Niks nuuts: ANC, EFF en DA is SA se gewildste partye

Die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) het in Lethabong naby Rustenburg al vroeg die oorwinningsvieringe Woensdag afgeskop, skaars na die sluiting van die stembusse om 19:00.

‘n Konvooi van motors met die EFF-vlae versier het stadig deur die dorp gery, met partylede wat al singende hul vuiste in die lug gehou het ter viering van ‘n verwagte oorwinning.

Die EFF is vol vertroue dat hulle in Wyke 27 sowel as 28 van die Rustenburg Plaaslike Munisipaliteit, die ANC onttroon het.

Wyk 28 is deur die voormalige ANC-jeugliga se takvoorsitter, Pako Molatlhegi beman, wat as ‘n onafhanklike kandidaat in die 2011 plaaslike regeringsverkiesing gestaan het. Hy was die EFF kandidaat vir hierdie pos.

Die ANC se beheer van Gauteng se drie metrorade is verwater. Met 42 persent van die stemme wat landwyd getel is, toon syfers dat die DA in Tshwane, Johannesburg en Ekurhuleni voorloop. As Soweto se stemme bygetel word, kan die prentjie egter vinnig verander.

Die WNNR voorspel dat die ANC in al drie die metrorade sal wen. Die EFF is op die oomblik in die derde plek in al drie die metrorade.

Tientalle kiesbeamptes in Gauteng is ontevrede omdat amptenare by die provinsiale uitslaesentrum in Aucklandpark te lank neem om hulle te help wanneer hulle hul stempunte se uitslae wil inhandig.

Die beamptes beweer hulle het ure lank gewag om gehelp te word. Die beamptes het hul uitslae neergegooi en uitgestap.

Die Verkiesingskommissie het nog nie op die voorval gereageer nie. Dit is onbekend hoe dit die uitslae in Gauteng gaan raak.

Die ANC loop landwyd ver voor met 50%, teenoor die DA se 35% en die EFF wat 6% het. Die ANC het tot dusver meer as 2 miljoen van die stemme teenoor die DA se 1,5 miljoen.

Die DA het die Kouga-munisipaliteit in die Oos-Kaap gewen. Die party het 17 wyke ingepalm teenoor die ANC se 12.

Die EFF kon geen wyke in palm nie. Kouga smelt saam met ander munisipaliteite in die gebied om ‘n nuwe munisipaliteit te vorm.

Die ANC se steun het tot 40 persent gedaal in dié bruin gebied.

Die DA het Donderdagoggend verklaar dat hulle die Midvaal-munisipaliteit in Gauteng behou.

Volgens die jongste telling, met 58% van stemlokale getel, staan die DA tans op 50,49%.

Die ANC is op 39,57%, terwyl die EFF 5.98% van die stemme gekry het. Die Vryheidsfront Plus is ver agter met 3,48%.

DA-LP Makashule Gana het op Twitter aangekondig dat die party die munisipaliteit behou het.

Midvaal is die enigste DA-munisipaliteit in Gauteng.

Geregistreerde kiesers het gisteraand nog kort voordat stempunte om 19:00 gesluit het, hul kruisies getrek.

In die Vrystaat het sowat 44% van geregistreerde kiesers hulle kruisies gaan trek, ‘n afname in vergelyking met sowat 56% in die vorige munisipale verkiesing.

Die Verkiesingskommissie se provinsiale kiesbeampte, Jabulani Tshabalala sê die finale uitslae word ongeveer vyfuur vanmiddag verwag.

Nkandla-verslag teen BRICS gemik

Dr Dan Roodt
Dr Dan Roodt

Suid-Afrika se “veiligheidsgroepering”, wat die polisie, weermag, openbare werke en staatsveiligheid insluit, het Die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela se bevinding oor Nkandla verwelkom.

Die “bevinding” is die jongste Anglo-Amerikaanse aanslag teen BRICS se invloed in Suid-Afrika en teen Jacob Zuma wat hulle nie as ‘n betroubare bondgenoot beskou nie.

