praag.co.za

Tag: blanke

  • Verwoerd se rede oor Bloedrivier

    Verwoerd se rede oor Bloedrivier

    Jaap Marais het oor Verwoerd geskryf dat sy nalatenskap so groot was, dat sy opvolgers nie sy werk kon voortsit nie. Dus, dat daar geen leier was wat opgewasse was vir die taak nie.

    Dit is onwaar. Ons ras het die roustof van reuse, — maar is tot nog toe deur geen helder gedagte besiel nie, slegs deur Christenskap.

    Hier volg Verwoerd se Geloftedagrede van 16 Desember 1958 soos weergegee in: Verwoerd aan die woord, Afrikaanse Pers-Boekhandel, 1964, bl. 189-194.

    — Pierre Fouché

    Dr H F Verwoerd: Geloftedagrede by Bloedrivier, 16 Desember 1958

    Liewe vriende, ek wil praat van toe en van nou. As ons die gees van die wêreld van die tydsgewrig van die Voortrekkers nagaan, dan vind ons dat dit ‘n periode van beroering was in die gemoedere van mense. Daar het destyds ‘n geestestroom oor die wêreld beweeg wat ‘n nuwe atmosfeer geskep het, wat sy invloed gehad het tot so ver as hier in die suide van Afrika. Ons weet almal hoe tydens die Franse Rewolusie ‘n gees van bevryding onder die mensdom ontstaan het; ‘n gees van vryheid en broederskap en gelykheid van alle mense. Dit was gebore uit die omstandighede van die Europa van daardie tyd en is toe verkeerd toegepas op die wêreld daarbuite wat anders was.

    Die toepassing van die idee van vryheid en gelykheid en die broederskap van alle mense het aanleiding gegee tot geweldige geskille en twiste en die wanbegrip openbaar van die lewe van mense in ander lande in ander omstandighede. In Europa is geskryf van die edele barbaar, terwyl die mens rondom hulle, die blanke in sy beskawing van daardie tyd, nie geag is nie. In daardie gees is die blankes wat besig was om lande te beskaaf en om die barbaar van homself en van sy verdrukker uit eie geledere te red, as verdrukker beskryf.

    Dieselfde het met ons eie nasie en die Voortrekkers gebeur. Geweldige wanvoorstellings het in Europa geheers oor ons mense en die dade wat hier verrig is. Uit daardie lande het vreemde predikante, die Philipse en die Van der Kemps, besiel met die gees wat oor Europa versprei het, gekom na ‘n gebied wat hulle nie geken het nie. Hulle het nie net die Evangelie gebring nie, maar ook die steurnis van die misverstand. Hulle het ‘n ondiens bewys, nie net aan die blanke wat destyds met die Bybel in die hand die binneland ingedring het nie, maar ook aan die heidendom deur hom aan te hits teen die blanke met al sy goeie wil en sy kennis van die toestande hier. Hulle het die weg beswaar en heelwat van die bloed wat vergiet is en die stryd wat veroorsaak is, was die gevolg van die goedbedoelde maar misplaaste oordra van ‘n gees wat in die omstandighede van daardie tyd hier nie gepas het nie.

    Daardie gees was nie gerig teen die Afrikanervoorsate alleen nie, maar teen alle blankes. Ook die Engelssprekendes het besef dat die kersteningsproses vir Afrika nodig is en dat die heerskappy van die blanke nodig was om hier in Suid-Afrika die beskawing en die Christendom te bring en uit te bou.

    Te midde van dit alles word die optrede van die Voortrekkers deur drie duidelike gesindhede gekenmerk. Die een word gesimboliseer deur die gereedheid van Piet Retief om, waar hulle oop gebied hier gevind het, dit tog deur behoorlike onderhandelings as besit te verkry. Piet Retief was gereed om ‘n ooreenkoms met Dingaan aan te gaan. Hy was gereed om te vertrou en saam te werk. Hy het in die hande van die barbaar die lewens van sy klein groepie metgeselle geplaas. Die vertroue van die blanke, die eerlike opregtheid van die blanke, die onderhandelingsgereedheid van die blanke, die bereidheid om regte toe te ken soos dit pas, elkeen na sy soort en op sy plek, is gesimboliseer met daardie daad van Piet Retief. Verder voortvloeiend uit die gebeure te Moordkoppie, sien ons dat die mense daar vergader nie gereed was om deel te hê aan die selfmoord van ‘n nasie nie. Hulle was nie bereid om pad te gee of om te vermeng nie. Hulle was gereed om te bly of om te trek as dit nodig was na Transvaal, maar waar hulle ook al sou gaan, was hulle gereed om te stry tot die oorwinning toe, te stry om ‘n nasie te help bou. Of die Voortrekker getrek het, of hy geveg het, en of hy die hand aan die ploeg geslaan het wanneer hy in vrede gelaat is, was hy altyd besig om te bou aan sy nasie. Nooit was hy gereed om te verbreek, te vernietig of te verloor nie.

