Afrikaans: die grondslag vir ‘n nuwe politiek

danr2deur Dan Roodt

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Vandag beantwoord die redakteur van Rapport, Waldimar Pelser, my vorige artikel in Rapport en hier op praag met ‘n pleidooi dat ons mekaar minder moet etiketteer en meer moet debatteer:

Om iemand “regs” of “links” te noem is nie die einde van die gesprek nie, maar eerder die begin. In “Suid-Afrikaans” gestel: Ons kan nie meer daarmee wegkom om mekaar wit of bruin of swart of regs te noem asof dit die gestoei oor idees onnodig maak wat ons kort om koers te kry nie.

Jare gelede het ek reeds min of meer dieselfde standpunt gestel in my klein essay, Die nuwe ‘Regs’ wat destyds op LitNet gepubliseer is, maar wat ook in my boek Aweregs opgeneem is.

Soos ek in my stuk oor Frankryk aandui, gaan die Franse vandag nuwe verteenwoordigers in die Europese parlement verkies en vir die eerste keer sedert die tweede wêreldoorlog gaan ‘n sogenaamd regse, nasionalistiese of behoudende party die meeste stemme in ‘n Franse verkiesing trek, naamlik iewers tussen 24 en 30 persent. Weliswaar geen meerderheid nie, maar nogtans ‘n merkwaardige vertoning deur Madame Marine Le Pen se Front National. Reeds word daar gesê dat dit Frankryk se “beeld in die wêreld skade gaan doen”.

Frankryk is ‘n lid van die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies, asook, tesame met Duitsland, die belangrikste land in Wes-Europa en in die Europese Unie. Frans is, naas Engels, Russies, Spaans en enkele ander, een van die belangrikste wêreldtale wat deur honderde miljoene mense as eerste of tweede taal gepraat word. Daarom is die intellektuele en politieke verskuiwing in Frankryk geen geringe verwikkeling nie.

Waldimar Pelser meen dat ons “idees… kort om koers te kry”. Dis presies wat ons by praag nog die afgelope vyftien jaar of meer sê. Suid-Afrika het in 1994 holderstebolder die Amerikaanse “smeltkroesmodel” van die sestiger- en sewentigjare, tesame met regstellende aksie en swart bemagtiging oorgeneem. In die VSA staan swart bemagtiging as “minority procurement” bekend, dus kan elkeen van hierdie beleide na die VSA teruggevoer word. Maar eintlik het die Sweede Gunnar Myrdal reeds in die veertigerjare hierdie stel polities korrekte idees aan die Amerikaners voorgestel in sy beroemde boek, An American Dilemma: The Negro Problem and Modern Democracy. Dus is dit nie van oorsprong Amerikaans nie, maar Sweeds!

Wat weer tot die volgende vraag lei: Hoe kan ‘n land soos Swede met sy hoofsaaklik homogene, blanke bevolking van taamlik snobistiese en hovaardige mense wat op al die ander Skandinawiese lande neersien, voorskrifte aan heterogene maatskappye soos dié van die VSA en Suid-Afrika maak? Wat verstaan Swede van Suid-Afrika? So te sê niks.

Alle Afrikaners, regs, links, liberaal, nasionalisties, wat ook al, behoort saam met Waldimar Pelser te erken dat ons en die land vandag nuwe idees nodig het. Ons kan nie maar voortploeter op Swede en Amerika se mislukte opvattings van die middel- twintigste eeu nie.

Hierdie intellektuele krisis raak egter nie bloot die liberaliste of linkses wat hulle op die Angel-Saksiese of internasionale gemeenplase oor Suid-Afrika verlaat nie. Dit raak ook daardie oudmodiese Afrikaner-nasionaliste wat in ‘n heraangepaste afsonderlike ontwikkeling en selfbeskikking van volkere ‘n oplossing vir die probleme van Suid- en Suider-Afrika sien. Demografies, ekonomies en tegnologies het die hele streek intussen so verander dat dit haas nie meer moontlik is nie.

Nie dat ek opgehou het om ‘n voorstander van Afrikanerselfbeskikking te wees nie, maar ek dink ons moet aanvaar dat Afrikaners die gedagte telkens, soos ook tydens die afgelope verkiesing, by die stembus verwerp. ‘n Mens kan ‘n perd tot by die water bring, maar jy kan hom nie maak drink nie.

