Margarita Simonjan, 33, hoofredaktrise van Russia Today. Sy is reeds op die ouderdom van 25 in dié pos aangestel.
Margarita Simonjan, 33, is die hoofredaktrise van die staatsbeheerde satellietnuusnetwerk, Russia Today. In hierdie onderhoud, wat met die Duitse tydskrif Der Spiegel gevoer is, beweer sy dat Westerse joernaliste steeds verkies om Rusland as ‘n booswig te skilder en dat haar stasie geen uitlaatklep vir regeringspropaganda bied nie.
Die Russiese president, Wladimir Poetin, het ‘n anti-CNN vir Westerse gehore geskep deur middel van die internasionale satellietnuusnetwerk, Russia Today. Hy het die netwerk van stapel gestuur ten einde “die monopolie van die Angel-Saksiese massamedia te verbreek”. Die regering het kennelik in sy doel geslaag, want die netwerk geniet meer kykers in die vernaamste stede van die Verenigde State as enige buitelandse uitsaaier.
In Washington skakel 13 keer soveel kykers op Russia Today in as op sy Duitse eweknie, Deutsche Welle. ‘n Totaal van 2 miljoen Britte volg die program. Op YouTube het Russia Today, wat in Moskou geleë is, onlangs die miljardgrens verbygesteek, die eerste uitsaaier ter wêreld wat dit regkry. Die hoofredaktrise, Margarita Simonjan, 33, sien die uitsaaier as ‘n soort ministerie van mediaverdediging vir Rusland.
U netwerk sien sigself as ‘n teenvoeter vir die vernaamste Amerikaanse uitsaaiers. Hoe het u daarin geslaag om die CNN-legende, Larry King, 79, van alle mense af te rokkel?
Simonjan: U sal hom daardie vraag moet vra, maar ek weet dat hy hoogs tevrede is om weer in spel te kom.
Wat kan Russia Today aan King bied wat ander nie kan nie?
Simonjan: Ek kan uit een van sy onlangse onderhoude aanhaal: “Ek het gedink ek kan aftree, maar ek is versot op my werk. Ek het nie gedink ek sal dit mis nie, maar ek mis dit wel.”
U netwerk word deur die Russiese regering befonds. Wat staan in u missieverklaring?
Simonjan: As u op enige gewone dag op CNN of die BBC inskakel, is 80 tot 90 persent van die berigte identies. Ons wil wys dat daar baie meer stories daarbuite bestaan as die 10-per-dag wat ‘n mens gewoonlik teëkom. Ek sê nie dat mense nét na ons program moet kyk nie, ek sê hulle behoort dit óók te kyk.
Die Russiese media het ‘n ietwat meer dramatiese siening van u doelwitte. Vele vergelyk u netwerk met die departement van verdediging. U het dit self al gesê, as Rusland gaan oorlog maak…
Simonjan: … dan sal ons by die geveg betrokke raak, ja. Dit is op die land se regte, gewapende konflikte van toepassing. Onthou u die oorlog in Augustus 2008? Op daardie tydstip het die meeste Westerse mediahuise gereageer asof hulle Georgië se departement van verdediging was.
In 2008 het Russiese troepe die Georgiese grondgebied binnegeval nadat president Mikheil Saakasjwili die bevel gegee het om Suid-Ossetië aan te val, ‘n separatistiese republiek wat noue bande met Rusland handhaaf.
Simonjan: Al die Westerse uitsaaiers het slegs die Georgiese kant van die verhaal weergegee. Saakasjwili is op al die netwerke vertoon; sy verklarings is op alle programme uitgesaai. Daar is gesê dat Rusland die oorlog begin het. Daar is gesê dat die land se troepe ‘n besige mark in die provinsiale dorpie Gori gebombardeer het. Ons het dadelik ons korrespondente soontoe gestuur, wat geen spoor van hetsy ‘n geskietery, hetsy bombardemente, kon vind nie. Westerse uitsaaiers het hul dekking in die geheel op die lyding van Georgiese burgerlikes gefokus. Daar was geen verwysing na Suid-Ossetiërs nie, wat intussen elke nag artillerie-aanvalle deur Saakasjwilli moes verduur. Dit was suiwer pro-Georgiese propaganda.
Dit was nie só eensydig nie. SPIEGEL het byvoorbeeld vroeg reeds verslag gedoen dat dit Saakasjwilli was wat die eerste skoot geskiet het. ‘n Komitee van die Europese Unie het tot dieselfde gevolgtrekking gekom.
Simonjan: Sekerlik, maar bloot agterna! Hoeveel mense het werklik die EU-verslag gelees? Die meerderheid mense glo tot vandag toe dat Rusland die oorlog geheel en al sonder provokasie begin het. Die bose Rusland bespring arme klein Georgië.
Dis nie ongewoon om Rusland in die rol van aggressor te sien nie.
Simonjan: Daarteen maak ek beswaar! Rusland het geen oorlog met ‘n ander land oor die afgelope 20 jaar begin nie. By hoeveel gewapende konflikte was Amerika in dieselfde tyd betrokke? Aan hoeveel oorloë het Europa deelgeneem?
Hoe verklaar u Rusland se negatiewe beeld?
Simonjan: Die Weste het nog nooit van die Koue-Oorlog-stereotipe afgesien nie. Een ding wat min joernaliste verstaan, is dat Rusland die Sowjetunie van binne af begin afskaf het. Dit was ons wat besef het dat kommunisme ;’n mislukking was. Ons het verstaan dat dit verkeerd was om ons wil op ander volkere af te dwing. Ons het die Oosblok sy vryheid gegun. Vandag is ons ‘n ander land, met ‘n heel anderse mentaliteit — iets wat Westerse joernaliste soms moeilik vind om te begryp. U, byvoorbeeld, het vroeër verklaar dat Rusland aggressief opgetree het sonder om dit met feite te staaf.
Is Russia Today se oogmerk om objektief verslag te doen? Of gaan dit ten eerste en bowenal daaroor om ‘n perspektief te bied wat anders as dié van die Westerse media is?
Simonjan: Het u al baie voorbeelde van objektiewe verslaggewing in die algemeen raakgesien?
Daar word pogings aangewend om objektief te wees. Maar u netwerk dek net een kant, en bied die Siriese diktator Bashar Assad ‘n platform vir sy politieke boodskap aan.
