Die AHi, AfriSake en die NOP

Deel op

transformasiedeur Leon Lemmer

Op die Afrikaanse Handelsinstituut (AHi) se webwerf word welvaartskepping as sy missie of leuse gestel. Dit impliseer glo inklusiwiteit en die onderskrywing van die ANC-regering se transformasiebeleid, met swart ekonomiese bemagtiging wat daarby ingesluit word. Selfs met Afrikaans gaan die AHi glo inklusief te werk, wat in die praktyk blykbaar beteken dat sodra hy iets met swartes te make het, die gebruik van Afrikaans opgeskort en na Engels oorgeslaan word. Vandaar bv die AHi se Business adopts Municipalities-projek, waar Afrikaans heeltemal uit die benaming weggelaat word.

Christo van der Rheede is met die oog op AHi-transformasie as sy uitvoerende hoof aangestel. Ek het voorheen geskryf: “Teen eksklusief swart ondernemings, soos dié wat die ANC-regering as swart ekonomiese bemagtiging met behulp van staatsteun tot stand bring, uiter Van der Rheede geen woord van kritiek nie. Dus, blanke ondernemings moet etnies en taalgewys inklusief wees en sonder owerheidsubsidie klaarkom en natuurlik belasting aan die staat betaal. Swart ondernemings, daarenteen, mag etnies en taalgewys eksklusief swart en Engels wees en boonop die voordeel van staatsteun geniet” (Praag 21 Mei). In so ‘n opset sien Van der Rheede geen onbillikheid nie; eerder geregtigheid.

Reeds in daardie stadium het Van der Rheede net lof vir Trevor Manuel, sy mede-bruine (of opportunistiese mede-swarte) en ANC-kameraad, se Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) gehad. Die NOP stippel glo ‘n “duidelike toekomsroete” uit. Dit is die roete wat Van der Rheede wil volg en waarop hy die AHi wil saamsleep. Hierdie houding laat ruimte vir ‘n baie jonger, meer regsinnige en minder getransformeerde onderneming, soos AfriSake, om hom te laat geld. Elke keer wanneer Van der Rheede met uitsprake kom, wonder ek of hy bloot uitdrukking aan sy eie ANC-beheptheid gee of is dit wat die AHi deesdae werklik wil hê. Die oorgrote meerderheid AHi-lede en sekerlik die deursnee tradisionele lede dink nie so ANC-aktivisties soos Van der Rheede nie.

Op 15 Augustus het AfriSake op sy webwerf teen die NOP gewaarsku. In die NOP-dokument van 480 bladsye word die verdere wegkalwing van eiendomsreg en selfs groter regeringsinmenging in die samestelling van die regbank in die vooruitsig gestel. ‘n Mens wonder wat het geword van die sinvolle ideaal dat die wetgewende, uitvoerende en regterlike magte sover moontlik geskei moet wees; dus dat al drie se onafhanklikheid in elkeen se aktiwiteitsfeer eerbiedig word.

Die NOP beoog die radikalisering van die gedwonge grondhervormingsbeleid. Groter eiendomsregskendings word dus in die vooruitsig gestel. ‘n Verdere 20% kommersiële landbougrond van wittes moet daarvolgens aan swartes oorgedra word. Die huidige grondeienaars sal teen net 50% van die markwaarde vergoed word. Hierdie 50% is glo “nader aan die ware waarde” van die grond, wat dit duidelik maak dat die opstellers van die NOP-dokument nie weet dat “markwaarde” veronderstel is om ‘n sinoniem vir “ware waarde” te wees nie. Die vervreemding van die helfte van so ‘n boer se landboubates deur die staat word daarmee wettig verklaar.

Die owerheid matig hom dus aan om teen hierdie koers besittings van wittes te onteien en eiendomsreg van hierdie goedere aan uitsluitlik swartes oor te dra. Daar is al gesê die kuns van regering is om van die rykes te neem en dit dan aan die armes gee. In die nuwe Suid-Afrika neem dit die vorm van eenrigtingverkeer aan: Van wit na swart. ‘n Mens kan byvoeg dat politici en amptenare in die nuwe Suid-Afrika hierdie verhandeling teen betaling van buitengewoon ruim kommissie doen.

