TT Cloete oor diversiteit en nivellering

Deel op

‘Tans regeer die swartes nie omdat hulle dit beter as bv die blankes kan doen nie, maar bloot omdat hulle meer (en meer gewelddadig) is.’

Deel op

Onder sy huidige redakteur, Waldimar Pelser, bespeur ek by Rapport ‘n neiging om konserwatiewe politieke idees in groter mate as voorheen te duld. Hierdie frontverandering is heel moontlik deur dalende sirkulasiesyfers genoodsaak. Een van hierdie beleid se jongste winste is die publikasie van TT Cloete se artikel, “Sonder diverse kulture g’n kleur” (Rapport, Weekliks, 21 Desember, p 8-9). Cloete (gebore in 1924) is ‘n gerekende Afrikaanse letterkundige en digter. Dit verduidelik heel moontlik waarom sy artikel gepubliseer is. Dieselfde teks deur ‘n onbekende of minder bekende skrywer sou in die snippermandjie beland het. Cloete het dekades lank die ou Suid-Afrika eerstehands beleef en kan dus nie maklik deur die huidige propagandaveldtog van die ANC en sy meelopers mislei word nie. So baie jonger mense se persepsie van wat bv apartheid was, word deesdae grootliks deur moedswillig eensydige wanvoorstellings gevorm.

TT Cloete, Afrikanerdigter, letterkundige en akademikus
TT Cloete, Afrikanerdigter, letterkundige en akademikus

Cloete het sy artikel slim geformuleer ten einde publikasie moontlik te maak. Die genoemde opskrif is nie noodwendig syne nie, maar dit dui reeds daarop dat diversiteit ook kleurverskille by mense insluit. Hy lê klem op een van die modewoorde van ons tyd, naamlik diversiteit, en nie op ‘n ander gewilde woord, inklusiwiteit, nie. Dit gaan by Cloete om eerder verskille as ooreenkomste by mense aan te toon. Sy artikel dien as aanleiding vir my skrywe. Soos my gewoonte is, vul ek sy teks/dis aan met my speserye.

Iemand soos Russel Botman was aan die Universiteit Stellenbosch (US) behep met diversiteit en inklusiwiteit. As ANC-aktivis het hy op die teenoorgestelde manier as Cloete te werk gegaan, deur diversiteit/verskeidenheid as uitgangspunt te gebruik om sy ideaal van inklusiwiteit/rasse-integrasie/eendersmaking, die uitwissing van bv kulturele en taalgrense (bv meertaligheid), te propageer en bevorder. Daarom was daar weens Botman se akute aktivisme jaarliks ‘n weeklange Diversiteitsweek en ook ‘n Sentrum vir Inklusiwiteit, wat gepoog het om die blanke- en Afrikaans-tradisie aan die US so gou moontlik te vernietig en van (al) die studente nuwe Suid-Afrikaners, Afrikane en wêreldburgers te maak; nie Afrikaners en veral nie Boere nie. Die studente is bv tydens die Diversiteitsweek aangemoedig om hulle in wit te klee en met enige kleur poeier, behalwe wit, te bestrooi, wat daarop neergekom het dat nie-wit diversiteit positief en wit etnisiteit negatief voorgestel is (Praag 29.09.2013). Wit is ‘n kleur wat nie in die reënboog is nie en nie in die sogenaamde Reënboognasie tot sy reg kom nie.

Die onderskrif van Cloete se artikel het ‘n verfrissende klank: “Die Europese immigrante wat hulle in 1652 in Suid-Afrika kom vestig het, het Suider-Afrika uit sy isolasie kom bevry.” Daarvolgens is die wittes die bevryders van die hele streek, terwyl ons deesdae alewig die teenoorgestelde moet aanhoor; dat die swartes ons bevryders is; bv dat die terreurbendes van die ANC en PAC ons (polities) bevry het.

