Gelyker as jy

deur Karel Combrinck

Van al die dooie katte wat deur die Franse Rewolusie aan ons nagelaat is, is die konsep van gelykheid een van die onwelriekendste. ‘n Groot aantal dooie mense is ook nagelaat deur daardie glorieryke gebeurtenis, maar kom ons bepaal ons vireers by hierdie besondere kat.

Ons word daagliks gebombardeer met gelykheidspropaganda van allerlei aard, dermate dat ons net kan hoop, in die woorde van Shakespeare, that surfeit the appetite may sicken and so die.

Regstellende aksie, Swart ekonomiese bemagtiging, Transformasie, Positiewe diskriminasie, alles eufemismes vir omgekeerde rassisme en ‘n program om wittes te tap en uit te mergel. Asof daar iets soos « positiewe » diskriminasie kan wees. Hoekom dan nie sommer positiewe diefstal, positiewe moord, positiewe verkragting, positiewe onbevoegdheid en positiewe korrupsie ook nie ?

In die nastrewe van «gelykheid» word witmense in Amerika, daardie vesting van vryheid, asook in Suid­Afrika (sy klakkelose skoothondjie) universiteitstoelating geweier ten gunste van swartes; dít natuurlik sonder inagname van verdienste. Van die feit dat hierdie soort praktyk op die langeduur glad nie in die belang van swartes is nie, eerder die teendeel, is die ideoloë skynbaar salig onbewus.

Onthou u nog die school busing in die VSA ? Gedurende die sewentiger- en tagtigerjare en selfs nou nog, word skoolkinders oral in Amerika soos troppe ganse met busse aangery van bakboord na stuurboord na swart skole sodat almal «gelyk» kan wees. Dis natuurlik ‘n gesonde beginsel van onderwysadministrasie om kinders te laat skoolgaan in die skool die naaste aan hulle woonplek.

Nog beter sou wees om hulle te huisves in die skool van hulle keuse. Maar nie in Amerika nie, die sg «mees vrye» land. Vry, maar die willose slaaf van ideologie.

Om besorg te wees oor ons minder bevoorregte broers en iets daaromtrent te doen, is goeie Christenmoraliteit. Die minder bevoorregte broers hoef natuurlik nie noodwendig swart, soos baie weldoeners skynbaar dink, te wees nie. Die einddoel hoef ook nie te wees om almal gelyk te maak nie. In die hande van politici, ideologies gedrewe akademici en joernaliste, met hulle betaalmeesters in die finansiële wêreld, word sulke besorgdhede snel verwring tot sinisme, eiebelang en geveinsdheid. Om geld uit staatsfondse in die naam van gelykheid en geregtigheid te pomp na die sakke van die massas in die derde wêreld is ‘n handige manier om markte te skep vir verbruikersgoedere en sodoende die rykes verder te verryk ten koste van die belastingbetaler. Iewers langs die pad het filantropiese en handelsoorwegings deurmekaar begin loop. Die «regte» ding word gedoen ten einde daaruit wins te maak.

Daar is diegene wat ons graag wil laat glo dat die ideologie van gelykheid christelik van oorsprong is. Christus het wel gesê : «Verkoop alles wat jy het, gee dit vir die armes en volg my». Die belangrike punt hier is egter nie «gee vir die armes» nie, maar «volg my». Hy het wel bedelaars en kreupeles liefgehad (of moet ons liewer die eufemismes gebruik?) en so ook die rykes en die armes en die slegte vrou. Hy het selfs die belastinggaarder liefgehad en dit wil gedoen wees! Daar is egter geen aanduiding dat Hy ‘n soort sosiale rewolusie wou ontketen en almal wou omvorm tot ‘n amorfe, massa insekte nie. Het Hy dan nie self êrens gesê nie, «Die armes sal julle altyd by julle hê». Feite van die lewe! Daar is sterk aanduidings vandag dat die kerke eerder ‘n blaadjie uit die boek van die gelykheids- sosiale rewolusie wil neem as andersom. Vir die Christen is die ideale koninkryk waar ons almal voor God gelyk sal wees, in die hiernamaals. Vir die sosiale rewolusionêr en die marxis is daar geen hiernamaals nie en moet die ideale koninkryk hier en nou geskep word. Dis ‘n verskil wat nooit uit die oog verloor moet word nie.

