praag.co.za

Niekie word getransformeer

delport_manfred_600

deur Manfred Delport

[followbutton username=’ManfredDelport’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Volg Manfred op Facebook.

Ek was nog nooit ‘n groot bewonderaar van inbelprogramme op die draadloos nie. Dis ‘n goedkoop asook ‘n lui manier vir radiostasies om andersins leë lugtyd te vul met dikwels niksseggende bydraes van mense wat baie lief is vir hul eie stemme. Van sinvolle debat tydens sulke programme is daar dikwels min sprake, omdat die aanbieders se eie oortuigings hulle noop om die gesprekke in ‘n sekere rigting te stuur.

In die dae toe Niekie van den Berg dus ‘n omroeper op Radio Sonder Mense was, het ek paar keer per ongeluk na dele van sy program geluister, maar meestal eerder vinnig na die musiek op my MP3-speler/radio oorgeskakel as onse Niekie aan die beurt gekom het. Nie net het sy aanbiedingstyl dikwels as selfvoldaan, bombasties en arrogant oorgekom nie, maar was sy duidelike linkse vooroordele genoeg om ernstige spysverteringsprobleme so kort ná middagete te veroorsaak. Menige inbeller wat ongemaklike punte geopper het, wat heiligskennis gepleeg het deur Niekie se afgode soos Mandela of die NSA te bevraagteken, enige iets wat Niekie se linkse ewewig kon versteur, is summier stilgemaak, en die irritasie in sy stem was dikwels hoorbaar. Sulke vermetele inbellers, wat so met die Groot Niekie se linkse storietjies durf verskil het!

Niekie van den Berg
Niekie van den Berg

Dit was dus ‘n blye dag vir radio-uitsendings in Suid-Afrika toe Niekie die dag besluit het sy kop staan parlement toe. Hy sou as DA-kandidaat staan. Die DA, wat destyds nog effens, vêrlangs in Afrikanerkiesers belanggestel het, het sekerlik gehoop Niekie se berugtheid (askies, bekendheid) kon darem, o, ek weet nie, ‘n hele vyftien ekstra stemme vir die DA inwin. En siedaar! Niekie die onbeskofte radio-aanbieder, word Niekie die meer beskofte (is daar so ‘n woord?) LP. Niekie word toe nie net ‘n LP nie, maar sommer ook adjunk-skadu-tweede-in-bevel-agterspeensuier-minister van Kuns, Kultuur, Rieldanse, Klopse en enige ander sake wat vaagweg vir jou gemiddelde DA-lid as kultuur kan deurgaan. Die opwinding was geweldig. Oftewel minstens in Niekie se woonplek se binnekamer.

Nóú kon Niekie ‘n verskil maak! Nóú sou Niekie ou omies wat na Radio Sonder Mense ingebel het, darem maar vir eens en vir altyd op hul plek sit, deur vir hulle te wys hoe hy wat Niekie is, die NSA kon maak kook deur ‘n yster in die Madibatopiese demockracy te word!  Maar helaas, toe gebeur daar… absoluut niks nie. Tik ek Niekie van den Berg se naam in Google in, is daar slegs enkele meldings van Niekie die DA se adjunk-skadu-minister van Klopse en Rieldanse. Een is ‘n bedeesde verklaring oor ‘n kleinerige toegewing oor die Talewet, en ‘n ander is Niekie wat die arrestasie van ‘n paar obskure ANC-jeugagentskapslede verwelkom.  Niekie se stilte was dawerend toe Dianne Kohler-Barnard soos ‘n viswyf gegil het dat sy eerder Spaans as Afrikaans sou wou praat. Niekie was toe nou nie heeltemal so formidabel sonder sy radiomikrofoon nie.

