Niekie van den Berg, die eertydse radio-omroeper wat tot onlangs as DA-parlementslid gedien het, het vanoggend tydens ‘n TV-onderhoud op KykNET die DA as “die party van benadeling” bestempel. Van den Berg het intussen na die Vryheidsfront Plus oorgeloop.
Op die vraag, “Sou jy by die DA gebly het as jy nie so laag op die lys was nie?” antwoord Van den Berg: “Daar is ‘n doelbewuste poging om van ons middeljarige blanke mense ontslae te raak.”
Terwyl Niekie van den Berg hom by RadioSonderGrense dikwels teen Afrikaanse taalstryders uitgespreek het, het hy nou self in ‘n taalstryder ontpop, maar dan vir “alle minderheidstale”. By implikasie het hy ook op ‘n stadium gevoel dat hy skaam was om Afrikaans te wees, want hy sê: “Ek is 58. Ek hoef nie meer skaam te wees omdat ek Afrikaans is nie.”
Maar, sê Van den Berg: “Ek het vir al die tale geveg. Ek het vir die ANC gesê as ons nie vir die minderheidstale veg nie, gaan hulle verdwyn. Die DA weier om vir minderheidstale op te staan omdat hulle bang is die mense dink hulle veg vir Afrikaans.”
Die omroeper-politikus voel steeds sterk oor “nasiebou” en dat die Vryheidsfront Plus insgelyks verander het na ‘n meer multikulturele party. “Daar is ‘n verandering by die VF+. Hulle fokus is nou op alle minderhede.”
Ek is nie seker wie eerste van “rasstellende aksie” begin praat het nie. Dis egter een van daardie vindingryke Afrikaanse terme of woordspelinge wat die onreg van huidige regeringsbeleid baie goed uitdruk.
Rasse word getel en rasse word in ‘n rangorde gestel. Swart is bo en blank is onder, amper soos die Bybelvers wat sê:
Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en die wat laaste is, eerste. (Markus 10: 31)
Uiteindelik kom alle vorme van regstellende aksie neer op anti-blanke beleid, met die uitsondering van Maleisië waar dit teen Chinese gerig is. In verskillende lande word dit verskillend gerasionaliseer.
Hier by ons moet RA ‘n meerderheid teen mededinging vanaf die (blanke) minderheid beskerm. In die VSA weer moet die (swart) minderheid teen die voorlopig blanke meerderheid bevoordeel word. Ons weet egter dat die VSA-bevolking kantel en dat daar nou meer nie-blanke as blanke geboortes is, dus sal die argument daar ook mettertyd verander, nl. dat die meerderheid teen die minderheid beskerm moet word.
Onderliggend aan rasstellende aksie is insgelyks ‘n stuk liberale rassisme, want blykbaar is swartes vanweë een of ander aangebore gebrek nie in staat om met blankes in die ekonomie mee te ding nie! Daarom moet hulle, hetsy as minderheid, hetsy as meerderheid, altyd teen blankes bevoordeel word.
Dit geld veral die toelatingsvereistes op universiteit waar rasstellende aksie byna oral toegepas word sodat blanke studente van bepaalde studierigtings (veral die sogenaamde gesondheidswetenskappe) uitgesluit word ten gunste van swartes met veel mindere prestasie. Dus, sowel ekonomies as akademies is daar blykbaar ‘n implisiete erkenning dat swartes oor minder vermoëns as blankes beskik
Voorstanders van rasstellende aksie verwys egter nooit na vermoëns of talent nie, aangesien hulle voorhou dat alle mense met dieselfde vermoëns of talente gebore word. Dis net omstandighede wat veroorsaak dat almal nie op gelyke vlak presteer nie, of dit nou daaroor gaan om ‘n onderskeiding vir wiskunde in matriek te behaal of ‘n Springbokrugbyspeler te word.
Alle gebrek aan prestasie onder SA swartes word vaagweg aan “apartheid”, “die geskiedenis” of “vorige benadeling” toegeskryf sonder dat daar ooit na spesifieke voorbeelde van sodanige benadeling verwys word.
Trouens, hierdie “kumulatiewe benadeling vanuit die verlede” is oorgeneem vanuit die marxistiese diskoers oor “kapitaalvorming” wat op grond van meerwaarde of die uitbuiting van arbeid plaasvind. Die swartman in Suid-Afrika beskik oor ‘n opgehoopte “benadelingskrediet” wat tans deur middel van rasstellende aksie “uitgekeer” word. Die kollektiewe blankedom is sy “debiteur” wat die volgende aan hom verskuldig is:
geld
grond
bevordering
posisies in die staatsdiens
aandele in openbare maatskappye
aandele in private maatskappye
‘n buitensporige rol in die land se geskrewe geskiedenis
‘n buitensporige rol in die letterkunde, musiek en kultuur van die land
Waarskynlik is ek die enigste persoon wat telkens op die rol van die universiteite hamer as dit kom by die vestiging van ‘n marxistiese wêreldbeskouing in ons land kom. Wits en Kaapstad was op die voorpunt van die institusionalisering van marxistiese denke in die sestiger- en sewentigerjare, waarna dit na die res van die universiteite uitgebrei is. Die Afrikaanse universiteite is natuurlik eers onlangs tot die marxisme bekeer, maar getrou aan die aard van sommige Afrikaners hang hulle vandag kommunisme veel meer fanaties aan as wat hulle in die verlede die NP-beleid verdedig het.
Jaarliks word ‘n aansienlike gedeelte van die land se hulpbronne en die opvoedingstelsel gebruik om die begrip van swart benadeling aan die publiek tuis te bring, met die geesteswetenskappe wat byna uitsluitlik aan dié doel gewy word.
Suid-Afrika beskik tans oor baie min oorspronklike denke oor die geskiedenis, die ekonomie en etnisiteit, anders as in die verlede. Die Britse marxisme het in die SA universiteite sy grootste afsetgebied in die Engelssprekende wêreld gevind. Arthur Keppel-Jones, oor wie Leon Lemmer verlede week geskryf het, het reeds in die dertigerjare die Universiteit van Kaapstad as ‘n Britse instelling ervaar:
Yes, my experience at the University of Cape Town first exposed me to liberal values and led me to question the fundamental values of the society in which I had grown up. I later learned that many of my friends who did not have a university education remained racists, while those who did like me became liberal. At UCT, I was taught by professors and lecturers most of whom had a British background. From my schooldays the British influence was a liberating one. Most of my lecturers were not tainted by South African racial prejudice.
Teen die sestigerjare het die marxisme egter die Britse universiteite oorgeneem en moes sogenaamde “liberalisme” wyk voor sosialisme en kommunisme. Een van die sentrale argumente van die Britse marxisme, wat natuurlik klakkeloos deur ons koloniale kommuniste hier te lande oorgeneem is, is dat “ras” en “klas” in Suid-Afrika min of meer ooreenstem. Selfs waar blankes, veral Afrikaners, in myne of fabrieke gewerk het, is hulle nie deur die Britse marxiste as “ware werkers” beskou nie. Die ware werker of suiwer lid van die proletariaat was die swartman. Die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty het ook die gedagte van ‘n etniese federasie soortgelyk aan die Russiese stelsel wat in die laat vyftigerjare deur die Sowjet-akademie vir wetenskappe vir Suid-Afrika voorgestel is, verwerp. Die eenheidstaat met ‘n Britse kultuur en met Engels as enigste amptelike taal was al waarin Joe Slovo, Ruth First, Rusty Bernstein en ander geharde SA kommuniste belanggestel het.
Die “nuwe Suid-Afrikaanse geskiedenis” van die afgelope dekade of twee is feitlik geheel en al deur kommuniste geskryf, of is op die marxistiese geskiedskrywing met sy hoofsetel in Londen, gegrond. Daardie geskiedenis beklemtoon die skade wat die swartman weens “apartheid en kapitalisme” gely het. Die feit dat die meeste winste in Londen opgehoop het, aangesien Britse beleggers nog altyd die room van ons myne en nywerheidsmaatskappye besit het, word gerieflikheidshalwe verswyg. Soos wat Stalin tegelyk kommunis én Russiese nasionalis was, is die meeste Britse marxiste sowel links as Brits nasionalisties of imperialisties gesind.
