Die ANC het die Johannesburgse landdroshof se besluit om toestemming aan die DA te gee om ‘n optog na sy hoofkwartier – Luthulihuis – te hou, verwelkom.
Die DA sou die optog vandag gehou het, maar het besluit om dit tot aanstaande week uit te stel.
Dit volg omrede die DA ‘n uitgerekte regstryd met die Johannesburgse metropolisie verwag het.
Die metropolisie het die DA vroeër toestemming geweier om die optog te hou, maar die landdroshof het dit ter syde gestel.
Die leier van die DA, Helen Zille beoog om sowat 6.000 betogers na die ANC hoofkwartier te lei om die regering se aandag te vestig op korrupsie en ‘n behoefte aan werkskepping.
Die ANC-woordvoerder, Jackson Mthembu sê die party respekteer die hofuitspraak en sal gereed wees vir die optog. – RSG
