Onwettige immigrante in Australië en Suid-Afrika

onwettige_immigrantedeur Leon Lemmer

Tydens my laaste besoek aan Londen het die groot getal immigrante uit die Indiese subkontinent en die Wes-Indiese Eilande my opgeval. ‘n Vriendin wat onlangs in Italië vakansie gehou het, noem dat talle van die besighede, bv restaurante, in Venesië deur Chinese oorgeneem is. Harvey Sachs verwys in sy boek oor Beethoven, The Ninth (2010), na “the arrival of so many Asian and African immigrants” in Wene, Oostenryk (p 11).

Om vredeswil word daar meesal oor hierdie verskynsel geswyg. As wél beswaar geopper word, word dit glad te maklik as rassisme afgemaak. In werklikheid gaan dit om veel meer as velkleur, want sodanige pigmentasie kan op kultuurverskille dui. Bogenoemde gevalle is in meerdere of mindere mate ‘n bedreiging vir Westerse waardes. Daar behoort begrip te wees vir mense wat sterk daaroor voel om hulle tradisionele leefwyse te beskerm en voort te sit.

Australië is in hierdie opsig in ‘n netelige posisie. Oorheersend is dit ‘n land met blanke inwoners maar daardie Westerse beskawing het geografies in die Ooste wortel geskiet. In Oosterse lande veroorsaak oorbevolking en ander nadelige omstandighede, soos armoede, dat daar voortdurend groot druk op Australië uitgeoefen word om immigrante meer geredelik en op groot skaal te aanvaar. Daar word verwag dat die land sy voorspoed met hierdie mense moet deel; dus dat Australiërs hulle welvaart moet verwater. Die redenasie is dat menslikheidsoorwegings in so ‘n geval swaarder as landsbelang moet weeg.

Van my polities verligste kollegas en vriende het tydens die aantog en sedert die verwerkliking van die nuwe Suid-Afrika na Australië uitgewyk. Daarom stel ek nogal belang in wat daar plaasvind. Op 7 deser is daar ‘n algemene verkiesing gehou. Eerste minister Kevin Rudd se Arbeidersparty het teen Tony Abbott die Liberale-Nasionale-koalisie te staan gekom. Laasgenoemde het die verkiesing gewen. Die ander groterige party is die Groenes van Christine Milne. Een van die belangrikste sake waaroor daar in die verkiesing uitspraak gegee is, is immigrasie.

Die Groenes se standpunt is dat meer immigrante toegelaat en meer staatsgeld aan hulle heil bestee moet word. Die ander twee partye stel strenger maatreëls teen immigrasie voor. Albei het dit veral teen die onetiese en vermetele praktyk om mense op oorvol en kwalik vlot bote te laai wat probeer om die Australiese gebiedswater binne te dring. Daar word dan van die Australiërs verwag om alles moontlik vir hierdie mense te doen anders word die owerheid van wreedheid, rassisme, ens, beskuldig. Dieselfde laai word teen Italië uitgehaal deur vlugtelinge uit Afrika wat die eiland Lampedusa, 113 kilometers oos van Tunisië in die Middellandse See, probeer haal.

Sowel Rudd as Abbott probeer om die immigrasieprobleem na twee polities onafhanklike eilandlande, wat ekonomies, bv finansieel, van Australiese afhanklik is, te verplaas, naamlik Papoea-Nieu-Guinee en Nauru. Hierdie politici wil hê dat onwettige immigrante op daardie eilande geprosesseer en daarna daar gehuisves of gerepatrieer moet word. Hulle wil die regte waarop hierdie mense aanspraak maak, soos die reg op appèl, ophef. Abbott het dit onomwonde gestel: “This is our country and we determine who comes here” (Yahoo News 16 Augustus). Slegs tydelike visums sal uitgereik word. Geen permanente verblyfreg en die reg van familielede om by onwettige immigrante aan te sluit, sal toegelaat word nie. Slegs in ruil vir teenprestasie, naamlik werk, sal staatstoelaes aan hierdie mense betaal word.