    Kenmerkend van daardie stryd was dat die Voortrekker altyd sy kind en sy vrou by hom gehad het. Dit was nie ‘n stryd van mans alleen nie. Dit was nie ‘n stryd net met die wapen in die hand nie. Dit was ‘n stryd van die hele gesin – man, vrou en kind – sy aan sy om die toekoms vir hulle nageslag te beveilig en die suiwerheid van die bloed van die volk te bewaar. Was dit mans alleen wat ‘n land so binnegestroom het, was daar vandag miskien nie ‘n blanke nasie nie. Omdat dit ‘n gesinstrek was en omdat die eenheid van die familie die basiese band was van die demokratiese bestuur van die state wat toe gestig is, kon orde en vrede so gou daar gevind word. Dit was die gesin wat getrek het, die gesin wat gestry het, die gesin wat gebou het.

    Dit is wat toe gebeur het. Wat is die posisie vandag?

    Daar bestaan ‘n merkwaardige ooreenkoms. Is dit nie so dat ‘n liberalistiese stroom weer vandag besig is om oor die wêreld te beweeg, baie soortgelyk aan 120 jaar gelede nie? ‘n Gees wat in die Tweede Wêreldoorlog, miskien alreeds in die Eerste Wêreldoorlog, sy oorsprong het; ‘n gees wat gebore is uit die ervaring van die mense elders en hulle belange alleen; ‘n gees van liberalisme wat veroorsaak het dat die blanke state so onder mekaar verdeel geraak het dat elkeen vir die welslae van sy oogmerke die steun van die nie-blanke wêreld – hetsy in Asië, hetsy in Afrika – probeer soek het; ‘n gees nie gebore soos dit dikwels voorgestel word uit die hoogste morele oorwegings nie, want dan sou dit nie so verdoemend neersien op die eie blanke in ander dele van die wêreld nie maar teenoor hom ewe begrypend kon staan as teenoor die swarte.

    Dit is eienaardig dat die wêreldgees, net soos destyds, nie gerig is teen die Afrikaner nie, maar teen alle blankes. Daardie gees is deurdring van verheerliking vir die edele barbaar. Alles wat die nie-blanke sê of doen, is goed of word goedgepraat. As hy ru of dwaas optree, word dit beskryf as maar net kenmerkend van die oorgangsperiode. Maar as die blanke deur vas te staan, moet sorg dat die beskawing behoue bly, dan is dit verdrukking en word hy gesmaad. Die wêreldgees is ook gerig teen al die koloniale moondhede in Afrika, of dit nou die Portugese of die Engelse of die Belge of die Franse is, en of dit die Suid-Afrikaners is – wie ook al die beskawing hier gebring het, wie ook al die mense gered het van onderlinge uitdelgery, wie ook al dak en voedsel besorg het vir groter massas as wat die land eers kon dra – aan hulle word nie dank gesê vir lewe, vir voorspoed, vir kennis, vir die Godsverryking van hulle gemoed nie. Dit is ook eienaardig dat juis nou weer predikante uit die vreemde moes kom wat die wanbegrippe verder dra – die Huddlestons, die Collinse, die Scotts, die De Blanks – mense miskien met goeie bedoelings, mense besiel deur die gees wat in Europa deur hulle ingedrink is, sommige selfs besiel met ‘n gees wat uit die verwerplike Kommunisme afkomstig is. In hierdie land waar ons as ‘n Christelike volk met kennis van ons geskiedenis en van die natuur van die Bantoevolkere en die peil van hulle ontwikkeling, probeer om te doen wat reg is en wat goed is en wat Christelik is, word ons verdoem uit monde wat eers moes leer voor hulle praat.

