Dan Roodt: Ramaphosa se grondplan kan tot binnestaatlike oorlog lei

Suid-Afrika se hoofstroommedia vier fees oor Jacob Zuma se bedanking as president, maar die onsekerheid oor die land se toekoms het eerder toegeneem as wat dit verminder het.

Vanweë die feit dat Cyril Ramaphosa die “vakature” vul wat met Zuma se bedanking ontstaan, sal die agtien maande tussen nou en die volgende algemene verkiesing nie as een van sy termyne gereken word nie. Dit mag beteken dat Ramaphosa die land twaalf jaar lank mag regeer, indien hy die huidige deel van Zuma se termyn, plus nog twee termyne, sou voltooi.

Terwyl Ramaphosa deur die media as “sake-vriendelik” voorgestel word, het hy oor die afgelope maande standpunte ingeneem wat veel nader aan die EFF s’n is as wat Zuma s’n ooit was. Trouens, hy het hom herhaaldelik tot die onteiening van Afrikanerboere se grond verbind, asook tot die marxistiese beleid van “radikale ekonomiese transformasie” (RET).

Die gedagte dat Ramaphosa die land ekonomies “gaan regruk” is ewe utopies as om te dink dat Emerson Mnangagwa Zimbabwe tot wonderbaarlike ekonomiese herstel gaan lei.

Die Ierse hoofkarakter sê iewers aan die begin van James Joyce se Ulysses: “Die geskiedenis is ‘n nagmerrie waaruit ek hoop om wakker te skrik.” Dít wat ons tans beleef in die vorm van plaamoorde, geweld in die stede, verval van infrakstruktuur, asook die diskriminasie teen Afrikaners en hul taal, verteenwoordig ‘n nagmerrie wat selfs dié van die Iere, Pole en ander slagoffervolkere in die skadu stel.

Die nuut aangestelde president van die ANC en van die land, Cyril Ramaphosa, het verklaar dat hy gaan begin om landbougrond sonder vergoeding te onteien. Daarmee het hy Suid-Afrika onherroeplik op die pad van ‘n Zimbabwe geplaas. Die links-liberale hoofstroommedia popel oor Ramaphosa en sien niks fout met die onteiening van plase nie. Hulle voorspoedbarometer is die JSE op die hoek van Maudestraat en Gwenlaan in Sandton. Die lot van boere en van die platteland kan hulle min skeel. Gewelddadige aanvalle op plaasboere en hul gesinne is maar net “misdaad” en iets waarmee ons moet saamleef, ter wille van die groter “multikulturele harmonie”.

Terloops, enigiemand wat iets van ons geskiedenis oor die afgelope twee honderd jaar – van 1806 en die Tweede Britse Besetting af – verstaan, sal insien hoedat Johannesburg en sy uitlanderbevolking dikwels vir die omverwerping van ons eie regerings verantwoordelik was. In 1899 was dit só, en toe weer in die 1980s toe die Johannesburgse media en akademici besluit het dat die land deur die ANC en SA Kommunisteparty regeer behoort te word. Benewens sy lojaliteit teenoor geld en die Beurs, is Johannesburg meer lojaal teenoor Engeland as teenoor Suid-Afrika. Trouens, ‘n mens sou selfs kon sê dat die stad ‘n afsku in Suid-Afrika koester; alles buite Johannesburg is wat verkeerd is: te veel Afrikaners, te veel boere, te veel kerke, te veel konserwatisme, te veel patriotisme.

Ramaphosa is ‘n swart uitlander en globalis. Hy is ‘n sogenaamde “sakeman” wat ná 1994 vinnig ryk geword het omdat bepaalde sakeleiers in Johannesburg in hom iemand gesien het wat in hulle guns sou kon regeer. Die nuwe president behoort tot die Venda- minderheidstam wat, anders as Zuma se Zoeloes of Mandela en Mbeki se Xhosas nie oor getalle of invloed in die land beskik nie. Dit maak hom soveel te meer omkoopbaar en manipuleerbaar. Hy het ook geen werklike steun op voetsoolvlak nie; sy steun lê by die media, die sakelui en die buitelandse ambassades. Dit is opvallend hoe gewild Ramaphosa by die ambassadeurs van Duitsland, Swede en Denemarke is, wat oor hul voete geval het om hom geluk te wens. Sowel die ou Oos-Duitsland as die Skandinawiese lande het ‘n vername rol gespeel in die staatsgreep wat die ANC uiiteindelik in ons land vermag het, sowel deur hulp met bomme en terreur as met rojale befondsing.

Maak nie saak wat Netwerk24 se propaganda beweer nie, Afrikanervolksmoord was nog altyd deel van die ANC en SAKP se plan. Die SAKP erken nóg die blywende teenwoordigheid van Afrikaners in die land, nóg ons reg om as ‘n volk en ‘n kultuurgroep voort te bestaan. Johannesburg se ekstremistiese kommuniste is afkomstig uit Oos-Europa, en het oor die afgelope eeu of so ‘n hele netwerk geskep, asook “mak swartes” soos Ramaphosa of Blade Nzimande wat hul ideologie geheel en al navolg. As voormalige vakbondleier en sekretarisgeneraal van Cosatu, was Ramaphosa ten nouste betrokke by die “werkerstryd” – die slagspreuk van elke kommunis. Die stigting van Cosatu destyds was so te sê ‘n SAKP-projek, en dis geen wonder dat Cyril Ramaphosa en die SAKP-leier Joe Slovo in die vroeë negentigerjare goeie vriende was nie. (Sien foto hier bo.)

Ons weet uit vorige uitsprake van die ANC dat die berugte “tweede fase van die nasionaal-demokratiese revolusie” nog voorlê. Tydens daardie fase moet die rug van die middelklas en veral die boere finaal gebreek word. Ramaphosa het nog voor hy president geword het as’t ware oorlog teen die boere verklaar deur die “beleid” van “onteiening sonder vergoeding” in die suiwerste marxisties-leninistiese tradisie te omhels. Tydens sy heel eerste toespraak, het hy weereens herhaal dat plase onteien moet word en in kollektiewe eenhede volgens die kommunistiese model herskep moet word.

Dít wat in Zimbabwe gebeur het, skrik nóg die ANC-SAKP nóg die buitewêreld af. Dat Suid-Afrika nou deur die vagevuur van grondonteiening moet gaan, was nog altyd deel van die plan. Die Duitse ambassadeur in Suid-Afrika, Martin Schäfer, is ‘n groot aanhanger van Ramaphosa en het daarvoor gesorg dat Merkel ook haar gelukwensinge aan die globalistiese swart kommunis oordra:

Die vraag is waar grondonteiening gaan ophou? Gaan net groot plase onteien word, of ook kleiner plase, selfs kleinhoewes rondom dorpe en stede? Die meeste van ons het familie wat op kleinhoewes woon; dis ‘n algemene Afrikanergewoonte. En indien kleinhoewes sonder vergoeding onteien mag word, waarom nie ook woonhuise in voorstede met groterige erwe nie? En as jy klaar die woonhuise met groot erwe onteien het… waarom nie sommer álle woonhuise wat aan blankes behoort nie?

Alles wat ons blankes besit, is mos gesteel… Dit is die groot rooi leuen wat Slovo en die SAKP al jare lank verkondig, en wat agterna deur die hoofstroommedia opgeneem is. Só het die leuen waarheid geword! En as jy daardie waarheid bevraagteken of net vra waarop dit gegrond is, word jy dadelik met die R-woord stilgemaak. Dit is nou: “Rassis!”

Terloops, ek sien dat Rapport en Netwerk24 hulle deesdae slaafs tot sogenaamde “ANC-veterane” en lede van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty wend vir politieke menings. Willemien Brümmer van Netwerk24 het ‘n onderhoud met die kommunis en Rivonia-aangeklaagde, Denis Goldberg, gaan voer om sy mening oor Ramaphosa in te win.

Die Zimbabwiese boere wie se grond afgevat is, het ‘n heenkome gehad: Suid-Afrika. Toe daar hongersnood in Zimbabwe ontstaan het, was daar ‘n buurland met voedselvoorrade: Suid-Afrika. Ons beskik egter nie oor daardie luukse nie. Selfs al het Agri-SA, Netwerk24 en RSG ons mense op ‘n “tweede oorgawe” voorberei waartydens ons sonder teenstand ons eiendom aan die ANC-staat sal moet oorhandig, gaan die werklikheid veel meer onvoorspelbaar en morsig wees. Selfs al is mense so gebreinspoel dat hulle alles maar net klakkeloos aanvaar, gaan hulle in die geval van hongersnood en voedseltekorte moet weerstand bied net om te kan oorleef. Die dag as daar nie meer kos in die winkels is nie, gaan ons familie op kleinhoewes en plase ons moet voed. Hoe gaan ons daardie stukke grond van verdere besetting deur die ANC en SAKP vrywaar sonder geweld, dit wil sê, sonder om oorlog te maak?

Die kanse dat grondonteiening op die skaal waarop Ramaphosa dit voorsien, ‘n burgeroorlog in Suid-Afrika mag ontketen, is groter as vyftig persent. Ook die term “burgeroorlog” is nie akkuraat nie, want burgeroorloë ontstaan as twee faksies binne dieselfde volk slaags raak, soos tydens die Amerikaanse Burgeroorlog van 1861-1865 of die Spaanse Burgeroorlog van 1936-1939. Daarom heet ‘n oorlog binne ‘n veelvolkige staat soos Suid-Afrika eerder ‘n “binnestaatlike oorlog”, want verskillende volkere veg teen mekaar binne dieselfde staat.

As ‘n mens terugstaan en onbevange na die prentjie kyk, dan stuur Suid-Afrika op ‘n binnestaatlike oorlog af. Die sadistiese plaasmoorde, asook die opmars teen Afrikaans op universiteit en op skool was maar net die eerste tekens van etniese konflik wat besig is om te ontbrand. Die verskriklike slagspreuk, “Kill a Boer, kill a farmer” mag binnekort tot sy logiese uiteinde gevolg word.

Hoewel Afrikaners deur verraad en vyandelike propaganda verdeel is tot op die punt dat ons byna blind en leierloos op die huidige krisis afstuur, sal daar weldra uit hierdie smeltkroes ‘n nuwe samehorigheid ontwikkel. Ook word ons gebind deur ons taal, Afrikaans, en ons simbole, soos ons vlae wat só intens deur die vyand gehaat word. Ek voorspel dat die oranje-blanje-blou weereens ‘n simbool van stryd sal word, soos van ouds.

