Taalaktiviste en transformasies: DF Malherbe, Jan Rabie en Dan Roodt

Deel op

Dit is gebruiklik dat ‘n mens in tye van verandering en veral transformasie voortdurend poolshoogte neem van die stand van sake. Soos die titel van hierdie lesing aandui, staan transformasie sentraal, en dis dus noodsaaklik dat vooraf gesê word wat ons daarmee bedoel.

NUUT!

Oor die algemeen assosieer ons in Suid-Afrika “transformasie” met begrippe soos “regstellende aksie”, “gelyke geleenthede”, “verteenwoordigendheid” en dergelike, en heel tereg. Onder meer impliseer dit alles dat die rassesamestelling van instellings, rade en organisasies die demografie van die land moet weerspieël, en dat “aangewese” of voorheen gemarginaliseerde groepe die meerderheid in sulke instellings moet vorm. Dit lei tot voortdurende vergelykings en speletjies met getalle.

Transformasie is egter ‘n politieke begrip met ‘n wyer toepassing, en dit dui op ingrypende verandering, gewoonlik sonder die geweld wat ‘n revolusie kenmerk, maar ook veel vinniger en dringender as ‘n evolusionêre proses. Politieke transformasie, sê André Duvenhage, verwys na ‘n snelle, omvattende en fundamentele verandering van die gemeenskap, wat plaasvind in die vorm van sentrale beplanning, dit wil sê sosiale en politieke ingenieurswese, met die klem op die bestuur van verandering in die algemeen en konflikbestuur in die besonder. Dit impliseer ‘n totale herskikking van ‘n samelewing met veranderings op haas elke terrein met ‘n politieke en/of ideologiese uitgangspunt as dryfkrag (Duvenhage, 2004).

In die Suid-Afrika van vandag bekyk ons transformasie taamlik eenogig, sonder om te let op ander tye van transformasie. In hierdie lesing wil ons die huidige tyd van transformasie vergelyk met twee ander transformasiegeskiedenisse – die era direk ná die Anglo-Boereoorlog en dié ná die bewindsaanvaarding van die Nasionale Party in 1948 en die instelling van die apartheidsbeleid. Dis opmerklik dat die aanvangstye van hierdie transformasies ewe ver van mekaar lê: 46 jaar het verloop tussen 1902 en 1948, en 46 jaar tussen 1948 en 1994, telkens twee generasies.

Ons wil verder die drie transformasiegeskiedenisse bekyk aan die hand van verteenwoordigende taalaktiviste wat op hierdie prosesse gereageer het. En dit doen ons met die wete dat  sodanige historiese oorsigte “hoe hard hulle ook daarna mag streef om die feite te respekteer en kontroleerbaar te wees, onvermydelik ’n interpreterende en hipotetiese geaardheid het, deel word van ’n histories-onvoltooide diskoers” (Olivier, 1992: 157).

Wat is taalaktivisme? Du Plessis grond sy definisie van taalaktivisme op ‘n definisie van aktivisme deur Martel (1999). Sy omskryf aktivisme as ‘n regte-georiënteerde proses deur middel waarvan druk uitgeoefen kan word sodat sosiopolitieke praktyke en strukture kan verander. Taalregte-aktivisme, of taalaktivisme, definieer Du Plessis dan as ‘n vorm van aktivisme waarby die rolspelers deur taalregte werk, of selfs teen taalregte werk om ‘n verandering teweeg te bring in die sosiale praktyke, ideologieë en strukture wat die instandhouding en ontwikkeling van taalgemeenskappe beïnvloed. Aktiviste wend bepaalde instrumente aan waarmee hulle hul kampanjes vir verandering voer. Martel noem die instrumente van aktivisme, wat volgens haar ook betrekking het op taalaktiviste, naamlik litigasie, drukgroepe (“lobbying”), ondersoeke, gemeenskapsmobilisering, mediadekking en selfs geweld. Laasgenoemde is die uiterste vorm daarvan, maar dit kom nietemin voor (Du Plessis, 2004: 169-170).

‘n Mens sou ook nog kon uitwei oor die redes vir taalaktivistiese aksies. Die doel kan wees die bemagtiging van mense wat as gevolg van bepaalde taalpraktyke benadeel word, en ‘n ander oogmerk kan wees om die voortbestaan te verseker van ‘n taal wat as gevolg van bepaalde praktyke en strukture bedreig word.

Aktiviste, én nie-aktiviste én anti-aktiviste moet in tye van groot verandering steeds keuses maak – ‘n keuse om niks te doen nie, of om iets te doen, en indien iets, wát dan presies? Sulke keuses is in tye van groot historiese keerpunte nooit maklik nie.[1] N.P. van Wyk Louw skryf in sy bekende opstel “Die ewige trek” van “die waagspel van die keuse”. Hy sê dat daar ‘n “volkome ewewig” van argumente kan wees wat ‘n mens na die een of ander kant kan aanvoer (Van Wyk Louw, 1986: 99). Mense wat duidelike keuses maak, oefen altyd ’n invloed uit op ander. Hulle is voorbeelde wat gevolg word of anders as waarskuwing dien. Soos D.J. Opperman sê in die gedig “Negester en stedelig”: “aan jou dade grens ‘n ewigheid”.

By identiteitsvorming, asook in enige politieke omwenteling, is veral die rol van elites deurslaggewend as agente van verandering óf verset. Hulle is voorbeelde, of, in ’n veel gebruikte woord van ons tyd, “rolmodelle”, vir die massas (kyk ook: Louw, 2004: 47).

Wat ons hier wil doen, is om die essensie te gee van die drie transformasiegeskiedenisse, onder meer die gevolge daarvan vir universiteite, en in samehang hiermee, drie gevallestudies van taalaktiviste wat daarop gereageer het. Louw (2004: 44), ’n taalkundige aan Queensland-Universiteit in Australië, identifiseer ook drie tydperke in die geskiedenis van Afrikaans wat ooreenkomste met ons indeling vertoon. Hy praat van die eerste fase (1902-1947) as die “struggle against Anglo cultural imperialism”, die tweede fase (1948-1990) as “a peculiarly South African form of nation building associated with apartheid” en noem die derde tydperk (ná 1994) “a political process geared to ‘black empowerment’”. Vooraf wil ons beklemtoon dat hierdie transformasieprosse nie parallelle van mekaar is nie; dit sou betreklik maklik wees om groot verskille uit te wys. Die aktiviste wat ons behandel, het dikwels nie die steun van mede-aktiviste geniet nie. Hulle is selfs in eie geledere by tye gesien as mense wat die kragte verdeel en hul medestanders verswak. Maar, soos Van Wyk Louw in die reeds vermelde opstel opmerk: “’n Groot historiese beweging gaan ook deur allerhande persoonlike motiewe, verwarring en tallose kleinlikhede voort.” Hy wys ook daarop dat dit in ons geskiedenis dikwels die mense is wat skynbaar die naïefste, mins rasionele keuse gemaak het, wat geseëvier het. (Van Wyk Louw, 1986: 99-100).


1.    Transformasie ná 1902

Party van u sal moontlik met ons verskil dat die veranderings wat Suid-Afrika ná die Anglo-Boereoorlog ondergaan het, werklik transformasie was. Maar die oogmerke van die hoofargitek van transformasie, Alfred Milner, Britse hoë kommissaris in Suid-Afrika en goewerneur van die Vrystaat en Transvaal, tipeer hom as ‘n egte sosiale ingenieur. ‘n Veelseggende uitspraak van hom lui: “Society left to itself would not right itself” (Giliomee 2004: 192). Milner het voor die oorlog al die ideaal gehad van ‘n federale superstaat bestaande uit Brittanje, Kanada, Australië, en ‘n nuwe Suid-Afrika waarin elke kolonie afgevaardigdes stuur na ‘n imperiale parlement in Londen. Dit was nie ‘n federasie van blankes wat hy in gedagte gehad het nie, maar van die Anglo-Saksiese ras, wat vir hom so onteenseglik meerderwaardig was. Die Afrikaners sou net ‘n aanhangsel wees, en die miljoene bruin en swart mense weinig meer as behoorlik geadministreerde arbeiders (Giliomee 2004: 193).

Giliomee sê dat daar twee Britse imperialismes was. Die een was liberaal en idealisties; dit wou mense “ophef” deur die Christelike godsdiens en handel aan hulle te bring. Die ander imperialisme was aggressief, outoritêr en minagtend ten opsigte van sogenaamd “laer” kulture. Dit het genadelose aggressie teen enige verset teen Britse belange ondersteun (Giliomee 2004: 192). Mens moet jou afvra of hierdie twee kante nie in die een of ander vorm by die meeste vorme van transformasie bestaan nie: ‘n sagte en ‘n harde, ‘n idealistiese en ‘n aggressiewe kant. Aan die positiewe kant het ná 1902 gestaan die aanmoediging van wetenskaplike boerderymetodes, die oprigting van ‘n sentrum vir veeartsenykunde by Onderstepoort en die instelling van die Landbank.  ‘n Mens sou egter ook die vraag kon stel of hierdie twee benaderings in hul uitwerking werklik ingrypend van mekaar verskil. Die aandrang op die onderrig van ’n Engelse kanon waar ter wêreld die Engelse imperialisme ook al staanplek verwerf het, was én idealisties én imperialisties.

