Die Baske en die Afrikaners

Deel op
Die Baskiese vlag
Die Baskiese vlag

Aan die Golf van Biskanje lê daar sewe provinsies; vier in Spanje en drie in Frankryk. Daar hoor ‘n mens die uitdrukking: 4 + 3 = 1. En dit is waar. Die land van die Baske is ‘n kulturele eenheid. Die Golf van Biskanje is bekend om sy stormagtige see. Dit herinner aan die Kaap van Storms. Op land is daar ook ooreenkomste tussen die Baske en die Afrikaners en hierdie gelykenisse behoort meer te word.

Die Baske is die oudste erkende etnies-kulturele groep in Europa. Sover vasgestel kan word, woon hulle sedert die steentydperk in dieselfde omgewing; in die midde-noorde van Spanje en die suidweste van Frankryk, alkant van die westelike Pirenese gebergte. Hulle was in Baskeland voor die Romeine daar gekom en hulle Vascones genoem het (218 vC) en selfs ook voor die Kelte (6de eeu vC). “They are the original Europeans” (Mark Burlansky, The Basque History of the World, London: Vintage Books, 2000, 400p; Amazon Kindle, $11.99; Kindle 357 – Tensy anders vermeld, is al die bibliografiese verwysings na hierdie bron). In hierdie sin word die Baske lewende fossiele genoem. Die Baskiese taal, Euskera, is ‘n nie-Indo-Germaanse taal wat grammatikaal met geen ander taal verwantskap toon nie. Dit is dus ‘n taal wat wees is. Die eerste boek in Euskera is in 1545 gepubliseer, die Bybel in 1571 en die eerste grammatikaboek in 1729.

“They have never been a quaint people and have managed to be neither backward nor assimilated” (Kindle 141). Lord Strabolgi (Joseph Kenworthy, 1886-1953) het in 1937 gesê: “Whatever we may be told about the rest of the population of Spain, the Basques are a very pious, ancient, courageous and altogether an admirable people” (Ian Patterson, Guernica and Total War, London: Profile Books, 2007; p 39). “The Basques are smart, valiant and generous” (4530). “The adjective Basque on a restaurant in Spain implies quality” (4125).

Anders as in Frankryk (en Suid-Afrika) waar sentralisasie, saamvoeging en assimilasie aan die orde van die dag is, word multikulturaliteit en federalistiese selfregering al hoe meer in Spanje erken. In die noord-weste van Spanje is daar die Galisiërs (Gallegos), in die midde-noorde die Baske en in die noord-ooste die Kataloniërs. Al drie groepe verskil kultureel en taalgewys van bv die Kastiliane in sentraal Spanje, wat Madrid as hoofstad het. Die taal van die Galisiërs, Baske en Kataloniërs word naas Spaans amptelik erken. Verder geniet hierdie drie kultuurgroepe amptelike erkenning as nasionaliteite binne die Spaanse nasie. “Experiencing the Spanish simultaneously as both ‘us’ and ‘them’ is essential to discovering the soul of Spain” (2369).

In Spanje is daar dus een nasie en een nasionale taal, maar daar is die realistiese besef dat daar in die bevolking minstens drie ander onderskeibare nasionaliteite elk met ‘n eie kultuur en taal is. Die grootste konsentrasie van elk van hierdie drie nasionaliteite word in ‘n bepaalde geografiese gebied aangetref. Die sentrale regering verleen ingevolge die Spaanse grondwet (1978) aan daardie gebiede ‘n groot mate van outonomie sodat hulle hulle sake volgens hulle besondere behoeftes kan bestuur.

Van die 12 miljoen Baske woon minder as drie miljoen in Baskeland. Die diaspora word veral in die Spaanssprekende lande van Suid- en Sentraal-Amerika aangetref. Byvoorbeeld, die ontwikkeling van Chile is in groot mate aan Baskiese immigrante te danke. Omdat Baske reeds so lank Baskeland as hulle tuisland het, is hulle sterk nasionalisties gesind en voel hulle daarop geregtig om hulle eie sake te bestuur. In Spanje laat die Baske hulle nie maklik ronddonder deur kabouters in die sentrale regering in Madrid nie.* In Spanje geniet die Baske in ruime mate politieke en kulturele outonomie. Hulle het selfregering verwerf. Hulle taal word naas Spaans in hulle skole erken en hulle het ‘n eie universiteit met kampusse in drie van die Baskiese provinsies.