Ons sien dus dat rasstellende aksie soos ons dit deesdae in Suid-Afrika teëkom, sy wortels in die Britse marxisme het. Daarom verteenwoordig RA ‘n variasie op die tema van die “diktatuur van die proletariaat”. Omdat die swartman na die mening van SA/Britse marxiste die enigste egte proletariër is, moet sy oorheersing op alle gebiede ter wille van die “totale transformasie van die maatskappy” gevestig word. Die uitsluiting van die blanke middelklas uit die ekonomie, tersiêre opvoeding en van landbougrond geskied soortgelyk aan die vervolging van die sogenaamde “koelakke” in die vroeë Sowjetunie. Oor die koelakke het Lenin gesê:
Hulle is bloedsuiers, vampiere, plunderaars van die volk en uitbuiters wat hongersnood misbruik.
Toe Stalin aan bewind kom, het hy besluit om ‘n “klasseoorlog” teen die koelakke te verklaar en het hom in 1930 só oor hulle uitgelaat:
Ten einde die ‘koelakke’ as ‘n klas uit te knikker, moet die weerstand van dié klas in ‘n openlike geveg vernietig word en moet dit van die produktiewe bronne van sy bestaan en ontwikkeling ontneem word… Dit verteenwoordig ‘n wending na ‘n beleid van die eliminering van die koelakke as ‘n klas.
Binne die Britse marxisme en sy siening oor Suid-Afrika – wat die heersiende siening in sowel ons universiteite as ons media geword het – is ras en klas uitwisselbaar. Rasstellende aksie is daarom, ewe seer as Stalin se beleid om “die koelakke te elimineer”, daarop gemik om die blanke middelkas te “elimineer”.
Net soos wat kommunisme in die voormalige Sowjetunie ‘n misdaad teen die mensdom was, is rasstellende aksie in Suid-Afrika besig om in ‘n misdaad teen die mensdom te ontaard. Dis nodig dat ons dit oor en oor begin sê.
Elke aspek van die propaganda oor rasstellende aksie, maar veral begrippe soos “witskuld”, “historiese skuld”, “vorige benadeling” en so meer, moet meedoënloos aan kritiek onderwerp word. “Transformasie” as sodanig, asook enige gewaande behoefte daaraan, moet in sy geheel verwerp word.
Vandat Marx en Lenin in 1948 hul Kommunistiese Manifes gepubliseer het, en waarin hulle van die “spook van kommunisme oor Europa” praat, het kommuniste en marxiste nog altyd histeries oor verskille in rykdom, prestasie en geskiedkundige onreg tekere gegaan. In ons land is dit nie anders gesteld nie. Inteendeel, enige bevraagtekening van die “kumulatiewe witskuld” word luidkeels met krete van “rassisme” en “fascisme” begroet.
Die meeste politieke partye soos die ANC, DA, Cope en ander ondersteun rasstellende aksie. Dis nodig dat rasstellende aksie finaal aan die kaak gestel word vir die stuk marxistiese drogredenasie wat dit is, ook tydens debatte in die huidige verkiesing. Voorstanders daarvan behoort ook die eerlikheid te hê om die klassieke kommunistiese terme soos “diktatuur van die proletariaat” te gebruik as hulle hul argumente in die openbaar stel, pleks van mooiklinkende Amerikaanse eufemismes soos “affirmative action” wat eintlik sinneloos is.
Om die rasse te tel (kwotas) of bokant mekaar te stel, mag nie langer geduld word nie.
Ondersteun hierdie blad deur by praag aan te sluit.
Suid-Afrika se “veiligheidsgroepering”, wat die polisie, weermag, openbare werke en staatsveiligheid insluit, het Die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela se bevinding oor Nkandla verwelkom.
Die “bevinding” is die jongste Anglo-Amerikaanse aanslag teen BRICS se invloed in Suid-Afrika en teen Jacob Zuma wat hulle nie as ‘n betroubare bondgenoot beskou nie.
Madonsela se verslag het glo bevind dat daar wanadministrasie, bestuurstekorte en die uitbuiting binne die voorsieningsketting was.
Die DA, wat soos AgangSA deur skaduagtige buitelandse miljardêrs befonds word, gaan Donderdag strafregtelike aanklagte by die Nkandla-polisiestasie indien na die bekendstelling van die Openbare Beskermer se verslag oor die wanbesteding en swak bestuur.
Die afvaardiging sal die DA-woordvoerder, Musi Miamane en die DA se federale voorsitter, Wilmot James, insluit. Die DA se Parlementêre leier, Lindiwe Mazibuko, het vroeër gesê hulle is op die punt om met die prosedure te begin om President Jacob Zuma in ‘n staat van beskuldiging te plaas.
Die eensydige berigte in die hoofstroompers oor Nkandla is ‘n duidelike bewys dat die mediamonopolie Anglo-Amerikaanse belange verteenwoordig en nie belangstel in gebalanseerde nuusdekking nie.
Die wapenskandaaldiefstal waar Britse en Duitse agente hul sakke volgestop het met belastingbetalers se geld, beloop miljarde meer as Nkandla, maar die swendelaars sal waarskynlik nooit voor stok gekry word nie.
Die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, het in haar verslag bevind dat Zuma en sy familie onregmatig voordeel getrek het uit die veiligheidsopgraderings aan die president se privaatwoning.
Die DA het nie kommentaar gelewer op die feit dat KwaZulu-Natal se finansies waarskynlik die gesondste in die land is nie, in teenstelling met plekke soos Midvaal of die Oos-Kaap waar die DA hoop om hul invloed uit te brei nie.
Madonsela hou vol met onbenullighede soos die beeskraal, hoenderhok, swembad en besoekers se ontvangsgebied wat nie deel was van die vereiste veiligheidsmaatreëls nie.
Die Presidensie sê intussen die Openbare Beskermer se verslag oor Nkandla bevestig die belangrikheid van Hoofstuk Nege-instellings om die demokrasie te versterk.
‘n Woordvoerder van die Presidensie, Mac Maharaj, sê Zuma was deurlopend bekommerd oor bewerings van wanpraktyke in verband met aankope in die Nkandla-projek en het die Spesiale Ondersoek-eenheid opdrag gegee om die berigte te ondersoek.
Die regering het vroeër sy standpunt herhaal dat alle installasies by die President se privaatwoning noodsaaklike veiligheidsopgraderings was.
Die Front Nasionaal het Woensdag ‘n beroep gedoen vir groter gelykheid tussen partye om ‘n vry, regverdig en geloofwaardige verkiesing te verseker.
Dr Dan Roodt, die party se mediaverteenwoordiger, het na sy inleidende woorde, oorgeslaan na Afrikaans en die media gevra om alle partye ‘n gelyke kans te gee in hul dekking.
Die FN was van die partye wat die Gedragskode vir die verkiesing onderteken het wat vra vir politieke verdraagsaamheid.
Dr Roodt het ook melding gemaak van die belangrike gebeure in die Krim waar die skiereiland dié week ‘n eensydige onafhanklikheidsverklaring uitgereik het.
Talle partye het gesê die Gedragskode moet aangepas word. Mpho Ramakatsa van die EFF sê hulle wil hê die verpligte OVK deposito om aan die verkiesing deel te neem moet hersien word.
Dit volg nadat hulle hofaansoek om die deposito ongrondwetlik te laat verklaar van die hand gewys is. Die EFF wil ook hê dat die SAUK regverdige mediadekking aan alle partye moet gee.
Die VF+ het by monde van Pieter Mulder ironiese grappe uit sy voorbereide aflewering gelees. Hy het in Engels gepraat en gesê: “Politics is about relatives. When you win, the relatives come.” Die VF+ word deur die Mulderfamilie bedryf, met slegs Mulders in die topposisies.