Wat staan ons dus te doen onder die huidige omstandighede? In die afwesigheid van enige steun onder Afrikaners of die hoofstroommedia vir Afrikanerpolitiek, is dit soos om voor ‘n trein te gaan staan. Sodra daar koppe getel word, gaan ons telkens net verloor.

Daarom meen ek dat ons by praag oorspronklik die korrekte idee gehad het, naamlik om ‘n nuwe politiek rondom die Afrikaanse taal te bou. En voordat u nou sê dat taal ‘n bysaak in Suid-Afrika is, laat my verder verduidelik hoe dit behoort te werk.

Tans is daar feitlik geen verweer teen rasstellende aksie en rassevoorkeure wat in wetgewing en selfs in die grondwet vervat is nie. Hier en daar maak Afriforum hofsake daarteen, maar dit gaan telkens om ‘n enkele individu soos Renate Barnard van die polisie en doen nie veel om die beginsel van rassevoorkeure by aanstellings aan te tas nie.

Terwyl dit toelaatbaar is vir swart politici en swartes om hul politiek op ras te grond – dis nog ‘n invloed van die VSA en die Angel-Saksiese lande – grens dit vir blankes aan heiligskennis om dieselfde te doen. Dus gaan dit moeilik wees om teen rasstellende aksie die blanke bevolking op grond van ‘n soort “wit nasionalisme” te probeer mobiliseer.

Indien Afrikaners egter op hul taal, Afrikaans, begin aandring, sal die groot maatskappye, die howe, die skole en universiteite, selfs die staat self, genoodsaak wees om weer van ons mense te begin aanstel. Dit sal die effek van rasstellende aksie begin teëwerk. Binne die “Suid-Afrikaanse” stelsel, sal daar dus ‘n “Afrikaanse” stelsel begin ontwikkel waar Afrikaners deur ander Afrikaners (of in die Wes-Kaap, deur bruinmense) bedien word en waardeur die amptelike en openbare status van Afrikaans weer herstel sal word.

Hierdie strategie sal egter net slaag as daar, tesame met die aandrang op Afrikaans te alle tye, insgelyks ‘n inwaartse nasionalistiese beweging onder Afrikaners plaasvind. Immers word daar tussen interne (kulturele) en eksterne (staatkundige) selfbeskikking onderskei. Net so bestaan daar ‘n inwaartse nasionalisme onder jou eie mense en ‘n uitwaartse rebellie of opstand om jou teen ander groepe of volkere te laat geld. Tans is die inwaartse nasionalisme en herwaardering vir mekaar waarskynlik belangriker as die uitwaartse opstand.

Leon Lemmer skryf vandag baie insiggewend oor die Baske, wat soortgelyk aan Afrikaners, deur getalryker – sy dit dan Europese – volkere in die vorm van die Spanjaarde en die Franse oorheers word. Omdat hy die groot Franse skrywer Victor Hugo oor die Baskiese taal aanhaal, het ek na die oorspronklike teks gaan soek en haal dit graag hier volledig aan, tesame met ‘n Afrikaanse vertaling:

J’ajoute qu’ici un lien secret et profond et que rien n’a pu rompre unit, même en dépit des Pyrénées, ces frontières naturelles, tous les membres de la mystérieuse famille basque. Le vieux mot Navarre n’est pas un mot. On naît basque, on parle basque, on vit basque et l’on meurt basque. La langue basque est une patrie, j’ai presque dit une religion. Dites un mot basque à un montagnard dans la montagne; avant ce mot, vous étiez à peine un homme pour lui; ce mot prononcé, vous voilà son frère. La langue espagnole est ici une étrangère comme la langue française.

[Ek voeg hier by dat ‘n geheime en diepgaande band die geheimsinnige Baskiese familie verenig wat niks kon breek nie, in weerwil van die Pireneë-gebergte, dié natuurlike grens. Die ou woord “Navarre” (die voorheen outonome gebied) beskryf dit nie. ‘n Mens word Baskies gebore, jy praat Baskies, jy leef Baskies en jy sterf Baskies. Die Baskiese taal is ‘n vaderland, amper ‘n godsdiens. Praat ‘n woord Baskies met ‘n bergbewoner in die berg; voor daardie woord was u skaars ‘n mens vir hom; as dié woord gespreek is, siedaar u en hy is broers. Die Spaanse taal is hier uitheems net soos die Franse taal. – my vertaling.]