[* In die nuwe Suid-Afrika weerspieël selfs georganiseerde landbou in sy amptelike uitsprake dikwels die FW de Klerk-mentaliteit teenoor die ANC: Ons deur staan oop. Dit is nie nodig om dit oop te skop nie. Ons het gaan lê. Ons wil hartlik saamwerk met julle afvatprogram en grypsug sodat blanke boere selfs verder ontheem en beroof kan word. Ons het vergeet dat die ANC ‘n immorele, misdadige terreurbende was. Ons maak onsself wys dat die lelike eendjie ‘n pragtige swaan geword het. Hierdie landbouers behoort veel eerder in die amptelik naam van hulle vereniging die woord Boer(e) in te sluit, sodat ontsag by die ANC gewek kan word. In die ANC-idioom behoort ondubbelsinnige eise gestel te word, pleks van toe te laat dat hierdie bedenklike elemente met hulle harde stewels onbelemmerd oor die blanke boere loop.]

Die vader van Baskiese nasionalisme, Sabino Arana Goiri (1865-1903), het gesê: “It doesn’t matter to us if Spain is big or small, strong or weak, rich or poor. They have enslaved our country and this is enough for us to hate them with all our soul, whether we find them at the height of greatness or the edge of ruin” (2372). “When Sabino was born, the Basques had a culture and an identity. Thirty-eight years later, when he died, they had the beginnings of a nation. A country was the great unfinished work” (2408). Arana het bv gedink dat die Zoeloes ‘n eie tuisland behoort te hê. José Antonio Aguirre (1904-1960), die eerste president van Baskeland (1936-1960), het geskryf: “The years do not age a nation that remains young in its faith and hope” (2585).

Baske in Montpellier, Frankryk, tydens 'n kulturele byeenkoms
Baske in Montpellier, Frankryk, tydens ‘n kulturele byeenkoms

Reeds eeue lank het die Baske in Baskeland dieselfde grond onder hulle voete. Dit gaan vir hulle om te behou wat hulle het; nie om nuwe grondgebied te verower nie. “Basque history has always been about defending their birthright against outsiders” (3642). Hulle het hulle in vorige eeue as uitmuntende landbouers, skeepvaarders en skeepsbouers bewys. By die Noorse Vikings (800-1100) het die Baske baie van seevaart geleer. Heel moontlik lank voor Christopher Columbus (1451-1506) die Karibiese eilande in 1492 en John Cabot (1450-1498) Newfoundland in 1497 “ontdek” het, het Baskiese vissers Newfoundland besoek, maar ter stawing hiervan bestaan daar geen rekords nie.

Die Baske neem vir lief daarmee dat hulle is wat hulle is, “asserting their Basqueness” (2169), “pursuing their Basqueness with such remarkable energy and limitless ambition” (4290). “The world was changing – all the more reason to fight for the old ways” (2086). “Let us be what we are” (4985). Hulle het reeds lank gelede gekom om te bly waar hulle is, knus in hulle tuisland, maar sonder om van noodsaaklike aanpassings weg te skram, bv toe hulle in 1986 deel van ‘n nog groter groep, die Europese Ekonomiese Gemeenskap, en in 1992 van die Europese Unie geword het. Die Baske se godsdiens, Rooms-Katolisisme, maak hulle ook deel van ‘n groter groepering.

Anders as in Spanje het die Baske in Frankryk nie selfregering nie en hulle taal word ook nie naas Frans amptelik erken nie. Tot 1981 was Euskera as skooltaal verbode. Die drie Franse Baskiese provinsies is in ‘n groter departement opgeneem om die Baske se minderheidstatus te verseël. In Spanje groei Baskiese nasionalisme asook hulle taal, terwyl albei in Frankryk kwyn. Belangrike faktore vir die behoud van Baskiese identiteit is die groot klem wat op die huis, gesin en familie geplaas word. “A central concept in Basque identity is belonging” (144). “The most important word in Euskera is gure. It means ‘our’ – our people, our home, our village … That four-letter word, gure, is at the center of Basqueness, the feeling of belonging inalienably to a group. It is what the Basques mean by a nation” (4510).