Mulder het ook nie geskroom om blatant te lieg nie, en die gehoor verseker dat die party steeds groei, nadat die VF+ reeds in drie agtereenvolgende verkiesings kwaai stemme verloor het.
Die EFF-leier Julius Malema het meer Twitter-volgelinge as die amptelike opposisie-leier, Helen Zille.
Die hoof uitvoerende beampte van Apurimac Media het Dinsdag gesê die sosiale media gee politici insig oor hoe hul politieke veldtogte deur aanlyngehore voor die algemene verkiesing ontvang word.
Die verkiesing van 2014 is Suid-Afrika se eerste digitale verkiesing.
Die EFF van Malema het die meeste Twitter-volgelinge, met 426.755, gevolg deur die Demokratiese Alliansie met 391.811.
ANC-president Jacob Zuma het 314.149 Twitter.volgelinge, terwyl Agang SA se leier Mamphela Ramphele net 40.066.
Tussen 8 en 14 Maart het Zille 43 keer getwiet, Malema 13 keer, Ramphele 9 keer en Zuma nie een keer nie.
Zille het ‘n “betrokke” Facebook-gehoor, met 6463 gebruikers wat klets oor die kommentaar sy pos, in vergelyking met Malema se 142 en Ramphele se twee.
Niemand het met Zuma gesels nie. Bronne binne die DA sê die Facebook-stryders word aangesê om die blad lewendig te hou.
In terme van Facebook se “hou van”, was Malema aan die voorpunt met 79.700, Zuma met 38.776 , gevolg deur Ramphele met 2496.
Zille het geen gehad nie, want sy het nie ‘n toegewyde Facebook-onderwerpblad nie.
Die DA het die meeste Facebookvriende, met 71.377, die EFF het 64.477 en die ANC het 58.176.
Die uitvoerende burgemeester van die Moqhaka-munisipaliteit in Kroonstad in die Vrystaat, is met ‘n petrolbom gegooi.
Moqhaka sluit Kroonstad, Viljoenskroon en Steynsrus in. Voortslepenede stakings en onrus teister die munisipalteit.
Die burgemeester Jihad Mohapi, het vroeër gewaarsku dat die DA die media inspan om onmin te saai en onrus te stook.
Die polisie het die aanval op Mohapi se huis bevestig. ‘n Polisiewoordvoerder, Malesela Langa sê hulle soek die verdagtes.
Sowat 900 munisipale werkers het onlangs in die munisipaliteit begin staak. Inwoners het vroeër ‘n memorandum van griewe oor swak dienslewering aan die Moqhaka-burgemeester, Jihad Mohapi, oorhandig.
Verlede jaar is verskeie inwoners vir openbare geweld wat verband hou met dienslewering in hegtenis geneem.
Die inwoners kla oor vuil water en swak padtoestande.
Die DA en VF+ staan die nuwe klousule teen wat buitelandse eienaarskap in die privaatsekuruteitsbedryf beperk. Dié partye sê dit sal “werkloosheid” meebring.
Die wetgewing is daarop gemik om strenger regulering in die privaatsekuriteitsbedryf toe te pas. Daar is meer lede in dié bedryf as in die weermag en polisie saam.
Die Nasionale Raad van Provinsies het die Wysigingswetsontwerp oor die Regulering van die Privaatsekuriteitsbedryf met 20 stemme teenoor 9 goedgekeur.
Die wetsontwerp is verlede week in die Nasionale Vergadering aanvaar. President Jacob Zuma sal eersdaags die wetsontwerp bekragtig.
Privaat eienaarskap sal tot 49% beperk word.
Die DA sê die wetsontwerp gaan ook ‘n nadelige uitwerking op die ekonomie hê. Die VF+ het vroeër gesê die wetsontwerp is “ongrondwetlik”.
Die DA probeer naarstiglik vure doodslaan nadat die party se steun vir die heropening van grondeise vir ’n tydperk van vyf jaar konsternasie onder grondeienaars veroorsaak het en hul leier se geloofwaardigheid onherstelbaar aangetas het.
Daar bestaan nou die sterk vermoede dat AgriSA-lede in die DA gekoöpteer is om boere te paai as die ANC voortgaan met grondgryp, aangesien Helen Zille se jongste verklarings oor die aangeleentheid in ‘n onsamehangende gebrabbel ontaard het.
Zille, die DA-leier, het haar steun vir die heropening van restitusie tydens die bekendstelling van die DA se verkiesingsmanifes die afgelope naweek bevestig, maar het Maandag ontken dat dit binne die DA bespreek is.
Die DA-LP en woordvoerder oor grondsake, Kevin Mileham, het weke gelede, op 7 Februarie reeds, in ’n verklaring die heropening van grondeise geprys.
Die DA het verlede week in die parlement tydens die stemmery oor aspekte van die wet, saam het die ANC daarvóór gestem!
Zille probeer tans verwoed terugkrabbel nadat sy uit twee monde gepraat het en sê haar party se parlementêre leierskap het nie die “reëls” nagekom in hul verklarings oor die Wysigingswetsontwerp oor die Herstel van Grondregte nie.
DA-lede was stom verbaas oor die leier se geskel tydens die drie uur lange buitengewone koukusvergadering waar sy oor die gewraakte verklaring deur die party se aangewese woordvoerder vir grondsake te kere gegaan het.
Terwyl Zille vroeër die heropening van grondeise gesteun het, beweer sy nou dat verklarings sonder haar medewete uitgestuur is en dat die DA “nog geen beleidstandpunt oor grondeise geformuleer het nie”.
As dit waar is, is dit uiters kommerwekkend dat die party nog nie een van die belangrikste kwessies vir hul kiesers oorweeg het nie, maar dat sy dit in haar verkiesingsmanifes vir 2014 die afgelope naweek nogtans as een van die sleutelkwessies genoem het.
Zille se onsamehangende uitbarsting oor die wysigingswetsontwerp is soortgelyk aan die herrie wat oor die Wetsontwerp op Billike Indiensneming losgebars het.
Die DA het verlede jaar die wetsontwerp met oorgawe gesteun, maar skielik daarna allerlei stertjies aangelas om die skade te probeer beperk nadat fel kritiek daaroor ontvang is.
Grondrestitusie het daartoe gelei dat 90% van landbougrond wat oorgedra is, nie meer produktief aangewend word nie en braak en vervalle lê.
Om grondeise te heropen sal onproduktiwiteit in die sektor vergerger en dít teen ‘n enorme koste vir die staat.
Daar is geen logika in die proses nie behalwe om Suid-Afrika se voedselsekerheid te knou en noodsaaklike landbougrond uit te lewer aan roofkapitaliste teen belaglike lae pryse, en om stemvee na die DA te lok wat uiteidelik ‘n ANC-beleid nastreef.
Ontleders meen dit is nou duidelik dat die party ‘n buitelandse agenda het wat daarop gemik is om landbou te vernietig en chaos te saai, maar dié doelwit moet vir wit stemvee gekamoefleer word.
Die DA se buitelandse weldoener is tydens die samemeltingsfiasko met AgangSA ontbloot. Swart kiesers het die DA daarvan beskuldig dat hulle swart huurlinge ( Black rentals) vir vertoon aanhou.
Syfers van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming toon dat daar tot 397 000 nuwe eise kan wees wat die regering R179 miljard kan kos.
Die DA het Sondag sy ondersteuners die versekering gegee dat die party nie hul swart rassebeleid sal laat vaar nie.
Tydens die bekendstelling van hul verkiesingsmanifes in Polokwane het die DA-leier, Helen Zille gesê hulle ondersteun Breë Swart Ekonomiese Bemagtiging (BSEB) ten volle omdat die apartheidsregering miljoene swartes toegang tot ekonomiese geleenthede ontneem het en dat die nalatenskap voortduur.
Daarme het die DA alle bespiegelinge oor verdeeldheid binne die party oor BSEB te ruste gelê.
