Vryheid, gelykheid en nasionalisme

Deel op

danr2deur Dan Roodt

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Ek onthou die opskrif in ons geskiedenisboek toe ek op skool was in die ou Suid-Afrika: “Die Franse omwenteling.”

In daardie dae was Afrikaans suiwer en Germanisties, en is die woord “revolusie” as minder wenslike taalgebruik geag.

Terwyl Suid-Afrika se verkiesingsuitslae verlede week geen verrassings ingehou het nie, broei daar in Frankryk die soort politieke, kulturele en intellektuele omwenteling wat laas wêreldwyd in skoolhandboeke verewig is. In die aanloop tot 1789 sou filosowe, skrywers, ensiklopediste en oproermakers die hele Europa aan die brand steek met die woorde “vryheid, gelykheid, broederskap”.

Deesdae is daar weer ’n groot groep Franse skrywers, filosowe, denkers en sogenaamd “populistiese” politici – soos Marine Le Pen van die Nasionale Front (Front National – FN) – wat reëlreg standpunt inneem teen die magtige Amerika, die Europese Unie, die multikulturele samelewing, die miljardêrs en bankiers, maar ook vorme van moderne kuns, feminisme en wit skuld.

Iewers onthou ek ’n Amerikaanse akademikus wat bewonderend oor Franse intellektuele opgemerk het: “As die trein van die geskiedenis by ons die stasie binnestoom, het hy in Parys lankal reeds vertrek.” Hy het dié uitspraak gemaak met verwysing na die pornografiese letterkunde van Georges Bataille wat “oortreding” – veral van godsdienstige, sek­suele en ander taboes – die grondbeginsel van sy oeuvre gemaak het.

Dieselfde Franse obsessie met die avant-garde en om nuut en oorspronklik te dink, het weer eens vir ’n uitbarsting van ikonoklasme en rebellie gesorg wat dreig om die land uitmekaar te skeur en geweldige spanning, maar ook opwinding veroorsaak. Die stryd word gevoer in dik boeke en essays waarin die geskiedenis sedert die Middeleeue sommer herinterpreteer word. Dit woed verder op die internet, op webblaaie, Twitter, YouTube en TV-gespreksprogramme waar jy maar kan vloek en skel en argot (Franse sleng) gebruik, solank jy intelligent klink en iets te sê het.

En natuurlik, in ’n land waar die skoonheidsbedryf van madame Liliane Bettencourt, erfgename van die maatskappy L’Oréal, die rykste vrou ter wêreld gemaak het, verstaan almal hoe bemarking, reklame en media werk. Terwyl aktiviste, filosowe en politici mekaar die stryd op TV aansê, word daar terselfdertyd met die Franse voorliefde vir geleerde terme oor “die media” en hul invloed bespiegel op die trant van ’n Pierre Bourdieu of ’n Jean Baudrillard.

Volgens sommige peilings steun tot 30% van die Franse jeug die regse Nasionale Front en dis in die mode om regs en “patrioties” te wees. Net soos in Duitsland tydens die Weimar-republiek in die 1920’s gebeur het, oortuig kommuniste hulself geredelik van die noodsaak van nasionalisme en selfs kommunistiese en linkse kiesers uit die Franse werkersklas stem deesdae insgelyks vir “Le Front”.

In die aanloop tot die Europese verkiesings wat volgende Sondag plaasvind, staan die Nasionale Front sterk met 24% van moontlike stemme – volgens ’n meningspeiling deur die CSA vir BFMTV en die Nice-Matin-mediagroep wat aan die einde van verlede maand gedoen is.

Die party se liberale teenstander, die UMP (Unie vir ’n Volksbeweging), ontvang in dieselfde meningsopname 22% steun en die Sosialistiese Party 20%.

Onder jong mense en middeljariges is die Nasionale Front los voor. Die CSA-peiling toon tot 30% van kiesers tussen 25 en 34 jaar en 34% van kiesers tussen 35 en 49 jaar steun die party.

’n Mens moet onthou dat vele immigrante van Wes-Afrika en die Midde-Ooste in Frankryk ook stemreg het en gewoonlik Sosialisties stem, wat die steun vir die FN onder “inheemse Franse” nóg hoër sou maak.

Een oud-kommunis wat tans aan die voorpunt van die Franse stryd staan teen wat hy die “globalistiese oligargie” noem, is Alain Soral.

Hoewel hy hom steeds as ’n Marxis beskou, het hy van die Franse Kommunistiese Party reguit na die Nasionale Front oorgeloop en was ook in ’n stadium dagbestuurslid van die party. Tans verkeer sy jongste boek Comprendre l’empire (Om die ryk te verstaan) boaan die Franse blitsverkoperlys van politieke nie-fiksie. Die subtitel daarvan is veelseggend: “Demain la gouvernance globale ou la révolte des Nations?” Overgezet synde: Môre ’n wêreldregering, of die opstand van volkere?

Volgens Soral is dit net nasies of volkere wat oor die vermoë beskik om weerstand teen ’n dreigende globale oligargie van rykes te bied. Hy bedryf ook sy eie organisasie, genaamd “Gelykheid en versoening”, wat onder meer geld insamel vir sy regskoste, want hy is in etlike hofsake gewikkel teen ander groepe of politici wat hom van laster aankla.

Hoe het Soral so bekend (of berug) geraak dat selfs die huidige Franse premier, Manuel Valls, gereeld na hom verwys? Een element is die TV-debatte tussen skrywers, akademici en politici waar deelname van mense met reëlreg teenoorgestelde menings uiteraard vir heftige meningsverskil en hoë kykersgetalle sorg. Soral, wat skerp kritiek op feminisme lewer, is byvoorbeeld “in die spel geplaas” teen die linkse feminis en uitgesproke lesbiër, Caroline Fourest.