Madonsela se verslag het glo bevind dat daar wanadministrasie, bestuurstekorte en die uitbuiting binne die voorsieningsketting was.

Die DA, wat soos AgangSA deur skaduagtige buitelandse miljardêrs befonds word, gaan Donderdag strafregtelike aanklagte by die Nkandla-polisiestasie indien na die bekendstelling van die Openbare Beskermer se verslag oor die wanbesteding en swak bestuur.

Die afvaardiging sal die DA-woordvoerder, Musi Miamane en die DA se federale voorsitter, Wilmot James, insluit. Die DA se Parlementêre leier, Lindiwe Mazibuko, het vroeër gesê hulle is op die punt om met die prosedure te begin om President Jacob Zuma in ‘n staat van beskuldiging te plaas.

Die eensydige berigte in die hoofstroompers oor Nkandla is ‘n duidelike bewys dat die mediamonopolie Anglo-Amerikaanse belange verteenwoordig en nie belangstel in gebalanseerde nuusdekking nie.

Die wapenskandaaldiefstal waar Britse en Duitse agente hul sakke volgestop het met belastingbetalers se geld, beloop miljarde meer as Nkandla, maar die swendelaars sal waarskynlik nooit voor stok gekry word nie.

Die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, het in haar verslag bevind dat Zuma en sy familie onregmatig voordeel getrek het uit die veiligheidsopgraderings aan die president se privaatwoning.

Die DA het nie kommentaar gelewer op die feit dat KwaZulu-Natal se finansies waarskynlik die gesondste in die land is nie, in teenstelling met plekke soos Midvaal of die Oos-Kaap waar die DA hoop om hul invloed uit te brei nie.

Madonsela hou vol met onbenullighede soos die beeskraal, hoenderhok, swembad en besoekers se ontvangsgebied wat nie deel was van die vereiste veiligheidsmaatreëls nie.

Die Presidensie sê intussen die Openbare Beskermer se verslag oor Nkandla bevestig die belangrikheid van Hoofstuk Nege-instellings om die demokrasie te versterk.

‘n Woordvoerder van die Presidensie, Mac Maharaj, sê Zuma was deurlopend bekommerd oor bewerings van wanpraktyke in verband met aankope in die Nkandla-projek en het die Spesiale Ondersoek-eenheid opdrag gegee om die berigte te ondersoek.

Die regering het vroeër sy standpunt herhaal dat alle installasies by die President se privaatwoning noodsaaklike veiligheidsopgraderings was.

Die Front Nasionaal het Woensdag ‘n beroep gedoen vir groter gelykheid tussen partye om ‘n vry, regverdig en geloofwaardige verkiesing te verseker.

Dr Dan Roodt, die party se mediaverteenwoordiger, het na sy inleidende woorde, oorgeslaan na Afrikaans en die media gevra om alle partye ‘n gelyke kans te gee in hul dekking.

Die FN was van die partye wat die Gedragskode vir die verkiesing onderteken het wat vra vir politieke verdraagsaamheid.

Dr Roodt het ook melding gemaak van die belangrike gebeure in die Krim waar die skiereiland dié week ‘n eensydige onafhanklikheidsverklaring uitgereik het.

Talle partye het gesê die Gedragskode moet aangepas word. Mpho Ramakatsa van die EFF sê hulle wil hê die verpligte OVK deposito om aan die verkiesing deel te neem moet hersien word.

Dit volg nadat hulle hofaansoek om die deposito ongrondwetlik te laat verklaar van die hand gewys is. Die EFF wil ook hê dat die SAUK regverdige mediadekking aan alle partye moet gee.

Die VF+ het by monde van Pieter Mulder ironiese grappe uit sy voorbereide aflewering gelees. Hy het in Engels gepraat en gesê: “Politics is about relatives. When you win, the relatives come.” Die VF+ word deur die Mulderfamilie bedryf, met slegs Mulders in die topposisies.

