Kroonstad, Rustenburg se krane leeg

Daar is geen water op Kroonstad sedert gister nie, nadat die Departement van Water en sanitasie (DWS) en Moqhaka Munisipaliteit begin het met die skoonmaak van reservoirs.

‘n Woordvoerder van die departement Sputnik Ratau, sê die afsluiting is om te verseker dat die kwaliteit van die water nie in die gedrang kom nie.

Hy sê die skoonmaak van die reservoirs is lank reeds beplan en hulle het konsulteer met die gemeenskap vooraf.

Hulle vul intussen tenkwaens met water uit boorgate op verskeie plase.

“Ons het ook ‘n paar gebeurlikheidmaatreëls in plek sodat mense kan voortgaan om water te hê.”

Ratau sê watervoorsiening sal terug wees teen Saterdagmiddag op die laatste.

Intussen het krane in Lethabong naby Rustenburg in die Noordwes opgedroog as gevolg van lae druk op die grootmaatpyplyn, het die Rustenburg munisipaliteit gesê.

“Daar is ‘n lae druk op die grootmaatwaterpyplyn wat begin het op 10 Mei. Dit is nie ‘n waterafsluiting nie.

Tenkwaens is na geaffekteerde gebiede gestuur, het die munisipaliteit se woordvoerder Thapelo Matebesi gesê.

Gefrustreerde inwoners het kruiwaens vol water uit brandkrane getap.

“Dit is al vier dae vandag [Donderdag] sonder water, maar ons betaal,” sê Aliminah Mbenge, wat twee 20 liter houers in ‘n kruiwa stoot. Lethabong gebruik voorafbetaalde watermeters.

“Dit is nie reg nie. Ons kry nie eens kennisgewings van enige wateronderbrekings nie.”

Verlede week Vrydag, het die munisipaliteit ‘n kennisgewing uitgereik dat daar watervoorsieningsonderbrekings sal wees nadat ‘n groot pyp gebars het.

Die 700mm-staalpyp is uiteindelik Maandag herstel.

Babelse verwarring oor Vrystaatse beurtwater

Vrystaters moet hulself gereed maak vir beurtwater wat enige tyd dié week ingestel kan word.

Die LUR vir Polisie, Paaie en Vervoer en die voorsitter van die provinsiale gesamentlike bedryfskomitee oor droogte, Butana Komphela, het gister aan OFM-nuus gesê beurtwater kan in die volgende vier dae oor die provinsie heen ‘n werklikheid word.

Dié departement se woordvoerder, Hillary Mophethe, kon nie vandag bevestig of beurtwater al vanaand vanaf 21:00 tot môre 06:00 sal geld nie.

Sy sê wel die regering sal môre ‘n mediaverklaring rakende die kwessie uitreik om verwarring uit die weg te ruim, nadat sekere mediaberigte vandag aangedui het dat Vrystaters reeds vannag droë krane gaan hê. Sy sê Komphela is tans in die buiteland.

Intussen sê die LUR vir Koöperatiewe Regering en Tradisionele Sake, Olly Mlamleli, slegs die Moqhaka-munisipaliteit wat Kroonstad, Steynsrus en Viljoenskroon insluit, pas reeds beurtwater toe.

Mlamleli sê sy stel tans vas wat die situasie in elke munisipaliteit in die provinsie is. Inwoners moet ingelig word alvorens beurtwater ingestel kan word.

Komphela het gister beklemtoon die provinsie ondervind ’n groot waterkrisis weens die knellende droogte. Intussen kan inwoners van Bloemfontein die volgende 36 uur gerus wees dat daar water in hul krane sal wees, terwyl Bloemwater vandag met onderhoudswerk aan ‘n hoofpyplyn begin het.

Dit kom ná ‘n kennisgewing van Bloemwater waarin aangedui word dat daar geen watertoevoer vanaf die Welbedachtdam na Bloemfontein se reservoir gaan wees nie weens die herstelwerk. Daar is egter genoeg watervoorraad beskikbaar vir huishoudelike gebruik.

Beurtwater ingestel

Die munisipaliteit Moqhaka – wat Kroonstad, Steynsrus en Viljoenskroon insluit – het die eerste munisipaliteit geword om beurtwater te implementeer.

Volgens ‘n verklaring deur die munisipaliteit sal water nie deurlopend aan inwoners beskikbaar wees nie en sal hulle daagliks slegs sekere tye water in hul krane te wagte kan wees.

Inwoners word ook nie toegelaat om tuinslange te gebruik om voertuie te was of hul grasperke nat te lei nie, en geen gebruik van besproeiingstelsels sal toegelaat word nie.