    Hulle sien nie raak nie dat net soos 120 jaar gelede, daar die duidelikste bewyse bestaan van ons gereedheid om billikheid en reg te laat geskied. Ek het verwys hoe Piet Retief gereed was om ‘n ooreenkoms aan te gaan. Ek voeg daarby dat ná daardie Moordkoppiegebeurtenis onderweg nog ‘n boodskap na Dingaan gestuur het dat as hy berou sou openbaar, die Voortrekkers nog vergewensgesind sou wees en die stryd nie tot die uiterste voer nie. Omdat die boodskap met minagting bejeën is, moes Bloedrivierslag plaasvind.

    Net so is die blanke vandag op allerlei wyse gereed om geregtigheid aan die Bantoe te laat geskied. Die beleid van Suid-Afrika is om regte aan die nie-blanke in sy eie gemeenskap en in sy eie gebied te gee waar dit pas.

    Weer is dit die blanke volk van Suid-Afrika wat die toestande ken, wat die enigste metode ontwerp het en volg wat vrede kan bring en geregtigheid aan almal bewys. Maar daarin word hy nie gesteun deur diegene wat van buite kom en hom nie begryp nie. Hulle het die verdwyning van die blankedom reeds aanvaar as onvermydelik. Wanneer gepraat word soos in Europa en ook deur sommige in ons eie land dat die oplossing van hierdie stryd geleë is in die samevoeging van alle mense – sogenaamde integrasie – begryp hulle nie dat dit nie eenwordings is nie. Al wat sal gebeur, is die vernietiging van die blankedom. Nie integrasie nie, maar disintegrasie – disintegrasie van die blankedom, van die beskawing en van die godsdiens wat ons geërf het, is die enigste gevolg. Daarom, al kan ons nie meer trek nie, sê ons net soos die Voortrekker van ouds: „Ons kan nog stry.” En ons sal veg, al sou ons moet ondergaan, maar ons sal vegtend bly vir die voortbestaan van die blanke aan die suidpunt van Afrika en die godsdiens wat aan hom gegee is om hier te versprei. En ons sal dit doen net soos hulle – man, vrou en kind. Ons sal veg vir ons bestaan en die wêreld moet dit weet. Ons kan nie anders nie. Ons staan soos ‘n Luther met die Hervorming, met die rug teen die muur. Ons veg nie om geld of goed nie. Ons veg vir die lewe van ons volk.

    Maar ons veg nie net vir ons volk nie. Ek is diep sielsoortuig dat ons veg vir die voortbestaan van die blanke beskawing. As ooit ‘n stryd tussen Oos en Wes moet kom, as Afrika ooit êrens sy gewig moet ingooi en dit ‘n beslissende gewig sal wees, dan sal Afrika se gewig aan die kant van die blanke en die Westerse nasies wees aleen as die idee waarvoor ons as ‘n volk staan, kan bly seëvier. Die blanke is aan die suidpunt van Afrika ‘n voorpos van die blanke beskawing en as sodanig die krag van die vegtende massa, vooruitgeskuif daar waar die eerste aanvalle moet kom. Ons weet ons is ‘n klein nasie maar ons weet ook dat ons in ons het die staal en die krag wat by Bloedrivier-triomf teweeggebring het. Wanneer jy in ‘n voorpos is en die gevaar sien wat kom, het jy die reg om boodskappe agtertoe te stuur na die leërs wat nog agter jou skuil. Daarom stuur ons die boodskap aan die wêreld daarbuite en sê ons vir hulle weer eens daar is net een redding vir die blankedom van die wêreld. Dit is dat blank en nie-blank in Afrika elkeen sy regte beoefen binne sy eie gebiede.