Simonjan: Daar is mense wat na Assad se politieke teenstanders as die “demokratiese opposisie” verwys. Maar selfs die rebelle het vroue verkrag en kinders vermoor. Neem byvoorbeeld vir Saakasjwilli. Hy word deur die BBC as ‘n held voorgehou. Vir ander verteenwoordig hy ‘n verdrukker. Daar is geen objektiwiteit nie – slegs benaderings van die waarheid deur soveel stemme as moontlik.
Die Russiese opposisie word slegs by uitsondering op u netwerk getoon, behalwe as ‘n teiken vir smeerveldtogte. U het selfs die Russiese woernaalskrywer en dissident Roestern Adagamof van pedofilie sonder die geringste bewys daarvan beskuldig.
Simonjan: Waarom het ons oor Adagamof berig? Want hy was besig om hom in die openbaar as ‘n kampvegter vir geregtigheid te posisioneer
Die beskuldigings wat teenoor hom gemaak is, is uitsluitlik gegrond op verklarings deur sy gewese vrou wat sê dat hy baie jare gelede ‘n minderjarige meisie in Noorweë seksueel mishandel het. Die owerheid het weens ‘n gebrek aan getuienis verseg om ‘n klag teen hom aanhangig te maak.
Simonjan: Ons het hom nie vervolg nie; ons het bloot ‘n verslag uitgesaai. Ons het ook gepoog om ‘n verklaring van die vrou en van Adagamof te verkry. Sou die Duitse media versuim om oor ‘n politieke aktivis wat daarvan beskuldig word dat hy ‘n 12-jarige meisie seksueel mishandel het, te berig? Ek het self met die eggenote gepraat, en ek het beslis nie die indruk gekry dat sy kranksinnig is nie.
Hoe het dit gebeur dat u netwerk die eerste was om beeldmateriaal van die inhegtenisname van ‘n CIA-spioen in Moskou gedurende Meimaand te verkry? Hoe nou werk u met die owerheid saam?
Simonjan: Ons het daardie beeldmateriaal van ‘n agentskap verkry op dieselfde manier as wat elke ander Russiese televisienetwerk te werk gaan. Dit was nie eksklusiewe materiaal nie. Ons was eenvoudig vinniger as die ander om dit te publiseer. – Spiegel Online
As die strate lyk soos vullishope want die meeste mense gooi hulle vullis net waar hulle wil, As jy na die bevolking kyk, is die meerderheid van hulle anderskleurige mense; dus kom die meeste vullis van hulle af.
As ons president ‘n gekkery van die huwelik maak en dan sê: “It’s my culture.” Ek hoop regtig nie hulle mag meer as 10 vroue hê nie want ek sal sukkel om by te hou want ek het net 10 vingers om op te tel.
As die leier van die jeugliga wat amper oud genoeg is vir pensioen goed kwytraak wat niks met sy pligte te doen het nie en niks met die jeug uitrig nie… wat wel sy plig is.
As elke tweede minister in die regering of in die koerante is oor bedrog of korrupsie en swak dienslewering.
As die polisie wat die wet moet toepas van die misdaad in die land pleeg.
As werkers in die staatsdiens net werk toe kom om ‘n salaris te kry al doen hulle heel dag niks nie.
As tenders en kontrakte na die buiteland toe gaan pleks daarvan dat óns dit hier kan doen en ons kan want ons het al baie dinge reggekry in die verlede; ek kan hulle opnoem.
As stakers alles verniel en afbreek. As hulle oor dienslewering betoog, dan brand en breek julle juis die toerusting waaroor hulle betoog. Hulle brand ‘n skool af want daar is nie genoeg skole nie; dit maak nie sin nie.
As hulle ons laat glo dat die paaie opgegradeer word vir die 2010-sokker maar nou sit hulle tollhekke met buitensporige tariewe op.
As jou regering vir mense om elke hoek lieg en bedrieg net sodat iemand uit ‘n tender kan ryk word.
Ek sê nie apartheid was reg nie maar almal het ‘n woonplek gehad. Daar was werk vir almal, mediese dienste en misdaad was beheerbaar. Baie anderskleurige ou mense het dit ook al teenoor my erken.
Kyk hoe lyk ons hospitale, ons treine, openbare toilette, ens., ens., ens.
Kyk na al die geweld en snert in ons skole. Kyk net hoeveel werklose blankes is daar en hoe het die blanke volk verarm. As jy die telefoon optel en skakel omdat jy ‘n probleem het met jou krag of telefoon …..eisj jy kom net nie geholpe nie.
Kinders is nie meer kinders nie omdat hulle nie meer by mekaar kan gaan speel nie… hulle kan dit nie waag om alleen in die strate te loop nie. Drank is jare gelede by die drankwinkel gekoop en vandag is daar ‘n sjebien op elke hoek.
Brandweermanne steel nou parfuum om skelm te gaan verkoop om bietjie beter te kan lewe. Wanneer jy ‘n bloulig agter jou sien, weet jy nie of jy moet aftrek of vet gee nie… mens kan niemand meer vertrou nie. Laat mens wonder hoekom so baie mense oppak en Suid-Afrika verlaat.
Drank mag nie meer geadverteer word nie en tabak gaan ook gestop word maar kyk gerus al die ponografie en seks op TV… geen wonder daar is soveel verkragtings nie.
Elke keer as ‘n blanke sy mond oopmaak en sy mening lug, dan word daar gesê dit is rassisties maar ander mag sê net wat hulle wil en daarmee is niks verkeerd nie. Dit is hoekom ek maar hier met myself gesels en my sê sê.
Bonné de Bod, een van die aanbiedsters van 50/50, ‘n voormalige leerling van Linden-hoërskool in Johannesburg
Volgens ‘n Sondagkoerant word die natuurprogram 50/50 van aanstaande Maandagaand af weer uitsluitlik in Afrikaans uitgesaai.
Blykbaar het die SAUK erken dat “dit ‘n fout was om die program in 2011 veeltalig te maak”. Só sê Ntokozo Mbuli, die aanbiedster en vervaardiger van 50/50. Die program het gevolglik grootliks aan kykertalle ingeboet en daarom wil die SAUK dit nou “in sy eertydse glorie” herstel.
In die praktyk het die SAUK 50/50 verengels, blykbaar om in te pas by “nasiebou”-doelwitte. Maar geld, selfs Afrikaanse geld, praat hard en die openbare uitsaaier is tans desperaat om 50/50 se lojale kykers terug te lok.
Voor die verengelsing van 50/50 was die program se kykers 78% Afrikaans, van wie 60% blanke Afrikaanse vroue was.