Cloete gee ‘n breë historiese oorsig wat nie deur alle kenners sonder meer onderskryf sal word nie. Sy uitgangspunt is dat die mens in Afrika ontstaan en van daar na Europa en elders versprei het. Ander kenners meen dat die mensdom elders, bv in hedendaagse Indonesië, of op meer as een plek, ontwikkel het. Gestel Afrika word as die beginpunt aanvaar. Daar is sinici wat redeneer dat dit die slimmes is wat gesorg het dat hulle wegkom uit Afrika en hulle in Europa gevestig het. Hierdie redenasie dra steeds groot gewig by veral blankes in die nuwe Suid-Afrika. Wat Cloete beklemtoon, is nie die moontlike gemeenskaplike oer-oorsprong en dus inklusiwiteit/eendersheid van mense nie, maar juis die “verstommende diversiteit”/verskeidenheid wat sedertdien in die mensdom vergestalting gevind het: “in menslike voorkoms, in tale, in kuns en kultuur.”

Europeërs, soos “‘n Da Gama en Dias” en bv Jan Van Riebeeck, het eeue later na die suide van Afrika gekom. Hulle was wit en kan ontwikkelde mense genoem word. Uit sentraal-Afrika het mense (swartes) ook suidwaarts geëmigreer. Cloete vestig die aandag op “die natuurlike agterstand van die suidwaartse migrante.” Die swart immigrante in Suider-Afrika was dus nie in dieselfde mate ontwikkeld as die wit immigrante uit Europa nie. Die gevolg was kulturele diversiteit in dieselfde land, wat inklusiwiteit/rasse-integrasie bemoeilik het; dalk onmoontlik of ten minste onwenslik gemaak het.

Anders as die Khoi-San kan die swart inkommers uit die noorde en ooste nie daarop aanspraak maak dat hulle hulle voor die blankes in die suide en weste van Suid-Afrika gevestig het nie. “Toe Van Riebeeck [in 1652] aan die suidpunt van Suid-Afrika geland het, was die huidige oorwig mense [die swartes] nog baie, baie ver weg van die Kaap af.” Dit is dus histories en in beginsel verkeerd dat die swartes deesdae, weens FW de Klerk en sy groepie meelopers se ruggraatloosheid, politieke mag oor die hele Suid-Afrika en Suider-Afrika uitoefen. Tans regeer die swartes nie omdat hulle dit beter as bv die blankes kan doen nie, maar bloot omdat hulle meer (en meer gewelddadig) is.

Die agtergeblewenheid van inheemse Afrika-bewoners (Khoi-San, swartes) in vergelyking met die die inwoners van ander kontinente, soos Asië en Europa, word deur Cloete met voorbeelde toegelig. In die Ooste was daar die denke van Confucius (551-479 vC) op ‘n stadium toe daar al formele onderwys in China was. Tydens die bewind van keiser Qin Shi Huang (247-220 vC) is duisende terracotta-beelde geskep. Cloete skryf:

“Daar was geen teenhangers in Suidelike Afrika vir die geniale kunstenaars in Kambodja wat Angkor Wat en Angkor Thom (12de eeu) opgerig het nie, met hul haas onvergelyklike beeldhou- en argitektoniese wonders.”

In die Weste:

“Daar was in Suidelike Afrika geen teenhanger vir Istanbul se Hagia Sophia (587-1453) nie, geen suidelike teenhangers van die wiskundige skrywers van die Babiloniese ‘Plimpton 322’ (1800 vC) of die Egiptiese ‘Rhindpapirus’ (1650 vC) nie, geen teenhangers vir Pythagoras, Plato, Aristoteles, Sophokles, Dante, en nog later vir Michelangelo of Da Vinci nie. Die oudste universiteite kom uit Italië, Salerno (9de eeu) en Bologna (11de eeu), maar formele skole het al in klassieke Griekeland en antieke China bestaan, en eintlik begin die akademiese opvoeding al by Plato [427-347 vC]. Oxford is in 1115 gestig en Cambridge in 1209.”

“Wat het toe in Suidelike Afrika aangegaan? Silkaats (ong 1790-1868) is ‘n goeie historiese vergelykingspunt. Toe Goethe (1749-1832) Faust geskryf het, het Silkaats in Suid-Afrika geleef, sonder dat hy geweet het van die tekstielbedryf wat met die nywerheidsomwenteling presies in sy leeftyd ontwikkel het (1760-1868). Toe was die uitvinders van die boekdrukkuns, Coster (ong 1370-1439) en Gutenberg (ong 1398-1468), al lankal dood, en die eerste Europese koerant, die Duitse Relation, het in 1605 verskyn, meer as ‘n eeu voor Silkaats se lewe. Toe het Silkaats niks geweet van sy tydgenoot Beethoven (1770-1827) nie. Toe Silkaats gebore is, was Rembrandt (1606-1669) pas meer as [‘n] eeu gelede oorlede. Wat is in Suidelike Afrika gebou toe die Gotiese katedrale in Europa ontstaan het? … Wat het in Suidelike Afrika gebeur toe Shakespeare (1564-1616) sy dramas en gedigte geskryf het?”