En toe word die DA se kandidaatlys vir die 2014-verkiesings vrygestel. Die DA se adjunk-skadu-minister van Klopse en Rieldanse, Niekie, is prakties nêrens nie. Hy sal nie in 2014 verkies kan word nie. Niekie is te wit. Te oud. Te Afrikaans. Te manlik. Hy is veral te wit, oud, manlik en Afrikaans vir die DA, wat halsoorkop besig is om Frantz Fanon na ‘n blanke suprematis te laat lyk, so vinnig skuif die DA na die linkerkant toe, en so desperaat is die DA om homself in ‘n swarter party as die ANC te verander. Niekie is gevolglik deur die DA getransformeer, etnies gereinig, reggestel, oorbodig gemaak, geskors, gerooikaart (of is dit gewitkaart?), skoon uit die parlement uit. Volgende jaar is Niekie dus werkloos.

Ek wil nie leedvermakerig wees nie (goed, ek lieg, ek wil), maar die transformasie en nie-rassigheid waaroor jy so op die draadloos gepredik het, is darem maar ‘n pynlike ding wanneer dit jy self is wat te wit vir die ANC-Lite is, of hoe, ou Niekie? Ek wonder tog – gegewe jou rou transformasiewonde, en jou bittere teleurstelling omdat jou linkse kaartehuis so wreed in duie gestort het, gaan jy daardie ou, blanke omies wat jy so afgejak het oor die draadloos, eendag om verskoning vra? Want sien, Niekie, daardie ou, blanke, “rassistiese”, “regse” omies wat jou wou reghelp op Radio Sonder Mense, was toe al die tyd reg.

[followbutton username=’ManfredDelport’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Volg Manfred op Facebook.

Comments

27 responses to “Niekie word getransformeer”

  1. StalinX Avatar
    StalinX

    Wie laaste lag, lag die lekkerste! Hy kry wat hom toe kom:)

  2. Trippie Avatar
    Trippie

    UITSTEKEND Manfred !

    Gat-haper word toe self in die agterstewe gehap – en dit is die voorland van elke blanke DA/ANC-Lite ondersteuner. Jammer, geen simpatie.

    NS: Jinne, daardie haarstyl van Mnr vd Berg lyk soos die koos wat onder ouma en oupa se bed gestaan het doerie jare.

  3. Willy Avatar
    Willy

    Wat jy saai sal jy maai kom so waar in hierdie geval. Dit gebeur maar as mens so vol van homself/haarself is en ander afjak en net sy/haar siening tel.
    Watter loopgraaf gaan jy nou betrek, Niekie? Agang?
    Weereens baie dankie Manfred.

  4. betzie Avatar
    betzie

    Bombastiese ballon is afgeblaas . Wonder of hy dit ooit besef .

  5. betzie Avatar
    betzie

    Wens ek kon vanoggend n beker boeretroos drink saam met die mense wie soos ekke voel en dink .

    1. Trippie Avatar
      Trippie

      *
      Enige tyd Betzie … en so lekker plaasvars ontbyt.
      *

      1. betzie Avatar
        betzie

        Trippie, jy is nou wel in die Transvaal en ek n Oranje Vrystater ,
        maar in die gees lig jy my hart vanoggend op .

  6. Marta Avatar
    Marta

    Almal is nie ewe sterk nie, en almal probeer maar net kos op die tafel sit. Niekie is ook maar net n Afrikaner wat probeer swem en het gedoen wat hy moes om sy werk te behou, soos baie van julle wat hier kommentaar lewer.

    1. Rooikop Avatar
      Rooikop

      Verkoop jou siel om kos op die tafel te sit – nie veel anders as prostitusie nie. Sê jou eie mense sleg, weier dat enige ander opinie geuiter word.
      Hy is eerder een van die wat hulleself as die “elite” onder die Afrikaner reken. Almal wat nie hulle liberale selfhaat voorstaan nie word gesien as laer klas mense.

      1. betzie Avatar
        betzie

        Marta, om jou werk te behou , beteken nie om soos n slymbal-rugsteker op te tree nie . My pa sou so iemand n papsak noem .

