ANC sal beleggersvertroue herstel

zumaDie ANC het belowe om beleggersvertroue met bestendige beleidsrigtings te herstel na sy oorwinning in die algemene verkiesing, het RSG berig.

Die ANC se Sekretaris-Generaal, Gwede Mantashe, het die party daartoe verbind dat hy sy beleid duidelik sal uitspel, en verwys na die Nasionale Ontwikkelingsplan.

Die plan stel grootskaalse infrastruktuurprojekte in die vooruitsig en verwerp die nasionalisering van belangrike sektor soos die mynwese.

President Jacob Zuma het reeds gesê die ANC se sterk vertoning by die stembus het aan die party ‘n duidelike mandaat gegee om met die program voort te gaan. Mantashe het ook daarop gewys dat die rand na die vreedsame verkiesing verstewig het en voorspel dat die nuwe kabinet die markte nog verder sal opstoot.

Zuma het intussen gesê sy regering sal hulle daarvoor beywer om dienslewering en transformasie te versnel.

Swarte vas vir verkiesingsmoord

stemmoord’n Swartman is in hegtenis geneem nadat ’n ANC-ondersteuner op verkiesingsdag in KwaDukuza in KwaZulu-Natal doodgeskiet is.

Thando Mhlono (30) is Woensdag omstreeks 21:30 buite ’n stemlokaal in die dorp doodgeskiet.

Daar was aanvanklik berig dat die slagoffer ’n man was, maar die polisiewoordvoerder kapt. Thulani Zwane, het bevestig dat dié inligting onwaar is.

“Die 28-jarige verdagte is Donderdag deur speurders van die KwaDukuza-polisiestasie in hegtenis geneem,” het Zwane gesê.

“Die rede vir die aanval is nie bekend nie, maar word deur die polisie ondersoek.”

Stemlokaal aan die brand gesteek na ongerymdhede

effvotesDie Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se lokaal in Alexandra, Gauteng is Donderdagaand aan die brand gesteek deur ontevrede kiesers.

Ontstoke opposisiepartye wil hê dat die stemmery noord van Johannesburg oorgedoen moet word.

Die polisie sê ‘n vertrek in ‘n gemeenskapsentrum, wat deur die OVK gebruik is, is aan die brand gesteek terwyl daar mense binne die sentrum was. Geen beserings is egter aangemeld nie.

Brig. Neville Malila van die polisie sê 31 mense is in verband met die voorval in hegtenis geneem en hulle sal binnekort in die hof verskyn.

Die kiesbeampte van die OVK in Gauteng, Mashego Sheburi sê hulle sal die korrekte prosedure moet volg om beswaar te maak

In ander voorvalle van ongerymdhede, is stembriewe in Lynnwood Ridge, Pretoria, gevind. Eyewitness News berig dat die stembriewe in ‘n park gekry is in swart sakke wat deur ‘n onbekende man opgetel sou word.

Volgens die verslag is die Onafhanklike Verkiesingskommissie ( OVK) bewus van die voorval en is tans besig om dit op te volg.

Die OVK het vroeër fotostate van die uitslagstrokies vir die Lynnwoodrif-gebied in Pretoria getoon wat daarop dui dat die DA-agent die stemtelling afgeteken het.

Die DA-leier, Helen Zille het in ‘n twiet gesê DA-agente in die betrokke stemdistrikte het bevestig dat die stembriewe reeds getel is. Sy sê die houers kon van ‘n vragmotor afgeval het.

Sheburi sê hulle enigste uitweg is om appèl by die OVK aan te teken. Hy sê hulle sal hul aantygings behoorlik moet kan staaf voordat die drastiese besluit om die kiesproses te herhaal, geneem kan word.

Kiesers wat vir die Front Nasionaal gestem het, gaan glo ‘n klag lê nadat hulle stemme na bewering nie getel is nie.

Vroeër het IVP-ondersteuners blykbaar ‘n groep ANC-agente gyselaar gehou nadat stembriewe by die Women for Peace-temlokaal in Alexandra glo in ‘n vreemde motor gelaai is.

Beide partye se leierskap het ingegryp om die saak glo op te los.

Volgens ‘n twiet deur EFF-lid Boitumelo Molelekeng, is stembriewe van sy party ook in Diepsloot opgespoor waar dit weggegooi is.

