Die nuwe ‘regses’ in Europa

Om ons identiteit te verdedig, lui die banier
Om ons identiteit te verdedig, lui die banier

deur Leon Lemmer

Deesdae is dit in die mode om ANC-gesind of swartkruipend of dan ten minste handevat-geöriënteerd te wees. Om regsgesind in die politiek te wees, is taboe, want die ANC en sy meelopers hou nie daarvan nie. Dit is mos die ANC wat ons met die hulp van FW de Klerk se versiende staatsmanskap van ‘n burgeroorlog gered het. Sedertdien word alles mos reggemaak/getransformeer wat weens apartheid verbrou is. Daarom behoort almal glo die ANC goedgesind te wees of hulle ten minste ‘n kans te gee om die land uit die apartheidsmoeras te bestuur.

Almal wat regs is, word as verregs geëtiketteer, asof daar aan daardie kant van die spektrum geen nuanses moontlik is nie. In werklikheid is daar enersyds regses wat kompromieë aangaan en die ANC met die heuningkwas benader en andersyds regses wat ‘n euwel of kanker herken wanneer hulle dit sien en kompromisloos op koers en in die kol, dus eintlik nóg links nóg regs, bly.

Onlangs is op Praag (16 deser) berig dat die Vryheidsfront Plus samewerking, eintlik enige assosiasie, met Europese regse partye verwerp. Geert Wilders se Partij voor de Vrijheid (PVV) en Marine de Pen se Front Nationale (FN) word spesifiek genoem. In November het hierdie twee partyleiers ontmoet en Leopold Scholtz het ‘n berig daaroor geskryf wat in Die Burger (16 Nov, p 11) gepubliseer is.

Scholtz noem dat die PVV 21% steun in Nederland en die FN 24% steun in Frankryk geniet. “Dit maak albei in hulle onderskeie lande tans virtueel [hy bedoel: in werklikheid] die grootste party. Le Pen se besoek aan Wilders het te make met die Europese parlementsverkiesing van Mei. Die Europese parlementêre reëls bepaal dat partye wat saam minstens 27 setels met verteenwoordigers uit minstens sewe lande het, saam één koukus kan vorm. Dit beteken meer spreektyd en veral subsidie uit die parlement se begroting. Dus het Le Pen en Wilders afgespreek om met die oog op die verkiesing saam te werk. Hulle soek ook die steun van ander ekstreem- of uiters regse partye soos Vlaams Belang in Vlaandere, die Oostenrykse Vryheidsparty (ÖVP), die Deense Volksparty (DFP), die United Kingdom Independence Party (Ukip), ens.”

Let op Scholtz se frase: “ekstreem- of uiters regse partye.” Daarna erken hy egter variasies by hierdie sogenaamde verregses: “Die probleem van die Europese regses is dat hulle oor talle sake verskil.” Byvoorbeeld, Wilders is pro-Israel en anti-Nazi en -Islam. Le Pen se party, daarenteen, het ‘n anti-semitiese en pro-fascistiese oorsprong, terwyl Le Pen sê “sy het niks teen die Islam of Moslems nie.” Later water Scholtz die verregse-etiket verder af: “Die demokrasie het egter die manier om ekstremiste te slyp. En, in ‘n poging om die gros kiesers te bereik, het die meeste regse groepe die laaste tyd juis na die politieke midde beweeg. Vroeër of later word hulle ook deel van die establishment.”

Wat Scholtz eintlik uitwys, maar nie uitdruklik sê nie, is dat demokrasie (veral in sy uiterste vorm van een asem, een stem, soos in Suid-Afrika) ‘n onding is; dat politieke partye in so ‘n opset hulle beginsels en waardes moet prysgee en al hoe meer identiteitsloos word, dermate dat politici se persoonlikheid (bv hoe hulle op televisie vertoon) en nie beleid nie deurslaggewend die getal stemme bepaal wat hulle op hulle verenig. Vir politici gaan dit eerder om den brode en nie om die behoud van gesonde beginsels of die beste belang van die land nie. Die DA as die ANC lite versamel al hoe meer Afrika-gewig. Dit is verkieslik om eerder ‘n eerbare gideonsbende of selfs ‘n een-mens-beweging te wees wat rigtingvas marsjeer. Die regse partye in Europa het wesenlike besware teen identiteitsloosheid. Daarom is hulle teen die Europese Unie (EU) en teen die euro-geldeenheid gekant. Hulle wil die EU van binne af afbreek, sodat bv Nederland weer Nederland en Frankryk weer Frankryk kan word.