Hierdie aandrang op teenprestasie is ‘n gesonde verwikkeling. Dit druis lynreg in teen die ubuntu-sindroom wat plaaslik epidemiese afmetings aanneem. Ubuntu is ‘n Nguni-leenwoord wat in Afrikaans as ‘n sinoniem vir medemenslikheid erken word. Hierdie begrip het politieke slaankrag in die konteks van dekolonisering verkry en is deur bv Desmond Tutu misbruik om bevryding van blanke politieke beheer, dus afrikanisering, te propageer. In die Wikipedia word verduidelik ubuntu beteken: “A person is a person through other people.” Ook: “Ubuntu as political philosophy has aspects of socialism, propagating the redistribution of wealth.” Daar word gestreef na “collective prosperity”. Onder die dekmantel van empatie word parasitering dus aanbeveel. Dit gaan om die herverdeling van rykdom.

In die praktyk is ubuntu ‘n eenrigting- w-s-straat, met w-s wat nie op wes na suid dui nie, maar op die vloei van bates van wit na swart. Daar is mense wat bloot omdat hulle gebore is van ander verwag om hulle lewenslank te versorg. Jy moet nie net ‘n brood vir so iemand koop nie, jy moet dit ook sny en dan moet jy elke sny tot in die hoeke smeer. Terwyl hy eet, verwyt hy jou oor wat jy nog nie gedoen het nie en dring hy daarop aan dat jy verskoning moet vra vir jou hardvogtige gedrag. Aandrang op teenprestasie kan so ‘n situasie regtrek.

In watter mate ubuntu misbruik word, blyk uit die ANC se beleid waarvolgens “it does not throw out its own but rather redeems”. Misdade, soos korrupsie, kan dus in die naam van ubuntu, oftewel die herverdeling van rykdom, toegesmeer word. Daardie “its own” dui op die feit dat wittes en swartes verskillend behandel word. Swartes beskou mekaar as broers en susters. By wittes word daardie etniese voorkeur of solidariteit nie naasteby in dieselfde mate aangetref nie. Desnieteenstaande word dikwels beweer dat net wittes rassisties is. Swartes is glo nie tot so iets geneig of selfs in staat nie.

Die beweerde reg van ‘n immigrant om sy familie wettig in te voer, berus op die argument dat die land wat deur die immigrant onwettig binnegedring is nie so onmenslik wreed mag wees om hom die aanwesigheid van sy familie te ontsê nie. Dikwels is dit ‘n geval dat nie verwag word dat ‘n gesin van drie of vier geabsobeer moet word nie, maar die uitgebreide familie wat uit ‘n dosyn of meer lede kan bestaan. Daarby kom die vermoë van hierdie immigrante om “natuurlik” besonder vinnig meer te word. Dit is die mens aan die begin van die immigrasieketting wat homself deur sy onwettige optrede van sy gesin en ander familie geïsoleer het. Maar dan is dit die land van aankoms wat met die gebakte pere sit en die skuld vir beweerde wreedheid kry.

In die vorige eeu was Louis Botha en veral Jan Smuts te geneig om die belange van ‘n ander land, naamlik Brittanje, in ag te neem. Daarteenoor het Barry Hertzog met sy beleid van “Suid-Afrika eerste” gekom. Vreemd soos dit in die nuwe Suid-Afrika mag klink, is dit eintlik vanselfsprekend dat die regering van ‘n land daardie land se belange voorop moet stel en nie dié van ‘n ander land, bv ‘n buurland (soos Zimbabwe), of selfs ‘n kontinent (soos Afrika) nie. Daarvolgens moet net diegene wat ‘n bate vir die land kan wees, hier toegelaat word. Dit behoort nie op Suid-Afrika se humanitêre weg te lê om armlastige ongeskooldes uit bv die res van Afrika te absobeer nie. Suiwer rasionele oorwegings behoort te geld. Die antwoord op die vraag of die immigrant ‘n bate of ‘n las vir ons land gaan wees, behoort van deurslaggewende belang te wees. Dit is ‘n wanvertolking om so ‘n benadering xenofobie oftewel vreemdelingehaat te noem, want dit behoort nie om gevoel of emosie te gaan nie, maar om rasionaliteit.