‘n Ondersoek is aan die gang nadat die polisie die talle houers vol stembriewe in asblikke by die skool in Diepsloot in Johannesburg gevind het.

Die stemmateriaal is deur leeders ontdek. Die EFF is woedend en het die OVK beskuldig van nalatigheid. Die meeste van die voltooide stembriewe was vir die ANC en die EFF.

‘n Woordvoerder van die ANC, Godfrey Senthomole, sê hulle is teleurgesteld in die OVK.

Die EFF het intussen gesê dit is onregverdig dat hulle stembriewe in ‘n asblik gegooi is. ‘n Woordvoerder van die party, Ishmail Timbani, sê hulle eis ‘n verduideliking van die OVK oor die voorval.

Die stemtelproses nader tans sy einde, met sowat 94 persent van die stemdistrikte wat hul stemme verklaar het. Die ANC sal as oortuigende oorwinnaar uit die verkiesing tree, met tussen 62 en 63 persent van die stemme wat op die party verenig is.

Die regerende party het 3 persentasiepunte prysgegee teenoor hul prestasie in die vorige verkiesing.

Ten spyte van baie beloftes om swart stemme te trek, staan die DA slegs op 22 persent terwyl die EFF reeds meer as 6% ingepalm het.

Geel, rooi, blou?

geelrooiblouDie feit dat president Jacob Zuma en die ANC in staat was om grootliks die Nkandla-kwessie af te lag, dui daarop dat die gedrukte media byna geen invloed meer oor die politiek uitoefen nie.

Die veelheid klein partye wat aan die verkiesing deelgeneem het, was eerder ‘n aanduiding van hoe etniese politiek op voetsoolvlak ‘n werklikheid geword het. Dit het egter nie in stemme vertaal nie.

Die ANC is immers ‘n Zoeloe-party en die opposisie DA is nou ‘n Xhosa-party, ‘n weerspieëling van die twee grootste etniese groepe se greep op hul kiesers, maar die res is steeds stemloos.

Nkandla was vir maande op elke koerantvoorblad in Suid-Afrika. Zuma het skouerophalend gesê dit is net die “slimmes” wat omgee oor Nkandla, waarmee hy waarskynlik bedoel het die 25% of so wat gereeld koerant lees.

Zuma se minagting vir diegene wat dink die dooieboommedia het enige invloed, is deur die kiesers uitgedra.

Wat egter werklik saak maak is die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie wat by verre die grootste deel van die gehoor gerig het om hul kruisies by die voorste drie partye te gaan trek Woensdag.

Die voorste drie partye, naamlik die ANC, DA en EFF was ook die SAUK-sterre en voorts het ‘n oorvloed geld gesorg dat die drie in die kykers se oog bly.

Die ANC het vryelik toegang tot die TV benut en inheemse tale het gesorg dat daar geen Westerse filter oor sake soos Nkandla tussenbeide kom om die kieser af te skrik nie.

Die DA en EFF is rojaal uit die buiteland befonds en het letterlike honderde miljoene tot hul beskikking gehad om kykers te vermaak.

Die DA het ‘n eg-Amerikaanse veldtog gevoer met leë “wen”-slagspreuke, en netjies georkestreerde byeenkomste.

Die tekortkominge van die gedrukte media moet vir die Grondwetters ‘n kopseer wees na dese want nie alleen is daar etniese elemente wat die verkiesing beïnvloed het nie, maar ook die ANC se besondere sterk greep op die TV-kyker.

Vreemd is ook dat die meeste partye so stil is oor probleme by die SAUK.

Wat die DA betref wil hulle graag ‘n Amerikaanse twee-partystelsel op Suid-Afrika afdwing, wat dalk hul stilte oor die uitsaaier se ideologiese rigting verklaar. Die DA sal dus graag die ANC teen die EFF opstel, aangesien hul beleidsrigtings presies dieselfde is en beide partye hul toekomsvisie binne dieselfde verwysingsraamwerk as die EFF s’n plaas, naamlik met ‘n klem op korrupsie, ongelykhede en grondgryp.

En die rol van tegnologie? Mbv SMS’e en sosiale media kan die partye direk praat met kiesers, sonder die konvensionele media en sonder die TV.

Sosiale media se invloed sal egter eers toeneem soos die koste van bandwydte daal, wat baie meer mense toegang tot die internet sal gee.