Scholtz se skrywe het my belangstelling in so ‘n mate geprikkel dat ek sedertdien ‘n halfdosyn boeke oor die Europese “regse” politiek gelees het. In hierdie skrywe beperk ek die aandag tot ‘n enkele boek, wat na bewering die eerste boek is wat in Engels oor hierdie onderwerp gepubliseer is. Dit is die Kroaat Tomislav Sunic se Against Democracy and Equality: The European New Right (London: Arktos Media, 3rd edition, 2011, 236p; Amazon Kindle $10.99). Die vorige uitgawes is in 1990 en 2004 gepubliseer. Die teks is op die outeur se doktorale proefskrif (University of California, Santa Barbara, 1988) gebaseer.

Aan die term “regs” kleef daar veral sedert die Tweede Wêreldoorlog ‘n geurtjie. Jean-Christian Petitfils stel dit soos volg: “Inasmuch as the label ‘Left’ seems flattering, the label ‘Right’ sounds like an insult” (Sunic, Kindle 768). Alain de Benoist versag die bedenkinge oor “regs” soos volg: Die European New Right (ENR) “are on the Right, but they are not necessarily of the Right” (876). Talle denkers met uiteenlopende idees word onder die sambreelnaam ENR betrek. Dalk sou die term “neo-konserwatisme” ‘n beter algemene aanduiding van hulle opvattings gee.

Enersyds word die benaming ENR gebruik om hierdie Europese denke van dié in veral die VSA te onderskei. Amerikaanse regsheid word deur religieuse fundamentalisme, kapitalisme en soms naakte anti-swart rassisme (swart = sleg) gekenmerk. Andersyds word die woord “New” ingevoeg om assosiasie met fascisme en veral naziïsme te vermy. Die ENR het hom die beste in Frankryk gevestig. In Duitsland vat dit stadiger pos, juis vanweë daardie land se nazi-verlede. In Duits word die ENR eerder “Neue Kultur” genoem (4866, 4876). Dit is uiters moeilik om die verskillende sienings binne die ENR sowel veralgemenend as sinvol te verwoord. Ek poog om dit na die beste van my vermoë te doen.

Die verdeeldheid in ENR-geledere kom spoedig na vore. Alain de Benoist, wat die voorwoord geskryf het, is ten gunste van albei die verskynsels (demokrasie en gelykheid) wat in Sunic se boektitel vir verwerping uitgesonder word. Sunic het dit na aanleiding van die standpunt van Vilfredo Pareto (1848-1923) gedoen. In die vorm wat hulle in die nuwe Suid-Afrika aanneem, het ek dit ook teen demokrasie en gelykheid. Demokrasie, wat in baie vorme kan voorkom, is vir De Benoist aanvaarbaar as dit wesenlik deelnemend is. Despotisme, diktatuur en enige totalitêre gesag word verwerp; ook sterk gesentraliseerde regering. Staatsgesag moet soveel en sover moontlik afgewentel word. Voorkeur word herhaaldelik vir “subsidiarity” uitgespreek, dus “devolution of decision-making within the European Union from the centre to the lowest level possible” (Collins World Encyclopedia, 2003, p 884). De Benoist het dit wél teen hoe demokrasie hom dikwels in die praktyk voordoen: “One no longer discusses, one denounces. One no longer reasons, one accuses. One no longer proves, one imposes” (5662).

In die politiek gaan dit vir die ENR enersyds om die erkenning van diversiteit en andersyds om die grootste moontlike mate van groepsoutonomie. Sowel individue as groepe het ‘n bepaalde aard of identiteit, bv kultureel, wat uitdrukking in bv ‘n eie taal vind. Volgens HAT is kultuur: “Die ganse geestelike besitting van ‘n volk of ander groep(ering) op elke terrein; geesteslewe, beskawingstoestand.” Die wêreld is nie ‘n politieke of kulturele eenheid nie, maar ‘n pluriversum: “In a multipolar world, power is defined as the ability to resist the influence of others rather than to impose one’s own. The main enemy of this pluriverse will be any civilisation pretending to be universal and regarding itself entrusted with a redeeming mission … to impose its model on all others” (5314). Die ENR se weersin in veramerikanisering herinner aan die uitgesproke standpunt van die eertydse Franse staatshoof, Charles de Gaulle (1890-1970).