Dit lyk asof die tweede deel van Leon Lemmer se aanhaling oor die Baske, nie van Victor Hugo is nie, maar van die skrywer Mark Kurlansky in die boek The Basque History of the World:

“It was written over and over in the records of those who observed the Basques that they spoke a strange language that kept them apart from others. But it is also what kept them together as a people, uniting them to withstand Europe’s great invasions.”

In die vroeë dae van praag, onthou ek ook dat ek iewers ‘n paar sinne uit ‘n kortverhaal van Hennie Aucamp aangehaal het (“Die uitsettingsbevel” in Enkelvlug), wat baie dieselfde begrip as Victor Hugo oordra:

“Vir ander mag ‘n nuwe vaderland ‘n moontlikheid wees, maar nie vir my nie. My bestaan, my identiteit, my kern, my alles lê opgesluit in Afrikaans. ‘n Bestaan in ‘n ander taal sal vir my tweedehands wees…

“En verder: Suid-Afrika is nie vir my in die eerste plek sy berge en vlaktes nie. My wesenlike vaderland, as ek Camus mag aanhaal, is my taal. Ek bestaan net in die taal; net vir die taal…”

Dit sou ‘n fout wees om bogaande aanhalings bloot as sentimentalistiese oproepe tot taalnasionalisme te interpreteer. Wat is ‘n “bestaan in Afrikaans” anders as ‘n lewe in ‘n eie land en ‘n eie kultuur? Terwyl jy deur ander regeer en selfs oorheers word, is dit tog moontlik om onder mekaar met ons eie lewens aan te gaan, asof daardie blote politieke feit nie van allesoorwegende belang is nie.

Een van die grootste foute wat die ANC en die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty gemaak het – vanuit hul revolusionêre en vernietigende oogpunt – is om Afrikaans as amptelike taal ná 1994 te behou. Die amptelike status van Afrikaans, indien dit afgedwing sou word, sou die assimilasie van Afrikaners feitlik onmoontlik maak en ons “verenig en apart van die ander” hou soos wat Mark Kurlansky hier bo aangaande die Baske beskryf.

Terwyl ander groepe in die land die wetgewende en uitvoerende gesag van die staat oorheers, is Afrikaners steeds oorverteenwoordig in die derde vertakking van regering: die regsprekende gesag. Toegegee, rasstellende aksie het reeds sy tol op die regbank geëis en daar bly baie min Afrikaanse regters oor, veral in Johannesburg waar die meeste sake aangehoor word.

Feit is egter dat daardie nie-Afrikaanse regters verplig is om die Romeins-Hollandse gemenereg toe te pas. Al die uitsprake wat sedert 1652 in ons land gelewer is, bly steeds geldig! Van die beroemdste uitsprake wat die beginsels van ons reg neergelê het, is boonop in Afrikaans gelewer.

Indien Afrikaanse regslui, asook litigante, sou begin om hofsake in Afrikaans te voer, sou die staat verplig wees om meer Afrikaanse regters aan te stel. Hoewel die staat dus die wetgewing na willekeur mag verander, kan ons in die howe die geleentheid kry om daardie wette na ons siening te laat interpreteer, binne ons eie regstradisie wat die staat genoodsaak is om te volg.

Ons kan selfs die groot maatskappye dwing om meer Afrikaners aan te stel en sodoende werk vir ons mense te skep. Hoe meer Afrikaners voltyds werk, hoe meer geld gaan ons hê om ‘n Afrikanerekonomie naas die Suid-Afrikaanse te ontwikkel. Die Jode, Grieke en ander in ons land doen dit reeds. Ook die Baske beskik oor ‘n uitgebreide koöperasie genaamd Mondragon wat vir ‘n 100 000 mense werk verskaf en een van die groot suksesverhale op die Spaanse grondgebied verteenwoordig.

Ek was nog altyd ‘n groot kritikus van die Grondwet, maar deesdae begin ek dink dat álles in die Grondwet nie net sleg is nie. Daar bestaan artikels in die Grondwet wat ons in ons guns kan laat afdwing – met of sonder die steun van die massa apatiese Afrikaners!