    Ons veg met alles wat in ons is want ons weet ons is ‘n nasie in wording. Ons weet ons is nog nie die mas halfpad op nie. Ons weet ons is nog maar fondamentlêers net soos die helde van Bloedrivier was. Ons weet ook ons is gewone mense met baie swakhede. Maar ons weet diegene wat geskiedenis maak soos hulle, en soos ons nou, geskiedenis maak van ‘n jong volk wat nog in die lente van sy lewe staan. As die fondamente reg gelê word, kan die mure sterk gebou word. En die fondamente wat ons lê, probeer ons heg en sekuur lê. Ons probeer deur die klei grawe tot op die gruis en die rots, want die nasie van Suid-Afrika moet bestaan tot in verre tye voorentoe. Daarom laat ons ons ook nie tot oorhaastigheid of tot paniek drywe nie. Daarom bou ons op die enigste rots van nasies, nl. die geloof en dieselfde reddende Hand wat Bloedrivier aan ons voorvaders besorg het. Ons bou in geloof, ons bou met krag want ons weet ons is nie doelloos hier geplant nie. Waarom sou driehonderd jaar gelede blankes na die suidpunt van Afrika gelei gewees het? Waarom was die helfte van die land onbeset, waarom kon klein getalle mense so vermeerder en versprei raak oor die hele land? Waarom kon hulle, nieteenstaande hulle Moordkrans en Italeni, ook hulle Bloedrivier verkry? Waarom kon hulle hul vryheidsooloë deurmaak en wen of verloor, tog as ‘n nasie bly voortbestaan? Waarom is dit alles aan ons gegee as daar nie ‘n doel is nie? En ek glo dit is die doel dat ons hier vir die Westerse beskawing en vir die Christelike godsdiens ‘n anker en ‘n stutpunt moet wees. Die Westerse beskawing en die blankedom deurloop ook ‘n krisis, al sien hulle dit nie raak nie. Nog nooit in die geskiedenis, in elk geval die geskiedenis van die afgelope tweeduisend jaar, was die blankedom se posisie so in gevaar soos nou nie. Nie in gevaar weens sy gebrek aan kennis of mag nie, maar in gevaar vanweë dit wat in sy eie gees omgaan: sy innerlike verswakking en verkeerde begrip van wat sy taak op aarde is. En daar moet soms klein groepe wees wat teenstand bied wat uitgebou word totdat dit die hele volkeredom omgryp.

    Miskien is dit die doel met ons dat ons hier aan die suidpunt geplant is, binne-in die plek van krisis, om van hierdie weerstandsgroep uit weer die oorwinning te laat uitbou waardeur alles wat opgebou is sedert die dae van Christus, sal staande bly tot heil van die ganse mensdom. Mag u krag hê, volk van Suid-Afrika, om die doel te dien waarvoor u hier gestel is!

  • Rasstellende aksie moet weg!

    Rasstellende aksie moet weg!

    danr2deur Dan Roodt

    [followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

    Hou van Dan Roodt se Facebookblad

    Ek is nie seker wie eerste van “rasstellende aksie” begin praat het nie. Dis egter een van daardie vindingryke Afrikaanse terme of woordspelinge wat die onreg van huidige regeringsbeleid baie goed uitdruk.

    Rasse word getel en rasse word in ‘n rangorde gestel. Swart is bo en blank is onder, amper soos die Bybelvers wat sê:

    Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en die wat laaste is, eerste. (Markus 10: 31)

    Soos ek ook verlede jaar opgemerk het:

    Uiteindelik kom alle vorme van regstellende aksie neer op anti-blanke beleid, met die uitsondering van Maleisië waar dit teen Chinese gerig is. In verskillende lande word dit verskillend gerasionaliseer.

    Hier by ons moet RA ‘n meerderheid teen mededinging vanaf die (blanke) minderheid beskerm. In die VSA weer moet die (swart) minderheid teen die voorlopig blanke meerderheid bevoordeel word. Ons weet egter dat die VSA-bevolking kantel en dat daar nou meer nie-blanke as blanke geboortes is, dus sal die argument daar ook mettertyd verander, nl. dat die meerderheid teen die minderheid beskerm moet word.

    Onderliggend aan rasstellende aksie is insgelyks ‘n stuk liberale rassisme, want blykbaar is swartes vanweë een of ander aangebore gebrek nie in staat om met blankes in die ekonomie mee te ding nie! Daarom moet hulle, hetsy as minderheid, hetsy as meerderheid, altyd teen blankes bevoordeel word.