Milner wou sy nuwe Suid-Afrika so lank as moontlik ondergeskik hou aan Londen, sodat die Britse regering so lank as moontlik amptenare moes kon aanstel en ontslaan. Talle amptenare is vervang deur amptenare wat lojale medewerkers was van die nuwe bestel. Immigrasie van Britte was deel van die transformasieproses. Die transformasie het belangrike taalgevolge gehad. Teen 1910 was waarskynlik negentig persent van die staatsdiens van die vier Britse kolonies Engelssprekend (Scholtz 1978: 157). ‘n Kapenaar wat Transvaal voor en ná die oorlog besoek het, was getref deur die veranderings. Die voorstede het nuwe name gekry – hulle is genoem na voorstede in Engeland. Die taal van die skole, geregshowe en amptenare het verander na Engels. Die bewind praat van versoening, maar daar word gepraat of die Afrikaner-bevolking geen griewe het of kan hê nie (Scholtz 1978: 254). Terloops, die nuwe bestel het dadelik ‘n baie strenger beleid as voorheen teenoor swart mense gevolg. Die polisie het paswette toegepas en werkgewers het hulle ingeroep om stakings te onderdruk. Milner was oortuig dat wit mense “baie trappe bo swart mense verhewe is” en dat dit nog eeue sou duur “voordat die swartes die wit mense inhaal” (Giliomee, 2004:220).

Die taal-transformasie was die essensie van die transformasieproses. Engels is as enigste amptelike taal van die twee gewese republieke ingevoer. Toe ‘n groot vergadering van Vrystaters in 1904 taalregte vra (De Vriend, 9 Desember 1904), het die owerheid geantwoord dat Engels die amptelike taal van die kolonie sal wees (Scholtz, 1978: 464). Dit was die oortuiging van die hele regerende klas en die groot Engelse koerante. Reeds voor die transformasieproses begin het, het Milner die idee van taalgelykheid verwerp (Headlam 1933: 268) en opgemerk: “My policy would be to make English indispensable in the future, and to prepare the rising generation for that state of affairs by practically compelling them to learn it” (Headlam 1933: 43).

Vir totale verengelsing het Milner die belang van die onderwys beklemtoon; die vernaamste meganisme in dié proses was om van Engels die enigste onderwysmedium in die skole te maak. Zietsman (1992: 23) haal sy woorde in hierdie verband aan: “… the thing that matters most (is) education … Dutch should only be used to teach English and English to teach everything else.” Die veranderinge was veral ingrypend in Transvaal. Daar was Hollands amptelik die onderrigmedium vir Afrikaanse kinders, hoewel ons uit die getuienis van tydgenote (aangehaal in Steyn, 2004: 53) weet dat die onderwystaal in die praktyk meestal Afrikaans was.

Die transformasieproses het die hoër onderwys nie direk geraak nie, want geen Suid-Afrikaanse kolonie het nog ‘n universiteit  gehad nie – wel ‘n aantal universiteitskolleges waarvan die onderrigtaal Engels was omdat die eksaminiseringsliggaam, die University of the Cape of Good Hope, alleen Engels as eksamentaal erken het. Die owerheid het wel geprobeer om die monopolie van Engels as enigste universiteitstaal te bestendig. In 1908 is ‘n groot konferensie in Kaapstad gehou met die doel om ‘n Suid-Afrikaanse universiteit te stig. Dr. J. Brill, rektor van die Grey-universiteitskollege, die latere Universiteit van die Vrystaat, het voorgestel dat die nuwe universiteit ook eksamens in Hollands moet kan afneem, maar die voorstel is verwerp. Die nuwe universiteit sou dus volledig Engels wees. Om ander redes het die plan vir ‘n nuwe universiteit egter misluk (Steyn 1993:229).

In ‘n transformasieproses is daar altyd mense wat daardeur bevoordeel word, en ander wat die slagoffer daarvan is, of dit as sodanig ervaar. In hierdie geval het die Afrikaners gevoel hulle is die slagoffers, en hulle het basies op drie maniere gereageer op die uitkoms van die oorlog en die transformasieproses. ‘n Hele aantal het geëmigreer na Argentinië, en twee Duitse kolonies in Afrika, die huidige Namibië en Tanzanië. Baie Afrikaners het die nuwe beleid aanvaar. Dit het ‘n Nederlandse besoekende geleerde, dr. Kiewiet de Jonge, getref hoe geredelik Afrikaners van alle generasies in Pretoria Engels aanvaar en in alle situasies gebruik het. (Het Westen, 28 Mei 1909).

Maar ‘n hele aantal Afrikaners het weerstand gebied. Afrikaanse politici, predikante, joernaliste en onderwysleiers het, soos Paul Zietsman (1992: 192) dit stel, die gedagte ingegrif dat dit die Afrikaner se nasionale, morele en selfs godsdienstige plig is om sy taal te bewaar. Taalgetrouheid het die primêre toets vir Afrikanerskap geword en Afrikaners wat Engels as hul taal aanvaar het, is as volksverraaiers beskou en verag. Hulle het met groot opoffering, en darem ook met hulp uit Nederland en Vlaandere, skole opgerig waarin hul eie taal ‘n vak en een van die voertale was. Teen die verwerping van hul eie taal as ‘n voertaal van ‘n moontlike universiteit het die Afrikanerkoerante kwaai geprotesteer (Steyn, 1993: 230-231).

Dié stryd teen verswelging deur Engels was op sigself al moeilik, maar iets anders het dit nog moeiliker gemaak. Dit was dat die Afrikaners verdeeld was oor wat nou eintlik hul kultuurtaal was. Was dit die taal van die kerk, die koerante, die staatstaal van die óú republieke, naamlik Hollands, of was dit die gesproke taal Afrikaans, wat nog geen eie letterkunde gehad het nie? Dit was ‘n strydvraag sedert ‘n taalbeweging onder leiding van Die Afrikaanse Patriot en ds. S.J. du Toit in die 1870erjare begin het.

Terwyl hierdie interne stryd binne die groter stryd om voortbestaan aan die gang was, het ‘n jong taalgeleerde, D. F. Malherbe, na Suid-Afrika teruggekom nadat hy in 1906 sy doktorsgraad aan die Universiteit van Freiburg in Duitsland magna cum laude verwerf oor Das Fremdwort im Reformationszeitalter. In Oktober 1906 het hy in Wellington ‘n lesing gehou wat beroemd geword het. Dit het gehandel oor die vraag: “Is Afrikaans ‘n dialek?” Daarin het hy gepleit vir die bestaansreg van Afrikaans as volwaardige en selfstandige taal. Sy keuse in die groot debat was dus: Afrikaans, nié Nederlands nie…

Dat hy Afrikaans sou kies, was nie vanselfsprekend nie. ‘n Groot deel van die Afrikaner-elite in Kaapstad was ten gunste van Engels. Baie van die ou Kaapse families was verengels; Engels was die taal van die vooruitgang en geleerdheid.

Malherbe het wel ’n Afrikaanse agtergrond gehad. Hy is op 28 Mei 1881 op Dal Josafat in die distrik Paarl gebore, waar sy pa, P.J. Malherbe, in 1875 een van die stigters van die Genootskap van Regte Afrikaners was. Sy eerste skoolopleiding het hy ontvang in die Gedenkschool der Hugenoten, waar ook die latere digters J.D. du Toit of Totius, en A.G. Visser hul opleiding ontvang het. Maar hierdie stukkie Afrikaanse verlede het dit, ironies en paradoksaal genoeg, nie vanselfsprekend vir D.F. Malherbe gemaak om vir Afrikaans te pleit nie. Afrikaans was ook onder Afrikaners gestigmatiseer. Die ouer taalaktiviste het om politieke redes die steun van Afrikaners verloor toe ds. Du Toit en die Patriot hulle teen die republieke gekeer en die kant van Brittanje in die Anglo-Boereoorlog gekies het. Nog ‘n halfeeu ná die oorlog het iemand uit ‘n voorraanstaande Bolandse familie aan die skryfster M.E.R. vertel dat óú Bolanders steeds onthou dat van die ou GRA-mense Engelsgesind was in die oorlog. “D.F. [Malherbe] se pa het in kakie geloop. Baie was Townguards” (Rothmann, 1976: 43). Terloops, dié ideologiese keuse van sy pa het Malherbe later reggestel in sy roman Die meulenaar[2].

Daar was ook ‘n ander rede waarom Malherbe se keuse van Afrikaans nie vanselfsprekend was nie. Heelparty geleerdes in die Wes-Kaap was ten gunste van Nederlands as kultuurtaal, en hulle het die stryders vir Afrikaans beskou as mense wat die kragte verdeel in die verset teen die oorweldiging deur Engels. F.S. Malan, redakteur van Ons Land, het in sy blad betoog dat hy die Afrikaanse beweging as ‘n verbrokkeling van kragte beskou, en gepleit: “Vecht niet in eigen kamp!” (De Waal, 1939: 228). Ná die stigting van die Afrikaanse Taalvereniging deur Malherbe, J.H.H. de Waal en ander, het die invloedrykste Afrikanerleier in die Kaapse politiek, naamlik J.H. Hofmeyr (“Onze Jan”), vir sy susterskind, De Waal, gesê “Alreeds het ons dit so moeilik met die taalstryd. Nou wil julle nog ons kragte verbrokkel!” (De Waal, 1939: 259).

