Malema-klug gaan voort

Die Ekonomiese Vryheidsvegters is in die parlement om ‘n rewolusie te ontketen, nie om reëls te volg nie, sê die leier van die party, Julius Malema.

Hy het gesê hulle sal nie duld dat die rewolusie ondermyn word deur konvensies wat deur kolonialiste en imperialiste geskep is nie.

Sy ondersteuners het Vrydagmiddag ‘n betoging buite die parlementsgebou gehou.

Malema het die media toegespreek nadat EFF-parlementslede Donderdagaand uit die parlement gestap het.

Malema gaan glo ‘n regsmening inwin nadat hy gevra is om die nasionale vergadering te verlaat weens onparlementêre gedrag.

Die waarnemende speaker, Thandi Modise het Malema gewaarsku dat tugstappe kan volg nadat hy gesê het die ANC het die slagting by Marikana veroorsaak.

Daar is 34 Amcu-mynwerkers by Marikana in 2012 deur die polisie doodgeskiet.

Volgens die getuienis van Meneer X wat tans voor die Farlam-kommissie dien, het die Amcu-myners onder die invloed van moetie ‘n massamoord beplan.

Sal belasting Malema uit parlement hou?

'Kill a Boer'
‘Kill a Boer’

Die Ekonomiese Vryheidsvegters wou nie kommentaar lewer oor hul partyleier, Julius Malema se belastingstatus nie.

Malema skuld die Ontvanger R16 miljoen.

Die EFF se woordvoerder het egter die versekering gegee dat hul leier wel parlement toe sal gaan.

Mbuyiseni Ndlozi, die EFF se woordvoerder het gesê dat hy nie inligting oor die belastingaangeleentheid het nie.

‘n Trustfonds genaamd die JSM Trust, is in April in die lewe geroep om geld vir Malema in te samel.

In terme van Artikel 47 (c) van die Grondwet kan ‘n gesekwestreerde persoon nie in die parlement dien nie.

Die Inkomstediens wou ook nie oor Malema se belastingsake uitwei nie.

Die EFF het 25 setels in die Parlement nadat meer as een miljoen stemmers in die algemene verkiesing verlede week vir die party gestem het

Die voorsitter van die trustfonds, Mandisa Mashego het gesê sy is nie in ‘n posisie om te openbaar hoeveel geld tot dusver ingesamel is nie.

“Dit is vertroulike inligting,” het sy gesê.

Sy het gesê die fondsinsameling sal binnekort begin nadat die nuwe regering ingesweer is.

Malema moet weer op 26 Mei in die hof wees om ‘n voorlopige sekwestrasie bevel teen te staan.

Malema uit saal gejaag deur skare in Durban

MalemaDie leier van die EFF, Julius Malema het Donderdag aan eie bas ervaar hoe dit voel om uitgejou te word. Voorheen was hyself die uitjouer.

Malema moes by die Howard Kollege-kampus praat as deel van sy eerste stemwerwingsbesoek aan die provinsie in aanloop tot die verkiesing.

Dit is egter die tweede keer dat die Ekonomiese Vryheidsvegters ‘n kil ontvangs in die provinsie kry.

Met Malema se besoek aan President Jacob Zuma se dorpie Nxamalala in Januarie is moes die polisie ingryp toe ANC-ondersteuners gebots het met Malema se volgelinge.

Die EFF-leier moes noodgedwonge ‘n lesingsaal by die universiteit van KwaZulu-Natal in Durban Donderdag self verlaat toe ANC-ondersteuners sy toespraak ontwrig het.

‘n Woedende Malema het buite gewag in ‘n wit Mercedes-Benz. Sy duur smaak word glo gefinansier deur ‘n Nigeriese weldoener.

Die polisie en personeellede het tevergeefs ingegryp om die situasie te kalmeer, en Malema moes noodgedwonge sy ondersteuners buite die saal toespreek.

Die polisie en die EFF-beamptes het ‘n menslike muur om Malema gevorm om verdere ontwrigting te voorkom.

Malema het ‘n man met ‘n ANC-T-hemp opgemerk en herhaaldelik vingerwysend vir hom geskree “Voertsek!”

Malema het aan die skare gesê dat sommige van die oproeriges deur die ANC gehuur is en moontlik nie eens aan die universiteit verbonde is nie.