Die Baske is bereid om vir hulle regte te veg. Daarvoor gebruik die Baske nie miniatuur strooipoppe wat toegewingsgewys onderhandel nie. Die reg op verset en die uitoefening van weerstand is ononderhandelbaar; selfs wanneer dit ‘n geval van Dawid teen Goliat is. “The Basques always resisted not only militarily but culturally. They kept their language and religion” (497). In 1952 is die bevrydingsbeweging ATA gestig. Van 1968 tot 1998 het dit as ETA (1959-2012) met onder meer guerrillabedrywighede probeer om die Spaanse en Franse Baskiese gebiede in ‘n onafhanklike land te verenig. “But their primary activity was promoting the forbidden Basque language” (3218). “It was fluency in the Basque language and culture that would determine who was and was not Basque” (3222). “ETA is not trying to be popular. It is trying to cause the breakdown of the status quo” (4144). ETA se grootste “sukses” was die sluipmoord op die Spaanse eerste minister, Luis Carerro Blanco (1903-1973).

By sommige nuwe regses of neo-konserwatiewes in Europa is daar die neiging om terug te hunker na die voor-christelike era en sekere heidense gebruike onveranderd te herstel of hulle aan te pas. Sekularisasie of verwêreldliking is, by uitstek in Europa, ‘n werklikheid wat nie ontken kan word nie. Ontwikkelde mense besef toenemend dat hulle voorkeur aan hulle huidige belange moet gee pleks van alles (of baie) op te offer met die oog op hulle heil in die hiernamaals. Die Baske het aanvanklik lank bly klou aan hulle heidense gewoontes. Hulle vertroetel steeds hulle geskiedenis en hulle mites en legendes. Eers na die intog in Spanje van die More uit Afrika, van die 8ste eeu af, het die Baske hulle op groot skaal tot die christelike geloof as kulturele verskansing teen die Moslems gewend. Soos elders in Europa is sekularisasie egter deesdae ook in Baskeland aan die orde van die dag.

In Suid-Afrika het die blankes die christelike geloof die binneland ingedra en dit gebruik om hulle geestelik teen al die werklike en dreigende gevare te versterk. Veral die Afrikaners het lank dié geloof behou. Sedert daar op ‘n verraderlike wyse ‘n einde aan apartheid en blanke politieke beheer gemaak is, het die Kerk (dus georganiseerde godsdiens) se invloed dramaties afgeneem. Uit die Kerk kom daar deesdae selde ‘n beduidende geluid en min openbare uitsprake word as evangelie (dus as die waarheid) aanvaar. Die blanke en veral die Afrikaner het op ‘n glybaan beland waar eers die betroubaarheid van die Kerk en daarna dié van die Bybel en les bes selfs (die bestaan van) God bevraagteken kan word. Maar die oorgrote meerderheid Afrikaners is sekerlik nog nie daar nie.

Dit sou onrealisties wees om met die oog op die toekoms die Afrikaner se tradisionele godsdiens tot sy (enigste) kern te verklaar; net so min soos die Rooms-Katolisisme steeds die deurslaggewende rol by die meeste Baske speel. Om realisties op ‘n toekoms te hoop wat die moeite werd is, sal die Afrikaner sy geloof moet behou, maar dit kan/moet (en sekerlik ook) geloof in homself eerder as (net) religieuse geloof wees. Op hierdie manier kan geloof ‘n reikwydte onder Afrikaners hê wat nie met die verloop van tyd maklik verwater sal word nie.

As Afrikaners op veral nie-religieuse geloof aangewese is (of gaan wees), van waar af sal ons heil kom? Wat is die kernonderskeid wat van Afrikaners Afrikaners maak? Dit lyk vir my asof dit in ons taal, Standaardafrikaans, gevind kan en behoort te word. Die ANC-regering doen alles in sy vermoë om hierdie taalkern van die Afrikaner te vernietig. In die praktyk onderskei Afrikaners hulle van Afrikaanssprekende nie-Afrikaners deur hulle kompromislose anti-ANC-gesindheid. Kenmerkend van verloopte Afrikaners, daarenteen, is hulle onwilligheid om vir Afrikaans in die bres te tree. Enersyds is verlooptes nie bereid om Afrikaans te bevorder nie. Wat hulle betref, kan die openbare lewe ter wille van vrede en “handevat” maar deur Engels verswelg word. Andersyds mag Standaardafrikaans, wat kulturele of ten minste taalkundige eenheid onder Afrikaners bewerkstellig, volgens die verlooptes maar afgebreek en oorvloediglik met veral Engelse woorde besoedel word.