En as hy hom teen Afrikaans gekeer het, sou Malherbe nie die eerste taalkundige van sy tyd gewees het wat dit gedoen het nie. In 1896, het ‘n ander Afrikaner-taalkundige, W.J. Viljoen, ook magna cum laude gepromoveer aan die Universiteit  van Straatsburg met die titel Beiträge zur Geschichte der Cap-Holländischen Sprache, en daarin verklaar dat die verheffing van Afrikaans tot skryftaal die gesonde uiting van ‘n nasionale gevoel is wat met krag te voorskyn kom. Enkele jare daarna was hy, as professor in Nederlands aan die Victoria-kollege, die latere Universiteit van Stellenbosch, een van die grootste teenstanders van die Afrikaanse beweging en ‘n groot figuur in die beweging vir die invoer van Vereenvoudigde Hollands as kultuurtaal van die Afrikaners. Viljoen het geantwoord op Malherbe se betoog. Hy het groot invloed onder die studente gehad (Pienaar 1946: 281). Na sy redevoering het hy selfs opgemerk: “Ik ben juist betijds geweest om deze beweging de nekslag toe te dienen” (Pienaar, 1946: 283). Die geskiedenis sou leer dat dit so ‘n “ligte mistykie” was.

Die keuse wat Malherbe en ander aktiviste gemaak het, was destyds die onvoordeligste en die onveiligste. Die voordeligste keuse was dié van die maghebbers se voorkeurtaal Engels; die skynbaar rasionele keuse vir taalaktiviste was Nederlands. Wie Afrikaans gekies het, het eintlik ’n keuse gemaak vir onbegrip en teenstand van baie van hul eie mense, én natuurlik van die maghebbers. En tog was dit ‘n keuse wat die ontplooiing van Afrikaans tot kultuurtaal en die bemagtiging van miljoene Afrikaanstaliges in die twintigste eeu moontlik gemaak het. Dat Afrikaans as voertaal in die onderwys, ook die universitêre onderwys ingevoer is, het Afrikaanstaliges in staat gestel om te presteer in hul eie land.

Die houdings van deskundiges het in enige beweging groot invloed. Malherbe het deur sy keuse laat sien dat nie alle Afrikaanse taalkundiges afwysend getsaan het teenoor Afrikaans as kultuurtaal nie. Daar was inderdaad ander, ook in Nederland, wat die verheffing van Afrikaans tot skryftaal gesteun het.

Ook later in sy loopbaan het Malherbe die rebelse streep behou. In 1929 het hy aan Die Volksblad gesê: “Ek is ‘n stryder gebore en sal ‘n stryder bly” (Die Volksblad, 19 Junie 1929). In die jare twintig het hy in opstand gekom teen die afskeep-posisie van Afrikaans aan die Grey-universiteitskollege. Máklik het hy dit nie gehad nie. Op ‘n spesiale senaatsvergadering in 1929 waarop sy aanstelling as rektor bespreek is, het die debat so persoonlik geraak dat Malherbe gevra het om van verdere bywoning verskoon te word. Die vergadering was egter van mening dat “hy hom nie moet verwyder nie”, en Malherbe moes maar sit en luister na die beledigings en besware teen hom (Steyn 1993a: 98-99). Hoewel dit eintlik oor die taalkwessie gegaan het, is baie ander dinge bygesleep. Maar sy taalaktivisme het die ander taalaktiviste wat vir ‘n meer Afrikaanse universiteit  geywer het, in hul oortuigings gesterk dat Malherbe as briljante taalkundige en skrywer van aansien Afrikaans as universitêre voertaal kon steun.

As skrywer was hy een van die grondleggers van die Afrikaanse letterkunde met sy (weliswaar swakkerige) digbundel, Karroo blommetjies (1909), wat in dieselfde tyd verskyn het as Die vlakte en andere gedigte van Jan F.E. Celliers, By die monument van Totius (albei in 1908) en C. Louis Leipoldt se Oom Gert vertel en ander gedigte (1911). Hulle vorm die begin van die Afrikaanse poësie-tradisie.

Hoewel Malherbe naas digter ook dramaturg en vertaler was (hy vertaal onder meer uit die Frans) het hy eintlik bekendheid verwerf as prosaskrywer. Kannemeyer (1978: 161) wys daarop dat Malherbe reeds in dramas skryf oor “die eietydse probleme van die Afrikanervolk”. Ook in sy prosawerke is daar ‘n sterk gerigtheid op die historiese verlede van die Afrikaner, maar tewens ook ‘n sterk voorkeur vir aktuele kwessies. Dit kom sterk na vore in een van die eerste plaasromans in Afrikaans, Die meulenaar (1926), waarin hy ook beskrywings gee van filloksera, die industrialisasie, die politieke keuse van die Afrikaner en rassekwessies, terwyl hy die gender-kwessie en vroueregte op progressiewe wyse behandel, al is die afloop tradisioneel. Daarnaas het Malherbe “gewaagd” geskrywe oor geloofstwyfel, reeds in Vergeet nie (1913) en Meester (1927), maar sterker in  Loutervure (1931) (Kannemeyer, 1978: 164).

Uit Philip John (1998) se uitvoerige analises van ‘n hele paar Malherbe-romans, blyk dit dat sy romans diepgaande besinnings was oor die Afrikikaner-groep en sy bestaanskeuses. So word Die hart van Moab (1933) gelees as “’n meditasie oor die gevare wat die integriteit van ‘n groep bedreig en wat vermy moet word indien die groep sy bestaan wil bestendig” (John, 1998: 175). Malherbe is in sy “bybelromans” en ”pionierstetralogie” ook voortdurend besig om te besin oor kulturele hegemonie. John (1998: 178) wys hoe Spore van Vlieland van 1948 – dit wil sê ’n heel betekenisvolle jaartal – vrae stel oor gevoelige en aktuele kwessies soos die vraag hoe “vreemde” elemente in ‘n groep opgeneem kan word sonder dat die groep se integriteit aangetas word en watter “vreemde” elemente in ‘n groep opgeneem kan word tot voordeel van die groep?

Die meerderheid van Malherbe se werk het direk (of deur indirekte verwysings) te make met die Afrikaner. Hierdie “aktuele” voorkeur, maar ook sy politieke betrokkenheid en die gevolglike tendensieuse trekke in sy werk, skaad sy romans as literêre produkte. ‘n Kritikus soos Kannemeyer reduseer Malherbe tot ‘n randfiguur binne die Afrikaanse letterkunde. Sy werklike bydae lê op ander gebiede, as taalkundige, as taalaktivis, en lid van die Taalkommissie van die Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst, tans die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en stigter-redakteur van die Tydskrif vir Wetenskap en Kuns (1922-1939). Sy lewe was ‘n lewe in diens aan Afrikaans.


2.    Transformasie ná 1948

‘n Tyd van dramatiese transformasie van Suid-Afrika het aangebreek met die bewindsaanvaarding van die Nasionale Party in 1948. Waar die transformasieproses ná 1902 hoofsaaklik taalgedrewe was, was dié van 1948 rasgedrewe. Volledigheidshalwe moet ‘n mens by sê dat sommige van die belangrikste rasgegronde wette en praktyke reeds voor 1948 bestaan het. Afsonderlike staatskole is al in die negentiende eeu ingevoer, diskriminerende stemreg dateer uit die Suid-Afrika-wet van 1909 en die wysgings daarvan in 1936, terwyl die ingrypende wet op grond vir swartes in 1913 aangeneem is.

Baie gou ná 1948 het rasgegronde wetgewing gevolg. Soos Giliomee oortuigend aantoon, was apartheid nie gegrond op die mislukte rasse-ideologie van Nazi-Duitsland nie, maar op die rassisme wat die Weste in die algemeen teenoor swart en bruin mense aan die dag gelê het. Dit het gewissel van ‘n voorkeur vir mense van eie kleur tot ‘n patologiese afkeer van rassevermenging, gevoelens wat nog wydverspreid in sowel Europa as die VSA voorgekom het. Eers teen die einde van die 1950’s, toe apartheid in Suid-Afrika reeds stewig gevestig was, het Suid-Afrikaanse rassehoudinge skerp begin verskil van dié van Europa en die Amerikaanse Suide. Europa het in daardie tyd vinnig van sy kolonies ontslae geraak en die VSA het opvoedkundige en maatskaplike integrasie versnel (Giliomee, 2004: 445-446).

