Die ANC het oorlog verklaar teen sogenaamde wit “rassiste” in ‘n poging om swart eenheid te bevorder.
Die party het ook ander politieke partye gevra om hulle daarvan te weerhou om die swart regime te ondermyn.
‘n Woordvoerder van die ANC, Zizi Kodwa sê oproepe dat President Jacob Zuma uit sy pos verwyder moet word, is ‘n poging om ‘n “regte gesprek” oor wit rassisme te vermy.
Die ANC-regime probeer kennelik die wit minderheid se “rassisme” verantwoordelik hou vir hul mislukkings. Die party het al meermale verklaar dat swartes nie rassisties kan wees nie omdat hulle “verontreg” is.
Kodwa sê dit is duidelik dat die ZumaMustFall-veldtog slegs die samelewing verdeel en tot gespanne betrekkinge lei.
‘n Reuse Zuma Must Fall banier wat by ‘n woonstelgebou in Kaapstad opgerig is, is Saterdag deur ANC-ondersteuners uitmekaar geskeur.
Die DA het ‘n klag teen ‘n ANC-parlementslid ingedien nadat hy op sosiale media gesê het dat die gebou en al sy inwoners afgebrand moet word.
Die DA het ontken dat hy betrokke was by die oprig van die banier. Primedia het glo vir die banier betaal.
Intussen beoog die radiopersoonlikheid, Gareth Cliff wat afgedank is weens sy beweerde rassisme, om M-Net hof toe te sleep vir onregverdige ontslag.
Cliff is in die pad gesteek na wat talle kykers as ‘n “rassevoorval” op Twitter bestempel het. Hy het nalv die Penny Sparrow-rasseherrie gesê Suid-Afrikaners begryp nie wat vryheid van spraak beteken nie.
Die wit omroeper Cliff het nie direk na swartes verwys nie, maar die woord “people” gebruik.
Cliff het tien jaar lank op die Idols-paneel gedien. ‘n Swart Idols-beoordeelaar, Somizi was ook onlangs in ‘n rassevoorval betrokke, maar dien steeds op die paneel.
Somizi Mhlongo het om sy Instagram sy mening gelug oor “rassistiese wit Suid-Afrikaners wat hoop dat Zuma se val hulle ‘n wit president sal gee of apartheid sal terugbring”.
Hy sê hulle hoop is “‘n ware ontkenning van die werklikheid”. Hy het egter slegs Afrikaners uitgesonder as “wit Suid-Afrikaners”.
Somizi sê dié ontkenning is soortgelyk aan Donald Trump wat dink hy gaan die volgende Amerikaanse president word of Oscar Pistorius wat glo hy gaan weer aan die Olimpiese Spele deelneem.
Niekie van den Berg, die eertydse radio-omroeper wat tot onlangs as DA-parlementslid gedien het, het vanoggend tydens ‘n TV-onderhoud op KykNET die DA as “die party van benadeling” bestempel. Van den Berg het intussen na die Vryheidsfront Plus oorgeloop.
Op die vraag, “Sou jy by die DA gebly het as jy nie so laag op die lys was nie?” antwoord Van den Berg: “Daar is ‘n doelbewuste poging om van ons middeljarige blanke mense ontslae te raak.”
Terwyl Niekie van den Berg hom by RadioSonderGrense dikwels teen Afrikaanse taalstryders uitgespreek het, het hy nou self in ‘n taalstryder ontpop, maar dan vir “alle minderheidstale”. By implikasie het hy ook op ‘n stadium gevoel dat hy skaam was om Afrikaans te wees, want hy sê: “Ek is 58. Ek hoef nie meer skaam te wees omdat ek Afrikaans is nie.”
Maar, sê Van den Berg: “Ek het vir al die tale geveg. Ek het vir die ANC gesê as ons nie vir die minderheidstale veg nie, gaan hulle verdwyn. Die DA weier om vir minderheidstale op te staan omdat hulle bang is die mense dink hulle veg vir Afrikaans.”
Die omroeper-politikus voel steeds sterk oor “nasiebou” en dat die Vryheidsfront Plus insgelyks verander het na ‘n meer multikulturele party. “Daar is ‘n verandering by die VF+. Hulle fokus is nou op alle minderhede.”
Ek was nog nooit ‘n groot bewonderaar van inbelprogramme op die draadloos nie. Dis ‘n goedkoop asook ‘n lui manier vir radiostasies om andersins leë lugtyd te vul met dikwels niksseggende bydraes van mense wat baie lief is vir hul eie stemme. Van sinvolle debat tydens sulke programme is daar dikwels min sprake, omdat die aanbieders se eie oortuigings hulle noop om die gesprekke in ‘n sekere rigting te stuur.
