Uit die Donker Verligting: ‘n rooi pil vir Afrikaners

Deel op

In die oorspronklike, eerste Matrix-film, bied Morpheus twee pille aan Neo: ‘n rooi pil wat hom uit sy waanwêreld gaan losruk en ‘n blou pil wat hom in sy kuberdroomwêreld gaan laat. Hy kies die rooi pil en vind uit dat hy as menslike slaaf in ‘n bad vloeistof lê en bloot as ‘n battery dien vir die masjiene wat die aarde oorgeneem het. As hy ná die rooi pil in hierdie ongenaakbare wêreld wakkerskrik, begin sy stryd teen die magtige “matriks” wat alles op aarde oorheers en beheer, veral deur die menslike batterye se breine via koppelings in hul rugstringe met ‘n virtuele droomwêreld gegrond op die 1990’s te voer.

Die rooi en die blou pil
Die rooi en die blou pil

Die metafoor van die rooi pil en die matriks, is maar een van baie in die aanlynopstel van 27 000 woorde oor die “Donker Verligting” deur ‘n Britse filosoof, Nick Land. Hoewel Land op ‘n stadium ‘n dosent in filosofie aan die Universiteit van Warwick in Engeland was, het hy die akademie verlaat en werk hy deesdae vir ‘n Engelstalige tydskrif in die Chinese stad Sjanghai. In sy opstel verduidelik hy hoe sowel die media as die universiteite in die Westerse wêreld geheel en al in die greep van politieke korrektheid verkeer. Politieke korrektheid is die nuwe “matriks” wat mense met aangename drogbeelde vermaak. Teenoor die sorgelose, gerusstellende beelde waarmee ons breine vanuit die beheerkamers oorspoel word, is die werklikheid aaklig: een van geweld, misdaad, diefstal, korrupsie, ‘n parasitiese staat, gemanipuleerde markte en iets soos die ondergang van die Westerse of Europese beskawing.

Baie min mense is bereid om die rooi pil te sluk en “wakker te skrik”. Trouens in die Matrix-fliek verkwalik een van die karakters, Cypher, vir Morpheus dat hy hom die rooi pil gegee het en sodoende uit sy sorgvrye illusies wakkergemaak het. As Cypher uiteindelik ‘n transaksie met die masjiene aangaan om na die waanwêreld terug te keer en niks van die werklikheid te onthou nie, sê hy: “Onkunde is heerlik.” Hierteenoor som Morpheus sy filosofie en beweegrede om die rooi pil aan te bied soos volg op:

This is your last chance. After this, there is no turning back. You take the blue pill—the story ends, you wake up in your bed and believe whatever you want to believe. You take the red pill—you stay in Wonderland, and I show you how deep the rabbit hole goes. Remember: all I’m offering is the truth. Nothing more.

Soos ons almal weet, is dit vandag – te midde van polities korrekte tirannie en oorheersing van Links – baie gevaarlik om die waarheid te praat of te skryf. Jy kan jou werk verloor, deur die hoofstroomsamelewing verwerp word of, indien jy vir jouself werk, kan jy al jou kliënte verloor of verbied word om sake te doen. Tans is daar byvoorbeeld ‘n heksejag teen die sanger Steve Hofmeyr in die media aan die gang omdat hy beswaar teen geweldsmisdaad en Afrikanerlyding maak. So pas het die buikspreker Conrad Koch met sy swart pop Chester Missing die telefoonnommer van Williams Hunt, wat ‘n voertuig vir Steve borg, op Twitter geplaas sodat linkses hulle met klagtes kon oorval. Kort daarna het Williams Hunt vir Steve in kennis gestel dat hulle hul voertuig terugneem.

Reeds is Steve deur die ANC-DA-koalisie op die dorpie Vredendal verbied om aan die Namaquafees deel te neem en is hy “ontnooi”.

Nick Land bied ‘n taamlik pessimistiese ontleding van denke en politiek in die Westerse wêreld. Politieke korrektheid is ‘n sektariese geloof wat niemand mag bevraagteken nie, anders is jy ‘n ketter. Net soos tydens die Middeleeue toe ketters in die openbaar uitgeskel of op die brandstapel verbrand is, koester ons samelewing insgelyks geen verdraagsaamheid jeens andersdenkendes of diegene wat die heersende geloof bevraagteken nie.

