sien ons dat die skuim-om-die-mond-linkses en -liberale voor sy hotel betoog of hom op Twitter verguis en belaster? Nee, kennelik nie.

Daar mag ‘n donker kant wees aan Steve Hofmeyr se stelling oor swartmense wat die argitekte van apartheid was. Tot dusver het hy self nie veel daaroor uitgebrei nie, maar miskien hoef hy ook nie. Die meeste van sy ondersteuners verstaan dit instinktief. Dit het te make met iets soos „self-segregrasie“, ‘n term wat insgelyks deur die Joods-Suid-Afrikaanse skryfster, Ilana Mercer, gebruik word. Mercer is ‘n „klassiek-liberale libertariër“ wat tans iewers in Washingtonstaat, daar waar Boeing en Microsoft gesetel is, woon.

Vele swartmense, om van lede van bepaalde stamme nie te praat nie, verkies om apart van ander te woon. Onlangs het van die links-liberale meningsvormers juis gal gebraak oor „die terugkeer van apartheid“ vir bykans 20 miljoen plattelandse swartmense in ons land wat hulle in sogenaamde „tradisionele gebiede“ bevind en steeds aan inheemse reg en die gesag van stamkapteins onderworpe is. Hul eeue oue gebruike, regstelsel en kultuur, het bestaan lank voor die Stellenbosse sosioloog, dr. Hendrik Verwoerd, van apartheid gepraat het en het hom oorleef! Die kaart van tradisionele gebiede in ons land stem presies ooreen met dié van die ou TBVC-state, tesame met die nie-onafhanklike maar selfregerende tuislande.

‘n Ander aspek van die debat wat Hofmeyr aangeroer het, maar wat vele mense verseg om, hetsy weens domheid, hetsy weens vooroordeel, raak te sien, is dié rondom die ontwikkelingsagterstand van Afrika wat noodwendig op ‘n stelsel van blanke of Europese oorheersing moes uitloop. Die liberale Amerikaanse akademikus, Jared Diamond, het ‘n hele boek daaroor geskryf met die titel, Guns, germs and steel, wat elke Suid-Afrikaner behoort te lees. Daar is ook ‘n aanlynvideo beskikbaar waarin Diamond oor sy idees uitbrei, wat ewe interessant is.

Steve Hofmeyr word van „rassisme“ beskuldig, terwyl hy bloot ‘n soort revisionistiese „nouvelle histoire“ bedryf. Die mense wat hom vir „rassisme“ verkwalik, herinner my aan die „groot wit marxiste“, ‘n term wat in my universiteitsdae gewild was; dit is linkses, veral natuurlik marxiste, wat ‘n taamlik minagtende siening van swartmense se politieke en intellektuele vermoëns koester en self beter weet wat vir hulle goed is. Daarom sien die groot wit marxis die swartman as ‘n soort kinderlike slagoffer van die geskiedenis en apartheid sonder dat hy self daaraan deelgeneem het. Sulke mense het natuurlik nog nooit verder as Rousseau se agtiende-eeuse stereotipe van die „edele barbaar“ gekom nie.

Wie is nou eintlik die rassis, Hofmeyr of die groot wit marxis wat slegs die „kind van Afrika“ soos in Ingrid Jonker se gedig raaksien, maar nie die volwasse Afrikamens wat op gelyke voet aan die geskiedenis deelneem nie?


Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.