Naspersprokureur pleit dat Dan Roodt tronkstraf kry

Deel op

‘n Vreemde toneel het hom vanoggend weereens by die Randburgse Landdroshof afgespeel toe ‘n prokureur, Adelé Le Roux, ‘n betoog gevoer het dat dr. Dan Roodt vir “minagting van die hof” tronk toe gestuur moet word. Le Roux tree vir die Naspers-filiaal, Paarl Media op.

In haar betooghoofde wat sy aan die hof voorgelê het, beweer sy dat Roodt “sy hele dag deurbring deur rassistiese, lasterlike artikels vir PRAAG te skryf, of kontraproduktiewe inligting opkyk soos die twiet wat deur hom op 16 Augustus 2014 geplaas is: ‘Wow, I have just spent an hour looking for the Claudia Braude report on ‘Racism in the media’ online, finally found it!'”

Hierdie navorsing is deur Roodt gebruik vir sy eboek, Raiders of the lost Empire: South Africa’s ‘English’ identity. Klaarblyklik mag skrywers nie meer navorsing vir hul boeke doen nie.

Daarom vra Le Roux, namens Naspers, dat Roodt “tot ‘n tydperk van aanhouding in die gevangenis gevonnis word, waarvan die duur in die hande van die Hof gelaat word”.

Die saak is intussen uitgestel. Na afloop van die hofverrigtinge het die Naspers-prokureur dit betreur dat Roodt steeds “op vrye voet” verkeer, maar dat dit “nie meer lank sal wees alvorens hy agter tralies is nie”.

In die litanie van klagte wat Paarl Media teen Roodt opgestel het, tel sy kritiek op Pierre de Vos wat in ‘n rubriek uitgespreek is. Blykbaar mag De Vos en ander polities korrektes nie gekritiseer word nie. Ook Roodt se betrokkenheid by die aksie teen Conrad Koch namens Steve Hofmeyr word deur haar genoem as ‘n verdere grond waarom Roodt gevangenisstraf verdien aangesien hy “misplaaste kommer en inmenging in ander mense se sake voor die hof toon (soos die beskermingsbevel waartydens mnr. Roodt namens Steve Hofmeyr teen Conrad Koch alias Chester Missing opgetree het)”. Blykbaar meen sy dat Roodt PRAAG “se hulpbronne uitput” terwyl hy veronderstel is om alles in sy vermoë te doen om Paarl Media se rekening te betaal.

Volgens Le Roux “word die waardigheid en die doeltreffendheid van die howe doelbewus deur mnr. (sic) Roodt ondermyn. Hy minag hofbevele en beledig of verkleineer landdroste.” Laasgenoemde is blykbaar van toepassing op ‘n frase in ‘n berig wat hier op praag verskyn het en waarin daar na landdros Sewnarain, wat die beslissing in die Steve Hofmeyr-Conrad Koch-saak gevel het, as “‘n landdros van kleur” verwys word. Daarom beveel sy aan dat die enigste oplossing is om Roodt “gevangenisstraf op te lê, aangesien “die krediteur wil toesien dat die reg geskied, op een of ander manier, asook die samelewing”.

Dié beskrywing van die landdros as iemand van “kleur” is deur een van Koch se rare swart ondersteuners self op sosiale media gebruik.

Intussen het dr. Dan Roodt Naspers en sy filiale soos Paarl Media en Media24 by die Mededingingskommissie verkla. “Waaroor dit gaan,” sê hy, “is die monopolie wat Naspers oor veral Afrikaanse media, maar ook die drukkers- en boekbedryf, beskik. Sonder publisiteit in die Naspersmedia kan niemand ‘n boek verkoop of ‘n organisasie soos PRAAG aan die gang hou nie. Boonop het Paarl Media ons daarin gedwing om ‘n veel groter oplaag van die boek te druk as wat ons aanvanklik wou, weens sy oorheersende posisie in die mark.”

PRAAG is ook besig om om kondonasie aansoek te doen teen die aanvanklike verstekvonnis wat “onder vreemde omstandighede” verkry is. “Van die begin af het ons gesê ons gaan die aansoek teenstaan,” sê Dan Roodt. “Hoe die vonnis in ons afwesigheid verkry is, verstaan ons nie. Solank as wat ons deur die hof daartoe gedwing word, betaal ons egter elke maand ‘n bedrag aan Paarl Media se prokureurs oor. Om een of ander rede is dit nie genoeg nie en word daar nou ‘n heksejag teen my gevoer en gepoog om my tot gevangenisstraf vir my menings te vonnis.”

