Russel Botman op die Rooiplein

Deel op

botman_rooiplein

deur Leon Lemmer

Aan die Universiteit Stellenbosch (US) word die ANC se vakansiedae, soos die herdenking van Sharpeville, die Soweto-opstand en die paswetoptog deur hardegat vroue, deesdae graag gedenk. Gebeure sonder sodanige “vryheidsdimensie”, soos Beskawingsdag (6 April) en Afrikaansdag (14 Augustus), word glad nie erken nie. Die universiteit as akademiese inrigting is egter van huis uit ‘n Westerse idee. Op die kontinuum van beskaaf na onbeskaaf word die egte universiteit by die beskaafde pool en vandalisme, misdaad, geweld en terrorisme, wat met die UDF/ANC geassosieer word, by die onbeskaafde pool aangetref. ‘n Mens sou met reg kon verwag dat ‘n egte universiteit hom by die beskaafde pool sou posisioneer, maar aan die Botman-US is assosiasie met ANC-politiek veel eerder die geval.

Russell Botman, die US-rektor, se jongste skuif is om amptelik nie net ‘n enkele dag vir sy politiek te oormerk nie, maar ‘n hele week. Van Maandag 30 September tot Vrydag 4 Oktober gaan die US sy eerste diversiteitsweek vier. Dat diversiteit by die US se studente aangetref word, bv dat sommige akademies aan ‘n universiteit hoort en ander nie, word seker algemeen erken, maar dit kan kwalik afdoende rede vir feesviering wees. Wat Botman wil hê, is dat al die studente verpligte integrasie, veral gedwonge rasse-integrasie, moet vier. Byvoorbeeld, die vryheid om te kies tussen ‘n mono- en ‘n multikulturele koshuis word nie aan die Botman-US geduld nie.

Botman is aktief besig om die US van ‘n Afrikaans- na ‘n Engelstalige universiteit te transformeer. Dat die dominansie van Engels vir Botman erns is, blyk uit die feit dat die embleem vir hierdie fees net in Engels is: “Celebrating Diversity: Let US come together; a kaleidoscope of people.” Om die voorkeur vir Engels verder te beklemtoon, is die feesprogram net in Engels beskikbaar.

Selfs Wannie Carstens begin insien waarheen die Botman-US met Afrikaans op pad is: “My droom is dat die US ‘n plek sal wees waar studente weer [!] ‘n volwaardige Afrikaanse tersiêre opleiding sal kan kry en ons dan nie meer hoef te wonder oor Afrikaans aan die US nie” (Die Burger, 27 deser, p 5, en 28 deser, p 7; ook LitNet, 27 deser).

Tensy anders vermeld, is hierdie skrywe gebaseer op inligting wat op die US-webwerf verskyn. Op daardie webwerf is Afrikaanse teks deesdae via Engels te kry en nie andersom nie. Die Burger (9 deser, p 6) het dit in orde gevind om ‘n onkritiese berig oor die diversiteitsweek te publiseer. Sedertdien is ‘n YouTube-video met net ‘n Engelse titel, “Maties: On being born free,” op die US-webwerf gepubliseer (sien onder dié paragraaf). Sewe studente gee daarin hulle eenders klinkende menings, naamlik een wit student wat geradbraakte Afrikaans praat, een wit student wat Engels praat, twee bruines wat Engels praat, twee swartes wat Engels praat en een bruine wat Afrikaans, Engels en Xhosa praat. Daarmee word weer eens bevestig dat die Botman-US oorwegend ‘n nie-wit Engelse universiteit wil wees. Selfs Botman se troetelfrase, “born frees”, word nie deur hierdie studente in Afrikaans vertaal nie.

Genoemde sewe studente herhaal papegaai-agtig Botman-propaganda. Daar is geen teken van pogings tot oorspronklike of eie denke nie. Die studente gaan durende die diversiteitsweek ook die geleentheid kry om hulle menings oor hierdie onderwerp op tafeldoeke te skryf, wat daarna gebind gaan word asof hulle kosbare kleinode is. Diversiteit van kleur, taal, kultuur, ens, word erken. Nêrens is daar egter enige aanduiding dat diversiteit in denke of menings gekoester en aangemoedig word nie. Ons het hier met ‘n Stalinistiese ideëkorset te make; ‘n diversiteitsviering vir eendersdenkendes. Dit is die absolute teendeel van wat ‘n universiteit behoort te wees.