Malema het die ANC-ondersteuners afgemaak as “Zuma se beeste wat van uit die duur kraal ontsnap het” en het gesê hulle ontwrig sy byeenkoms want hulle was bang vir die EFF .

Hy het bygevoeg dat Cyril Ramaphosa, die ANC se adjunk-president erger as Zuma is want hy het R18 miljoen vir ‘n buffel betaal.

Malema het kritiek op die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema gelewer, en gesê studente moet dit verwerp want dit skep groot skuld vir hulle.

Hy sê die EFF sal die land se minerale hulpbronne nasionaliseer om gratis onderrig te befonds.

Hy het ook gevra vir rasseverdraagsaamheid. “Wit mense is ons vriende. […] Ons beleid is om nie wit mense uit te dryf uit die land nie.”

Malema is daarna na die landelike Tafelkop buite Pinetown, waar ANC-ondersteuners hom ook ingewag en beledig het.

Hy het gesê die ontwrigting in KwaZulu-Natal sal by die polisie en die Onafhanklike Verkiesingskommissie gerapporteer word.

EFF sal koalisie teen eiendomsreg en grondbesit oorweeg

Nazier Paulsen
Nazier Paulsen

Die Ekonomiese Vryheidsvegters sê hy sal koalisies met ander partye oorweeg, mits hulle die EFF se beleid oor grondonteiening sonder vergoeding en die nasionalisering van myne omarm.

Die EFF se premierskandidaat vir die Wes-Kaap, Nazier Paulsen sê die party is oorgehaal om die oorsake van ongelykheid, naamlik eiendomsreg en grondbesit, uit te skakel.

Hy meen die EFF sal in dié provinsie goed vaar en minstens 22 setels in die provinsiale parlement inpalm.

Intussen het die EFF se leier min gesig gewys in die Wes-Kaap. Julius Malema het voorheen nie opgedaag by ‘n verkiesingveldtog in Kaapstad nie.

Malema was nie by ‘n nuuskonferensie ‘n week of wat gelede in Manenberg nie.

Manenberg is ‘n berugte bendetuiste en een van die oorsake van die Wes-Kaap se besonder hoë misdaadsyfer.

Malema het ook nie vroeër in Mfuleni opgedaag nie.

Sameroeper Nazier Paulsen het Malema se afwesigheid verdedig en gesê dit bewys dat die EFF nie ‘n “eenman-party” is nie.

Paulsen het gesê die premier van die provinsie het ook al geweier om in Manenberg op te tree.

‘n Manenbergse gemeenskapswerker het haar teleurstelling uitgespreek oor Malema se afwesigheid.

“Dit is hoe die woord versprei het dat Julius Malema self hier gaan wees, nie sy voetsoldate nie,” het sy gesê.

 

Front Nasionaal dien verklaring by hof in om EFF-aansoek te steun

Oomblikke voor Malema se aankoms is daar vir hom 'n erewag deur sy ondersteuners voor die hof gevorm
Oomblikke voor Malema se aankoms is daar vir hom ‘n erewag deur sy ondersteuners voor die hof gevorm

Hoewel die party reëlreg die teenoorgestelde politieke standpunte as die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) huldig, het Front Nasionaal ‘n verklaring by die Pretoriase Hoër Hof ingedien waarin die party die vermindering of afskaffing van die huidige verkiesingsdeposito steun.

“Ons het ‘n regstreekse belang by die saak,” het dr. Dan Roodt, woordvoerder en onderleier van die party, gesê. “Die bestaande partye word teenoor nuwes bevoordeel omdat hulle hul deposito’s met belastingbetalersfondse betaal terwyl ons ondersteunersfondse moet gebruik.”

Uitspraak is voorbehou in die saak wat deur die Ekonomiese Vryheidsvegters aanhangig gemaak is oor die verpligte registrasiefooi wat politieke partye voor die Algemene Verkiesing moet betaal. Partye moet 600-duisend rand betaal indien hulle in al 9 provinsies aan die verkiesing op die 7de Mei wil deelneem. Die EFF het by die Noord-Gautengse hooggeregshof aansoek gedoen dat die Onafhanklike Verkiesingskommissie se fooi verminder of opgeskort word. Die party het aangevoer dat die deposito ongrondwetlik is en strydig is met die reg om vir ‘n amp verkiesbaar te wees. Hy sê die finansiële verpligtinge wat nuwe partye moet nakom, nie nog ‘n bykomende fooi toelaat nie. Regter Takalani Raulinga sal ‘n besluit neem vóór die OVK se spertyd vir betaling van die 12de Maart.