Miskien is dit die rede waarom die regering so stadig is om aksie te neem om die koste te verlaag. Hoekom die SAUK verswak as dit is een van die mees kragtige ideologiese wapens is?

Dit was immers die eksperiment van die Front Nasionaal: ‘n Lakmoestoets om die invloed van sosiale media op Afrikanerkiesers te peil.

Niemand kon eintlik die mededingende verhaal van die ANC op TV troef nie. Die veelvoud menings met Facebook en Twitter was klaarblyklik oorweldigend vir die internetneofiet wat self ‘n besluit moes maak.

Afrikanerkiesers wou liewer aan die hand gelei word deur TV-vermaak as om self te dink. Die SAUK het dus die wedloop om stemme teen die internet ver gewen deur die ou uitgediende DA-weergawe van 2009 en VF+ as politieke antwoord aan te bied.

Die ANC se TV-aanslag was konsekwent: Ons het ‘n goeie storie te vertel oor die vordering wat gemaak is oor 20 jaar.

Omdat die DA, die EFF, asook die gedrukte media die herskryf van die geskiedenis as ‘n “struggle-triomf” ewe hard verkoop het, het die “opposisie” ironies genoeg van die ANC die enigste party van bevryding gemaak.

Die Demokratiese Alliansie se herdefiniëring van homself ‘n struggle-vennoot was dus eintlik ANC-propaganda wat slegs met ‘n duur blou TV-veldtog nie ontaard het in nog ANC-steun nie.

Al drie voorste partye het gestaan by ‘n radikale ekonomiese beleid teen ongelykheid, populistiese retoriek en die simbole van die rewolusie met barette omhels.

Tussen die Oscar Pistorius-sirkus deur wat dekking van die verkiesing byna oorheers het, het die internet se bereik dus gesneuwel as ‘n stuk nuttige politieke gereedskap.

Die laagste gemene deler het selfs mees die oningeligte wit kieser opgeraap: ‘n TV-skouspel in primêre kleure van geel, blou en rooi.

‘n Jubelende oud-AWB-lid het Praag tewens meegedeel dat hy vir die wenspan sy kruisie getrek het. Die blou span.

 

 

Wenners en verloorders

Die DA pluk die vrugte van onrus in De Doorns
Die DA pluk die vrugte van onrus in De Doorns

Cope sal as die grootste verloorder in Dinsdag se verkiesings uittree. Dit lyk asof die party ‘n aansienlike aantal setels in die parlement en verskeie provinsiale wetgewers gaan verloor.

Nog syfers wat ingekom het toon dat die EFF die derde grootste party nasionaal gaan wees. In Noordwes lyk dit tot dusver of die EFF die amptelike opposisie sal wees.

Na die verkiesings in 2009 was Cope die derde grootste party in die parlement met 30 setels. Indien die huidige neiging voortduur, sal Cope se steun van sewe komma vier twee persent in die vorige verkiesing daal tot minder as ‘n persent in vanjaar se verkiesing.

As die stemtellery korrek is, lyk dit asof die DA steeds die amptelike opposisie in al die provinsies sal wees, behalwe in die Wes-Kaap.

Na oproer deur seisoenale werkers van De Doorns in die provinsie in 2012 – wat voor die deur van die ANC gelê is – het kiesers teen die regerende party gestem.

Dit wil dus voorkom asof die onrus die DA in die Wes-Kaap bevoordeel het.

Volgens die stempatroon tans sal die ANC die hoofopposisie in dié provinsie bly.

Die ANC loop tans nasionaal voor met ‘n derde van die stemme wat getel is. Nege-en-twintig politieke partye het aan vanjaar se verkiesing deelgeneem.

Provinsiale uitslae van die verkiesing begin nou instroom en in Gauteng is 15 persent van die stemme getel. ‘n Kort rukkie gelede het die ANC ver voorgeloop, gevolg deur die DA en dan die EFF in die derde plek.

Daar is tans sowat 1% van die stembriewe wat bederf is.

Die ANC kan setels in Mpumalanga verloor maar sal volgens aanduidings steeds ‘n tweederde meerderheid behou in die provinsie.