David Limbaugh skryf: “The Left glorifies diversity of race and ethnicity, it actively opposes diversity of thought, considering only leftist ideas acceptable for dissemination. The very ideal of education to create an atmosphere of open inquiry is tacitly mocked” (Ben Shapiro, Brainwashed Nashville: WND Books, 2004, Kindle 117). Botman is ongetwyfeld ‘n verpersoonliking hiervan. Kyk sy woernaal-aflewerings (13, 21 en 30 Aug) op die US-webwerf.

Botman konstrueer ons identiteit asof ons almal Afrikane is. Ons is glo nie bloot geografies Afrikane nie, maar ook vanweë waardes, waarvan die kern ubuntu is. Ubuntu is “Afrika se geskenk aan die mensdom”. Afrika ontvang dus nie net nie, want hy het mos die ubuntu-kleinood aan ons geskenk. (Oor ubuntu: Praag 15 Sep.) Naas die grondwet, hemel Botman die Nasionale Ontwikkelingsplan op. (Oor die NOP: Praag 22 Sep). Ons het, volgens Botman se jongste blog (27 deser), glo ‘n “NOP van die siel” nodig. Aan Europese of Westerse beskawing en daardie voortreflike waardes gee Botman opsetlik geen erkenning nie. Daar is niks nuut in wat hy hier sê. Botman kom telkens met dieselfde storie. Maar hy bly in die waan dat hulle kosbare pêrels is. Die teks van die eersgenoemde drie blog-aflewerings is feitlik woordeliks in Die Burger (25 deser, p 15) geherpubliseer.

Hermann Giliomee noem dat in ‘n opname wat vyf jaar gelede onder US-Studente gedoen is “meer as 80% van die Afrikaanse studente en meer as 70% van die Engelssprekendes aangedui [het] dat hulle ‘hoofsaaklik Afrikaans as voertaal verkies'” (Die Burger, 19 deser, p 20). Dit is hierdie soort anti-diversiteits- en anti-transformatoriese feite wat Botman ontken en met sy propaganda wil teenwerk.

Die “kunstenaars” wat by die diversiteitsviering gaan optree, is ‘n kaleidoskoop. Die Heuwels Fantasies is ‘n wit, Afrikaanse, elektroniese jazzgroep. DJ Fresh is ‘n wit Brit en radio-omroeper met ‘n voorliefde vir trommusiek. Siv Ngesi is ‘n swart komediant van “Race Card”-faam. (‘n Resensie van Ngesi se verhoogoptrede kan op LitNet, 6 deser, gelees word.) Marc Lottering is ‘n bruin komediant. In ‘n opvolgberig op die webwerf is die twee nie-wit kunstenaars sterk aanbeveel; nie die wittes nie. Soos verwag kon word, is daar nie plek op die program vir bv Afrikaanse luisterliedjies of vir boeremusiek nie. In Botman se denke strek diversiteit en inklusiwiteit nie só ver nie.

Die diversiteitsweek word beskryf as ‘n “fees van kleure” en ‘n “kaleidoskoop van mense en idees.” Die vraag is natuurlik in hoeverre nie- en anti-Botman- en nie- en anti-ANC-idees verwelkom of selfs toegelaat sal word. Botman begeer ongetwyfeld ‘n polities linkse fees. In sy skrywe van 6 deser stel hy dit uitdruklik: “Ons gee met ‘n rits opwindende aktiwiteite uitdrukking aan die ideaal van inklusiwiteit.” As jy deel in “die strewe om in ons verskeidenheid verenig te wees” is jy welkom om deel te neem. “Diversiteit is een van die hoekstene van die Universiteit se nuwe Visie 2030. Ons wil meer inklusief word … Ek wil graag voorstelle … kry oor hoe ons ons inklusiwiteit kan verbeter … Die US pluk reeds die vrugte van diversiteit.”