Die Geneefse Konvensies is nie net van toepassing op konvensionele oorloë tussen state nie, maar ook op oorloë binne state. Daarom sal die ANC-SAKP nie bloot boere of hul familie of gewone Afrikaners wat hulle teen staatsgeweld verdedig voor die voet as “misdadigers” tronk toe kan stuur soos daar met byvoorbeeld die Boeremag-aangeklaagdes gemaak is nie. Solank ons iewers ‘n uniform of ‘n stuk oranje lap dra, sal ons as guerillas of as soldate gereken moet word. Indien ons gevang word, sal ons as krygsgevangenes beskou moet word, en ons kan ten minste op die Internasionale Rooi Kruis met sy setel in Switserland reken dat hy sal kontroleer wat met die krygsgevangenes en hul familie gebeur. Artikel 4 van die Derde Geneefse Konvensie* bepaal dat, solank jy ‘n kenteken van jou kommando of gewapende groep dra, oor ‘n rang beskik en jou wapens openlik ten toon stel, moet daar in die geval van gevangeneming krygsgevangenestatus aan jou verleen word.

Die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies het op ‘n stadium ‘n besluit geneem dat diegene wat hulle teen “koloniale en rassistiese bewinde verset” ook op krygsgevangenestatus geregtig is. Wat is die ANC-SAKP anders as ‘n koloniale en rassistiese bewind wat Engels op ons afdwing en wette maak wat teen ons ras diskrimineer?

In die plek van Britse imperialisme het Bantoe-imperialisme gekom wat in wese vele ooreenkomste vertoon, veral wat taalverdrukking en diskriminasie betref. Ook vir hedendaagse Europeërs is dit byna onmiddellik begryplik, want hulle ervaar iets van dieselfde kolonisering van hul vasteland. Só het die Franse skrywer, Renaud Camus, onlangs getwiet:

Overgezet synde:

“Europa word vandag honderd keer meer gekoloniseer deur Afrika, asook dieper, ernstiger, as wat die vasteland ooit self gekoloniseer het. En die Europeërs verduur duisend keer meer haat, rassisme en geweld as wat hulle uitoefen en self van getuig.”

Pikkie Greeff, van die SA Weermagvakbond het insgelyks die volgende getwiet:

Diegene wat die hoofstroommedia glo, en dink dat daar nou ‘n tydvak van maanskyn en rose in die land aanbreek, gaan inderdaad wreed ontnugter word.

Op Wikileaks het dit bekend geword dat ‘n amptenaar van die Suid-Afrikaanse ambassade in Sirë in Julie 2006, Michael Danke, ander diplomate ingelig het dat Ramaphosa, wat op daardie stadium voorsitter van MTN was, “steeds tot sosialisme verbind bly, ten spyte van sy onlangse sukses as sakeman”.

Vandaar dus sy Sowjettiese landboubeleid wat dreig om ons platteland en uiteindelik die ekonomie en die land self, te destabiliseer.

Waldimar Pelser van Rapport skryf vandag téén sy beterwete:

[Ramaphosa] kan net slaag as president, en hy kan genoeg van ons slegs weer in ‘n tipe nasieskap laat glo, as hy die onmoontlike doen en kies om nie die ANC te dien wat hom gebring het waar hy vandag is nie.

Vir seker gaan Ramaphosa sy party en sy atawistiese, antiblanke, kwasi-kommunistiese (of “sosialistiese”) beleidsrigtings dien.

Voetnoot

* ARTICLE 4

  1. Prisoners of war, in the sense of the present Convention, are persons belonging to one of the following categories, who have fallen into the power of the enemy:

(1) Members of the armed forces of a Party to the conflict as well as members of militias or volunteer corps forming part of such armed forces.

(2) Members of other militias and members of other volunteer corps, including those of organized resistance movements, belonging to a Party to the conflict and operating in or outside their own territory, even if this territory is occupied, provided that such militias or volunteer corps, including such organized resistance movements, fulfil the following conditions:

(a) that of being commanded by a person responsible for his subordinates;

(b) that of having a fixed distinctive sign recognizable at a distance;

(c) that of carrying arms openly;

(d) that of conducting their operations in accordance with the laws and customs of war.

Leon Lemmer: Homoseksuele: Weerstand van die weerloses?

Deesdae word sekere neigings aan ons voorgehou asof dit wêreldwyd korrek sou wees. Die drie belangrikste polities byderwetse gebooie is dat jy bevoordeel moet word as jy nie-wit, vroulik en homoseksueel (insluitende talle variasies) is. Hierdie groepe het ‘n buitengewoon positiewe aansien verwerf. Dit maak nie saak of die mense in hierdie drie kategorieë ‘n minderheid of die meerderheid in ‘n land of die wêreld is nie. Wie bevoordeel moet word, is hulle. Verdienste/meriete word nie as ter sake geag nie. Die ander kant van die munt is dat teen blankes, mans en heteroseksuele gediskrimineer mag en moet word. Ek ervaar dit daagliks as ‘n drievoudige terugslag. Blanke, heteroseksuele mans het skurkstatus verwerf. Feitlik enigiets mag hulle toegevoeg of aangedoen word. Die teenoorgestelde geld egter nie. Wat jy ‘n nie-witte, vrou of homoseksueel toevoeg of aandoen, is aan uiters strenge sensuur en sanksies onderworpe. Jy móét groter simpatie met hierdie drie groepe openbaar as met dié waaraan jy teen wil en dank behoort of jy word ‘n sosiaal uitgeworpene.

Hierdie onverkwiklike werklikheid dien as agtergrond vir my bespreking van die teoloog André Bartlett se boek, Weerlose weerstand: Die gaydebat in die NG Kerk (Pretoria: Protea Boekhuis, 2017, 304p, R200). In die motto word alle mense asof vanselfsprekend waardig verklaar (p 5), dus ook diegene wat (moontlik) onwaardig is. Van die begin af word eintlik van die veronderstelling van die gelykheid en wesenlike eendersheid van mense (ten spyte van ongelykheid en andersheid) uitgegaan. Daarom word selfdegeslag-verhoudings en “huwelike” (kragtens Wet 17 van 2006 – 263) sonder meer aanvaar. Die enigste manier waarop polities byderwets van gelykheid en eendersheid afgewyk mag word, is om nie-wittes, vroue en homoseksuele meer of hoër of beter as blankes, mans en heteroseksuele te ag.

Die boektitel is ontleen aan Ernst van Heerden (1916-1997) se gedig “Ontsnapping” waarin die frases “weerlose weerstand” en “onbeholpe vlees” voorkom (6). Die woord “weerloos” het ‘n simpatie-dimensie wat deesdae dikwels in die konteks van die armes gebruik word. In dieselfde konteks is daar die stemloses. Die neiging is om sulke weerloses (die armes en stemloses) ten minste histories met nie-wittes en vroue te assosieer. Daarteenoor word homoseksualiteit histories in groter mate met mans as vroue geassosieer. Soos Bartlett gebruik ek die benaming “gay” as ‘n wisselvorm vir “homoseksueel” (33).

Die weerstand wat in die praktyk uit hierdie oorde ervaar word, is dikwels allermins weerloos. Hierdie weerstand kan deesdae uiters aktivisties, militant, gewelddadig en destruktief of ten minste demonstratief, onaangenaam en opdringerig wees. Gayweerstand is al lank nie meer weerloos nie. Die boektitel is nie ingestel op feitelike korrektheid nie. Dit gaan om die opwekking van simpatie in ooreenstemming met die outeur se radikale oortuigings. Die punt is dat die gaydiskoers talle ooreenkomste toon met wat in die politiek gebeur. Diegene wat op die snypunt van die byderwetse (bv linkse, liberale, humanistiese, progressiewe, marxistiese) politiek wil wees, is geneig om sterk pro-gay te wees. As jy daarbenewens ook predikant of teoloog is, word dit eintlik ‘n onverbloemde poging om religie, kerk en evangelie (meer) relevant en aanvaarbaar in ‘n gesekulariseerde wêreld te probeer maak; dus soortgelyk aan die bevrydingsteologie.

Bartlett noem dat die uitgewer Nicol Stassen “voorgestel het dat ek die boek skryf” (304). Op die agterkant beveel Waldimar Pelser, die redakteur van Rapport, die boek aan. Neels Jackson, die redakteur van Kerkbode, het die voorwoord geskryf. Hy plaas die boek dadelik in die politieke arena met verwysing na die slawe en die oopverklaring van die Nederduitse Gereformeerde (NG) Kerk vir alle rasse in 1986 (9). Daarna het die NG Kerk by die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke aangesluit, wat onder die leiding van mense soos Desmond Tutu, Beyers Naudé en Frank Chikane vóór 1994 openbare onrus gestook en terrorisme aangepor het. Sedert 1998 is die NG Kerk ook lid van die Wêreldraad van Kerke. Nasionale en internasionale aanvaarding van die NG Kerk gaan egter gepaard met ‘n drastiese afname in lidmaatskap. Dit is omdat Afrikaners/Boere kultureel fundamenteel van die deursnee-Suid-Afrikaner en -Afrikaan verskil en verkies om nie wêreldburgers te wees nie.

Die tradisionele standpunt van die NG Kerk was: “Jy gaan hel toe, want jy is skeef” (60). Die toegewings wat die NG Kerk sedert 1986 aan gays gemaak het, word “normalisering” genoem: “die aanvaarding dat heteroseksualiteit nie die enigste normale vorm van seksualiteit is nie. Dit gaan om die groeiende besef dat die spektrum van lesbies, gay, biseksueel, transgender, interseksueel [LGBTI] en dies meer ‘n groter en komplekser werklikheid is as die eenvoudige binêre skema van man en vrou waarmee in die verlede gewerk is” (9). Toe die algemene sinode van die NG Kerk in 2015 besluit het dat homoseksuele in sy kerke burgerlike verbintenisse/huwelike kan aangaan en predikante sowel gay as nie-selibaat mag wees, “het die NG Kerk nie net die eerste hoofstroomkerk in Suid-Afrika én in Afrika geword om so ‘n besluit te neem nie, maar ook gedoen wat nog net in ‘n handjievol ander kerke wêreldwyd reggekry is” (13).

