VF+ wen saak teen Kroonstadse munisipaliteit

Die Hooggeregshof van die Vrystaat het vandag die aansoek van die Vryheidsfront Plus, dat die verkoop van die kragsentrale te Kroonstad nietig verklaar word en dat die eiendom weer in die naam van die Moqhaka-munisipaliteit geregistreer word, gelas.  Die hof het verder gelas dat die Moqhaka-munisipaliteit die koste soos op ‘n ongeopponeerde basis moet betaal en dat Bio Energy Africa die res van die koste moet betaal.

Die saak spruit voort uit die feit dat die Moqhaka-munisipaliteit die kragsentrale te Kroonstad teen ‘n bedrag van R8 miljoen aan Bio Energy Africa verkoop het sonder om die statutêre voorskrifte te volg.  Die eiendom is in die aktekantoor op Bio Energy Africa se naam geregistreer.  Die munisipaliteit het ‘n verband van R8 miljoen verleen en tot op datum het Bio Energy Africa nog geen betaling gemaak nie.  Die waarde van die eiendom is baie meer as die bedrag waarvoor dit verkoop is.

Die weldeurdagte en verantwoordelike optrede van die VF Plus se raadslede, Danie Brink en Jeanie Hattingh in die Moqhaka-stadsraad, het dit moontlik gemaak dat die VF Plus die aansoek in die Hooggeregshof kon bring.  Hierdie optrede van die VF Plus se raadslede het dit moontlik gemaak dat die VF Plus die belastingbetalers van die Moqhaka-munisipaliteit (Kroonstad, Steynsrus en Viljoenskroon) se belange en eiendom kon beskerm.  Net soos met die hofsaak oor die onwettige verkoop van die Elandia-erwe te Kroonstad, het die VF Plus weereens die belange van die belastingbetalers eerste gestel en die risiko van ‘n hofsaak op hulle skouers geneem.

Op 25 Maart 2010 het die VF Plus ‘n  dringende aansoek in die Hooggeregshof van die Vrystaat gebring om te verhoed dat Bio Energy Africa roerende eiendom verwyder en die vaste eiendom aan ‘n derde party verkoop alvorens die hof beslis het oor die eienaarskap van die eiendom.  Hierdie tussentydse bevel wat die VF Plus op daardie stadium verkry het, was die voorloper tot vandag se sukses.

Deur hierdie regverdige hofuitspraak kon die VF Plus daarin slaag om die eiendom van die belastingbetalers wat miljoene rande werd is, te beskerm.

Mnr. CAJ Janse van Rensburg van die firma Rosendorff Reitz-Barry en advokaat Niël Snellenburg het voor regter Cilliers die VF Plus verteenwoordig.

Abrie Oosthuizen, LPW en Vrystaatse leier van die VF Plus, het na die hofverrigtinge gesê dit is ‘n kwade dag as ‘n politieke party deur die owerheid gedwing word om hom tot die hof te wend om toe te sien dat statutêre voorskrifte nagekom word.  “Dit word ‘n algemene verskynsel dat munisipaliteite, provinsiale regerings en selfs die nasionale regering hulle daaraan skuldig maak om nie landswette te eerbiedig nie.  Die VF Plus sal alles in sy vermoë doen om toe te sien dat landswette nagekom en toegepas word tot voordeel van landsburgers.”

для пескоструяДанильченко Харьков

Maak 'n opvolg-bydrae