Ondersteuners van die VF+ wat gereeld selfbeskikking voorhou as die party se beleid wanneer vrae deur Front Nasionaal gevra word, het waarskynlik vanoggend in hulle koffie gestik toe hul leier se artikel in Rapport gelees is.
Dr Pieter Mulder draai geen doekies om nie – sy party het “herposisioneer”. In die proses val Mulder terug op die ou Nasionale Party-slagspreuk van “eenheid in diversiteit”, of soos die De Klerk-NP dit gedefinieer het : “Eenheid in verskeidenheid”. Mulder strewe na ‘n “nuwe staatkundige bestel waarin erkenning gegee word aan die diversiteit van Suid Afrika”. Hy reken “ons minderheidskonferensie het ‘n gesamentlike doel vir minderheidsgroepe daargestel”. Al wat kortkom van die ou Nasionale Party-retoriek is dat Mulder nog net die slagspreuk van “Eie Sake” ook moes ophaal.
Van selfbeskikking maak Mulder geen melding nie; inteendeel, hy omhels die eenheidstaat met gemak:
“So ‘n nuwe Suid Afrika moet gebou word rondom die konsep van ware eenheid in verskeidenheid; rondom ‘n ware ‘better life for all’; rondom ‘n ware gelyke kans vir almal”.
Dit is presies die standpunt wat FW de Klerk verkondig het gedurende Kodesa.
Hierdie standpunte van Mulder en die VF+ maak dit nou duidelik waarom die “koalisie” en “samewerking” met eenheidstaat-partye soos Cope en die PAC vir die party ‘n voortvloeisel is. Nes die NP destyds met die IVP en DP.
Dis ook duidelik waarom Mulder geen probleem het met ‘n adjunk-minsterskap in die ANC-regering nie – dit was ook De Klerk se standpunt in die Regering van Nasionale Eenheid onder Mandela.
Die Vryheidsfront het nou die bodem geskraap. Hulle politieke argumente het opgeraak. As ‘n party teruggryp na ou uitgediende Nasionale Party-argumente wat ‘n klaaglike mislukking was, is jy polities bankrot.
Baie mense vra waarom Front Nasionaal gestig is – dit is die rede. Die sogenaamde “tuiste vir Afrikaners” van die Vryheidsfront is net ‘n ou Nasionale Party-pypdroom. Nes die NP is die VF+ nou ook waarskynlik op pad na ‘n roemlose politieke dood.
Hannes Engelbrecht is leier van Front Nasionaal