Dit is baie duidelik dat wat diversiteit en inklusiwiteit betref, daar geen moontlikheid van meningsverandering by Botman is nie. Die nodige openheid vir ander benaderings ontbreek by hom. ‘n Kaleidoskoop van idees/standpunte is onwelkom. Al waarna Botman soek, is bevestiging van sy dogmas. Hy wil weet hoe hy vorentoe in selfs groter mate sy politieke oogmerke aan die US kan opdring. Daar is selfs ‘n Sentrum vir Inklusiwiteit geskep met die bevrydingsteoloog Llewellyn MacMaster as projekleier. MacMaster se vertolking van sy missie is dat hy die persepsie dat die US wit en Afrikaans is, moet afbreek.

Die feesprogram lewer talle pêrels op. Groot pryse kan gewen word as jou antwoord op die volgende vraag aan Botman se verwagtinge voldoen: “What does it mean to be ‘born free'”? Botman is tans behep met “die aankoms op kampus vroeër vanjaar van ons eerste ‘vrygebore’ studente – jongmense wat sedert die 1994-verkiesing gebore is.” “Vry” te midde van gedwonge rasse-integrasie op alle terreine? Waarvan hierdie studente sedert geboorte “bevry” is, is apartheid en natuurlik ook blanke politieke gesag. Wat Botman impliseer, is dat regering deur wittes sleg en regering deur swartes goed is. Wat hy nie noem nie, is dat hierdie “vrygebore” studente, as hulle wit is, glad nie vry van rassediskriminasie in die land, insluitende op die US-kampus, is nie. Voorkeur word in iedere moontlike opsig (bv by toelating, beurse en koshuisplasing) kragtens die US se transformasiebeleid aan nie-wit studente gegee.

Daar gaan ‘n “liquorice allsorts giveaway” wees. Botman sal nie malvalekkers uitdeel nie, want hulle is tradisioneel net wit en pienk. In ‘n pakkie soethoutlekkers word die enkele wit lekkers deur die ander kleure oordonder. Die rede waarom hierdie lekkers uitnemend aan Botman se oogmerke voldoen, is omdat daar swart in iedere lekker is. Die swartes is oral. Die lekkers simboliseer dus die soort inklusiwiteit of rasse-integrasie wat Botman so hartstogtelik begeer.

Behalwe hierdie lekkers gaan koffie ook beskikbaar gestel word. Teen die kleur van koffie sal Botman nie beswaar opper nie en as melk bygevoeg word, word sy verlangde rasse-integrasie gesimboliseer. Die roomys wat uitgedeel gaan word, is meer problematies, behalwe as net sjokoladegeur beskikbaar gaan wees. As vanieljeroomys toegelaat word, sou swartmagaktiviste troos kon put uit die feit dat dit hoofsaaklik nie-wittes is wat vanielje in Sentraal-Amerika, Indonesië en op die eilande in die Indiese Oseaan produseer.

Liewe leser, waar dink u sou ‘n mens Botman en sy lekkers en roomys (albei 30 September) en koffie (2 Oktober) kon opspoor? Op die Rooiplein! En wat is op 3 Oktober die kersie op die diversiteitskoek? Niemand anders nie as André Keet, die oud-UWK-student en -onderwyser wat tans die direkteur van die Instituut vir Versoening en Sosiale Geregtigheid aan die Universiteit Vrystaat is. Hy gaan as die gasspreker optree. Hierdie instituut is gestig as teenvoeter vir die Reitz-video. ‘n Mens kan jou kwalik ‘n spreker voorstel wat in groter mate in die kraam van Botman sal praat.

Universiteite is veronderstel om onderrig en opvoeding aan studente te verskaf. Wanneer die laaste feesdag op 4 Oktober aanbreek behoort die studente egter dermate gebreinspoel te wees dat hulle die “Festival of Colours” sal geniet: “Throw coloured powder at each other and celebrate wildly.” Ek neem aan dat wit nie ‘n gekleurde poeier is nie. My vermoede word bevestig deurdat deelnemers aangemoedig word om in wit kleredrag op te daag. Dus wat wit is, moet ‘n ander kleur kry. Die studente sal dus die week in al die kleure van die reënboog kan afsluit. Daar sal nie ‘n enkele witte oorbly nie. Inderdaad ware transformasie; diversiteit en inklusiwiteit waar wit studente ‘n ander kleur aanneem.

