Vyf mense onder wie ‘n senior intelligensie-beampte wat moontlike bande met die Tsjeggiese voortvlugtende Radovan Krejcir het, verskyn vandag in die Alexandra-landdroshof, noord van Johannesburg.
Hulle staan tereg op verskeie aanklagte wat poging tot moord en regsverydeling insluit, het RSG berig.
Die intelligensie-beampte sersant Nandi Nkosi is Donderdag in hegtenis geneem omdat sy na bewering GPS-koördinate verskaf het om die spesiale ondersoekbeampte, Paul O’Sullivan en nog ‘n polisieman, kolonel Nkosinathi Ximba op te spoor.
Volgens O’Sullivan het Krejcir hom sedert 2010 minstens vyf keer met die dood gedreig.
O’Sullivan is sedert Krejcir se onwettige aankoms in die land in 2007 op sy spoor.
Gesofistikeerde rekenaaropspoorsagteware en geïnkripteerde iPhones en iPads is verlede week in beslag geneem waarop inligting van ten minste 10 beamptes is wat tans die mafiabaas Krejcir ondersoek.
Dié inligting oor ‘n gespesialiseerde span wat die bedrywighede van die voortvlugtige Tsjeg ondersoek, is in die besit van vier vermeende sluipmoordenaars gevind nadat hul plan om twee van die ondersoekbeamptes te vermoor, gefnuik is.
Siboniso Miya , 32 , Jacob Nare , 28 , Owen Serero , 32 , en sy vriendin Zodumiso Biyele , 23 is die hoofverdagtes van ‘n mislukte moordplan.
Die vier het Dinsdag verskyn op verskeie aanklagte wat verband hou met verlede Donderdag se mislukte aanslag van die polisie misdaadintelligensie-beampte kolonel Nkosana “Killer ” Ximba en ‘n privaat forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan .
Die vier is op aanklagte van sameswering tot moord , roof met verswarende omstandighede , motordiefstal en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie vasgevat.
Hulle is in hegtenis geneem ná ‘n dramatiese aanval op die Rivonia Road Lodge in Johannesburg ure voor hulle Ximba en O’Sullivan wou vermoor.
‘n Misdaadintelligensiebron het gesê hulle het van die moord in Desember uitgevind.
Krejcir het verskeie male in Desember verskyn vir beweerde betrokkenheid by die ontvoering en poging tot moord op een van sy sakevennoot se broers .
Die programme op die selfone en rekenaars wat gekonfiskeer is, is hoogs gesofistikeerde sagteware.
Dit kan mense opspoor binne ‘ n paar meter van die plek waar hulle is.
“Hierdie sagteware , in die verkeerde hande , kan dodelik wees … ons verstaan daar is ook ander ondersoekers se name en besonderhede op hierdie toerusting,” het die beampte gesê.
“Daar is inligting wat toon dat hulle in kontak met die selfoon Krejcir was terwyl hy in die tronk was oor die afgelope paar weke.”
Dié gesofistikeerde sagteware is glo slegs beskikbaar vir wetstoepassingsagentskappe.
“Met hierdie sagteware as jy ‘n selfoonnommer invoer sodat jy presies kan sien waar die persoon is, insluitend hul GPS koördinate.
Ondersoekers glo die enigste manier waarop hulle dit kon gekry het is deur korrupte polisielede.
‘n Moordaanslag op ‘n senior polisiebeampte en ‘n privaat forensiese ondersoeker wat gekoppel word aan ‘n ondersoek na die Tsjeggiese voortvlugtige Radovan Krejcir, is Donderdag gefnuik na ‘n dramatiese aanval op ‘n Johannesburgse hotel.
‘n Taakspan het die Rivonia Road Lodge laat Donderdagmiddag bestorm, net ure voor drie mense, waaronder ‘n 23-jarige vrou, glo saamgesweer het om kolonel Nkosana “Killer ” Ximba en Paul O’Sullivan te vermoor.
O’Sullivan hou reeds Krejcir se bewegings dop sedert hy in 2007 uit die Seychelle in die land aangekom het.
Krejcir het by meer as drie geleenthede gedreig om hom te laat vermoor.
Die polisie se spesiale taakspan wat gemoeid is met die ondersoek na die mafiabaas se onderwêreldbedrywighede, het ‘n wenk oor die beplande moord ontvang.
Vroeër Donderdag het ‘n Johannesburgse regter aan Krejcir borgtog geweier. Hy word beskuldig van ontvoering en poging tot moord.
Krejcir, twee van die Valke van Germiston en ‘n Sandtonse eiendomsontwikkelaar word daarvan beskuldig dat hulle in Junie die ontvoering en marteling van die broer van ‘n handlanger van Krejcir gereël het, wat na bewering 25kg tik van hom gesteel het.
Die Tsjeggiese sakeman wou na bewering die vennoot, wat werk by die OR Tambo Internasionale Lughawe, oorreed om hom te help om die dwelms na Australië te smokkel.
‘n Bron sê die drie het beplan om outentieke polisietoerusting te gebruik. Hulle het selfs sirenes en blou ligte gehad, en wou die vermeende slagoffers Donderdag van die pad aftrek en doodskiet. Die twee sou met ‘n R5-polisiegeweer vermoor word.