Ander groepe in die land is reeds besig om die Grondwet na hul sin te laat interpreteer: die voorstanders van huwelike tussen mense van dieselfde geslag of diegene wat téén die doodstraf gekant is, byvoorbeeld. Die meerderheid mense in ons land, blank en swart, hou nie van selfdegeslaghuwelike nie en is ten gunste van die doodstraf, maar hulle doen net nie die moeite om hof toe te gaan nie. Daarom is hulle aan die links-liberale aktiviste uitgelewer wat, soos in die VSA, sorg dat hulle uitsprake in hul guns verkry.

Elke uitspraak in die howe verteenwoordig insgelyks ‘n tweesnydende swaard: Dink maar aan mnr. Jaap Kelder van die Nasionale Belastingbetalersunie se beroemde geveg om die oorgangstadsraad van Kemptonpark te kry om die onwettige elektriese verbindings in Tembisa te beëindig en om sy kredietbehoor ook daar toe te pas. Uiteindelik het hy in die Appèlhof in Bloemfontein verloor omdat meesal Afrikaanse regters bevind het dat die stadsraad oor die “diskresie” beskik om te besluit of hulle kredietbeheer sal toepas, selfs nadat hulle amptelik ‘n besluit aangeneem het om dit wel te doen!

Mnr. Jaap Kelder moes in daardie geval die gelag betaal, maar dink net hoe daardie appèlsaak vorentoe deur ‘n Afrikanergemeenskap of -voorstad iewers aangehaal kan word wat dalk sou besluit om nie langer elektrisiteit aan die gewone stadsraad te betaal nie. Indien kredietbeheer deur ‘n munisipaliteit “diskresionêr” is, dan is munisipale wanbetaling mos nie so erg nie, is dit? En as die krediteur oor ‘n diskresie beskik, wat dan van die debiteur wat sy eie diskresie mag hê, om te besluit of hy wil betaal of nie?

Laat die skape by die stembus almal vir mev. Zille of Mmusi Maimane stem.

Afrikanerpolitiek sónder steun is die nuwe wagwoord. Om ‘n cliché te gebruik: Ons moet begin om “uit die kassie” – of aweregs, dis vir my ‘n beter woord – te dink. Kom ons stoei vir ons ‘n plek in die land oop waar ons uiteindelik daardie “Afrikaanse lewe” kan voer waarvan ons almal droom. En dit sluit nie geografiese enklawes, taaleilande, kantons, volkstate of wat ook al, uit nie.

Word deel van die avontuur en sluit aan by praag!

ANC en DA is kop in een mus met rasstellende aksie

Die DA, 'n party wat ook interne rassttellende aksie toepas
Die DA, ‘n party wat ook interne rassttellende aksie toepas

Me. Helen Zille se artikel in Beeld oor “rasstellende aksie”, soos dit deesdae in die volksmond bekendstaan, toon aan hoe die DA se môre- en aandpraatjies nie ooreenkom nie. Is die DA nie die party wat vir sogenaamde “breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging” in die parlement gestem het nie?

Die regulasies van minister Mildred Oliphant verteenwoordig bloot die logiese uitvloeisel van die anti-wit arbeidsbeleid wat die DA ondersteun.

Zille se koloniale onderrok hang ook ver uit as sy onsmaaklike vergelykings tussen ANC-beleid en dié van dr. Verwoerd tref. Waar op aarde het Verwoerd ooit aan maatskappye voorgeskryf wie hulle in diens mag neem en wie nie? Werkreservering in die ou Suid-Afrika is terug te voer na die 1922-staking toe dit deur die veel geprese Suid-Afrikaanse Kommunisteparty met sy destydse slagspreuk van “Werkers verenig vir ‘n wit Suid-Afrika” geëis is. Dit was egter bloot van toepassing op 7% van beroepskategorieë, hoofsaaklik op die myne, en kan nie met die huidige, totalitêre sosiogeniëring van die twee radikaal linkse partye, die ANC en DA, vergelyk word nie.

‘n Voormalige DA-LP, die omroeper Niekie van den Berg, het onlangs op KykNET gesê: “Die DA is nou die party van benadeling.” Volgens hom is dit internet DA-beleid om “van ons middeljarige blanke mense ontslae te raak”.

Indien die DA van blankes en veral blanke mans in sy eie geledere ontslae wil raak, is dit mos net logies dat hy dieselfde beleid in die SA ekonomie sal ondersteun, nie waar nie? Dít het hy inderdaad met sy stem vir breedgebaseerde SEB bewys.