Kontak tussen kultuurgroepe moet nie gedwonge wees nie maar op vrye assosiasie berus. Immigrasie moet ter behoud van groepsidentiteit beperk word. Groepskultuur behoort beskerm te word, maar dit moet volgens die ENR liefs nie tot nasionalisme oordryf word nie. Dit word gesê na aanleiding van die rampe wat oordrewe nasionalisme eeue lank in Europa veroorsaak het. Rassisme word veroordeel, maar daar moet die basiese eerlikheid wees om verskille by mense te erken. ‘n Mens kan nie ‘n wêreldburger wees nie, want die wêreld in sy geheel is nie ‘n politieke entiteit nie. De Benoist skryf: “The abstract man, the universal man, that type of man does not exist” (3305).

De Benoist het dit ook nie teen gelykheid as sodanig nie; wel teen gelykmaking. Hy verwys in hierdie verband na die werk van sendelinge wat oral in die wêreld dieselfde imperialistiese model aan mense opdring om hulle in ten minste religieuse opsig eenders te probeer maak. Hierdie eendersheid word dan tot die bekeerlinge se vernaamste kenmerk verhef. In die politiek vind iets soortgelyk weens veramerikanisering plaas. Die Amerikaanse staatsbestel en leefwyse word deur Amerikaners as die beste aan die res van die wêreld voorgehou. Kultureel word hierdie gelykmaking deur bv rolprente (Hollywood) en televisieprogramme bevorder.

In die plek van religie word sekularisasie/verwêreldliking dikwels deur die ENR bepleit. Een van die besware teen sowel monoteïsme as kommunisme is die totalitêre aard daarvan. Diversiteitsonthalwe word in die plek van monoteïsme eerder politeïsme verkies. “Secular salvation” is aan die orde van die dag (3641). Daar is selfs diegene wat meen dat na sommige heidense praktyke van eeue gelede teruggekeer moet word.

In werklikheid het sowel kommunisme as kapitalisme in hulle strewe na gelykmaking gefaal; veral op ekonomiese gebied, wat aanleiding tot grootskaalse staatswelsynsprojekte gegee het. Dit behoort veel eerder om sinvolle sosiale geregtigheid, gebaseer op heldere denke, te gaan. Gelykheid, insluitende gelyke geleenthede, sal ‘n hersenskim bly so lank mense talentgewys by geboorte, dus geneties, verskillend toebedeel word. Byvoorbeeld, kinders in dieselfde gesin verskil in intellektuele vermoë. Hoeveel te meer nie kinders uit verskillende gesinne en (etniese) groepe nie. Verworwe (eerder as geërfde, bv aristokratiese) status, danksy bv inspanning of toewyding, wat neerslag in elitisme kan vind, behoort nie as verwerplik geag te word nie.

Vir die ENR gaan dit om konserwatiewe beskouings wat Westerlinge reeds vyf duisend jaar lank beïnvloed. Sommige van hierdie retro-sienings sal uiteraard vir hedendaagse gebruik aangepas moet word. In die ENR-visier is veral die liberale demokrate wat bv oorverdraagsaamheid/inklusiwiteit en gelykheid (wat tot eendersheid oordryf word), asook vryheid en menseregte (sonder klem op verantwoordelikhede), predik. As gelykheid tot eendersheid oordryf word, is dit om ‘t ewe of ‘n mens met ‘n man of ‘n vrou trou. Mans en vroue in dieselfde kultuur kan gelyk geag word, maar dit wis nie hulle verskille uit nie. Sunic het dit teen inklusiwiteit as “mobocracy”, dus verswelging deur die massa, wat die ryke Europese kultuurerfenis deur gelykmakende middelmatigheid ongedaan probeer maak. Regering deur die massa, soos wat ons in die nuwe Suid-Afrika het, is ‘n vorm van totalitêre regering. Jean-Jacques Rousseau (1712-1778) het dit “totalitarian democracy” genoem (4024). Die chaos wat dit veroorsaak, lei uiteindelik tot “Caesarisme” (1929), ‘n ander vorm van totalitêre regering.