Ek aanvaar dat daar in uitsonderlike gevalle mense is wat anatomiegewys (ooglopend en andersins) nóg man nóg vrou is. Daar is ‘n groter groep wat anatomiegewys nie duidelik van die genoemde binêre skema (man/vrou) afwyk nie maar wat in hulle seksuele gedrag voorkeur aan dieselfde geslag gee. Hulle is homoseksueel in funksionering. Wat Bartlett doen, is om sonder meer telkens te beweer dat homoseksuele só gebore is; selfs al voor geboorte só was. Daarmee word die bestaan van fundamenteel verskillende soorte homoseksualiteit ontken. Ek dink dat daar ten minste duidelik tussen aangebore en aangeleerde homoseksualiteit onderskei moet word. Ek kon nie verstaan dat Bartlett enersyds na die interaksie van aangebore en omgewingsfaktore verwys (35) en daaraan voortgaan asof daar slegs aangebore homoseksualiteit is nie. Later verduidelik hy: “Sosiale faktore kan wel ‘n rol speel om ‘n oriëntasie wat reeds vasgelê is te bevestig en die ontplooiing daarvan te bevorder” (50). Wat hy soos die pes vermy, is enige poging om homoseksuele se gedrag te verander.

In 1986, na aanleiding van ‘n 1980-verslag, het die NG Kerk wel tussen kern- en pseudo-homoseksualiteit onderskei (19, 51). Die hedendaagse propagering van die voortreflikheid van gayverhoudings en die buitensporige uiterstes waartoe gegaan word om diesulkes te beskerm en simpatie vir hulle te wek, bring mee dat homoseksualiteit ‘n gesogte modeverskynsel geword het wat deur sommige heteroseksuele nagevolg word. Dit het skynbaar ‘n prestige-saak geword as jy kan sê jy het ‘n selfdegeslag-lewensmaat eerder as wat jy ‘n verstokte, binêre skema, getroude man of vrou is. Sommige mense is nie homoseksueel gebore nie. Hulle word homoseksueel. Dit is dus foutief en doelbewus misleidend om te beweer dat almal wat hulle homoseksueel gedra só gebore is en nie kan verander nie. Die klimaat word deesdae geskep dat hulle nie hoef te verander nie omdat ‘n homoseksuele leefwyse in dieselfde mate as dié van heteroseksuele sosiaal aanvaar behoort te word.

‘n Saak wat glad nie afdoende in die openbare diskoers verreken word nie, is die mate waarin homoseksuele gedrag vir heteroseksuele afstootlik kan wees. Dit gaan nie (noodwendig) om vooroordeel en ‘n gebrek aan verdraagsaamheid (woorde met ‘n sterk politieke konnotasie) nie. Dit kan ‘n heeltemal natuurlike reaksie wees. Dekades gelede het ek die rolprent Deliverance (1972) gaan kyk. Die berugte, uitgerekte verkragtingstoneel van ‘n man deur ‘n man bly my tot vandag toe by as uiters afstootlik. Ek sou te graag nie daardie rolprent wou gesien het nie. Homoseksualiteit is tradisioneel met geslagsverkeer tussen mans geassosieer. Dit is terselfdertyd homoseksualiteit in sy afstootlikste vorm. Dit kom neer op die gebruik van die anus en kolon op ‘n ander manier as wat gewoonlik die geval is. Die verweer is dat homoseksualiteit nie noodwendig so beoefen word nie. Maar die feit is dat dit soms/dikwels hierdie vorm aanneem en vir baie heteroseksuele is dit heeltemal onaanvaarbaar en kan hulle nie hulle seën daaroor uitspreek nie. Daar is al beweer dat (sommige vorme van) homoseksuele gedrag, soos kolonisme, eintlik nie seks is nie maar die nabootsing daarvan. Ek gebruik die term “kolonisme” omdat sodomie ook ander homoseksuele praktyke insluit.

In die mediese vakliteratuur word verduidelik dat die homoseksuele gebruik van die anus en kolon ongewens is omdat die subjek verlies aan ontlastingsbeheer kan ervaar; dermate dat ‘n operasie nodig kan wees. Dit is dus vals om te beweer, soos dikwels gebeur, dat ‘n gay leefwyse niemand skade berokken nie. Daar is ook die kwessie van die verspreiding van veneriese siektes, insluitende die dodelike MIV/Vigs; ‘n aangeleentheid wat glad nie deur Bartlett aan die orde gestel word nie omdat dit hom in die propagering van sy pro-gay standpunt nie pas nie. Die verweer is dat heteroseksuele gedrag óók veneriese siektes versprei. Maar dit is geboekstaaf dat homoseksuele mans ‘n leidende aandeel in die vinnige internasionale verspreiding van MIV gehad het, onder meer weens die neiging by sommige homoseksuele om dikwels geslagtelik te verkeer en daarby met ‘n groot verskeidenheid mense.

Wat Bartlett doen, is dat hy homoseksuele praktyke (sekerlik insluitende kolonisme) goedkeur en propageer. Hy doen dit op grond van sy vertolking van die Bybelboodskap in sy geheel (die liefdesgebod, wat aanvegbaar is – kyk hier onder) en sekere Bybelteksverse. Hierdie teksverse verplig Bartlett om promiskue gedrag by almal (hetero- en homoseksuele) af te keur. Ingevolge die gelykheids- of eendersheidsdogma is homoseksuele gedrag as sodanig volgens Bartlett egter wesenlik nie meer promisku as dié van heteroseksuele nie. Soos oor swartes in die verligte politiek, word deurgaans gehamer op hoe homoseksuele se gevoelsens seergemaak word en die pyn wat hulle moet verduur weens die afkeurenswaardige gesindheid van sommige heteroseksuele. Wat Bartlett nie noem nie, is dat die gaydebat in die NG Kerk uit die staanspoor anders as ander kwessies benader is. Wanneer die NG Kerk voorheen uitsluitsel oor iets (bv doop of dobbel) wou hê, is eerstens nagegaan wat die Bybel sê en daarna hoe dit lidmate of mense in die algemeen raak. In die gaydebat is die prosedure breedweg omgekeer. Die gevoelens en heil van homoseksuele word as uitgangspunt gebruik, of ingevolge menseregte as primêr beskou, en daarna word gepoog om skriftuurlike gronde vir ‘n pro-gay standpunt te vind.

Waarvoor ek onder meer pleit, is dat daar gerus groter begrip kan wees vir heteroseksuele se natuurlike reaksie op die aard van ten minste sommige vorme van homoseksualiteit. Dit beteken op sy minste dat homoseksuele liefs minder demonstratief en uittartend te werk moet gaan. Dit sal ongetwyfeld seksuele harmonie en verdraagsaamheid bevorder. Ek ontken nie dat daar iets soos homoseksualiteit bestaan nie. ‘n Mens moet ook nie sonder simpatie wees vir die klein minderheid wat só gebore is nie. Maar dit is vir baie heteroseksuele swaar om saam te leef met die mate waarin hierdie (ongewone) soort leefwyse deesdae gepropageer en oorpositief voorgestel word. In werklikheid is homoseksualiteit in baie gevalle ‘n sielsongelukkige toestand wat onbestendigheid en selfs selfdood in die hand werk. Die American Psychiatric Association het in 1973 beweer “homosexuality is not an … emotional problem” (35), maar dit veroorsaak sekerlik groot emosionele onstabiliteit in gay geledere. Een gay beweer: “Ek dink ek is bevoorreg om gay te wees” (56) terwyl ‘n ander een daarteenoor sê: “Jy sal nie só [‘n] keuse maak as jy ‘n keuse gehad het nie” (58).

In sommige gevalle het ek hier bo woorde soos “gewoonlik” en “natuurlik” gebruik. Dit is omdat die gewoonte gevestig is dat die woorde “abnormaal” en “onnatuurlik” liefs nie in die konteks van seksualiteit gebruik moet word nie. Dit is ‘n subverskynsel van die gelyk- en eerdersverklaring van mense. Maar homoseksuele as ‘n groep, wat alle vorme van homoseksualiteit insluit, is in alle samelewings ‘n minderheid. Sommige van hulle seksuele praktyke is ongewoon. Dwarsdeur Bartlett se boek word erken dat hulle anders is ten spyte van al die pogings tot gelyk- en eerdersverklaring. In ‘n sin kom dit daarop neer dat gays afwyk van die normale of gewoon gangbare in die samelewing. Bartlett strewe na die assimilasie of insluiting (dikwels “omarming” genoem) van homoseksuele op alle vlakke en oral; dus nie net as gemeentelede nie, maar ook as kerkraadslede en predikante. Soos in die hedendaagse politiek is inklusiwiteit en nie-diskriminasie die wagwoorde.

Selfdegeslag-verhoudings en -huwelike bring nie kinders voort nie. Die vraag is of dit nie ‘n aanduiding kan wees dat die geslagsverhoudings van gays ten minste in daardie opsig onnatuurlik is nie. Die verweer is dat heterogene huwelike soms ook kinderloos is en dat seks nie uitsluitlik met die oog op voortplanting beoefen word nie. Maar die punt is dat voortplanting noodsaaklik vir die voortbestaan van die spesie is en dat gay verhoudings dit verydel en in daardie opsig teenstrydig met die natuurlewe is. Bartlett onderskryf egter die standpunt dat homoseksualiteit “as [‘n] normale variasie van menslike seksualiteit beskou” word (50). “Homoseksualiteit kan beoordeel word as ‘n wisselvorm van normale menslike seksualiteit en is dus ‘n simptoom van die ryke verskeidenheid [diversiteit] wat in God se skepping opgesluit is – vergelykbaar met iets soos linkshandigheid wat voorheen ook as abnormaal beskou is en terapeuties probeer ‘herstel’ is” (87-88).

Dit is seker nie moontlik om meer radikaal pro-gay as Bartlett te wees nie. Die kinders van gay egpare (uit vorige verhoudings, kunsmatige bevrugting of aanneming) behoort volgens hom in die kerk gedoop te kan word. Geen gays, insluitende predikante, hoef selibaat (geassosieer met die Rooms-Katolieke Kerk) te lewe nie omdat dit nie van heteroseksuele verwag word nie. Selfdegeslag-huwelike of “burgerlike verbintenisse” behoort soos tradisionele huwelike in kerke voltrek te kan word. Homoseksuele moet hiervolgens volle en nie tweedeklas-lidmate wees nie (99). Bartlett versuiker die pil van absolute gelyke regte vir almal met die toegewing dat gemeentes self kan besluit wie gedoop of getrou word en of hulle gay kerkraadslede of predikante wil kies. Maar hy weet baie goed as sommige gemeentes ‘n pro-gay gesindheid uitleef en ander dit nie doen nie, daar by laasgenoemdes dadelik ‘n bohaai oor diskriminasie en liefdeloosheid opgeskop sal word. Wat nodig is maar nog nie deur die NG Kerk gedoen is nie, is om omvattend ondersoek in te stel na die gedrag van gay lidmate sodat geweet kan word wat alles deur Bartlett as (Bybels) aanvaarbaar verklaar is.