Verlooptheid is kenmerkend van die Afrikaanse Taalraad (ATR). Hy het nog nooit vir Standaardafrikaans of suiwer Afrikaans in die bres getree nie. Sedert die Tweede Wêreldoorlog is dit taboe om na rassuiwerheid te streef. Verwysing na gene (DNS) het die plek van die bloedlyn ingeneem. Na analogie van wat met bloedsuiwerheid gebeur het, word taalsuiwerheid deesdae plaaslik geminag. Die ATR ag homself ‘n inklusiewe instansie wat eerder die (teoretiese) meerderheid Afrikaanssprekendes, die bruines, as die Afrikaners ter wille wil wees. Die ATR gee voorkeur aan nie-Standaardafrikaanssprekendes en tree daarom telkens vir bv Kaaps in die bres. Die hoofkenmerk van Kaaps is die onverantwoordelike en ongevoelige wyse waarop toegelaat word dat al hoe meer Engels geabsorbeer word. Kaaps is die dood in die pot vir Afrikaans. Met ander woorde, Kaaps vergiftig Standaardafrikaans en die ATR doen lustig daaraan mee. Deur polities korrek Kaaps te vertroetel, bevorder die ATR geensins die heil van Afrikaans nie. Die toekoms van Afrikaans word veel eerder gesaboteer.

Daar is inderdaad geen absolute bloed- of taalsuiwerheid nie. Onbeteuelde inteling sou egter sowel die onderskeibare etnisiteit as die herkenbare taal vernietig. Dit is wat die aktiviste vir rasse-integrasie en die herstandaardisering van Afrikaans motiveer. Daarteenoor stel Ernst Kotzé ‘n klokheldere standpunt: “Wat nie aanvaarbaar is as Standaardafrikaans nie, is die onverbloemde leenwoorde waarvoor daar gewone Afrikaanse ekwivalente bestaan en sinne wat byvoorbeeld net verafrikaanste Engels is en eenvoudig gegrond is op die sins- en woordpatrone van Engels” (aangehaal in Pieter Kapp, Maties en Afrikaans: ‘n Besondere Verhouding, 1911-2011, Pretoria: Protea Boekhuis, 2013, p 213).

Kom ons kyk na ‘n ander minderheidsgroep wat soos die Baske en Afrikaners onderdruk word. Die Koerde is ‘n nie-Arabiese etniese groep in die Midde-Ooste wat daarop roem dat hulle van die antieke Mede afstam. Hulle taal is Indo-Germaans, spesifiek Indo-Iraans. Polities en kultureel is hulle eeue lank deur die Arabiere en Turke oordonder, bv tydens die Ottomaanse Ryk (1300-1920), dermate dat hulle in groot mate Moslems geword het. Hulle gebruik ‘n aangepaste Arabiese alfabet wanneer hulle Koerdies skryf. In die 1940’s en 1950’s het meer as die helfte van die Koerdiese woordeskat uit Arabiese leenwoorde bestaan. Sedertdien het die Koerde sterk nasionalisties geword en word daar gepoog om hierdie etniese groep, wat verspreid oor veral vier lande (Turkye,Irak, Iran en Sirië) woon, in ‘n enkele onafhanklike staat saam te snoer.

Daar is met ‘n taalsuiweringsveldtog in Koerdistan (‘n selfregerende gebied in Noord-Irak) begin waarvolgens van (al) die Arabiese woorde ontslae geraak word. In die plek van Arabies word verouderde en selfs argaïese Koerdiese woorde gerestoureer. Andersyds word nuwe woorde geskep. As dit nie anders kan nie, word Engelse of woorde uit ander Europese tale oorgeneem. By die Koerde is dit ‘n obsessie om nie-Arabies en nie-Turks, dus eg Koerdies, te wees. (Jamal Jalal Abdulla, The Kurds: A Nation on the Way to Statehood, Bloomington: Author House, 2012, 352p; Amazon Kindle $3.49; veral Kindle 1523-1553.)

Ek wens dat die ATR die Koerdiese voorbeeld volg en hom daarvoor beywer om sover moontlik die indringing van Engels in Afrikaans teen te staan. ‘n Baskiese skrywer, Ramón Saizarbitoria, sê: “I want to defend my culture and my identity, and sometimes nationalism is the only possibility” (4581). “The promotion of the Basque language remains the first goal of most nationalists” (4593). Op die oomblik distansieer die verlooptes en ANC-gesindes in die ATR hulle van die Afrikaner en Afrikaner-nasionalisme. Die gevolg is dat Standaardafrikaans en die heil en oorlewing van respektabele Afrikaans ernstig daaronder ly.