Malema betower buitelandse beleggers

alex
Alexandra

Buitelandse en plaaslike beleggers het die oorlaaide paaie van Alexandra in Johannesburg Maandag aangedurf om te verneem van die ekonomiese orde na die verkiesing.

Die leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters het beleggers uit Brittanje en Amerika ontmoet om die party se beleid ten opsigte van die nasionalisering van myne en banke en die herverdeling van grond uiteen te sit.

Julius Malema het ​​uit die vergadering met beleggers gestap oortuig daarvan dat die EFF die mag sal oorneem van die regerende party.

“Hulle [ beleggers ] het besef dat die EFF ‘n lewensvatbare alternatief is, en ons het hulle saggemaak,” het hy gesê.

“Hulle kyk na of hulle miljarde aan risiko blootgestel sal wees, en ons het verduidelik dat ons nie hul maatskappye met geweld sal vat nie.”

Die beleggers wou egter nie na afloop van die vergadering met die media praat of hulself identifiseer nie.

“Dit is ‘n deurlopende betrokkenheid by politieke organisasies. Ons het met ander organisasies voorheen geskakel,” sê een van die beleggers.

Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder het die maatskappye geïdentifiseer as onder meer Investec, JP Morgan, Autonomy Capital, Coronation en Micro Synergy .

Malema het gesê die beleggers se grootste kommer is gesentreer rondom die manifes van die EFF.

“Ons het vir hulle gesê dat ons bereid is om te praat oor persentasies, maar ons sal nie ‘n kompromie oor die staat se beheer van minerale hulpbronne aanvaar nie.”

Malema het gesê hy is ongemaklik met die geloofwaardigheid van die Onafhanklike Verkiesingskommissie.

Hy het aangehaal oor bewerings wat gemaak is van kieserbedrog tydens die onlangse tussenverkiesings in Tlokwe in Noordwes.

“Ons wil ‘n skoon OVK hê wat nie bevooroordeeld is nie. Verkiesings het die potensiaal om ‘n burgeroorlog te veroorsaak.”

Byna 200 partye registreer by OVK

iecHonderd-drie-en-tagtig politieke partye het tot dusver by die Onafhanklike Verkiesingskommissie geregistreer met die oog op die komende algemene verkiesing.

Die OVK sê 133 van die partye sal aan die verkiesing deelneem. Die Wes-Kaap het met 25 die meeste partye, terwyl 7 partye uit Gauteng afkomstig is.

Verskeie nuwe politieke partye het die afgelope jaar na vore getree, waaronder die Ekonomiese Vryheidsvegters en Agang.

Die hoofverkiesingsbeampte van die OVK, Mosotho Moepya sê die registrasieproses duur voort.

President Jacob Zuma het nog nie die verkiesingsdatum afgekondig nie. – RSG

Dertig ANC-lede vas na onderonsie met EFF

effnkandlaDertig lede van die ANC sal vandag in die landdroshof op Nkandla in KwaZulu-Natal op aanklagte van openbare geweld verskyn .

Hulle is die naweek in hegtenis geneem toe hulle die Ekonomiese Vryheidsvegters glo wou verhoed om ‘n huis aan ‘n behoeftige gesin by Nkandla te oorhandig.

Julius Malema, EFF-leier, wou namens sy party die huis neffens Nkandla aan ‘n arm gesin gee.

Ontstoke ANC-lede het hom ook met waterbottels bestook en verskeie polisievoertuie beskadig.

Die ANC in KwaZulu-Natal het die konfrontasie tussen die ANC en EFF Sondag skerp veroordeel.

Senzo Mkhize, ‘n provinsiale woordvoerder, het gesê hulle sal ondersoek instel na die voorval.