In sy kommentaar toon AfriSake aan dat meer as ‘n verdere 20% kommersiële landbougrond in werklikheid onteien kan word en dat die “daadkragtiger optrede” nie tot grond beperk hoef te word nie; dat hierdie lot alle “produktiewe bates” kan tref. Jy sal jou ook in al hoe minder mate suksesvol tot die regbank teen sodanige owerheidsgedrewe onreg kan wend. Van die regbank word in die NOP niks minder verwag nie as dat hy “moet seker maak dat die voordele van ontwikkeling die armste en mees uitgesluite groepe moet toeval.” By die aanstelling van regters moet die klem dus val op “die kandidate se progressiewe ingesteldheid en hulle transformasie-gerigte juridiese filosofie en kundigheid.”

Kortom, die regbank moet die staat help om van die wittes te neem sodat hierdie bates aan die swartes oorgedra oftewel verkwansel kan word. Dit gaan om ‘n eensydige, onetiese, rasgegronde herverdeling van rykdom wat waarskynlik groter armoede tot gevolg gaan hê. Hieroor lewer AfriSake die volgende omsigtige kommentaar: “Die gevaar hiervan is dat die rol van die hof nie meer die beskerming van die oppergesag van die reg en vreedsame beslegting van geskille behels nie, maar nou sosiale manipulasie onder die vaandel van regstelling inhou.”

Die genoemde groter armoede gaan teen ‘n buitensporig hoë prys gekoop word. AfriSake stel dit soos volg: “Steun vir die NOP is noodwendig ook steun vir ‘n swaarder belastinglas. Uiteindelik, sê die NOP, moet die staat ‘genoeg inkomste uit die aktiewe groepe in die bevolking genereer ten einde dit aan daardie mense wat minder aktief is te herverdeel, en terselfdertyd nog ander bestedingsprioriteite ook na te kom.'” Die meeste blankes ressorteer onder daardie “aktiewe groepe” en die meerderheid swartes is “daardie mense wat minder aktief is.” Geen daadwerklike voorstelle word gedoen om mense wat behaaglik bly sluimer te aktiveer nie. Parasitering het skynbaar ‘n onvervreembare mensereg geword. Verpligte teenprestasie word blykbaar as dwingelandy, as ‘n aantasting van verworwe vryheid, beskou.

AfriSake: “Ten einde die NOP-doelwitte te bereik, vra die nasionale beplanningskommissie van Suid-Afrikaners om ‘wedersydse opofferings te maak ter wille van langtermynvoordele.'” ‘n Mens kan jou kwalik groter vermetelheid voorstel. Daar is geen sprake van “wedersydse opofferings” nie. Vir die wittes is daar net opofferings en die bakhandstaners is almal swart. Dat daar langtermynvoordele kan wees, is ook hoogs twyfelagtig. Daar is baie groter sekerheid oor die kort- en langtermyn benadeling van blankes en van die land in sy geheel.

Die kommentaar van AfriSake word soos volg afgesluit: “Die doelwitte van die NOP is prakties onbereikbaar indien die implementering van die plan die grondbeginsels vir ekonomiese groei ondermyn. Die skending van eiendomsreg en die ondermyning van die oppergesag van die reg, sowel as die voorgestelde belastinguitbreidings, maak hierdie plan eenvoudig te duur.”

My probleem met AfriSake se klem op die hoë koste van die NOP is tweeledig. Eerstens behoort koste as sodanig nie beswaar te ontlok as die uiteindelike opbrengs dit sou regverdig nie. Die eintlike probleem is dat ekonomies bruikbare geld deur die NOP in ‘n bodemlose put gestort word. Tweedens kan klem op die hoë koste die ANC-regering noop om op sy kenmerkende anti-blanke manier te reageer en selfs minder as die helfte van die markwaarde aan wit eienaars te betaal.

Soos verwag kon word, het konfrontasie tussen die AHi en AfriSake oor die NOP nie agterweë gebly nie. Op 12 deser is daaroor in Die Burger (p 15) berig. Wat ek interessant vind, is dat dit die AHi, spesifiek Van der Rheede, is wat konfrontasie gesoek het. Hy verwerp AfriSake se siening dat sakelui hulle steun vir die NOP moet heroorweeg. Van der Rheede noem AfriSake se oproep onverantwoordelik en teenproduktief.