    Dit geld veral die toelatingsvereistes op universiteit waar rasstellende aksie byna oral toegepas word sodat blanke studente van bepaalde studierigtings (veral die sogenaamde gesondheidswetenskappe) uitgesluit word ten gunste van swartes met veel mindere prestasie. Dus, sowel ekonomies as akademies is daar blykbaar ‘n implisiete erkenning dat swartes oor minder vermoëns as blankes beskik

    Voorstanders van rasstellende aksie verwys egter nooit na vermoëns of talent nie, aangesien hulle voorhou dat alle mense met dieselfde vermoëns of talente gebore word. Dis net omstandighede wat veroorsaak dat almal nie op gelyke vlak presteer nie, of dit nou daaroor gaan om ‘n onderskeiding vir wiskunde in matriek te behaal of ‘n Springbokrugbyspeler te word.

    Alle gebrek aan prestasie onder SA swartes word vaagweg aan “apartheid”, “die geskiedenis” of “vorige benadeling” toegeskryf sonder dat daar ooit na spesifieke voorbeelde van sodanige benadeling verwys word.

    Trouens, hierdie “kumulatiewe benadeling vanuit die verlede” is oorgeneem vanuit die marxistiese diskoers oor “kapitaalvorming” wat op grond van meerwaarde of die uitbuiting van arbeid plaasvind. Die swartman in Suid-Afrika beskik oor ‘n opgehoopte “benadelingskrediet” wat tans deur middel van rasstellende aksie “uitgekeer” word. Die kollektiewe blankedom is sy “debiteur” wat die volgende aan hom verskuldig is:

    • geld
    • grond
    • bevordering
    • posisies in die staatsdiens
    • aandele in openbare maatskappye
    • aandele in private maatskappye
    • ‘n buitensporige rol in die land se geskrewe geskiedenis
    • ‘n buitensporige rol in die letterkunde, musiek en kultuur van die land

    Waarskynlik is ek die enigste persoon wat telkens op die rol van die universiteite hamer as dit kom by die vestiging van ‘n marxistiese wêreldbeskouing in ons land kom. Wits en Kaapstad was op die voorpunt van die institusionalisering van marxistiese denke in die sestiger- en sewentigerjare, waarna dit na die res van die universiteite uitgebrei is. Die Afrikaanse universiteite is natuurlik eers onlangs tot die marxisme bekeer, maar getrou aan die aard van sommige Afrikaners hang hulle vandag kommunisme veel meer fanaties aan as wat hulle in die verlede die NP-beleid verdedig het.

    Jaarliks word ‘n aansienlike gedeelte van die land se hulpbronne en die opvoedingstelsel gebruik om die begrip van swart benadeling aan die publiek tuis te bring, met die geesteswetenskappe wat byna uitsluitlik aan dié doel gewy word.

    Suid-Afrika beskik tans oor baie min oorspronklike denke oor die geskiedenis, die ekonomie en etnisiteit, anders as in die verlede. Die Britse marxisme het in die SA universiteite sy grootste afsetgebied in die Engelssprekende wêreld gevind. Arthur Keppel-Jones, oor wie Leon Lemmer verlede week geskryf het, het reeds in die dertigerjare die Universiteit van Kaapstad as ‘n Britse instelling ervaar:

    Yes, my experience at the University of Cape Town first exposed me to liberal values and led me to question the fundamental values of the society in which I had grown up. I later learned that many of my friends who did not have a university education remained racists, while those who did like me became liberal. At UCT, I was taught by professors and lecturers most of whom had a British background. From my schooldays the British influence was a liberating one. Most of my lecturers were not tainted by South African racial prejudice.

    Teen die sestigerjare het die marxisme egter die Britse universiteite oorgeneem en moes sogenaamde “liberalisme” wyk voor sosialisme en kommunisme. Een van die sentrale argumente van die Britse marxisme, wat natuurlik klakkeloos deur ons koloniale kommuniste hier te lande oorgeneem is, is dat “ras” en “klas” in Suid-Afrika min of meer ooreenstem. Selfs waar blankes, veral Afrikaners, in myne of fabrieke gewerk het, is hulle nie deur die Britse marxiste as “ware werkers” beskou nie. Die ware werker of suiwer lid van die proletariaat was die swartman. Die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty het ook die gedagte van ‘n etniese federasie soortgelyk aan die Russiese stelsel wat in die laat vyftigerjare deur die Sowjet-akademie vir wetenskappe vir Suid-Afrika voorgestel is, verwerp. Die eenheidstaat met ‘n Britse kultuur en met Engels as enigste amptelike taal was al waarin Joe Slovo, Ruth First, Rusty Bernstein en ander geharde SA kommuniste belanggestel het.