“Sommige van ons was nie daar nie, ons was by Mbombela. So nou probeer ons inligting uit hulle te kry. Ons sal die nodige stappe neem, want ons wil nie die indruk skep dat daar geen politieke verdraagsaamheid in KZN is of vrye aktiwiteit nie. “

Hy het bygevoeg dat die ANC wil toesien dat alle partye vryelik veldtogte voer sonder enige inmenging.

EFF veroordeel ‘rassistiese’ plakkate, maar sing ‘Skiet die Boer’

MalemaJulius Malema se party, die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF), sê hy is teleurgesteld in sommige van sy lede wat plakkate met rassistiese boodskappe by dié party se amptelike bekendstelling vertoon het, het Sapa berig.

Desnieteenstaande het die leiers van die EFF Awudubhule ibhunu oftewel “Skiet die Boer” tydens die byeenkoms gedreunsing. Dit is dus duidelik dat Sapa nie die gebeure weergee van wat by die party se bekendstelling gebeur het nie, maar as apologeet probeer optree vir die EFF se onbesonne aanhitising.

“Die EFF het verneem dat sommige van sy lede plakkate vertoon het wat hierdie rewolusionêre beweging as ’n rassistiese beweging wil uitbeeld,” het die party se Gautengse woordvoerder, Patrick Sindane, Dinsdag in ’n verklaring gesê.

Sidane se “kommer” oor rassisme klink nie eg nie in die lig van die verbode lied wat Malema en sy volgelinge in weerwil van ‘n hofbeslissing daarteen, gesing het.

Volgens Sindane het sommige van die boodskappe gelui: “Die wittes se wittebrood is verby” en “Om rewolusionêr te wees moet jy deur haat en bloedvergieting geïnspireer word”.

Hy het gesê die baniere is Sondag raakgesien tydens die party se amptelike bekendstelling in Marikana in Noordwes.

“Ons wil dit boekstaaf dat ons onsself van sulke gedrag distansieer, en ook dat ons sedertdien uitgevind het wie vir die plakkate verantwoordelik is.

“Ons stryd is nie om wittes dood te maak nie, maar om te verseker dat almal gelyke geleenthede het om voordeel te trek uit die rykdom van die land,” het Sindane gesê wat ook “Skiet die Boer” gesing het.

Die EFF staan onder meer die onteiening van grond, myne en banke sonder vergoeding voor. – Sapa

DA-woordvoerder sê ANC is beslis beter as ‘apartheid’

Zille en Maimane
Zille en Maimane

Die DA-woordvoerder, Mmusi Maimane het Maandag gesê dat Julius Malema verkeerd was deur te sê dat die ANC-regering erger as die apartheidsregering is.

“U mag gehoor het dat Julius Malema oor die naweek gesê het dat die ANC erger as apartheid is. Dit is verkeerd om dié indruk onder Suid-Afrikaners te skep,” het hy in ‘n voorbereide toespraak gesê.

“Apartheid was erger omdat dit ‘n stelsel van ingeburgerde rassisme was. Apartheid was erger omdat ons apartheid nie kon uitstem nie. Trouens, ons kon glad nie stem nie.”

Die leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters het Saterdag tydens ‘n byeenkoms in Lethabong naby Rustenburg gesê dat swartmense nooit grond onder die African National Congress sal besit nie.

“Ons stryd gaan oor grond. Mandela is oor grond in hegtenis geneem,” het Malema gesê.

Maimane het gesê dat “die opofferinge wat soveel vir ons vryheid gemaak het” moet onthou word.

“Soos soveel ander waar ek grootgeword het, was ek destyds ‘n ANC-ondersteuner. Ek het geglo dat die ANC ‘n beter lewe vir my en my gesin sou bewerkstellig,” het hy gesê.

“Sedertdien het ek gesien hoe die eens trotse beweging onder die huidige leierskap die pad byster geraak het.”

Hy het gesê dat apartheid teen die mense se wil op hulle afgedwing is, terwyl die ANC nie “verpligtend” is nie.

“Die ANC is ‘n politieke party in ‘n demokrasie. Ons kan vir ‘n ander party stem indien ons deur dié aan bewind in die steek gelaat voel.” – Sapa

Soesji-koning bedank uit EFF-bestuur

Kenny Kunene
Kenny Kunene en kiesers

Die Soesji-koning en pornobaas Kenny Kunene se politieke loopbaan was van korte duur. Die sakeman het bedank uit Julius Malema se nuwe Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF).