Terwyl me. Zille met haar snedige verwysings na Verwoerd haar ongeneeslike Boerehaat demonstreer, hou sy aan om die historiese ANC as ‘n “eens eerbare organisasie” te bestempel. Wanneer was die ANC ooit eerbaar? Toe dit met die Sowjetunie en Oos-Duitsland saamgespan het om onskuldige burgerlikes in ons land te vermoor? Dink maar aan die Kerkstraat- en Amanzimtoti-bomme. Of toe die ANC- en SAKP-leiers ná hul besoek aan Viëtnam in 1978 op die swart-op-swart terreurveldtog bekend as “people’s war” besluit het? Lees gerus dr. Anthea Jeffery se lywige boek hieroor.

Die DA en die ANC is kop in een mus as dit by die etniese reiniging van minderheidsgroepe uit die arbeidsmark kom.

‘n Nuwe visie is nodig om ‘n einde aan geweld en rassekwotas te maak. Slegs Front Nasionaal se beleid van kulturele outonomie en selfbeskikking kan Suid-Afrika van gewisse ondergang red.

Dr. Dan Roodt
Onderleier, Front Nasionaal

Rasstellende aksie moet weg!

danr2deur Dan Roodt

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Ek is nie seker wie eerste van “rasstellende aksie” begin praat het nie. Dis egter een van daardie vindingryke Afrikaanse terme of woordspelinge wat die onreg van huidige regeringsbeleid baie goed uitdruk.

Rasse word getel en rasse word in ‘n rangorde gestel. Swart is bo en blank is onder, amper soos die Bybelvers wat sê:

Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en die wat laaste is, eerste. (Markus 10: 31)

Soos ek ook verlede jaar opgemerk het:

Uiteindelik kom alle vorme van regstellende aksie neer op anti-blanke beleid, met die uitsondering van Maleisië waar dit teen Chinese gerig is. In verskillende lande word dit verskillend gerasionaliseer.

Hier by ons moet RA ‘n meerderheid teen mededinging vanaf die (blanke) minderheid beskerm. In die VSA weer moet die (swart) minderheid teen die voorlopig blanke meerderheid bevoordeel word. Ons weet egter dat die VSA-bevolking kantel en dat daar nou meer nie-blanke as blanke geboortes is, dus sal die argument daar ook mettertyd verander, nl. dat die meerderheid teen die minderheid beskerm moet word.

Onderliggend aan rasstellende aksie is insgelyks ‘n stuk liberale rassisme, want blykbaar is swartes vanweë een of ander aangebore gebrek nie in staat om met blankes in die ekonomie mee te ding nie! Daarom moet hulle, hetsy as minderheid, hetsy as meerderheid, altyd teen blankes bevoordeel word.

Dit geld veral die toelatingsvereistes op universiteit waar rasstellende aksie byna oral toegepas word sodat blanke studente van bepaalde studierigtings (veral die sogenaamde gesondheidswetenskappe) uitgesluit word ten gunste van swartes met veel mindere prestasie. Dus, sowel ekonomies as akademies is daar blykbaar ‘n implisiete erkenning dat swartes oor minder vermoëns as blankes beskik

Voorstanders van rasstellende aksie verwys egter nooit na vermoëns of talent nie, aangesien hulle voorhou dat alle mense met dieselfde vermoëns of talente gebore word. Dis net omstandighede wat veroorsaak dat almal nie op gelyke vlak presteer nie, of dit nou daaroor gaan om ‘n onderskeiding vir wiskunde in matriek te behaal of ‘n Springbokrugbyspeler te word.

Alle gebrek aan prestasie onder SA swartes word vaagweg aan “apartheid”, “die geskiedenis” of “vorige benadeling” toegeskryf sonder dat daar ooit na spesifieke voorbeelde van sodanige benadeling verwys word.

