‘Alles wat ek gebou het gaan tot niet’

Onbehandelde riool stroom by Kroonstad in die Valsrivier in, alhoewel daar so onlangs as in 2008 R8 miljoen aan die rioolaanleg bestee is.

‘n Opposisieraadslid het tydens die Moqhaka-raadsvergadering die munisipaliteit gewaarsku oor die skokkende verval van die waterinfrastruktuur.

Die raadslid, ‘n voormalige stadsingenieur, het gesê die Kroonstad-rioolsuiweringsaanleg het heeltemal tot stilstand gekom.

Thys Vermeulen het aan die Volksblad gesê: “Die water staan stil. Dit stroom net so onbehandel die rivier in.”

Ongesuiwerde rioolwater het ook die netwerk van ondergrondse waterpype besmet wat gebruik kan word om parke, skole en sportterreine nat te lei.

Hy het ook gesê die rekenpligtige amptenaar van die munisipaliteit moet vir die storting van riool in die rivier vervolg word.

“Dit is nie vir my lekker as ek sien hoe alles wat ek gebou het, tot niet gaan nie.”