Die ANC het in die 2009 verkiesing 27 van die 30 setels in die provinsie bekleë, maar nog nooit minder as 80-persent van die stem gehad nie. Die stempersentasie in die provinsie is tot dusver net meer as 73 persent.

 

Afrikanerpartye verder gemarginaliseer in verkiesing

afrikanerleadersMet 27% van die stemme wat getel is, kon geen Afrikaanse party in die verkiesing hond haaraf maak nie. Front Nasionaal het tot dusver slegs 1 142 stemme kon verwerf met ‘n platform ten gunste van kulturele selfbeskikking, behoud van Afrikaanse skole en die uiteindelike herstel van Afrikanersoewereiniteit. Die VF Plus het insgelyks geen vooruitgang gemaak nie en lyk asof hy bloot sy huidige stembasis gaan behou, nadat die party hom nader aan multikulturalisme geposisioneer het. Tot dusver het die VF Plus 44 869 stemme aangeteken.

Die DA lewer ‘n stewige vertoning en staan tans op 1 057 350 stemme, oftewel 28,3%. Die ANC het 2 169 454 stemme ontvang, wat gelyk aan 58,1% van die stemme is. Na verwagting sal die ANC se aandeel verder styg soos wat stemme uit verafgeleë landelike gebiede inkom. Die Ekonomiese Vryheidsvegters van Julius Malema is die mees suksesvolle nuwe party in die verkiesing, met 154 481 stemme, oftewel 4,14%.

In die lig van die hoë stempersentasie in die verkiesing van 72,62%, behoort die kwota stemme wat ‘n party nodig het om ‘n setel te verkry ook te styg. In die 2009-verkiesing was die kwota stemme vir een setel 44 000. Indien dit tot 50 000 styg, sou dit beteken dat van die kleiner partye nog verder sal uitsak en dis selfs geen uitgemaakte saak dat Mamphela Ramphele van Agang ‘n setel gaan kry nie. Ook die Vryheidsfront Plus mag sy aantal parlementêre setels sien terugsak van vier tot drie of selfs twee, afhangend van hoe die tellery van hier af vorder.

In die Wes-Kaap se provinsiale verkiesing het die VF Plus ook verder teruggesak en nadat 56% van die stemme getel is, het die VF Plus slegs 6 709 stemme ontvang, oftewel 0,67% van die totaal. Weereens behoort die VF Plus geen provinsiale setel in die Wes-Kaap, waar die DA koning kraai, te ontvang nie.

Onrus in Limpopo en Oos-Kaap dag voor verkiesing

sterkspruit2Diegene wat vir spesiale stemme geregistreer is, sal vandag landwyd voortgaan om te stem.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie sê die proses het to dusver hoofsaaklik sonder probleme verloop ten spyte van onrus op Lorainne en Malamulele in Limpopo en Sterkspruit in die Oos-Kaap.

In die Wes-Kaap het bykans 34.000 mense vir spesiale stemme geregistreer.

Die provinsiale kiesbeampte, Courtney Sampson, sê hulle maak gereed vir verkiesingsdag Woensdag.

Die Oos-Kaapse LUR vir plaaslike regering, Mlibo Qhoboshiyane, het sy kommer oor die hoë vlakke van intimidasie op Sterkspruit uitgespreek.

Inwoners, veral UDM-lede, eis ‘n alleenstaande munisipaliteit omdat hulle nie die Senqu Plaaslike Munisipaliteit bedien wil word nie.

‘n Skoolbiblioteek wat as stemlokaal gebruik sou word, is vroeër aan die brand gesteek terwyl winkels en banke in die sentrale sakegebied gesluit is. Die gebied het 76 stemlokale.

Qhoboshiyane het kiesers gevra om kalm te bly.

 

Internasionale waarnemers ontplooi

Die (Engels-eentalige) embleem van die OVK
Die (Engels-eentalige) embleem van die OVK

Internasionale verkiesingswaarnemers in die land aangekom op die vooraand van die algemene verkiesing.

Die waarnemers sal diens doen in al nege provinsies om te bepaal of die stemmery aan internasionale standaarde voldoen.

‘n Woordvoerder van die Departement van Internasionale Betrekkinge, Clayson Monyela, sê waarnemers van die Statebond, die SAOG en die Afrika Unie is ontplooi.

Die VN en ambassadeurs wat in Suid-Afrika geakkrediteer is, is deur die OVK genooi om stemlokale te besoek.