Sy het gewaarsku dat BSEB-geleenthede vir alle swartes moet oop wees en nie net ‘n paar met politieke konneksies nie.
Zille het gesê hulle sal nie wegdoen met maatskaplike toelaes nie en dit selfs verhoog met aansporingstoelaes.
Sy het gesê 80% van die R2 miljard tenderbegroting van die Wes-Kaap is aan swart ondernemings in die vorige finansiële jaar toegeken.
Zille het oor die grondkwessie gesê haar party is verbind tot grondhervorming en sal R10 miljard belê om die grondhervormingsproses te versnel.
Zille, wat tesame met parlementêre leier Lindiwe Mazibuko en ander uitvoerende raadslede van die party, reeds twee jaar lank herhaaldelik in die openbaar verklaar dat die DA 30% van die stemme sal inoes, het vroeër in ‘n twiet teruggekrabbel en gesê dit is nie meer ‘n doelwit nie.
Die afgelope week by ’n inligtingsessie van die Onafhanklike Verkiesingskommissie in Kempton Park loop ek een van die leiers van die Daggaparty raak.
Nee, dis nou nie die kortstondige DA-Agang-party nie, maar die regte Daggaparty van Suid-Afrika wat hom vir die wettiging van dié dwelm beywer, asook ’n soort “volhoubare dagga-ekonomie” waar ons selfs in huise sal bly wat van byprodukte van die daggaplant gemaak word!
Die Daggaparty kan dalk ’n metafoor wees vir die verwarde en verdwaalde toestand waarin die opposisiepartye in Suid-Afrika hulle bevind. Aan die vooraand van waarskynlik die belangrikste verkiesing sedert 1994 lyk dit asof sowel die DA as die VF+ by die stasie se verlore goedere moet aanklop om hul beginsels terug te vind.
In Suid-Afrika se geesdriftige omhelsing van multikulturalisme en linkse denke, het regs eenvoudig weggekwyn. Om vandag in Suid-Afrika behoudend te wees, is amper om sosiale selfmoord te pleeg.
Begrippe soos private eiendom, die markekonomie, ’n werketiek, die gesin, identiteit en morele waardes word met hoongelag begroet. Leiers van Julius Malema se EFF verskyn selfs in die openbaar in oranje tronkuniforms omdat hulle die misdadigers as hul natuurlike bondgenote in ’n anti-wit stryd sien. Op Twitter praat hulle vrylik van revolusie en geweld.
Die DA onder Tony Leon het self sterk regse elemente bevat, waarteen die huidige parlementêre leier van die party, Lindiwe Mazibuko, haar skerp uitgelaat het deur die party se groei met Afrikanersteun ná 1999 as “korttermyn… en nadelig op lang termyn” te beskryf. Sy het ook gesê dat “wit nasionaliste” die DA liefs behoort te verlaat.
Anders as wat Pieter Mulder verlede naweek in Rapport beweer het, is die VF+ kwalik die “natuurlike tuiste van Afrikaners”. Eintlik is die party maar ’n splintergroep van die ou KP wat onder Constand Viljoen ’n oomblik van glorie in 1994 beleef het, maar sedertdien nie daarin kon slaag om kiesers gaande te maak nie.
Die leier van die pas gestigte Front Nasionaal in Suid-Afrika, Hannes Engelbrecht, vergelyk Pieter Mulder se deelname aan die ANC-regering as adjunkminister met F.W. de Klerk se Regering van Nasionale Eenheid kort ná 1994. Hy sê: “As ’n party teruggryp na ou uitgediende Nasionale Party-argumente wat ’n klaaglike mislukking was, is jy polities bankrot.”
As beroepspolitikus lyk dit asof dr. Pieter Mulder nie meer weet watter liedjie om voor watter gehoor te sing nie. Die liberale rubriekskrywer R.W. Johnson laat hom die afgelope week só uit oor die DA se omhelsing van ’n pro-Palestynse beleid in die Midde-Ooste: “Dít is die werklike ramp, dat die DA só deur die ANC gebreinspoel is dat hy nie net die pad byster geraak het nie, maar ook nie meer aan Suid-Afrikaners ’n werklike keuse bied nie.”
Maar ook die VF+ is nie immuun teen al die linkse sjarme nie en word self in die Praathuis gesosialiseer om ANC-idees klakkeloos na te praat.
Daarom verwerp Pieter Mulder implisiet die party se selfbeskikkingstrewe as hy skryf dat die VF+ hom “herposisioneer” het en voortaan die ANC-ideale van “ware eenheid in verskeidenheid; rondom ’n ware ‘better life for all’?” omhels. Is dit Zuma jr. wat hier praat?
Helen Suzman het jare lank vrou-alleen ’n ongewilde Houghton-liberalisme in die ou parlement met skrille sarkasme verdedig en oplaas gesien hoe die bolwerk van die eens magtige NP in duie stort. Vandag smag Suid-Afrika na konserwatiewe politici met beginsels wat eiendomsreg, private besit, gelyke regte vir Afrikaners en wit mense, asook ons reg op eie instellings soos skole en universiteite sal voorstaan. Noem dit “kulturele selfbeskikking”.
’n Tsoenami van Britse Marxiste het Suid-Afrika getref en groot dele van ons universiteite beset. Van die mees radikale denkers in ons land is Britse vroue soos Ruth Hall van die instituut vir armoede-, grond- en landelike studies aan die Universiteit van Wes-Kaapland (Plaas) en Carin Runciman van die Universiteit van Johannesburg. Hulle is niks minder nie as staatsbesoldigde aktiviste wat onverdunde kommunisme propageer. Hulle skryf die beleid vir Malema se EFF en die linkervleuel van die ANC, waaronder die departement van grondsake.
Afgesien van ’n paar geluide uit Orania, beskik die VF+ oor geen intellektuele om hierdie ideologiese aanslag op die Afrikaner en eintlik die hele Suid-Afrikaanse ekonomie te troef nie. Die party produseer niks behalwe anekdotes oor die goeie ou dae en futlose mediaverklarings nie.
Hierteenoor beskik Europa oor ‘n groot aantal aantal intellektuele wat vanaf die sewentigerjare reeds die kommunisme skerp kritiseer. Aanvanklik het hulle nie veel hond haaraf gemaak nie. Die Franse filosoof Alain de Benoist het byvoorbeeld ‘n boek van 3 000 bladsye geskryf oor waarom die regse beweging in sy land oor die afgelope 200 jaar misluk het. Ironies genoeg het dit verskyn op die vooraand van Marine Le Pen en haar Front Nasionaal se meteoriese opgang tot waar dié party tans 34% steun onder die tradisioneel linkse Franse geniet.
Die hele Europa ervaar tans ‘n swaai na regs, soos Leon Lemmer ook vandag berig. Benewens Frankryk, het steun vir nuwe regse partye ook in Nederland, België, Denemarke, Swede, Oostenryk, Hongarye en Italië toegeneem. In Noorweë het die Vooruitgangsgparty wat as “konserwatief liberaal” beskryf word en eers as “verregs” gestigmatiseer is, tesame met die Konserwatiewe Party in Oktober 2013 ‘n nuwe regering gevorm. Die Vooruitgangsparty beskryf homself as ‘n “libertariese volksparty”.
Europese regse partye groei veral onder jongmense. Die kletskamers van rekenaarspeletjies waaraan miljoene van hulle deelneem, is by uitstek die plek waar uitgesproke menings oor die politiek uitgeruil word.
Soos Leon Lemmer dit vandag stel:
‘n Les wat die ENR my geleer het, is om nie meer Westerse beskawing as ‘n ideaal vir myself en Suid-Afrika voor te hou nie. Die assosiasie met Amerika is dan te sterk. Tydens apartheid is die woord “blankes” met “Europeans” vertaal. Dit blyk nou korrek te wees. Pleks van op ‘n hernude golf van Westerse beskawing te hoop, sal ek voortaan liewer vir die plaaslike hervestiging van Europese beskawing pleit; iets wat in 1652 met Jan van Riebeeck begin het.