Syfers oor die huidige kykers is nie bekendgestel nie, maar volgens die korporasie het “lojale Afrikaanse kykers van 50/50 opgehou om daarna te kyk”.
Mbuli sê: “Om met Afrikaanse gehore te werk, is meer as net ’n taal. Dis oor ’n manier van dink, ’n kultuur.”
Die poging om ‘n breër, multikulturele gehoor vir die program te trek, het ook beteken dat die oorspronklike model van veld- en natuurlewe, tesame met ondersoeke na die ekologie en bewaringskwessies, afgewater is, met dikwels insetsels uit oppervlakkige, uitheemse Amerikaanse “natuurskouspel”-programme.
Volgens die vervaardiger sal daar nou na die “oorspronklike resep” waaraan Afrikaanse kykers so lojaal was, teruggekeer word.
Volgens ‘n berig in dié koerant, het Rapport sy borgskap van die Hertzogprys, Suid-Afrika se prestigeprys vir Afrikaanse letterkunde, meer as verdubbel.
Sedert 2003 het Rapport R20 000 tot die Hertzogprys bygedra. Die koerant sê dat hy dit “nou met ’n stewige R30 000… tot R50 000 (verhoog) het”.
Die volgende Hertzogprys vir Afrikaanse prosa sal op Vrydag 13 September aan die Stellenbosse skryfster, Ingrid Winterbach, oorhandig word vir haar roman Die aanspraak van lewende wesens by wat as “’n glansgeleentheid in Stellenbosch” beskryf word.
Rapport ondersteun blykbaar “al sedert 1994 die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns om die land se topskrywers te vereer”.
Die prys, wat na genl. J.B.M. Hertzog, vernoem is, het in 1914 tot stand gekom ná ‘n lastersaak wat ‘n Engelssprekende teen die generaal aanhanging gemaak het en waarvoor die publiek spontaan geld ingesamel het. Hertzog het ná sy hofsaak die oorblywende geld vir ‘n Afrikaanse literêre prys geskenk.
Dr. Dione Prinsloo, uitvoerende hoof van die SA Akademie, sê “die vreugdevure brand hoog”.
“Ons is ongelooflik opgewonde en geweldig dankbaar. Die Hertzogprys is immers dié prys in die Afrikaanse letterkunde.”
Die nuut aangestelde redakteur van Rapport, Waldimar Pelser, sê: “Die letterkunde hou ons eerlik, of minstens eerliker. Daarsonder loop ons die gevaar om nie meer onsself of ons omgewing of mekaar te kan lees nie, of mekaar mis te lees en mis te verstaan.”
Die Eugene Marais-prys vir debuutwerk, wat Rapport insgelyks borg, word vanjaar aan Hennie Nortjié vir sy debuutbundel,
Die Eugène Maraisprys vir debuutwerk (wat ook deur Rapport geborg word) word vanjaar aan Hennie Nortjé vir sy poësiedebuut, In die skadu van soveel bome, toegeken. Dié prys bedra R5 000.
Meeluistering- en opsporingsapparaat soos deur die polisie gebruik word
Die polisie het ‘n ondersoek voltooi na misdaadintelligensiebeamptes wat aan die onwettige meeluistering van twee Sunday Times-joernaliste se telefone, asook die voormalige polisiehoof, Bheki Cele, deelgeneem het, berig die koerant.
DIe voormalige baasspioen in Kwazulu-Natal, maj.gen. Deena Moodley en die koverte inligtinginsamelingsbeamptes, kolonel Dumisani Zulu en kaptein Bongani Cele, word daarvan verdink dat hulle die drie selfoonnommers onder valse voorwendsel by ‘n wettige onderskeppingsbevel ingevoeg het, berig die Sunday Times.
Die bevel, wat deur regter Joshua Khumalo op 6 Desember 2010 toegestaan is, het die polisie gemagtig om “intydse oproepe” op te neem, toegang tot teksboodskappe te verkry, en om GPS-koördinate te gebruik om die telefoongebruikers te lokaliseer.
Solomon Makgale, ‘n woordvoerder vir die nasionale polisiekommissaris, Riah Phiyega, het aan die koerant gesê dat die polisie die misdaadondersoek na die onwettige meeluistering van die twee werknemers en die voormalige nasionale kommissaris voltooi het. “Ons glo dat daar prima-facie-getuienis teen die drie SAPD-lede wat betrokke was, bestaan. Dit is nou vir die vervolgingsgesag om te besluit om te vervolg, aldan nie,” het die koerant hom aangehaal. – Sapa
Regstellende aksie soos dit tans toegepas word, was nie deel van die bedoeling van die ooreenkoms wat iin 1994 spesifiek tussen die toentertydse regerende party, die NP, en die ANC bereik is nie. Só sê Pik Botha, die voormalige minister van buitelandse sake wat Donderdag aan ‘n debat oor regstellende aksie in Pretoria deelgeneem het.
Ander paneellede by die gesprek oor die plek van regstellende aksie in Suid-Afrika was Rabelani Dagadi van Wits se sakeskool in Johannesburg en dr Dirk Hermann, die hoof- uitvoerende beampte van die Solidariteitbeweging.
Volgens Botha het die ANC die ooreenkoms wat in 1994 bereik is, verbreek. Hy is ook duidelik dié mening toegedaan in Hermann se jongste boek: Regstellende trane: Waarom verteenwoordigendheid nie gelykheid is nie (Kraal-uitgewers). Hy meen dat ‘n nuwe grondwetlike bedeling in Suid-Afrika onmoontlik sou gewees het, sou die ANC destyds daarop aangedring het dat die Wet op gelyke indiensneming en die wyse waarop dit toegepas word, deel van die grondwet gemaak word. Hy wys daarop dat die bedoeling gedurende die onderhandelings was om die ongelykhede en onregte wat deur apartheid veroorsaak is, reg te stel.
“Maar ons het nie ooreengekom om onregte van die verlede reg te stel deur nuwe onregte in die hede te skep nie,” verduidelik Botha.
“Diskriminasie teen blanke jongmense wat niks met apartheid te make had nie, was beslis nie deel van die ooreenkoms tussen die NP en die ANC nie; nog minder was diskriminasie in die algemeen teen blankes, kleurlinge of Indiërs,” gaan Botha voort. “Trouens, die ANC se kwota-obsessie kom op die verwerping van opgeleide mense neer wat ruimskoots tot die opleiding van swartmense kan bydra. Die boemerangeffek van die Wet op gelyke indiensneming is dat groot hoeveelhede swartmense steeds onopgelei en werkloos is, en dat die land se ekonomiese vooruitgang erg deur die tekort aan vaardighede gekortwiek word – wat miljoene meer swartmense as blankes raak.”
