‘n Brand naby die Vrymesselaarsperseel in Sterling Small Holdings in die omgewing van Horizon Stables and Guest House, het Maandag in Bloemfontein uitgebreek.
Die oorsaak van die brand wat by die spa van ‘n gastehuis naby Langenhovenpark in Bloemfontein gewoed het, sal na verwagting Dinsdag ondersoek word.
Afdelingsoffisier van die Mangaung-brandweer-en-reddingsdiens, Braam van Zyl, sê hulle is gisteraand omstreeks 20:00 na die Horizon Stables en Gastehuis by die Sterling-kleinhoewes ontbied.
Vlamme het gewoed in losstaande houthuisies naby die gastehuis. Van Zyl sê die brand het vermoedelik in een van die houthuisies wat as ‘n spa ingerig is uitgebreek en na ander houtgeboue versprei.
Van Zyl sê die brand is omstreeks 23:00 gisteraand onder beheer gebring. Niemand is in die voorval beseer nie.
Tertia de Bruin, wie se man Johan die eienaar van Horizon Stables is, sê hulle is baie dankbaar die vlamme het nie versprei na die gastehuis nie.
Op gronde van die Parlement, naby Tuynhuys in die hart van Kaapstad, staan die Losie De Goede Hoop agter ‘n parkeerterrein vol duur ministeriële motors versteek.
Dit is ‘n ou, wit, gepleisterde gebou, skryf City Press.
Slegs die Vrymesselaarsimbool op die venster en die ster van Dawid bo die groot houtdeure wys dat dit nie net nog ‘n parlementêre gebou is nie.
Daar is baie samesweringsteorieë, beweerde bande met moorde, en diegene wat glo dat die Vrymesselaars “die saad van apartheid geplant het”.
Die gebou is as die eerste Masonic Temple in Suid-Afrika in 1803 ingewy en word steeds daagliks gebruik deur sy lede.
Hierdie week, het City Press ‘n toer van die tempel onderneem met die nuutaangestelde Grand Master van die SA Vrymesselaars, Geoff Edwards.
Op ‘n tafel in die voorportaal is ‘n vierkant en ‘n passer – bekende simbole van die geheime organisasie. Op die muur is ‘n gegraveerde lys van die name van die voormalige meesters en die muur langs die voordeur is versier met ‘n geraamde foto van Watty Watson, voormalige DA-hoofsweep en uittredende Grand Master.
Die eerste Vrymesselaar losie is in 1772 in Kaapstad gestig en die tempel is ongeveer 30 jaar later gebou.
Die Kaapse regering van destyds en die Vrymesselaars is so nou verweef dat die Kaapse Parlement die banketsaal gebruik het tussen 1854-1884 totdat die ou Volksraad voltooi is.
Twee kunsmatige menslike skedels gee ‘n koue ontvangs.
Die mees fassinerende kamer in die Losie De Goede Hoop is ongetwyfeld die middelste. Die kamer is donker, selfs in die middel van die dag. Hier word seremonies gehou in die nag in die pikdonker.
Die organisasie is oop vir alle rasse maar nie vroue nie.
“In ons losie het ons lede van die Parlement van drie verskillende politieke partye en hulle het kom almal baie goed oor die weg,” spog die Groot Kokkedoor.
Ek onthou die opskrif in ons geskiedenisboek toe ek op skool was in die ou Suid-Afrika: “Die Franse omwenteling.”
In daardie dae was Afrikaans suiwer en Germanisties, en is die woord “revolusie” as minder wenslike taalgebruik geag.
Terwyl Suid-Afrika se verkiesingsuitslae verlede week geen verrassings ingehou het nie, broei daar in Frankryk die soort politieke, kulturele en intellektuele omwenteling wat laas wêreldwyd in skoolhandboeke verewig is. In die aanloop tot 1789 sou filosowe, skrywers, ensiklopediste en oproermakers die hele Europa aan die brand steek met die woorde “vryheid, gelykheid, broederskap”.
Deesdae is daar weer ’n groot groep Franse skrywers, filosowe, denkers en sogenaamd “populistiese” politici – soos Marine Le Pen van die Nasionale Front (Front National – FN) – wat reëlreg standpunt inneem teen die magtige Amerika, die Europese Unie, die multikulturele samelewing, die miljardêrs en bankiers, maar ook vorme van moderne kuns, feminisme en wit skuld.