Die ENR het dit ook teen die Amerikaanse liberalisme waarin dit gaan om materiële vooruitgang, die herverdeling van rykdom en ‘n immer langer wordende lys van menseregte, terwyl moraliteit, wat as die beheermeganisme van bandelose vryheid moet dien, verwaarloos word. In Frankryk sou sodanige gesindheid eerder progressief as liberaal genoem word. In Europa is ‘n liberalis ‘n ondersteuner van individualisme, vrye handel (wat nie deur alle lede van die ENR ondersteun word nie) en die minimum owerheidsinmenging. Europese liberalisme word dus met konserwatisme geassosieer en is die teenpool van Amerikaanse liberalisme, wat ‘n linkse humanistiese of mensliewendheidsgeurtjie het.

Menseregte en naasteliefde word soms dermate oordryf dat dit lyk asof ‘n soort “ander-” of medemensgestremdheid van almal verwag word; jou lewe word oorheers deur die onbillike aansprake, sonder teenprestasie, wat deur onverdienstelikes geëis word. Ons word teen wil en dank verplig om toenemend broerwagters te wees. Claude Polin “notes that modern man’s ideal of ‘tenderness for humanity is also his ability to destroy humanity'” (4240). “According to [Louis] Rougier, man can fully enjoy his rights, and define his liberty, only when he lives in communion with a people sharing the same destiny and the same culture” (3347).

Die ENR dateer uit 1968 toe die “Research Group for the Study of European Civilisation” (GRECE) gestig is. Dié akroniem verwys na antieke Griekeland, die wieg van Europese beskawing. GRECE is bloot ‘n meta-politieke denkskool en nie ‘n politieke beweging nie. Die kern van politiek word deur kultuur bepaal. In daardie sin is die ENR veel eerder ‘n kulturele as ‘n politieke denkskool: “Culture is the most effective carrier of political ideas because culture mobilises the popular consciousness not only by virtue of ephemeral slogans, but also by a genuine appeal to the historical memory of the people” (1346). “Cultural power is a prerequisite of political power … Culture is not just an ornament or a ‘superstructure’ to be delivered piecemeal to the people; it is a vital and indispensable part of human development capable of inducing social consensus and providing a ruling elite with lasting* political legitimacy” (1353). *Hierdie “lasting” klink ooroptimisties en kan betwyfel word.

Die doel van die ENR is nie om linkse en regse menings te identifiseer nie; eerder om valse en juiste idees met die oog latere aksie te onderskei. Teen kommunisme, kapitalisme en liberale demokrasie, veral in die Amerikanse sin, word ewe sterk standpunt ingeneem. Die ENR-denkmodel is nie algemeen Westers nie, maar spesifiek Europees. Wes- en Oos-Europa, wat Rusland insluit, word as ‘n eenheid beskou. Die Europese Unie (EU) is egter ‘n foutiewe model wat mag imperialisties sentraliseer. Die EU word as deel van gelykmakende globalisering beskou. Wat nodig is, is ‘n federale model waarin elke land en kultuurgroep (idealisties: iedere tuisland en nasie) sy identiteit bevestig en uitbou.

Europeërs moet kies: “to be the architects of their own history or to become the subjects of the history of others” (401). Alain Besançon skryf: “A man without memory [or history] is of absolute plasticity. He is recreated at all moments. He cannot look behind himself, nor can he feel a continuity within himself, nor can he preserve his own identity” (4264). Dink in hierdie verband aan bv die oud-Broeders wat verloopte Afrikaners geword het.

Aan die einde van sy voorwoord formuleer Alain de Benoist sy standpunt soos volg: “The ENR makes a great effort to identify its real enemy. The main enemy is, on the economic level, capitalism and the market society [ongebreidelde materialisme]; on the philosophical level, individualism;* on the political front, universalism; on the social front, the bourgeoisie;* on the geopolitical front America. Why capitalism? Because contrary to what Communism preached, capitalism is not only an economic system. It is first and foremost an anthropological system, based on values that colonise the symbolic imagination and radically transform it. It is a system that reduces everything of value to its values in the market, and to exchange value” (434). “It means transforming the planet into a giant supermarket and a gaint civilisation of commerce” (444).