Botha is van mening dat “spontane, informele dog diepgaande gesprekke tussen lede van alle rasse” nodig is om oor die toekoms saam te stem.
Die Kaapse Klopse. Hulle praat ook ‘n ‘variëteit van Kaaps’.
deur Leon Lemmer
Daar word dikwels beweer dat die mens in Afrika ontstaan het. Daar is egter groot eenstemmigheid dat beskawing, dus gesofistikeerde of ontwikkelde kultuur, hetsy Westers of Oosters, op ander kontinente ontwikkel het. Daar is selfs diegene wat dink dat die beste mense wat oorspronklik in Afrika gewoon het, die insig gehad het om pad te gee en daarna elders ‘n beter heenkome gevind het. Hedendaagse afstammelinge van slawe het al ongekwalifiseerde dank uitgespreek dat hulle voorgeslag uit Afrika na bv Amerika vervoer is.
In die geskiedenis van Afrikaans is daar die kombuistaalteorie waarvolgens Nederlands aan die Kaap skeef en krom deur nie-wittes (bv in kombuise) gepraat is en dat die oorsprong van Afrikaans hiernatoe teruggevoer kan word. Maar net soos tussen die ontstaan van die mens en die uitbouing van beskawing onderskei word, moet tussen die ontstaan van Afrikaans as geradbraakte Nederlands en die uitbouing van Afrikaans as ‘n taal uit eie reg onderskei word.
Dit lei tot ‘n politieke probleem, want die ontstaan van proto-Afrikaans word (hoofsaaklik) aan bruines toegeskryf. Daarenteen is die standaardisering, uitbouing en voortbestaan van Afrikaans (hoofsaaklik) aan wittes te danke, bv die Genootskap van Regte Afrikaners, asook die woordeboeksamestellers en almal wat Afrikaans in sy algemeen-beskaafde gedaante gepraat en geskryf het. Standaardafrikaans word gevolglik veralgemenend as ‘n witmenstaal en bv Kaaps as ‘n bruinmenstaal beskou.
Tot in die vorige eeu was gepubliseerde Afrikaanse teks wat deur nie-wittes geskryf is, hoogs uitsonderlik. Die kombuistaal wat nie-wittes in die 17de of 18de eeu gepraat het, sou nie in die vorm van Afrikaans in die 21ste eeu oorleef het as dit nie vir die deurlopende taalkundige arbeid van blanke taalkundiges en blanke taalgebruikers was nie. Politiek korrek word daardie gestandaardiseerde taal nie meer algemeen-beskaafde Afrikaans genoem nie (al is dit steeds presies wat dit wesenlik is) maar Standaardafrikaans.
Prof. Wannie Carstens van die Potchefstroom-kampus
Die Afrikaanse Taalraad (ATR) gebruik die hedendaagse plaaslike politiek as toonbeeld vir hoe daar met taalsake omgegaan moet word. Die eerste voorsitter van die ATR, Wannie Carstens, het van die ATR ‘n versoenings- en meertaligheidsraad pleks van ‘n Afrikaanse taalraad gemaak (Praag 17 Maart). In sy boek Vereeniging (Kaapstad: Umuzi, 2010) stel Leon Wessels homself voor as ‘n soort Johannes die Doper wat as dié voorbereider van die nuwe Suid-Afrika gefunksioneer het. Wessels word dus deesdae as ‘n grondwet- en menseregtekenner gereken. In die konteks van die Carstens-ATR se meertaligheidsmanie skryf Wessels: “Afrikaners kan nie taalregte namens ander taalgemeenskappe opeis nie – hulle moet dit self doen” (p 331).
Ten spyte van Wessels se goeie raad gaan Carstens se opvolger as ATR-voorsitter, Michael le Cordeur, voort met hierdie paternalistiese meertaligheidspreokkupasie. Le Cordeur is tans as ‘n opvoedkundige aan die Universiteit Stellenbosch verbonde. Wat van hom nogal ‘n eienaardige opvoedkundige maak, is dat hy net die hoogste lof het vir sy vier klasmaats wat in 1976 die Hoërskool Bergrivier in Wellington afgebrand het. Le Cordeur voer tans om etniese en politieke redes ‘n veldtog ten gunste van Kaaps. Ná al die jare het die ATR egter nog geen poging aangewend om hom ondubbelsinning aan die kant van Standaardafrikaans te skaar nie.
Uit vrees dat die Kaapsgesindes aanstoot kon neem, het die ATR nog nie eens vir suiwer Afrikaans voorbrand gemaak nie. Die verengelsing van Afrikaans gaan ongebreideld voort sonder dat die ATR ‘n vinger verroer. Die Afrikaanse skryf- en veral omgangstaal neig gevolglik al hoe nader aan die mengeltaal Kaaps. Iemand soos Nico Koopman verheerlik hibriditeit. Wat hy blykbaar probeer sê, is dat die etniese hibriditeit van bruines as model vir nuwe Suid-Afrikaners moet dien. Ingelyks kan die hibriede Kaaps die modeltaal in die nuwe Suid-Afrika word. Die uiteinde sal ‘n daadwerklike hibriede nasie wees. Daarvolgens is om bruin te wees en Kaaps te praat in die mode en dui hierdie verskynsels op die toekoms. Insgelyks, om wit te wees en Standaardafrikaans te praat, is om uit die mode te wees en tot die verlede te behoort.
Dit kan gebruik word om te verduidelik waarom taalhibriditeit al hoe meer vastrapplek kry in wat eens Afrikaans was. Etnies gedrewe bruines is blykbaar geneig om hierdie bedenklike verskynsel te verwelkom. Dit is egter die dood in die pot vir Afrikaans. Net taaldislojale Afrikaanssprekendes sou so ‘n verwikkeling verwelkom. Ongelukkig is dit die onverkwiklike waarheid dat daar by baie bruines ‘n tradisie van taalontrouheid, dus dislojaliteit, teenoor Afrikaans is. Van moedertaal- en identiteitstrots is daar by diesulkes glad te dikwels nie sprake nie. Insgelyks ontbreek ‘n gesonde afkeur van Engels as leeftaal. Byvoorbeeld, Jonathan Jansen, die rektor van die Universiteit Vrystaat, het Afrikaans as sy moedertaal vervang met Engels as sy “eerstetaal”. Deesdae is Engels dus onbeskaamd sy voorkeurtaal.
