Joodse ANC-lid Turok pleit vir opstand teen Zuma

Die Joodse anti-apartheidsaktivis en ANC-lid, Ben Turok, sê ‘n landwye optrede deur ANC-lede wat openlik vra vir ‘n nuwe leier is nou nodig.

‘n Mislukte poging om president Jacob Zuma te kry om te bedank, is Maandag opnuut van stapel gestuur deur ‘n faksie in Gauteng by name “Occupy Luthuli House”. George Soros is klaarblyklik betrokke by die befondsing daarvan.

Maar die groepie lawaaimakers is uitgehou deur MK-veterane in kakie-klere wat gewapen was met stokke. Die optoggangers kon nie naby Luthulihuis kom nie.

Hulle moes hulle memorandum van griewe aan ‘n verteenwoordiger by Beyers Naudé-plein oorhandig.

Die party se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, het Maandag die memorandum ontvang van die “Beset Luthulihuis” groepie wat eis dat Zuma en die hele Nasionale Uitvoerende Komitee bedank.

Turok het sy diep ontevredenheid uitgespreek oor die rol van die MK-veteranevereniging in die situasie gespeel het om die optog te fnuik.

Die veterane asook ander ANC-lede het Maandag opgeruk om Luthulihuis te verdedig teen die aanslag op Zuma wat volgens Turok “partydige” optrede was om die president te beskerm.

Turok het die veterane daarvan beskuldig dat hulle bevooroordeeld is teenoor diegene wat die ANC kritiseer. Hy sê hy steun die groepie se griewe maar hulle moet nie “wetteloos” optree nie.

‘n Optog-organiseerder vir die faksie, Bonolo Ramokhele, het gesê busse van Limpopo en Mpumalanga moes omdraai weens dreigemente van geweld.

Hy het gesê die organiseerders het oor die naweek verslae ontvang dat daar dreigemente van ernstige geweld is en net daar en dan besluit dat dit onveilig vir lede sal wees.

“Jy kan nie jou soldate uitstuur om te veg wetend dat hulle maklike teikens gaan wees nie.”

ANC slaan Gordhan- en bankvure dood

Die ANC-vroueliga het die “skielike belangstelling” uit verskeie oorde bevraagteken om die minister van Finansies, Pravin Gordhan te beskerm.

“As jy ‘n lid van die ANC is en tot verantwoording geroep word, moet jy net gaan en rekenskap gee, soos die kwessie van die minister van Finansies. Ons is baie bekommerd oor die skielike belangstelling van almal, jou NRO’s en die burgerlike samelewing om die minister van Finansies te beskerm,” het die vroueliga se sekretaris-generaal Meokgo Matuba Sondag gesê.

Die Vroueliga het hul steun aan president Jacob Zuma herbevestig, gevra dat ‘n vrouepresident hom opvolg en dat dissipline binne die party gehandhaaf word.

Matuba het gepraat ná die Vroueliga sy nasionale uitvoerende komitee (NUK) se vergadering hierdie naweek gehou het.

Sy het gesê Gordhan “moet rekenskap gee” aan die relevante strukture.

Matuba het Gordhan gevra om gehoor te gee aan die Valke se versoek om voor hulle te verskyn en vrae oor ‘n beweerde spioenasie-eenheid binne die Suid-Afrikaanse Inkomstediens te beantwoord.

Die volgende president van die ANC moet ‘n vrou wees, het die Vroueliga ook Sondag verklaar.

Die voorsitter van die Afrika-Unie se Kommissie, Nkosazana Dlamini-Zuma, word glo tans voorberei om oor te neem van haar voormalige man Jacob Zuma.

Hulle het voorgestel dat die top ses van die ANC 50/50 verteenwoordig word deur beide mans en vroue: “Vroue moet die 50/50 verteenwoordigingsbeleid van die ANC afdwing in al ons strukture.”

Die Vroueliga het ook hul kommer uitgespreek oor politieke moorde.

In die Oos-Kaap ondersoek die polisie tans ‘n saak van brandstigting nadat die huis van die ANC-burgemeester van die Enoch Mgitjima-munisipaliteit in Tarkastad aan die brand gesteek is.

Die burgmeester, Lindiwe Gunuza-Nkwentsha, haar man en vier kinders was tydens die voorval in die huis.

Intussen het die organiseerders van die veldtog “Beset Luthuli-huis” gesê senior leiers van die ANC het die jeug in die steek gelaat.

Hulle sê in ‘n verklaring die groep wil red wat nog van die bevrydingsorganisasie oorgebly het.