Swembadeienaars word ook nie toegelaat om hul swembaddens leeg te maak of te vul nie en die afspuit van harde oppervlaktes is verbode.

Die munisipaliteit het gesê inwoners wat nie gehoor gee aan die beperkings nie kan ‘n maksimum boete van R2 000 of gevangenisstraf ontvang.

Weervoorspellers sê inwoners van die noordelike provinsies kan uiteindelik reën verwag in die komende week.

Dit gaan egter nie genoeg wees om die land se leë damme vol te maak nie.

‘n Waterhulpbrondeskundige sê sowat 4 000 megaliter van onbehandelde of gedeeltelik behandelde riool vloei elke dag in ons damme en die land se riviere.

Dr Anthony Turton sê rioolwater is met mening terug in ons drinkwater omdat die huidige droogte die gehalte van die water in die stelsel aantas.

In ‘n ontleding in die Bulletin van die SA Instituut vir Rasseverhoudinge, sê Turton die gemiddelde waterverbruik in Suid-Afrika, is 235 liter per persoon per dag, sowat 26% hoër as die wêreldwye gemiddeld van 173 liter per dag.

Ongeveer 80% van munisipaliteite se rioolstelsels werk nie en daar is geen ingenieursvernuf teenwoordig om dit te herstel nie.

Gauteng se LUR vir gesondheid Qedani Mahlangu sê wateronderbrekings by die Helen Joseph en Rahima Moosa hospitale is opgelos en daar sal geen verdere ontwrigting wees vir operasies en behandeling nie.

Joburg Water moes inderhaas Woensdag watertenkwaens na die hospitale stuur.

Pasiënte wat dialise moes kry is huistoe gestuur, terwyl operasies gekanselleer of uitgestel is.

Joburg Water moes ook watertenkers na gebiede soos Brixton, Greenside, Coronationville en ander voorstede uitstuur weens waternood.

Verdagte in Vredefort-moorde aangekeer

‘n Vyftigjarige man en twee kinders is Sondagaand doodgeskiet op ‘n plaas by Vredefort in die Vrystaat.

Volgens polisiewoordvoerder Masilela Langa het plaasvoorman Hansie Raadt na bewering ‘n swartman, wat aan hom bekend is, en ses kinders by ‘n vulstasie op die dorp opgelaai en saam met hulle op die plaas Palmietkuil gaan eet.

Die man het blykbaar ‘n vuurwapen van Raadt in die hande gekry en die groep daarmee gedreig. Hy’t Raadt doodgeskiet asook die elf- en 15-jarige seun doodgeskiet toe hulle probeer vlug het.

Hy het met Raadt se bakkie gevlug wat hy daarna aan die brand gesteek het.

Die verdagte is in ‘n lokasie in Kroonstad aangekeer.

Skietery by winkelsentrum in Kroonstad eis een

‘n Sekuriteitswag is Dinsdagaand in ‘n hospitaal in Kroonstad in die Vrystaat dood ná ‘n skietvoorval by ‘n winkelsentrum.

Netcare 911-woordvoerder, Chris Botha, sê met paramedici se aankoms by ‘n kruidenierswinkel in die sentrum omstreeks 21:00 het die gewonde man op die grond gelê. Hy het skietwonde aan die kop gehad.

Botha sê die skietvoorval word deur die polisie ondersoek. Niemand anders is beseer nie. Dit is nog onbekend of die sekuriteitswag in ‘n rooftog geskiet is.

‘Alles wat ek gebou het gaan tot niet’

Onbehandelde riool stroom by Kroonstad in die Valsrivier in, alhoewel daar so onlangs as in 2008 R8 miljoen aan die rioolaanleg bestee is.

‘n Opposisieraadslid het tydens die Moqhaka-raadsvergadering die munisipaliteit gewaarsku oor die skokkende verval van die waterinfrastruktuur.

Die raadslid, ‘n voormalige stadsingenieur, het gesê die Kroonstad-rioolsuiweringsaanleg het heeltemal tot stilstand gekom.

Thys Vermeulen het aan die Volksblad gesê: “Die water staan stil. Dit stroom net so onbehandel die rivier in.”

Ongesuiwerde rioolwater het ook die netwerk van ondergrondse waterpype besmet wat gebruik kan word om parke, skole en sportterreine nat te lei.

Hy het ook gesê die rekenpligtige amptenaar van die munisipaliteit moet vir die storting van riool in die rivier vervolg word.