Teen daardie tyd het Suid-Afrika dus ‘n ander koers gevolg as ander Westerse state. Opspraakwekkende wette is gemaak, soos die Wet op die Verbod van Gemengde Huwelike tussen Blankes en Nie-blankes (1949) en die Wysigingswet op Ontug (1950) wat bruin mense ingesluit het by die Ontugwet van 1927, wat van toepassing was op wit en swart. Sulke wette het diep in die lewens van talle individue ingegryp, soos ook die Bevolkingsregistrasiewet (1950), wat  persoonskaarte vir alle lede van die bevolking bo sestien vereis en bepaal het dat hul ras daarop aangedui word. Dit is beskou as een van die fondamentstene van die apartheidsbeleid en het veral in die Kaap baie mense se lewens geraak. Die Wet op Groepsgebiede van 1950 het woonbuurtskeiding vir verskillende bevolkingsgroepe geskep.

Selfs universiteite kon transformasie nie vryspring nie. In 1959 het die regering wetgewing ingedien om die universiteite te segregeer. “Wit” universiteite kon nie meer bruin of swart studente toelaat vir enige kursus wat deur enige van die bruin of swart universiteite aangebied is nie. Een van die vernaamste doelstellings van die nuwe beleid was om die swart studente weg te neem van die invloed van liberale akademici en die stadsomgewing. Studente van hierdie bruin en swart sogenaamde “boskolleges” het nie leiers van hul onderskeie groepe geword nie, soos die apartheidstelsel verlang het, maar die mees vervreemde elemente in die hele omgewing. Die stelsel het nie daarin geslaag om apartheidsleiers vir die onderhoriges te lewer nie. Daarsonder kon dit nie oorleef nie (Giliomee, 2004: 459).

Die slagoffers van transformasie het weer gereageer op ‘n wyse vergelykbaar met die eersgenoemde transformasie. Baie van hulle het geëmigreer; ander het dit op die oog aanvaar, maar baie ander het hulle daarteen verset. ‘n Radikale buiteparlementêre opposisie het ontstaan. Apartheidswetgewing het al hoe groter internasionale teenkanting uitgelok. Baie wit mense, onder andere Afrikaners, was eweneens gekant teen apartheid.

Een groep slagoffers was in taalopsig van groot belang. Dit is die bruin mense, wat swaar getref is deur die vroegste maatreëls en wette. Die meerderheid van hulle was Afrikaanssprekend. Transformasie het nie hul taalregte weggeneem nie, maar het baie se taallojaliteit en houding teenoor Afrikaans en veral sy standaardvariëteit laat verander. Sommige mense het doelbewus hul kinders na Engelse skole gestuur. Afrikaans was immers die taal van die politici wat die gewraakte wette gemaak en die meeste van die amptenare en polisiemanne wat die wette uitgevoer het.

Die eerste van die wette wat die bruin mense getref het, was die groepsgebiedewet. Die Theronverslag van 1976 oor sake rakende die Kleurlinge het aangetoon hoe die toepassing van die wet dié groep geraak het. Een van die veelseggendste maar ook skrynendste sinne in die verslag is die uitspraak van iemand oor die Groepsgebiedewet: “[A]s die witmense se huise so oor die bult begin kom, dan wonder ons of ons weer sal moet trek”.[3] In verskeie stedelike sentrums het woongebiede met bevolkings van 10 000 tot 40 000 verrys met aanvanklik geen kerke, gemeenskapsentrums, telefone, pos- en polisiekantore en soms selfs skole nie.[4] Die ontwrigtende verskuiwings het bygedra tot misdaad. Daar was gebrekkige polisiebeskerming sodat die benaming “Kill me Quick Twonship” vir ‘n spesifieke buurt heeltemal verstaanbaar is.[5] Ook die kerk is erg geraak. Geordende gemeentes het verbrokkel. Die onteiening van Kleurlingeiendomme in blank geproklameerde gebied is bestempel as “diefstal” en roof van die “Nabotswingerd”. “Sommige lidmate se verbittering oor die regeringsbeleid laat hulle aan die geloofwaardigheid van die Christelike boodskap twyfel en bevorder hulle afvalligheid van die kerk.”[6]

Die tweede was die Wet op die Afsonderlike Verteenwoordiging van Kiesers, wat die land jare lank in beroering gehad het. Die bedoeling van die wet was om die bruin mense van die gesamentlike kieserslys in Kaapland te verwyder en op ‘n afsonderlike kieserslys te plaas met die reg om vier wit verteenwoordigers te kies. Dit het ’n jare lange stryd en groot hofsake gekos voordat hierdie wet op die wetboek gekom het.

Dit is hierdie wet wat ‘n volgende taalaktivis, die skrywer Jan Rabie, beskou het as ‘n groot keerpunt in die politieke geskiedenis van die land en ‘n waterskeiding tussen Afrikaanse skrywers aan die een kant en Nasionale Party-politici aan die ander (Kannemeyer, 2004:269).

In sy verset het Rabie ‘n vorm van taalaktivisme bedryf. Hy was nie net begaan oor die onreg wat apartheid vir sy slagoffers meegebring het nie, maar ook vir die vervreemdende gevolge wat die toepassing van die beleid gehad het vir ‘n Afrikaanstalige groep, naamlik die bruin sprekers van die taal. Hiermee het hy in wese saamgestem met iets wat die digter D.J. Opperman in 1960 geskryf het toe die proses van vervreemding al lankal aan die gang was. Volgens Opperman het die Afrikaners gebou aan hul eie wêreld en hulle self sterk gemaak, maar hulle in dié proses vervreem van die Engelssprekendes, bruin en swart mense. Die Afrikaner het nie daarin geslaag om ‘n aantrekkingskrag te ontwikkel nie, maar eerder “’n sterk wegstotende mag” beoefen (Opperman, 1960). Hoe onontvanklik ’n deel van die openbare mening vir waarskuwings soos hierdie was, toon ‘n bittere debat oor die politieke regte van bruin mense wat enkele maande ná Opperman se artikel uitgebreek het in Die Burger (Steyn: 2002, 143-186). Selfs “dissidente”, soos Piet Cillié, redakteur van Die Burger, het toenemend hul kritiek getemper, weliswaar ook vanweë die gewelddadigheid van die versetsryd in die vroeë jare sestig en vrese vir kommunistiese oorheersing.

Dis hierdie vervreemding tussen groepe Afrikaanstaliges wat van Jan Sebastian Rabie ’n taalaktivis gemaak het. Soos Malherbe het hy ‘n verband met Dal Josafat gehad. Hoewel hy op 14 November 1920 op George gebore is, is vader Rabie in 1923 aangestel as hoof van die Klein-Drakenstein-skool in Dal Josafat. Jan het dus vir ‘n wyle gebly op ‘n plek waar die spore van groot taalmanne lê (Kannemeyer, 2004: 27). Oor Rabie  se jeug en sy studietydperke aan die Universiteit van Stellenbosch, skryf Kannemeyer (2004) uitvoerig. Dit is duidelik dat, hoewel daar by hom ‘n gestadigde politieke evolusie voltrek, hy eers gedurende ‘n verblyf in Parys werklik bewus raak van die onregverdigheid van apartheid en die diskriminerende aard van die rassewetgewing in Suid-Afrika.

Rabie verlaat Suid-Afrika op 3 April 1948 en keer eers weer terug op 7 Februarie 1955. Hoewel bykans tien jaar ouer as Malherbe destyds, is daar veel ooreenkomste tussen dié twee skrywers. Ook Rabie is verskeie tale magtig, skryf in verskillende genres én is later veral ‘n vertaler van gehalte. Net soos Malherbe keer hy na Suid-Afrika terug vol idealisme en met ‘n belowende skrywersloopbaan voor hom.

Soos Malherbe het Rabie ‘n basiese romantiese ingesteldheid, en is hy ‘n voorstander van politieke betrokkenheid en besinning oor die sosiopolitieke posisie van Afrikaans. Dit blyk uit ’n lesing wat hy op die vooraand van sy terugreis na Suid-Afrika lewer voor ‘n groep Nederlanders en Vlaminge in Parys. Daarin verwoord hy sy gevoel vir Afrikaans as volg: “Ek weet van een waarde wat Suid-Afrika opgelewer het, en daaraan bly ek jaloers getrou: my taalgemeenskap. Maar hierdie taalgemeenskap huldig geen vooroordeel van kleur nie, en behels ook die een en ‘n kwart miljoen kleurlinge wat Afrikaans praat soos ek.” Sy betrokkenheid by hierdie aktuele kwessie stel hy só: “Die skrywer se bewustheid is dat alles wat geweet en nie gesê word nie, ‘n misdaad is; sy wil is om helder en objektief te vertel wat hý nie verswyg nie. Hy sal sy werktuig, sy taal, suiwer en kalm hanteer om sy gees suiwer en kalm te hou. Hy sal nie moed verloor, of bang wees, of hom tot swye laat dwing nie. Hy sal sy integriteit as denker en kunstenaar selfs in toestande waarin sy eie vlees teen hom werk en hy nie weet hóé nie, nóg bly beskerm. (Kannemeyer 2004: 198).