Senior ANC-lui stel net belang in wie watter posisies binne die party moet beklee, sê hulle. Die groep beplan om vandag ‘n optog te hou na die ANC se hoofkwartier, Luthuli-huis.

Hulle sê hulle voer ‘n stryd teen teen gebrekkige intellek en morele waardes.

Die voormalige studenteleier van Wits, Mcebo Dlamini, ‘n ANC-lid van Johannesburg, Sasa Mananye en ‘n voormalige lid van die uitvoerende komitee van die ANC-Jeugliga, Ntibi Modise, is deel van die organiseerders.

Die organiseerders van die optog het ook die hotelbestuur in Pretoria om verskoning gevra waar hulle nuuskonfrensie Vrydag deur streekleiers van die ANC-Jeugliga ontwrig is.

Die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe het ook ‘n beroep op ANC-lede gedoen om hulle te weerhou van kommentaar in die media oor die opskudding rondom die minister van Minerale Hulpbronne, Mosebenzi Zwane.

Die presidensie en die ANC het hul gedistansieer van Zwane se verklaring dat ‘n interministeriële komitee aanbeveel het dat ‘n regterlike ondersoek na banke gedoen moet word oor hul besluit om bande met die Gupta-maatskappy, Oakbay Investments, te verbreek.

Mantashe sê dié soort verklarings benadeel die party. Hy het in Bloemfontein gepraat ná ‘n vergadering met ANC takke in die Vrystaat. Mantashe het beklemtoon dat dit nie ‘n verklaring van die kabinet was nie.

DA-optog verby na geweld uitbreek

Foto van Twitter
KFC op die spyskaart. Foto van Twitter

Die DA het die witvlag gehys nadat geweld uitgebreek het in Rissikstraat in die middestad van Johannesburg.

DA-ondersteuners moes inderhaas teruggelei word na die Westgate-vertrekpunt.

Oproermakers wat by die optog wou aansluit is in Rissikstraat met skokgranate afgekeer.

Die polisie het ook met rubberkoeëls op ANC-ondersteuners gevuur by Luthulihuis.

Duisende DA-lede is Woensdagoggend ingebus vir die opmars teen die ANC.

Jesse Duarte, adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, het vroeër gesê die sowat 6 000 DA-lede is daarop uit om kwaad te stook en hulle “hoop vir drama.”

“Ons sal die ANC-ondersteuners so goed as wat ons kan in toom hou. Ons verwag uitlokking. Dis al wat ons nou kan doen,” het Duarte bygevoeg.

Duarte het gesê die DA moes die optog na die parlement of die Unigebou gelei het.

Sy het ook gesê Zille weet nie hoe om vreedsaam te betoog as sy deur veiligheidwagte vergesel moet word nie.

Die DA het sowat 500 private veiligheidsbeamptes vir die optog gehuur. Dit is nie bekend of die beamptes betrokke was in die geweld nie.

Daar is steeds ‘n groot polisie-teenwoordigheid rondom Luthulihuis en toegangsroetes daarheen.

“Ons maak vandag ‘n statement,” het Marcel Maritz, DA-raadslid van Mokopane in Limpopo aan Beeld gesê.

Helen Zille het gesê die DA moet wys “hoe gewelddadig die ANC geword het”. Sy het nie kommentaar gelewer oor die DA se uitlokking nie.

Adv. Antony Stein SC, vir die DA, het ontken dat die DA met uitlokking besig is. Hy het gesê die DA het “geen intensie om tot by Luthuli-huis te beweeg” nie.

Die DA is egter voor hulle opmars telkens ook deur hul wit ondersteuners gewaarsku dat dié optog tot geweld sal lei.

Zille het aan DA-lede gesê ANC het nie toestemming om te betoog nie, en die ANC-teenwoordigheid in die strate is onwettig.

Die polisie is Woensdag glo in die middestad van Johannesburg ook met petrolbomme bestook.

Die DA-ondersteuners het ‘n uur laat met hul optog begin. Helen Zille het intussen verklaar dat die optog verby is.

ANC- en EFF-lede is steeds in die middestad uitgekamp en KFC-wegneemhoender en gaskoeldrank word tans vir middagete bedien.

DA wou helms, skerms en skokstokke instuur

daclashDie ANC het aansoek gedoen om ‘n bevel wat die DA sou verhoed om na Luthulihuis op te ruk, nadat dit aan die lig gekom het dat die DA beplan het om ‘n veiligheidsonderneming gewapen met veiligheidshelms en -skerms sowel as skokstokke in te stuur.

In die lig van dié openlike provokasie het die ANC in reaksie ‘n menseketting om die hoofkantoor te vorm met ANC-lede wat hande vashou.

