PRAAG staan Steve Hofmeyr by om hofbevel teen linkse teisteraar te verkry

Deel op

Die buikspreker Conrad Koch van Seepunt, Kaapstad is vandag deur die Randburgse landdroshof verbied om Steve Hofmeyr enigsins verder te teister, sy borge of vennote te kontak of bykomende lasterlike of kwetsende aamerkings oor hom te publiseer. Die tussentydse hofbevel geld vanaf 13:00 vandag tot 27 November om 08:30 wanneer Koch in dieselfde hof sal moet verskyn om te verduidelik waarom die bevel nie ‘n finale bevel gemaak behoort te word nie.

‘n Lasbrief vir Koch se inhegtenisname is reeds uitgereik en sal uitgevoer word indien hy die bevel, wat oral in die Republiek van Suid-Afrika van krag is, sou verontagsaam. Intussen het Koch, wat op Twitter as Chester Missing gespog het dat hy Steve Hofmeyr gaan ruïneer deur druk op sy borge, asook dié van Afrikaans is Groot te plaas, geweier om sy adres per telefoon aan ‘n polisiekaptein van Douglasdale, Johannesburg te verstrek. Dr. Dan Roodt, wat die bevel aan die polisiekantoor vir betekening op Conrad Koch gaan oorhandig het, was teenwoordig toe Koch versuim het om sy woon- of werksadres aan die polisie te verstrek.

PRAAG, wat oor die afgelope 48 uur vir Steve Hofmeyr bygestaan het om die aansoek te bring, was egter nie bekommerd oor Conrad Koch wat intussen vir die gereg probeer wegkruip nie. “Dis eenvoudig lagwekkend,” sê Dr. Dan Roodt. “Eers dreig hy vir Steve in gekruide taal en hou hom voor as die magtigste man in Suid-Afrika, maar nou kruip hy vir die polisie weg. Ons gaan in elk geval die hofbevel en dagvaarding aan hom per e-pos stuur en uiteindelik sal ons en die polisie hom wel opspoor.”

Indien die tussentydse interdik op 27 November in ‘n finale bevel omskep word, sal Conrad Koch voortaan oor ‘n misdaadrekord as teisteraar beskik. “Ons kon eenvoudig nie langer stilsit om te sien hoe Steve Hofmeyr, wat steeds die gewildste sanger in Afrikaans is en met wie ons al meer as ‘n dekade saam vir Afrikaans en Afrikanerregte stry, op kwaadwillige wyse en deur teistering benadeel word nie.”

Steve Hofmeyr was vanmiddag hoogs in sy noppies en het die goeie uitslag met ‘n ete in ‘n Sandtonse restaurant saam met Roodt gevier.

Die tussentydse bevel is kragtens die Wet op die voorkoming van teistering, 2011, toegestaan. Aanvanklik was daar ‘n probleem omdat dr. Dan Roodt die verklarings in Afrikaans ingedien het terwyl die landdros nie Afrikaans magtig was nie. Die verklarings is egter goedgunstiglik en inderhaas deur hom in sy eie handskrif vertaal, waarna die bevel toegestaan is.

“Ons sal ander dag weer oor Afrikaans as hoftaal baklei,” het hy gesê. “Intussen moes ons die proses stuit waardeur Steve Hofmeyr en Afrikaanse musiek deur kwaadwillige ekstremiste aangeval en verguis word.”

PRAAG en Hofmeyr oorweeg ook die moontlikheid om Conrad Koch vir laster te dagvaar weens onwelvoeglike uitlatings oor die sanger wat hy op Twitter gepubliseer het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.