Weerwraak op die Afrikaner ná Trump?

Illustrasie van Donald Trump en die Amerikaanse Capitol bo ’n Suid-Afrikaanse plaaswerf, met ’n lang skaduwee oor die landskap.

Die rampspoedige vertoning van die Republikeinse Party tydens vandeesweek se middeltermynverkiesings het ‘n groot politieke verskuiwing veroorsaak. Dit geld Amerika, maar ook ons beleërde volkie hier aan die suidpunt van Afrika.

Hoewel Trump vir die volgende twee jaar sal poog om hom deur middel van uitvoerende bevele te handhaaf, gaan hy nie die volslae beheer ongedaan kan maak wat deur Demokratiese Party voortaan oor die Kongres gaan uitoefen nie. In die Huis van Verteenwoordigers het die blou party 40 setels bygekry, terwyl hulle in die Senaat sewe setels ingeöes het en verder 5 goewerneurskappe gebuit het.

Nog nooit vantevore in die geskiedenis het ‘n Amerikaanse president hom by soveel geleenthede oor Suid-Afrika en Afrikaners uitgelaat nie. Op 2 Februarie 2025 – wat ‘n simboliese datum – het Trump hom vir die eerste keer uitgespreek oor Suid-Afrika toe hy op Truth Social gesê het: “‘n Massiewe Menseregte-SKENDING, op sy minste, is besig om te gebeur, vir almal om te sien. Die Verenigde State sal dit nie verduur nie, ons sal optree.”

Net vyf dae later, op 7 Februarie, het Trump sy beroemde uitvoerende bevel “Addressing Egregious Actions of The Republic of SouthAfrica” uitgereik waarin hy alle ontwikkelingshulp aan Suid-Afrika opskort en ‘n vlugtelingprogram vir Afrikaners aankondig. Vir die eerste keer in jare, het ‘n internasionale leier Afrikaners as ‘n volk en etniese groep erken, asook maatreëls aangekondig wat na sy mening hulle tot hulp sou wees.

In daardie stadium was ek in België en het onmiddellik ‘n YouTube-video op straat in die stad Turnhout opgeneem met die titel “Trump se geskenk aan Afrikaners” wat hier onder te siene is. Omring deur Nederlandssprekende Vlaminge, het dit byne onwerklik gevoel om op straat Afrikaans te praat terwyl ek na Afrikaners en die Amerikaanse president verwys. Die video het sedertdien 48 000 kyke ontvang. Dit is hier onder te sien.

Enkele dae later was ek vir die eerste keer in my lewe in die Tseggiese hoofstad, Praag. Die Tsjegge het byna meer onder kommunisme gely as wat ons sedert 1992 daaronder ly. Ek sou sê veel minder Tsjegge is vermoor as wat daar Afrikaners oor die afgelope dertig jaar om die lewe gebring is. Terwyl die sneeu rondom my uitsak en die sneeuvlokkies wit op my vertroude ou groen lodenwoljas aanpak, het ek nog ‘n video opgeneem waarin ek bepleit dat Trump eintlik sanksies teen Suid-Afrika moet instel.

In ‘n mate is my wens bewaarheid, want onlangs is ons land uit AGOA geskop. Die plaaslike media het dit egter afgelag. Dieselfde media het van meet af aan Trump se uitlatings, besluite en maatreëls – soos die vlugtelingstatus vir Afrikaners – gehoon. Die linkse en liberale media oorsee soos die BBC, die Londense Guradian, die New York Times en die Washington Post het in ‘n koor die spot gedryf met Afrikaners wat onveilig in SA voel. Figure soos Piet Croucamp en Max du Preez is opgekommandeer as getuies dat dit eintlik baie veilig in ons land is, afgesien van bietjie “normale misdaad waaronder almal ly”. Eintlik, so is daar geargumenteer, “gaan dit baie goed met Afrikaners onder die ANC-bewind”.