        1. Sjert Avatar
          Sjert

          Juis!
          Eintlik moet mens nie ‘n papsak so lig skat wat al baie vreugde en liefde onder arm studente gebring het.
          🙂

          1. Andrea Avatar
            Andrea

            Ek wou nou nét sê, julle sê ‘n ordentlike papsak darm nou lelik sleg! Betzie, ek dink die word wat jy soek is papbroek, of slapgat, dis eintlik beter!

      2. Marta Avatar
        Marta

        Rooikop hoeveel van die blankes moet dit nie vandag doen om
        te oorleef nie? Ek sê nie dit is reg nie, ek sê baie of die meeste doen dit omdat hulle nie anders kan nie.

        Dit sal interessant wees om vas te stel of Niekie homself
        aangebied het aan die DA en of die DA hom genader het. Die antwoord gaan daarin lê. Verraad weereens van die hoogste orde deur die DA en Zille, want die pos en die gewetenlose afdanking kon tog nie gebeur het sonder Zille se medewete nie.

        Wat is self die kans dat Solidariteit betrokke is by die hele saga en net van Niekie ontslae wou raak voor hulle RSG oorgeneem het. Dit
        is tog algemene kennis dat Solidariteit hulle lede aangemoedig het om vir die DA te stem met die vorige verkiesing.

        1. Rooikop Avatar
          Rooikop

          Ek sal nie weet van Solidariteit nie- ek het te lanklaas na RSG geluister – ek weet hulle het Radio Pretoria gekaap en vandat hulle vir Heinrich Marnitz daarop het luister ek ook nie meer na hulle nie.
          Solidarieteit het jare gelede al hulle ware kleure gewys toe hulle eerder vir ‘n swart kleuterskool ‘n skenking gegee het en die blanke kleuterskool wat dit net so nodig gehad het oorgesien het. Hulle is vir my weereens maar net ‘n weerligafleier en verlei mense om vir hulle geld te skenk en dan ondersteun hulle weer die Afrikaner se vyande met daardie geld. So ek sien hulle in dieselfde lig as Kortbroek, DA ens.

    2. Sjert Avatar
      Sjert

      Jy veralgemeen darem ‘n brandsiek brak uit ‘n bos uit!
      Daar is ‘n reuse verskil tussen siele wat hul taak in stilte verrig, omdat hulle weens finansiële noodsaak daartoe gedwing word en swakkelinge soos Van den Berg, wat sy afkeer aan andersdenkende Afrikaners om elke hoek en draai verkondig.
      Van den Berg se optredes toon duidelike ooreenkomste met die verraaiers s’n wat tydens die ABO die lyding en pyne van duisende mede Afrikaners ten gevolg gehad het.
      Daardie werfetters wat die dood van talle Afrikaner vroue, kinders en mans op hul gewete het, het volgens jou redenasie dit ook gedoen om ” kos op die tafel te sit…”
      Die trut sou op simpatie aanspraak kon maak, indien hy soos ‘n uitgeslape politkus verklaar het dat hy ge-faaier is omdat hy die Afrikanersaak ondersteun het. Of so iets.
      Helaas! Die ou se potlood is veels te stomp.
      G’n wonder die spul bokspringende anties het hom onder sy jack geskop nie.
      :-)))

    3. Arnieann Avatar
      Arnieann

      Niekie kon nooit swem nie, en toe gaan spring hy sommer in die diep kant in.
      En hy hèt ‘n werk gehad. Toe ruil hy dit vir ‘n rit op die soustrein. Nou het daai trein sy wielle verloor. Of het die spoor opgeraak??

  7. Marta Avatar
    Marta

    Manfred jy het waardige punt my mening is nie kritiek op jou
    artikel nie, ek het myself by geleentheid vir die man vererg, bloot net n
    bietjie wyer insig as waartoe ons Afrikaners deesdae geneig is. FW de Klerk het ons Afrikaners baie meer skade aangedoen as net om ons van ons land te beroof, hy het ons van ons menswaardigheid menslikheid gestroop en van ons verbitterde agterdogtige mense gemaak. Sien my kommentaar aan Rooikop en herken die agterdog
    selfs by my wat hier preek.