Die term “Donker Verligting” is blykbaar deur die miljardêr en medestigtigter van PayPal, Peter Thiel, gemunt en is besig om al hoe meer veld onder ‘n groep IT-deskundiges, filosowe, skrywers en aktiviste te wen. Alhoewel, dié artikel beweer dat dit Nick Land self is wat die uitdrukking eerste gebruik het. Een van die rubriekskrywers van PRAAG, Albert Brenner, is ook lief om die uitdrukking te besig en beweer selfs dat die onlangse film The Grand Budapest Hotel elemente van die donker verligting bevat.

Wat beteken “donker verligting” presies? Waarom is dit juis “donker”? Nick Land verduidelik dat ons nie ‘n renaissance of hergeboorte nodig het nie, want ons het nie langs die pad ‘n tradisie verloor nie. Die feit dat ons egter ‘n “donker tyd” beleef, skep ‘n behoefte aan lig wat gevolg moet word.

Enlightenment is not only a state, but an event, and a process. As the designation for an historical episode, concentrated in northern Europe during the 18th century, it is a leading candidate for the ‘true name’ of modernity, capturing its origin and essence (‘Renaissance’ and ‘Industrial Revolution’ are others). Between ‘enlightenment’ and ‘progressive enlightenment’ there is only an elusive difference, because illumination takes time – and feeds on itself, because enlightenment is self-confirming, its revelations ‘self-evident’, and because a retrograde, or reactionary, ‘dark enlightenment’ amounts almost to intrinsic contradiction. To become enlightened, in this historical sense, is to recognize, and then to pursue, a guiding light.

There were ages of darkness, and then enlightenment came. Clearly, advance has demonstrated itself, offering not only improvement, but also a model. Furthermore, unlike a renaissance, there is no need for an enlightenment to recall what was lost, or to emphasize the attractions of return.

Die “donker” aspek van die nuwe Verligting wat mense soos Thiel, Land en ene Mencius Moldbug propageer, behels kritiek op twee van die heiligstes van die heilige koeie van politieke korrektheid: demokrasie en ras. Soos ‘n Rus op ‘n keer vir my gesê het: “Die Amerikaners wil ons land en die hele wêreld oorneem, in die naam van ‘vryheid en demokrasie’? Wie kan teen ‘vryheid en demokrasie’ gekant wees?”

Insgelyks word Afrikaners en blankes vandag in die naam van “vryheid en demokrasie” vermoor, verkrag, verdruk! Hoe durf ‘n mens jou teen “demokrasie” en swart meerderheidsregering uitspreek? Vir nog ‘n denker wat met die Donker Verligting verbind word, die Duitse ekonoom, Hans-Hermann Hoppe, is demokrasie bloot ‘n tussenstasie op pad na volslae kommunisme en totalitarisme. Enigeen wat al die rooi pil in Suid-Afrika geneem het, hoef maar net rondom hom te kyk en te besef dat Oos-Europese kommunisme eintlik ‘n béter stelsel as Suid-Afrikaanse demokrasie was. Ten minste was daar in Rusland en Oos-Duitsland nog opvoedkundige standaarde, Bolsjoi-ballet, klassieke musiek, wetenskap en die Russiese ruimteprogram. Ons het geen van daardie voordele nie, maar “geniet” dieselfde sensuur, sinnelose geweld en ekonomiese agteruitgang as wat onder Oos-Europese kommunisme gegeld het. Die aandrang op rassegelykheid is in vele opsigte veel erger as die aandrang op klassegelykheid.

Onder die NP het Afrikaners ‘n hoë mate van gelykheid behaal, amper soos in Skandinawië. Vele van ons mense uit arm huise en buurte het met feitlik gratis onderwys hul talente kon ontwikkel. Anders as onder Engelse en dalk Sappe in die eerste helfte van die twintigste eeu, was snobisme en ‘n klassebewussyn tot onlangs iets vreemds onder Afrikaners. Ons het mense op meriete beoordeel, nie op grond van hul ouers se rykdom, aansien of die duur privaatskool wat hulle bygewoon het nie.