President Jacob Zuma het die Nobelvredespryswenner, Desmond Tutu geroskam oor sy kritiek teen die ANC. Die Anglikaanse biskop het gesê hy sal nie vir die ANC stem nie weens korrupsie en swak regering.

Zuma sê biskoppe en pastore se taak is om te bid vir diegene wat die pad byster raak en hulle behoort nie by partypolitiek betrokke te raak nie.

Ronnie Kasrils, ‘n voormalige minister van intelligensie lei ‘n groep afvallige partyveterane wat kiesers gevra het om nie te stem nie.

 

Stembriewe glo by DA-agent se huis gekonfiskeer

iecda2Verkiesingsamptenare is van hulle stemlokaal op Nigel aan die Oos-Rand verwyder nadat stemmateriaal by die huis van ‘n party-agent gehou is.

Na afloop van die eerste dag van spesiale stemme, het die joernalis Aldrin Sampear getwiet dat die stemmateriaal wat gekonfiskeer is deur die SAPD deur ‘n vrou by name “Swazi” gehou is.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie sê personeel in wyk 77 het die verkiesingsprotokol oortree.

Twiets van Radio 702 het “Swazi” as ‘n ANC-agent voorgehou.

Die OVK-materiaal is glo by ‘n huis van ‘n DA-agent in Wyk 77 gekry volgens bronne op Twitter.

Die OVK het nie genoem van watter party die agent was nie, maar het bevestig dat personeel in Wyk 77 verkiesingsprotokol oortree het deur die gebruik van die huis van ‘n party-agent om stemmateriaal oornag tussen spesiale stemdae te hou.

Die OVK het gesê die stemmateriaal is van die perseel verwyder en na ‘n nabygeleë polisiestasie vir bewaring geneem.

Suid-Afrika se vyfde nasionale en provinsiale verkiesing sal gehou word op 7 Mei en die OVK verwag dat 25.390.000 geregistreerde kiesers hul stemme in 22 263 stemlokale in die land sal uitbring.

 

ANC, DA se verkiesingsbeloftes presies dieselfde

Lucas Moripe propvol Effers
Lucas Moripe propvol Effers

President Jacob Zuma het 90.000 juigende ondersteuners by die ANC se Siyanqoba-saamtrek in Soweto Sondag toegespreek.

Die ANC se DA se verkiesingsbeloftes was heeltemal ononderskeibaar.

Zuma het presies soos die DA belowe: “Ons sal die toepassing van die bepalings van die nuwe gewysigde Wet op Gelyke Indiensneming en die Wet op Breedgebaseerde Swart Ekonomiese Bemagtiging versterk vir suksesvolle implementering van meer oop geleenthede vir swart-, Indiër en bruin mense , asook vroue, die jeug en persone met gestremdheid, soos ons die apartheiderfenis omkeer.”

Hy het ook die ANC se aanspraak op ‘n nie-rassige beleid herbevestig.

“Ons is een nasie, uit die as van rasse-onderdrukking gebore. Ons is besig om ‘n gemeenskaplike identiteit te vorm. Ons sing een volkslied, hys ‘n nasionale vlag en omhels ons kulturele diversiteit ,” het hy gesê.

Hy het ook soos die DA 6 miljoen werksgeleenthede en meer huise belowe.

Sy ontvangs was baie anders as die vorige twee kere wat hy gepraat het by FNB-stadion en het sy gewildheid beklemtoon.

By Nelson Mandela se roudiens in Desember en by die eindstryd van die Afrika Nasies se sokkerkampioenskap in Maart is hy uitgejou deur ‘n deel van die skare, maar Sondag het hy ‘n helde-ontvangs geniet.

Malema, die EFF-leier is deur ‘n kapasiteitskare van byna 30.000 by die Lucas Moripe-stadion in Atteridgeville, Pretoria, verwelkom.

“As mens na hierdie massas kyk, is my plek in die parlement gewaarborg,” het Malema gesê.

Applous het gevolg toe Malema sy ondersteuners belowe het dat die EFF Zuma se multimiljoen-rand Nkandlahuis sal verkoop en die geld aan die armes sal gee. Hy het gesê die EFF sal die aankoop van motors en huise deur ministers stop en hul kredietkaarte wegneem.