Waaroor gaan dit vir Cloete met hierdie voorbeelde? Hy toon aan dat daar Europeërs en Oosterlinge was wat meer ontwikkeld as swart Afrikane was. Dit illustreer die groter vindingrykheid en beter skeppingsvermoë van nie-Afrikane. Daar het ‘n ontwikkelings- of bekwaamheidsgaping tussen die inwoners van Afrika aan die een kant en Europa en Asië aan die ander kant ontstaan. Daardie verskil word gewoonlik beskawing genoem, ‘n woord wat in die nuwe Suid-Afrika skielik feitlik heeltemal uit die openbare woordeskat verdwyn het; ‘n woord wat onwillekeurig nostalgie by blankes in die nuwe milieu wek. Die vraag wat gestel kan word, is in hoeverre daardie gaping tussen Afrika en die Eerste Wêreld sedertdien vernou of uitgewis is. Indien nie, doen ‘n verdere vraag hom voor: Sou dit wys wees om die heil van ‘n land soos Suid-Afrika, wat vir bykans drie en ‘n half eeue lank (1652 tot 1989) onder die beheer van Europeërs tot die voortreflikste in Afrika ontwikkel is, aan Afrikane toe te vertrou omdat hulle meer talryk en (dalk) ook meer gewelddadig is? Sou so ‘n kwantumsprong op groot wysheid en staatsmanskap of op onverdunde, onoortrefbare dwaasheid dui? Selfs in die nuwe Suid-Afrika (en in bv Amerika) dwing swartes steeds hulle wil met gewelddadige gedrag af. Dit is (by voorkeur) hulle manier om hulle sin te kry.

Teen die agtergrond van sy genoemde voorbeelde skryf Cloete voorts:

“Ek is hart en siel vir diversiteit, en daarom vir die behoud van Afrikaans. Ek is nie vir nivellering nie … Die ganse skepping getuig vir diversiteit en teen nivellering. Daar is nie net een soort gras, een soort boom, een soort dinosourus, een soort mens, een taal nie. Dié spesies is so uiteenlopend as kan kom. Stel jou voor ‘n skepping waar net een ster was, net een planeet … Die Psalms en ou Egiptiese gedigte, wat geen teenhangers in Suidelike Afrika gehad het nie, juig oor die diversiteit in die skepping, oor diverse diere of emosies, ensovoorts. Hoe vervelig sou dit gewees het as daar net een soort mens met net een taal was en almal se gesigte het eenders gelyk.”

Pleks daarvan het ons nou elf amptelike tale en ‘n mej Wêreld (wat weens borge ongelukkig net polities korrek praat en doen).

“Wat ons vandag in Suid-Afrika het en is, is te danke aan diversiteit, ook deur die ontstaan van Afrikaans, met ‘n Europese herkoms, maar inheems omvorm tot wat dit vandag is.”

Afrikaans kan dus onmoontlik die eiendom van etniese groepe sonder Europese wortels, soos die Khoi-San en die destydse slawe, wees.

In sy artikel tree die oud-Afrikaansdosent in Cloete al hoe meer na vore.

“‘n Belangrike aspek van die Europese Renaissance (nie Mbeki se mislukte een nie) was die gebruik van die volkstaal vir die diepste roersels van die siel, en selfs vir wetenskaplike ontdekkings. Indertyd was Latyn die lingua franca, en terwyl iemand soos die Nederlander Erasmus (1466-1536) nog in Latyn geskryf het, het Dante (1265-1321), lank voor Erasmus, in Italiaans geskryf – sy volkstaal. Erasmus is maklik vertaalbaar, Dante kan deur geen vertaling werklik toeganklik gemaak word nie. Niemand kan aan sy Divina Commedia werklik reg laat geskied deur vertaling nie.”

Wat Cloete uitwys, is dat tale verskil, dus diversiteit openbaar.