O’Sullivan het laasnag aan timeslive.co.za gesê hy het van die beplande moordkomplot te hore gekom nadat hy drie mans buite sy huis opgemerk het.
“Ek het drie mans buite my huis opgemerk en hulle uitgedaag. Hulle het gesê dat hulle misdaadintelligensie-agente is en my vertel van die moordplan teen my wat dieselfde middag sou plaasvind.
“Hulle het my gevra om met hulle saam te werk – wat ek gedoen het – wat toegelaat het dat die beamptes hierdie voornemende moordenaars in hegtenis kon neem,” het O’Sullivan gesê.
Die Tsjeggiese sakeman Radovan Krejcir behoort vandag te weet of hy borgtog toegestaan gaan word of nie.
Die Suid-Gautengse hooggeregshof gaan na verwagting sy uitspraak lewer in ‘n dringende aansoek deur Krejcir se regspan om die hof se besluit om hom borgtog te weier, om te keer.
Die aansoek is Vrydag in die hooggeregshof gebring. Krejcir, Desai Luphondo en twee lede van die Valke, Samuel Modise Maropeng en George Jeff Nthoroane is in November in hegtenis geneem.
Hulle word aangekla van ontvoering, aanranding en poging tot moord.
Hulle het na bewering in Junie verlede jaar ‘n man ontvoer en aangerand nadat sy broer met 25 kilogram tik verdwyn het wat hy uit die land moes smokkel.
Krejcir is op 13 Desember in die Palm Ridge landdroshof borgtog geweier. – RSG
Die borgtogaansoek van die Tsjeggiese voortvlugtige, Radovan Krejcir, sal vanoggend in die Palm Ridge-landdroshof plaasvind.
Die voortvlugtige Tsjeg en vermeende mafiabaas sal saam met twee offisiere van die Valke en nog ‘n medepligtige in die hof aan Gauteng se Oos-Rand verskyn.
Die twee Valke het na wat berig word ‘n skrikbewind in die lokasie waar hulle woon, gevoer en ver bo hul inkomste gelewe.
Die offisiere van die Valke is in hegtenis geneem vier dae nadat Krejcir gearresteer is. Die Duitse media het berig oor die gebeure en klem gelê op korrupsie in die SAPD wat beskerming aan die vermeende onderwêreldfiguur verleen het na talle onopgeloste moorde, waaronder dié van Uwe Gemballa, ‘n Duitse burger.
Al vier die mans staan tereg op aanklagte van poging tot moord en ontvoering na ‘n voorval in Junie vanjaar.
‘n Sigbare polisieteenwoordigheid is by die hof ontplooi en slegs ge-akkrediteerde media en hofamptenare sal in die gebou toegelaat word.
Met Krejcir se eerste verskyning moes die hofsaal ontruim word en snuffelhonde is gebruik ná ‘n bomdreigement.
Sy mede-aangeklaagdes se borgtogaansoek is na die Germinstonse streekhof verskuif nadat die beskuldigdes vanoggend in die Palm Ridge landdroshof verskyn het.
Joernaliste kon nie vanoggend elektroniese toerusting die hof in te neem nie, maar die bevel is intussen omgekeer.
Krejcir, sy vennoot Desai Lupsondo en twee lede van die Valke, Jeff Nthroane en Samuel Marupeng staan tereg op aanklagte van poging tot moord en ontvoering.
Die spertyd vir Krejcir om sy bates van miljoene rand in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria bo verdenking te plaas, is besig om uit te loop.
Krejcir moet aanstons redes verskaf waarom daar nie permanent op sy eiendom beslag gelê moet word nie. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het meer as twee weke gelede Krejcir se bates, waaronder sy Moneypoint pandjieswinkel in Bedfordview aan die Oos-Rand, onder kuratorskap geplaas.
‘n Bewaringsbevel is van die Hooggeregshof verkry vir dié stap. Die hofbevel stel die SAID in staat om die beheer te neem van bates van 15 bedrywe waarin die Tsjeg belange het.
Krejcir skuld volgens Ontvanger van Inkomste miljoene rand aan belasting, boetes en rente.
Die voortvlugtige sakeman Radovan Krejcir het gesê dit is walglik dat hy as ‘n mafiabaas, bose bendelid of ‘n onderwêreldfiguur uitgebeeld word.
Krejcir het Donderdagaand by sy prokureur se kantoor aan Eyewitness News ontken dat hy betrokke is by enige van die “onderwêreld”-moorde waarmee die media hom verbind.
Die Tsjeg, wat uitlewering aan sy tuisland beveg, het uiteindelik te media te woord gestaan oor misdade wat hom raak die afgelope paar weke.
Twee van sy vriende is Dinsdagaand in ‘n ontploffing by sy onderneming Money Point in Bedfordview dood. Inwoners in die ooste van Johannesburg waar Krejcir woon beskryf dit as gevaarlik weens bendebedrywighede daar.
Krejcir wou nie bespiegel oor wie verantwoordelik is vir dié aanval nie, maar hy glo hy word aangeval en dat sy lewe in gevaar is.