Net soos Malherbe, is daar by Rabie ‘n rebelse streep wat hom spoedig in botsing bring met literêre pouse soos die digters D.J. Opperman en N.P. van Wyk Louw (Kannemeyer, 2004: 281-283; Steyn 1998: 823, 877), wat albei invloedryke figure in die literêre wêreld was. Verder bots hy met die hele Nasionale Party. Waar Malherbe darem ‘n groot gedeelte van sy lewe aangeprys is as ‘n volksheld en hy dikwels vereer is, staan Rabie bykans sy hele lewe bekend as volksvreemd en ontvang hy maar min (literêre) eerbewyse. Toe Rabie in 1964 tot fakulteitsraadslid van die Akademie benoem is, was daar ook onder Akademielede sterk verset daarteen. Van Wyk Louw het met groot geduld die ontevredenes probeer verduidelik dat dit nie net Nasionaliste of Broederbonders is wat lid kan word van die Akademie nie, maar dat ook beroemde Sappe soos genl. J.C. Smuts en die dramaturg en regter, H.A. Fagan, lid was, en dat Rabie ‘n belangrike bydrae tot die Afrikaanse letterkunde gelewer en honderde seeterme vir die Woordeboek van die Afrikaanse Taal versamel het (Steyn, 1998: 950; Kannemeyer, 2004: 303). Kannemeyer (2004: 367) beskou dit as een van die grootste aanklagte teen die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns dat die Hertzogprys nooit aan Rabie toegeken is nie.

Rabie se opvattings oor sy verbondenheid met die taal, die tematiese aard van sy skryfwerk en die plig van ‘n skrywer in Suid-Afrika bring hom voor keuses wat dikwels vergelykbaar is met dié van Malherbe. Albei was betrokke by aktuele kwessies, en albei stry teen die sosiale ingenieurswese van hul tyd. Sy roman, Ons, die afgod (1958), was in literêre opsig wel ’n mislukking, maar het gelei tot ’n groot perspolemiek, wat veral die ongelukkige posisie van die bruin mense onder die aandag van duisende lesers gebring het. Jare later het Abraham de Vries gesê die boek het “soos ’n klip in die water of ’n vuurhoutjie in die petrol getref”. Rabie het ’n hele jonger geslag polities bewus gemaak (Kannemeyer, 2004: 300). Rabie was een van die briefskrywers wat in die jare sestig skerp teen die verskerpte toepassing van die groepsgebiedewet in die Kaap geskryf en hulle so die gramskap van dr. H.F. Verwoerd op die hals gehaal het (Steyn, 2002: 204-205, Kannemeyer 2004 ).

Rabie is ‘n “groen” skrywer, maar ook by Malherbe staan verantwoordelikheid teenoor die Afrikaanse bodem dikwels sentraal. Hoewel die maghebbers teen wie hy hom rig, verskil van dié waarteen Malherbe moes stry, is sy keuses nie so veel anders as dié van Malherbe nie. Waarin die ooreenkoms lê, is dat ook hý sy kuns opoffer vir ‘n politieke idee en in diens stel van betrokkenheid. Ook sý lewe is ‘n lewe ten behoewe van Afrikaans.


3. Transformasie ná 1994

Vandag beleef ons weer eens ‘n tydperk van transformasie; trouens hierdie begrip oorheers dikwels bykans enige openbare diskoers. Wat getransformeer moet word, is die Suid-Afrika van apartheid, word gesê. En dit word met toewyding en op haas elke sektor van die openbare lewe gedoen. Volgens die tussentydse grondwet is toegang tot die arbeidsmark gereël deur die beginsels van regstellende aksie en meriete. Maar reeds van 1994 is min van meriete gepraat, en teen 1998 het die ANC ’n veel radikaler eis as regstellende aksie begin stel, naamlik dat die arbeidsmark  op alle vlakke die demografiese profiel moet weerspieël. Volgens hierdie beleid van “verteenwoordigendheid” sou die sukses van die oorgang na ’n normale samelewing getoets word deur die mate waarin die rassesamestelling van die bevolking op alle vlakke, ook senior bestuursvlakkke, weerspieël word. Wit mense in die staatsdiens het dus van 44% in 1994 tot 18% in 1999 gedaal. Daar was wel meer wittes op senior bestuursvlak, maar die regering het verklaar dat hulle oorverteenwoordig is en dat dit reggestel moet word. Dié beleid is ook op die private sektor toegepas. Teen 2002 het swaar boetes medium en groot sakeondernemings in die gesig gestaar indien hulle nie die teikens van regstellende aksie nagekom het wat hulle vroeër aan die staat voorgelê het nie. Kwotas in sportspanne het voortdurend tot twiste gelei, veral in rugby, die Afrikaner se gunstelingsport (Giliomee, 2004: 602 en 620).

Hoewel dit die bedoeling is om ‘n “nierassige” land tot stand te bring, is die huidige transformasie – soos apartheid – in groot mate rasgedrewe. In Februarie 2005 is selfs aangekondig dat die regering ‘n plan het om rasseverwysings in titelaktes te laat aanbring (Volksblad, 9 Februarie 2005; hoofartikel Volksblad, 15 Februarie 2005).

Behalwe dat instellings en rade verteenwoordigend moet wees, moet opvoedkundige instellings ook toeganklik wees. Dit kom daarop neer dat skole en  universiteite enkelmedium-Engels mag wees, maar nie enkelmedium-Afrikaans nie. Afrikaanse instellings loop die gevaar om van rassisme beskuldig te word, al laat hulle ook leerlinge of studente van alle rasse toe.[7] Onderwysdepartemente oefen groot druk op Afrikaanse enkelmedium-skole om dubbel- of parallelmediumskole te word.

Parallelmedium is billik as ‘n skool daarmee kan volhou. Gevestigde parallelmediumskole soos Greykollege in Bloemfontein sorg al dekades vir gelykberegtiging van Afrikaans en Engels. Maar dis anders gesteld met parallelmediumskole wat telkens op bevel van ’n onderwysdepartement geskep word. Afrikaanse skole moet feitlik oornag oorskakel na parallelmediumskole sonder bykomende personeel. Omdat baie van die nuwe leerders dikwels geen skoolgeld kan betaal nie, daal die skole se inkomste en word dit vir hulle moeilik of selfs onmoontlik om self ekstra onderwysers aan te stel. Die onderwysowerhede verleen geen ekstra finansiële hulp nie, met die gevolg dat die gehalte van onderwys drasties daal. Afhangende van die sosio-ekonomiese omstandighede van ‘n skoolgemeenskap duur dit vyf tot agt jaar voordat parallelmedium oorgaan tot dubbelmedium, en twee tot drie jaar totdat dié skole volledig Engelsmedium is. Dit het al gebeur dat Afrikaanse skole in drie jaar na Engels verander.[8]

‘n Onlangse ondersoek het aangetoon dat 1396 Afrikaanse skole in ses provinsies in 1993 gelede gedaal het tot 844 tans. In die Vrystaat was die daling van 153 tot 97; in die Wes-Kaap van 759 tot 564; in Gauteng van 274 tot 155; in Mpumalanga van 90 tot 3; in Noordwes van 82 tot 13; in Limpopo van 38 tot 12.[9]

Van wat op universitêre gebied gebeur het, is universiteitspersoneel alte goed bewus. Tien jaar gelede was daar vyf Afrikaanse universiteite, vandag is geen universiteit  meer Afrikaans nie. Die regering wil hê dat elke universiteit, toegang, moet verleen, dit wil sê toegang in Engels. Geen aanvullende fondse word hiervoor beskikbaar gestel nie. Soos Hermann Giliomee, Chris Heese en Lawrence Schlemmer betoog, hef die regering dus in sulke gevalle ‘n taal-“taks” wat die Afrikaanse gemeenskap vir die gebruik van Afrikaans moet betaal.[10]

Die Grondwet het duidelike bepalings oor veeltaligheid. Artikel 6 daarvan gee erkenning aan die amptelike status van elf tale. Daar word selfs voorsiening gemaak vir ‘n Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad wat “die ontwikkeling en gebruik” van al die amptelike tale moet bevorder en “omstandighede skep vir die gebruik en ontwikkeling” van hulle almal (artikel 6 (5)). Maar “gebruik en ontwikkeling” is nou juis iets wat die politieke maghebbers op talle terreine van die lewe teëwerk. Struikelblokke word geplaas in die ontwikkeling en gebruik daarvan. Om maar een voorbeeld uit letterlik honderde te noem: Wes-Kaapse polisiebeamptes word departementeel vervolg as hulle nie Engels op hul radionetwerk praat nie, al is dit in ’n gesprek met ’n kollega met dieselfde moedertaal. Hulle mag ook net Engels gebruik vir inskrywings in die voorvalleboek, of as hulle aantekeninge maak tydens ondersoeke. Polisielede is met tugstappe gedreig as hulle hierdie opdragte nie nakom nie (Die Burger en Volksblad, 24 Februarie 2005).

Die Grondwet bevat ook ‘n Handves van regte. In artikel 29 word verklaar dat elke burger die reg het om onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van sy keuse waar daardie onderwys redelik en doenlik is. “Ten einde doeltreffende toegang tot en verwesenliking van hierdie reg te verseker, mot die stata alle redelike alternatiewe in die onderwys, met inbegrip van enkelmediumskole, oorrweeg, met inagneming van (a), billikheid, (b) doenlikheid en (c) die behoefte om die gevolge van wette en praktyke van die verlede wat op grond van ras gediskrimineer het, reg te stel”.