Daar is in elk geval geen aanduiding dat grootboetieregerings die rol van indiwidue moes oorneem en naasteliefde namens hulle moes beoefen nie. Naasteliefde en omgee vir ander is streng beperk tot verhoudings tussen indiwidue en sulke verantwoordelikhede kan nie aan die staat gedelegeer word nie. Die oogmerk van die Christelike leer is nie om aan indiwidue ‘n voorwendsel te verleen om hulle hande in onskuld te was en hulle verantwoordelikhede aan die staat oor te maak nie.

Ons weet almal wat geword het van die poging om ‘n gelyke staatsoorheerste samelewing in die Sowjetunie tot stand te bring: Geen vryheid, geen ekonomiese vooruitgang, hongersnood, korrupsie, verdrukking, miljoene dooies. Die kommunisties geëinspireerde stelsel in Suid­-Afrika lyk vasberade om hierdie katastrofiese eksperiment voort te sit, maar minstens is hulle geslepe genoeg om ‘n mate van ekonomiese vryheid toe te laat vir ‘n handjie vol skeppende en produktiewe mense. Daar moet ten slotte ‘n belastingkoei wees om te melk sodat die vetkatte kan floreer en ‘n regter sewe jaar lank sy volle salaris kan trek sonder om ‘n vinger te verroer en ‘n hoof van die SABC ‘n salaris van 2,5 miljoen rand kan «verdien» sonder matriek en sodat ministers plase verniet kan kry waar hulle diere van verwaarlosing vrek.

Agter die rookskerm van stories oor die regstelling van «ongeregtighede» van die verlede, dring «ontluikende» lande knaend daarop aan dat ontwikkelde lande hulle ekonomieë moet rugsteun ten einde ongelykhede tussen die eerste en die derde wêreld uit te stryk. (Lees: pasellas uit te deel aan die vetkat- regerende elite.) Tog is daar geen groter ongelykheid as binne hierdie «ontluikende» lande self nie. Klein klieks met politieke mag in die hande word fabelagtig ryk binne die bestek van enkele jare soos sedert 1994 in Suid­Afrika gebeur het, terwyl die massas, wat hulle so histeries op die hande dra, hoegenaamd nie «ontluik» nie en trouens steeds net nog armer word. Die vooruitsig dat die demokratiese utopie die towermiddel sou wees om die verwagtings van die massas te bevredig, was toe ook maar ‘n mite.

In hulle soeke na gelykheid, strewe die ideoloë konsekwent na gemiddeldheid (mediocrity). Uitnemendheid is byna ‘n vloekwoord. In sommige lande is daar agitasie dat skoolkinders nie meer eksamens moet skryf nie en wanneer hulle dan wel eksamens skryf, moet die uitslae nie bekend gemaak word nie omdat dit «ongelykheid» in die hand sal werk ; ‘n sprekende voorbeeld van die neiging van ideoloë om wanneer die feite nie met hulle obsessies strook nie, die feite «reg» te maak, te verwring of toe te smeer.

Uiteindelik bly die ideologie van «gelykheid» en «gelykmaking», beoefen as as ‘n soort van religie, net maar die doodste van alle katte.

Zille belowe BSEB, grondhervorming en verhoogde toelaes

blueberetsDie DA het Sondag sy ondersteuners die versekering gegee dat die party nie hul swart rassebeleid sal laat vaar nie.

Tydens die bekendstelling van hul verkiesingsmanifes in Polokwane het die DA-leier, Helen Zille gesê hulle ondersteun Breë Swart Ekonomiese Bemagtiging (BSEB) ten volle omdat die apartheidsregering miljoene swartes toegang tot ekonomiese geleenthede ontneem het en dat die nalatenskap voortduur.