Die uitvoerende hoof van AfriSake, Cornelius Jansen van Rensburg, het sy onderneming se standpunt soos volg saamgevat: “Die kernvertrekpunte van die NOP is verhoogde staatsinmenging in lewens van Suid-Afrikaners, die aftakeling van eiendomsreg, die ondermyning van ‘n onafhanklike regbank en die uiteindelike verhoging van belasting. Dit is wesentlike kwessies wat die ekonomiese bedrywighede onherstelbaar skade gaan berokken.”

Van der Rheede, daarenteen, wil hê dat eienaarskap na ‘n veel groter deel van die bevolking uitgebrei word. Die NOP is volgens hom ‘n pragmatiese raamwerk wat in die beste belang van die land se mense uitgedink is. Dan kom hy met die ANC se klassieke drogdreigement oor waarom wittes moet toelaat dat die staat stuk vir stuk op hulle eiendom beslag lê: Anders gaan “‘diegene wat het’ alles verloor.” Hoewel dit Van der Rheede is wat uitlokkend moeilikheid met AfriSake gesoek het, is hy, anders as Jansen van Rensburg, nie van plan om gesprek oor die saak te voer nie: “Die AHi beplan nie samesprekings met AfriSake in dié verband nie.”

Die houding van Van der Rheede is hier soortgelyk aan die VG Kerk se weiering om met die NG Kerk oor die Belhar-belydenis in gesprek te tree en dan terselfdertyd die NGK van liefdeloosheid te beskuldig. Daardie mense wie se beste belang deur die NOP gedien gaan word, is nie-wit mense. Daardie mense wat afgedreig word met die vooruitsig dat hulle alles gaan verloor, is wit mense. Die rede vir die verskil in benadering tussen AfriSake en die AHi is dat net laasgenoemde getransformeer het, ten minste in soverre dit die uitvoerende hoof betref.

AfriSake het die moed van sy oortuiging om vir die belange van sy eie mense in die bres te tree. Van der Rheede, daarenteen, het geen beswaar daarteen dat die wittes, wat danksy hulle kundigheid en toewyding oor eeue so baie hier tot stand gebring het, verder verneder word nie. Om die wittes van hulle politieke mag te stroop, is vir hom en die ANC nie genoeg nie. Wittes se welverdiende besittings moet ook van hulle weggeneem en aan bv prestasielose onbekwames uitgedeel word. Al wat vir hierdie elemente van deurslaggewende belang is, is dat die bevoordeeldes swart moet wees. Die kant waarby Van der Rheede hom blykbaar ongekwalifiseerd skaar, is wat John Stuart Mill (1806-1873) die tirannie van die meerderheid genoem het.

Wanneer iets teen die NOP gesê word, vertolk Henry Jeffreys dit as kritiek op sy etniese held, Trevor Manuel (Die Burger, 18 deser, p 10). Jeffreys noem Manuel die “vroedvrou” van die NOP. Jeffreys bestempel die NOP as “‘n rigtinggewende visie en beleidstuk vir Suid-Afrika se pad vorentoe.” Die “nasionale getjommel” of, volgens die opskrif, “gekibbel” moet, volgens Jeffreys, nou liefs end kry of ten minste nie die toepassing van die NOP vertraag nie. Soos Van der Rheede, gee Jeffreys klaarblyklik nie ‘n flenter om vir die blankes se belange nie. Daar mag maar van die wittes verwag word om nog offers te bring.

Eendragtig saam met die ANC, verkeer Van der Rheede en Jeffreys in die waan dat die ANC met die NOP ‘n gans beet het wat goue eiers gaan lê. In werklikheid gaan die NOP veel eerder armoede vir almal baar; sekerlik nie goud of selfs doodgewone eiers nie. Volgens die HAT is ‘n windeier ‘n sinoniem vir ‘n mislukking. Die NOP is myns insiens nog ‘n ANC-windeier. Dit kan onmoontlik die welvaartskepping wees wat die AHi in sy missie in die vooruitsig stel.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.