In die nuwe Suid-Afrika is die ANC se fanatieke voorkeur vir die koloniale taal Engels die oorheersende taalwerklikheid. Dit is voor die hand liggend dat Standaardafrikaans die enigste variëteit van Afrikaans is waarmee die bedreiging van Engels suksesvol die hoof gebied kan word. Hiervoor is ‘n verenigde front nodig; ook in die ATR. Die voorstanders en beoefenaars van Standaardafrikaans doen moeite om Afrikaans as ‘n taal te bevorder wat duidelik onderskeibaar van Engels is. Die beoefenaars van Kaaps, daarenteen, breek die onderskeid tussen Afrikaans en Engels af deur met oorgawe onnodige Engelse woorde in hulle taal toe te laat; dermate dat dit soms na opsetlike uittarting vir voorstanders van algemeen-beskaafde Afrikaans lyk. Hierdie gesindheid van bruines steun nie op geldige taalkundige gronde nie. Dit is veel eerder die uitdrukking van politieke beswaardheid teen wit Afrikaanssprekendes.
Le Cordeur beweer Standaardafrikaans is nie “‘n meer korrekte (‘suiwer’) vorm van Afrikaans … nie. Net so is Kaaps nie ‘swak Afrikaans’ nie, dis ‘n ander variëteit” (Die Burger, 8 deser, p 19). Hy is so onentoesiasties oor Standaardafrikaans dat hy hierdie woord met ‘n kleinletter skryf. Ek dink nie dit dui suiwer op onkunde by hierdie nie-taalkundige nie; dalk eerder op moedswilligheid. Op 31 Julie het Le Cordeur op LitNet geskryf: “Die Afrikaanse Taalraad bevorder nie net standaardafrikaans nie, maar Afrikaans met al sy varieteite, en standaardafrikaans is maar net een varieteit.” Let op die verkleinerende “maar net een”. In werklikheid is Standaardafrikaans ‘n grootse prestasie. Dit is “maar net een” van die Afrikaner-prestasies wat die land die onwikkeldste en suksesvolste in Afrika gemaak het.
Daar is politiek onderliggend aan Le Cordeur se standpunt. In die politiek is alle mense gelyk verklaar, al is daar ooglopende kwalitatiewe verskille. Na analogie daarvan beweer Le Cordeur dat Kaaps en Standaardafrikaans gelykwaardig is. Toegegee, net soos alle mense eenders of gelyk is in die sin dat hulle daar is, bv asemhaal, is Kaaps en Standaardafrikaans gelykwaardig as slegs die feit dat albei bestaan in ag geneem word. In die bestaanstryd teen Engels kan daar egter geen sprake wees dat Kaaps, wat deurspek met Engelse woorde is, suksesvol as skans gebruik kan word nie. Ten minste in hierdie opsig is Kaaps en Standaardafrikaans nie gelykwaardig nie.
Nathan Trantraal met sy digbundel ‘Chokers en survivors’
Dit is nie net ‘n geval dat Kaaps geen skans teen die oorheersing van Engels bied en dus nie met die toekoms van Afrikaans vertrou kan word nie. Kaaps funksioneer inderdaad as ‘n vermurwer van Standaardafrikaans. Ek volstaan deur na ‘n enkele deelnemer aan die huidige debat oor Kaaps te verwys. Op 3 Julie is Joan Hambidge se resensie van Nathan Trantraal se digbundel op LitNet gepubliseer. Onderaan het Annemarie van Niekerk geesdriftig soos volg gereageer: “DIE poësie event van die jaar”, “in your face poetry”, “suffering” en “‘n high five vir Nathan”. In ‘n onderhoud met Trantraal het Van Niekerk gepraat van “choke-poetry”, “community” en “free wyn” (Rapport, 4 deser). Sou sy sulke geradbraakte Afrikaans in haar reaksie op ‘n teks in Standaardafrikaans gebruik het?
Die titel van die Trantraal-bundel is Chokers en Survivors. “Vir Antjie Krog is dit ‘n bundel ‘om sidderend van regop te sit!’ … Krog beklemtoon dat ons nog nooit so iets in Afrikaans gelees het nie” (Joan Hambidge se resensie op LitNet, 3 Julie). Die eintlike vraag is: Is dit Afrikaans? Van die 18 letters in die titel word net twee (dus 11%) vir Afrikaans gebruik. Dit is die soort “Afrikaans”-variëteit wat Le Cordeur in sy hoedanigheid as voorsitter van die ATR met groter geesdrif as Standaardafrikaans bevorder. Die ironie is dat Trantraal tereg ontken dat sy Kaaps Afrikaans is: “Afrikaans en Kaaps issie dieselle taal ie … ek for instance het ‘n barely functioning Afrikaans vocabulary, maa ek is nogal eloquent in Kaaps” (Onderhoud met Annemarié van Niekerk, Rapport, 4 Augustus).
Dit is nie net nie-Afrikaanse, bv Engelse, woorde wat kwistig in Kaaps gebruik word nie. Selfs die sinsbou is dikwels nie-Afrikaans, bv Engels of Arabies. Le Cordeur erken self dat “Kaaps dikwels die Arabiese sinkonstruksie” volg (Onderhoud met Naomi Meyer, LitNet, 8 Augustus). ‘n Mens vra jou af: Op grond waarvan sou die ATR hom dan geroepe voel om by monde van Le Cordeur Kaaps, ‘n nie-Afrikaanse taal, dus ooglopend ‘n mengeltaal, te bevorder? Nie-Afrikaanse tale val streng gesproke buite die ATR se bevoegdheidsgebied. Die antwoord op laasgenoemde vraag kan eintlik net in etniese en politieke oorwegings gevind word.
Hoe diep die ATR in die politiek versink het, blyk uit sy politiek gekleurde missie, naamlik “om Afrikaans en Afrikaanssprekendes te bemagtig, te bevorder en te beskerm”. ‘n Baie beter en daarby taal-toegespitste leuse sou wees: “Om Afrikaans altyd, oral en suiwer te benut.” Omdat die ATR met ‘n politieke (en in die besonder ANC-) geur deurtrek is, het Le Cordeur, in sy hoedanigheid as voorsitter, Nelson Mandela amptelik namens die ATR met sy verjaardag op 18 Julie gelukgewens.