Iewers onthou ek ’n Amerikaanse akademikus wat bewonderend oor Franse intellektuele opgemerk het: “As die trein van die geskiedenis by ons die stasie binnestoom, het hy in Parys lankal reeds vertrek.” Hy het dié uitspraak gemaak met verwysing na die pornografiese letterkunde van Georges Bataille wat “oortreding” – veral van godsdienstige, seksuele en ander taboes – die grondbeginsel van sy oeuvre gemaak het.
Dieselfde Franse obsessie met die avant-garde en om nuut en oorspronklik te dink, het weer eens vir ’n uitbarsting van ikonoklasme en rebellie gesorg wat dreig om die land uitmekaar te skeur en geweldige spanning, maar ook opwinding veroorsaak. Die stryd word gevoer in dik boeke en essays waarin die geskiedenis sedert die Middeleeue sommer herinterpreteer word. Dit woed verder op die internet, op webblaaie, Twitter, YouTube en TV-gespreksprogramme waar jy maar kan vloek en skel en argot (Franse sleng) gebruik, solank jy intelligent klink en iets te sê het.
En natuurlik, in ’n land waar die skoonheidsbedryf van madame Liliane Bettencourt, erfgename van die maatskappy L’Oréal, die rykste vrou ter wêreld gemaak het, verstaan almal hoe bemarking, reklame en media werk. Terwyl aktiviste, filosowe en politici mekaar die stryd op TV aansê, word daar terselfdertyd met die Franse voorliefde vir geleerde terme oor “die media” en hul invloed bespiegel op die trant van ’n Pierre Bourdieu of ’n Jean Baudrillard.
Volgens sommige peilings steun tot 30% van die Franse jeug die regse Nasionale Front en dis in die mode om regs en “patrioties” te wees. Net soos in Duitsland tydens die Weimar-republiek in die 1920’s gebeur het, oortuig kommuniste hulself geredelik van die noodsaak van nasionalisme en selfs kommunistiese en linkse kiesers uit die Franse werkersklas stem deesdae insgelyks vir “Le Front”.
In die aanloop tot die Europese verkiesings wat volgende Sondag plaasvind, staan die Nasionale Front sterk met 24% van moontlike stemme – volgens ’n meningspeiling deur die CSA vir BFMTV en die Nice-Matin-mediagroep wat aan die einde van verlede maand gedoen is.
Die party se liberale teenstander, die UMP (Unie vir ’n Volksbeweging), ontvang in dieselfde meningsopname 22% steun en die Sosialistiese Party 20%.
Onder jong mense en middeljariges is die Nasionale Front los voor. Die CSA-peiling toon tot 30% van kiesers tussen 25 en 34 jaar en 34% van kiesers tussen 35 en 49 jaar steun die party.
’n Mens moet onthou dat vele immigrante van Wes-Afrika en die Midde-Ooste in Frankryk ook stemreg het en gewoonlik Sosialisties stem, wat die steun vir die FN onder “inheemse Franse” nóg hoër sou maak.
Een oud-kommunis wat tans aan die voorpunt van die Franse stryd staan teen wat hy die “globalistiese oligargie” noem, is Alain Soral.
Hoewel hy hom steeds as ’n Marxis beskou, het hy van die Franse Kommunistiese Party reguit na die Nasionale Front oorgeloop en was ook in ’n stadium dagbestuurslid van die party. Tans verkeer sy jongste boek Comprendre l’empire (Om die ryk te verstaan) boaan die Franse blitsverkoperlys van politieke nie-fiksie. Die subtitel daarvan is veelseggend: “Demain la gouvernance globale ou la révolte des Nations?” Overgezet synde: Môre ’n wêreldregering, of die opstand van volkere?
Volgens Soral is dit net nasies of volkere wat oor die vermoë beskik om weerstand teen ’n dreigende globale oligargie van rykes te bied. Hy bedryf ook sy eie organisasie, genaamd “Gelykheid en versoening”, wat onder meer geld insamel vir sy regskoste, want hy is in etlike hofsake gewikkel teen ander groepe of politici wat hom van laster aankla.