Malema het sy party se beleid van nasionalisering van grond en natuurlike hulpbronne herbevestig.

“Ons gaan die waardigheid van plaaswerkers herstel. Na die verkiesing gaan ons die plase oorneem en dit aan werkers gee,” het hy gesê.

“Niks [van die myne] sal gaan na Engeland nie. Ons is nie bang vir wit mense soos die ander nie.”

Malema het die moontlikheid van die vorming van ‘n koalisie met die ANC of die DA verwerp.

Volgens ‘n peiling deur Ipsos namens die Sunday Times, sal die ANC 63,9% van die stemme kry.

DA-lid vermoor, DA-busse aangeval

Zille se twiet van haarself in Noordwes
Zille se twiet van haarself in Bodibe, Noordwes

Die lyk van ’n swart man in ’n blou DA-hemp met ’n stuk of vyf groot betonblokke by die kop, is Saterdagmiddag deur verbygangers oorkant ’n supermark in Browns Farm, Kaapstad gevind.

Volgens ’n Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, kol. Tembinkosi Kinana, is die liggaam nog nie geïdentifiseer nie.

Die oorledene in sy vroeë veertigs was geklee in ’n roomkleurige broek, ’n blou DA-hemp, ligbruin leerbaadjie en leersandale.

Volgens ’n DA-raadslid in die gebied, Nceba Hinana was die motief vir die moord polities aangesien die slagoffer nie van sy leerbaadjie en ander besittings beroof is nie.

Politieke ontleders sê die DA bedryf “toerisme-politiek” waar gegoede DA-leiers voorgee om deel te wees van die arm massa om stemme te wen.

Zille se kombuisbediende-uitrusting met blou kopdoek op die koop toe, is deel van dié soort stemwerwery, sê hulle.

Hinana is in Maart in Philippi aangeval omdat hy die DA steun. Nompozolo was glo ook woedend omdat Hinana wit mense na die lokasie bring.

’n ANC-lid en gemeenskapsleier, Bonile Nompozolo, het Hinana na ’n gemeenskapsvergadering in die Siyahlala-lokasie vier keer met ’n mes in sy rug en hand gesteek.

Nompozolo het Woensdag in die Philippi-landdroshof verskyn op ’n klag van aanranding.

Sowat 16 DA-lede is beseer nadat hul busse in Alexandra, noord van Johannesburg, en Soweto Sondag glo in ‘n lokval gelei is.

‘n Busbestuurder is ernstig beseer in die aanval. Die DA se premierskandidaat Mmusi Maimane het gesê die boewe wat DA-ondersteuners aangeval het, moet in hegtenis geneem word.

Die party het gesê busse wat hul ondersteuners na Kliptown, Soweto aangery het waar sowat 8000 ondersteuners byeen was, is met klippe bestook. Drie busse is erg beskadig.

Verkiesing 2014 skop af

voteDie verkiesingswiele het vanoggend amptelik begin rol toe Suid-Afrikaners in die buiteland hul kruisies kon trek, het RSG berig.

Die sowat 26.000 geregistreerde kiesers in die buiteland kan slegs aan die nasionale verkiesing deelneem en kan nie vir verteenwoordigers op provinsiale vlak stem nie.

Die meeste stemgeregtigde Suid-Afrikaners is in Londen, terwyl duisende kiesers ook in Afrika-lande woon en werk. In Nieu Seeland is die eerste kruisies in die Suid-Afrikaanse verkiesing getrek, terwyl Suid-Afrikaners in Amerika later vandag na die stembus sal gaan.

Slegs nege uit meer as 300 Suid-Afrikaners in Lesotho kon vandag hulle kruisies trek. Die adjunk-hoë kommissaris in Maseru, Sello Jele, sê gedurende die registrasieproses is meer as 300 mense geregistreer, maar slegs nege van hulle is goedgekeur om spesiale stemme uit te bring vir die komende algemene verkiesing.

Hy sê hulle was verbaas om dit te verneem. Hy sê van die redes is ongeldige identiteitsdokumente en die VEC-10-vorms wat voltooi moet word en wat nie betyds ontvang is nie.