Vrouedag wat die optog van vroue, wat hardegat oor die paswette was, na die Uniegebou in 1956 gedenk, is op 9 deser deur die ATR op Wellington gevier. Dit is gedoen sonder om te noem dat paswette nie deur die “apartheidsregime” uitgedink is nie. Plaaslik is paswette ‘n nuutjie waarmee die eerste Britse goewerneur aan die Kaap, graaf George Macartney, in 1797 vorendag gekom het.
Pas het die ATR dit nodig gevind om inskrywings vir die Europese Unie se Sol Plaatje-poësiekompetisie te werf. Hierdie kompetisie het baie sydelings met Afrikaans te make. Die hoofmotivering vir die ATR se entoesiasme is waarskynlik omdat Plaatje as ‘n stigter van die ANC beskou kan word. Het die ATR al iets gedoen om te verseker dat die Universiteit Sol Plaatje in Kimberley ‘n Afrikaanse universiteit sal wees? Sekerlik nie.
Genoemde sake toon waarmee die ATR hom die afgelope tyd besig gehou het. Afrikaansdag, die herdenking van die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in 1875 in die Paarl, word jaarliks op 14 Augustus in bv die boekhandel gedenk. Dit behoort elke jaar dié hoogtepunt op die kalender van die ATR te wees. Soos gebruiklik het die ATR vanjaar geen poging aangewend om Afrikaansdag te vier of selfs daarvan melding te maak nie. Daarvoor is daar minstens twee redes. Eerstens word die GRA deur die ATR as ‘n etnies eksklusiewe groep beskou. Gideon Malherbe het klaaglik versuim om sy kombuis- en tuinhulp by die GRA se stigtingsbyeenkoms te betrek. Tweedens bevestig die nie-erkenning van Afrikaansdag dat die ATR eerder ‘n politiek gedrewe liggaam as ‘n egte en eerbare Afrikaanse taalraad is.
Die nuwe Suid-Afrika funksioneer wesenlik kwantitatief. Kwalitatiewe verskille word dus by voorkeur geïgnoreer of selfs ontken. Omdat die meeste sprekers van Afrikaans deesdae bruin is, word sonder meer aangeneem dat die toekoms van Afrikaans in hulle hande moet wees. Dít terwyl Afrikaans en tewens die land in sy geheel uitstekend onder blanke (dus minderheids-) leiding ontwikkel het. Die skryfkuns, alfabet, manuskripte en gedrukte teks, bv boeke, is beskawingsprodukte. Hulle hoort in die domein van die ATR. ‘n Mens sou dus verwag dat die ATR 6 April jaarliks met oorgawe as Beskawingsdag sou vier. Politieke gestremdheid veroorsaak dat die ATR dit nooit doen nie. Beskawingsdag was voorheen as Van Riebeeck-dag bekend, maar in die nuwe Suid-Afrika word name mos graag verander.
In die naam van diversiteit dien daar ‘n verteenwoordigende getal bruines in die direksie van die ATR. In die praktyk verseker dit die steriliteit van die ATR. Drie van hierdie bruines het elk ‘n hoë politieke profiel, naamlik Le Cordeur, Danny Titus en Christo van der Rheede. Wat hierdie drie verder gemeen het, is dat hulle nie Afrikaanse taalkundiges is nie. In soverre hulle voorgraads met Afrikaans in formele studie kennis gemaak het, is hulle deur veral Jakes Gerwel aan die Universiteit van Wes-Kaapland beïnvloed. Dit beteken dat hulle siening van Afrikaans met UDF/ANC- en kommunistiese ideologie deurdrenk is (Praag 3.12.2012). Die steriliteit van die ATR is dus begryplik.
Wat nodig is, is dat al die ATR-direksielede aan minstens twee vereistes moet voldoen. Eerstens moet hulle gesindheid teenoor Afrikaans bo verdenking wees. Dit spreek dus eintlik vanself dat hulle verbintenis tot onderrig in Afrikaans vir hulle eie kinders ononderhandelbaar moet wees. Tans dien daar elemente in die ATR wat sienderoë verkies dat onderrig eerder in Engels as Afrikaans aan hulle kinders verskaf word. Tweedens moet ATR-direksielede se formele Afrikaanse taalkennis op peil wees. Hulle moet dus geskoolde taalkundiges wees. Sodanige raadslede moet verder op ‘n nie-etniese grondslag gekies word. Die huidige kwotastelsel is uit die bose. Pleks van, soos tans, Afrikaans polities te dien, sou die ATR Afrikaans dan na behore taalgewys kon dien.
Terugverwysend na die eerste paragraaf hierbo is daar in die VSA die manie onder swartes dat wittes eintlik nie oor swartes mag skryf nie. Swartes beweer dat net hulle waarheidsgetrou oor die ervaring van swartes kan skryf. In die debat oor Kaaps het hierdie fundamentalisme nou ook kop uitgesteek. Net outentieke, nie-wit sprekers van Kaaps mag glo in Kaaps skryf (dus nie Marlene van Niekerk nie) en die duidelike voorkeur is dat net hulle menings oor Kaaps mag uitspreek. Die wesenlike aard van hierdie sotterny is reeds in 1784 deur Samuel Johnson uitgewys toe hy opgemerk het: “Who drives fat oxen should himself be fat” (James Boswell, The Life of Samuel Johnson, Londen: Everyman, 1992, deel 2, p 527).
Uit die huidige debat blyk dit duidelik dat daar talle variëteite of subsoorte van Kaaps bestaan, bv straat-, bende- en klopsetaal en onkiese of kru of onbetaamlike variasies, waarvan Trantraal ‘n meester blyk te wees. Dit bevestig ten minste dat ons hier nie met algemeen-beskaafde of Standaardafrikaans te make het nie. Die onpraktiese maar etnies en politiek gedrewe Le Cordeur reken dat skoolhandboeke in hierdie ongestandaardiseerde groep mengeltale, kollektief Kaaps genoem, beskikbaar gestel moet word sodat die sprekers van Kaaps nie (verder) benadeel word nie.