Volgens Guillaume Faye “money … has become the ultimate criterion; indeed, the language of Western civilisation” (3624). Mense word tot “happy robots” gereduseer (1119). Die argument teen materialisme word soos volg pragtig verwoord: “To be more instead of to have more” (5643). Dus, geestelik-kulturele diepte is belangriker as materiële besittings, oftewel: Wat help dit as jy alles in die wêreld besit terwyl jou gees skade ly.

* Die wysheid om met sowel individualisme as die burgery/middelklas onvergenoegd te wees, kan bevraagteken word. In albei gevalle is die beswaar dalk dat hulle rol soms oordryf word. De Benoist se onvergenoegdheid met individualisme kan veral aan die buitensporige rykdom van sommige kapitaliste toegeskryf word. Vir my bly die hoeksteen van die ideale politieke bestel die grootste moontlike mate van individuele vryheid in soverre dit met sosiale verantwoordelikheid versoenbaar is.

Wat ek hierbo gedoen het, is om De Benoist se voorwoord en sy “Manifesto for a European Renaissance” (1999), wat ‘n bylae tot Sunic se boek is, te gebruik om struktuur aan my skrywe te gee. Die teks is terselfdertyd verryk met Sunic se opvattings; dié waarna De Benoist verwys, asook ander tersaaklike inligting in Sunic se boek. My uiteensetting is seker ook beïnvloed deur ander bronne wat ek oor hierdie onderwerp gelees het.

Daar is nog baie in Sunic se teks wat in die nuwe Suid-Afrika ter sake is. Byvoorbeeld, Pareto word soos volg aangehaal: “These true believers who clamour for change know only what to destroy and how to destroy it, but are full of illusions as to what they have to replace it with” (2133). “For Pareto, the only language people understand is that of force. And with his usual cynicism he adds, ‘there are some people who imagine that they can disarm the enemy by complacent flattery. They are wrong. The world has always belonged to the stronger, and will belong to them for many years to come. Men only respect those who make themselves respected. Whoever becomes a lamb [bv FW de Klerk] will find a wolf [bv Nelson Mandela] to eat him'” (2146).

“The downtrodden and the weak will always appeal to the sense of justice of those who rule, but the moment they grab the reins of power they will become as oppressive as their former rulers. Moreover, if by chance some nation happens to display signs of excessive humanity, philanthropy, or equality, it is a certain symptom of its terminal illness” (2160). “Deluded by dreams of justice, equality, and freedom, what weapons do liberal democracies have today at their disposal against the ‘downtrodden’ masses worldwide? The New Right observes that the sense of guilt among Europeans in regard to Africans, Asians, and other downtrodden populations has paralysed European decision-makers, leaving them and Europe defenceless against tomorrow’s conquerors” (2167).

In ‘n nuwe politieke bedeling kan misdadigers helde word. Terroriste word dan vryheidsvegters genoem. “Vryheidsvegters” is ‘n term “usually assigned to them by Western well-wishers” (4563). Volgens Sunic is dit nie ‘n term wat in die kommuniste se woordeskat aangetref word nie. Dit is die soort ondergrawing van wet en orde wat deur linkse Westerse elemente gepleeg word.

Die Vryheidsfront Plus wil niks met die ENR te make hê nie. In die ENR is daar egter voortreflike denkers met uiters toepaslike idees wat ons in uitnemende mate kan help om nuwe strategieë vir ons bevryding uit ‘n politieke doodloopstraat te ontwikkel. Die idees van die ENR verg egter plaaslike aanpassing, want die omstandighede in Europa en Suid-Afrika verskil soms hemelsbreed. In Europa is daar bv (nog) nie sprake van ‘n alles oorweldigende verswelging deur swartes nie.

‘n Les wat die ENR my geleer het, is om nie meer Westerse beskawing as ‘n ideaal vir myself en Suid-Afrika voor te hou nie. Die assosiasie met Amerika is dan te sterk. Tydens apartheid is die woord “blankes” met “Europeans” vertaal. Dit blyk nou korrek te wees. Pleks van op ‘n hernude golf van Westerse beskawing te hoop, sal ek voortaan liewer vir die plaaslike hervestiging van Europese beskawing pleit; iets wat in 1652 met Jan van Riebeeck begin het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.