Gedurende hierdie diversiteitsweek sal studente armbande met gekleurde krale vir hulleself op die Rooiplein kan inryg. Rooi krale dui aan dat jy ‘n Suid-Afrikaner is. Hierin kan ‘n mens seker erkenning lees van die sterk kommunistiese element in die ANC en in die nuwe Suid-Afrika. Jy mag wél wit krale in jou armband gebruik, maar daarmee dui jy nie jou velkleur aan nie, maar bloot dat jy ‘n eerste generasie Matie is. Velkleuraanduiding met krale is taboo. Ook mag jy nie krale gebruik om aan te dui of jy Afrikaans- of Engelssprekend is nie. As Botman krale kon vind wat van wit na swart verander (om sy voorkeur velkleur aan te dui) en ook krale wat aanvanklik Afrikaans en dan mettertyd Engels aandui, sou hulle daar gewees het. Sulke krale sou Botman se tweeledige ideaal uitbeeld, naamlik om die US (en die dorp – kyk sy intreerede as rektor) te verswart en die US te verengels.

Die fundamentele vraag wat gevra moet word, is of hierdie diversiteitsviering op egte akademiese oorwegings berus of gewoon met politiek te make het. Wat opval, is die deurlopende oorbewustheid van kleur (waarop ek met my kommentaar inspeel), maar hiervoor sal apartheid en dus die wittes die skuld kry. Vir my lyk dit asof Botman veral drie rolle vertolk. Eerstens is hy ‘n bevrydingsteoloog wat bepaalde politieke dogmas aanhang. Tweedens is hy ‘n UDF/ANC-aktivis wat in woord en daad die ANC ondersteun. Derdens gebruik hy sy akademiese pos as dekmantel of voertuig vir sy politieke dogmas en ANC-propaganda.

Daar is klaarblyklik minstens drie dinge wat Botman wil afskaal of transformeer: Westerse invloed, wittes en Afrikaans. Daarteenoor is daar minstens drie dinge wat hy openlik bevorder: Afrika, nie-wittes (in sy terminologie is hulle almal swart) en Engels (met ‘n kniebuiging na swart Afrika-tale). Tradisionele Maties word nie deur Botman die vryheid gegun om die kern van hulle menswees, naamlik Westerse beskaafdheid, blanke etnisiteit en Afrikaanssprekendheid, in bv daardie krale uit te beeld nie. Botman skryf voor wat uitgebeeld mag word.

Wanneer sonder Botman ‘n dag af (om van ‘n week nie te praat nie) vir die viering van ‘n egte akademiese aangeleentheid? Ek noem vervolgens vyf voorbeelde.

(1) Waarom word die nie-rassistiese en nie-seksistiese toelatingsbeleid van bv die US se mediese fakulteit nie gevier nie? Die antwoord is omdat sodanige beleid nie bestaan nie. Rassistiese en seksistiese oorwegings weeg by studente-toelating swaarder as akademiese prestasie. Dit is vir my dikwels moeilik om te besluit of Botman of Nico Koopman, die dekaan van die US se fakulteit teologie, die grootste anti-akademiese euwel op die US-kampus is. Die sobere antwoord is heel moontlik dat Koopman se uitlatings meer politieke gif bevat, maar dat Botman uit hoofde van sy amp meer akademiese skade aanrig.

Op 18 deser skryf Koopman in Die Burger (p 11) oor die US se vereiste dat studente by aansoek om toelating hulle “etnisiteit en kleur” moet openbaar. Hy beweer dat groepe in die verlede van universiteitsopleiding uitgesluit is. Tog weet hy sekerlik dat die “apartheidsregime” sedert 1960 ruim voorsiening vir universiteitsgeriewe en studiebeurse vir bruin, swart en Indiërstudente gemaak het. (Sowel Botman as Koopman het heel moontlik sulke “apartheidstudiebeurse” ontvang, maar hulle versuim om dit te erken.) Die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) se afstandsonderrig was ook aan almal beskikbaar. Reeds sedert 1960 is hierdie uitsluitstorie van Koopman ‘n leuen. As “die bruin groep in Suid-Afrika so ‘n lae teenwoordigheid aan universiteite geniet,” is dit nie apartheid of die wittes se skuld nie. Die bruines moet self verantwoordelikheid hiervoor aanvaar. Daar kan ‘n gebrek aan akademiese aanleg of belangstelling of motivering, ens, by bruines wees.