Ons is Afrikaners, maar ook Eurokaners. Op skool het ek Afrikaans, Engels en Latyn geleer. Ek herken my eerder in ou-Griekse begrippe oor die deug, oor verantwoordelikheid en vryheid as in die modieuse geswymel oor oeboentoe en verwante Afrosentriese clichés. Ek wil nie deur ‘n sangoma in ‘n vuil, vervalle hospitaal behandel word nie en dring op my Europese wêreldbeskouing aan. Terwyl ek dié woorde skryf, luister ek na die Duitse violis Anne-Sophie Mutter. Ek vra nie daarvoor om verskoning nie. Net so min as wat die Arabiere van Noord-Afrika om verskoning hoef te vra dat hulle Moslems is, net so min hoef ons daaroor skaam te wees dat ons wat ons voorkoms en ons kennisbenaderings betref, Europeërs gebly het. Weliswaar het ons ‘n eie beskawing hier te lande geskep, maar hy is vandag meer as ooit aan die groter Europese wêreld verbind.
De Gaulle, Verwoerd en ander het gevoel dat die voortbestaan van ons beskawing in Suider-Afrika van wesentlike belang vir die groter Europese beskawing daarbuite is. Dit is nodig dat ons opnuut hieroor sal besin.
Ons het niks meer om te verloor nie. Is dit nie tyd dat ons opstaan om ons idees en ons onvervreembare reg op ’n plek in die Suid-Afrikaanse son onverskrokke en ondubbelsinnig teenoor die hele wêreld te verdedig nie?
‘n Korter weergawe van dié rubriek het vandag as artikel in Rapport verskyn.
Dr. Dan Roodt is onderleier en woordvoerder van die nuwe party, Front Nasionaal.
Ek wou eintlik vandag so ‘n bestekopname gedoen het van waar die Afrikanerbeweging tans staan. Oor die afgelope dertien tot veertien jaar het ons geskryf, betoog, hofsake gemaak en sommige het selfs planne gemaak om die ANC-bewind gewelddadig omver te werp, of is daartoe deur staatsagente verlei. Daarvoor is vele lewenslank tronk toe gestuur tydens die Boeremagverhoor.
Ná die rampspoedige oorgawe van die De Klerk-bewind in die vroeë negentigerjare – selfs “ja”-stemmers soos ek erken nou dat dit rampspoedig was – het ons eintlik geen sentimeter gevorder op die pad na ‘n herstel van Afrikanersoewereiniteit en -vryheid nie. Vandaar die behoefte aan ‘n nuwe politieke party om met hernieude ywer daardie taak aan te pak, wat ook verklaar waarom die Front Nasionaal onlangs tot stand gekom het.
Iewers in ‘n twiet het ek Afrikaners gevra om te stem soos in die 1948-verkiesing, wat steeds een van die grootste waterskeidings in dié land se geskiedenis was. Ek het ‘n teorie dat daardie verkiesingsoorwinning deur ‘n Afrikanerparty ook die dryfveer was agter die opkoms van die kommunistiese terreurbeweging van die ANC en SAKP, omdat die gesig van Afrikaners wat weereens ‘n sê in hul eie regerig gehad het vir hulle te erg was om te aanskou. Veral die naelstring met Brittanje wat tydens Republiekwording in 1961 geknip is, het vele liberale en kommuniste tot terreur laat oorgaan. Diegene wat nie tydens die Rivonia-verhoor vir gevangenisstraf Robbeneiland toe gestuur is nie, het Londen toe verhuis van waar hulle ‘n uitgerekte propaganda- en terreuroorlog teen Suid-Afrika en veral die Afrikaner gevoer het.
Die Vryheidsfront Plus verteenwoordig ‘n kwynende politieke party wat reeds soveel teenstrydighede in sy optrede ten toon stel, dat ‘n mens seker kan verstaan dat hy vrees dat hy vanjaar sy laaste ondersteuners by die stembus mag verloor.
Terwyl Front Nasionaal hom van die begin af toegespits het om sy kritiek vir die links-liberale DA uit te hou, asook die ANC met sy toenemend anti-blanke en anti-Afrikaanse beleid, sien die VF Plus lyk my net een vyand: mede-Afrikaners wat poog om uit die dwangbuis van vergange Afrikanerrusies te ontsnap.
Daarom het die party dit goed gedink om op sy Facebook-blad sy steun toe te sê aan ‘n halfgeletterde hagiografie aan die party deur ‘n sogenaamde “lid van die publiek”, maar waarin daar ook tot verdagmakery teen Front Nasionaal oorgegaan word.
Verskeie figure het insgelyks op Facebook oorgegaan tot ‘n aanval op my omdat ek bykans dertig jaar gelede nie diensplig verrig het nie, maar oorsee was. Asof ek mnr. De Klerk se onbekookte oorgawe in die uniform van ´n dienspligtige sou kon verhoed het! Dít, komende ná die klag wat ek namens PRAAG, Front Nasionaal en verskeie dienspligtiges van destyds teen mnr. Martin Meyer van die DA gelê het vir sy bewerings in Beeld dat die vorige regering sy weermag opdrag gegee het om swartmense in die lokasies as’t ware voor die voet dood te skiet. Manfred Delport het reeds skerp hierop gereageer, waarna verskeie praaglesers my gevra het om ‘n klag by die Persombudsman teen Beeld te lê, wat ek toe ook laat Vrydagmiddag gedoen het.
Maar – of so wil dit voorkom – as jy die Afrikaner en ons vorige weermag se reputasie wil beskerm teen onjuiste aantygings, verskaf dit rede vir ondersteuners van die Vryheidsfront Plus om jou op Facebook aan te val, soos wat ene Hester Weyers, ‘n profiel sonder foto, gedoen het.
Ek het haar soos volg geantwoord:
Hester Weyers, wil jy my gaan aankla? Op ‘n manier het ek destyds van die Weermag se rekenaar afgeval en intussen is ek Frankryk toe. Met my terugkeer in 92, het FW de Klerk al die generaals afgedank en besluit Mandela, Slovo en die ANC moet die land regeer. Dink jy ek sou dit as dienspligtige kon keer? Intussen het ek veel meer “diens gedoen” as wat jy of enigeen sou kon vermoed. Ek het twee keer persoonlik met PW Botha ure lank gesels – die destydse staatshoof – en vir hom was dit geen probleem nie. Ook nie vir genl. Constand Viljoen, genl. Chris Thirion en vele ander nie. Al waarmee jy besig is, is om vlieë af te vang. As jy enige politieke vrae of argumente het, luister ek vraag. Maar hou op om ou koeie uit die sloot te grawe en vlieë af te vang wat ons vandag – 30 jaar later – niks in die sak bring nie.
Aanstons het dr. Corné Mulder, broer van Pieter Mulder en sy regterhand in die party – daar is nie minder as drie Mulders op die VF Plus se uitvoerende dagbestuur nie – tot die relletjie op Facebook toegevoeg:
Hierdie post is geplaas onder die naam Front Nasionaal, maar dit klink dan vir my soos Dan. Dit is soos die gedeelte in Genesis 27 vers 22 waar Isak vir Jakob onwetend se: “Die stem, dis Jakob se stem, maar die hande, dis Esau se hande.” Kan ek dus ook aanvaar dat hierdie skrywer namens Front Nasionaal ook die een is wat die bewering gemaak het dat die VF Plus selfbeskikking uit sy grondwet verwyder het? Laasgenoemde is natuurlik ‘n blatante leuen.
Waarop ek gereageer het deur te sê:
Beste Corne Mulder, dit was wel ek (Dan Roodt) wat hier bo geskryf het oor die dienspligkwessie. Hier is wel verskeie mense wat soms op die blad namens Front Nasionaal skryf en partykeer noem hulle hul name en ander kere nie. Dit was beslis nie ek wat beweer het dat die VF+ “selfbeskikking uit sy grondwet verwyder het” nie.