In Swaziland verloop die stemmery vlot by die Hoë Kommissariaat in Mbabane. Die OVK se voorsittende beampte by die Kommissariaat,

Arron Themba sê kiesers kom drupsgewys aan en hulle hoop dat meer mense deur die dag sal opdaag. Meer as 70 Suid-Afrikaners in Swaziland het vir die verkiesing geregistreer. Stembusse sluit om negeuur.

In Kenia is Suid-Afrikaners besig om hul kruisies te trek by die Suid-Afrikaanse Hoë Kommissariaat in Nairobi.

Talle kiesers het reeds vroegoggend opgedaag om te stem vir die komende verkiesing Woesdag in Suid-Afrika.

Die Hoë Kommissaris in Kenia, Ratubatsi Moloi sê hulle verwag dat al 156 geregistreerde kiesers, wat oor ‘n wye gebied in Kenia woon, vandag na Nairobi sal reis om te stem.

Malema uit saal gejaag deur skare in Durban

MalemaDie leier van die EFF, Julius Malema het Donderdag aan eie bas ervaar hoe dit voel om uitgejou te word. Voorheen was hyself die uitjouer.

Malema moes by die Howard Kollege-kampus praat as deel van sy eerste stemwerwingsbesoek aan die provinsie in aanloop tot die verkiesing.

Dit is egter die tweede keer dat die Ekonomiese Vryheidsvegters ‘n kil ontvangs in die provinsie kry.

Met Malema se besoek aan President Jacob Zuma se dorpie Nxamalala in Januarie is moes die polisie ingryp toe ANC-ondersteuners gebots het met Malema se volgelinge.

Die EFF-leier moes noodgedwonge ‘n lesingsaal by die universiteit van KwaZulu-Natal in Durban Donderdag self verlaat toe ANC-ondersteuners sy toespraak ontwrig het.

‘n Woedende Malema het buite gewag in ‘n wit Mercedes-Benz. Sy duur smaak word glo gefinansier deur ‘n Nigeriese weldoener.

Die polisie en personeellede het tevergeefs ingegryp om die situasie te kalmeer, en Malema moes noodgedwonge sy ondersteuners buite die saal toespreek.

Die polisie en die EFF-beamptes het ‘n menslike muur om Malema gevorm om verdere ontwrigting te voorkom.

Malema het ‘n man met ‘n ANC-T-hemp opgemerk en herhaaldelik vingerwysend vir hom geskree “Voertsek!”

Malema het aan die skare gesê dat sommige van die oproeriges deur die ANC gehuur is en moontlik nie eens aan die universiteit verbonde is nie.

Malema het die ANC-ondersteuners afgemaak as “Zuma se beeste wat van uit die duur kraal ontsnap het” en het gesê hulle ontwrig sy byeenkoms want hulle was bang vir die EFF .

Hy het bygevoeg dat Cyril Ramaphosa, die ANC se adjunk-president erger as Zuma is want hy het R18 miljoen vir ‘n buffel betaal.

Malema het kritiek op die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema gelewer, en gesê studente moet dit verwerp want dit skep groot skuld vir hulle.

Hy sê die EFF sal die land se minerale hulpbronne nasionaliseer om gratis onderrig te befonds.

Hy het ook gevra vir rasseverdraagsaamheid. “Wit mense is ons vriende. […] Ons beleid is om nie wit mense uit te dryf uit die land nie.”

Malema is daarna na die landelike Tafelkop buite Pinetown, waar ANC-ondersteuners hom ook ingewag en beledig het.

Hy het gesê die ontwrigting in KwaZulu-Natal sal by die polisie en die Onafhanklike Verkiesingskommissie gerapporteer word.

Jeugdiges gaan glo nie stem

iecMeer as ’n miljoen jeugdiges wat in of ná 1994 gebore is het nie vir die verkiesing op 7 Mei geregistreer nie, het die koerant The Star Dinsdag berig.

Slegs ‘n derde (33,6%) van Suid-Afrika se sogenaamde Born Free-geslag het as kiesers gaan registreer.

Dié syfer is op die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se vergelyking van die aantal geregistreerde kiesers en Statistieke Suid-Afrika se bevolkingssyfer vir dié ouderdomsgroep gegrond.

“Die Born Free-geslag maak 2,5% van die 25 miljoen geregistreerde kiesers uit,” het die koerant berig.

Sowat 60% van Suid-Afrikaners in hul twintigs, en 90% van mense ouer as 30 is geregistreer om te stem.