DA-sirkus: Maimane van seksuele wangedrag beskuldig

Die Demokratiese Alliansie baklei dat die hare waai onder mekaar oor wie as leier aangewys gaan word by die nasionale kongres hierdie naweek in Port Elizabeth.

Terwyl die parlementêre leier Mmusi Maimane na die gunsteling lyk, het die stryd vir die beheer van die amptelike opposisie warm geraak toe daar beskuldigings van seksuele wangedrag in ‘n e-pos teen hom en top-leiers wat help met sy veldtog, Athol Trollip, John Steenhuisen en Paul Boughey, gemaak is.

Die betrokkenes het intussen in ‘n verklaring gesê die anonieme e-pos was “negatief, vals en vernietigend”.

Vier kandidate gaan meeding om die pos van federale voorsitter by die party se kongres. Maimane, Wilmot James, Adrian Naidoo en Morgan Oliphant het hulself verkiesbaar gestel.

Die DA se grootste provinsie wat ondersteuning betref, is die Wes-Kaap, maar dit lyk of DA-stemmers in Gauteng ‘n swart leier wil hê.

Minstens 1 500 afgevaardigdes sal die kongres bywoon, waarvan 373 van Gauteng, terwyl die Wes-Kaap 423 afgevaardigdes sal stuur.

Uit die 373 Gautengse afgevaardigdes het reeds 195 hul steun aan Maimane toegesê. Dit gee hom ’n stewige deel van die party se naasgrootste provinsie.

Maimane, wat deur Helen Zille voorgestoot word, word uitgedaag deur die DA se voorsitter Wilmot James.

Maimane en James gaan mekaar glo Maandagaand in ‘n Amerikaanse styl debat pak wat lewendig uitgesaai sal word deur die Afrikaanse betaalkanaal kykNET, op die program Insig.

Die bespreking en debat sal waarskynlik in Engels gehou word aangesien die DA slegs Engels as voertaal aanvaar. Rapport se redakteur Waldimar Pelser, sal as skeidsregter optree.

Maimane sal die DA vinniger kan verswart, sê ontleders. Hy is glo verbind tot verswarting weens sy aandrang op “verskeidenheid in die party” omdat die DA ‘n “duidelike visie vir die land en die party nodig het”.

Hy sê opvattings dat hy die uittredende partyleier, Helen Zille, se marionet was, het hom nog nooit gepla nie.

Sy meteoriese opgang in die DA onder Zille se leierskap het deurentyd kritiek ontlok. Zille het klaarblyklik steeds genoeg invloed om hom tot leier verkies te kry.

“Daar is groeiende steun binne en buite die party vir Maimane om die DA se nuwe leier te word,” het ‘n DA-woordvoerder gesê.

Midvaal-burgemeester ‘vat die pad’ onder wolk van korrupsie

corruptionHermène Koorts van COPE sê alhoewel Timothy Nast, Midvaal se DA-burgemeester wat pas bedank het, ‘n briljante man is, kon hy nie staande bly ​​teen diegene wat hom aan die mag geplaas het nie.

Midvaal se burgemeester het intussen “die pad gevat” terwyl ‘n wolk van beweerde korrupsie oor die party hang.

Die Congress of the People (Cope) se verteenwoordiger by die Gautengse Provinsiale Wetgewer sê sy is nie verras deur die bedanking van Midvaal–burgemeester, mnr Timothy Nast nie. Hy het glo intussen ‘n pos by die Gautengse Beplanningskommissie aanvaar.

COPE se woordvoerder, LPW Hermène Koorts sê die nuus het nie gekom as ‘n skok vir haar nie, want gerugte dat hy onder kwaai druk verkeer weens die beweerde korrupsie in Midvaal, sirkuleer al maande lank.

“Die rede vir die bedanking is duidelik. Midvaal–munisipaliteit word deur verskeie bewerings van korrupte amptenare in die verlede geteister, en die Openbare Beskermer het ook verwys na korrupte optrede binne die munisipaliteit van die Demokratiese Alliansie (DA), in beheer in Midvaal. Hoewel dienslewering in Midvaal aanvaarbaar is, het die DA nie opgetree toe DA–lede die beweerde korrupsie jare gelede aan beide die provinsiale en nasionale leiers onthul het nie. In werklikheid, het hulle probeer om die feite weg te steek, wat nooit wou gaan lê nie,” sê LPW Koorts.

Koorts, wat ook woonagtig is in die groter gebied, het bygevoeg dat mnr Nast ‘n briljante man is, maar hy kon nie opstaan ​​teen die mense wat hom an die mag geplaas het nie.

“Die feit dat die burgemeester bedank het laat die DA–raad verdeel en sal ‘n uitwerking hê op hoe die bestuur hanteer sal word in die toekoms,” het sy geëindig.