Die huidige demokrasie, gegrond op Amerikaanse “liberalisme” of politieke korrektheid, wil egter nie gelyke geleenthede skep nie, maar “gelyke uitkomste”. Soos Nick Land dit ook omskryf, is daar iets kranksinnigs aan politieke korrektheid en veral die aanname dat “alle rasse gelyk moet presteer”. Geen twee individue is dieselfde nie. Enige ouer met kinders weet dat geen twee kinders dieselfde talente of belangstellings koester nie. Een is goed met wiskunde, ‘n ander weer met taal.

Om te verwag dat die swartmense van Afrika of van die VSA presies dieselfde ontwikkeling en prestasie as Europeërs of Asiërs móét lewer, is absurd. Tog is dit die wortel van alle hedendaagse politieke korrektheid. Swart wanprestasie word altyd na blanke rassisme herlei.

Terwyl die verskil tussen Links en Regs voorheen op godsdienstige of ekonomiese gronde berus het, gaan dit vandag nét oor ras. Hoe meer die staat en die maatskappy misluk, hoe meer moet hy die oorblywende blanke middelklas heropvoed om “anders na dinge te kyk”, “minder rassisties te wees”, ens.

Soos Nick Land dit insgelyks stel, beskik Regs oor geen oorkoepelende definisie nie: dis ‘n bonte mengelmoes van etniese en wit nasionaliste, vryemarkekonome en anti-staatlike “libertariërs” wat eintlik teenstrydige argumente aanvoer. Hy skryf:

‘The right’ has no unity, actual or prospective, and thus has no definition symmetrical to that of the left. It is for this reason that political dialectics (a tautology) ratchets only in one direction, predictably, towards state expansion and an increasingly coercive substantial-egalitarian ideal. The right moves to the center, and the center moves to the left.

In Suid-Afrika het ons dit insgelyks ervaar, hoe die sogenaamde “gematigde sentrum” – wat op die partypolitieke spektrum deur die DA verteenwoordig is – al hoe meer na links verskuif het. Die keuse vir die kieser is vandag tussen ekstreem-links, links of minder links.

Regse of konserwatiewe politiek het geheel en al irrelevant geraak, ten minste in die Engelssprekende wêreld, veral die VSA. Sodra Obama sy amnestie vir onwettige immigrante aankondig, sal die Demokratiese Party dadelik tussen 10 en 30 miljoen potensiële kiesers bykry, wat gaan beteken dat die Demokrate permanent in die VSA sal regeer, tensy enkellopende blanke vroue vir die Republikeine sou begin stem. Met feminisme wat deel van die polities korrekte godsdiens uitmaak en hulle wrewel teen blanke mans aanhits, is die kanse daarop omtrent nul. Ook deel die enkellopende blanke vroue in die kindertoelaes wat aan swart vroue uitbetaal word en is dit in hul finansiële belang om aan te hou om Demokraties te stem.

‘n Vir my ongelukkige term wat deur die denkers van die Donker Verligting gebruik word, is “Die Katedraal”, bedoelende die hele heersende polities korrekte orde met sy parasitiese staat en ideologie, waarmee iets van ‘n parallel met die Roomse Kerk tydens die Middeleeue getref word.

Vandag verteenwoordig die katedrale van Europa egter spookagtige oorblyfsels van ‘n haas vergange Westerse beskawing en sou dit ‘n fout wees om die katedraal te stigmatiseer. ‘n Term wat Donkerverligtingskrywers wel vir ons, die nie-polities korrektes gebruik, is “oorblyfsels” (Eng.: “remnants”). Is dit nie ons plig as oorblyfsels om ook die katedrale te bewaar nie, al is dit net om hulle aan die toeriste te vertoon?

Daarteenoor is die begrip “politieke korrektheid” vandag so ingeburger dat elkeen intuïtief verstaan wat daarmee bedoel word. Selfs linkses verstaan dit en gebruik dit.