ʼn Dringende aansoek deur die ANC om Woensdag se DA-optog na Luthulihuis te keer, is egter deur die Suid Gautengse hooggeregshof in Johannesburg van die hand gewys nadat die DA afgesien van ‘n opmars na Luthulihuis.

Die DA het in die hof afgesien van hul uittartende en uitlokkende opmars nadat dit duidelik geraak het dat hulle optrede daarop gemik is om konfrontasie te soek.

“Ons is verheug oor die feit dat die DA in die hof ooreengekom het om nie naby die ANC-hoofkantoor te kom nie.”

“Dit is ‘n verkiesingsfoefie. Dit is bedoel om ons uit te lok, die kwessie te vertroebel en die aandag weg van die stand van die nasie te verskuif,” het die ANC se NUK-lid Malusi Gigaba gesê.

Die ANC het gesê hulle sal nie in dieselfde strik as Cosatu trap nie. Costau-lede was betrokke by skermutselinge met DA-lede.

“Ons kan snaakse woorde op hulle skree, maar daar sal nie ‘n fisiese konfrontasie tussen ons wees nie,” het Gigaba gesê.

‘n Blou see van DA-ondersteuners in hul T-hemde is by die vergaderpunt in Westgate saamgetrek, waar hulle “struggle”-liedjies dreunsing.

Die spanning in die middestad van Johannesburg is tasbaar. Praag het van bronne op die toneel verneem dat die ANC in groepe by sekere kruisings saamgetrek is.

Sauer-straat, waarin Luthulihuis is, is gepak met ANC-ondersteuners en stalletjies wat kleding en kos verkoop.

DA-optog nie na Luthulihuis nie

luthuliDie Demokratiese Alliansie sal Woensdag ‘n optog vir “regte” werk in Johannesburg hou.

Die party het aanvanklik gesê hulle sal ‘n optog na die ANC se hoofkantoor, Luthulihuis, in die middestad van Johannesburg, hou maar dié plan is in die wiele gery deur die metropolisie.

Die party sal na Beyers Naude Square, ‘n blok weg van Luthulihuis opruk.

Dit sal gelei word deur die DA-leier Helen Zille, DA parlementêre leier , Lindiwe Mazibuko , DA Gauteng premier kandidaat Mmusi Maimane, DA federale voorsitter Wilmot James en jeugleier Mbali Ntuli.

Die ANC het ‘n beroep op sy lede by Luthulihuis gedoen om die DA te “verwelkom” om sy memorandum te ontvang.

ANC belowe geen geweld by DA-protes

daprotestDie ANC het te kenne gegee dat hulle geen geweld verwag wanneer die DA ’n optog na die ANC se hoofkantoor in Johannesburg lei nie.

Die ANC het vroeër gesê die optog is aanhitsing wat geweld sal meebring. Die DA-leier, Helen Zille, het ontken dat dit aanhitsing is soos die ANC beweer.

Die party het Donderdag in Gauteng gesê ANC-lede sal “nie gewelddadig optree teenoor die opposisie nie”.

David Makhura, Gautengse ANC-sekretaris, aan verslaggewers in Johannesburg gesê: “Die ANC-lede in die provinsie weet hulle word nie toegelaat om fisiek met lede van die opposisie te baklei nie.

“Die stryd tussen ons en die DA handel oor wie die beste visie vir Suid-Afrika het, oor wie die beste beleidsrigtings het om Suid-Afrika vorentoe te neem. Ons sal daar wees om hulle te ontvang en hulle op te voed oor ons planne om die ekonomie te transformeer,” het Makhura gesê.

Die DA beplan om Woensdag na Luthulihuis in Johannesburg op te ruk as deel van die party se “stryd om werkskepping”.

ANC verwelkom DA-optog na Luthulihuis

luthuliDie ANC het die Johannesburgse landdroshof se besluit om toestemming aan die DA te gee om ‘n optog na sy hoofkwartier – Luthulihuis – te hou, verwelkom.

Die DA sou die optog vandag gehou het, maar het besluit om dit tot aanstaande week uit te stel.

Dit volg omrede die DA ‘n uitgerekte regstryd met die Johannesburgse metropolisie verwag het.

Die metropolisie het die DA vroeër toestemming geweier om die optog te hou, maar die landdroshof het dit ter syde gestel.

Die leier van die DA, Helen Zille beoog om sowat 6.000 betogers na die ANC hoofkwartier te lei om die regering se aandag te vestig op korrupsie en ‘n behoefte aan werkskepping.

Die ANC-woordvoerder, Jackson Mthembu sê die party respekteer die hofuitspraak en sal gereed wees vir die optog. – RSG