Wel meen ek dat die selfbeskikkingsbegrip afgewater is, veral toe die begrip “volk” uit die missie van die VF gehaal is en met “gemeenskap” vervang is, want daarmee verval ‘n groot deel van die Afrikaner se volkeregtelike aansprake op selfbeskikking. Daar is in SA duisende “gemeenskappe” van allerlei aard en elkeen kan sekerlik nie aanspraak op selfbeskikking maak nie. Verder is Pieter Mulder op rekord dat hy al verskeie kere gesê het dat sy party “steeds selfbeskikking ondersteun, maar nie vir nóú nie”. Só ontstaan die vraag: Maar vir wanneer is dit dan?
Demografies gaan ons jaar na jaar agteruit en dit sou onvoorstelbaar wees dat ons byvoorbeeld in 2025 (oor slegs 11 jaar!) selfbeskikking sou kon verkry indien ons teen daardie tyd tot ‘n skamele een of twee persent van die SA bevolking gekrimp het. As mense dus vir my vra wat die verskil tussen die VF+ en die FN is, dan sê ek: eersgenoemde wil oor 20 jaar selfbeskikking hê en ons oor 20 maande! Trouens, mnr. Jaco Mulder (provinsiale leier van die VF+ in Gauteng) het eenkeer op ‘n baie pessimistiese noot verkondig dat daar oor een geslag net een miljoen Afrikaners in die land gaan oorbly. Indien die SA bevolking teen daardie tyd weereens verdubbel het tot 100 miljoen, sou dit beteken dat ons slegs een persent van die totale bevolking sou uitmaak! Soos dit vir my lyk, bied die VF+ sterwensbegeleiding vir die Afrikaner deur hom met ‘n droom van “Eendag…” te sus, terwyl ons in die hier en nou vryheid wil sien.
Mulder het weer teruggekap met die volgende:
Beste Dan Roodt, dankie vir jou erkenning dat dit nie jy was wat die onwaar stelling oor die VF Plus en selfbeskikking gemaak het nie. Wees asb so vriendelik en bring die korrekte feite onder die mede skrywers van Front Nasionaal se aandag. As daar met so n belangrike saak so n blatante fout gemaak word, kan dit net sowel met verskeie ander standpuntstellings ook gebeur. Ek is jammer Dan maar jou stelling dat Pieter Mulder op rekord is dat hy al verskeie kere gesê het dat sy party “steeds selfbeskikking ondersteun, maar nie vir nóú nie”, is ongelukkig ook onwaar. Dit was en is nog nooit sy of die VF Plus se standpunt nie. Daar is nog altyd gese dat dit ‘n proses verg om by volle selfbeskikking uit te kom. Vryheid is nie iewers op die rak en dan haal jy dit net gou daar af nie. Ons kan lang debatte voer oor hoe ons selfbeskikking gaan verkry en bereik, maar dis nie waar dat die VF Plus of Pieter Mulder ooit gese het, ons wil selfbeskikking he, maar nie nou nie.
Hierop het ek soos volg geantwoord:
Jy weet so goed soos ek jou broer Pieter het dit by verskeie vergaderings van die VF+ al gesê. Maar jul rekord spreek vanself: Ná 20 jaar is daar nog geen sentimeter gevorder nie. Dis soos die grappie oor Mugabe: Hy doen uitstekende werk betreffende Zimbabwe se ekonomie; hy het net nog meer tyd nodig. Die VF+ is eintlik ‘n paradoks: ‘n party met ‘n taamlik radikale beleid (separatisme) maar met ‘n kultuur van versigtigheid en om tog nie aanstoot aan die regerende ANC te gee nie. Wat was nou weer die term wat die party daarvoor uitgedink het? “Samewerkende opposisie”?
‘n Ander gesiene Afrikanerintellektueel het my eenslag daarop attent gemaak hoe hierdie kultuur van versigtigheid ook neerslag vind in feitlik elke onderhoud of toespraak van die party, met taalgebruik soos: “dié kant toe en daai kant toe” of “versigtig tussen die klippers deur”. Hoe op aarde gaan ‘n groepie taamlik bejaarde mans wat elke kritiese stem in die party met ‘n vinnige skorsing stilmaak en verder net oor hul eie posisies begaan is, ooit daarin slaag om vir die Afrikaner vryheid te bewerkstellig?
Indien ek die tyd gehad het om so te verspil, sou ek ‘n boek kon skryf oor die kultuur van risikovermyding in die VF+. Deur geen risiko’s te neem nie, het die party gestagneer tot op hierdie punt waar slegs ‘n aantal lojale ondersteuners uit die tyd van die KP dit nog blindelings volg. Eintlik teer die VF+ steeds op die KP en verteenwoordig dit ‘n splintergroep uit die verlede wat geen vernuwing ondergaan het of selfs wíl ondergaan nie. Nóg wat idees, nóg wat sy leierskap betref.
Dit herinner my aan ‘n beeld wat die skrywer V.S. Naipaul in sy roman “A bend in the river gebruik”: die VF is soos ‘n ster – honderde ligjare ver – wat reeds dood is, maar waarvan die lig ons nou eers bereik en die indruk wek dat daar nog iets doer ver is wat skyn! Die Afrikaner het sy rug teen die muur en verloor al hoe vinniger veld op elke moontlike gebied: taal, kultuur, onderwys, in die ekonomie deur regstellende aksie, demografies deur emigrasie. Intussen speel die VF+ politiek-politiek… veral klein politiek, dié van agteraf koukus en baantjies vir boeties, asof ons nog in die geil tyd van Afrikanermag en -oorvloed verkeer.
Die ongelooflike is dat Corné Mulder nou ontken dat Pieter Mulder ooit so iets gesê het, dat “selfbeskikking nie vir nou is nie”. Hy skryf op Facebook:
Beste Dan jy het ‘n stelling nogals in aanhalingstekens gemaak dat Pieter Mulder ten gunste van selfbeskikking is “maar nie nou nie”. Ek was by alle relevante VF Plus vergaderings. Ek stel dit kategories aan jou dat wat jy hier sê dood eenvoudig onwaar is. Dit is nog nooit gese nie en dit was en is nog nooit nie die VF Plus se standpunt nie. Dit bekommer my werklik dat jy so n onwaarheid kan kwytraak en dan daarna jou argument daarop prober bou. Nie goed genoeg nie…jammer.
Hier het ek weereens die punt herbevestig, want tensy my en ander se ore in die vertrek ons bedrieg het, het Pieter Mulder dit wel gesê:
Ek gaan nie nou deur al die ou notules blaai om dit op te spoor nie, maar ek is seker ander mense sal dit ook onthou. Maar bewys dan die teendeel van my stelling dat daar in 20 jaar nog niks gevorder is wat Afrikanerselfbeskikking betref nie? En dis nie net ek wat dit sê nie: dis die publiek daarbuite wat dit aanmekaar vir my sê! Of het julle nóg 20 jaar nodig?
Elders op Facebook het ‘n ander Vryheidsfront-ondersteuner, ene Marietjie Schoeman Blignaut, kommentaar gelewer op die volgende foto van Front Nasionaal-kandidate wat ek op my muur geplaas het.
Bestuur van Front Nasionaal, tesame met enkele kandidate
Nêrens was daar enige verwysing na die Vryheidsfront Plus nie. Nietemin het sy my daarvan beskuldig dat ek die VF Plus “aanval”. Ek dink nie enigiemand hoef die VF Plus aan te val nie, want hy vernietig homself deur soveel logiese teenstrydighede in sy beleid en optrede op te stapel dat min mense dit nog ernstig opneem. Hoe kan ‘n mens byvoorbeeld op twee stoele sit en tegelykertyd saam met Kortbroek in die ANC-regering dien, maar ook saam met die liberale DA-opposisie die ANC probeer kritiseer? Om nie te praat van die jongste groepering waarin die VF Plus hom bevind nie, wat selfs die radikale swart nasionalistiese PAC met sy geskiedenis van terreur teen blankes insluit nie!