Hoewel die grondwet dus enkelmediumskole erken, plaas amptenare in verskeie provinsies druk op alle Afrikaanse enkelmediumskole om dubbel- of parallelmedium te word, terwyl die Engelse enkelmediumskole met rus gelaat word. Dus: die strewe is na amptelike Engels-eentaligheid, en lippediens word bewys aan veeltaligheid, hoewel dit so ’n wesenlike aspek is van wat ná die apartheidstyd so optimisties “die reënboognasie” genoem is. Die reënboog-metaforiek bestaan wel nog, en dit word deesdae aangevul met ‘n Afrika-metaforiek. Ons is van Afrika word gesê, en in Afrika moet ‘n renaissance hom voltrek.

Die moeilikheid is net dat die post-kolonialistiese Afrika in veel opsigte eerder as waarskuwing dien as voorbeeld om na te volg. Die Britse historikus Paul Johnson, wat baie krities skrywe oor apartheid, konstateer ook: “In any case, differences between Pretoria’s policy [die Pretoria van vóór 1994] and those of most African states were more theoretical than real. All African states practised racist policies.” (1999: 526). Hy wys op optredes teen Jode, Asiate en blankes, maar sê dat die algemeenste, of in werklikheid die universele vorm van rassisme in Afrika-state “inter-tribal” is, en sê ‘it was this form of racism for which one euphemism is social control, which led a growing number of African states in the 1960s and still more in the 1970s, to exercise forms of social engineering  not unlike apartheid” 1999: 527-528).

Op sig is dit nie verkeerd as kennisname van Afrika se geskiedenis en kennisstelsels gepropageer word nie, ook nie dat geëis word dat Suid-Afrikaanse universiteite hul diensbaar moet maak aan hul omgewing én wat navorsing betref veral ook daarop moet fokus nie. Die opvatting van die universiteit as ivoortoring is immers al lank agterhaal. Daarom kan die netwerkskepping met Afrika-universiteite wedersydse voordele inhou. Wat egter vereis word, is ’n kritiese besinning, eerder as emosionele oproepe soos dat ons hier ons “eie” standaarde, modelle en teorieë moet skep. Wetenskap mag sy toepasing lokaal vind; maar dit beteken nie dat wetenskap lokaal is nie; trouens, die mees geliefde begrippe in die Afrika-diskoers is van internasionale herkoms.

So word voortdurend ‘n beroep gedoen op nie-Afrikabegrippe en waardes, soos “demokrasie” wat in die Afrikaverband sy eie inkleding kry. Demokrasie in Afrikaverband impliseer filosofies én in die praktyk die reg van die meerderheid; selfs ‘n onverdraagsaamheid jeens politieke, etniese en taalminderhede. Oorloë soos dié in Rwanda en die Soedan het dit helaas bewys [bron oor die getal dooies; dalk nog oorloë?] In hierdie selfde tydperk het daar in internasionale verband ‘n veel groter bewustheid van minderheidsregte na vore getree, veral omdat daar ten spyte van die Tweede Wêreldoorlog se lyding en lesse, in die afgelope dekades steeds etniese konflik was in Europa.

Net soos die vorige twee transformasies bring die huidige ons voor belangrike vraagstukke en keuses. Moet Afrikaans ‘n volwaardige kultuurtaal bly, wat impliseer dat dit ook die taal van die skeppende verbeelding én van die wetenskap moet bly en aan universiteite gebruik moet word? Kan (in die woorde van P. Eric Louw, 2004) ons nuwe weë vind om Afrikaans se kulturele infrastruktuur te stut in die afwesigheid van staatsondersteuning? Kan daar nuwe Afrikaanse narratiewe (in druk en elektroniese formaat) geskep word wat die jeug kan meevoer? Kan die Afrikaanse politieke, sake- en akademiese elite oortuig word om Afrikaans nie meer in die steek te laat nie? Van oudsher klim elites vinnig op die wa van (ekonomiese en politieke) vooruitgang en trag verbete om bo te bly. Dis eers wanneer die nawe los raak en die wielvellings afspring dat hulle die wa sal verlaat. Voorbeelde van Afrikaanse elite wat by die regeringsparty aansluit, Afrikaans slegs gebruik in informele gesprekke, hul kinders in Engelse skole sit en bruin raak van onderdanigheid, lê voor die hand.

Nie net die besluite van die owerheid nie, maar ook dié van Afrikaanstaliges kan ernstige gevolge vir die taal hê. Laat ons eers let op Afrikaans as taal van die wetenskap en universiteite. Hermann Giliomee het verlede jaar in ’n artikel op die webwerf LitNet geskryf hy was geskok toe hy verneem dat ’n bekende historiese joernaal as deel van ’n samewerkingsooreenkoms met ’n Amerikaanse universiteitspers bereid was om in te stem dat geen bydrae meer in Afrikaans gepubliseer word nie. Hy betoog dat optredes soos dié van die betrokke tydskrif “’n streep [trek] deur die Grondwet se verbintenis tot taal- en kulturele diversiteit en bydra tot ’n totalitêre mentaliteit wat glo aan een taal, een kultuur, een politieke ideologie en een party”.[11] Verwysing na “markkragte” en “die eise van die samelewing daarbuite” word dikwels gebruik as verskoning waarom bepaalde kursusse (ook aan die UV) slegs eentalig in Engels aangebied word. NRF-gradering – met die klem op internasionale publikasies – tref Afrikaanse navorsers wat by voorkeur (of in die geval van die Afrikaanse taal en letterkunde byna  uitsluitlik) in Afrikaans skrywe, sleg.

Met die studentebetogings van vroeër vanjaar het ’n Gautengse studenteleier ten opsigte van die Universiteit van Johannesburg geëis: “One university, one language”.[12] Wat universiteite besluit oor sulke eise, die gevolge van ons keuses, gaan wyd uitkring. Sou die Universiteit van die Vrystaat byvoorbeeld besluit om slegs Engels as voertaal te aanvaar, sal dit waarskynlik lei tot die verengelsing van meer as een van die skole in die universiteit  se voedingsgebied. Die eise van ouers en kinders gaan sterk word om hulle beter voor te berei vir hul studieloopbaan deur die skoolonderwys ook te verengels. Daarmee sal dan die proses van bemagtiging van Afrikaanstaliges deur middel van hul taal omgekeer word. Maar mense reageer nie eenders nie, en dit kan ook gebeur dat ons universiteit  van die beste studente gaan verloor aan byvoorbeeld die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-universiteit, wat voornemens is om Afrikaanstalig te bly. Gaan die sterk gevoelens van die jare veertig nie dalk herleef nie? Toe die raad van UKOVS in 1943 besluit om die persentasie Engelsmedium-lesings aansienlik te vergroot, het die studenteraad op die ou end besluit dat studente liewer aan Afrikaanse inrigtings moet studeer, en het party studente inderdaad reëlings getref om weg te gaan. Dit het die raad gedwing om sy besluit te herroep.[13]

Kulturele voorkeure moet nie verwar word met rassisme nie: Gedwonge integrasie van koshuise (soos in amptelike universiteitspublikasies in die vooruitsig gestel) is sosiale ingenieurswese. Dit lyk of dwang ’n onafskeidelike deel van transformasieprosesse is. Tydens die hoogbloei van apartheid was gedwonge skeidingsmaatreëls aan die orde van die dag; nou word dit gedwonge integrasie.

Die voortbestaan van Afrikaans as kultuurtaal word nie net bedreig deur die regering se optrede aan universiteite nie, maar ook wat op ander terreine gebeur. Giliomee wys daarop dat daar by sowel die Engelssprekendes as die swart mense ‘n sterk geloof bestaan in die onafwendbaarheid van ‘n “geangliseerde monokulturele toekoms”. Staatsfondse het die voortbestaan van sowel die Grahamstadse as Oudtshoornse kunstefeeste verseker. Van swart kant is daar egter steeds kritiek dat laasgenoemde fees te wit is. Die Grahamstadse fees word al hoe meer Engels en die gebruik van die ander inheemse tale minder. Dit laat die gedagte ontstaan dat daar sonder Engels dalk nie nasionale kunstefeeste kan wees nie. Afsonderlike Afrikaanse feeste kan al hoe meer beskou word as nadelig vir nasiebou (Giliomee, 2004: 630).

Hierdie strewe na ‘n “geangliseerde monokulturele toekoms” kom ook op ander terreine na vore. Om maar een voorbeeld te noem: die strewe na ‘n nuwe (inklusiewe) Suid-Afrikaanse literêre kanon. Dikwels behels dit die lofwaardige poging om die bestaande kanon uit te brei deur vertaling en/of verwerking (kyk: Krog, 2004) of bloot om stem te gee aan gemarginaliseerdes soos in die oeuvre van Schoeman. Dikwels impliseer dit ongelukkig dat Afrikaanse skrywers soos Reza de Wet, Deon Opperman en selfs Antjie Krog toenemend (en soms uitsluitlik) in Engels begin skrywe (Van Coller en Odendaal, 2004).