Waar gaan die streep getrek word? Moet skoolhandboeke in Tsotsitaal daarna volg? Waarom nie ook pleit vir handboeke in die soort geradbraakte Engels wat kenmerkend van sommige bruines is nie? Waarom ‘n saak probeer uitmaak vir nie-Standaardafrikaans, maar nie ook vir nie-standaard Engels nie? Die antwoord is: Omdat gestandaardiseerde Engels deur hierdie elemente geag en gestandaardiseerde Afrikaans deur hierdie selfde elemente geminag word. Daarmee is ons terug by wat ek hierbo, in die woorde van Jaap Steyn, taalontrouheid genoem het. Hierdie dislojaliteit teenoor Afrikaans is sekerlik politiek gemotiveerd. Kortom, die huidige voorsitter van die ATR, Le Cordeur, se veldtog ter bevordering van Kaaps is wesenlik opsetlike geringskatting van Standaardafrikaans en grondliggend minagting van Afrikaners.
Ek het die bostaande teks voltooi voordat Leopold Scholtz se jongste rubriek (Die Burger, 16 deser, p 12) ter hand gekom het. Scholtz verduidelik dat in die stryd teen veral Frans daar in België na Standaardnederlands gereik is pleks van die verskillende Vlaamse dialekte te koester. Dit stem ooreen met my pleidooi vir Standaardafrikaans hierbo. Scholtz: “Elke Europese taal … het naas streektale en dialekte ook ‘n standaardvorm. Die behoefte aan dié standaardvorms bestaan deurgaans.” Omdat die omstandighede in België en Suid-Afrika verskil, wil Scholtz egter nie die knoop deurhaak en die vraag in die opskrif, “Voldoen Kaaps aan vereistes?”, beantwoord nie. Hy wil hê dat “die bruin intellektuele self moet antwoord.” Hy raak die spoor dan al hoe meer byster met die volgende stelling: “Niemand by sy regte verstand sal in beginsel teen die ontwikkeling van Kaaps kan wees nie.”
Plakkaat van die Kaapse Son
Wat skuil agter Scholtz se terugdeinsing? Die antwoord is voor die hand liggend: Die Burger se dogma dat bruines nie vervreem mag word nie en dus dat die “bruin stem” gehoor moet word. Dit volg dat die sprekers van Kaaps oor Kaaps uitspraak moet lewer, net soos Samuel Johnson se vet osse net deur vetsakke aangeja mag word. Die Burger wil bruines feitlik ten alle koste ter wille wees; nie net omdat dit politiek korrek is nie, maar ook omdat die getal koerante wat verkoop word die allerheiligste heilige koei geword het. Dit is in selfs groter mate waar sedert sy Naspers-susterkoerant Son (in Kaaps wat oorvloediglik met Engelse woorde aangedik word) so ‘n groot aanhang onder veral bruin lesers ten koste van Die Burger opgebou het.
Ek is by my regte verstand en het hierbo ‘n duidelike saak uitgemaak waarom Kaaps nie die voertuig vir die behoud van Afrikaans teen die aanslag van Engels kan wees nie. Net Standaardafrikaans kan daardie funksie vervul. Die bevordering van die mengeltaal Kaaps deur die ATR druis lynreg in teen die heil van Afrikaans. Dit is politieke en nie-taalkundige oorwegings wat die ATR dryf. Die Afrikaanse en Afrikanerorganisasies wat die ATR tot dusver gesteun het, sal ernstig oor hulle voortgesette deelname moet besin. Die ATR sal óf grondig hervorm moet word óf met ‘n ander liggaam wat Afrikaans doeltreffend bevorder, vervang moet word; iets soos ‘n Herstigte Afrikaanse Taalraad.
Die Hoë Hof in Pretoria het ‘n aansoek deur die Boeremag-aangeklaagdes van die hand gewys om ‘n spesiale vermelding van ‘n onreëlmatigheid in die hofrekord te laat aanbring, het die The Citizen Saterdag berig.
Regter Eben Jordaan het Vrydag die aansoek deur die 20 aangeklaagdes van die hand gewys. Hulle is verlede jaar aan hoogverraad skuldig bevind. Die regter het gesê dat hy eers later redes vir sy bevinding sal verstrek.
Die aansoek was daarop gemik om ‘n hefboom te verkry wat tydens hul appèl teen hul skuldigbevindings op klagtes van hoogverraad te gebruik.
Die skuldigbevindings spruit uit ‘n staatsgreepplan in die laat negentigerjare en vroeë millennium om die ANC-bewind omver te werp.
Sekere van die aangeklaagdes het gedurende die verhoor beweer dat hulle soldate in ‘n legitieme stryd om ‘n onafhanklike Boererepubliek sou wees.
Die aansoek om tot krygsgevangenes verklaar te word, is van die hand gewys.
Ná hul skuldbevindings, is getuienis gelewer wat volgens hulle bewys dat die polisie se misdaadintelligensie-eenheid hul konsultasies met hul regsverteenwoordigers by die C-Maks-gevangenis en die hofselle afgeluister het. – Sapa
Kerry onder druk om militêre hulp na Egipte op te skort
Met nog ‘n bloedbad in die strate van Kaïro, het Egipte se regerende generaals bo enige twyfel gewys en blykbaar min belang daarin het om nie ‘n junta te lei nie. Nieteenstaande toon hulle egter min aanleg daarvoor.
Die politieke rigting waarin genl Abdul Fattah-el-Sisi, – Egipte se de facto-leier – tans met die wrede onderdrukking van die Moslembroederskap die land stuur, is die ergste van alle moontlike uitkomste vir die VSA en die EU: ‘n Moordende burgeroorlog.
Dié twee stemme, die VSA en EU, het voortdurend die indruk probeer skep dat hulle in beheer van alle “demokratiese” prosesse oral ter wêreld is en sulke prosesse aktief bevorder as hulle nie invalle in die naam daarvan loods nie.
Toe nie.
Miljoene Egiptenare het blykbaar self reeds besluit dat dit makliker is om af te breek as om op te bou.
Dit is natuurlik ‘n tragedie vir die gewone man op straat, wat tot onlangs geglo het dat dekades van onderdrukking en diktatuur op ‘n einde is en dat ‘n nuwe toekoms aangebreek het. Hulle is dan deur die bleekvelle die versekering gegee dat dit net beter kan gaan, met die “Lente” se aanbreek.
Dít is hoekom die bloedbad ‘n buitelandse beleidsramp vir die Verenigde State van Amerika is. En nie net omdat Egipte die mees digbevolkte en invloedryke land in die Arabiese wêreld is nie.
Die VSA was die Egiptiese weermag se hoofborg. Diegene wat geargumenteer het dat dié hulp aan Amerika die nodige hefboomkrag sal gee om rigtingbepalend op te tree, sal weer moet besin. Die weermag se wrede optrede teen vreedsame betogers het pas tonne simpatie vir die Moslembroederskap geskep.
