DA-lid vermoor, DA-busse aangeval

Zille se twiet van haarself in Noordwes
Zille se twiet van haarself in Bodibe, Noordwes

Die lyk van ’n swart man in ’n blou DA-hemp met ’n stuk of vyf groot betonblokke by die kop, is Saterdagmiddag deur verbygangers oorkant ’n supermark in Browns Farm, Kaapstad gevind.

Volgens ’n Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, kol. Tembinkosi Kinana, is die liggaam nog nie geïdentifiseer nie.

Die oorledene in sy vroeë veertigs was geklee in ’n roomkleurige broek, ’n blou DA-hemp, ligbruin leerbaadjie en leersandale.

Volgens ’n DA-raadslid in die gebied, Nceba Hinana was die motief vir die moord polities aangesien die slagoffer nie van sy leerbaadjie en ander besittings beroof is nie.

Politieke ontleders sê die DA bedryf “toerisme-politiek” waar gegoede DA-leiers voorgee om deel te wees van die arm massa om stemme te wen.

Zille se kombuisbediende-uitrusting met blou kopdoek op die koop toe, is deel van dié soort stemwerwery, sê hulle.

Hinana is in Maart in Philippi aangeval omdat hy die DA steun. Nompozolo was glo ook woedend omdat Hinana wit mense na die lokasie bring.

’n ANC-lid en gemeenskapsleier, Bonile Nompozolo, het Hinana na ’n gemeenskapsvergadering in die Siyahlala-lokasie vier keer met ’n mes in sy rug en hand gesteek.

Nompozolo het Woensdag in die Philippi-landdroshof verskyn op ’n klag van aanranding.

Sowat 16 DA-lede is beseer nadat hul busse in Alexandra, noord van Johannesburg, en Soweto Sondag glo in ‘n lokval gelei is.

‘n Busbestuurder is ernstig beseer in die aanval. Die DA se premierskandidaat Mmusi Maimane het gesê die boewe wat DA-ondersteuners aangeval het, moet in hegtenis geneem word.

Die party het gesê busse wat hul ondersteuners na Kliptown, Soweto aangery het waar sowat 8000 ondersteuners byeen was, is met klippe bestook. Drie busse is erg beskadig.