Dat so ‘n “Suid-Afrikaanse literatuur” reg kan laat geskied aan die ander tale as Engels is onmoontlik. Die eerste pogings om ‘n geïntegreerde literatuurgeskiedenis te skryf was ‘n groot mislukking, en gee ‘n mens eintlik ‘n aanduiding van die kwalike gevolge wat dit sal hê vir die inheemse literature en veral Afrikaans. Die twee werke is South African literature (1996) van Michael Chapman en A history of South African literature (2005) van Christopher Heywood. Albei is vol growwe feite- en interpretarasiefoute en gee boonop ‘n baie skewe en negatiewe beeld van die Afrikaanse letterkunde. Chapman se eerste uitgawe van sy literatuuurgeskiedenis het hewige kritiek ontlok (kyk: Van Coller, 1998: viii), maar hy het geen poging aangewend om dit in die tweede uitgawe reg te stel nie.

In ‘n striemende kritiek noem Kannemeyer Heywood se werk ‘n literêre lappieskombers en ‘n pretensieuse politieke prul en gee bykans twee bladsye van (feite)foute. Hy sê tereg dat alleen ‘n supermens op sy eie ‘n integrale geskiedenis van die Suid-Afrikaanse literatuur sal kan skryf  (Kannemeyer 2005). Die propagering van ‘n Suid-Afrikaanse literatuur kom in die praktyk neer op ‘n aanmoediging om net in Engels literatuur te skep. Verdedigings van Heywood se gebrekkige literatuurgeskiedenis vanuit Engelse geledere (Gagiano, 2005) word deur Philip John (2005) “voorspelbaar” genoem: “The origen of this knee-jack response lies with the dominant orientation of the English South African literary critical tradition, namely its privileging of politics over aesthetics.”

Die strewe na ‘n “geangliseerde monokulturele toekoms” word versterk deur ‘n belangrike prys van R25 000 wat die Europese Unie vanjaar vir die eerste keer toegeken het. Net Suid-Afrikaanse Engelse werk kom in aanmerking vir die EU-prys. Dis ‘n beleid wat heeltemal in stryd is met die EU-kultuur- en taalbeleid in Europa, wat gegrond is op die erkenning van taal- en kultuurverskeidenheid. Die letterkundige Etienne Britz (2004) noem die prys ’n klap in die gesig van Afrikaans en die nege ander amptelike tale, en merk op: “Waar ’n groot magsblok soos die EU [..] Engels as die taal van die skeppende verbeelding aan ’n veeltalige land soos Suid-Afrika opdwing, is daar van niks minder nie as Anglofiele neokolonialisme sprake”.

Britz vra hom af of die EU hom laat mislei het deur Anglofiele kollegas “of deur ’n stel Engelse skrywers en letterkundiges in Suid-Afrika” (Britz, 2004). Die feit dat buitelanders noodgedwonge kennis van die Afrikaanse literatuur moet neem deur middel van prulwerke soos Chapman en Heywood dra seker tot die geringskatting en miskenning van die Afrikaanse letterkunde by; so ook die neerhalende manier waarop die skrywer J.M. Coetzee hom uitgelaat het oor die Afrikaanse literatuur.[14]

Heel toevallig het ons, soos in die eerste transformasietydperk, ook ’n standaardtaalstryd binne die groter stryd. Vir sommige akademici is Standaardafrikaans omstrede omdat dit sogenaamd “blanke Afrikaans” is. Dit is histories te begrype, want diegene wat Afrikaans ná die Anglo-Boereoorlog as skryftaal gebruik het, was wit Afrikaanstaliges, met waarskynlik weinig empatie met of begrip vir bruin taalgenote wat in die oorlog oorwegend pro-Brits was, en dus in ’n polities vyandige kamp.

Malherbe is die taalaktivis-rebel van die eerste transformasie, Rabie dié van die tweede. Wie is die taalaktivistiese rebelleskrywer of -intellektueel van die huidige?

’n Mens kan verskeie noem, maar daar is veral twee wat in aanmerking kom, albei mense van wie ‘n mens dit nie in die tyd van die stryd teen apartheid sou verwag het nie. Die eerste is die internasionaal-bekende historikus Hermann Giliomee – ook ‘n Bolander gebore soos Malherbe en Rabie; in die apartheidsjare een van die invloedrykste stemme van die intellektuele verset teen apartheid, politieke rubriekskrywer in verskeie Engelse koerante en redakteur van die Die Suid-Afrikaan, en van die vroeër negentigerjare af een van die progressiewe akademici wat hom vir die behoud van Afrikaans as onderwystaal, ook aan universiteite, beywer. Hy was die besieler en krag agter verskeie berade, kongresse en publikasies oor dié onderwerp.

Maar ons wil hier die reaksies van drie skrywers op die drie transformasiegeskiedenisse behandel, en daarom kyk ons na die één skrywer wat dieselfde skokeffek het as wat Malherbe en Rabie gehad het. Dit is Dan Roodt, oudstudent aan die Universiteit van die Witwatersrand, felle teenstander van apartheid en uitwykeling na Frankryk in die apartheidstyd. Sy eerste literêre werke het ‘n rebelse streep. In Sonneskyn en chevrolet (1980) lewer hy vanuit die anti-establishment kommentaar op die Suid-Afrikaanse samelewing van 1980 met allerlei sprokies, aanhalings en kru taal. Hierdie klein werkie ontvang lowende kritiek van gerekende resensente soos George Weideman (1979) en is een van die eerste post-modernistiese werke in Afrikaans. Sy digbundel Kommas uit ‘n boomzol (1980) het die uiterlike patroon van D.J. Opperman se Komas uit ‘n bamboesstok, en is ‘n skerp kritiese satire wat die politieke en estetiese status quo aanval. Sy jongste roman Moltrein (2004) is eweneens satiries, maar nou gerig teen voorstanders van die “nuwe demokratiese Suid-Afrika”. Roodt hekel nie alleen diegene wat hy sien as naïewe politieke hervormers nie, maar maak ook korte mette met André P. Brink se literatuuropvattings en skryfwyse.

Interessant is die verdere ooreenkoms met Rabie: waar Rabie in opstand kom teen die literêre pouse Opperman en Van Wyk Louw, en die politieke maghebbers van die tyd, die Nasionale Party, kom Roodt in opstand teen die huidige literêre pouse, kardinale én laer-geestelikes onder wie André P. Brink, Antjie Krog, Marlene van Niekerk én as verteenwoordiger van die Suid-Afrikaanse Engelse literatuur, Nadine Gordimer. En op politiektaal- en kultuurpolitieke gebied teen die maghebber van óns tyd, naamlik die ANC.

In die standaardtaalkwessie is Roodt sonder doekies omdraai ’n voorstander van Standaardafrikaans.

Maar veral is Roodt bekend as taalaktivis en stigter van die Praag, die Pro-Afrikaanse aksiegroep. Hy is die oprigter van ‘n uitgewery, en stigter van ‘n Afrikaanse tak van die internasionale skrywersorganisasie PEN. Hy is ’n skerpsinnige, veelsydige politieke, maar ook uiters omstrede kommentator en so ver van polities korrek dat Rapport hom as gereelde kommentator afgedank het. Soos Rabie van ouds is Roodt ’n aktivis wat nie wegskram van briewe, petisies en enkele kere selfs betogings nie. Maar selfs bloot deur ongemaklike vrae op berade en kongresse te stel, ontketen hy woede. Hy is al veroordeel deur professore, woordvoerders van politieke partye, redakteurs filosowe en mede-taalaktiviste. In Februarie 2005 het ’n groot polemiek in Die Burger en die webruimte LitNet gewoed nadat hy uitgenooi is om op die woordfees in Stellenbosch te praat, en sommige akademici beswaar teen die uitnodiging gemaak het omdat ’n onlangse internet-artikel van hom volgens hulle rassisties is. Dat sy politieke betrokkenheid ook sy werk bedreig, is reeds by die verskyning van sy eerste werke betoog, onder andere deur Kannemeyer.

En tog hoor ‘n mens dikwels in die omgang: ek stem nie saam met sy styl of die manier waarop hy sy saak verwoord nie, maar ek dink Dan Roodt is eintlik reg.

Hy is inderdaad “reg” in dieselfde opsig as wat Malherbe en Rabie reg was, naamlik dat taalaktivisme in wese neerkom op mobilisasie en stryd. En elkeen van hierdie rebelle het medestanders gehad wat min of meer in dieselfde rigting gedink het – miskien nie altyd so radikaal en openlik rebels nie, maar soms inderdaad radikaler. Malherbe het sy medestanders gehad soos Gustav Preller, J.H.H. de Waal, Jan F.E. Celliers, ds. W. Postma (maar ook politici soos pres. Steyn en genls. J.B.M. Hertzog, C.R de Wet en C.F Beyers).  Net soos Rabie het skrywers  soos Uys Krige, W.A. de Klerk en Ingrid Jonker (en politieke aktiviste soos Bram Fischer en Beyers Naudé) met groot kommer kennis geneem van die gevare van apartheid en daarteen in opstand gekom. Van Wyk Louw het al in 1952 sy bekende waarskuwing gerig dat voortbestaan in geregtigheid verkiesliker is as blote voortbestaan.[15] Malherbe, Rabie, Roodt het almal in dieselfde rigting gedink, deur te wys op die uitwasse van transformasie, en het hulle daarteen verset.