Daarme het die DA alle bespiegelinge oor verdeeldheid binne die party oor BSEB te ruste gelê.

Sy het gewaarsku dat BSEB-geleenthede vir alle swartes moet oop wees en nie net ‘n paar met politieke konneksies nie.

Zille het gesê hulle sal nie wegdoen met maatskaplike toelaes nie en dit selfs verhoog met aansporingstoelaes.

Sy het gesê 80% van die R2 miljard tenderbegroting van die Wes-Kaap is aan swart ondernemings in die vorige finansiële jaar toegeken.

Zille het oor die grondkwessie gesê haar party is verbind tot grondhervorming en sal R10 miljard belê om die grondhervormingsproses te versnel.

Zille, wat tesame met parlementêre leier Lindiwe Mazibuko en ander uitvoerende raadslede van die party, reeds twee jaar lank herhaaldelik in die openbaar verklaar dat die DA 30% van die stemme sal inoes, het vroeër in ‘n twiet teruggekrabbel en gesê dit is nie meer ‘n doelwit nie.

 

Swart Koukus druk wit DA-leiers oor BSEB

Vasgevang in haar eie rasseteenstrydighede
Vasgevang in haar eie rasseteenstrydighede

Die Demokratiese Alliansie se beleidskonferensie sal vandag in Kaapstad begin te midde van groot spanning oor BSEB (Breë Swart Ekonomiese Bemagtiging).

Groot verwarring oor die DA se beleid oor regstellende aksie heers binne en buite die party. Die DA het verlede week in die Nasionale Wetgewer ten gunste van die Wysigingswetsontwerp op Gelyke Geleenthede gestem, net om daarteen te stem in die Nasionale Raad van Provinsies.

Khume Ramulifho, die DA se Suid- Gautengse streeksvoorsitter, het gesê daar is beleidsrigtings wat aanpassing verg, insluitend dié wat met grondhervorming, ekonomiese bemagtiging en regstelling te make het.

Die party se “Swart Koukus” voel die beleid word deur ‘n paar wittes bepaal en nie deur die mense op grondvlak nie. Hulle voel ook dat sulke rigtings nie bindend behoort te wees nie.

‘n Ander lid van die Koukus sê hy ondersteun [die BSEB-wetsontwerpe] want hy “is ‘n slagoffer” in die DA. “Ek ondersteun die DA omdat ek gedink het hulle is bewus van die uitdaging,” het hy gesê.

“Ons [swartes] is bewus van die onreg van die verlede. Jou gewete kan dus nie die feit ontken dat ons iets moet doen vandag as deel van die regstelling nie.

Masizole Mnqasela, ‘n LP en federale lid wat Khayelitsha verteenwoordig sê: “Mense moet toegelaat word om individueel te stem, gelei deur hul eie gewete oor hierdie wetsontwerpe. Ons moet nie ‘n partyposisie hê daaroor nie, want ek word nie goed verteenwoordig wanneer een sê dat hy diensbillikheid ondersteun nie.”

Mnqasela wil ook dat die DA sy energie fokus op BSEB.

“Ons het nog baie min swart miljoenêrs, in teenstelling met wit miljoenêrs, so ons moet nie bekommer daaroor dat swartes miljoenêrs word nie. Hoekom moet ons bekommerd wees wanneer ‘n swart persoon ryk word?”

Hy beskou BSEB as die “beenmurg” wat sal bepaal of die DA in die toekoms sal groei of vergaan.

Twintig beleidsrigtings sal bespreek word. Dit wissel van onderwys en ekonomiese groei tot gesondheid.

Tweehonderd afgevaardigdes van regdeur die land sal die konferensie bywoon.

Die federale voorsitter, Wilmot James sê die beleidskonferensie moet sy standpunt oor BSEB opklaar.