Byna 600 inwoners is sedert Woensdag gedood toe militêre en polisie-eenhede met helikopters, skerpskutters, stootskrapers en traangas in Kaïro op hulle toegesak het, en ‘n landwye noodtoestand is afgekondig terwyl die “tussentydse regering” 25 nuwe provinsiale goewerneurs benoem het, 19 van hulle generaals.
Niemand kan meer twyfel dat ‘n junta Egipte regeer nie, een wat met die hulp van die VSA toegerus is.
Ten minste 1 448 polisiebeamptes in die polisie het vorige veroordelings, en ten spyte daarvan tree die SAPD nie teen hulle op nie.
Meer as 300 offisiere in die Suid-Afrikaanse Polisiediens, van wie 11 senior offisiere is, het ’n misdaadgeskiedenis gehad voordat hulle by die diens aangesluit het.
Die veroordeeldes is versprei oor die land en in die Wes-Kaap.
Lt.genl. Nkrumah Mazibuko, waarnemende adjunkkommissaris vir menslike hulpbronne, het gister aan lede van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie-aangeleenthede gesê daar is polisiebeamptes wat selfs ander mense se vingerafdrukke op hul aansoekvorms gebruik.
Selfs psigometriese toetse word namens applikante gedoen. Meer as ‘n duisend lede het ‘n misdaadrekord ná indiensneming gekry. Van hulle het reeds veelvuldige oortredings begaan.
Alhoewel sulke lede onderworpe is aan ’n tugproses kan hulle appèl aanteken en word hulle weer in diens geneem.
Die tugproses gaan glo hersien word . “Ons is besig om die tugstelsel te hersien om te verseker tugprosesse word behoorlik uitgevoer,” het Mazibuko gesê.
Annelizé van Wyk, komiteevoorsitter, het gevra hoe dit moontlik is dat die polisie nie weet dat een van hul lede in die hof verskyn vir ’n misdaad nie: “Hoe is dit moontlik in hul eie omgewing?”
Mazibuko het ontken dat polisie-beamptes se agtergrond nie meer nagegaan word nie.
Hy het gesê dit is moeilik om agter te kom of ’n polisiebeampte ’n misdaadrekord het as die misdaad nie in die provinsie gepleeg is waarin hy werk nie.
‘n Vrystaatse polisiebeampte het met drie rowers afgereken, het ‘n polisiewoordvoerder gesê.
Ao. Zweli Mohobeleli het gesê die drie mans het probeer om ‘n afleweringsvoertuig by ‘n spaza in Grasslands naby Bloemfontein te beroof. Die voorval het omstreeks 10:00 plaasgevind.
Die broodafleweringsvoertuig het stilgehou by die winkel toe die drie mans die bestuurder met ‘n vuurwapen gedreig het. Die rowers het die man van geld beroof.
Die polisiebeampte, wat nie ten tye van die voorval aan diens was nie, het ingegryp, waarna die verdagtes op hom begin skiet het.
Die beampte het hulp ontbied en sy kollegas by die nabygeleë Bloemspruit-polisiekantoor het hom gehelp om twee mans in hegtenis te neem. Die polisie het beslag gelê op ‘n vuurwapen en geld. Een verdagte is nog op vrye voet.
Die twee mans sal binnekort op aanklag van gewapende roof in die Bloemfontein-landdroshof verskyn. – Sapa
Die Makana-munisipaliteit, wat Grahamstad en Alicedale in die Oos-Kaap insluit, het “verouderde infrastruktuur” as die rede vir die watertekort en swak kwaliteit van water in Grahamstad aangevoer.
Die watertekort het reeds kritieke afmetings aangeneem weens ‘n algehele gebrek aan instandhouding van die nodige infraskruktuur deur die munisipaliteit.
Twee-en-veertig koshuise van die Rhodes-universiteit en ander inwoners van die dorp is reeds sedert Dinsdag sonder water.
Die munisipaliteit sê ‘n waterpomp by die Waainek-aanleg het gebreek, maar dat hulle ondverpoosd werk om die toevoer te herstel.
Die rektor van die universiteit, Dr Saleem Badat sê hy is op die punt om die universiteit te sluit omdat die situasie ondraaglik begin raak.
Verskeie sake-ondernemings word ook deur die tekort geraak.
Ses swart verdagtes het Woensdag in die hof verskyn ná die moorde op ’n bejaarde egpaar van Bethulie. Die saak sal waarskynlik later vanjaar na ’n hoër hof oorgeplaas word.
Die verdagtes, onder wie vier minderjariges, word onder meer aangekla van moord nadat Gordon en Lorraine Adams in Februarie vanjaar in hul huis beroof en vermoor is.
Twee van die minderjariges tussen 15 en 18 jaar oud, Tshepo Ramatlama en Sphiwe Sakman, staan tereg op aanklagte van moord, huisbraak en motordiefstal. – OFM
Zwelinzima Vavi, wat nie self teenwoordig was toe die besluit deur die sentrale uitvoerende komitee geneem is nie, is geskors as hoofsekretaris van Cosatu.
Hy sal aangekla word daarvan dat hy die federasie se naam in oneer gebring het.
‘n Spesiale vergadering is belê in die raadsaal van Cosatu-huis in Johannesburg om die kwessie van Vavi se buite-egtelike verhouding wat op die lappe gekom het, te bespreek.
Die verdeeldheid onder die komiteelede was reeds voor die vergadering duidelik, en Vavi se vyande kon hom danksy ’n klein meerderheid uitknikker.
Bheki Ntshali-Ntshali, adjunk-hoofsekretaris, sal in die amp waarneem totdat Vavi tugverhoor afgehandel is.
Sdumo Dlamini, president van Cosatu en enigste woordvoerder, het nog geen verklaring oor die skorsing uitgereik nie.
Die metaalwerkersvakbond Numsa het intussen gedreig om uit Cosatu te tree as Vavi geskors word. Hulle sal vandag vergader om die skorsing van die sekretaris-generaal te bespreek.
Die vakbond is die grootste in die Cosatu-federasie en het vroeër probeer om Woensdag se Spesiale Sentrale Uitvoerende Komiteevergadering te keer waartydens Vavi geskors is.
Numsa se sekretaris-generaal Irvin Jim, het bevestig dat Vavi geskors is, hoewel Cosatu dit eers later glo amptelik sal bevestig.
Jim sê Numsa is steeds van mening dat die vergadering ongrondwetlik was.