Die vraag is of ‘n mens ‘n verloopte kan wees en jou terselfdertyd entoesiasties vir agbare Afrikaans kan beywer. Vir my lyk dit asof ‘n mens nie die twee here, die ANC en Afrikaans, gelyktydig kan dien nie. In die praktyk word Afrikaans deur verlooptes ondergeskik aan polities korrekte ANC-gedienstigheid gestel. Afrikaans en Afrikaner-nasionalisme, daarenteen, kan wel saam bevorder word. Dit gebeur eintlik outomaties of natuurlik. “To the Basques, culture has always been a political act, the primary demonstration of national identity. One of the keys to Basque survival is that political repression produces cultural revival” (2158). Die tyd is myns insiens ryp vir die Afrikaner-Renaissance; dus vir sowel kulturele as politieke herlewing.

Soos in die geval van godsdiens is dit miskien nie nodig om ‘n bepaalde politieke gesindheid, bv konserwatisme, as ‘n (absolute) vereiste vir Afrikanerskap te stel nie. Deur taal, Standaardafrikaans, die kulturele kern van die Afrikaner te maak, word (al) die verlooptes dalk outomaties uitgesluit. Myns insiens is taal vir Afrikaners ‘n meer konkrete reddingsboei as God. Tradisioneel is God deur Afrikaners innerlik of emosioneel ervaar. Taal, daarenteen, is nie net deurleefde ervaring nie, maar vind ook konkreet neerslag (soos in hierdie skrywe). Woorde en idees kan soos koeëls wees wat trek en tref. Hoe suiwerder en eenvoudiger, hoe beter. Die stand van Standaardafrikaans is/word ‘n barometer vir Afrikaners se voor- of agteruitgang. As daar deesdae in hierdie opsig realisties gemeet word, is die resultate egter bedroewend en onthutsend. Vandaar die noodsaaklikheid van die Afrikaner-Renaissance, wat potensieel ‘n beter kans op sukses as Thabo Mbeki se Afrika-Renaissance het.

Sabino Arana het die Baskiese Nasionalistiese Party in 1895 gestig, die amptelike Baskiese volkslied geskryf en die Baskiese vlag (ikurriña) ontwerp. Die volkslied, vlag en Euskera geniet deesdae amptelike erkenning. Arana het die belangrikheid van simbolisme in die politiek begryp. In 1918 is die Baskiese Taalakademie gestig om Euskera te bevorder. In die 1960’s is geskrewe Euskera gestandaardiseer en Batua genoem. In Spanje is daar radio- en televisie-uitsendings in Euskera wat ook in Frankryk opgevang kan word. Daar is ook die internet, wat Baskiese strewes op die wêreldtoneel plaas.

Drie van die vier Spaanse Baskiese provinsies het hulle tydens die Spaanse Burgeroorlog (1936-1939) teen Francisco Franco (1892-1975) se Nasionaliste aan die kant van die Republikeine geskaar omdat groter outonomie aan hulle belowe is. “The only possible solution to the Basque problem, according to Franco, was the complete annihilation of Basque nationalists” (2666). Die dorp Gernika is die simboliese of kulturele sentrum van die Baske. Die administratiewe kantore is in Bilbao, maar die Baske se seremoniële hoofgebou is in Gernika.

Gernika is in 1937 deur Duitse en Italiaanse vliegtuie met bomme en masjiengeweervuur verwoes. “The object of the bombardment was seemingly the demoralisation of the civil population and the destruction of the Basque race” (Patterson, p 31). Gernika het wêreldwyd ‘n simbool van die Baske se bevrydingstryd geword, onder meer danksy die Spanjaard Pablo Picasso (1881-1973) se beroemde skildery, Guernica, waaraan hy vyf dae na die aanval begin skilder het. Die gebou wat die Baske se kultuursentrum huisves en die eikeboom wat voor dit staan, het ongeskonde uit die verwoesting gekom. Onder daardie boom word die Baskiese leiers ingesweer en moet hulle die eed van getrouheid aflê. Dié eikeboom simboliseer die wesenlike aard van die Baske en verskyn op talle embleme. So ‘n eenvoudige simbool kan groot politieke trefkrag hê. Een van die gewildste Baskiese nasionalistiese liedere is “Die boom van Gernika” (1853). In sy skaduwee ervaar die Baske vryheid.