Mulder het ook nie geskroom om blatant te lieg nie, en die gehoor verseker dat die party steeds groei, nadat die VF+ reeds in drie agtereenvolgende verkiesings kwaai stemme verloor het.

 

Inlywing van Midvaal en Emfuleni in nuwe metro ’n ramp vir inwoners

midvaal“Die beoogde inlywing van die Midvaal-munisipaliteit in Meyerton en die Emfuleni-munisipaliteit wat Vereeniging en Vanderbijlpark insluit in ‘n nuwe metroraad sowel as die verskuiwing van Heidelberg-Lesedi na die Ekurhuleni-metro aan die Oos-Rand, stuur af op ‘n diensleweringsramp, sê mnr. Jaco Mulder, VF Plus-LPW vir Gauteng.

Die blote herverdeling van hulpbronne sal opsigself geen welvaart en verbeterde dienslewering in die Vaaldriehoek teweegbring nie, maar wel neerkom op die herverdeling van armoede.  Die streek benodig sterk leierskap en kundige amptenare wat dienslewering kan verseker.

Die geïntegreerde ontwikkelingsplanne van al drie plaaslike owerhede ter sprake maak nie vir so samesmelting voorsiening nie en die reeds bankrot Emfuleni-munisipaliteit se skuldlas sal deur Midvaal se belastingbetalers gedra moet word.

Verder is ‘n enkele openbare vergadering met geen in diepte inligting oor begrotings en die invloed op geïntegreerde ontwikkelingsplanne nie, totaal onvoldoende om as genoegsame openbare deelname gereken te word.

Die VF Plus het reeds op 17 April 2013 by die afbakeningsraad appèl aangeteken nadat openbare verhore tussen 7 en 11 April 2013 gehou is binne die twee munisipale gebiede en verskeie ander sentra in Suid-Afrika.  Die voorsitter van die munisipale afbakeningsraad, mnr. LJ Malhango, het die kennisgewing tot openbare verhore eers op 3 April 2013 onderteken – minder as 6 dae voordat die openbare verhore sou plaasvind en die publieke kennisgewings in nuusblaaie is so laat as op Sondag 7 April 2013 gepubliseer.

Die appèl is geskoei op die gees van die Suid-Afrikaanse grondwet soos vervat in artikel 33 wat in geen onduidelike terme die reg op billike administratiewe aksie reël in paragraaf 1, 2 en 3 en die Wet op die Bevordering van Billike Administrasie “PAJA”, wet 3 van 2000.

Die VF Plus is oortuig dat die munisipale afbakeningsraad lank gelede reeds besluit het om voort te gaan met die stap en dat openbare vergaderings weinig invloed sou hê op die besluit.  Die VF Plus het gedurende 2012 reeds met die munisipale afbakeningsraad in verbinding getree om duidelikheid te kry oor die aangeleentheid en het ook voorleggings aan die afbakeningsraad gemaak sonder enige reaksie.

‘n Aanlynpetisie wat die party geloods het by www.mymunisipaliteit.org.za  om ‘n stem teen die beoogde samesmelting te monster, is deur duisende mense onderteken. Mulder het ‘n beroep op die publiek gedoen om die VF Plus en alle betrokke instansies te steun om die totstandkoming van die Metro te stuit, selfs al lei dit tot ‘n regsgeding.

DA verbaas oor vyandigheid by Fort Hare

forthareDie DA-leier Helen Zille het die ANC Jeugliga en die studenteorganisasie Sasco van intimidasie beskuldig ná haar toespraak by die Fort Hare Universiteit deur uitjouery en ‘n kragonderbreking onderbreek is.

Dit is nie duidelik wat die kragonderbreking veroorsaak het nie.

Zille is deur die DA Studenteorganisasie genooi om in die aanloop tot die studenteraadsverkiesing by die Universiteit te praat.