    Die “nuwe Suid-Afrikaanse geskiedenis” van die afgelope dekade of twee is feitlik geheel en al deur kommuniste geskryf, of is op die marxistiese geskiedskrywing met sy hoofsetel in Londen, gegrond. Daardie geskiedenis beklemtoon die skade wat die swartman weens “apartheid en kapitalisme” gely het. Die feit dat die meeste winste in Londen opgehoop het, aangesien Britse beleggers nog altyd die room van ons myne en nywerheidsmaatskappye besit het, word gerieflikheidshalwe verswyg. Soos wat Stalin tegelyk kommunis én Russiese nasionalis was, is die meeste Britse marxiste sowel links as Brits nasionalisties of imperialisties gesind.

    Ons sien dus dat rasstellende aksie soos ons dit deesdae in Suid-Afrika teëkom, sy wortels in die Britse marxisme het. Daarom verteenwoordig RA ‘n variasie op die tema van die “diktatuur van die proletariaat”. Omdat die swartman na die mening van SA/Britse marxiste die enigste egte proletariër is, moet sy oorheersing op alle gebiede ter wille van die “totale transformasie van die maatskappy” gevestig word. Die uitsluiting van die blanke middelklas uit die ekonomie, tersiêre opvoeding en van landbougrond geskied soortgelyk aan die vervolging van die sogenaamde “koelakke” in die vroeë Sowjetunie. Oor die koelakke het Lenin gesê:

    Hulle is bloedsuiers, vampiere, plunderaars van die volk en uitbuiters wat hongersnood misbruik.

    Toe Stalin aan bewind kom, het hy besluit om ‘n “klasseoorlog” teen die koelakke te verklaar en het hom in 1930 só oor hulle uitgelaat:

    Ten einde die ‘koelakke’ as ‘n klas uit te knikker, moet die weerstand van dié klas in ‘n openlike geveg vernietig word en moet dit van die produktiewe bronne van sy bestaan en ontwikkeling ontneem word… Dit verteenwoordig ‘n wending na ‘n beleid van die eliminering van die koelakke as ‘n klas.

    Binne die Britse marxisme en sy siening oor Suid-Afrika – wat die heersiende siening in sowel ons universiteite as ons media geword het – is ras en klas uitwisselbaar. Rasstellende aksie is daarom, ewe seer as Stalin se beleid om “die koelakke te elimineer”, daarop gemik om die blanke middelkas te “elimineer”.

    Net soos wat kommunisme in die voormalige Sowjetunie ‘n misdaad teen die mensdom was, is rasstellende aksie in Suid-Afrika besig om in ‘n misdaad teen die mensdom te ontaard. Dis nodig dat ons dit oor en oor begin sê.

    Elke aspek van die propaganda oor rasstellende aksie, maar veral begrippe soos “witskuld”, “historiese skuld”, “vorige benadeling” en so meer, moet meedoënloos aan kritiek onderwerp word. “Transformasie” as sodanig, asook enige gewaande behoefte daaraan, moet in sy geheel verwerp word.

    Vandat Marx en Lenin in 1948 hul Kommunistiese Manifes gepubliseer het, en waarin hulle van die “spook van kommunisme oor Europa” praat, het kommuniste en marxiste nog altyd histeries oor verskille in rykdom, prestasie en geskiedkundige onreg tekere gegaan. In ons land is dit nie anders gesteld nie. Inteendeel, enige bevraagtekening van die “kumulatiewe witskuld” word luidkeels met krete van “rassisme” en “fascisme” begroet.

    Die meeste politieke partye soos die ANC, DA, Cope en ander ondersteun rasstellende aksie. Dis nodig dat rasstellende aksie finaal aan die kaak gestel word vir die stuk marxistiese drogredenasie wat dit is, ook tydens debatte in die huidige verkiesing. Voorstanders daarvan behoort ook die eerlikheid te hê om die klassieke kommunistiese terme soos “diktatuur van die proletariaat” te gebruik as hulle hul argumente in die openbaar stel, pleks van mooiklinkende Amerikaanse eufemismes soos “affirmative action” wat eintlik sinneloos is.