Humor en tipies Franse sarkasme kenmerk dié botsings. Die Joodse aktivis en advokaat ­Arno Klarsfeld het selfs op televisie ’n glas water oor sy debatsteenstander ­Robert Ménard uitgesmyt.

Verkiesingsplakkate van die Front National: Nee vir Brussel,  ja vir Frankryk
Verkiesingsplakkate van die Front National: Nee vir Brussel, ja vir Frankryk

Interessant is Soral se bewering dat Vrymesselary ’n groot rol in die Franse Revolusie gespeel het. Ook verklaar Soral die breuk in die 19de-eeuse sosialisme tussen die “wetenskaplike” (en dus wrede) Marx-Engels-sosialisme en die “libertynse” sosialisme van Proudhon en Bakoenin aan die hand van hul afkoms en verbintenis, aldan nie, met die internasionale bankiers.

As ’n mens in een boek na Vrymesselaars, bankiers en Karl Marx sáám verwys, klink dit al klaar na ’n same­swerings­teorie, maar Soral se ontleding steun op heelwat feite en verrassende nuwe insigte. Soral sou egter as filosofiese denker, maar ook as aktivis, nie so omstrede gewees het as hy nie ’n noue vriendskap gehandhaaf het met Frankryk se grootste rassis nie.

Voordat die leser nou tot ’n haastige gevolgtrekking kom – onthou hierdie is Frankryk, dinge is nie so voorspelbaar soos by ons nie. Frankryk se “grootste rassis” is, ja wel, ’n swart man en ’n uiters gewilde komediant! ’n Man wat, soos ­Trevor Noah, agtergekom het dat skerp politieke satire vol sale kan trek. Trouens, Dieudonné M’bala M’bala was eens op ’n tyd aktief in die beweging téén ­rassisme en het spesifiek teen die Nasionale Front te velde getrek, terwyl hy ook vertonings waarin rassisme gesatiriseer word, aangebied het.

Op 1 Desember 2003 het Dieudonné egter ’n satiriese skets op TV oor die ­Palestynse kwessie aangebied waarin hy die spot met ’n Joodse setlaar in die besette gebiede dryf en hom as ’n Nazi voorstel. Daarmee het Dieudonné kennelik sy politieke satire te ver gevoer.

Frank­ryk se invloedryke Joodse gemeenskap van 500 000, wat ook in die media oorverteenwoordig is, het hom as antisemities begin brandmerk. Maar pleks van terug te staan, het Dieudonné die speletjie verder geneem en selfs ’n nuwe satiriese saluut wat hy die “quenelle”noem, in ’n stortvloed vierletterwoorde bekend gestel.

In Afrikaans kan ’n mens seker die quenelle die “af-arm” noem, want een arm hang slap langs die lyf en die ander word oor die bors gekruis. Heel onskuldig, op die oog af. Behalwe in die oë van die Joodse Raad van Frankryk (CRIF) wat toenemend in die af-arm ’n nuwe en “bedekte Nazi-saluut” begin sien het.

Die gevolg is dat die Joodse Raad aan die begin van die jaar as ’t ware die Franse kabinet “byeengeroep” het om Dieudonné se vertonings te verbied.

Manuel Valls, toe nog die minister van binnelandse sake, het persoonlik daarvoor gesorg dat verskeie stede in Januarie ­Dieudonné se vertonings verbied het. Vir ’n week of tien dae het die Franse media oor niks anders as die quenelle geskryf nie!

Ironies genoeg het die Duitse tydskrif Der Spiegel onlangs die Joods-Franse filosoof Alain Finkielkraut as “regs en konserwatief” bestempel omdat hy insgelyks die reg op ’n eie kulturele en volksidentiteit verdedig. Duitsers wat Jode “regs” noem? Jode wat ’n swart man van “aanhitsing tot rassehaat” (’n misdaad in Frankryk) aankla? Waar is ons nou? wonder ’n mens. Dis amper soos die “draai-arm” op Potchefstroom wat ook ná jare ’n Nazi-saluut geword het.

Feit is egter dat daar die afgelope dekade of drie honderde boeke in Frans verskyn het wat op een of ander manier die idee van ’n nasionale kultuur of identiteit op ’n verskeidenheid maniere besing, iets wat natuurlik teen multikulturalisme en globalisme indruis. Toenemend is die linkses in Frankryk teen die toue en het geen antwoord meer op die intellektuele intensiteit en politieke provokasies van die regses nie.

Marine Le Pen verwerp die huidige ­Europese Unie – wat volgens haar nasionale soewereiniteite skend – maar is ten gunste van ’n Parys-Berlyn-Moskou-spil wat ’n “Europa van nasies” téén die Amerikaanse “ryk” tot stand bring. Sal ’n oorlogsugtige VSA so iets duld?

Een van madame Le Pen se kwinkslae is: “Frankryk verkeer in ’n krisis en ons het nie eens ’n Korsikaan wat ons kan kom red nie.”

Laasgenoemde is natuurlik ’n verwysing na Napoleon. Maar op die eiland Korsika betoog nasionaliste in hul duisende juis om van Frankryk af te stig!

Soos Alain Soral dit stel: “Globalisering is ’n onvermydelike tegnologiese en ekonomiese proses, maar globalisme verteenwoordig ’n vorm van verdrukking.”

Hierdie rubriek het verlede Sondag ook in Rapport verskyn.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.