Sy het na afloop van die onderbreking aan die SAUK gekla dat die stryd om demokrasie in die land gedaal het tot “onverdraagsaamheid en ondemokratiese gedrag”. Die DA het egter self in Midvaal asook Kaapstad alle Afrikanersimbole laat verwyder om hul eie onverdraagsaamheid teenoor Afrikaners te laat botvier.

Die party het twee maande gelede ‘n Xhosa-koning oorreed om aan te sluit in die hoop om in die Oos-Kaap stemme te trek. Dié openlike vyandigheid van die studente moes vir Zille ‘n verrassing gewees het aangesien sy spog dat sy en ander Litouers vir die ANC se bewindsoorname verantwoordelik is.

Die president van Sasco by Fort Hare, Mawande Njeza het ontken dat hulle vir die kragonderbreking verantwoordelik was. Hy sê Sasco kry die skuld vir alles wat verkeerd gaan op die kampus.

DA gaan Midvaal verloor

Nast het Midvaal doelgerig verengels
Nast het Midvaal doelgerig verengels

Goedkeuring vir die samesmelting van die Midvaal en Emfuleni munisipaliteite in die Vaaldriehoek in ‘n enkele metroraad sal teen die einde van die week afgehandel wees. Die samesmelting sal ook die Sedibeng Distriksraad insluit.

Die Munisipale Afbakeningsraad gaan die saak finaliseer na uitgebreide konsultasies plaasgevind het.

Midvaal is die enigste munisipaliteit in Gauteng wat reeds 12 jaar lank deur die DA beheer word, maar gaan gebuk onder bewerings van korrupsie en wanbestuur wat deur die partyleier Helen Zille geïgnoreer word.

Nast was volgens inligting ook betrokke by die naamsverandering van ‘n oorwegend Afrikaanse skool, en het met stappe begin om, soortgelyk soos ANC-beheerde munisipaliteite doen, die name van verskeie strate en plekke te verander. – See more at: http://praag.co.za/?p=15598#sthash.eI53Xo5V.dpuf

Die burgemeester, Timothy Nast, het onlangs bedank om aan te sluit by die ANC se beplanningsliggaam in Gauteng.

Nast was betrokke by die naamsverandering van ‘n oorwegend Afrikaanse skool, en het met stappe begin om, soortgelyk soos ANC-beheerde munisipaliteite doen, die Afrikaanse name van verskeie strate en plekke te verander.

Die party het belowe om te veg teen die voorgestelde samesmelting.

Nast was volgens inligting ook betrokke by die naamsverandering van ‘n oorwegend Afrikaanse skool, en het met stappe begin om, soortgelyk soos ANC-beheerde munisipaliteite doen, die name van verskeie strate en plekke te verander. – See more at: http://praag.co.za/?p=15598#sthash.eI53Xo5V.dpuf

Die hoofsweep van die Midvaal munisipaliteit, Dennis Ryder sê hulle is teleurgesteld oor die nuus dat daar voortgegaan word met die artikel 21-kennisgewing wat die volgende stap is om ‘n metro tussen Midvaal en Emfuleni tot stand te bring.

Hy sê om die twee gebiede in ‘n metro te verenig voldoen nie aan die kriteria ingevolge wetgewing nie.

Midvaal-burgemeester ‘vat die pad’ onder wolk van korrupsie

corruptionHermène Koorts van COPE sê alhoewel Timothy Nast, Midvaal se DA-burgemeester wat pas bedank het, ‘n briljante man is, kon hy nie staande bly ​​teen diegene wat hom aan die mag geplaas het nie.

Midvaal se burgemeester het intussen “die pad gevat” terwyl ‘n wolk van beweerde korrupsie oor die party hang.

Die Congress of the People (Cope) se verteenwoordiger by die Gautengse Provinsiale Wetgewer sê sy is nie verras deur die bedanking van Midvaal–burgemeester, mnr Timothy Nast nie. Hy het glo intussen ‘n pos by die Gautengse Beplanningskommissie aanvaar.