Diegene wat polities links (oa humanisties) is, hou daarvan om die kernboodskap van die Bybel tot die sogenaamde liefdesgebod te reduseer. Maar dit gaan moeilik om die Ou Testament eerder met liefde as wreedheid te assosieer. In die Nuwe Testament gaan dit ietwat makliker maar die hel bly ‘n baie warm plek. Volgens Levitikus moet jy jou naaste so lief soos jouself hê. Maar hierdie woorde “referred only to fellow Israelites, not to people in neighboring nations” (Robert Wright, The evolution of God, London: Abacus, 2009, p 235, ook 257). “‘Love your neighbor’ is a recipe for Israelite social cohesion, not for interethnic bonding” (260). Van die oudste boek in die Nuwe Testament word gesê: “In the book Mark, the word ‘love’ appears in only one passage” (257). Ons het “reason to doubt that the real Jesus actually uttered the phrase ‘Love your enemies'” (260). “Paul’s ‘brotherly love’ wasn’t truly ‘universal.’ It focussed more heavily on fellow Christians than on outsiders” (299). In die vroeë christelike kerkgeskiedenis was die christen se naaste “his fellow Christian” (283).

Die huidige manie dat ons almal moet liefhê, is onnatuurlik. Ons is (feitlik) noodwendig geneig om diegene naaste aan ons (dus eerder familie as totale vreemdelinge) lief te hê en aangetrokke te voel tot diegene met wie ons kulturele bande het (bv Afrikaners, Europeërs, Westerlinge). Om van ‘n Afrikaner ‘n halsoorkop Afrikaan-liefhebber te maak, kan onmoontlik blyk te wees. Kulturele verskille, soos ander verskille (bv tussen hetero- en homoseksuele), moet eerder erken as ontken word. Insgelyk is die ons/hulle onderskeid so natuurlik soos water. ‘n Mens moet onderskei/diskrimineer om te kan lewe; sekere dinge is goed en gewens terwyl ander dinge sleg is en vermy moet word. Dit hoef nie vooroordeel of benadeling te behels nie.

Tot duser het ek oorsigtelik met Bartlett se boek gehandel en min bladsyverwysings verskaf. Van nou af gaan ek meer spesifiek wees. Ek gaan hoogs selektief te werk en poog om nie te herhaal nie.

In hoofstuk 1 gaan dit vir Bartlett, soos in die politiek, om gelykwaardigheid en menswaardigheid (13). Gays het pyn en verwerping ervaar en verskoning vra is dus aan die orde van die dag (14). Gays is verguis en aan verontmenslikende veroordeling blootgestel en dít weens “valse stereotipering en die gebruik van denkbeelde wat lank reeds verkeerd bewys is, om ‘n uitgediende siening van homoseksualiteit staande te hou” (15). Later word in dieselfde asem genoem: “rassisme, gender-ongelykheid en die miskenning van die menswaardigheid van gays” (42).

In hoofstuk 2 toon Bartlett aan dat die gaydebat in die NG Kerk in dieselfde jaar, te wete 1986, begin het toe die algemene sinode rasse gelyk verklaar het (21) en hierdie kerkgenootskap hom van apartheid gedistansieer het (23). ‘n Bedenklike aspek van hierdie hoofstuk is Bartlett se insinuasie dat diegene wat die luidste teen homoseksualiteit beswaar maak juis diegene is wat gay verhoudings begeer (24, 26).

In hoofstuk 3 word genoem dat homoseksualiteit tydens die grondwetlike onderhandelings van 1990/94 gedekriminaliseer is. In die 1996-grondwet “is daar uitdruklik voorsiening gemaak dat daar teen geen persoon op grond van seksuele oriëntasie gediskrimineer mag word nie” (28). Dit is seker ook toe dat prostitute as sekswerkers ontpop het. Nelson Mandela het die algemene sinode van die NG Kerk in 1994 toegespreek en waaragtig apartheid as ‘n “verskroeide aarde-beleid” bestempel, terwyl dit die ANC se beleid was dat Suid-Afrika tot op die grond afgebreek kon word ten einde dit vir swartes moontlik te maak om die politieke mag in te palm.

Voortaan sou die sinode nie meer peiltrek op “die onfeilbare en letterlike betekenis van elke spesifieke woord en teks” in die Bybel nie (29). Daar sou ‘n “meer genuanseerde hantering van die Bybel” wees, wat die hek wyd ooplaat aan aktiviste soos Bartlett om inlesing van hulle voorkeure in die Skrif te doen; dat dit eerder moet gaan om “die breë [deesdae verpolitiseerde] heilsboodskap” en dat die “proeftekste” (daardie teksverse wat hulle uitdruklik en ondubbelsinnig teen homoseksualiteit uitspreek) “na sekere homoseksuele praktyke verwys, maar nie na homoseksualiteit as sodanig soos ons dit vandag verstaan nie” (29). Dit is glo net “perverse vorme van homoseksualiteit, byvoorbeeld verkragting, tempelprostitusie, afgodery en pederastie [pedofilie – 53]” wat veroordeel word (45). Die term “proeftekste” laat dit klink asof hier voorlopige of hipotesiese stellings gemaak word. In werklikheid is hulle dik spykers in die doodskis van gay lewenswyses.

In hoofstuk 4 word daar soos volg aangehaal: “God het vir my gewys dat ek geen mens as onheilig of onrein mag beskou nie: (Hand. 10:28)” (49). Die tersydestelling van die onderskeid tussen Jood en nie-Jood word vertolk as “die algemene opheffing van alle uitsluitingskategorieë” (49). Gevolglik mag gays ook nie uitgesluit word nie. Teen niemand mag gediskrimineer word nie. Almal moet so gelukkig moontlik gehou word. Dit lei bv tot Desmond Tutu se gebod dat alle gelowiges, afgesien van die religie waaraan hulle behoort, tot die hemel toegelaat word. Almal is goeie mense. Sondaars word skaars. Bartlett beweer “dat homoseksualiteit … in alle samelewings, op alle vlakke van die samelewing en alle periodes van die geskiedenis voorkom” (50). Dit geld ook misdadigers, sondaars, ens, en verskaf dus slegs ‘n bevestiging van teenwoordigheid en geen kwalitatiewe aanduiding nie.

In hoofstuk 5 word van Levitikus 18:22 en 20:13, wat homoseksuele dade uitdruklik verbied, gesê: “Klaarblyklik geld meeste van hierdie uitsprake … nie meer in letterlike sin vir ons vandag nie” (71). In 1 Korintiërs 6:9 en 1 Timoteus 1:10 word glo “woorde gebruik waarvan die presiese betekenis omstrede is. Hoewel dit duidelik is dat homoseksuele gedrag hier sterk veroordeel word … daar verskillende menings is oor watter spesifieke gedrag ter sprake is” (71). Oor Romeine 1[:26-27]word beweer “dat die betekenis daarvan nie so vanselfsprekend is as wat soms gedink word nie. Hoewel die gedeelte sterk afwysend teenoor homoseksuele praktyke staan, is dit nie die eintlike punt van Paulus se kritiek nie, maar eerder die selfverheffing van die Jode teenoor die heidene” (72). “Net soos die skerp oordeel oor seksuele losbandigheid in die algemeen (soos in vs 24-25) nie beteken dat seksualiteit as sodanig daarmee as sondig afgewys word nie, hoef die skerp oordeel oor homoseksuele losbandigheid in vs 26-27 ook nie sonder meer as ‘n veroordeling van homoseksualiteit as sodanig geïnterpreteer te word nie” (86). Dit lyk na gevalle van: Daar staan nie wat daar staan nie. In hierdie konteks loof Bartlett die teoloog Flip Theron se “kreatiewe vermoë om Bybelse tekste te ontsluit” (76).

In hoofstuk 6 skryf Bartlett: “Die sogenaamde veroordelende tekste in die Bybel nie noodwendig met die verskynsel van homoseksualiteit as sodanig te doen het nie, maar waarskynlik met geperverteerde vorme van homoseksuele uitlewing soos verkragting (in die Sodom-verhaal), tempelprostitusie (in die Levitikus-tekste) en seksuele losbandigheid (in die Korintiërs- en Timoteus-tekste). Oor die saak van homoseksualiteit sê die tekste eintlik baie min” (80). Dit kan daarop neerkom dat Sodom en Gomorra volgens Bartlett behoue moet bly. Ook: “Dat daar redelike eenstemmigheid onder kundiges is dat homoseksualiteit nie aangeleerde gedrag is nie, maar ‘n wesenlike oriëntasie wat baie vroeg reeds (moontlik selfs voor geboorte) vasgelê is en wat slegs in hoogs uitsonderlike gevalle gewysig kan word” (81). Hy praat van “konstitusionele homoseksualiteit (dit wil sê homoseksualiteit as ‘n vaste oriëntasie)” (83). Nêrens stel Bartlett homoseksualiteit as modeverskynsel aan die orde nie.

In hoofstuk 7 word genoem dat Frits Gaum “hom voorheen reeds sterk negatief teen ‘n homoseksuele leefwyse uitgespreek het” (104). Sedertdien het hy ‘n lojale ondersteuner van sy gay predikantseun Laurie geword. Wat as anti-gay tekste beskou is, het “verouderde Skrifuitleg” geword (106). Daar word egter na “eksgays” (109, 110) verwys, wat daarop dui dat gay gedrag wél in heteroseksuele gedrag omskep kan word. Soos in die politiek (dink bv aan die sogenaamde Waarheids- en Versoeningskommissie) is daar die oproep, “let the gay people tell their own stories” (110). Daar moet nie net óór gays gepraat word nie maar ook en veral mét hulle. Dan móét daar geluister word. Soos in die politiek moet daar eerder op ooreenkomste as verskille gelet word (88).

In hoofstuk 8 kom daar nie eintlik nuwe gesigspunte aan die lig nie. Daar word voorgestel dat die algemene sinode nie in daardie stadium (2007) ‘n meerderheidsbesluit afdwing nie: “dat daar in die plek daarvan eerder gekies sal word vir die verantwoordelike bestuur van die diversiteit in die kerk” (124).

Hoofstuk 9 staan in die teken van die Belydenis van Belhar (1986) waarin daar die tydgenootlike vertolking is van God wat “op ‘n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die veronregte is.” Om in dieselfde asem as hierdie belydenis genoem te word, is vir Bartlett ‘n kompliment (101). Johan Symington, die redakteur van Kerkbode, skryf: “Gemeentes behoort nou, nog meer as ooit, pastoraal uit te reik na hulle wat gemarginaliseer word” (95). Dit gaan om inklusiwiteit. Geen mens moet as heilig of onrein beskou word nie (93). “Dit beteken dat geen menslike kwaliteit, anders as ongeloof, as uitsluitingskategorie deur die kerk hanteer mag word nie” (87). Die “Seisoen van Menswaardigheid” het aangebreek (144).