In ‘n ander wêrelddeel het Benjamin Netanyahu vir Trump aangehits om oorlog teen Iran te maak. J.D. Vance, die Amerikaanse visepresident, het ‘n paar dae gelede erken dat die Iran-oorlog die faktor was wat die Republikeine die onlangse verkiesing so skouspelagtig laat verloor het. Hoë brandstofpryse en gepaardgaande inflasie het Trump se groot aantal middelklas- en laermiddeklasondersteuners van hom vervreem en hulle het uit protes vir die Demokrate gestem of bloot van die stembus weggebly.

Veral jong blanke mans, die kern van Trump se steunbasis, is sterk deur sy oorlogsug vervreem en het verraai gevoel. Die veteraanekonoom en meningsvormer, Paul Craig Roberts, het ‘n goeie opsomming van al Trump se foute verskaf, maar ook van die naderende afgang van die Westerse beskawing. Hy skryf:

Oral in die Weste sien ons net mislukking. Die Weste is die oorblyfsel van ’n beskawing sonder ’n leier. Trump het sy presidentskap verkwis deur die Sionistiese agenda van Groter Israel te dien. Die Russiese filosoof Aleksander Doegin deel my siening, of anders gestel, ek deel syne.

Om ’n idee te kry van hoe kwesbaar die Westerse beskawing is, kyk na die rasse- en kulturele samestelling van sy groot stede. Daar kan ’n mens sien hoe die Weste in sy eie groot stedelike sentrums aan die verdwyn is. Hou in gedagte dat wit liberales en Amerikaanse ingrypings in die buiteland Amerika se nuwe inwoners, die sogenaamde “mense van kleur”, geleer het om vyandig te staan teenoor wit mense, wat as rassistiese onderdrukkers verguis word. Amerikaners het vroue en kinders in Afghanistan, Irak, Libië, Sirië en Iran gebombardeer. Hulle het Israel se bombardering van vroue en kinders in Gasa en Libanon gefinansier, regerings omvergewerp, ’n buitelandse president ontvoer en die Iranse leier vermoor. Alles wat Amerikaans is, is as rassisties bestempel, van kuns, musiek en letterkunde tot selfs wiskunde. Amerikaners wat glo dat hulle hulself kan beskerm deur immigrante wat hul land binneval vriendelik te verwelkom, behoort Omsingel die laer van die heiliges te lees. (Laasgenoemde boek is in Afrikaans te koop op Praag se boekwinkel.)

‘n Mens kan nie anders as om met Roberts saam te stem nie: soveel mense in die VSA, in Europa en elders het groot hoop gehad vir wat Trump as president kon vermag. Ook ons Afrikaners. Vir die eerste keer, hoe onbeholpe ook al, het iemand ‘n skild opgehou en gesê: “Die magtige Amerika sal u beskerm.”

In anderhalf jaar dít alles egter in duie gestort. Die optimisme wat ek in my YouTube-video’s gevoel het, het nou feitlik verdamp. Die Demokrate gaan oor die volgende twee jaar sorg dat daar genoeg immigrante na die VSA stroom wat almal vir hulle gaan stem. Heel moontlik gaan daar ‘n permanente Demokratiese meerderheid in daardie land gevestig word. Die implikasies vir die Weste en vir blankes wêreldwyd is enorm. Wat gaan gebeur as ‘n aggressiewe, linkse, anti-blanke bewind in die VSA, bewapen met die land se enorme arsenaal kernwapens, begin om mense van Europese afkoms genadeloos te vervolg? In Amerika, in Europa, in Latyns-Amerika, in Australië en les bes, hier by ons?

Vele mense in SA is deur Trump se pro-Afrikaner-gevoelens en -uitsprake geïrriteer. Die Amerikaanse “blou golf” wat ons in die middeltermynverkiesings gesien het, kan dalk ‘n wêreldwye tsoenami teen die gryser wordende, demografies kwynende blankes word. Ek weet dis nie polities korrek om dié dinge te sê nie, maar wie van ons voel dit nie reeds aan eie bas nie? “Julle is te min, te oud, ons het julle nie meer nodig nie. Verdwyn liewer net. Of gee pad, daar na waar ons julle nie kan sien nie.” Selfs die god Mandela het gesê dat as ons nie hou van ANC-heerskappy nie, ons maar gerus die land kan verlaat.