Hoe het Soral so bekend (of berug) geraak dat selfs die huidige Franse premier, Manuel Valls, gereeld na hom verwys? Een element is die TV-debatte tussen skrywers, akademici en politici waar deelname van mense met reëlreg teenoorgestelde menings uiteraard vir heftige meningsverskil en hoë kykersgetalle sorg. Soral, wat skerp kritiek op feminisme lewer, is byvoorbeeld “in die spel geplaas” teen die linkse feminis en uitgesproke lesbiër, Caroline Fourest.
Humor en tipies Franse sarkasme kenmerk dié botsings. Die Joodse aktivis en advokaat Arno Klarsfeld het selfs op televisie ’n glas water oor sy debatsteenstander Robert Ménard uitgesmyt.
Verkiesingsplakkate van die Front National: Nee vir Brussel, ja vir Frankryk
Interessant is Soral se bewering dat Vrymesselary ’n groot rol in die Franse Revolusie gespeel het. Ook verklaar Soral die breuk in die 19de-eeuse sosialisme tussen die “wetenskaplike” (en dus wrede) Marx-Engels-sosialisme en die “libertynse” sosialisme van Proudhon en Bakoenin aan die hand van hul afkoms en verbintenis, aldan nie, met die internasionale bankiers.
As ’n mens in een boek na Vrymesselaars, bankiers en Karl Marx sáám verwys, klink dit al klaar na ’n samesweringsteorie, maar Soral se ontleding steun op heelwat feite en verrassende nuwe insigte. Soral sou egter as filosofiese denker, maar ook as aktivis, nie so omstrede gewees het as hy nie ’n noue vriendskap gehandhaaf het met Frankryk se grootste rassis nie.
Voordat die leser nou tot ’n haastige gevolgtrekking kom – onthou hierdie is Frankryk, dinge is nie so voorspelbaar soos by ons nie. Frankryk se “grootste rassis” is, ja wel, ’n swart man en ’n uiters gewilde komediant! ’n Man wat, soos Trevor Noah, agtergekom het dat skerp politieke satire vol sale kan trek. Trouens, Dieudonné M’bala M’bala was eens op ’n tyd aktief in die beweging téén rassisme en het spesifiek teen die Nasionale Front te velde getrek, terwyl hy ook vertonings waarin rassisme gesatiriseer word, aangebied het.
Op 1 Desember 2003 het Dieudonné egter ’n satiriese skets op TV oor die Palestynse kwessie aangebied waarin hy die spot met ’n Joodse setlaar in die besette gebiede dryf en hom as ’n Nazi voorstel. Daarmee het Dieudonné kennelik sy politieke satire te ver gevoer.
Frankryk se invloedryke Joodse gemeenskap van 500 000, wat ook in die media oorverteenwoordig is, het hom as antisemities begin brandmerk. Maar pleks van terug te staan, het Dieudonné die speletjie verder geneem en selfs ’n nuwe satiriese saluut wat hy die “quenelle”noem, in ’n stortvloed vierletterwoorde bekend gestel.
In Afrikaans kan ’n mens seker die quenelle die “af-arm” noem, want een arm hang slap langs die lyf en die ander word oor die bors gekruis. Heel onskuldig, op die oog af. Behalwe in die oë van die Joodse Raad van Frankryk (CRIF) wat toenemend in die af-arm ’n nuwe en “bedekte Nazi-saluut” begin sien het.
Die gevolg is dat die Joodse Raad aan die begin van die jaar as ’t ware die Franse kabinet “byeengeroep” het om Dieudonné se vertonings te verbied.
Manuel Valls, toe nog die minister van binnelandse sake, het persoonlik daarvoor gesorg dat verskeie stede in Januarie Dieudonné se vertonings verbied het. Vir ’n week of tien dae het die Franse media oor niks anders as die quenelle geskryf nie!