In hoofstuk 10 word beweer “dat ‘n groot deel van die bevolking so [gay] is” (156). Wanneer gays lewensmaats kies, kan dit gaan om “duursame langtermynverhoudings … en nie om selfsugtige bevrediging nie” (157). Die ideaal is die “normalisering van die posisie van lesbiërs, gays, biseksuele en transseksuele persone binne die kerk” (160). Bartlett erken dat hy “die saak van die kerk se gaylidmate so sterk as moontlik bevorder” (167). Soms het hy hom “onnodig skerp uitgespreek” (173).

In hoofstuk 11 word kant gekies teen “eksklusiewe en ongenaakbare” Skrifvertolking (169). Liefdeloosheid en overdraagsaamheid moet plek maak vir deernis en omgee (170). ‘n “Liefdevolle, barmhartige” vertolking van die Bybel is nodig (171). Daar word verwys na 1 Johannes 4:7-8 waar gesê word: “Liefde kom van God” en “God is liefde.” (173). Dan gly Bartlett na hierdie (gevaarlike) vertolking: “Ek het die mening uitgespreek dat as ware liefde van God kom, en nie van een of ander twyfelagtige bron soos die duiwel nie, ons ons die vraag moet afvra of ons dan die reg het om mense te verhinder om aan hierdie [!] liefde uitdrukking te gee in die vorm van ‘n vaste verhouding van wedersydse trou” (173).”Ten diepste [word] van ons gevra … om uitvoering te gee aan die Bybelse liefdesgebod” (178). In 2015 het die algemene sinode van die NG Kerk wesenlik Bartlett se pro-gay standpunt met 102 stemme teen 88 aanvaar (180). Vier lesbiërs is toegelaat om “elke dag met T-hemde met die logo #liefdeisliefde daarop op die galery van die sinodesaal” te sit (182).

In hoofstuk 12 word vertel van die reaksies op die 2015-besluit waarmee die NG Kerk ‘n “fundamentele skuif gemaak” het (189). “Die mooiste koerantstorie” was van Jean Oosthuizen onder die opskrif, “NG Kerk se eie 2 Februarie” – ‘n verwysing na FW de Klerk se noodlottige toespraak in 1990. “Daarmee het die kerk nou uiteindelik sy eie Rubicon oorgesteek – iets wat die toekoms van die kerk onherroeplik gaan verander” (191). Daar word genoem dat die pro-gay besluit “lotsbepalend” vir die NG Kerk kan wees (189). “Dis ‘n geveg om die siel van die NG Kerk” (203) volgens ‘n predikant, Johannes de Koker. Bartlett meen dat daar nou “op ‘n meer verantwoordelike wyse” met die Bybel omgegaan word (196). ‘n Predikant, Danie Mouton, skryf: “As God gays vir die bediening bly roep, wie kan hulle belet?” (197). Die eintlik vraag is egter: Het God hulle werklik geroep? ‘n Behoudende ouddiplomaat skryf dat ingekoop is “in die kompromie-denke om van die NGK ‘n humanistiese mens-georiënteerde ‘spyskaart-kerk’ te maak … Die kerk moet as roeping van God die waarheid verkondig téén die tydsgees in … Die genade & liefde word nou humanisties-eensydig beklemtoon” (201-202).

Hoofstuk 13 handel oor die gevolge van die spanning en verdeeldheid wat die 2015-besluit in die NG Kerk veroorsaak het. In November 2016 is daar “vir die heel eerste keer in die geskiedenis van die NG Kerk ‘n buitengewone vergadering van die algemene sinode byeengeroep” (203). Soos in Amerika word daar nou gepleit vir “veilige ruimtes” waarin gesprekke oor verskille gevoer kan word (206, 211). Bartlett is beswaard oor die “klandestiene aard” van sommige van die anti-gay gesprekke (216), maar dit is duidelik dat hy aktief betrokke is by soortgelyke “netwerking” ten einde pro-gay resultate te verkry. Myns insiens word daar tereg kommer uitgespreek oor die soort opleiding wat sommige teologiese fakulteite aanbied (217).

Wat ek ontstellend vind, is dat regsmenings wat deur die NG Kerk ingewin is, ook dié deur sy eie regsverteenwoordiger, in Engels is (226, 228, 230, 236, 237). In die Andrew Murray-gemeente in Johannesburg word omsendbriewe aan gemeentelede in Engels gestuur (287). Dan besef ‘n mens dat die NG Kerk deesdae nooit amptelik vir Afrikaans in die bres tree nie; dat hereniging met die Verenigende Gereformeerde Kerk ‘n groot terugslag vir Afrikaans as kerktaal sal wees maar dat dit die NG Kerk skynbaar in geen opsig daarvan weerhou om na kerkeenheid te streef nie.

Bartlett se politieke onderrok hang ver uit wanneer hy oor die opskorting van die 2015-besluit skryf: “Vir my gevoel het ons ‘n situasie soortgelyk aan dié van die 1857 sinode van Kaapse kerke. Die kerk neem [in 2015] met oortuiging ‘n beginselstandpunt, maar besluit dan [in 2016] om ‘ter wille van die swakheid van sommige’ nie uitvoering te gee aan die beginselbesluit nie. Soos in 1857 is dit weereens ‘n besluit ten koste van die meer weerlose en kwesbare lidmate van die kerk” (231). Wat Bartlett doelbewus verswyg, is dat die skeiding van wit en bruin gemeentes in 1857 vrywillig was. Bartlett wil hê dat “ons getrou” moet wees “aan ons beginsels en ons oortuigings” (231), wat uiteraard nie noodwendig Bybels gegrond is nie. Volgens Bartlett word “die [2015-]besluite van die algemene sinode verontagsaam … en die belange van die weerloses in die kerk ondergeskik gestel … aan die belange van die magtiges en die invloedrykes” (232). Bartlett wou ‘n verskil maak (232) maar sy pogings is deur konserwatiewe en fundamentaliste verydel.

Hoofstuk 14 handel oor die 2016-sinode. Bartlett is vol lof vir die 2015-besluit. Oor die 2016-sinode haal hy egter Beeld se karakterisering, “Haat vermom as liefde,” aan (239). “Ek sou nie noodwendig presies hierdie selfde woorde gebruik om my belewenis van die sinodesitting te beskryf nie, maar as ek terugkyk op die meer as dertig jaar van my bediening as predikant in die NG Kerk, staan hierdie sinode seer sekerlik uit as een van die uiterste laagtepunte wat ek nog beleef het. Dit het nie net te doen gehad met die feit dat die 2015-besluit op skokkende wyse van die tafel gevee is nie, maar ook met die toksiese atmosfeer van onderlinge wantroue en ‘n ondertoon van aggressiewe onverdraagsaamheid wat ek aangevoel het” (239).

Meer as 130 dokumente het voor die sinode gedien. Bartlett gooi enige poging tot ewewigtige verslagdoening oorboord deur te erken: “Ek wil wel ‘n paar [dokumente] uitlig wat ‘n besondere indruk op my gemaak het en wat tot ‘n groot mate uitdrukking gee aan my oortuigings” (244), bv die (gevaarlike) onderskeid tussen “Christengelowiges” en “Bybelgelowiges.” Ons moet glo in die eerste plek christengelowiges wees pleks van ongekwalifiseerd Bybelgelowiges te wees (248-249). ‘n Teologiestudent, Stefan de Klerk, het ‘n e-pos, wat sy pa aan hom as sy gay seun gestuur het, voorgelees. Daar word tot hierdie gevolgtrekking gekom: “Ek is ‘n Koningskind se pa – wat ‘n voorreg!” (253).

“Die een voorlegging wat waarskynlik die mees deurslaggewende bydrae gelewer het tot die terugwaartse besluit van die buitengewone algemene sinode, was die gravamen [beswaarskrif] wat deur Chris van Wyk van die Oos-Kaap ingedien is” (257). Hierop is Bartlett se kommentaar: “Die vraag wat Chris myns insiens … nie behoorlik verreken nie, is of dit wat in die Bybel beskrýf word ook vandag as normatiéf beskou moet word. Die Bybel verwoord byvoorbeeld net ‘n patriagale wêreldbeeld” (259). Anders as in 2015 het die 2016-sinode ondubbelsinnig besluit dat “vaste lewensverbintenisse tussen mense van dieselfde geslag vir die kerk onaanvaarbaar is en dat predikante van die kerk op geen manier by die bevestiging van sulke verbintenisse betrokke mag wees nie” (266).

In hoofstuk 15 het Bartlett dit teen die “heteronormatiewe diskoers,” wat hy soos volg verduidelik: “Die manier van dink en redeneer wat daarvan uitgaan dat heteroseksualiteit die enigste norm vir intieme interpersoonlike verhoudings is, en dat alles wat nie daarmee ooreenstem nie as afwykend beskou moet word” (269). Bartlett is erg suur oor die herbesinning wat tot die 2016-besluit gelei het. Hy noem dit ‘n “regsomkeer” (270). Die lesbiërs is nie soos in 2015 toegelaat om met hulle T-hemde die logo #liefdeisliefde uit te stal ten einde die afgevaardigtes tot ‘n pro-gay besluit te intimideer nie. Die huisreëls bepaal: “Geen mense met kleredrag of plakkate of enigiets dergeliks wat standpunte oor selfdegeslagverhoudings verteenwoordig of propageer word toegelaat in die vergadering nie” (270).

Jurie van den Heever en Chris Jones het in Rapport, onder die opskrif “Meer eenders as anders,” ‘n pro-gay betoog gelewer (275). Martie Potgieter dink egter dit is verkeerd om “die NG Kerk die vark in die verhaal te maak” (277). Wannie Carstens het ‘n ander siening en het uit die NG Kerk bedank. Hy dink die sinode het die Bybel selektief gebruik: “My kerk het my in die steek gelaat en verraai” (282). LiMari Louw skryf oor haar “diepste, natuurlike, God-geskape menswees” en pleit vir “liefde … en die aanvaarding van alle mense” (285). Daar was ‘n hofuitspraak waarvolgens “godsdienstige instellings die reg het om in sekere sake wat verband hou met hulle leerstellings teen persone te diskrimineer” (295).

In hoofstuk 16 onderneem Bartlett om aan te hou om weerstand te bied (303).

Ek gee graag erkenning aan die insette wat my broer gelewer het. Hy beskik oor grondige kennis van baie onderwerpe. Elke week lê ek my teks voor publikasie aan hom voor vir die opsporing van tik- en ander foute en kommentaar. Ek is groot dank aan hom verskuldig.