    Om die rasse te tel (kwotas) of bokant mekaar te stel, mag nie langer geduld word nie.

    Ondersteun hierdie blad deur by praag aan te sluit.

  • Skuldstilte bevry niemand nie

    Die deelnemers aan die sogenaamde “debat” wat in 2011 afgeskop het onder leiding van Samantha Vice en Pierre De Vos (en onlangs ‘n nuwe inspuiting verkry het deur Gillian Schutte se tirade) bevind hulself in ‘n onbenydenswaardige posisie. Met elke blanke wat op die openbare verhoog spring om aan te dring dat blankes hulle plek moet ken, word die ruimte vir ‘n opregte gesprek tussen beide wit- en swartmense wat die reëls van ‘n regverdige gesprek respekteer, kleiner. Dit is egter nie al wat opvallend is van die linkse aanmaning tot ‘n “witskuldstilte” nie.

    ‘n Mens kan nie verhelp om te onthou dat dit amper twintig jaar is ná 1994 nie. Waarom is dit dan juis nóú dat daar soveel woedende stemme opgaan dat blankes eerder stil-stil van die openbare toneel moet verdwyn ? Waar was hierdie soort stemme in die Mandela-jare?

    Soos met die meeste dinge in die komplekse land wat Suid-Afrika nou eenmaal is, steek daar meer daaragter as blote gewetenswroeging. Die vraag na groter blanke boetedoening vorm ook deel van ‘n algemener oproep tot “dekolonisering van die bewusssyn”, die bevryding van die voormalige slagoffer van die denkpatrone en standaarde wat deur die onderdrukker aan hom/haar opgelê is. Die term kom oorspronklik van die antikoloniale aktiviste Franz Fanon en Paulo Freire af, wat betoog dat daar slegs sprake van ware vryheid kan wees as die slagoffers van kolonialisme die koloniale greep op hulle verbeelding kan verbreek. Fanon se beroemde frase vir die koloniale slagoffer is The Wretched of the Earth, die vervloektes van die aarde (oorspronklike titel: Les damnés de la terre). Niemand kan egter vry of gelukkig wees as hy of sy nie ook in hulle koppe vry is nie, en die koloniale tydperk is gou gevolg deur die die allesomvattende, VSA-gedrewe ideologie van die vrye mark. Die agressiewe kapitalisme van hierdie era, veral ná die ineenstorting van sy enigste ideologiese mededinger, kommunisme, het tot ‘n hernieude greep op die Afrika-bewussyn gelei, asook ‘n groter gaping tussen ryk en arm as ooit tevore. Met die krisis waarin kapitalisme sigself tans bevind ná die groot skokke van 2008, het dinge ook nie juis vir die armes verbeter nie. Inteendeel. Om daardie rede is dit nie verrassend dat ‘n mens weer woorde soos “dekolonisering” en “sosialisme” hoor nie. (Ek het vroeër vanjaar ‘n T-hemp by ‘n linkse boekfees in Londen gesien met die uitdagende slagspreuk “Marx was Right!”)

    Een van die onrusbarendste elemente van ons tyd is dat die Groot Oplossings wat mense altyd summier as Reg beskou het– die triomf van kapitalisme internasionaal, die oorwinning van die ANC by die stembus in 1994 plaaslik – nou self krake begin toon. Wat nou? Hoe kan ‘n mens meer regverdigheid as die triomf van die Regverdiges self verwag?

    Gedurende die apartheidsjare het anti-apartheidsaktiviste emosioneel en intellektueel baie belê in die sogenaamde “struggle”. Diegene wat nie kommuniste was nie, het ‘n moderne liberale staat geskoei op die klassieke Westerse model van individuele regte en ‘n regstaat ondersteun. Volgens hierdie model sou toevallige feite soos ras, kleur, geslag, seksuele oriëntasie, religieuse of kultuurbande ondergeskik wees aan die aansprake van die individu. Alhoewel ons Grondwet natuurlik baie meer kompleks is as die meeste soortgelyke geskrifte, is dit basies die gees waarin dit geskryf is. Vir die meeste wit anti-apartheidsaktiviste, soos Nadine Gordimer, Max du Preez en André P. Brink is dit vanselfsprekende, voor-die-hand-liggende beginsels wat net stommerike soos die apartheidsregering nie kon insien nie.