Vandag is die katolisisme nie meer polities korrek nie, ongeag die huidige Pous se pogings om linkse uitsprake te maak. Soos Nick Land dit ook uiteensit, is politieke korrektheid as fanatiese godsdiens terug te voer na die ekstreme protestantisme en baptisme van sekere Engelse sektes van die sewentiende eeu. Hedendaagse politieke korrektheid verteenwoordig ‘n alliansie tussen protestante en Jode, wat veral in die VSA en in Skandinawië sy opbloei beleef het. Die Skandinawiese lande voer reeds dekades lank die ekwivalent van hul eie Djihad teen die Westerse beskawing, ook hier in Suid-Afrika. Dit is in die meer Katolieke lande en streke soos Frankryk, Vlaandere, Italië en Oostenryk waar politieke korrektheid tans gekritiseer of beveg word.

Ander denkers wat met die Donker Verligting verbind word, is: Mencius Moldbug (skuilnaam van die rekenaarwetenskaplike Curtis Yarvin), die Duitse ekonoom Hans-Hermann Hoppe, die “beset Wallstraat”-aktivis Justine Tunney, Bryce Laliberte en skrywers op die woernaal Occam’s Razor.

dark_enlightenment

Die meeste Donkerverligtingdenkers aanvaar ook die bestaan van, soos dit eufemisties afgekort word, mbd (= menslike biodiversiteit, Eng. hbd = human biodiversity). Ongeag wetenskaplike getuienis of die ooglopende verskille tussen mense, is dit een van die dogmas van politieke korrektheid dat “alle mense dieselfde is” en dat die “universele eenheid van die mens” nie bevraagteken mag word nie. Kritiese denke hieroor of die aanvaarding van “mbd” verteenwoodig iets “donkers” wat deur die hoofstroomsamelewing as kettery beskou word.

Tot dusver is dit nogal vreemd dat daar nêrens in Afrikanergeledere veel kritiek op die beginsel van demokrasie uitgespreek is nie. Vir honderde jare is demokrasie in Suid-Afrika, ten minste in die sin van volslae oorgawe aan swart meerderheidsregering as iets afskuwekkends en die “slegste oplossing denkbaar” gesien. Selfs liberale denkers soos Hoernlé en Leo Marquard het aanvaar dat daar nooit so iets in Suid-Afrika kon wees sonder om die land in ‘n burgeroorlog of volslae wanorde te dompel nie. Daarom sou ‘n federale stelsel met die behoud van mag in die hande van ‘n opgevoede en patriotiese elite veel beter wees. Toenemend het die destydse NP-politici egter die beginsel van onverdunde massaregering of demokrasie aanvaar, wat vir hulle rampspoedig sou verloop. Selfs in Afrikanergeledere self het die demokrasie meer en meer die swakste mense met weinig kwalifikasies en redeneervermoë na vore gestoot volgens die beginsel wat op TV-realiteitsprogramme geld, naamlik dat die beste presteerder juis uitgestem moet word om aan die meer middelmatiges ‘n groter wenkans te bied.

Waarskynlik is dit in Suid-Afrika tans uiters omstrede om hoegenaamd, in die naam van ‘n Donker Verligting, demokrasie as regeringsvorm te bevraagteken, juis omdat die land so in die greep van polities korrekte fanatisme verkeer. Aan die ander kant het ons niks meer om te verloor nie. Selfs ons huiwerige aandrang op taalregte oor die afgelope tien jaar is met aggressiewe, honende uitroepe van “fascisme” en “rassisme” begroet. Enige gedrag benewens slaafse aanbidding by die altaar van politieke korrektheid, gáán as kettery of selfs ‘n vorm van sielkundige afwyking gesien word, nes dissidente in die ou Sowjetunie as psigiatriese pasiënte opgesluit is.

Die polities korrekte orde beskik oor ‘n monopolie op politieke mag. In Suid-Afrika is demokrasie juis volmaak as de facto-eenpartystaat verwesenlik. In sommige state, soos die VSA, sukkel hulle nog om eenpartystatus te bereik, maar hier by ons het dit feitlik onmiddellik gebeur. Watter klinkklare sukses! In so ‘n eenpartystaat is opstand of selfs weerstand teen die staat uiters moeilik. Reeds word ons taalgebruik en ons denke gepolisieer; enige oproep tot weerstand sou dus heel moontlik as hoogverraad gesien word en sal enige Donker Verligting-stryder dadelik in die gevangenis beland. In die VSA weer, het die staat in reusedatasentra belê wat alle telefoonoproepe en elektroniese kommunikasie van sy burgers opgaar ten einde hulle beter dop te hou, in ‘n verwesenliking van Orwell of Huxley se distopiese toekomsbeelde.