Om ‘n land sonder vooraf goedkeuring binne te dring, is ‘n misdaad. Die koninklike weg is om aansoek om toegang te doen. Die uitslag sal toon of die teenwoordigheid van die persoon in die land amptelik wenslik of onwenslik geag word. Die probleem is dat die “bevryders” wat nou in die beheer van ons land is dekades lank misdaad verheerlik het. Daarom word onwettige immigrasie nie uitdruklik as ‘n misdaad geëtiketteer en verdoem nie. Uit die oogpunt van openbare oftewel landsbelang behoort die aanwesigheid van onproduktiewe en misdadige uitlanders egter nie noodwendig sterker as onproduktiewe en misdadige landsburgers veroordeel te word nie. Die gesonde beleid behoort ingevoer te word dat almal, dus sowel die wettige as onwettige inwoners, teenprestasie vir staatstoelaes moet lewer. Vir bejaardes en gestremdes kan uitsonderings gemaak word.

Wanneer sal die regering in die nuwe Suid-Afrika by die punt kom om sy oordrewe sug na menseregte en sy voorkeur vir Afrika-swartes bo wit Suid-Afrikaners af te sweer en daadwerklik ongewenste immigrasie aan bande te lê? Afgesien van die politieke wil, ontbreek die administratiewe doeltreffendheid ook. Op die lange duur kan die gebrekkige optrede teen onwettige immigrante die aard van die plaaslike bevolking verder vermurwe, verarm en onherkenbaar verander.

As uitlanders uit swart Afrika en uit die Ooste Suid-Afrika oorneem, is dit wesenlik ‘n voortsetting van FW de Klerk se inisiatiewe waarmee in 1990 begin is. In 1994 is diegene onder wie se leiding die land ontwikkel en opgebou is, opsy geskuif en polities ontmagtig. Die nuwe swart bewindhebbers is nie in staat om voort te bou op ‘n ryke erfenis nie. Die voorbeeldige nalatenskap van die wit bewindhebbers word verkwansel.

Die bevrydingsteoloog Allan Boesak het die Suid-Afrikaanse geskiedenis in die tydperke van slawerny, kolonialisme en apartheid verdeel, waarna “bevryding” gevolg het. Daarenteen verdeel ek ons geskiedenis in drie tydvakke: die voorbeskawingsera, die beskawingsera (1652-1989) en die nabeskawingsera. Die land is bykans 338 jaar lank opgebou voordat algemene, eksponensiële verval ingetree het. Die groot invloei van onwettige immigrante gee stukrag aan hierdie afbreekproses.

Agteruitgang is ons voorland; des te meer omdat Suid-Afrika se grense nie soos dié van Australië in ‘n mate deur see beskerm word nie. Enigeen kan sonder ‘n paspoort heeltemal ongemerk of in ruil vir bv ‘n pakkie sigarette Suid-Afrika oor bv die Limpopo-rivier binnekom. Dwarsoor die wêreld word daadwerklike pogings aangewend om onwettige immigrante buite te hou. Die nuwe Suid-Afrika is ‘n uitsondering op die reël. Dese en gene wat in geen ander land toegelaat sou word nie, vind hulle weg hierheen en breek lustig af aan wat voorheen opgebou is.

Dit is nie politiek korrek om beswaar te maak nie. Die Demokratiese Alliansie haal graag op ‘n skewe manier sy liberale waardes uit wanneer hy die ANC-regering kritiseer omdat daar glo nie goed genoeg na onwettige immigrante se belange en selfs hulle gerief omgesien word nie. Red nou ‘n land met sulke politici.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.