Trouens, hierdie “kumulatiewe benadeling vanuit die verlede” is oorgeneem vanuit die marxistiese diskoers oor “kapitaalvorming” wat op grond van meerwaarde of die uitbuiting van arbeid plaasvind. Die swartman in Suid-Afrika beskik oor ‘n opgehoopte “benadelingskrediet” wat tans deur middel van rasstellende aksie “uitgekeer” word. Die kollektiewe blankedom is sy “debiteur” wat die volgende aan hom verskuldig is:

  • geld
  • grond
  • bevordering
  • posisies in die staatsdiens
  • aandele in openbare maatskappye
  • aandele in private maatskappye
  • ‘n buitensporige rol in die land se geskrewe geskiedenis
  • ‘n buitensporige rol in die letterkunde, musiek en kultuur van die land

Waarskynlik is ek die enigste persoon wat telkens op die rol van die universiteite hamer as dit kom by die vestiging van ‘n marxistiese wêreldbeskouing in ons land kom. Wits en Kaapstad was op die voorpunt van die institusionalisering van marxistiese denke in die sestiger- en sewentigerjare, waarna dit na die res van die universiteite uitgebrei is. Die Afrikaanse universiteite is natuurlik eers onlangs tot die marxisme bekeer, maar getrou aan die aard van sommige Afrikaners hang hulle vandag kommunisme veel meer fanaties aan as wat hulle in die verlede die NP-beleid verdedig het.

Jaarliks word ‘n aansienlike gedeelte van die land se hulpbronne en die opvoedingstelsel gebruik om die begrip van swart benadeling aan die publiek tuis te bring, met die geesteswetenskappe wat byna uitsluitlik aan dié doel gewy word.

Suid-Afrika beskik tans oor baie min oorspronklike denke oor die geskiedenis, die ekonomie en etnisiteit, anders as in die verlede. Die Britse marxisme het in die SA universiteite sy grootste afsetgebied in die Engelssprekende wêreld gevind. Arthur Keppel-Jones, oor wie Leon Lemmer verlede week geskryf het, het reeds in die dertigerjare die Universiteit van Kaapstad as ‘n Britse instelling ervaar:

Yes, my experience at the University of Cape Town first exposed me to liberal values and led me to question the fundamental values of the society in which I had grown up. I later learned that many of my friends who did not have a university education remained racists, while those who did like me became liberal. At UCT, I was taught by professors and lecturers most of whom had a British background. From my schooldays the British influence was a liberating one. Most of my lecturers were not tainted by South African racial prejudice.

Teen die sestigerjare het die marxisme egter die Britse universiteite oorgeneem en moes sogenaamde “liberalisme” wyk voor sosialisme en kommunisme. Een van die sentrale argumente van die Britse marxisme, wat natuurlik klakkeloos deur ons koloniale kommuniste hier te lande oorgeneem is, is dat “ras” en “klas” in Suid-Afrika min of meer ooreenstem. Selfs waar blankes, veral Afrikaners, in myne of fabrieke gewerk het, is hulle nie deur die Britse marxiste as “ware werkers” beskou nie. Die ware werker of suiwer lid van die proletariaat was die swartman. Die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty het ook die gedagte van ‘n etniese federasie soortgelyk aan die Russiese stelsel wat in die laat vyftigerjare deur die Sowjet-akademie vir wetenskappe vir Suid-Afrika voorgestel is, verwerp. Die eenheidstaat met ‘n Britse kultuur en met Engels as enigste amptelike taal was al waarin Joe Slovo, Ruth First, Rusty Bernstein en ander geharde SA kommuniste belanggestel het.

Die “nuwe Suid-Afrikaanse geskiedenis” van die afgelope dekade of twee is feitlik geheel en al deur kommuniste geskryf, of is op die marxistiese geskiedskrywing met sy hoofsetel in Londen, gegrond. Daardie geskiedenis beklemtoon die skade wat die swartman weens “apartheid en kapitalisme” gely het. Die feit dat die meeste winste in Londen opgehoop het, aangesien Britse beleggers nog altyd die room van ons myne en nywerheidsmaatskappye besit het, word gerieflikheidshalwe verswyg. Soos wat Stalin tegelyk kommunis én Russiese nasionalis was, is die meeste Britse marxiste sowel links as Brits nasionalisties of imperialisties gesind.

Ons sien dus dat rasstellende aksie soos ons dit deesdae in Suid-Afrika teëkom, sy wortels in die Britse marxisme het. Daarom verteenwoordig RA ‘n variasie op die tema van die “diktatuur van die proletariaat”. Omdat die swartman na die mening van SA/Britse marxiste die enigste egte proletariër is, moet sy oorheersing op alle gebiede ter wille van die “totale transformasie van die maatskappy” gevestig word. Die uitsluiting van die blanke middelklas uit die ekonomie, tersiêre opvoeding en van landbougrond geskied soortgelyk aan die vervolging van die sogenaamde “koelakke” in die vroeë Sowjetunie. Oor die koelakke het Lenin gesê:

Hulle is bloedsuiers, vampiere, plunderaars van die volk en uitbuiters wat hongersnood misbruik.