Soos ek dit verder aan haar gestel het:
Marietjie Schoeman Blignaut, ek val jul nie aan nie. Dis julle wat skakels na halfgeletterde hagiografieë aan die VF Plus op my Facebook-muur kom plak waarin daar boonop vuige aanvalle op die Front Nasionaal geloods word wat niks met politiek of enige meningsverskil te make het nie, maar bloot bedoel is om ons verdag te maak!
Vertel jy my egter wat Pieter Mulder vir die Afrikaner bereik het ná twintig jaar in die parlement en vyf jaar in die ANC-regering? Die man sit op twee of meer stoele! Ek was by toe hy met smaak vertel het hoe hy in die toilet gaan wegkruip as hulle foto’s van die ANC-kabinet neem, want hy is bang sy eie ondersteuners kom agter waar hy hom in werklikheid bevind. In die party verwys almal mos na hom as “Die Leier” – wat in Duits as “Der Führer” vertaal… Watse soort Führer is dit wat wil “kamerverlaat” as hy bietjie sy gesig moet wys en sy poliieke kaarte op die tafel moet sit deur te erken dat hy adjunkminister van landbou is?
Nog iets: nou onlangs het der Führer se onmiddellike hoof, Tina Joemat-Pieterson, die landbouminister, uitgevaar teen blankes in die Wes-Kaap wat nog oor visvangpermitte beskik. Dermate dat ‘n Indiër, ene Shaheen Moolla, haar van “rassisme” beskuldig het. Maar der Führer, Pieter Mulder, sprak g’n sprook… Miskien het hy eers bietjie gaan kamerverlaat?
Volgens Marietjie het hy “alles feil vir ons blankes”. Dis ‘n taamlike verspreking, want ‘n feil is juis ‘n fout soos in die woord “feilloos” wat “sonder fout” beteken. Om “jou lewe veil te hê” vir ‘n saak, beteken egter om gereed te wees om alles op te offer. Wat het Pieter Mulder al opgeoffer? Sy adjunkministersalaris? Selfs ‘n Indiër spreek hom uit teen Joemat-Peterson se anti-wit rassisme, maar nie Mulder nie, want dit sou te veel van ‘n risiko vir sy eie belange behels. Dus eerder feil as veil!
Dit wil my voorkom asof die Vryheidsfront Plus dit veel makliker vind om mede-Afrikaners aan te val wat hy meen sy krimpende steunbasis bedreig as om in die Engelstalige wêreld van die DA en ANC daardie partye op hul denkfoute en vergissings, asook vedrukking van die Afrikaner se taal, kultuur en vryheid, te wys. Dit is hierin waarin verskeie PRAAG-aktiviste nog altyd uitgemunt het, met ons deelname op sosiale media aan nasionale debatte waar ons die Afrikanersaak, waaronder die noodsaak vir selfbeskikking, onverskrokke stel.
Ook Front Nasionaal wil waarlik op nasionale en internasionale vlak die magdom argumente ten gunste van Afrikanerselfbeskikking stel. Indien ons daarin kan slaag om ‘n paar honderdduisend stemme te kry, kan ons binnekort kulturele selfbeskikking verwesenlik. Daarna kan ons, moontlik tydens die munisipale verkiesings van 2016, selfbeskikking op plaaslike vlak verkry en ons ou dorpe en stede terugkry deur artikel 235 van die Grondwet en die volkereg te gebruik. Al die werk wat ons die afgelope twee jaar gedoen het rondom kantons, tesame met mnr. Jaap Kelder se Nasionale Belstingbetalersunie en die Strategiese Komitee van Afrikaanse organisasies, kan dan vrugte afwerp en ons kan die juk van ANC-munisipaliteite van ons afwerp.
As ons kultuur eers vry is en ons regeer onsself op plaaslike vlak, kan ‘n uiteindelike onafhanklike volkstaat of republiek ver uitbly?
Die gereelde Gallup-verslag ondersoek die stand van werknemerdeelname wêreldwyd. Die jongste verslag van 2013 wys dat ekonomiese groei nie vinnig genoeg is nie en dat hoë werkloosheid in hierdie lande (insluitend SA) tot rewolusie kan lei.
Die verslag is soos altyd gemik op sakeleiers, maar dit is vanselfspreken dat daar invloed op nasionale regerings en selfs die Verenigde Nasies kan wees. Die punt wat voortdurend beklemtoon word, is eenvoudig:
“Verbeter werknemer- (lees burgelike) deelname en die nasionale prestasie sal verbeter.”
Die rede hoekom dit sal verbeter is omdat produktiwiteit verhoog as deelname verhoog en dit is juis produktiwiteit wat Suid Afrika so ‘n netelige land maak. Gedurende die Mbeki-jare is Harvard-Universiteit versoek om oplossings te karteer maar hulle het net een vraag gevra:
“Hoe kan salarisse opgaan as produktiwiteit nie verbeter nie?”
Die jongste Gallup-verslag wys dat Suid Afrika die swakste aktiewe deelname ter wêreld het. Die vooruitsig is ongelukkig dat SA in die toekoms nuwe rekords vir swak prestasie sal stel. Aan die ander kant is dit egter ook so dat SA die hoogste potensiaal ter wêreld het om te verbeter. Die potensiaal is om die waarheid te sê – enorm.
Die probleem met die DA en die VF+ is dat hulle hierdie sommetjies glad nie gemaak het nie.
Die verslag wys dat 46% van Suid Afrika se werknemers (lees burgers), nie aktief deelneem nie, terwyl Kanada se syfer 14% is. Die potensiaalsommetjie is dat SA se produktiwiteit 3 keer kan verbeter deur eenvoudige deelname te bevorder (moenie hierdie sinnetjie verkeerd verstaan nie).
Die probleem – so tipies van SA – is dat die DA en die VF+ na my mening die volgende doen:
Hulle weier om die probleem aan te spreek en so hulle kiesers te help, omdat hulle dit slegs sal doen “wanneer ons in beheer” is. Hierdie arrogansie is amper narsissisties-sadisties omdat hulle letterlik sal toekyk hoe die land vergaan al weet hulle wat die pad is om te loop. Die gedagte wat onwillikeurig opkom is: is die DA en die VF+ leierskap nie maar net so pateties soos wat die algemene media aandui oor swart leiers byna oral ter wêreld nie? Hulle gee immers ook nie om as daar dood en verwoesting gesaai word nie, solank daar ‘n veilige muur is om agter te skuil.
Daar was ‘n skerp styging in die aantal sterftes tydens oproerige diensleweringprotes in Suid-Afrika ná 2009.
Die opstande word ooglopend deur politieke opportunisme van die veral die DA en EFF gedryf, wat ontevrede voel dat hulle nie al die voordele van mag geniet nie.
Die duidelike toename in geweld kom ná president Zuma in 2009 as president aangewys is en sy gewildheid as leier ten spyte van skandale en fel kritiek verbasend bestendig gebly het.
Ontevredenheid in gemeenskappe oor sogenaamde dienslewering word dus deur politieke faksies aangevuur om die regering te probeer destabiliseer.
‘n Totaal van 43 betogers is na bewering deur die polisie gedood tussen 2004 en 2014.
Dit sluit nie die 37 mynwerkers wat by Marikana in 2012 omgekom het nie, maar sluit wel die sewe mense in wat hierdie jaar gedood is.
‘n Databasis van gemeenskapprotes sedert 2004, saamgestel uit van berigte in die media en ander bronne, deur die Universiteit van Johannesburg toon die styging.
Die aantal sogenaamde diensleweringsbetogings word jaarliks in Suid-Afrika sedert 2004 meer en sedert 2009 meer gewelddadig, het die Eenheid vir Sosiale Verandering gesê.