Ironies genoeg het die Duitse tydskrif Der Spiegel onlangs die Joods-Franse filosoof Alain Finkielkraut as “regs en konserwatief” bestempel omdat hy insgelyks die reg op ’n eie kulturele en volksidentiteit verdedig. Duitsers wat Jode “regs” noem? Jode wat ’n swart man van “aanhitsing tot rassehaat” (’n misdaad in Frankryk) aankla? Waar is ons nou? wonder ’n mens. Dis amper soos die “draai-arm” op Potchefstroom wat ook ná jare ’n Nazi-saluut geword het.
Feit is egter dat daar die afgelope dekade of drie honderde boeke in Frans verskyn het wat op een of ander manier die idee van ’n nasionale kultuur of identiteit op ’n verskeidenheid maniere besing, iets wat natuurlik teen multikulturalisme en globalisme indruis. Toenemend is die linkses in Frankryk teen die toue en het geen antwoord meer op die intellektuele intensiteit en politieke provokasies van die regses nie.
Marine Le Pen verwerp die huidige Europese Unie – wat volgens haar nasionale soewereiniteite skend – maar is ten gunste van ’n Parys-Berlyn-Moskou-spil wat ’n “Europa van nasies” téén die Amerikaanse “ryk” tot stand bring. Sal ’n oorlogsugtige VSA so iets duld?
Een van madame Le Pen se kwinkslae is: “Frankryk verkeer in ’n krisis en ons het nie eens ’n Korsikaan wat ons kan kom red nie.”
Laasgenoemde is natuurlik ’n verwysing na Napoleon. Maar op die eiland Korsika betoog nasionaliste in hul duisende juis om van Frankryk af te stig!
Soos Alain Soral dit stel: “Globalisering is ’n onvermydelike tegnologiese en ekonomiese proses, maar globalisme verteenwoordig ’n vorm van verdrukking.”
Hierdie rubriek het verlede Sondag ook in Rapport verskyn.
‘n Stenograaf Dianne Reidy in die Amerikaanse Kongres het lede laat Woensdagaand op die stertkant van die skuldplafonstem onkant betrap toe sy na die podium gestap het om die Vrymesselaars aan te val.
“Alle lof aan God,” het me Reidy gesê. “Hy sal nie bespot word nie. Hy sal nie bespot word nie. Raak my nie aan nie. Hy sal nie bespot word nie.”
Sy het gesê Amerika kan nie twee meesters dien nie. Fox News sê me Reidy is al lank werksaam op Capitol Hill en skaars die radikale partydige soort. Haar onderbreking het veroorsaak dat verskeie lede erg onthuts was. Party het haar geestesgesondheid bevraagteken. Die kabelnetwerk het ook berig dat me Reidy gestuur is vir ‘n geestelikegesondheidsevaluering kort ná die voorval .
Onder haar stellings, soos vasgelê op klank : “Die grootste misleiding hier is dat dit nie een nasie onder God is nie. Dit was nog nooit. As dit was, sou dit nie gewees het nie. Nee, dit sou nie gewees het nie. Die Grondwet is nie geskryf deur ‘n Vrymesselaar nie. Hulle gaan teen God. Jy kan nie twee meesters dien nie. Jy kan nie twee meesters dien nie. Alle lof aan God, die Here Jesus Christus. Loof Hom vir ewig.”
“Ek dink daar is baie simpatie, omdat iets duidelik daar gebeur het,” sê Gerry Connolly. Ander lede het haar as vriendelik en gaaf beskryf. Sy is al byna 20 jaar daar werksaam.
“Julle is almal kindersvan die duiwel,“ het die stenograaf uitgeroep voordat sy uit begelei is. Een kommentator het droogweg opgemerk dat daar “vir dieeen kortkleinoomblik het eintlik gesonde verstand endapperheidop die Huisvloer aanwesig was”.
Die Franse Hugenote was Calviniste wat vir 100 jaar bloedig vervolg is en toe gevlug het. Die Franse revolusie het in wese gegaan oor die boosaardige konsep van ‘n Staatskerk [Rooms in daardie tyd] wat vir die hervormers totaal onaanvaarbaar was.
Maar mens kan die prentjie van die godsdiensgeskiedenis alleenlik voltooi deur die sentrale rol van die Vrymesselary in ag te neem. Hier, net soos tydens die Amerikaanse vryheidstryd, het hierdie Baälgodsdiens die kern gevorm van ons politieke denke soos wat Midnight Call Ministries so treffend verlede jaar gepubliseer het. Daar is selfs beweringe dat Adam Tas ‘n Vrymesselaar was en die rede vir WA van der Stel se moeilikheid!