Europa, waar daar steeds 700 miljoen Europeërs woon, sou dalk weerstand kon bied, maar die welvarende Wes-Europa is reeds so deur immigrasie en “woke” denke gerysmier dat hulle bereid is om hul eie mense te vervolg wat hulle teen die sogenaamde “groot vervanging” verset. In Duitsland praat die Duitse geheimediens openlik daarvan dat hulle die opkomende regse party, die AfD, summier wil verbied. So iets is reeds in België gedoen toe die Vlaams Blok verbied is, waarna die oudlede van dié party die huidige Vlaams Belang gestig het.

Europa is ook ekonomies en militêr só onder Amerikaanse invloed, wat in die Brusselse tirannie manifesteer, dat hulle skaars meer soewereine state is. Onlangs was daar ‘n gepoogde staatsgreep in Pole wat vanuit Brussel van stapel gestuur is om die Pole te dwing om tot die euro-geldeenheid toe te tree. In hul visier is Pole se aardige goudreserwes wat in so ‘n geval van Warskou na Frankfurt oorgeplaas sal word.

Rusland is natuurlik ‘n ander geval, maar dié land is in die visier van sowel Amerika as die EU wat hul oë op Rusland se hulpbronne gevestig het. Die astronomiese skuld in Amerika en Wes-Europa moet met die toekomstige Russiese buit gefinansier word. Nie om dowe neute nie, het die Oekraïnse oorlog ontbrand en word dit by verstek vanuit Londen, Brussel en Washington gevoer.

Waar laat dit ons? Ek wil nie voorspooksels maak nie, maar die Amerikaanse linkses gaan vir seker wraak op Trump en sy MAGA-beweging neem. Dis heel moontlik dat daardie weerwraak ook na die Afrikaner mag oorspoel. Die Suid-Afrikaanse linkse beweging vir wie Boerehaat en afkeer van die Afrikaner nog altyd die grondslag vir sy identiteit was, gaan insgelyks nie agterbly as dit kom by nóg strenger SEB-maatreëls, sneller grondgryp en onteiening sonder vergoeding nie. Afrikanerhaat gaan ‘n nuwe bloeityd beleef, soos dit in elk geval die afgelope aantal dekades die geval was.

Alles wat Roberts hier bo skryf, is ewe seer op die Afrikaner van toepassing. Om hom te parafraseer: “Oral in die Afrikanerdom sien ons net mislukking. Die Afrikanerdom is die oorblyfsel van ’n beskawing sonder ’n leier.” Die gebrek aan intellektuele, visioenêre en strategiese leierskap onder ons mense is eenvoudig skreiend. Asook kommerwekkend.

Ons is ontwapen en reddeloos gebreinspoel. Ons wag vir beter dae, wat deur die opportunistiese politieke partye belowe word.

Ek hoop dat ek verkeerd mag wees. Maar sedert Trump besluit het om in die Midde-Ooste te gaan oorlog maak, was dit vir my helder dat hy ‘n enorme strategiese fout begaan. Al sy ondersteuners, in die VSA en hier onder die Afrikaners, is daardeur verloën en verarm. Om heen en weer tussen Johannesburg en Pretoria te ry, kos deesdae ten minste R200, met ‘n taamlik ekonomiese motor. Dis die regstreekse gevolg van daardie oorlog.

Ons sal moet pasop vir die linkse wraak wat op ons uitgegiet gaan word. Nie net Malema gaan “kill a Boer” sing nie, maar ook die gepeupel in New York, Londen, Amsterdam en Parys. Is ons gereed daarvoor?

Steun Praag se media hier.

Maak 'n opvolg-bydrae