Protes word in UJ se navorsing deels aan politieke faksievorming gekoppel, maar die hoë voorkoms van etniese geweld en gevalle waar Boedoegereg oorneem en moetiemoorde tot geweld lei, is nie deur die Eenheid ondersoek nie.
Daar blyk ook ‘n duidelike verhouding tussen verkiesings en betogings te wees.
Gemeenskapsprotes het van 162 gevalle in 2008 skielik tot 314 in 2009 die hoogte ingeskiet na die April verkiesings. Dit dui op opposisiepartye se frustrasie om die politiek in hulle guns te probeer beïnvloed.
Die aantal betogings het ‘n hoogepunt bereik met 470 in 2012. Dit beteken meer as ‘n protes per dag, maar het gedaal tot 287 verlede jaar.
Die hoë vlak van werkloosheid onder jong mense is ‘n groot faktor wat deur opposisiefaksies uitgebuit word.
In teenstelling met werkers wat staak, maar deur streng wetgewing begrens word, kan die werklose opportunis maklik amok maak, klippe gooi, bande brand, die naaste winkel plunder en regeringsgeboue in ligte laaie laat, sonder veel risiko.
Indien hierdie misdadigheid en vandalisme boonop as polities geregverdig voorgehou word deur “navorsers” met ‘n agenda, sal die konflikpotensiaal bly styg.
Die redes wat aanleiding gee tot geweld is legio, wat die opportunistiese aard daarvan verder beklemtoon.
Volgens UJ se navorsing, is politieke verteenwoordiging onder die top vyf griewe wat mense aanspoor om die strate in te vaar. Onder die meeste swart Suid-Afrikaners is politiek ‘n uiters gewilde loopbaankeuse, en dikwels die enigste.
Dié eensydige beskouing is selfs onlangs deur ‘n minister in die presidensie, Trevor Manuel gekritiseer.
Die DA twiet lustig en onophoudelik oor die party se “suksesse” in die Wes-Kaapse regering.
Net so leuenagtig soos die party se plakkate wat lui “Registreer en wen!” asof die verkiesing ‘n lotto is en die party ‘n kans staan om te wen, is die DA se bewerings oor werkskepping.
Verklarings oor 60.000 “arbeidsgeleenthede” wat in die tweede helfte van 2012/13 deur die party moontlik gemaak is en 31.000 “werksgeleenthede” die afgelope jaar word op Twitter gemaak. (Wat op aarde is die verskil tussen ‘n arbeidsgeleentheid en ‘n werksgeleentheid?); dat 99,1% van alle huishoudings in die Wes-Kaap toegang tot lopende water het; dat 93,4% het toegang tot elektrisiteit het; dat 96,9% toegang tot toiletgeriewe het; dat die Stad van Kaapstad – die provinsiale hoofstad – meer vir arm inwoners as enige ander stad in die land doen om die gaping tussen ryk en arm uit te wis en dat R11 miljard van die R18 miljard bestee aan dienslewering in Kaapstad aan die armes gaan.
Dit lyk alles heel indrukwekkend. By navraag, jammerlik genoeg, kon die party egter nie ‘n enkele bron verskaf vir enige van hul bewerings nie.
Partyleier Helen Zille se woordvoerder, Zak Mbhele het twee maande na die eerste oproep eers reageer op ‘n navraag van ‘n NRO, en daarna konsekwent versuim om enige van sy selfopgelegde sperdatums na te kom ter verskaffing van die bronmateriaal.
In een e-pos, het Mbhele probeer om die vertragings as volg weg te verduidelik: “Die rede vir die ongelukkige vertraging is dat dit tegnies nie ‘DA inligting’ is nie. Dit is aangevra… Ek probeer om die bronne te kry om inligting saam te stel van die Stad Kaapstad en betrokke provinsiale regeringsdepartemente.”
Beide die Stad Kaapstad en die provinsiale regeringsdepartemente word tans deur die DA beheer.
Mbhele moes desnoods uiteindelik toevlug tot sy eie terugwerkende navorsing neem.
Met verwysing na die 60.000 “arbeidsgeleenthede” wat geskep is deur die Wes-Kaapse provinsiale regering in die 2012/13 finansiële jaar, skryf hy as volg: “Niemand so ver kan my iets in beton gee nie … In my eie aanlynsoekpogings het ek afgekom op die Uitgebreide Openbare Werke-program se verslae vir die eerste helfte van 2012/13 … maar nie die tweede helfte waarna die twiet verwys nie.”
Daarna het hy ‘n skermskoot van die DA se omstrede Twitter-verklarings ter sprake van die Internet geneem as bewys dat dié syfer vir “arbeidsgeleenthede” min of meer korrek is.
Mbhele het daarna ‘n stortvloed Internetskakels wat hy in die loop van sy navorsing ontdek het, aan die NRO gestuur, waarskynlik in die hoop dat ‘n massa inligting, alhoewel nie ter sake nie, die knoop sal deurhaak.
Sensusdokumente wat hy ook aangestuur het, toon weliswaar dat die Wes-Kaap se basiese dienste die beste in Suid-Afrika is, maar dit is natuurlik geërf van voor 1994, toe daar min swart aankomelinge vanuit die Oos-Kaap was.
Hierdie beweringe weerspieël nie die reeds hoë vlak van dienslewering wat die DA oorgeërf het van die Apartheidsregering nie. Die DA dekontekstualiseer die inligting met opset vir eie gewin.
Benewens die kwaadwillige verdraaiings van Afrikanersuksesse, is die DA se algehele gebrek aan betroubare data kommerwekkend.
Dat iemand uit die enjinkamer van die DA-provinsiale regering, met die gesag van die Premier se kantoor agter hom, nie in staat is om die bron van inligting en oorspronklike data te gee nie, spreek boekdele.
Die wisselwerking tussen die navorsing- en kommunikasie-afdelings in die DA parlementêre kantoor bestaan klaarblyklik nie.
Mbhele self gee toe dat dit by die DA soos met die spreekwoordelike gebreekte telefoon gaan.
Die ANC het aansoek gedoen om ‘n bevel wat die DA sou verhoed om na Luthulihuis op te ruk, nadat dit aan die lig gekom het dat die DA beplan het om ‘n veiligheidsonderneming gewapen met veiligheidshelms en -skerms sowel as skokstokke in te stuur.
In die lig van dié openlike provokasie het die ANC in reaksie ‘n menseketting om die hoofkantoor te vorm met ANC-lede wat hande vashou.
ʼn Dringende aansoek deur die ANC om Woensdag se DA-optog na Luthulihuis te keer, is egter deur die Suid Gautengse hooggeregshof in Johannesburg van die hand gewys nadat die DA afgesien van ‘n opmars na Luthulihuis.
Die DA het in die hof afgesien van hul uittartende en uitlokkende opmars nadat dit duidelik geraak het dat hulle optrede daarop gemik is om konfrontasie te soek.
“Ons is verheug oor die feit dat die DA in die hof ooreengekom het om nie naby die ANC-hoofkantoor te kom nie.”
“Dit is ‘n verkiesingsfoefie. Dit is bedoel om ons uit te lok, die kwessie te vertroebel en die aandag weg van die stand van die nasie te verskuif,” het die ANC se NUK-lid Malusi Gigaba gesê.
Die ANC het gesê hulle sal nie in dieselfde strik as Cosatu trap nie. Costau-lede was betrokke by skermutselinge met DA-lede.
“Ons kan snaakse woorde op hulle skree, maar daar sal nie ‘n fisiese konfrontasie tussen ons wees nie,” het Gigaba gesê.
‘n Blou see van DA-ondersteuners in hul T-hemde is by die vergaderpunt in Westgate saamgetrek, waar hulle “struggle”-liedjies dreunsing.
Die spanning in die middestad van Johannesburg is tasbaar. Praag het van bronne op die toneel verneem dat die ANC in groepe by sekere kruisings saamgetrek is.
Sauer-straat, waarin Luthulihuis is, is gepak met ANC-ondersteuners en stalletjies wat kleding en kos verkoop.