Hierdie fiktiewe uitsluitings waarna Koopman verwys, hoef volgens hom “nie tot nuwe vorme van uitsluiting te lei nie. Dis nie verniet dat die idee van ‘n inklusiwiteit wat nie tot nuwe uitsluitings lei nie, so sentraal staan in die institutionele strategie van die Universiteit Stellenbosch nie.” As dit naasteby die waarheid is, kan Koopman gerus verduidelik waarom talle wittes met gemiddeld ‘n A-simbool in matriek van mediese studie vir die graad MBChB uitgesluit word, terwyl alle nie-wittes met ‘n sodanige A- (en selfs B- of C-) simbool toegelaat word. Dit is ‘n nuwe soort uitsluiting waarvan Koopman sekerlik bewus is, maar hy verdoesel doelbewus hierdie waarheid. Voor “bevryding” is geen student tot MBChB-studie aan die US toegelaat sonder ‘n matriekgemiddeld van ‘n A-simbool nie. Deesdae is dit eerder die reël as die uitsondering.

Koopman gaan dan voort om te beweer dat die rol wat etnisiteit of kleur by toelating aan die US speel, “slegs as ‘n tydelike maatreël gebruik moet word” om “onregte en ongelykhede … reg te stel.” Daarmee bevestig hy dat hy ten gunste van rassediskriminasie teen blankes, en net blankes, is. Hy gee geen aanduiding van ‘n datum waarop die beweerde “onregte en ongelykhede” reggestel sal wees sodat hy en sy kamerade hulle rassediskriminasie kan ontgroei nie. Ek dink ek weet wanneer diesulkes rassediskriminasie teen blankes gaan ophef: Wanneer die perde horings kry.

Bevrydingsteoloë soos Botman, Koopman en MacMaster (en sekerlik Desmond Tutu) laat my dink aan wat Alexis de Tocqueville (1805-1859) raakgesien het: “When one meets a missionary one is often ‘surprised to meet a politician where you expected to find a priest'” (Peter Balakian, The Burning Tigris, New York: HarperCollins, 2007, Kindle 5259). Wanneer Koopman besin oor die plaaslike kerkgenootskappe se erfenis, dan gaan dit vir hom oor die Belhar-belydenis, demokrasie en Nelson Mandela (Die Burger, 25 deser, p 15). Hy het niks positiefs oor bv die NG Kerk te sê nie. Die stekie na “apartheidsonreg” het hy ook nie agterweë gelaat nie.

Hier volg nog vier voorbeelde van akademiese sake wat doelbewus aan die Botman-US van besinning en viering uitgesluit word. (2) Waarom word die klem nie op akademiese standaarde geplaas nie? Omdat dit negatief op transformasie sal inwerk. (3) Waarom word akademiese vryheid nie gevier nie? Omdat dit ‘n platform vir nie- en anti-Botman-ideologie kan skep. (4) Waarom word universitêre outonomie nie gekoester nie? Omdat daar by Botman en sy meelopers geen begeerte is om hulle in enige opsig van ANC-ideologie te distansieer nie.

(5) Waarom nie die blankes huldig wat die US tot stand gebring en as ‘n akademies uitnemende Afrikaanse universiteit gevestig en uitgebou het nie? Omdat die vernietiging van die wit en Afrikaanse US van weleer voor die US se eeufeesviering in 2018 vir die Botman-bewind erns is. Dit is waarop Botman se ideaal van totale transformasie neerkom.

In werklikheid is daar egter niks in die wesenlike akademiese aard van ‘n universiteit wat toespitsing op ‘n bepaalde kultuurgroep, bv Westerlinge of net Afrikaners, en die gebruik van ‘n enkele onderrigtaal, bv Afrikaans, ongewens maak nie. Diversiteit en inklusiwiteit ingevolge die Botman-idioom is nie ‘n wesenskenmerk van ‘n universiteit nie. Die motivering vir hierdie opdringing moet in die politiek van die oomblik gesoek word.

Aan die US is daar in die apartheidsera nooit ‘n week vir ideologiese indoktrinasie afgesonder nie. Hoe kan so iets nou aanvaarbaar wees?

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.