Vier soek wat Bloemfonteinse gastehuis beroof

Die polisie in Bloemfontein soek na vier swart mans in verband met ‘n gewapende rooftog by ‘n gastehuis in Universitas die naweek.

Polisiewoordvoerder, Wendy Nkabi, sê ‘n werknemer van die gastehuis, wat aan OFM-nuus bekend is, was vroegaand op pad van die kombuis na die ontvangstoonbank.

Die vier mans was reeds in die gastehuis en het die werknemer gedreig. Hulle het op geld en selfone aangedring. Dit is nog onduidelik of van die gaste wat daar tuisgegaan het ook beroof is.

Nkabi sê ‘n onbekende bedrag geld is uit die gastehuis se kluis geneem, terwyl die booswigte weg is met nog ‘n kluis en twee selfone. ‘n Klag van sakeroof word ondersoek.

Nkabi doen ‘n beroep op enigiemand met inligting om hul naaste polisiekantoor te bel.

Gastehuismoordverdagtes voor

‘n Egpaar verskyn binnekort in die hof in verband met die moord op Elmarie van Zyl (40) wie se ontbinde liggaam onlangs in ‘n gastehuis in Bloemfontein gevind is.

Vrystaatse polisiewoordvoerder, Mmako Mophiring, sê die paartjie is gister in Harrismith aangekeer nadat ‘n polisiebeampte, wat in die strate rondgery het, die egpaar met hul baba opgemerk het.

Die polisie het ‘n foto van die bruinman, slegs bekend as Revon, gepuliseer nadat Van Zyl se erg ontbinde liggaam in Maart in ‘n gastehuis in McHardystraat in Brandwag, Bloemfontein, aangetref is.

Mophiring sê die egpaar word in Harrisith aangehou en ‘n hofverskyning sal deur die Parkweg polisiestasie bepaal word.

Van Zyl se naakte liggaam is tussen die basis van die bed en die matras versteek. Sy is glo verwurg en die vermoede bestaan dat sy ook verkrag is. Sy het glo saam met die egpaar by die gastehuis ingeboek.

Brand naby Vrymesselaarsperseel in Bloemfontein

‘n Brand naby die Vrymesselaarsperseel in Sterling Small Holdings in die omgewing van Horizon Stables and Guest House, het Maandag in Bloemfontein uitgebreek.

Die oorsaak van die brand wat by die spa van ‘n gastehuis naby Langenhovenpark in Bloemfontein gewoed het, sal na verwagting Dinsdag ondersoek word.

Afdelingsoffisier van die Mangaung-brandweer-en-reddingsdiens, Braam van Zyl, sê hulle is gisteraand omstreeks 20:00 na die Horizon Stables en Gastehuis by die Sterling-kleinhoewes ontbied.

Vlamme het gewoed in losstaande houthuisies naby die gastehuis. Van Zyl sê die brand het vermoedelik in een van die houthuisies wat as ‘n spa ingerig is uitgebreek en na ander houtgeboue versprei.

Van Zyl sê die brand is omstreeks 23:00 gisteraand onder beheer gebring. Niemand is in die voorval beseer nie.

Tertia de Bruin, wie se man Johan die eienaar van Horizon Stables is, sê hulle is baie dankbaar die vlamme het nie versprei na die gastehuis nie.

Nigerië sloer met kerkrampslagoffers se oorskot

Die Sinagogekerk van Alle Nasies het belowe dat die repatriasie van die liggame van Suid-Afrikaners wat verlede maand dood is toe ‘n gastehuis in Lagos ineengestort het, binnekort sal wees.

‘n Woordvoerder van die kerk, Bally Chuene, sê hulle was in verbinding met die Suid-Afrikaanse en Nigeriese regerings en Nigerië is in kennis gestel van die dringendheid van die kwessie.

Chuene het gesê die oorskot van die slagoffers sal eersdaags na Suid-Afrika teruggestuur word, maar hy het geen datum gegee nie.

Hy het gesê die regerings sal die datums aankondig. Die liggame van die slagoffers word nie in ‘n verkoelde lykshuis gehou nie.

Meer as 80 Suid-Afrikaners is in die tragedie dood, maar eindelose vertragings met die identifisering van die liggame verhoed dat die repatriasie afgehandel word.

Twee afsonderlike prosesse vir die uitkenning van slagoffers word deur Suid-Afrikaanse en Nigeriese amptenare bestuur.

Suid-Afrikaanse amptenare is egter nie bereid om hulle tot ‘n datum vir die terugbring van die liggame te verbind nie.

Die Suid-Afrikaanse Hoëkommissaris in Nigerië, Lulu Mnguni, het belowe dat dit binnekort sal wees.

Die Lugmag sal die oorskot glo in Lagos gaan haal en terugbring na Suid-Afrika.

Families van die slagoffers het ‘n beroep op die Suid-Afrikaanse en Nigeriese owerhede gedoen om die repatriasie van die liggame te bespoedig, aangesien hulle reeds begin het om vir die begrafnisse voor te berei.

Die vertraging het die begrafniskostes laat styg wat tot ontvredenheid onder familielede gelei het.

Nigerië, sowel as die Suid-Afrikaanse regering het gesê hulle hoop dat dit in die nabye toekoms sal plaasvind.