 

TT Cloete oor diversiteit en nivellering

‘Tans regeer die swartes nie omdat hulle dit beter as bv die blankes kan doen nie, maar bloot omdat hulle meer (en meer gewelddadig) is.’

Onder sy huidige redakteur, Waldimar Pelser, bespeur ek by Rapport ‘n neiging om konserwatiewe politieke idees in groter mate as voorheen te duld. Hierdie frontverandering is heel moontlik deur dalende sirkulasiesyfers genoodsaak. Een van hierdie beleid se jongste winste is die publikasie van TT Cloete se artikel, “Sonder diverse kulture g’n kleur” (Rapport, Weekliks, 21 Desember, p 8-9). Cloete (gebore in 1924) is ‘n gerekende Afrikaanse letterkundige en digter. Dit verduidelik heel moontlik waarom sy artikel gepubliseer is. Dieselfde teks deur ‘n onbekende of minder bekende skrywer sou in die snippermandjie beland het. Cloete het dekades lank die ou Suid-Afrika eerstehands beleef en kan dus nie maklik deur die huidige propagandaveldtog van die ANC en sy meelopers mislei word nie. So baie jonger mense se persepsie van wat bv apartheid was, word deesdae grootliks deur moedswillig eensydige wanvoorstellings gevorm.

TT Cloete, Afrikanerdigter, letterkundige en akademikus
TT Cloete, Afrikanerdigter, letterkundige en akademikus

Cloete het sy artikel slim geformuleer ten einde publikasie moontlik te maak. Die genoemde opskrif is nie noodwendig syne nie, maar dit dui reeds daarop dat diversiteit ook kleurverskille by mense insluit. Hy lê klem op een van die modewoorde van ons tyd, naamlik diversiteit, en nie op ‘n ander gewilde woord, inklusiwiteit, nie. Dit gaan by Cloete om eerder verskille as ooreenkomste by mense aan te toon. Sy artikel dien as aanleiding vir my skrywe. Soos my gewoonte is, vul ek sy teks/dis aan met my speserye.

Iemand soos Russel Botman was aan die Universiteit Stellenbosch (US) behep met diversiteit en inklusiwiteit. As ANC-aktivis het hy op die teenoorgestelde manier as Cloete te werk gegaan, deur diversiteit/verskeidenheid as uitgangspunt te gebruik om sy ideaal van inklusiwiteit/rasse-integrasie/eendersmaking, die uitwissing van bv kulturele en taalgrense (bv meertaligheid), te propageer en bevorder. Daarom was daar weens Botman se akute aktivisme jaarliks ‘n weeklange Diversiteitsweek en ook ‘n Sentrum vir Inklusiwiteit, wat gepoog het om die blanke- en Afrikaans-tradisie aan die US so gou moontlik te vernietig en van (al) die studente nuwe Suid-Afrikaners, Afrikane en wêreldburgers te maak; nie Afrikaners en veral nie Boere nie. Die studente is bv tydens die Diversiteitsweek aangemoedig om hulle in wit te klee en met enige kleur poeier, behalwe wit, te bestrooi, wat daarop neergekom het dat nie-wit diversiteit positief en wit etnisiteit negatief voorgestel is (Praag 29.09.2013). Wit is ‘n kleur wat nie in die reënboog is nie en nie in die sogenaamde Reënboognasie tot sy reg kom nie.

Die onderskrif van Cloete se artikel het ‘n verfrissende klank: “Die Europese immigrante wat hulle in 1652 in Suid-Afrika kom vestig het, het Suider-Afrika uit sy isolasie kom bevry.” Daarvolgens is die wittes die bevryders van die hele streek, terwyl ons deesdae alewig die teenoorgestelde moet aanhoor; dat die swartes ons bevryders is; bv dat die terreurbendes van die ANC en PAC ons (polities) bevry het.

Cloete gee ‘n breë historiese oorsig wat nie deur alle kenners sonder meer onderskryf sal word nie. Sy uitgangspunt is dat die mens in Afrika ontstaan en van daar na Europa en elders versprei het. Ander kenners meen dat die mensdom elders, bv in hedendaagse Indonesië, of op meer as een plek, ontwikkel het. Gestel Afrika word as die beginpunt aanvaar. Daar is sinici wat redeneer dat dit die slimmes is wat gesorg het dat hulle wegkom uit Afrika en hulle in Europa gevestig het. Hierdie redenasie dra steeds groot gewig by veral blankes in die nuwe Suid-Afrika. Wat Cloete beklemtoon, is nie die moontlike gemeenskaplike oer-oorsprong en dus inklusiwiteit/eendersheid van mense nie, maar juis die “verstommende diversiteit”/verskeidenheid wat sedertdien in die mensdom vergestalting gevind het: “in menslike voorkoms, in tale, in kuns en kultuur.”

Europeërs, soos “‘n Da Gama en Dias” en bv Jan Van Riebeeck, het eeue later na die suide van Afrika gekom. Hulle was wit en kan ontwikkelde mense genoem word. Uit sentraal-Afrika het mense (swartes) ook suidwaarts geëmigreer. Cloete vestig die aandag op “die natuurlike agterstand van die suidwaartse migrante.” Die swart immigrante in Suider-Afrika was dus nie in dieselfde mate ontwikkeld as die wit immigrante uit Europa nie. Die gevolg was kulturele diversiteit in dieselfde land, wat inklusiwiteit/rasse-integrasie bemoeilik het; dalk onmoontlik of ten minste onwenslik gemaak het.

Anders as die Khoi-San kan die swart inkommers uit die noorde en ooste nie daarop aanspraak maak dat hulle hulle voor die blankes in die suide en weste van Suid-Afrika gevestig het nie. “Toe Van Riebeeck [in 1652] aan die suidpunt van Suid-Afrika geland het, was die huidige oorwig mense [die swartes] nog baie, baie ver weg van die Kaap af.” Dit is dus histories en in beginsel verkeerd dat die swartes deesdae, weens FW de Klerk en sy groepie meelopers se ruggraatloosheid, politieke mag oor die hele Suid-Afrika en Suider-Afrika uitoefen. Tans regeer die swartes nie omdat hulle dit beter as bv die blankes kan doen nie, maar bloot omdat hulle meer (en meer gewelddadig) is.

Die agtergeblewenheid van inheemse Afrika-bewoners (Khoi-San, swartes) in vergelyking met die die inwoners van ander kontinente, soos Asië en Europa, word deur Cloete met voorbeelde toegelig. In die Ooste was daar die denke van Confucius (551-479 vC) op ‘n stadium toe daar al formele onderwys in China was. Tydens die bewind van keiser Qin Shi Huang (247-220 vC) is duisende terracotta-beelde geskep. Cloete skryf:

“Daar was geen teenhangers in Suidelike Afrika vir die geniale kunstenaars in Kambodja wat Angkor Wat en Angkor Thom (12de eeu) opgerig het nie, met hul haas onvergelyklike beeldhou- en argitektoniese wonders.”

In die Weste:

“Daar was in Suidelike Afrika geen teenhanger vir Istanbul se Hagia Sophia (587-1453) nie, geen suidelike teenhangers van die wiskundige skrywers van die Babiloniese ‘Plimpton 322’ (1800 vC) of die Egiptiese ‘Rhindpapirus’ (1650 vC) nie, geen teenhangers vir Pythagoras, Plato, Aristoteles, Sophokles, Dante, en nog later vir Michelangelo of Da Vinci nie. Die oudste universiteite kom uit Italië, Salerno (9de eeu) en Bologna (11de eeu), maar formele skole het al in klassieke Griekeland en antieke China bestaan, en eintlik begin die akademiese opvoeding al by Plato [427-347 vC]. Oxford is in 1115 gestig en Cambridge in 1209.”

“Wat het toe in Suidelike Afrika aangegaan? Silkaats (ong 1790-1868) is ‘n goeie historiese vergelykingspunt. Toe Goethe (1749-1832) Faust geskryf het, het Silkaats in Suid-Afrika geleef, sonder dat hy geweet het van die tekstielbedryf wat met die nywerheidsomwenteling presies in sy leeftyd ontwikkel het (1760-1868). Toe was die uitvinders van die boekdrukkuns, Coster (ong 1370-1439) en Gutenberg (ong 1398-1468), al lankal dood, en die eerste Europese koerant, die Duitse Relation, het in 1605 verskyn, meer as ‘n eeu voor Silkaats se lewe. Toe het Silkaats niks geweet van sy tydgenoot Beethoven (1770-1827) nie. Toe Silkaats gebore is, was Rembrandt (1606-1669) pas meer as [‘n] eeu gelede oorlede. Wat is in Suidelike Afrika gebou toe die Gotiese katedrale in Europa ontstaan het? … Wat het in Suidelike Afrika gebeur toe Shakespeare (1564-1616) sy dramas en gedigte geskryf het?”

Waaroor gaan dit vir Cloete met hierdie voorbeelde? Hy toon aan dat daar Europeërs en Oosterlinge was wat meer ontwikkeld as swart Afrikane was. Dit illustreer die groter vindingrykheid en beter skeppingsvermoë van nie-Afrikane. Daar het ‘n ontwikkelings- of bekwaamheidsgaping tussen die inwoners van Afrika aan die een kant en Europa en Asië aan die ander kant ontstaan. Daardie verskil word gewoonlik beskawing genoem, ‘n woord wat in die nuwe Suid-Afrika skielik feitlik heeltemal uit die openbare woordeskat verdwyn het; ‘n woord wat onwillekeurig nostalgie by blankes in die nuwe milieu wek. Die vraag wat gestel kan word, is in hoeverre daardie gaping tussen Afrika en die Eerste Wêreld sedertdien vernou of uitgewis is. Indien nie, doen ‘n verdere vraag hom voor: Sou dit wys wees om die heil van ‘n land soos Suid-Afrika, wat vir bykans drie en ‘n half eeue lank (1652 tot 1989) onder die beheer van Europeërs tot die voortreflikste in Afrika ontwikkel is, aan Afrikane toe te vertrou omdat hulle meer talryk en (dalk) ook meer gewelddadig is? Sou so ‘n kwantumsprong op groot wysheid en staatsmanskap of op onverdunde, onoortrefbare dwaasheid dui? Selfs in die nuwe Suid-Afrika (en in bv Amerika) dwing swartes steeds hulle wil met gewelddadige gedrag af. Dit is (by voorkeur) hulle manier om hulle sin te kry.