Aktiviste dra almal swaar aan emosies en vertoon dikwels irrasionele trekke. Dikwels gaan hul die geskiedenis in as helde wanneer hul deel uitmaak van die seëvierendes of van ’n paradigma wat aanvaarding verwerf. Maar dikwels is hulle, helaas, randfigure in die vergeethoek van die geskiedenis.

Die uitdaging vandag is om taalaktivisme te koppel met ’n intellektueel-onberispelike onderbou, daadkragtige optrede met hoflikheid; kritiek met begrip. Maar dit beteken ook dat nie weggeskram kan word van keuses nie en dat keuses, beoordelings én uitsprake konflik sal  bring.

Wat duidelik is, is dat die verset moet voortgaan teen die georkestreerde druk op Afrikaanse enkelmedium-skole om die pad na verengelsing te volg deur eers parallelmedium, daarna dubbelmedium te word. Akademici, ook opvoedkundiges, praat deesdae openlik van drukgroepe om Afrikaanse skole te red, en noem hofsake as een van die middele. Van Afrikaanstalige ouers sal 59% sterk optrede steun as Afrikaanse onderrig nie beskikbaar is nie. Daar is ‘n groeiende besef dat taalaktivisme nodig is om ‘n waarlik demokratiese meertalige samelewing te skep.

Hierdie opstel is oorspronklik op 10 Maart 2005 as die D.F. Malherbe-gedenklesing aan die Universiteit van die Vrystaat gelewer.

Aangehaalde werke

Britz, Etienne. 2004. EU se literêre prys vir Suid-Afrika is skandalig in “Voetnoot”, Die Burger, 10 September 2004.

Bothma, L.J. 2003. Die punt van die swaard. Pretoria: Protea Boekhuis.

De Waal, J.H.H. 1939. Versamelde Werke deel I. My herinnerings aan ons taalstryd. Kaapstad: Nasionale Pers.

Du Plessis, Theo. 2004. Afrikaans en taalaktivisme. In F.I.J. van Rensburg (red) 2004, Afrikaans — lewende taal van miljoene (Pretoria: Van Schaik), 169-182.

Duvenhage, André. 2004. The post-election environment: a critical assesment. Referaat gehou op 31 Mei 2004 op SASA-konferensie.

Gagiano, Annie. 2005. http://www.litnet.co.za/indaba/john­_heywood.asp

Giliomee, Hermann. 2004. Die Afrikaners – ‘n biografie. Kaapstad: Tafelberg.

Headlam, C, 1933. The Milner papers. South Africa 1899 – 1905. Vol II. Londen: Cassell.

John, Philip, 1998. Die Afrikaanse historiese roman en die literêre kritiek: Aspekte van die verhouding tussen literêr-kritiese perspektief en literêre tradisie. Ongepubliseerde D.Litt-proefskrif. Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch.

John, Philip. 2005. http://www.litnet.co.za/indaba/john_heywood.asp

Johnson, Paul. 1999. Mondern Times. A history of the world from the 1920s to the year 2000. Londen: Phoenix.

Kannemeyer, J.C. 1978. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur, I. Kaapstad/pra: Academica.

Kannemeyer, J.C.1988. Die Afrikaanse literatuur 1652 – 1987.

Kannemeyer, J.C. 2004. Jan Rabie – prosapioner en politieke padwyser. Kaapstad; Tafelberg.

Kannemeyer. J.C. 2005. Literêre lappieskombers pretensieuse politieke prul. In By, bylae tot Die Burger, 5 Februarie 2005, 10-11.

Krog, Antjie. 2004. Met woorde soos met kerse. Inheemse verse uitgesoek en vertaal deur Antjie Krog. Kaapstad: Kwela Boeke.

Louw, N.P. van Wyk. 1986/ Versamelde prosa 1. Kaapstad; Tafelberg.

Louw, P. Eric. 2004. Political power, national identity, and language: the case of Afrikaans. Focus on Africa: Sociolinguistic Changes in a Changing World. International Journal of the Sociology of Language. 170: 43-58.

Martel, A. 1999. Heroes, rebels, communities and states in language righjts activismand litigation, in Kontra, M, Phillipson, R, Skuttnab-Kangas, T. &Várady, T. (reds.). Language: A right and a resource. Approaching linguistic human rights. 47-80.

Olivier, Gerrit. 1992. N.P. van Wyk Louw. Literatuur. Filosofie. Politiek. Kaapstad, Johannesburg: Human en Rousseau.

Opperman, D.J. 1960. Uitdyende heelal? Uniefees-bylae tot Die Volksblad en Die Burger, 24 Mei 1960 en en Die Oosterlig, 25 Mei 1960.

Pienaar, E.C. 1946. Die triomf van Afrikaans. (Tweede hersiene en vermeerderde druk) Kaapstad: Nasionale Pers.

Rothmann, M.E. (M.E.R.) 1976. Familiegesprek. Briewe aan haar dogter. Kaapstad: Tafelberg.

Scholtz, G.D. 1978. Die ontwikkeling van die politike denke van die Afrikaner, deel V 1899 – 1910. Johannesburg: Perskor.

Steyn, J.C.1993. Die voertaalvraagstuk aan Suid-Afrikaaanse universiteite tot omstreeks 1930. SA Tydskrif vir Taalkunde, Supplement 18: 225-274.

Steyn, J.C. 1993a. Die taalstryd aan die Grey Universiteitskollege ten tyde van die rektoraat van D.F. Malherbe. In Acta Academica 25 (4), 87-117.

Steyn, J.C. 1998. Van Wyk Louw – ‘n lewensverhaal. Kaapstad: Tafelberg.

Steyn, J.C. 2002. Penvegter. Piet Cillié van Die Burger. Kaapstad, Tafelberg.

Steyn, JC. 2004. Die honderd jaar van M.E.R. Kaapstad: Tafelberg.

Van Coller, H.P. 1980. Resensie van Sonneskyn en Chevrolet. Grafier 1(2): 14

Van Coller, H.P en Odendaal, B.J. 2005 Die verhouding tussen die Afrikaanse en Nederlandse literêre sisteme (II): ’n Chronologiese oorsig. Ongepubliseerde artikel. Sal verskyn: Stilet (3) September 2005.

Weideman, George. 1979.

Zietsman, P.H. 1992. Die taal is gans die volk. Woelinge en dryfvere in die stryd om die Afrikaner se taal. Pretoria: Universiteit van Suid-Afrika.

Notas


[1] Bothma (2003) is ‘n boeiende verslag van een gesin se keuses in so ‘n historiese keerpunt.In hierdie geval die Anglo-Boereoorlog en die jare direk daarna.

[2] In Die meulenaar is een van die hooffigure, Oom Thys, fel anti-Engels en word op bitsige wyse verwys na die Jameson-inval (bl.79). Die gebruik van Engelse woorde (en dus simpatieë) word ook genadeloos gesatiriseer (kyk na die uitbeelding van die skurkagtige Louw, bl. 43 e.v.). Dit kan derhalwe gelees word as Malherbe se eie “regstelling” van sy vader se ideologie.

[3] Verslag van die kommissie van ondersoek na aangeleenthede rakende die Kleurlingbevolkingsgroep (RP 38/1976) (kortweg die Theronverslag, na die voorsitter van die kommissie, prof. Erika Theron), 215.

[4] Theronverslag, 216-217.

[5] Theronverslag, 260.

[6] Theronverslag, 308-309.

[7] Volgens die berig “Hoofde van rassisme beskuldig” (Volksblad, 3 Februarie 2005) het die distriksbestuurder van ‘n Gautengse onderwysdistrik die hoofde van Afrikaansmedium—skole van rassisme beskuldig omdat hulle onwillig is om hoofsaaklik swart leerlinge in te neem wat op Engels-onderrig aandring.

[8] Hierdie inligting is in die RSG-nuusprogram “Monitor” verstrek deur mnr. Louis Smuts, voorsitter van die Trust van Afrikaanse Beheerliggame vir onderwys en kultuur, en aangehaal in Beeld-Forum, Beeld, 17 Februarie 2004. Sien verder Volksblad, 2 Februarie 2005.

[9] Dit blyk uit ‘n ondersoek van dr. Bertie du Plessis, waarvan onder meer in Volksblad van 2 Februarie 2005 berig word.

[10] Hermann Giliomee, Chris Heese en Lawrence Schlemmer, Strategiese voorstelle vir langtermynoplossings vir die Afrikaanstalige onderwys.

[11] Aangehaal in Beeld-Forum, Beeld, 25 Mei 2004.

[12] Hy is aan die woord gestel in die RSG-nuusprogram Monitor op 23 Februarie j.

[13] Die hele stryd is volledig gerapporteer in Die Volksblad tussen Augustus en November 1943.

[14] Etienne Britz, Coetzee beskimp beskeie suksesse, Die Burger, 2 September 2004; Rapport-berig J.M. Coetzee rig ‘n dwarsklap, Rapport, 5 September 2004.

[15] Louw 1986: 462. Die betrokke opstel het op 15 Augustus 1952 in Die Huisgenoot verskyn.

купить пеногенераторы, дозатроныЛобановский Харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.