“Dit is nie vir my lekker as ek sien hoe alles wat ek gebou het, tot niet gaan nie.”

Petrolbom-aanval op Kroonstad se burgemeester

petrol_bombDie uitvoerende burgemeester van die Moqhaka-munisipaliteit in Kroonstad in die Vrystaat, is met ‘n petrolbom gegooi.

Moqhaka sluit Kroonstad, Viljoenskroon en Steynsrus in. Voortslepenede stakings en onrus teister die munisipalteit.

Die burgemeester Jihad Mohapi, het vroeër gewaarsku dat die DA die media inspan om onmin te saai en onrus te stook.

Die polisie het die aanval op Mohapi se huis bevestig. ‘n Polisiewoordvoerder, Malesela Langa sê hulle soek die verdagtes.

Sowat 900 munisipale werkers het onlangs in die munisipaliteit begin staak. Inwoners het vroeër ‘n memorandum van griewe oor swak dienslewering aan die Moqhaka-burgemeester, Jihad Mohapi, oorhandig.

Verlede jaar is verskeie inwoners vir openbare geweld wat verband hou met dienslewering in hegtenis geneem.

Die inwoners kla oor vuil water en swak padtoestande.

VF+ wen saak teen Kroonstadse munisipaliteit

Die Hooggeregshof van die Vrystaat het vandag die aansoek van die Vryheidsfront Plus, dat die verkoop van die kragsentrale te Kroonstad nietig verklaar word en dat die eiendom weer in die naam van die Moqhaka-munisipaliteit geregistreer word, gelas.  Die hof het verder gelas dat die Moqhaka-munisipaliteit die koste soos op ‘n ongeopponeerde basis moet betaal en dat Bio Energy Africa die res van die koste moet betaal.

Die saak spruit voort uit die feit dat die Moqhaka-munisipaliteit die kragsentrale te Kroonstad teen ‘n bedrag van R8 miljoen aan Bio Energy Africa verkoop het sonder om die statutêre voorskrifte te volg.  Die eiendom is in die aktekantoor op Bio Energy Africa se naam geregistreer.  Die munisipaliteit het ‘n verband van R8 miljoen verleen en tot op datum het Bio Energy Africa nog geen betaling gemaak nie.  Die waarde van die eiendom is baie meer as die bedrag waarvoor dit verkoop is.

Die weldeurdagte en verantwoordelike optrede van die VF Plus se raadslede, Danie Brink en Jeanie Hattingh in die Moqhaka-stadsraad, het dit moontlik gemaak dat die VF Plus die aansoek in die Hooggeregshof kon bring.  Hierdie optrede van die VF Plus se raadslede het dit moontlik gemaak dat die VF Plus die belastingbetalers van die Moqhaka-munisipaliteit (Kroonstad, Steynsrus en Viljoenskroon) se belange en eiendom kon beskerm.  Net soos met die hofsaak oor die onwettige verkoop van die Elandia-erwe te Kroonstad, het die VF Plus weereens die belange van die belastingbetalers eerste gestel en die risiko van ‘n hofsaak op hulle skouers geneem.

Op 25 Maart 2010 het die VF Plus ‘n  dringende aansoek in die Hooggeregshof van die Vrystaat gebring om te verhoed dat Bio Energy Africa roerende eiendom verwyder en die vaste eiendom aan ‘n derde party verkoop alvorens die hof beslis het oor die eienaarskap van die eiendom.  Hierdie tussentydse bevel wat die VF Plus op daardie stadium verkry het, was die voorloper tot vandag se sukses.

Deur hierdie regverdige hofuitspraak kon die VF Plus daarin slaag om die eiendom van die belastingbetalers wat miljoene rande werd is, te beskerm.

Mnr. CAJ Janse van Rensburg van die firma Rosendorff Reitz-Barry en advokaat Niël Snellenburg het voor regter Cilliers die VF Plus verteenwoordig.

Abrie Oosthuizen, LPW en Vrystaatse leier van die VF Plus, het na die hofverrigtinge gesê dit is ‘n kwade dag as ‘n politieke party deur die owerheid gedwing word om hom tot die hof te wend om toe te sien dat statutêre voorskrifte nagekom word.  “Dit word ‘n algemene verskynsel dat munisipaliteite, provinsiale regerings en selfs die nasionale regering hulle daaraan skuldig maak om nie landswette te eerbiedig nie.  Die VF Plus sal alles in sy vermoë doen om toe te sien dat landswette nagekom en toegepas word tot voordeel van landsburgers.”

для пескоструяДанильченко Харьков