Toe Stalin aan bewind kom, het hy besluit om ‘n “klasseoorlog” teen die koelakke te verklaar en het hom in 1930 só oor hulle uitgelaat:

Ten einde die ‘koelakke’ as ‘n klas uit te knikker, moet die weerstand van dié klas in ‘n openlike geveg vernietig word en moet dit van die produktiewe bronne van sy bestaan en ontwikkeling ontneem word… Dit verteenwoordig ‘n wending na ‘n beleid van die eliminering van die koelakke as ‘n klas.

Binne die Britse marxisme en sy siening oor Suid-Afrika – wat die heersiende siening in sowel ons universiteite as ons media geword het – is ras en klas uitwisselbaar. Rasstellende aksie is daarom, ewe seer as Stalin se beleid om “die koelakke te elimineer”, daarop gemik om die blanke middelkas te “elimineer”.

Net soos wat kommunisme in die voormalige Sowjetunie ‘n misdaad teen die mensdom was, is rasstellende aksie in Suid-Afrika besig om in ‘n misdaad teen die mensdom te ontaard. Dis nodig dat ons dit oor en oor begin sê.

Elke aspek van die propaganda oor rasstellende aksie, maar veral begrippe soos “witskuld”, “historiese skuld”, “vorige benadeling” en so meer, moet meedoënloos aan kritiek onderwerp word. “Transformasie” as sodanig, asook enige gewaande behoefte daaraan, moet in sy geheel verwerp word.

Vandat Marx en Lenin in 1948 hul Kommunistiese Manifes gepubliseer het, en waarin hulle van die “spook van kommunisme oor Europa” praat, het kommuniste en marxiste nog altyd histeries oor verskille in rykdom, prestasie en geskiedkundige onreg tekere gegaan. In ons land is dit nie anders gesteld nie. Inteendeel, enige bevraagtekening van die “kumulatiewe witskuld” word luidkeels met krete van “rassisme” en “fascisme” begroet.

Die meeste politieke partye soos die ANC, DA, Cope en ander ondersteun rasstellende aksie. Dis nodig dat rasstellende aksie finaal aan die kaak gestel word vir die stuk marxistiese drogredenasie wat dit is, ook tydens debatte in die huidige verkiesing. Voorstanders daarvan behoort ook die eerlikheid te hê om die klassieke kommunistiese terme soos “diktatuur van die proletariaat” te gebruik as hulle hul argumente in die openbaar stel, pleks van mooiklinkende Amerikaanse eufemismes soos “affirmative action” wat eintlik sinneloos is.

Om die rasse te tel (kwotas) of bokant mekaar te stel, mag nie langer geduld word nie.

Ondersteun hierdie blad deur by praag aan te sluit.

Asimmetriese diskriminasie

delport_manfred_600deur Manfred Delport

[followbutton username=’ManfredDelport’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Volg Manfred op Facebook.

Die libgestremdes in die VSA is opnuut erg beswaard oor voorgestelde wetgewing in die Amerikaanse deelstaat, Arizona. Libgestremdes het maar nou eenmaal hierdie gewoonte om hulself intens oor relatiewe onbenullighede op te werk. Arizona se voorgestelde wetgewing sou byvoorbeeld mense wat godsdienstige besware teen gayhuwelike het, die reg gee om dien ooreenkomstig op te tree. As ‘n Christen-egpaar byvoorbeeld ‘n gastehuis besit, en ‘n getroude gay paartjie wil by die gastehuis oornag, sou die gastehuis se eienaars mag weier om die paartjie daar te laat slaap, op grond van die eienaars se oortuigings.