“Ons denke sit so vas in taal dat selfs sekere filosowe na reg nie vertaal kan word nie. Ek lees Kant se beskrywing van die kunswerk of Freud se siening van Michelangelo se Moses liefs in Duits, soos ek Sartre of Derrida liefs in Frans lees. Ek wil digters in hul taal lees. Vir baie mense is taal bloot in gebruiksartikel wat, soos Heidegger gesê het, soos brandstof in ‘n motor verbruik word, maar in literêre werke is taal ‘n versterkwater wat die taal nie verbruik nie, maar inlê en bewaar, verseël, sonder vervaldatum. Daarvoor gee die nivelleerders (wat soms voorgee hulle is vir diversiteit) niks om nie. Hulle wil alles tot ‘n lingua franca of soort Esperanto verengels, tot niks meer nie as ‘n verbruikerstaal. Alle kultuur hang van taal af, dus ook alle wetenskap. As ons nie taal gehad het nie, kon ons nie op die maan land nie.”

“Die historiese feite wat ek vergelykenderwys hierbo genoem het, het hulself geskryf. Hulle is nie te ontken of dood te swyg nie, en dit moet almal in hierdie land tot dankbaarheid en nederigheid stem, want dit is vandag ons kulturele gebruiksgoedere. Ons moet nie die geskiedenis wil herskryf na die politiek van die dag nie. Het ons vandag ‘n punt bereik waar ons die geskiedenis so na die land se omstandighede wil herskryf dat ons huiwer om kultureel kosbare dele daarvan weg te probeer dink? ‘Niks is suiwer nie,’ maar niemand in hierdie land behoort 1652 uit die geskiedenis te probeer wegskryf nie, want van toe af eers is Suid-Afrika uit sy isolasie bevry, deur in te voer wat tot dan toe ontbreek het [naamlik beskawing?]. Van toe af het ons die natuurlike agterstand begin inhaal danksy die ‘uit Afrika’-migrasie, en van toe af is ons almal Afropeërs en/of Eurokane.”

Hier moet Cloete stadiger oor die klippe. In hierdie enkele geval (die laaste aangehaalde sin) neig hy myns insiens te veel na inklusiwiteit. In Amerika is daar baie swartes wat nie met wittes wil integreer nie. In Suid-Afrika is daar ‘n gesonde kern blankes en veral Afrikaners wat ‘n tradisioneel Europese lewe wil lei, vry van die inmenging van swartes. Swartes het sekerlik hulle destydse agterstand in vergelyking met die blankes begin inhaal, maar van die algehele uitwissing van daardie “natuurlike agterstand” is daar nie sprake nie. Daar is steeds nie eendersheid nie en daar sal nooit wees nie, onder meer omdat kulturele verskille ‘n onontkenbare en durende werklikheid is. Wat verwelkom kan word, is dat Cloete by implikasie ‘n sterk saak uitmaak vir die terugbring van Van Riebeeck-dag as ‘n amptelike huldigingsdag; ‘n viering van die aankoms van Europese beskawing in swart Afrika. Dit moet liewer uitdruklik Beskawingsdag genoem word, al lyk dit sedert 1994 glad te dikwels asof daardie dag nag word.

Cloete sluit sy artikel soos volg af.

“Die mensdom besit vandag ‘n indrukwekkende literêre voorraad, omdat daar diversiteit is, omdat daar dus verskillende perspektiewe op die mens en die kosmos is, waarvan Afrikaans een is. Marais, Leipoldt en die Louws kon in Engels skryf, maar hulle was vir diversiteit pleks daarvan om die reeds ryk Engelse letterkunde verder te verryk. In watter ander taal kon ‘Oom Gert vertel’ geskryf gewees het? Lank gelede het ek daarop gewys dat Bosman in Engels geskryf het, maar sy verhale klink na Afrikaans! Die literatuur is die kosbaarste besit van enige volk. Wat bly oor as jy Chaucer, Shakespeare en Eliot uit Engels haal, Goethe uit Duits, Baudelaire of Rimbaud uit Frans, Dante uit Italiaans, Sophokles uit Grieks, Vergilius uit Latyn? Een taal alleen, soos Engels, ten spyte van al sy rykdom, kan nie die diversiteit en rykdom van die skepping vir ons oopmaak nie. Ek is vir diversiteit.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.