Piet Retief was Grootmeester van losie nr. 2 in Port Elizabeth en omtrent al die Voortrekkerleiers ook broeders. Behalwe Piet Uys, meen ek. Hulle is ook onder sensuur geplaas deur die Kaapse Kerk.Dit was egter verbode om die Vrymesselaars te verlaat, soos wat Retief wel gedoen het.
Die moord op Retief is aangehits deur die die Losies wat toe alreeds in Durban bestaan het, word gesaghebbend beweer. Maar die asemrowende verskil in vergelyking met die VSA se geskiedenis is dat ons Vrymesselaars skouspelagtig tot bekering gekom tot die Drieënige God met die Gelofte van Sarel Cilliers. Al die presidente van die Transvaal was Vrymesselaars behalwe Paul Kruger. Dis net eenvoudig onmoontlik om polities internasionaal die mas op te kom as jy nie in die broederskap opgeneem is nie.
Verwoerd was nie, maar sy eerste sluitmoordenaar was Pratt die Vrymesselaar. Die finale moord op Verwoerd het op ‘n rituele vrymesselaarsmanier geskied. Verwoerd het sy teologiese studies gestaak oor sy probleme met Calvyn se uitverkiesingsleer – seker omdat hy uit ‘n sendinghuis uit gekom het, sou ek my kon verbeel.
Die koloniale regering het Skotse Presbiteriaanse dominees (ook maar Skotse broeders!) ingevoer om die boere te verengels (Murray, Stegman, Thom, ens. – wat ironies genoeg ‘beter’ Boere geword het as die Hollanders self! Polities gesproke.)
Terloops, die Skotse vryheidstryd was ook teen hierdie geheime broederskap! Soos in die fliek Brave Heart.
In die dekade van 1850 tot 1860 het daar 4 geweldige belangrike verbandhoudende geskiedkundige dinge gebeur. Die Amerikaanse burgeroorlog, die stigting van die 2 NG-Sendinkerke: Swart en kleurling, asook die twee Afrikaanse kerke: Hervormers en die Gereformeerdes. Die Amerikaanse oorlog het gegaan oor die vrylating van die slawe wat hier by ons al in 1815 gebeur het maar tot gevolg gehad het dat die Vrygelates ook kerkloos geword het, net soos wat met die blanke boere gebeur het. Eerwaarde Lindley, 'n Presbiteriaan, het op een slag honderde Voortrekkers getrou en gedoop.
Die vrygelate slawe het noordweswaarts getrek sodat dit die ortodokse Calvinistiese godsdiens van die Rehoboth-Basters verklaar.
Namibië is tans die enigste uitgesproke Christelike staat in Afrika! Die wit boere het 20 jaar later Noord-ooswaarts getrek.
Ek is nie self ‘n Vrymesselaar nie en wil niks daarmee te doen hê nie – hoewel ek hoogste agting en respek vir die vooraanstaande mense het maar hulle so bejammer omdat hulle so soekende is. Soekers wat nooit vind! Hulle kyk goed na my en is noulettend op naastediens wat die meeste Christene beskaam. Maar ek het die bekering van ‘n paar van die goeie mense beleef wat ek u kan verseker ‘n uiters ernstig en diepgaande emosionele skouspel is. Om die bevryding van die mense te sien en hoedat hulle dit beleef, is asemrowend. Dis hulle wat sommer op die hoeke van die strate hul getuienis van verlossing en vergifnis in Jesus se naam preek!
Maar soos Roodt dit gestel het in sy artikel stem ek volkome saam sonder om perspektief te verloor van waar om die regte antwoorde en regte oplossings te soek naamlik op die regte plekke en nie goeie vriende weg te stoot nie maar eerder hoop te gee. Daarom is ek oortuig dat Calvyn vir die Afrikaner die enigste geestelike tuiste bied. Dis ook die enigste antwoord teen die Israelvisiedwaling wat niks ander as New Age-selfaanbidding is nie.