  8. Götterdammerung Avatar
    Götterdammerung

    Ek wens ek kon simpatie met Niekie gehad het maar ongelukkig verbied my sin van ordentlikheid dit om enige simpatie met ver-linkse “progressiewe” liberale dwepers te hê. Die arrogansie, die hubris, van mense soos Niekie is ‘n steen des aanstoods; hy wou nie luister nie, hy is so verval in sy histeriese afgodsaanbidding aan die voete van die demi-god Mandela en die’ se Mandelatopia dat sy lot my koud laat. Die gebeure het slegs veroorsaak dat my geloof in ‘n universele geregtigheid versterk is.

  9. Riaan Pretorius Avatar
    Riaan Pretorius

    Was hy getransformeer of “getransvomeer”?

  10. Andrea Avatar
    Andrea

    Dankie Manfred, lekker gelees.

  11. Arnieann Avatar
    Arnieann

    Hy moet maar by Radio Pretoria gaan inklok.

  12. Albert Brenner Avatar
    Albert Brenner

    “… adjunk-skadu-minister van Klopse en Rieldanse” . Bwhaha…het nou lekker gelag! 🙂

  13. david ras Avatar
    david ras

    Ek moet hierdie een vertel-ook oor een van die groot geestein die media. Dit gaan oor ‘n sekere Tim duPlessis, die einste hy van NASPES/BEELD faam .
    IN 1994 publiseer Beeld ‘n brief van my onder (hulle) opskrif: REGSTELLING “IS SKELM” INGESLUIT. Dit het gegaan oor regstellende aksie.
    ‘n Paar jaar later is die duiwel skoon los in ou Tim se wereld. Sien, Klein Tim wil vlieenier word , maar SAL se aikona, hy’s te wit.
    Tim snr. braak al wat joernalistieke gal te brake is oor hierdie gruwelike rassisme !
    Na al die politoer wat hy aan die bewindhebbers in sy koerant gesmeer het !
    Ek neem toe daardie koerant met my brief daarin, maak ‘n afskrif , en trek ‘n rooi kring rondom my brief en ‘n kring om ou Tim se foto wat saam met sy redaksionele kommentaar verskyn het. Ek verbind die twee rooi sirkels met ‘n lyn en daaronder skryf ek : “sommige mense leer maar stadig” en pos dit aan Beeld.
    Ek het nie eens ‘n erkenning van ontvangs gekry nie.
    As ek die huidige twak sien war ou Tim deesdae kwytraak, twyfel ek of hy enigsins iets geleer het.
    Anders as Nimlike Niekie het Tim nog sy jop. Miskien kan ou Niekie vir Tim gaan tee aandra.

  14. Karel Combrinck Avatar
    Karel Combrinck

    Die klassieke geval van die verloopte oorloper. Op die ou einde is hy onwelkom aan albei kante van die draad. As ons wil jammer wees vir iemand, kom ons wees liewer jammer vir die tienduisende Afrikaners en ander witmense wat hulle werk weens “regstellende” aksie verloor het en nou in plakkerskampe sit.

  15. Kalium_Chloraat Avatar
    Kalium_Chloraat

    Al die “useful idiots” word vroeër of later net “idiots”.

  16. Kalium_Chloraat Avatar
    Kalium_Chloraat

    En nou gaan hy nog SEB ook aan sy bas voel. Ten minste kan hy nou die riel trap.

  17. Liezel Avatar
    Liezel

    Dit was eintlik komies om na hom te geluister het destyds op radio. Hoe kwater hy raak, hoe snaakser het ek dit gevind. Kyk, hy was regtig ‘n d….. met mense en dit was sleg. Ek het maar gewonder wat is die probleem regtig. Moes maar in die kop gewees het of ander dinge wat pla.

    Dis baie komies wanneer die verligtes worstel en frons oor hoe die realiteit net nie inpas by hulle ideologie nie.

Leave a Reply