Vir iemand wat nie ‘n libgestremde is nie, is dit moeilik om te sien wat fout sou kon wees met hierdie voorgestelde wetgewing. Eerstens, as Gastehuis A jou nie wil toelaat nie, gaan slaap bloot in Gastehuis B! Waarom in ieder geval iemand wil dwing om jou te akkommodeer as jy besef jy is onwelkom? Maar dis presies wat die kulturele marxiste in die VSA wil doen: Hulle wil hulself aan mense opdwing, of hulle nou welkom is of nie. Dit is absurd. As ek byvoorbeeld ‘n hamtoebroodjie wil eet, sou ‘n imam of ‘n rabbi die volste reg hê om my hulle moskee of sinagoge te verbied terwyl ek my toebroodjie wil geniet. Vir my om myself nou aan hulle op te dwing, om, soos ‘n tipiese Amerikaner, ‘n absurde hofsaak te wil loods om hulle te dwing om my vark in ‘n moskee te laat eet, sou nie net tydmors wees nie, maar ook indruis teen die Jood of Moslem se reg om sy eie geloofsoortuigings uit te leef. Die gedwonge assosiasie met diegene wat lewensstyle aanhang wat teen ‘n Christen se oortuigings indruis, maak eweneens inbreuk op die Christen se geloofsvryheid, en spreek eintlik van ‘n ongevraagde, fascistiese inbreuk op mense se vryheid van assosiasie asook dwingelandy.

Ja, ‘n verbod op my wat wil vark eet in ‘n moskee is natuurlik diskriminasie. Ek hou immers van spek vir ontbyt en hamtoebroodjies, maar ‘n rabbi of ‘n imam mag teen my (en varkboere) diskrimineer en my hulle huise van aanbidding verbied, terwyl ek my varkvleis eet.  Ek kan nie redelikerwys daaroor wil gaan kla nie. Dit word billike diskriminasie genoem. Daar is wel billike diskriminasie, en diskriminasie is oral ‘n aanvaarde feit van die lewe. As ek more by Heyneke Meyer gaan aanklop, gaan hy teen my diskrimineer, want ek gaan beslis nie gekies word vir die Springbokspan nie. Geen hof sal my egter gelyk gee dat Meyer onredelik gediskrimineer het nie.  Matrikulante, selfs in die ou dae, kon nie mediese dokters word as hulle nie goeie simbole in matriek behaal het nie. Die universiteite het teen hulle gediskrimineer. Niemand kan egter redelikerwys kla oor bostaande voorbeelde van diskriminasie nie.

Die probleem kom in wanneer die linkses en kulturele marxiste vir hulself of selektief die reg opeis om te mag diskrimineer, maar andere wil verhoed om ook te diskrimineer. Assimetriese diskriminasie, waarin een party mag diskrimineer, maar die eerste party ‘n tweede party probeer verhoed om ook so te maak, is ‘n probleem. Dan word dit onbillike diskriminasie, wanneer een party besluit hy mag self diskrimineer, maar ‘n ander party van daardie selfde reg probeer ontneem.

Vat rasstellende aksie, ‘n prima-voorbeeld van asimmetriese diskriminasie. Die Madibatopiese grondwet praat weliswaar van sogenaamde billike diskriminasie, maar rasstellende aksie is allermins billik. Rasstellende aksie is onbillik, want dit is asimmetries. Daar mag teen blankes gediskrimineer word, maar nie teen swartes nie. As daar dan wel billike diskriminasie teenoor werknemers moet wees, laat dan gerus toe dat ‘n swart sake-eienaar teen blanke werknemers diskrimineer.  Laat swart-beheerde ondernemings gerus toe om vakatures te adverteer wat lees: “EE only.” Maar laat blanke ondernemings dan toe om presies dieselfde te doen, om, soos die studente-akkommodasie in Bloemfontein gemaak het, te adverteer: “Slegs nie-regstellende-aksie kandidate”.

Dinge werk egter nie so nie. Daar is ‘n skreiende asimmetrie. Waarom is dit aanvaarbaar vir talle personeelagentskappe om derduisende advertensies te plaas wat lui: “AA only”, maar sou ‘n blanke onderneming dit waag, is daar ‘n geweldige geskree vanuit die oord van die ekstreemlinkses? Die studente-akkommodasie in Bloemfontein, wat presies dieselfde gedoen het wat talle personeelagentskappe gedoen het, is deur ‘n histeriese koor van skuim-om-die-mond libgestremdes as rassiste uitgekryt. Logieserwys behoort hierdie diskriminasie vinkel en koljander te wees – as swartes teen blankes mag diskrimineer by die werk, vereis regverdigheid en simmetrie dat blankes ook so mag maak teen swartes.

Dit is een van die talle probleme met die kulturele marxiste: Hulle wil as’t ware vark in ‘n sinagoge eet, en as iemand durf beswaar aanteken, skree hulle dat hy homofobies is en wil hulle hom dagvaar.