    Vandag word oud-aktiviste en linkse denkers egter met ‘n werklikheid gekonfronteer wat nie mág wees nie: ‘n regering wat al hoe meer ongeërg staan ten opsigte van waardes wat hy veronderstel is om te onderskryf (bv. persvryheid) en ‘n onontkenbare staatsverval.

    Wat die ergste van alles is, is die ooreenkomste tussen die huidige situasie en die voëlverskrikker wat deur die vorige regering geskep is om die wit bevolking mee bang te maak: die verval van die pad- en elektrisiteitsnetwerke, grootskaalse korrupsie en wegholmisdaad. As ‘n mens ter wille van balans en regverdigheid nog die persoonlike gedrag van president Jacob Zuma probeer verskoon, kan die beste wil ter wêreld nie die belaglikheid van byvoorbeeld die skoolboekverbrandingskandaal rasionaliseer nie. Die ergste daarvan is dat laasgenoemde nie eers spreek van die boosheid van die Nazi’s nie, maar van pure onbeholpenheid. Voltaire het reeds geweet dat as mens iemand werklik wil vernietig moet jy hom nie net opponeer nie, jy moet hom belaglik maak.

    Die tragedie vir swartmense in Suid-Afrika ná 1994 is nie net die dodelike gaping tussen ryk en arm nie – wat reeds ernstig genoeg is nie – maar die groeiende kiem van ‘n ewe dodelike minderwaardigheidskompleks. ‘n Mens kan baie dinge rasionaliseer, wegpraat of herinterpreteer, maar dinge soos die verval van Zimbabwe – eens Afrika se broodmandjie – die onderwyskrisis en die korrupsie van mense wat veronderstel is om die beginsels van ubuntu toe te pas, laat tog ‘n merk op die Afrika-psige. En nie net op swartmense nie, ook op diegene wat nog altyd vir hulle baklei het.

    Daar is geen groter woede as dié van ‘n teleurgestelde rewolusionêr nie. Daarom, eerder as om ten minste ván die oorsake van die groeiende vervreemding tussen wit en swart in die optrede van die regerende party te soek, móét die skuldige die ou sondebok, blanke eiegeregtigheid wees. Die blanke Suid-Afrikaner, veral die Afrikaner, is ‘n steeds “aanvaarbare” vyand, nie net binne die Suid-Afrikaanse verband nie, maar ook internasionaal: die rassistiese blanke maak ‘n ideale skurk vir Nordiese misdaadskrywers.  

    Wat die anti-wit aktiviste egter nie besef nie, is dat die blanke greep op die swart bewussyn nie verbreek sal word al sou alle blankes môre selfmoord pleeg nie. Die voortgesette aandrang op skuldbekentenis deur witmense versterk eerder die impak wat witmense op die swart bewussyn het: alles wat swartmense ís, is totaal en al gekoppel aan wat blankes doen. Afrika sal egter eers finaal die koloniale juk afgooi as hy ophou om te reageer en begin handel (optree). Dit wil sê, om werklik oordeelkundige besluite te neem wat gerespekteer kan word sonder dat dit nodig is om as teenvoeter blankes verdag te maak. Nietzsche het reeds daarop gewys dat die kleingeestige optrede van diegene wat minderwaardig of gegriefd voel, eerder hulle minderwaardigheid bewys as om dit uit te daag.

    Die ware uitdaging aan linkse en swart bevrydingsdenkers is om ontslae te raak van hulle afhanklikheid van die “bose blanke”, en ‘n werklike bewonderenswaardige bestel te skep deur waardige optrede. Daar moet lewe wees ná Mandela. Slegs dan kan daar sprake van ware dekolonisering wees. Sou hierdie pogings faal, sal Afrika met die ergste moontlike lot gekonfronteer word: die moontlikheid dat sy onderdrukkers en uitbuiters ‘n punt beet gehad het.

    Dr. Louise Mabille is dosent in die Departement Filosofie aan die Universiteit van Pretoria. Hierdie opstel verteenwoordig haar eie standpunt en nie dié van die Department Filosofie, of enige ander liggaam van die Universiteit van Pretoria nie.

    Александр Фильчаков