Teen die agtergrond van sy genoemde voorbeelde skryf Cloete voorts:

“Ek is hart en siel vir diversiteit, en daarom vir die behoud van Afrikaans. Ek is nie vir nivellering nie … Die ganse skepping getuig vir diversiteit en teen nivellering. Daar is nie net een soort gras, een soort boom, een soort dinosourus, een soort mens, een taal nie. Dié spesies is so uiteenlopend as kan kom. Stel jou voor ‘n skepping waar net een ster was, net een planeet … Die Psalms en ou Egiptiese gedigte, wat geen teenhangers in Suidelike Afrika gehad het nie, juig oor die diversiteit in die skepping, oor diverse diere of emosies, ensovoorts. Hoe vervelig sou dit gewees het as daar net een soort mens met net een taal was en almal se gesigte het eenders gelyk.”

Pleks daarvan het ons nou elf amptelike tale en ‘n mej Wêreld (wat weens borge ongelukkig net polities korrek praat en doen).

“Wat ons vandag in Suid-Afrika het en is, is te danke aan diversiteit, ook deur die ontstaan van Afrikaans, met ‘n Europese herkoms, maar inheems omvorm tot wat dit vandag is.”

Afrikaans kan dus onmoontlik die eiendom van etniese groepe sonder Europese wortels, soos die Khoi-San en die destydse slawe, wees.

In sy artikel tree die oud-Afrikaansdosent in Cloete al hoe meer na vore.

“‘n Belangrike aspek van die Europese Renaissance (nie Mbeki se mislukte een nie) was die gebruik van die volkstaal vir die diepste roersels van die siel, en selfs vir wetenskaplike ontdekkings. Indertyd was Latyn die lingua franca, en terwyl iemand soos die Nederlander Erasmus (1466-1536) nog in Latyn geskryf het, het Dante (1265-1321), lank voor Erasmus, in Italiaans geskryf – sy volkstaal. Erasmus is maklik vertaalbaar, Dante kan deur geen vertaling werklik toeganklik gemaak word nie. Niemand kan aan sy Divina Commedia werklik reg laat geskied deur vertaling nie.”

Wat Cloete uitwys, is dat tale verskil, dus diversiteit openbaar.

“Ons denke sit so vas in taal dat selfs sekere filosowe na reg nie vertaal kan word nie. Ek lees Kant se beskrywing van die kunswerk of Freud se siening van Michelangelo se Moses liefs in Duits, soos ek Sartre of Derrida liefs in Frans lees. Ek wil digters in hul taal lees. Vir baie mense is taal bloot in gebruiksartikel wat, soos Heidegger gesê het, soos brandstof in ‘n motor verbruik word, maar in literêre werke is taal ‘n versterkwater wat die taal nie verbruik nie, maar inlê en bewaar, verseël, sonder vervaldatum. Daarvoor gee die nivelleerders (wat soms voorgee hulle is vir diversiteit) niks om nie. Hulle wil alles tot ‘n lingua franca of soort Esperanto verengels, tot niks meer nie as ‘n verbruikerstaal. Alle kultuur hang van taal af, dus ook alle wetenskap. As ons nie taal gehad het nie, kon ons nie op die maan land nie.”

“Die historiese feite wat ek vergelykenderwys hierbo genoem het, het hulself geskryf. Hulle is nie te ontken of dood te swyg nie, en dit moet almal in hierdie land tot dankbaarheid en nederigheid stem, want dit is vandag ons kulturele gebruiksgoedere. Ons moet nie die geskiedenis wil herskryf na die politiek van die dag nie. Het ons vandag ‘n punt bereik waar ons die geskiedenis so na die land se omstandighede wil herskryf dat ons huiwer om kultureel kosbare dele daarvan weg te probeer dink? ‘Niks is suiwer nie,’ maar niemand in hierdie land behoort 1652 uit die geskiedenis te probeer wegskryf nie, want van toe af eers is Suid-Afrika uit sy isolasie bevry, deur in te voer wat tot dan toe ontbreek het [naamlik beskawing?]. Van toe af het ons die natuurlike agterstand begin inhaal danksy die ‘uit Afrika’-migrasie, en van toe af is ons almal Afropeërs en/of Eurokane.”

Hier moet Cloete stadiger oor die klippe. In hierdie enkele geval (die laaste aangehaalde sin) neig hy myns insiens te veel na inklusiwiteit. In Amerika is daar baie swartes wat nie met wittes wil integreer nie. In Suid-Afrika is daar ‘n gesonde kern blankes en veral Afrikaners wat ‘n tradisioneel Europese lewe wil lei, vry van die inmenging van swartes. Swartes het sekerlik hulle destydse agterstand in vergelyking met die blankes begin inhaal, maar van die algehele uitwissing van daardie “natuurlike agterstand” is daar nie sprake nie. Daar is steeds nie eendersheid nie en daar sal nooit wees nie, onder meer omdat kulturele verskille ‘n onontkenbare en durende werklikheid is. Wat verwelkom kan word, is dat Cloete by implikasie ‘n sterk saak uitmaak vir die terugbring van Van Riebeeck-dag as ‘n amptelike huldigingsdag; ‘n viering van die aankoms van Europese beskawing in swart Afrika. Dit moet liewer uitdruklik Beskawingsdag genoem word, al lyk dit sedert 1994 glad te dikwels asof daardie dag nag word.

Cloete sluit sy artikel soos volg af.

“Die mensdom besit vandag ‘n indrukwekkende literêre voorraad, omdat daar diversiteit is, omdat daar dus verskillende perspektiewe op die mens en die kosmos is, waarvan Afrikaans een is. Marais, Leipoldt en die Louws kon in Engels skryf, maar hulle was vir diversiteit pleks daarvan om die reeds ryk Engelse letterkunde verder te verryk. In watter ander taal kon ‘Oom Gert vertel’ geskryf gewees het? Lank gelede het ek daarop gewys dat Bosman in Engels geskryf het, maar sy verhale klink na Afrikaans! Die literatuur is die kosbaarste besit van enige volk. Wat bly oor as jy Chaucer, Shakespeare en Eliot uit Engels haal, Goethe uit Duits, Baudelaire of Rimbaud uit Frans, Dante uit Italiaans, Sophokles uit Grieks, Vergilius uit Latyn? Een taal alleen, soos Engels, ten spyte van al sy rykdom, kan nie die diversiteit en rykdom van die skepping vir ons oopmaak nie. Ek is vir diversiteit.”

Afrikaans: die grondslag vir ‘n nuwe politiek

danr2deur Dan Roodt

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Vandag beantwoord die redakteur van Rapport, Waldimar Pelser, my vorige artikel in Rapport en hier op praag met ‘n pleidooi dat ons mekaar minder moet etiketteer en meer moet debatteer:

Om iemand “regs” of “links” te noem is nie die einde van die gesprek nie, maar eerder die begin. In “Suid-Afrikaans” gestel: Ons kan nie meer daarmee wegkom om mekaar wit of bruin of swart of regs te noem asof dit die gestoei oor idees onnodig maak wat ons kort om koers te kry nie.

Jare gelede het ek reeds min of meer dieselfde standpunt gestel in my klein essay, Die nuwe ‘Regs’ wat destyds op LitNet gepubliseer is, maar wat ook in my boek Aweregs opgeneem is.

Soos ek in my stuk oor Frankryk aandui, gaan die Franse vandag nuwe verteenwoordigers in die Europese parlement verkies en vir die eerste keer sedert die tweede wêreldoorlog gaan ‘n sogenaamd regse, nasionalistiese of behoudende party die meeste stemme in ‘n Franse verkiesing trek, naamlik iewers tussen 24 en 30 persent. Weliswaar geen meerderheid nie, maar nogtans ‘n merkwaardige vertoning deur Madame Marine Le Pen se Front National. Reeds word daar gesê dat dit Frankryk se “beeld in die wêreld skade gaan doen”.

Frankryk is ‘n lid van die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies, asook, tesame met Duitsland, die belangrikste land in Wes-Europa en in die Europese Unie. Frans is, naas Engels, Russies, Spaans en enkele ander, een van die belangrikste wêreldtale wat deur honderde miljoene mense as eerste of tweede taal gepraat word. Daarom is die intellektuele en politieke verskuiwing in Frankryk geen geringe verwikkeling nie.

Waldimar Pelser meen dat ons “idees… kort om koers te kry”. Dis presies wat ons by praag nog die afgelope vyftien jaar of meer sê. Suid-Afrika het in 1994 holderstebolder die Amerikaanse “smeltkroesmodel” van die sestiger- en sewentigjare, tesame met regstellende aksie en swart bemagtiging oorgeneem. In die VSA staan swart bemagtiging as “minority procurement” bekend, dus kan elkeen van hierdie beleide na die VSA teruggevoer word. Maar eintlik het die Sweede Gunnar Myrdal reeds in die veertigerjare hierdie stel polities korrekte idees aan die Amerikaners voorgestel in sy beroemde boek, An American Dilemma: The Negro Problem and Modern Democracy. Dus is dit nie van oorsprong Amerikaans nie, maar Sweeds!

Wat weer tot die volgende vraag lei: Hoe kan ‘n land soos Swede met sy hoofsaaklik homogene, blanke bevolking van taamlik snobistiese en hovaardige mense wat op al die ander Skandinawiese lande neersien, voorskrifte aan heterogene maatskappye soos dié van die VSA en Suid-Afrika maak? Wat verstaan Swede van Suid-Afrika? So te sê niks.

Alle Afrikaners, regs, links, liberaal, nasionalisties, wat ook al, behoort saam met Waldimar Pelser te erken dat ons en die land vandag nuwe idees nodig het. Ons kan nie maar voortploeter op Swede en Amerika se mislukte opvattings van die middel- twintigste eeu nie.

Hierdie intellektuele krisis raak egter nie bloot die liberaliste of linkses wat hulle op die Angel-Saksiese of internasionale gemeenplase oor Suid-Afrika verlaat nie. Dit raak ook daardie oudmodiese Afrikaner-nasionaliste wat in ‘n heraangepaste afsonderlike ontwikkeling en selfbeskikking van volkere ‘n oplossing vir die probleme van Suid- en Suider-Afrika sien. Demografies, ekonomies en tegnologies het die hele streek intussen so verander dat dit haas nie meer moontlik is nie.

Nie dat ek opgehou het om ‘n voorstander van Afrikanerselfbeskikking te wees nie, maar ek dink ons moet aanvaar dat Afrikaners die gedagte telkens, soos ook tydens die afgelope verkiesing, by die stembus verwerp. ‘n Mens kan ‘n perd tot by die water bring, maar jy kan hom nie maak drink nie.

Wat staan ons dus te doen onder die huidige omstandighede? In die afwesigheid van enige steun onder Afrikaners of die hoofstroommedia vir Afrikanerpolitiek, is dit soos om voor ‘n trein te gaan staan. Sodra daar koppe getel word, gaan ons telkens net verloor.