COPE se woordvoerder, LPW Hermène Koorts sê die nuus het nie gekom as ‘n skok vir haar nie, want gerugte dat hy onder kwaai druk verkeer weens die beweerde korrupsie in Midvaal, sirkuleer al maande lank.

“Die rede vir die bedanking is duidelik. Midvaal–munisipaliteit word deur verskeie bewerings van korrupte amptenare in die verlede geteister, en die Openbare Beskermer het ook verwys na korrupte optrede binne die munisipaliteit van die Demokratiese Alliansie (DA), in beheer in Midvaal. Hoewel dienslewering in Midvaal aanvaarbaar is, het die DA nie opgetree toe DA–lede die beweerde korrupsie jare gelede aan beide die provinsiale en nasionale leiers onthul het nie. In werklikheid, het hulle probeer om die feite weg te steek, wat nooit wou gaan lê nie,” sê LPW Koorts.

Koorts, wat ook woonagtig is in die groter gebied, het bygevoeg dat mnr Nast ‘n briljante man is, maar hy kon nie opstaan ​​teen die mense wat hom an die mag geplaas het nie.

“Die feit dat die burgemeester bedank het laat die DA–raad verdeel en sal ‘n uitwerking hê op hoe die bestuur hanteer sal word in die toekoms,” het sy geëindig.

Beswaar teen naamsveranderings van skole in Midvaal

Mnr. Timothy Nast
Burgemeester
Munisipaliteit van Midvaal

Geagte mnr. Nast,

Volgens berigte in die media steun u die naamsveranderings van Afrikaanse skole in Midvaal wat historiese name soos dié van drs. Hendrik Verwoerd en D.F. Malan insluit, en wil dit voorkom asof u, ‘n Engelsman wie se voorouers van Brittanje afkomstig is, selfs druk op sulke skole plaas om hul name te verander.

Verder het u op 2 Februarie die volgende getwiet:

“FF+ and their 23 supporters can join Verwoerd in the history books!”

In die lig van die onlangse uitlatings van me. Lulu Xingwana oor Afrikanermans wat weens hul “Calvinisme” vir geweld teen vroue in die land verantwoordelik sou wees, toon u opmerkings en teenkanting teen historiese Afrikaanse name vir ons ‘n onrusbarende vyandigheid teenoor Afrikaners en die Afrikaanse tradisie.

Namens die Pro-Afrikaanse Aksiegroep wil ek ons sterkste beswaar uitspreek teen die verandering van enige Afrikaanse name van ‘n historiese of kulturele aard in Midvaal.

Ek versoek u ook om nie verder by Afrikaanse skole in te meng of u posisie as burgemeester van Midvaal te misbruik om skole te beïnvloed of te dwing om hul name te verander nie.

Met trots kan ek aan u noem dat ek aan die Hoër Seunskool Helpmekaar gematrikuleer het, die eerste Afrikaanse hoërskool in Johannesburg. Toe die naam “Helpmekaar” destyds voor 1920 voorgestel is, was daar insgelyks beswaar van Engelse raadslede in Johannesburg daarteen omdat dit te “nasionalisties” of “rassisties” (in die destydse sin van anti-Brits) sou wees. The Star het na die stigting van ‘n Afrikaanse hoërskool in Johannesburg verwys as: “There is something rotten in the state of Denmark.”

U opmerkings oor Afrikaners wat saam met Verwoerd “tot die geskiedenisboeke behoort”, herinner sterk aan die trotse tradisie van Britse chauvinisme in ons land en verskil nie wesentlik van me. Lulu Xingwala se ewe etnosentriese opmerkings oor die geweldsgeneigdheid van “Calvinistiese” Afrikanermans nie.

Soos me. Lulu Xingwana, hoop ek dat u die vrymoedigheid sal hê om ‘n verskoning aan die Afrikanergemeenskap te bied vir u kwetsende aanmerkings oor ons kultuur en geskiedenis.

Die uwe,

Dan Roodt