Daarom is die boodskap van die Donker Verligting ook nie weerstand nie, maar ontsnapping of uitkoms, wat op Engels ‘n exit genoem word. Vele Afrikaners beoefen dit reeds, sonder dat hulle al ooit van die Verligting of selfs sy Donker weergawe gehoor het. Ons ontkom aan die gevolge en beperkings van demokrasie deur uitwaarts of inwaarts te emigreer, op plekke soos Orania of Kleinfontein te gaan bly of om ons in geprivatiseerde stedelike veiligheidsbuurte te verskans.

Die boodskap van “donker” ekonome (dalk is my naamgenoot Dawie Roodt ook een?) is eenvoudig: vroeër of later sal die demokratiese staat weens sy skuldlas en onvermoë om as groot parasiet langer belastings van die oorblywende produktiewe bevolking te konfiskeer, in duie stort. Soos ons almal weet, onderhou ongeveer twee miljoen werklike belastingbetalers in Suid-Afrika ‘n welvaartstaat vir 50 miljoen mense, met 17 miljoen wat reeds toelaes ontvang. Ons moet uitsien na daardie dag, maar ook daarop voorberei, want die einde as die monster of Leviatan sy pynlike laaste stuiptrekkings gee, gaan vir seker gewelddadig wees.

Terwyl die media en die opvoedkundige instellings, net soos in die voormalige kommunistiese lande, onder regstreekse ideologiese beheer van die demokratiese staat en sy parasitiese elite staan, ontkom die internet tot dusver aan sodanige beheer. Tans word verskeie pogings aangewend om omvattende sensuur in te stel, om enige afvalligheid van die sentrale godsdiens van multikulturalisme en politieke korrektheid in die kiem te smoor. (Sien ook hier bo die verwysing na die veldtog teen Steve Hofmeyr.)

Die Donker Verligting word egter juis vanuit die kuberruim, deur tegnologies bedrewe programmeerders en filosowe gelei. Pogings tot sensuur sal dus tegnologies en andersins teengestaan word. Anders as in die Middeleeue, is dit nie meer genoeg om iemand op die Indeks te plaas nie.

Afrikaners behoort hieraan deel te neem, aangesien ons die beste van alle volkere op aarde oor die tekortkominge van demokrasie kan getuig. Elke dag beleef ons dit in sy volle geweld, letterlik en figuurlik.

In twee onlangse, goed beredeerde Afrikaanse boeke, Danie Goosen se Die nihilisme (Praag, 2007) en Koos Malan se Politokrasie (PULP, 2011) is argumente gevoer wat sterk by die idees van die Donker Verligting aansluit. Dit is tyd dat ons sulke gedagtes ook na buite in ander tale kommunikeer.

Die styl waarin ‘n mens idees kommunikeer, is natuurlik ook belangrik. Een van die redes waarom tradisionele Afrikanernasionalisme oor die afgelope paar dekades nie eintlik die publiek se verbeelding aangryp nie, is omdat dit meesal op so ‘n outydse, prekerige manier aangebied word. Nick Land is ‘n tipies postmoderne skrywer wat sy idees met popkultuur soos The Matrix – wat regtig ‘n kultusfilm geword het – illustreer, terwyl hy ewe maklik terugreik na die ou-Griekse denkers se kritiek op demokrasie. Dis die soort styl wat ons ook nodig het: ‘n kombinasie van klassieke geleerdheid met ironie en byderwetse popkultuur. Deel van Stever Hofmeyr se sjarme by die publiek is insgelyks dat hy ernstige patriotisme met ‘n loslit-, gewilde of pop-aanslag kombineer.

Onder mekaar moet ons vriende en familie aanpor om die rooi pil te neem. Die waarheid is nie mooi of lekker nie, maar hoe langer ons aan ons illusies en drogbeelde lei, hoe meer gaan ons agteruitgaan.

Wie is nog bang vir die rooi pil?

Ns. Hierdie rubriek sou reeds vanoggend om tienuur verskyn het, maar weens ‘n onverklaarbare tegniese fout het ek twee derdes daarvan verloor toe ek poog om dit te publiseer, wat toe herskryf moes word!

 

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.