Mbuyiseni Ndlozi, ’n woordvoerder, het aan Sapa gesê Kunene het gevra om onthef te word van sy leiersverantwoordelikhede.

Kunene is op 12 Julie deur Malema as lid van die EFF se “nasionale sentrale bevelvoerderspan” aangewys en was verantwoordelik vir verkiesingsveldtogte en spesiale projekte.

Kunene het na net sowat ’n maand uit die bestuur bedank. Hy sal glo egter steeds lid van die EFF bly. Hy kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Woordvoerders van die EFF wou ook nie kommentaar lewer op Kunene se bedanking nie.

Ndlozi het aan Sapa bevestig dat Kunene steeds ’n lid van die party is.

Kunene is haaks met ANC na ’n ope brief aan The Star waarin hy pres. Jacob Zuma as ’n “monster” en ’n “tiran” beskryf het. In die brief het Kunene gesê hy is ontnugter deur Zuma se leierskap.

Kunene se redes vir sy besluit is onbekend.

VF+ bevraagteken grondwetlikheid van EFF

iecHaatspraak, ‘n beleid gegrond op rassisme en ‘n ekonomiese beleid van nasionalisering druis in teen die letter en gees van Suid-Afrika se Grondwet en die Vryheidsfront Plus het in die lig hiervan by die Verkiesingskommissie (OVK) ten sterkste beswaar aangeteken teen die registrasie van Julius Malema se politieke party, die Ekonomiese Vryheidsvegters (EVV).

Volgens mnr. Pieter Groenewald, die VF Plus se voorsitter, is ‘n sterk bewoorde brief hieroor aan die Verkiesingskommissie (OVK) gestuur waarin die kommissie versoek word om Malema se registrasie-aansoek om grondwetlike redes af te keur. Individue en partye het tot einde verlede week geleentheid gehad om beswaar teen die registrasie aan te teken.

“Die EVV propageer die nasionalisering van grond, myne, banke en ander bates sonder enige vergoeding, en in besonder op ‘n rasse-grondslag. Dit is ongrondwetlik.

“Malema is reeds deur die hooggeregshof van Suid-Afrika skuldig bevind aan haatspraak oor die sing van die gewraakte lied ‘Shoot the Boer’, wat sedertdien verbied is en tot haatspraak verklaar is.

“Met die sing van die lied het Malema rasse-polarisasie geskep en emosie opgejaag teenoor ‘n spesifieke ras- en etniese groep wat ook ongrondwetlik is.

“Tot nou toe het Malema as leier van die EVV geen berou getoon nie. Die VF Plus glo dat hy met sy ongrondwetlike optrede sal voortgaan en dat hy sy party sal misbruik as ‘n voertuig vir soortgelyke diskriminerende optrede en beleidsrigtings.

“Daarbenewens is die woord ‘Vegters’ of ‘Fighters’ in Engels nie geskik vir ‘n demokratiese bestel waar politieke partye verkiesings op ‘n geordende en demokratiese wyse voer nie. Art. 16 van die Verkiesingskommissiewet stel dit duidelik dat enige naam of afkorting wat die propageer of aanhitsing van geweld of haat voorstel, nie aanvaarbaar is nie,” sê mnr. Groenewald.

‘n Verdere versoek is ook aan die OVK gerig waarin die VF Plus beswaar aanteken teen die Engelse afkortings van die name van die VF Plus (FF Plus in Engels) en die EVV (EFF in Engels) aangesien dit tot verwarring onder die publiek kan lei.

Mnr. Groenewald sê die VF Plus ervaar reeds dat verwarring bestaan op onder meer netwerke van die sosiale-media.

“Die VF Plus sal oor hierdie aangeleenthede die nodige bewyse aan die Verkiesingskommissie voorlê indien dit benodig word. Oor die naamkwessie verwag ons ook ‘n deeglike verduideliking van die (OVK) oor sy besluit.

“Tot nog toe is die VF Plus die enigste party wat die registrasie van Malema se party teenstaan. By ons is daar geen twyfel nie dat dit ongrondwetlik is en die OVK sal gewis sy mandaat versaak indien die registrasie van die EVV goedgekeur word, sê mnr. Groenewald.