In die dae toe Niekie van den Berg dus ‘n omroeper op Radio Sonder Mense was, het ek paar keer per ongeluk na dele van sy program geluister, maar meestal eerder vinnig na die musiek op my MP3-speler/radio oorgeskakel as onse Niekie aan die beurt gekom het. Nie net het sy aanbiedingstyl dikwels as selfvoldaan, bombasties en arrogant oorgekom nie, maar was sy duidelike linkse vooroordele genoeg om ernstige spysverteringsprobleme so kort ná middagete te veroorsaak. Menige inbeller wat ongemaklike punte geopper het, wat heiligskennis gepleeg het deur Niekie se afgode soos Mandela of die NSA te bevraagteken, enige iets wat Niekie se linkse ewewig kon versteur, is summier stilgemaak, en die irritasie in sy stem was dikwels hoorbaar. Sulke vermetele inbellers, wat so met die Groot Niekie se linkse storietjies durf verskil het!
Niekie van den Berg
Dit was dus ‘n blye dag vir radio-uitsendings in Suid-Afrika toe Niekie die dag besluit het sy kop staan parlement toe. Hy sou as DA-kandidaat staan. Die DA, wat destyds nog effens, vêrlangs in Afrikanerkiesers belanggestel het, het sekerlik gehoop Niekie se berugtheid (askies, bekendheid) kon darem, o, ek weet nie, ‘n hele vyftien ekstra stemme vir die DA inwin. En siedaar! Niekie die onbeskofte radio-aanbieder, word Niekie die meer beskofte (is daar so ‘n woord?) LP. Niekie word toe nie net ‘n LP nie, maar sommer ook adjunk-skadu-tweede-in-bevel-agterspeensuier-minister van Kuns, Kultuur, Rieldanse, Klopse en enige ander sake wat vaagweg vir jou gemiddelde DA-lid as kultuur kan deurgaan. Die opwinding was geweldig. Oftewel minstens in Niekie se woonplek se binnekamer.
Nóú kon Niekie ‘n verskil maak! Nóú sou Niekie ou omies wat na Radio Sonder Mense ingebel het, darem maar vir eens en vir altyd op hul plek sit, deur vir hulle te wys hoe hy wat Niekie is, die NSA kon maak kook deur ‘n yster in die Madibatopiese demockracy te word! Maar helaas, toe gebeur daar… absoluut niks nie. Tik ek Niekie van den Berg se naam in Google in, is daar slegs enkele meldings van Niekie die DA se adjunk-skadu-minister van Klopse en Rieldanse. Een is ‘n bedeesde verklaring oor ‘n kleinerige toegewing oor die Talewet, en ‘n ander is Niekie wat die arrestasie van ‘n paar obskure ANC-jeugagentskapslede verwelkom. Niekie se stilte was dawerend toe Dianne Kohler-Barnard soos ‘n viswyf gegil het dat sy eerder Spaans as Afrikaans sou wou praat. Niekie was toe nou nie heeltemal so formidabel sonder sy radiomikrofoon nie.
En toe word die DA se kandidaatlys vir die 2014-verkiesings vrygestel. Die DA se adjunk-skadu-minister van Klopse en Rieldanse, Niekie, is prakties nêrens nie. Hy sal nie in 2014 verkies kan word nie. Niekie is te wit. Te oud. Te Afrikaans. Te manlik. Hy is veral te wit, oud, manlik en Afrikaans vir die DA, wat halsoorkop besig is om Frantz Fanon na ‘n blanke suprematis te laat lyk, so vinnig skuif die DA na die linkerkant toe, en so desperaat is die DA om homself in ‘n swarter party as die ANC te verander. Niekie is gevolglik deur die DA getransformeer, etnies gereinig, reggestel, oorbodig gemaak, geskors, gerooikaart (of is dit gewitkaart?), skoon uit die parlement uit. Volgende jaar is Niekie dus werkloos.
Ek wil nie leedvermakerig wees nie (goed, ek lieg, ek wil), maar die transformasie en nie-rassigheid waaroor jy so op die draadloos gepredik het, is darem maar ‘n pynlike ding wanneer dit jy self is wat te wit vir die ANC-Lite is, of hoe, ou Niekie? Ek wonder tog – gegewe jou rou transformasiewonde, en jou bittere teleurstelling omdat jou linkse kaartehuis so wreed in duie gestort het, gaan jy daardie ou, blanke omies wat jy so afgejak het oor die draadloos, eendag om verskoning vra? Want sien, Niekie, daardie ou, blanke, “rassistiese”, “regse” omies wat jou wou reghelp op Radio Sonder Mense, was toe al die tyd reg.