Daarom meen ek dat ons by praag oorspronklik die korrekte idee gehad het, naamlik om ‘n nuwe politiek rondom die Afrikaanse taal te bou. En voordat u nou sê dat taal ‘n bysaak in Suid-Afrika is, laat my verder verduidelik hoe dit behoort te werk.

Tans is daar feitlik geen verweer teen rasstellende aksie en rassevoorkeure wat in wetgewing en selfs in die grondwet vervat is nie. Hier en daar maak Afriforum hofsake daarteen, maar dit gaan telkens om ‘n enkele individu soos Renate Barnard van die polisie en doen nie veel om die beginsel van rassevoorkeure by aanstellings aan te tas nie.

Terwyl dit toelaatbaar is vir swart politici en swartes om hul politiek op ras te grond – dis nog ‘n invloed van die VSA en die Angel-Saksiese lande – grens dit vir blankes aan heiligskennis om dieselfde te doen. Dus gaan dit moeilik wees om teen rasstellende aksie die blanke bevolking op grond van ‘n soort “wit nasionalisme” te probeer mobiliseer.

Indien Afrikaners egter op hul taal, Afrikaans, begin aandring, sal die groot maatskappye, die howe, die skole en universiteite, selfs die staat self, genoodsaak wees om weer van ons mense te begin aanstel. Dit sal die effek van rasstellende aksie begin teëwerk. Binne die “Suid-Afrikaanse” stelsel, sal daar dus ‘n “Afrikaanse” stelsel begin ontwikkel waar Afrikaners deur ander Afrikaners (of in die Wes-Kaap, deur bruinmense) bedien word en waardeur die amptelike en openbare status van Afrikaans weer herstel sal word.

Hierdie strategie sal egter net slaag as daar, tesame met die aandrang op Afrikaans te alle tye, insgelyks ‘n inwaartse nasionalistiese beweging onder Afrikaners plaasvind. Immers word daar tussen interne (kulturele) en eksterne (staatkundige) selfbeskikking onderskei. Net so bestaan daar ‘n inwaartse nasionalisme onder jou eie mense en ‘n uitwaartse rebellie of opstand om jou teen ander groepe of volkere te laat geld. Tans is die inwaartse nasionalisme en herwaardering vir mekaar waarskynlik belangriker as die uitwaartse opstand.

Leon Lemmer skryf vandag baie insiggewend oor die Baske, wat soortgelyk aan Afrikaners, deur getalryker – sy dit dan Europese – volkere in die vorm van die Spanjaarde en die Franse oorheers word. Omdat hy die groot Franse skrywer Victor Hugo oor die Baskiese taal aanhaal, het ek na die oorspronklike teks gaan soek en haal dit graag hier volledig aan, tesame met ‘n Afrikaanse vertaling:

J’ajoute qu’ici un lien secret et profond et que rien n’a pu rompre unit, même en dépit des Pyrénées, ces frontières naturelles, tous les membres de la mystérieuse famille basque. Le vieux mot Navarre n’est pas un mot. On naît basque, on parle basque, on vit basque et l’on meurt basque. La langue basque est une patrie, j’ai presque dit une religion. Dites un mot basque à un montagnard dans la montagne; avant ce mot, vous étiez à peine un homme pour lui; ce mot prononcé, vous voilà son frère. La langue espagnole est ici une étrangère comme la langue française.

[Ek voeg hier by dat ‘n geheime en diepgaande band die geheimsinnige Baskiese familie verenig wat niks kon breek nie, in weerwil van die Pireneë-gebergte, dié natuurlike grens. Die ou woord “Navarre” (die voorheen outonome gebied) beskryf dit nie. ‘n Mens word Baskies gebore, jy praat Baskies, jy leef Baskies en jy sterf Baskies. Die Baskiese taal is ‘n vaderland, amper ‘n godsdiens. Praat ‘n woord Baskies met ‘n bergbewoner in die berg; voor daardie woord was u skaars ‘n mens vir hom; as dié woord gespreek is, siedaar u en hy is broers. Die Spaanse taal is hier uitheems net soos die Franse taal. – my vertaling.]

Dit lyk asof die tweede deel van Leon Lemmer se aanhaling oor die Baske, nie van Victor Hugo is nie, maar van die skrywer Mark Kurlansky in die boek The Basque History of the World:

“It was written over and over in the records of those who observed the Basques that they spoke a strange language that kept them apart from others. But it is also what kept them together as a people, uniting them to withstand Europe’s great invasions.”

In die vroeë dae van praag, onthou ek ook dat ek iewers ‘n paar sinne uit ‘n kortverhaal van Hennie Aucamp aangehaal het (“Die uitsettingsbevel” in Enkelvlug), wat baie dieselfde begrip as Victor Hugo oordra:

“Vir ander mag ‘n nuwe vaderland ‘n moontlikheid wees, maar nie vir my nie. My bestaan, my identiteit, my kern, my alles lê opgesluit in Afrikaans. ‘n Bestaan in ‘n ander taal sal vir my tweedehands wees…

“En verder: Suid-Afrika is nie vir my in die eerste plek sy berge en vlaktes nie. My wesenlike vaderland, as ek Camus mag aanhaal, is my taal. Ek bestaan net in die taal; net vir die taal…”

Dit sou ‘n fout wees om bogaande aanhalings bloot as sentimentalistiese oproepe tot taalnasionalisme te interpreteer. Wat is ‘n “bestaan in Afrikaans” anders as ‘n lewe in ‘n eie land en ‘n eie kultuur? Terwyl jy deur ander regeer en selfs oorheers word, is dit tog moontlik om onder mekaar met ons eie lewens aan te gaan, asof daardie blote politieke feit nie van allesoorwegende belang is nie.

Een van die grootste foute wat die ANC en die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty gemaak het – vanuit hul revolusionêre en vernietigende oogpunt – is om Afrikaans as amptelike taal ná 1994 te behou. Die amptelike status van Afrikaans, indien dit afgedwing sou word, sou die assimilasie van Afrikaners feitlik onmoontlik maak en ons “verenig en apart van die ander” hou soos wat Mark Kurlansky hier bo aangaande die Baske beskryf.

Terwyl ander groepe in die land die wetgewende en uitvoerende gesag van die staat oorheers, is Afrikaners steeds oorverteenwoordig in die derde vertakking van regering: die regsprekende gesag. Toegegee, rasstellende aksie het reeds sy tol op die regbank geëis en daar bly baie min Afrikaanse regters oor, veral in Johannesburg waar die meeste sake aangehoor word.

Feit is egter dat daardie nie-Afrikaanse regters verplig is om die Romeins-Hollandse gemenereg toe te pas. Al die uitsprake wat sedert 1652 in ons land gelewer is, bly steeds geldig! Van die beroemdste uitsprake wat die beginsels van ons reg neergelê het, is boonop in Afrikaans gelewer.

Indien Afrikaanse regslui, asook litigante, sou begin om hofsake in Afrikaans te voer, sou die staat verplig wees om meer Afrikaanse regters aan te stel. Hoewel die staat dus die wetgewing na willekeur mag verander, kan ons in die howe die geleentheid kry om daardie wette na ons siening te laat interpreteer, binne ons eie regstradisie wat die staat genoodsaak is om te volg.

Ons kan selfs die groot maatskappye dwing om meer Afrikaners aan te stel en sodoende werk vir ons mense te skep. Hoe meer Afrikaners voltyds werk, hoe meer geld gaan ons hê om ‘n Afrikanerekonomie naas die Suid-Afrikaanse te ontwikkel. Die Jode, Grieke en ander in ons land doen dit reeds. Ook die Baske beskik oor ‘n uitgebreide koöperasie genaamd Mondragon wat vir ‘n 100 000 mense werk verskaf en een van die groot suksesverhale op die Spaanse grondgebied verteenwoordig.

Ek was nog altyd ‘n groot kritikus van die Grondwet, maar deesdae begin ek dink dat álles in die Grondwet nie net sleg is nie. Daar bestaan artikels in die Grondwet wat ons in ons guns kan laat afdwing – met of sonder die steun van die massa apatiese Afrikaners!

Ander groepe in die land is reeds besig om die Grondwet na hul sin te laat interpreteer: die voorstanders van huwelike tussen mense van dieselfde geslag of diegene wat téén die doodstraf gekant is, byvoorbeeld. Die meerderheid mense in ons land, blank en swart, hou nie van selfdegeslaghuwelike nie en is ten gunste van die doodstraf, maar hulle doen net nie die moeite om hof toe te gaan nie. Daarom is hulle aan die links-liberale aktiviste uitgelewer wat, soos in die VSA, sorg dat hulle uitsprake in hul guns verkry.

Elke uitspraak in die howe verteenwoordig insgelyks ‘n tweesnydende swaard: Dink maar aan mnr. Jaap Kelder van die Nasionale Belastingbetalersunie se beroemde geveg om die oorgangstadsraad van Kemptonpark te kry om die onwettige elektriese verbindings in Tembisa te beëindig en om sy kredietbehoor ook daar toe te pas. Uiteindelik het hy in die Appèlhof in Bloemfontein verloor omdat meesal Afrikaanse regters bevind het dat die stadsraad oor die “diskresie” beskik om te besluit of hulle kredietbeheer sal toepas, selfs nadat hulle amptelik ‘n besluit aangeneem het om dit wel te doen!

Mnr. Jaap Kelder moes in daardie geval die gelag betaal, maar dink net hoe daardie appèlsaak vorentoe deur ‘n Afrikanergemeenskap of -voorstad iewers aangehaal kan word wat dalk sou besluit om nie langer elektrisiteit aan die gewone stadsraad te betaal nie. Indien kredietbeheer deur ‘n munisipaliteit “diskresionêr” is, dan is munisipale wanbetaling mos nie so erg nie, is dit? En as die krediteur oor ‘n diskresie beskik, wat dan van die debiteur wat sy eie diskresie mag hê, om te besluit of hy wil betaal of nie?

Laat die skape by die stembus almal vir mev. Zille of Mmusi Maimane stem.

Afrikanerpolitiek sónder steun is die nuwe wagwoord. Om ‘n cliché te gebruik: Ons moet begin om “uit die kassie” – of aweregs, dis vir my ‘n beter woord – te dink. Kom ons stoei vir ons ‘n plek in die land oop waar ons uiteindelik daardie “Afrikaanse lewe” kan voer waarvan ons almal droom. En dit sluit nie geografiese enklawes, taaleilande, kantons, volkstate of wat ook al, uit nie.

Word deel van die avontuur en sluit aan by praag!