Na die burgeroorlog was een van Franco se strategieë om nie-Baske op groot skaal in Baskeland te vestig. Vreemdelinge/immigrante (eintlik alle nie-Baske) word maketo (buitestanders) of belarri motx (ore) in Euskera genoem (2314, 2321). Dié maketo het van Euskera-sprekers ‘n minderheid in Baskeland gemaak. “This was only the most obvious example of how the Basque culture was being diluted” (2324). Ook: “Franco outlawed the Euskera language” (3101). Die Baske “lost all rights of self-rule” (3106). Na Franco se dood het die Baske se kulturele en politieke vooruitsigte aansienlik verbeter.

Ten slotte kom ek by wat myns insiens die beste en mooiste les is wat Afrikaners by die Baske kan leer. Dit het met taal te make. Reeds in 1843 het Victor Hugo (1802-1885) gesê: “The Basque language is a country, almost a religion” (4266). “It was written over and over in the records of those who observed the Basques that they spoke a strange language that kept them apart from others. But it is also what kept them together as a people, uniting them to withstand Europe’s great invasions” (357).

In Euskera “there is no word for Basque. The only word to identify a member of their group is Euskaldun – Euskera speaker. Their land is called Euskal Herria – the land of Euskera speakers. It is language that defines a Basque” (252). Arana het Baskeland ‘n naam gegee, “inventing the word Euzkadi from Euskal, meaning ‘Euskera speaking,’ and the suffix di, meaning ‘together.’ Before this, Euskera had only the phrase Euskal Herria ‘the land of Euskera speakers.’ Euskal Herria was the name of a place, but Euzkadi was intended to be the name of a country. Arana invented other important words in Euskera: aberri, meaning ‘fatherland’ … abertzale, meaning ‘patriot’; and azkatasuna, meaning ‘liberty'” (2244). ‘n Nie-Bask wat Euskera suksesvol aanleer, is ‘n Euskaldunberri (3796). As hy ook die Baskiese kultuur aanneem, word hy as ‘n Bask aanvaar. “Euskera is the quintessence of Euzkadi” (3225).

Ek herhaal: “It is language that defines a Basque.” Hulle taal, Euskera, definieer die Baske. Euskera bepaal ook die naam van hulle tuisland. Plaaslik toegepas kan ‘n mens sê dat Afrikaans die kern van die Afrikaner is. Dit moet gedoen kan word sonder om die naam van die kontinent hierby in te sleep. Dit is ‘n historiese en geografiese toevalligheid dat ons as Europeërs/Afrikaners in Afrika is. Afrika is kultureel vreemd en progressief vervreemdend vir Afrikaners. In daardie sin is ons nie Afrikane nie en sal dit nooit wees nie.

Voor 1990/1994 is Suid-Afrika nie as ‘n Afrika-land en nie as bv lid van die Afrika-Unie erken nie. Dit is implisiet aanvaar dat die heersende Suid-Afrikaanse (dus veral blanke) lewenswyse wesenlik Europees is. Op ‘n soortgelyke wyse is/word Egipte dikwels ook nie as ‘n Afrika-land beskou nie. Beskawingsgewys is veral die Egipte van weleer veel eerder deel van die Midde-Ooste. In die geval van sowel die ou Suid-Afrika as Egipte is hulle Afrika-verwantskap dus eintlik ‘n historiese en geografiese toevalligheid. Dit behoort ook die gesindheid jeens die toekomstige Afrikaner-tuisland te wees.

Waarop dit dui, is dat ons die Baske (en in die besonder Arana) se voorbeeld moet navolg deur ‘n nuwe naam vir ons taal en (daaruit afgelei) ‘n naam vir ons groep/etnisiteit en vir ons toekomstige tuisland te skep wat geen assosiasie met Afrika as kontinent of sy oorspronlike inwoners, Afrikane, oproep nie. Ons leef in ‘n tyd van naamveranderings, maar dit is onwaarskynlik dat die Afrika-kontinent se naam sal verander. Wat binne ons vermoë lê, is om self die name te verander van dié dinge wat vir ons kultureel van deurslaggewende belang is.

Kortom, ek soek ‘n nuwe naam vir elk van hierdie drie: Afrikaans, Afrikaner en die Afrikaner-tuisland, met laasgenoemde twee woorde wat van die eerste een afgelei is. Sodra ‘n mens ‘n geskikte stam/lemma het, sal die res maklik volg. Voorstelle word ingewag.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.