Roodt en PRAAG eis ook R400 000 van Paarl Media vir die skending van sy taalregte en skade wat weens die onwettige monopolie in die boekbedryf op net een boek gely is.

‘Enige vyand van Dan Roodt is ‘n vriend van my’

Me. Adelé le Roux, met blonde hare, van agter. Links van haar sit Johan Pienaar, met die ligblou hemp en bril tydens verlede week se hofsitting toe die Conrad Koch-Steve Hofmeyr-saak voorgekom het.
Me. Adelé le Roux, met blonde hare, van agter. Links van haar sit Johan Pienaar, met die ligblou hemp en bril tydens verlede week se hofsitting toe die Conrad Koch-Steve Hofmeyr-saak voorgekom het.

Tydens die Conrad Koch-Steve Hofmeyr-saak verlede week op 27 November het me. Adelé Le Roux langs mnr. Johan Pienaar gesit en was druk in gesprek met hom. Toe dr. Dan Roodt Le Roux uitvra wat sy in die hof maak vir ‘n saak wat niks met haar te make het nie en waarom sy met Pienaar praat, het sy omgedraai en gesê: “Enige vyand van Dan Roodt is ‘n vriend van my.”

PRAAG en dr. Dan Roodt word reeds jare lank deur Pienaar geteister, in so ‘n mate dat hy Pienaar op Twitter en Facebook versper het. Pienaar het ook adverteerders van PRAAG gekontak en hulle gedreig om hul advertensies van die praag-webblaaie te onttrek.

“Ons is nou regtig volledig in die Sowjetunie tydens die 1930’s,” sê dr. Dan Roodt. “Nie net word daar heksejagte teen ons gevoer en gepoog om ons finansieel en andersins te ruïneer nie, maar daar word selfs gevra dat ek vir ‘n onbepaalde tydperk gevangenisstraf opgelê word sodat ek tot ander ideologiese insigte kan kom. Ek voel soos Solsjenitsin, wat in ‘n strafkamp aangehou is, onder andere omdat hy ‘n Christen was.”

Sowel Johan Pienaar as Piet Croucamp bedryf ‘n Facebookblad wat as “Afrikaanse ateïste” bekendstaan en waarin daar openlik haatspraak teen Christene gepredik word, tesame met die idee dat hulle soos ander dissidente vervolg behoort te word of gewelddadig aangeval behoort te word.

‘Ek is in opstand teen kommunisme’ – Dan Roodt

“In my jong dae op universiteit was ek ook links, hoewel nooit marxisties nie,” sê Dan Roodt. “Ek het meer in vryheid vir die individu en die gemeenskap sónder staatsoorheersing belanggestel. Toe ek in 1985 in Parys aankom, het ek Tsjeggiese en Russiese vlugtelinge ontmoet wat my van die toestande in hul lande vertel het. Dit het my oortuig dat kommunisme ‘n gevaarlike en bose ideologie is wat menselewens op groot skaal kan vernietig. Dis ook waarom ek die naam PRAAG gekies het, ter herinnering aan die Praagse Lente toe die hele Tsjeggiese hoofstad in 1968 teen kommunisme in opstand gekom het.”

“Nooit het ek kon dink dat dieselfde toestande van heksejagte, onverdraagsaamheid en vervolging van Christene en andersdenkendes in my eie land sou posvat nie,” gaan Roodt voort. “Ek aanvaar dit egter nie. Ek is in opstand teen kommunisme.”

Op hierdie foto kan Pienaar gesien word waar hy tussen Charlea Sieberhagen van Beeld en Lourensa Eckhard, tot onlangs van Beeld maar tans by KykNET, sit. Sommige beweer dat sowel Pienaar as Croucamp joernaliste "hanteer" om Afrikanerdissidente en Christene te beswadder en te vervolg.
Op hierdie foto by verlede week se hofsitting tydens die Koch-Hofmeyr-saak kan Pienaar gesien word waar hy tussen Charlea Sieberhagen van Beeld en Lourensa Eckard, tot onlangs van Beeld maar tans by KykNET, sit. Sommige beweer dat sowel Pienaar as Croucamp joernaliste en radio-omroepers “hanteer” om Afrikanerdissidente en Christene te beswadder en te vervolg.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.